God se Koninkryk breek in by die mens se koninkryk deur die rots, Jesus Christus.

Minister: 
Ds J Bruintjes
Church: 
Kaapstad
Date: 
2018-06-10
Text: 
Daniël 2
Preek Inhoud: 

In vandag se hoofstuk is daar twee verskillende koninkryke, twee wêrelde, wat voorgestel word.  Die koninkryk van hierdie wêreld voorgestel deur Nebukadnésar, met sy string wyse manne en die manjifieke standbeeld aan die einde van die hoofstuk, en die koninkryk van God voorgestel deur Daniël en uiteindelik deur die rots, Jesus Christus, wat die standbeeld verbrysel het en gegroei het om die hele aarde te vul. 

Die inwoners van die koninkryk van hierdie wêreld vertrou geheel en al op hul eie mag, rykdom en eer om hulle wêreld te bou.  Humanisme op sy beste.  Die inwoners van die koninkryk van God vertrou geheel en al op God vir wysheid en mag en gee aan Hom al die eer.  Ek en jy behoort aan een van hierdie twee wêrelde, een van hierdie twee koninkryke.  Die rots of die standbeeld.

God se koninkryk breek in by die mens se koninkryk deur die rots, Jesus Christus.

  1. Hoogmoedige eiewaan
  2. Biddende nederigheid
  3. God breek in

 

Hoogmoedige eiewaan

Koning Nebukadnésar het alles gehad, ten minste volgens wêreldse standaarde.  Hy was die magtigste man op aarde, met rykdom sonder gelyke en kon alles kry wat hy wou hê.  Elke dag is hy aan sy mag herinner soos wat die konings en koninkryke wat hy verslaan het, aan sy tafel kom aansit het.  Dit is hoekom dit so ʼn verrassing is as ons in vers 1 lees:  “En in die tweede jaar van die regering van Nebukadnésar, het Nebukadnésar ʼn droom gehad, sodat sy gees onrustig geword het en dit met sy slaap gedaan was.”  Hier was ʼn man met mag, rykdom, aansien, eer en ʼn nalatenskap wat eeuelank sou voortleef, en hy lê nag na nag wakker soos ʼn klein, bang kind.  Dinge het hom so gepla dat hy nie kon slaap nie, sy siel was rusteloos.  Hy is gekonfronteer met die onbekende en dit was vir hom skrikwekkend.  Wanneer God in sy realiteit inbreek, is hy hulpeloos.

Die spanning, angs en bekommernis is ʼn voorbeeld van ʼn diepliggende onsekerheid wat ʼn mens slapelose nagte besorg, soekend na antwoorde op die vrae van die lewe, buitensporig hunkerend na die plesier van drank en dwelms, irrasionele woede, gedrag teenoor vriende en familie wat onheilspellend is.

Wat doen Nebukadnésar toe – wel dit wat enige goeie landsburger sou doen – vers 2. “Toe het die koning bevel gegee om die geleerdes en die besweerders en die towenaars en die Chaldeërs te roep, om vir die koning sy droom uit te lê.”  Dit is interessant.  In die vorige hoofstuk het die burgers van God se koninkryk voor die koning gekom en die resultaat was dat hulle in elke saak van wyse insig waarin die koning hulle ondervra het, al die geleerdes en besweerders in sy hele koninkryk tien maal oortref het.  Maar nou staan die beste wat die wêreld  kan bied voor die koning.

Hulle was witvoetjiesoekers en meer as gewillig om ʼn paar antwoorde te gee.  Vers 4: “Mag die koning vir altyd lewe! Vertel u dienaars die droom, en ons sal die uitlegging te kenne gee.”  Maar helaas, dit blyk dat Nebukadnésar nie die droom kan onthou nie – soos ʼn slegte nagmerrie waarvan jy elke nag wakker word, maar waar jy nie lekker kan onthou wat gebeur het nie.  Hy eis dus van hulle om sy droom te vertel en uitleg daarvan te gee en dreig hulle terselfdertyd met die dood en om van hul huise ‘n hoop rommel te maak.  Ironies genoeg is dit juis sy droom wat ons vertel dat sy koninkryk ʼn hoop rommel gaan word. 

Maar die wysste van die wyses is sprakeloos en die magtigste van die magtiges hulpeloos.  Kyk hoe antwoord die astroloë die koning in vers 10-11:  “Daar is geen mens op die aardbodem wat die koning se saak sou kan te kenne gee nie; ..... en daar is niemand anders wat dit voor die koning sou kan te kenne gee nie, behalwe die gode wie se woning nie by die vlees is nie.” Mmmm, hier kry ons weer ʼn smakie van wat gaan kom.  In Nebukadnésar se droom is daar ʼn klip wat gaan inbreek in die mensdom se geskiedenis.  Daardie klip of rots was die mens God.  Hy is die mens wat God aan ons geopenbaar het en wat onder die mense gewoon het.  Maar daardie inwoners van die wêreld glo nie in ʼn God wat hier is en die geskiedenis ingekom het nie.  Hulle glo eerder in die veraf gode van hulle verbeelding wat nie onder die mense woon nie en geen antwoorde het nie.

 

Basies sê die astroloë:  “As ons nie kan nie, kan niemand nie.”  Hoogmoedige eiewaan ten beste!  En die magtigste man in die wêreld verloor dit en die wêreld se wysste manne staar die dood in die gesig.  Al die geld in die wêreld en al sy dreigende mag kan hom nie een antwoord gee nie.  Die magtigste man in die wêreld was totaal hulpeloos.  Die wysste van die wyse manne totaal onkundig.  O, hoe word die magte van hierdie wêreld verander na swakheid en die wysheid van die wêreld na dwaasheid, alles in ʼn oogwink.  Die hoogmoedige eiewaan van die mens het hom nêrens gebring nie.

Ongelukkig koop ons as Christene baie maal in op die wêreld se strategie van hoogmoedige eiewaan – ons aanbid ons eie vermoë.  Om nederig te wees is moeilik.  Benjamin Frankin het die volgende van nederigheid gesê:  “Ek kan nie daarmee spog dat ek baie suksesvol is om hierdie deug aan te leer nie, maar ek kan dit wel so laat lyk.”  As ons eerlik met onsself is, dan weet ons dat ons nie rêrig nederig is nie, maar dat ons weet hoe om dit te veins.  Op die oomblik wat ons dink dat ons nederig is, is ons trots op ons nederigheid.  Ons harte is waarlik ʼn kookpot van selfbevordering.  Maar op die ou end moet God alles of niks wees.  As Hy my alles is, dan is Hy my vrede en dit is presies in daardie areas waar Hy nie Here in my lewe is, waar ek geen vrede het nie.  En dan is ek bekommerd, gespanne en slapeloos en bring dit spanning, frustrasie en bitterheid in my lewe en verhoudings. 

Soos wat Nebukadnésar se eie wyse manne hom moes herinner:  “U vergeet, ons is sterflik, nie gode nie.”     Alleen deur alle vertroue in jouself los te laat – alleenlik deur jou lewe te verloor, deur jouself af te sterf, sal jy jouself vind en vir ewig verseker wees.

Ek ken mense wat alles verloor het en tog totale vrede en rus het... en ek het mense gesien wat totaal oorstuur geraak het toe hulle hul pensioengeld op 40 verloor het.  Vir almal wat op Jesus vertrou, is daar ʼn sekuriteit wat geen aardse mag jou kan gee nie.

Biddende nederigheid

Net toe dit lyk of almal gaan sterf, tree ʼn bewoner van God se koninkryk, Daniël, na vore.  In vers 14 lees ons : “Daarop het Daniël aan Ariog, die owerste van die koninklike lyfwag wat uitgetrek het om die wyse manne van Babel dood te maak, ʼn slim en verstandige antwoord gegee.“  Alhoewel al die magte van die wêreld radeloos was, was hier ʼn man wat uit ʼn posisie van vertroue en sekuriteit gepraat het.  Die wêreld mag dalk onderstebo gedraai wees, maar die Christen word eenvoudig geroep om aan te gaan.  Respekvol, saggies, vredig, eerlik.  Nie in ons eie krag of vindingrykheid nie, maar deur gebed en geloof – innemend, ons vertroue gerig op ʼn almagtige God in ʼn onsekere en angstige wêreld.

Die groot vraag is hoe ons reageer wanneer die wêreld bang en onseker is en losbrand?  Wanneer ons vervolging ervaar, kruip ons weg in ons Christelike fort of raak ons defensief?  Of reageer ons met wysheid en takt?  Daniël kry dit reg om kalm te reageer met die vertroue en sekuriteit wat hy in die HERE het.  Hy gaan rustig en kalm na die woedende koning en vra vir meer tyd.

En wat doen hy?  Hy pak nie sy goed en vertrek na ʼn ander land nie, hy sê nie: “Ons moet wegkruip – die koning gaan ons almal doodmaak.”  Hy gaan huis toe, praat met sy klein Bybelstudiegroepie en dring by hulle in vers 18 aan “dat hulle barmhartigheid van die God van die hemel moes afsmeek oor hierdie geheim, sodat hulle Daniël en sy metgeselle saam met die orige wyse manne van Babel nie sou ombring nie. “  Hulle bid saam en daardie nag verhoor God hulle gebede.  As daar enige iets is wat die Christen se afhanklikheid wys, dan is dit sy gebedslewe.  Wys my ʼn Christen wat nie bid nie en ek sal jou een wys wat ingekoop het in die wêreld se filosofie van hoogmoedige eiewaan.  Wys my ʼn man van gebed en ek sal jou een wys wat weet dat hy buiten die genade van God niks behalwe die dood het nie.

Gebed is die hart van ʼn egte verhouding met God.  God antwoord gebede – dis eenvoudig so.  Dit is iets waaraan ek en jy oor en oor herinner moet word.  Ek kan nie dink aan een onbeantwoorde gebed van ʼn kind van God in die Skrif nie, alhoewel sommige vir ʼn tyd lank onbeantwoord gebly het.  Hierdie boek herinner ons daaraan dat God ʼn God is wat luister.  Net soos Hy hier doen.

As Daniël dan ʼn antwoord kry, is die eerste ding wat hy doen om God te dank.  Hy is dankbaar vir die alwyse en almagtige God wat ook wysheid gee en die diep en verborge dinge openbaar.  Daniël het geweet dat Hy nie verplig was om hom te antwoord nie, dit was genade.  En daarom sing en dank hy dat daar ʼn God is wat omgee oor die dinge van die mens – dat Hy homself aan hulle openbaar.  Nêrens is daar iets so groot as Jesus Christus nie.  Daniël kon nie verwaand of op homself vertrouend wees nie, want hy het geweet dit was alles God.

Is ons trots en verwaand of staan ons verwonderd dat God verkies het om Homself aan ons te openbaar?  Baie mense plaas ʼn vraagteken oor die graf – ons doen nie – ons het die antwoord in Christus.  Baie soek steeds na die antwoord op die betekenis en doel van die lewe.  ONS het die antwoord.  Ons het basiese antwoorde – onweerlegbare antwoorde soos 2+2=4 waarop ons kan staatmaak.  Besef jy dat die antwoorde wat jy het, die antwoorde is waarna so baie by jou werk, skool en buurt soek?

Daardie wete behoort ons nederig te maak, want wat maak ons anders as ander?  Wat het ons wat ons nie ontvang het nie?  Laat ons God eer vir die antwoorde wat Hy ons gegee het!

Satan sal sy bes doen om die kerk te oorreed om ʼn deel van die krediet te vat vir dit wat sy weet en doen.  Selfs Ariog probeer om Daniël krediet te gee, vers 25 : ”Ek het ʼn man onder die ballinge van Juda gevind wat die koning die uitlegging bekend sal maak.“  Maar Daniël sê:  “Nee, dit was nie ek nie.”  In feite stem hy saam met sy kollegas aan die ander kant en sê:  “Die geheim waarna die koning vra, kan die wyse manne, die besweerders, die geleerdes, die waarsêers nie aan die koning te kenne gee nie.  Maar daar is ʼn God in die hemel wat geheime openbaar.“  Dit sou vir hom maklik gewees het om krediet te vat.  Maar dit is nie die weg van God se koninkryk, die weg van die rots nie.  Dit bring ons by die droom.

 

Die droom van die beeld van die Mens en die Rots

Wat die koning sien is ʼn massiewe beeld “daar was ʼn groot beeld; hierdie beeld was hoog, en sy glans was buitengewoon; dit het voor u gestaan en sy voorkoms was vreeslik. Wat die beeld betref, sy hoof was van goeie goud, sy bors en sy arms van silwer, sy buik en sy lendene van koper, sy bene van yster, sy voete gedeeltelik van yster en gedeeltelik van klei. U het gekyk totdat daar sonder toedoen van mensehande ʼn klip losraak wat die beeld getref het aan sy voete van yster en van klei en dit fyngestamp het. Toe is tegelykertyd die yster, die klei, die koper, die silwer en die goud fyngestamp, en dit het soos kaf geword van die dorsvloere in die somer, wat die wind wegneem, sodat daar geen spoor van gevind is nie; maar die klip wat die beeld getref het, het ʼn groot rots geword wat die hele aarde gevul het.“

Ek wil graag hê julle moet op die volgende dinge let.  Eerstens alles wat in die begin gebeur het is ʼn prentjie van hoe hierdie twee teenoorgestelde magte te werk gaan.  Die koning, sy adviseurs en Ariog wys mettertyd wat dit beteken om die beeld te wees:  hoogmoedige eiewaan.  En Daniël en sy drie vriende wys ons ʼn vooruitskouing van wat dit beteken om die rots te wees, biddende nederigheid.  Die koning wou sy mense se huise in rommel verander, maar hierdie droom wys hoe God die koninkryke van die aarde in stof sal verander.

Tweedens let op dat Nebukadnésar na die kant geskuif word, hy kyk toe.  Die man wat gedink het dat hy elke probleem kan oplos, word verneder na ʼn toeskouer en God wys hom wie is in beheer, die regte geskiedskrywer.

Laastens, hierdie beeld is massief, pragtig en ontsagwekkend.  Laat ons nie afdoen aan die wêreld se prestasies nie.  Dit lyk ongelooflik.  Daarom is dit so maklik om in hierdie beeld in te koop.  Laat ons onsself nie vir die gek hou en dink dat ons immuun is vir die verleiding van hierdie manjifieke projek van humanisme nie.  Ons leef in die rykste en weelderigste tyd in die mens se geskiedenis.  Maar die probleem is dat die fondasie ʼn bietjie wankelrig is – yster en klei is nie juis bekend as goeie materiaal vir fondasies nie.

Kom ons kyk wat hierdie verskillende minerale en liggaamsdele voorstel?  Daniël vertel vir ons dat die koning die goue hoof is.  Die vraag is of ons die ander drie kan identifiseer.  Sommiges argumenteer dat dit die vier koninkryke van Babel, Meders, Perse en Grieke is.  Anders sê weer dat dit Babel, Meders en Perse, Grieke en Rome is.  Maar as Rome die laaste koninkryk is, wie is dan die voete en tone?  Sommiges sê dat dit die huidige tyd in die geskiedenis is, waar geen koninkryk oor die bekende wêreld heers nie.

Ek weet nie.  Kort voor lank draai ʼn mens se kop van die verskillende interpretasies.  Glo my, ek weet.  Ek dink dat as ons presies probeer definieer wie hierdie koninkryke is, gaan ons verby dit wat God wil sê en mis ons die punt.  Die punt is dat al hierdie beelde een is.  Al hierdie koninkryke vorm deel van een beeld – een entiteit.

Deur al hierdie koninkryke te verbind, vertel hierdie droom diepgaande iets van die hele mensdom van begin tot eind.  Hierdie beeld is as het ware die prentjie van die mens se geskiedenis sonder God.  Kyk na die verwysing van Daniël na die gebod wat God in die begin aan Adam gegee het deur hoe hy Nebukadnésar beskryf:  ”U, o koning, koning van die konings, aan wie die God van die hemel die koningskap, die krag en die sterkte en die eer verleen het, en in wie se hand Hy in die hele bewoonde wêreld die mensekinders, die diere van die veld en die voëls van die hemel gegee het, sodat Hy u as heerser oor hulle almal aangestel het”  Dit is die bevel en die voorreg wat God aan Adam gegee het en nou wou Nebukadnésar in hierdie terme beskryf.  Maar ons weet dat dit nie lank sou duur nie.  Omdat daar geen ruimte vir God was nie – Ons wou God wees, die mens wou die aarde vul en geen plek aan God gee nie.

Die hele poging van die mens, deur God in die begin geseën met wonderlike gawes en ongeëwenaarde eer en eienaarskap, eindig in niks anders as verdeeldheid, ontbinding en gebrokenheid nie.  ʼn Mens kan die patroon duidelik sien in Gen 1-11 waar Adam se eer plek maak vir die oordeel van die sondvloed en chaos en verdeeldheid na Babel.  Die beeld verteenwoordig ten diepste humanisme... die gedagtes van Babilon.  Die Humanistiese gees waarmee elke nuwe generasie ʼn stryd moet voer.  Hulle mag soos blink goud lyk, soos liberale sekularisasie, of magtig en sterk soos nasionalistiese sosialisme.  Of kommunisme.  Hierdie beeld is die prentjie van die humanistiese koninkryke sonder God – groot en manjifiek – gebou op ʼn onstabiele fondasie.

Al hierdie koninkryke staan in skrille kontras met dit wat hulle vervang.  Dit is die verhaal van die mens en God, twee wêrelde, twee koninkryke en twee soorte mense:  die soort wat plek maak vir God en die soort wat geforseer word om plek vir God te maak.

Wat nou gebeur is dat ʼn klip losgemaak word en die klem lê daarop dat dit nie deur mensehande gebeur nie.  Daardie klip/rots is ons Here, Jesus Christus en in Hom het die koninkryk van God in die mensdom ingebreek om die koninkryk van God op aarde te vestig.  Die rots tref die beeld en verbrysel dit en dit word stof en word deur die wind verwaai.  Kyk maar mooi na die mag en krag van die wêreld, sê God vir sy volk – dit is alles net stof in die wind as die Rots, Jesus Christus, dit tref.  Die rots groei en vul die hele aarde.  Jy sou kon sê dat die God van die hemel na die aarde gekom het om die koninkryk van die hemel op die aarde te vestig.  Die rots vergruis die mense se mag en die mens se wysheid en die mens se eer.  Die finale hoofstuk van die geskiedenis lê nie daarin dat God ʼn nuwe en verbeterde weergawe van die mens se beeld bou nie, maar dit lê in ʼn radikale aftakeling en opponering van die mens se koninkryk.

Ja, ons leef in die tyd van die rots.  Jy sien, Daniël het uitgesien na die vestiging van hierdie koninkryk.  Ons leef in die tyd van die koninkryk en sien uit en werk na sy voleinding.  Die vervulling.  Maar hierdie koninkryk groei nie deur die wêreld se manier van mag en hoogmoedige eiewaan nie – maar deur die weg van ons Verlosser, die weg van die Lam.

Jy wil deel wees van ʼn wêreldveranderende beweging.  Dit sal van jou vra om jou hoogmoedige eiewaan op te gee, sodat jy ewige sekerheid en onwankelbare vertroue sal vind en sodoende jou onsterflike self in Christus.  Geliefdes hoor die roepstem van die koninkryk – hierdie rots groei rondom hierdie wêreld, in Kaapstad, Toronto, Denver, Dubai, Pretoria, Johannesburg, Beijing en Amsterdam.  En onse God roep ons om ʼn nederige lewe te lei, gewillig om in sy koninkryk gebruik te word.

En let op ʼn laaste ding:  ook al weet Daniël wie gaan wen, staan hy terug en verdwyn uit die publieke lewe?  Nee, die teenoorgestelde.  Hy bly betrokke, die koninkryk van God groei deur sy volk.  Hulle wat in die wêreld is maar nie van die wêreld nie.  Sy Koninkryk gaan groei – wil jy daarvan deel wees?  Die rots, hierdie persoon, sal die aarde vul totdat elke knie voor Hom sal buig, net soos wat Nebukadnésar sou.

Sien asseblief die realiteit van hierdie wêreldwye beweging.  Bid daarvoor!  Aan die begin die Die Onse Vader bid ons “laat u koninkryk kom”.  Asseblief Here, laat u koninkryk oor my lewe heers.  Vra jouself af:  “Waarin stort ek my energie... en met watter motief?  Hoe bevorder ek God se koninkryk?  Het ek die wêreld se metodes, geld, mag, aansien en advertensie aangeneem? 

Of leef ons die weg van die rots en ag ons ander beter as onsself en sê ons saam met Johannes die Doper:  “Jesus moet meer word terwyl ons minder word.”

Want dit is die punt.  Wat hierdie hoofstuk ook al verder sê, ons moenie toelaat dat iets in die pad van hierdie punt sal kom nie:  God se koninkryk sal triomfeer.  Hy moet regeer en in Jesus sal die koninkryke van hierdie wêreld die koninkryke van ons Here en sy Christus word en sal hy regeer vir ewig en ewig.  Ons het ʼn koninkryk ontvang wat nie geskud kan word nie.

Volg ons die weg van die koninkryk, wat die weg is waar jy jou lewe verloor?  Die wêreld gaan vooruit deur mag, oorwinning, manipulasie, eer en sterkte.  Die koninkryk van God gaan vooruit deur swaarkry, dood, deur buitengewone en onvoorwaardelike liefde.  Die koninkryk is gevestig.  Dit is waarom ons bid:  “aan U behoort die koninkryk!”  Hoor jy die roepstem van die koninkryk?

Hoor die roepstem van die Koninkryk

Om uit te reik na dié wat verlore is

Met die deernis van die Vader

In verwondering van die kruis.

Bring vrede en vergifnis

En ʼn hoop van dit wat kom

Laat die nasies hulle vertrou op Hom stel.

 

Amen