Superman. Sneeuwitjie. Harry Potter. Luke Skywalker. Prinses Leia. Peter Pan. Hoekom het soveel inspirerende verhale weeskinders as hoofkarakters? Hierdie verhale benut die aangebore gevoel dat hierdie wêreld nie ons tuiste is nie. Soos C.S. Lewis geskryf het: “Ek vind begeertes in myself wat niks op hierdie aarde kan bevredig nie; die enigste logiese verklaring is dat ek vir ‘n ander wêreld gemaak is.”
Dit is waarom aanneming so ‘n vertroostende leerstelling is. Om aangeneem te word, is om te besef dat jy vir ‘n ander wêreld gemaak is – en vir Iemand anders. Jy is vir God gemaak. In die kerk waarin ek grootgeword het in Denver, was daar ‘n gesin wat drie kinders uit China aangeneem het, omdat miljoene kinders in China weens die destydse eenkind-beleid aan weeshuise weggegee is. Maar hierdie gesin het nie gekies vir wat die wêreld die ideale mense sal noem nie – hulle het uit liefde gekies om diegene wat uitgeroep het, lief te hê. Een kind was outisties, die ander het ‘n misvormde hand gehad en die derde kind kon nie loop nie.
Die gesin het ook drie van hul eie kinders gehad, maar daar was geen verskil nie. Die aangenome kinders het dieselfde voorregte geniet as wat die biologiese kinders geniet het. Hulle was erfgename van hul ouers, en eendag sou hulle alles erf wat aan hul ouers behoort het. God het een natuurlike Seun, en miljoene der miljoene aangenome seuns en dogters. Vir die van julle wat nog altyd geglo het, bid ek dat jul oë geopen mag word om die ongelooflike voorreg wat julle het, te mag raaksien. Vir die van julle wat God nie ken nie, bid ek dat julle mag sien dat hierdie wêreld nie jul tuiste is nie, en dat God se arms vandag steeds oop is om ‘n sondaar met ‘n misvormde hart tuis te verwelkom.
Vandag se teks is ‘n merkwaardige teks, waarskynlik die beste een tot nog toe, as ek dit mag sê. Jy vra dalk: “Hoe kan dit beter raak?” Ons is geregverdig voor God deur geloof! Ons is onskuldig. Nie net onskuldig verklaar nie, maar ons is onskuldig. Dit is ‘n enorme voorreg – wat kan beter as dit wees? Wel, daar is iets beter as regverdiging – naamlik: aanneming. Met regverdiging is jy vrygespreek voor God as regter, maar met aanneming is jy God se kind gemaak.
Aanneming: Julle is erfgename van God!
- Hoe – in Christus
- Wanneer – toe God sy Seun gestuur het
- Wat dit beteken
Hoe – in Christus
Vers 26 sê: “Julle is almal kinders* van God deur die geloof in Christus Jesus.” Hmm… julle lyk nie verwonderd nie. Kom ek sê dit weer. Ek het sopas gesê: “Julle is almal kinders van God deur die geloof in Christus Jesus.” Dit is nie my woorde aan jou vandag nie; dit is God se woorde aan jou. Wanneer God jou sien wat glo, sien Hy Jesus Christus. Ek praat met julle, die graad-eens wat langs mamma en pappa sit, en met julle wat die laaste lewensjare ingaan. ‘n Seun, ‘n dogter van die Almagtige God! In Paulus se tyd was die seun die een wat sy pa se eiendom sou erf. Dit was die seun wat die regte gehad het. Maar hier aan die Galasiërs val die klem op die woord “almal”. Julle is almal seuns van God duer Jesus Christus ons Here – maak nie saak wie jy is nie!
Julle – Jode en nie-Jode, mans en vroue, slawe en vrymanne – is ALMAL seuns van God deur Jesus Christus, want ons lees in vers 27: “want julle almal wat in Christus gedoop is, het julle met Christus beklee.” Hier is die werkwoord vir doop passief. Die doop is iets wat God aan ons doen, vir ons. Dit is ‘n passiewe daad, nie aktief nie.
Gelowiges word in Christus gedoop (v. 27), het hulle met Christus beklee (v. 27), is almal een in Christus (v. 28) en behoort dus aan Christus (v. 29). Om in Christus te wees, is wat mense verenig, geen ander menslike klassifikasie maak saak nie. Verlede week het ons vir Adrian gedoop, en voor dit Karlien, die jongste lede van ons familie hier. Hoe het hulle deel geword van hierdie familie – die familie van God? Deur iets wonderliks wat hulle gedoen het? Nee, natuurlik nie, maar deur iets wat God in Christus gedoen het. Die doop is ‘n afbeelding van waar jy deel word van God se familie. Die doop in Christus is die begin van ‘n nuwe mensbeskouing gegrond op dit wat Christus gedoen het. In Hom word ons een.
Hierdie eenheid beteken nie eendersheid (waar ons almal dieselfde is) nie. Paulus het ‘n Jood gebly, hy het ‘n man gebly en hy het ‘n vryman gebly. Maar dit was nie dit wat hom nou meer gedefinieer het nie. Wat hom nou gedefinieer het, was die Christus-gebeurtenis. Daardie gebeurtenis het rekening gehou met ‘n verenigde volk uit elke taal en nasie. Dit gaan nie daaroor dat verskil nie saak maak nie en dat ons almal dieselfde moet wees nie. Maar wie jy is bepaal nie jou waarde nie, maar wie s’n jy is.
En in Christus is nie een van ons beter as die ander nie. In Christus is daar gelykheid. Hier is niemand wat groter is as ‘n ander nie, doodeenvoudig omdat hier niemand groter as Jesus Christus is nie. Soos hy sê: “Daar is nie Jood of Griek nie, nie slaaf of vryman nie, nie man of vrou nie, want julle is almal een in Jesus Christus.” Die wet dwing ons almal op ons knieë uit wanhoop vir ‘n verlosser, en Christus neem ons hand en tel ons op en sê: “My seun; my dogter. Welkom tuis.” In Hom word ons opgelig uit die diepste put van hel wat ons verdien, om in die hoogste hemel te gaan sit deur onverdiende genade.
Die meer geestelik volwassenes is nie meer geliefd en die gebrokenes minder geliefd nie. Is ‘n goeie ma en pa lief vir ‘n ouer kind omdat hy of sy ouer of meer volwasse is? Natuurlik nie. Die swakkes is net soveel geliefd as die sterkes.
Jy sal agterkom dat ek tot sover nog nie gepraat het daaroor of vroue in die amp behoort te dien nie, want dit is doodeenvoudig nie waaroor hierdie teks gaan nie, selfs al gebruik baie mense dit op dié manier. Ek dink nie jy hoef ‘n Bybelgeleerde te wees om te sien dat Paulus in hierdie gedeelte nie praat oor leierskap in die kerk nie; hy praat oor gelykheid en eenheid voor die oë van God. Hierdie verse sê nie: raak ontslae van alle gesagstrukture en verskille tussen kulture of geslagte nie. Maar: raak ontslae van jul menslike idees van waarde. Net omdat iemand ‘n leier is, beteken nie hulle is meer werd in God se oë nie. Trouens, God sê ‘n Christelike leier moet eintlik die minste en ‘n dienaar van almal wees.
Elkeen van julle wat met Christus beklee is, dra ‘n pryskaartjie van onskatbare waarde. Verskillende rolle beteken nie verskillende waardes nie. Ons mense belas onsself daarmee. Ons dink dat ‘n president waardevoller is as ‘n hawelose mens. Duisende onskuldige mense word dalk vermoor en jy sal niks daarvan in die nuus hoor nie, maar as ‘n beroemde persoon vermoor word, weet die hele wêreld binne ‘n uur daarvan. Hier sê God: “Nie in my kerk nie. Nie in hierdie gebou nie. Julle is almal een in Christus.”
Vers 29: “As julle aan Christus behoort, dan is julle die nageslag van Abraham en volgens die belofte erfgename.” Onthou dat ons verlede week gesê het dat die belofte nie aan ‘n hele groep mense gemaak is nie, maar aan een persoon. Daardie saad. Jesus Christus. En slegs in Hom geniet ons daardie beloftes. Wel, hier sê Paulus wat ek in verlede week se preek vir julle gesê het. Indien jy aan Christus behoort, is jy Abraham se saad en dan is alles wat aan Abraham belowe is, ook aan jou belowe. Ek sal julle God wees en julle sal my mense wees!
Liewe broers en susters, ons is erfgename van die Nuwe Skepping waarna die beloofde land gewys het, erfgename van die Ewige Sabbat, ewige rus van pyn, sonde, lyding en dood, erfgename van God – aan Wie alle dinge behoort. Dit alles gebeur in Christus. En dit is aan God se mense gegee toe Christus gekom het.
Wanneer – toe God sy Seun gestuur het
In die antieke wêreld het jy nie, bloot omdat jy ‘n seun was, onmiddellik ‘n reg op die boedel van jou vader gehad nie. Om die waarheid te sê, as jy ‘n kind was, is daar ‘n voog oor jou aangestel. Iemand wat jou sou beskerm en grootmaak. Iemand wat gewoonlik na aan die familie was, maar nie deel was van die familie nie. Sy rol was om die kind te beskerm en tot volwassenheid te lei – maar daardie kind is soos enige ander dienskneg behandel, selfs al was hy die seun wat die boedel sou erf. Dit is wat Paulus bedoel in hoofstuk 4:1 : “Maar ek sê: So lank as die erfgenaam ‘n kind is, verskil hy niks van ‘n dienskneg nie, al is hy heer van alles.” In sekere sin was die Ou Testamentiese kinders, Israel, maar net soos die slawe, die heidene.
In 1999 het ‘n hertog en hertogin hulle na die hof gewend om hulle seun te verhoed om die erflating te ontvang voordat hy 18 jaar oud is. Hul seun, graaf Percy, was toe net 14 jaar oud, en sy ouers het sy beste belange vooropgestel. Hy sou 1 miljoen pond en ‘n halfmiljoen pond aan jaarlikse inkomste erf, maar die ouers wou nie gehad het dat hy te gou al te veel erf nie. Die ouers het geweet dat ander Britse adellui al fortuine op dwelms en ‘n losbandige leefstyl vermors het. Hulle het ‘n trust gestig om die geld te bestuur totdat hy 25 jaar oud was. Totdat die tyd reg was – ‘n tyd wat deur die ouers bepaal is.
Dit wat met die graaf gebeur het, is soortgelyk aan die situasie wat Paulus hier beskryf. Die Israeliete in die Ou Testament was kinders van God op dieselfde manier as wat ons dit is, maar hulle het onder ‘n voog gestaan. Soos ons lees in vers 2: “Hy staan onder voogde en bestuurders tot op die tyd tevore deur die vader bepaal.” Die erflating was nog nie aan hulle toevertrou nie. Soos hy sê in vers 3: “So was ons ook, toe ons kinders was, in diensbaarheid onder die eerste beginsels van die wêreld.”
Hierdie jong seun is soos ‘n slaaf behandel met ‘n voog oor hom. Met ander woorde, Israel was in slawerny onder die eerste beginsels van die wêreld. Die eerste beginsels is blykbaar die Wet van Moses, omdat hy in die volgende twee verse na die wet verwys. “Eerste beginsels” beteken grondslag-onderrig. Die Israeliete was nog besig om hul alfabet te leer. Om onder die wet te wees, is soos om die alfabet van God se wil te leer. Die Ou Testamentiese wet was soos laerskool vir God se mense. Hebreërs noem dit “vleeslike verordeninge wat opgelê is tot op die tyd van herstelling” (Hebr. 9:10).
Maar skoolkinders ontgroei uiteindelik hul laerskoolopvoeding. Op dieselfde manier het God sy mense onder die wet grootgemaak om hulle vir die evangelie voor te berei. Soos een skrywer sê: “Israel was ‘n klein skoolopset in ‘n hoekie van die wêreld; die Wet van Moses was by wyse van spreke ‘n ABC, of ‘n beginner-leesboek, waarin Christus aan die wêreld geopenbaar is op ‘n donker en obskure manier, spesiaal vir die Jode.” Om onder die wet te staan nadat die evangelie geopenbaar is, was nie ‘n teken van ‘n gevorderde graad soos ‘n PhD nie. Dit was ‘n teken van geestelike onvolwassenheid. Dit is soos om graad 1 te herhaal.
So wat het hulle laat gradueer, wat het hulle laat verander van ‘n seun wat as ‘n slaaf behandel word na ‘n seun wat al die regte van kindskap ontvang? Wel, die volgende vers beskryf dit aan ons. En soos enige aannemingsproses is hierdie een duur – oneindig duur.
Ons was slawe, maar soos ons lees in verse 4 en 5: “Toe die volheid van die tyd gekom het, het God sy Seun uitgestuur, gebore uit ‘n vrou, gebore onder die wet, om die wat onder die wet was, los te koop, sodat ons die aanneming tot kinders kan ontvang.” Daar het jy dit – in een vers. Die Evangelie. Onderstreep dit, merk dit met ‘n neonpen en deel dit. Plaas dit op Instagram; twiet dit. Kom ons kyk daarna.
“Toe die volheid van die tyd gekom het.” Die idee hier is dié van swangerskap; die tyd wat deur God bepaal is, het aangebreek. Jesus Christus het op presies die regte tyd in die menslike geskiedenis gekom. Hy het gekom toe sonde sy hoogtepunt bereik het, en op ‘n perfekte tyd dat die Evangelie versprei kon word. Die Grieke het ‘n algemene taal en kultuur verskaf; die Romeine het paaie en veiligheid verskaf. Hy het nie ‘n oomblik te vroeg gekom nie; ook nie ‘n oomblik te laat nie. Die tyd het aangebreek vir die Seun van God om sy verskyning op die geskiedenistoneel te maak. Op hierdie oomblik het God sy Seun gestuur! God is die Een wat die inisiatief in dit alles geneem het, terwyl ons lustig voortsondig.
“God het sy Seun uitgestuur, gebore uit ‘n vrou.” Die Evangelie beweeg van onder af boontoe, vanaf ‘n wanordelike geboorte van ‘n baba in ‘n stal, tot die Naam wat bo alle name is. Christenskap begin nie aan die bopunt waar alle ander gelowe begin nie; dit begin onderaan, maar dan neem dit jou verder as wat enige ander geloof jou ooit kan neem. Omdat Hy jou van die vloek van die wet verlos deurdat Hy onder die wet gebore is.
“Gebore onder die wet.” Christus was perfek ten opsigte van die Mosaïese Wet. Hy is gebore as een onder die wet, Hy is besny. Hy het dit alles perfek gehoorsaam en het die vloek ontvang. Hoekom het Hy dit gedoen sodat ons die volle regte van ‘n seun kan ontvang? Dit bring ons by die laaste punt.
Wat dit beteken
‘n Predikant vertel van ‘n diep bekommerde nuwe bekeerling wat hom kom spreek het. "Dit maak nie saak hoeveel ek bid nie, dit maak nie saak hoe hard ek probeer nie, dit lyk of ek doodeenvoudig nie getrou aan my Here kan wees nie. Ek dink ek is besig om my redding te verloor." Hy sê toe: "Sien jy hierdie hond? Dit is my hond. Hy is sindelik; hy maak nooit ‘n gemors nie; hy is gehoorsaam; hy gee my net plesier. Daar in die kombuis is my seun, ‘n babaseuntjie. Hy maak ‘n gemors; hy gooi sy kos rond; hy bevuil sy klere en hy is ‘n groot gemors. Maar wie gaan my koninkryk erf? Nie my hond nie; my seun is my erfgenaam. Jy is Jesus Christus se erfgenaam omdat Hy vir jou gesterf het.” Ons is Christus se erfgename, nie deur ons volmaaktheid nie, maar deur middel van sy genade.
Hier sien ons weer hoe die pragtige Evangelie helderder skyn as op enige ander punt van hierdie brief. Die wêreld was vol sonde, dit was onder die wet, onder die swaar donkerheid en gewig van veroordeling, en dit het gelyk asof die mensdom verdoem was! Maar toe! TOE het God sy eie Seun gestuur, sodat ons die volle regte van seuns kan ontvang. Hier is een van die sentrale, mees vergete leerstellings van die Christelike geloof – Aanneming in God se gesin – en volle regte aan ons gegee soos aan die een wat van nature God se Seun is, Jesus Christus.
Die VOLLE regte vir jou! Die reg om te kom in die teenwoordigheid van die Vader, die reg op die erflating wat God vir ons belowe het, die reg om saam met Jesus Christus deel te hê aan alles wat regmatig syne is. Ons is seuns, kinders. “En omdat julle kinders is,” sê Paulus in vers 6, “het God die Gees van sy Seun in julle harte uitgestuur, en Hy roep: Abba, Vader!” Die woord wat hier uitgeroep word, is gelaai met ‘n diepe betekenis. Te midde van ‘n verlore en sterwende wêreld is die sondaar se roep tot God die wanhoopskreet van ‘n jong kind wat na sy ma of pa roep. Dit is die stem van die Gees. Geen wonder dit word die Gees van Aanneming genoem nie. Die Gees wat in jou woon, is soos jou aannemingsdokument. En die vrug van die Gees wat jy dra, is die bewys dat die aannemingsdokument werklik is. As jy deel is van ‘n gesin, gaan jy op ‘n sekere manier optree en sekere maniere hê. En as jy in God se gesin is, gaan jy dit ook hê.
Ons gebede help ons om te weet dat ons God se kinders is. Soos John Stott sê: “God se doel was nie net om ons kindskap deur sy Seun te verseker nie, maar om ons daarvan te verseker deur sy Gees. Hy het sy Seun gestuur sodat ons die status van kinders mag geniet, en Hy het sy Gees gestuur sodat ons dit mag ervaar. Dit kom deur die liefdevolle, stille intimiteit van ons toegang tot God in gebed, waarin ons nie die houding en taalgebruik van slawe aanneem nie, maar van kinders.”
In sy klassieke boek Knowing God skryf Packer: “Indien jy wil vasstel hoe goed iemand Christenskap verstaan, vind uit hoeveel hy maak van die gedagte om God se kind te wees en om God as sy Vader te hê. Indien dít nie die gedagte is wat sy aanbidding en gebede en sy hele lewensuitkyk inspireer en beheer nie, beteken dit dat hy Christenskap glad nie baie goed verstaan nie … ‘Vader’ is die Christelike naam vir God.”
Dit is die Gees van God wat ons Abba roep (wat die algemene naam vir Pa was).
Liewe gemeente, baie stemme ding mee om ons aandag. Daar is die stemme van die verlede, wat ons stelselmatig van ons vrede beroof met die refrain: "As mense maar net weet wat jy gedoen het. Jy het niks verander nie. Hoekom sal God ooit iemand soos jy liefhê? Het ek nie vir jou gesê jy sal nie veel beteken nie?"
Dan is daar die stemme van die hede, wat dikwels gekaap word deur ons verslane vyand, Satan. Sy alewige plan is om ons in die versoeking te stel, te verlei en dan te beskuldig – hy doen alles in sy vermoë om ons te beroof van ons vrede en vreugde deur die Evangelie. Soms skree hy, meer dikwels fluister hy, maar altyd veroordeel hy.
Dan is daar die stemme van die toekoms, wat gewoonlik ons vrese aanblaas met bewerings soos: "Jy’s nie so skerp soos vroeër nie, né? Mense gaan jou waarskynlik vergeet. Jy gaan uiteindelik alleen oorbly, nie waar nie? Hoekom dink jy sal God iemand soos jy in die hemel toelaat?"
Maar dan is daar die stem van die Heilige Gees… O, hoor hoe daardie Een Stem elke ander stem oortref en troef – die fluisteraar van die Evangelie, die Een wat in jou oor fluister: “Jy is familie.” Hy is die draer van skoonheid, die boodskapper van genade, die sanger van verstandigheid, die lied van Christus – God die Heilige Gees getuig met ons gees dat ons sy gekoopte en geliefde kinders is wat aan Hom behoort.
Abba, Vader, deur die Gees van seunskap, hou vol om ons te bevry van al ons slaafse vrese – van die verlede, hede en toekoms. Mag die Gees so hard praat dat elke donker stem gesmoor mag word. Mag Hy so duidelik praat dat elke misleidende leuen stilgemaak sal word. Mag Hy so oortuigend praat dat elke verlammende twyfel op die vlug slaan.
Gemeente, dít is LIEFDE. Om in ‘n gesin aangeneem te word, as weeskinders, met allerlei gebreke en swakhede, en sondes. Dít is liefde! Sien jy dit?! Voel jy dit?! Sy liefde sê: “Word deel van my familie. Ek sal jou Pa wees, jy sal my seun wees, en Ek sal my Gees aan jou gee sodat jy dit kan uitroep.”
O, hoe hierdie liefde van die Vader, wat in die Seun aan ons gewys word en deur die Gees uitgegiet word, ons hele wese verander! Ons begin liefhê wat Hy liefhet. Sy wêreld en veral sy mense! Jy sien, die enigste diens wat die naam ‘Christelik’ werd is, is diens wat deurdrenk is met liefde: “Al sou ek al my goed uitdeel, en al sou ek my liggaam oorgee om verbrand te word, en ek het nie die liefde nie, dan sou dit my niks baat nie” (1 Kor. 13:3).
As jy deel in hierdie familie se liefde, die liefde van die Drie-enige God, dan sal jou lewe radikaal anders lyk. God “is liefde op so ‘n diepgaande en kragtige manier dat jy Hom doodeenvoudig nie kan ken sonder om ook self liefdevol te word nie” (Michael Reeves). Liefde maak die verskil. Bemagtig deur die Gees. Gaan maak ‘n verskil.
Aanneming: die toppunt van ons redding. Aan elkeen wat vandag hier sit, is die woorde van Jesus Christus: “Kom, jy wat geseën is deur my Vader, kom erf die koninkryk wat vanaf die grondlegging van die wêreld vir jou voorberei is.”
Wat geen oor gesien of geen oor gehoor of geen hart van die mens ooit bedink het nie, het God aan jou bekendgemaak. Glo dit.
Amen.
* Die Engelse Bybelteks gebruik hoofsaaklik die woord “seuns” (vgl. Gal. 3:26; 4:5; 4:6), terwyl die Afrikaanse Bybelteks die woord “kinders” gebruik.