Geliefde gemeente, broers en susters,
As gelowiges word ons geroep om – in die wêreld, maar veral ook in die kerk – te lewe volgens die styl van Christus. En die styl van Christus het uiteraard te make met ons woorde en optrede, maar dieper as dít gaan dit uiteindelik oor die motiewe van die hart. Hoekom doen ons wat ons doen? Vra jouself bietjie hierdie vraag. Hoekom dien jy as diaken in die gemeente? Hoekom dien jy as ouderling? Wat dryf jou? En hoe beïnvloed daardie diepste dryf jou optrede teenoor diegene wat die Here in jou sorg geplaas het? Wat dryf jou om iemand, wat op jou normale plekkie in die kerk sit, te vra om te skuif omdat dit jou plek is (helaas gebeur dit nog so nou en dan)? Watter gesindheid bring jou tot hierdie optrede? Wat is die diepste dryfveer waarom jy tydens die eredienste wel ‘n masker dra óf nie ‘n masker dra nie? Sensitiewe onderwerp, ek weet, maar stel jouself ’n slag die vraag: hoekom doen ek dit? Wat is die rede waarom ek tydens ‘n Bybelstudie graag wil saampraat, of hoekom bly ek liewer stil by ‘n kommissie-vergadering? Wat dryf my om jou te kom besoek wanneer jy probleme het, of om vir jou ‘n bord kos te bring wanneer jy siek is? Dit is vrae, broers en susters, wat alles te make het met die styl van Christus.
Die styl van Christus – dit is presies waarby Paulus uitkom wanneer hy die gemeente van Filippi oor soortgelyke dinge aanspreek as wat ek sopas hierbo genoem het. Die gedeelte wat ons saam gelees het (Fil. 1:27-2:18) bevat ‘n hele reeks oproepe en vermanings. Oproepe en vermanings oor die styl waarmee die gelowiges in Filippi saamlewe: hoekom doen julle wat julle doen? Wat dryf julle in julle saamlewe as gemeente? Doen julle dinge uit eensgesindheid (een van siel, een van sin), of leef daar diep in julle harte selfsug en eersug? (2:2-3) Soek julle in nederigheid die belange van die ander, of soek julle eintlik ten diepste julle eie belange? (2:3-4) Wat is julle gesindheid?
En dit is presies by die punt van die gesindheid dat Paulus dan die oorgang maak na die kern van sy brief. Wat is julle gesindheid? Wel, sê hy, julle gesindheid moet dieselfde wees as dié van Jesus Christus (2:5). En dan volg daar ‘n pragtige gedeelte – baie is van mening dat ons hier met ‘n lied / ‘n himne te make het (2:6-11) – waarin Paulus die Persoon en die werk van ons Here Jesus ontgin. En ons wil vanaand kyk met watter skatte die apostel vorendag kom – skatte wat uiteindelik neerslag gevind het in ons belydenis (NGB, art. 19); skatte wat ons laat nadink oor ons eie, diepste gesindheid.
Tema: die skat van Christus se Persoon en werk verryk die gemeente met ‘n nuwe styl!
“Want hierdie gesindheid moet in julle wees wat ook in Christus Jesus was” – só roep Paulus op in vers 5. Goed, maar wat was dan presies die gesindheid wat in Christus Jesus was? Hier is dit goed om u Bybels oop te hou, want ons gaan in redelike detail na verse 6-11 kyk.
Paulus begin sy toeligting deur in vers 6 te sê dat Christus in die gestalte van God was. Gestalte van God? Hoekom sê Paulus nie eenvoudig dat Christus Gód was nie – dis mos wat ons bely in artikel 19? Nou, ons sal nog sien hoekom Paulus dit doen, maar intussen hoef u nie bekommerd te wees dat Paulus Christus se Godheid ondermyn of ontken nie, want dadelik daarna (in die tweede helfte van vers 6) maak Paulus dit eksplisiet: “Hy (wat in die gestalte van God was) het dit geen roof geag om aan God gelyk te wees nie.” Jesus Christus is dus aan God gelyk – Hy is God! Maar – en dit is Paulus se punt – Christus het hierdie gelyk-wees-aan-God nie uitgebuit nie. Dis wat bedoel word met hierdie effens moeilike uitdrukking: Hy het dit geen roof geag om aan God gelyk te wees nie. Dit wil sê, Hy het sy gelyk-wees-aan-God nie styf vasgehou, soos wat ‘n mens ‘n geroofde buit ten alle koste wil behou nie. Né, as jy iets buit of roof of afvat, dan wil jy ten alle koste daaraan vasklou, jy wil dit nie verloor nie – ons sien dit by klein kindertjies: as die een kind iets by die ander een gryp of afvat, dan hardloop hy weg en klou styf daaraan vas wanneer die ander een dit wil terugkry. Maar vir Jesus is sy goddelikheid nie iets wat Hy van êrens anders afgevat of geroof het, en wat Hy nou angsvallig moet beskerm nie. Nee, sy Godheid is iets wat Hy van nature het! Sy Godheid is syne! Hy het al die majesteit van die Godheid besit; Hy het al die funksies vervul en Hy het al die regte geniet wat deel is van die Godheid; Hy is deur die Vader vereer en deur die engele aanbid; Hy was nie vatbaar vir pyn en frustrasie en verleentheid nie; Hy het in totale harmonie gelewe; sy heerskappy was totaal, sy vrede was volledig, sy saligheid was volmaak. En dit alles het Hy nie gehad omdat Hy dit gegryp of gesteel of gebuit het nie. Dit was eenvoudig syne, van ewigheid af!
Dit is die vertrekpunt: Christus is aan God gelyk; Hy is God! En as sulks het Hy regte gehad, Goddelike regte: Hy het die reg gehad om erken te word, Hy het die reg gehad om vereer te word, om deur die engele gedien te word, om immuun te wees van pyn en armoede en vernedering, en om sy majesteit en heerlikheid vir almal ten toon te stel! Maar in plaas daarvan – en dis nou die wonder! – in plaas daarvan om krampagtig aan hierdie Goddelike regte vas te klou, het Christus Homself vrywillig ‘ontledig’ (vers 7; ‘n belangrike Griekse woord: kenosis). Ontledig – Hy het Homself leeg gemaak. Waarvan? Wel, van sy Goddelike gestalte, waarvan vers 6 gepraat het! Hy het sy Goddelike gestalte ingeruil vir die gestalte van ‘n slaaf (vers 7). Dit beteken nie dat Hy sy Godheid afgelê het nie – onthou, dit is nie moontlik nie, God kan nie ophou om God te wees nie. Maar Hy het dít waaraan Hy as God sigbaar en kenbaar was – sy Goddelike gestalte – dít het Hy afgelê, dáárvan het Hy Homself leeggemaak. Die heerlikheid en die majesteit wat deel is van sy Godheid, die lof en die aanbidding wat Hy as God van die engele ontvang het – dít het Hy (ook al was dit tydelik) verberg, en die gestalte van ‘n slaaf aangeneem. En nou verstaan ons ook hoekom Paulus aanvanklik praat van Christus se Goddelike gestalte (vers 6) – want daarteenoor stel hy vervolgens die gestalte van ‘n slaaf (vers 7).
Dus, dit is die eerste wat Christus se self-ontlediging (sy kenosis) behels het – hy word ‘n slaaf... voor Gód! En daardeur kom Hy in ‘n totaal nuwe verhouding met sy Vader te staan. Van ewigheid af was Hy ‘n Seun. Nou word Hy ‘n slaaf – onder die wet, verplig om te gehoorsaam, gebonde om die werk te doen wat Hom opgedra is (Jh. 17:4), en bedreig met die gevolge vir Homself en almal wat betrokke is as Hy in sy gehoorsaamheid sou faal. Hy het ‘n slaaf geword, sonder regte; nooit sou Hy vir diegene wat Hom gekruisig het, kon vra: “Besef julle nie Wie julle aan die kruis gespyker het nie? Weet julle dan nie Wie Ek is nie?”
Maar Jesus se self-ontlediging gaan nog verder... Eers was dit: Hy wat in die gestalte van God was, het die gestalte van ‘n slaaf aangeneem. Maar vervolgens sê Paulus ook nog: Hy wat aan God gelyk was (einde vers 6), het aan die mense gelyk geword (einde vers 7). En net soos wat sy gelyk-wees-aan-God impliseer dat Hy werklik God was, so impliseer sy gelyk-wees-aan-die-mense dat Hy werklik mens was. Dit is hoe Hy Homsélf gesien het, maar dit is ook hoe die mense Hom gesien het. Kyk maar na vers 8: “... in gedaante gevind as ‘n mens...” Dit is hoe mense Hom gevind het, dit is hoe hulle Hom op die straat raakgeloop het. Wanneer mense na Hom gekyk het, het hulle niks anders as ‘n gewone mens gesien nie; daar was niks in sy voorkoms wat Hom van ander mense onderskei het nie. Daar was geen halo bo sy kop nie, geen uitstraling nie, waarskynlik nie eens iets wat hom uitermate aantreklik of opvallend gemaak het nie. Dis waar, elke nou en dan het die Goddelike gestalte na vore gekom (want onthou, Hy was nog steeds God) – wanneer Hy siekes genees het, of wanneer Hy duiwels uitgedryf het, of wanneer Hy dooies opgewek het. Maar behalwe vir hierdie kortstondige openbarings van die Godheid, was sy voorkoms dié van ‘n gewone mens. Hy het opgegroei van kind tot volwasse man, Hy het honger gely en dors geraak, Hy het moeg geword en slaap nodig gehad.
Maar Jesus se self-ontlediging gaan nóg ‘n stap verder: Hy het slaaf van God geword, Hy het mens geword... En dan: “Hy het Homself verneder deur gehoorsaam te word tot die dood toe” (vers 8). Onthou, gemeente, in sy oorspronklike (Goddelike) gestalte was Hy immuun vir die dood, maar Jesus Christus neem doelbewus ‘n gestalte aan wat sterflik was. En in daardie gestalte gaan Hy die dood tegemoet, Hy kies daarvoor. Hy het besluit om nie meester van die dood te wees nie, maar om slagoffer daarvan te word; Hy kies vir ‘n roete waarby dit vir Hom ‘n sonde sou wees om nie te sterf nie. Om te sterf was gehoorsaamheid (vers 8); om nie te sterf nie sou ongehoorsaamheid wees. En om dit alles te kroon, was dit die dood in sy ergste vorm – ja, die dood van die kruis (laaste woorde van vers 8).
Die Romeine het kruisiging as vorm van teregstelling van die Perse oorgeneem – ‘n buitengewoon wrede en vernederende vorm van teregstelling, wat hoofsaaklik gebruik is om slawe, rowers, moordenaars en politieke teenstanders te straf. Die Jode het ‘n afsku van hierdie vorm van straf gehad, nie slegs vanweë die wrede en skandelike karakter daarvan nie, maar veral omdat iemand wat tussen hemel en aarde gehang het, beskou is as iemand wat vervloek is – daar aan die paal behoort jy nie by die aarde nie, maar jy behoort ook nie by die hemel nie; jy is deur mense vervloek, maar jy is ook deur God vervloek (Deut. 21:22-23, Gal. 3:13). Christus se reis na Golgota was daarom ‘n reis in ‘n donker gat in – en dit het nie net fisiese en emosionele pyn behels het nie, maar ook geestelike eensaamheid wat ons onsself nie kan voorstel nie. In sy sielsangs het Hy uitgeroep, sonder dat Hy verhoor is. Hy het alle aanvoeling van die Vader se liefde verloor. In daardie klein ruimtetjie (daar in sy menslike liggaam, daar net buite Jerusalem) en in daardie tydsmoment (die negende uur op Goeie Vrydag) het God al die sondes van die wêreld bymekaar gemaak. En daar en dan, in die vlees van sy Seun, het Hy die sonde veroordeel (Rom. 8:3). Aan daardie kruis, in die donkerste oomblik, het die Seun Homself slegs as sonde geken en sy Vader slegs as die Wreker daarvan. Hy het sy regte as God sódanig afgelê dat Hy gesterf het; Hy het Homself só verneder dat Hy die dood aan die kruis gesterf het. Hy het slaaf geword, Hy het mens geword, Hy het die dood geproe, ja, die dood van die kruis.
Maar dan, vanaf vers 9, kom die groot wending...
“Daarom...” – juis vanweë die gehoorsame vernedering waarvoor Christus vrywillig gekies het, juis daarom het God Hom ook uitermate verhoog en Hom ‘n naam gegee wat bo elke naam is (vers 9). Christus kry die allerhoogste posisie denkbaar, ‘n magsposisie wat elke ander gesag in die wêreld oortref. ‘n Posisie wat oral erken sal word: “sodat in die Naam van Jesus sal buig elke knie van die wat in die hemel en die wat op die aarde en die wat onder die aarde is, en elke tong sal bely dat Jesus Chritus die Here is tot heerlikheid van God die Vader” (verse 10-11). Jesus se self-ontlediging en vernedering tot aan die kruis lei daartoe dat Hy sy eertydse Goddelike posisie weer terugkry – dubbel en dwars terugkry. En dit is interessant, wanneer ‘n mens Johannes 13 lees oor die voetwassing, dan sien ons dat Jesus hierdie herstel verwag het; ons lees daar: “En gedurende die maaltyd ... het Jesus, omdat Hy geweet het dat die Vader alles in sy hande gegee het en dat Hy van God uitgegaan het en na God heengaan, van die maaltyd opgestaan ... en die voete van die dissipels begin was.” Hy kon die nederigste van alle nederige werkies verrig – soos ‘n slaaf die voete van sy dissipels was – omdat Hy geweet het dat Hy sy Goddelike eer terug sou ontvang. Hy sou verhoog word – letterlik, deur middel van die hemelvaart – tot die hoogste posisie.
------------------------
Gemeente, wat ons hier in Filippense 2:6-11 vind, is ‘n pragtige lied / ‘n himne, waarin die apostel die wonder besing van die vereniging van God en mens in een Persoon – soos wat ons dit terugvind in artikel 19. “Ons bely daarom dat Hy ware God en ware mens is: ware God om deur sy krag die dood te oorwin, maar ook ware mens om deur die swakheid van sy vlees vir ons te kon sterwe.” Maar... nou moet ons hierdie himne wel in sy konteks bly lees – Paulus se bedoeling was immers nie om hier in Filippense 2 ‘n dogmatiese uiteensetting te gee van die leer oor Christus se Persoon nie. Nee, onthou wat die konteks was (vers 5): “... hierdie gesindheid moet in julle wees wat ook in Christus Jesus was.” Dít was die rede vir hierdie himne, dit was die aanleiding vir Paulus se lied oor die Godheid en die mensheid van Jesus Christus. Hy gee Christus se menswording en sy vernedering aan die kruis as voorbeeld vir die gemeente van Filippi om na te volg.
O, maar is Christus dan net ‘n voorbeeld wat ons moet navolg? Is Christus, soos in so baie hedendaagse teologie, maar net ‘n Voorbeeld van hoe ons behoort te lewe – net soos wat Ghandi en moeder Theresa en Martin Luther King voorbeelde was? Nee, gemeente! Want kyk na wat Paulus direk na sy himne sê, vers 12: “Daarom, my geliefdes... werk julle eie heil uit met vrees en bewing.” En dan gaan dit nie daaroor dat ons, deur ons inspanning, ons eie heil moet bewerk nie. Nee, “daarom” (die eerste woordjie van vers 12)! “Daarom” – omdat Christus slaaf geword het, mens geword het, aan die kruis vir julle gesterf het, daarom is daar vir julle heil – gaan werk daardie heil nou ook uit! Uitwerk is iets anders as bewerk – ook in die Grieks! Die heil wat Jesus Christus deur sy vernederende kruisdood vir julle bewerk het – gaan werk dit nou uit, gee hande en voete daaraan, maak dit sigbaar. Hoe weet ek dat dít is wat Paulus bedoel? Wel, kyk maar na wat hy in die volgende vers (vers 13) sê: “Want dit is Gód wat in julle werk om te wil sowel as om te werk na sy welbehae.” Ons heil is nie van ons eie inspanning afhanklik nie – dit is Gód wat dit doen, deur Jesus Christus; dit is Hy wat dit ín ons doen, deur sy Heilige Gees.
Gemeente, deur hierdie himne gaan die totale evangelie, die volheid van die goeie nuus, vir sondaarmense oop: Christus het nie aan sy Goddelike gestalte vasgeklou nie – prys die Here daarvoor! Inteendeel, Hy het ‘n slawe-gestalte aangeneem (ook al het Hy in die tussentyd volledig God gebly) – prys die Here daarvoor! Hy het mens geword (een van ons), Hy is gekruisig, Hy is deur die Vader verhoog, Hy het ‘n Naam gekry wat bo elke Naam is – prys die Here daarvoor!
En weet julle wat, Filippense? Hierdie boodskap bepaal julle gesindheid. Dit bepaal wat dit beteken om julleself waardig die evangelie te gedra (1:27). Dit bepaal hoe julle in eensgesindheid, sáám, vir die geloof van die evangelie kan stry (einde van vers 27). Dit bepaal julle bereidheid om vir Christus te ly – want Hy is God, wat mens geword en vir júlle gely het (vers 29). Dit alles word bepaal deur die werk van Jesus Christus.
As hierdie evangelie dus enige iets werd is – dis wat Paulus in die eerste vers van hoofstuk 2 probeer duidelik maak: “as daar dan enige troos in Christus is, as daar enige vertroosting van die liefde, as daar enige gemeenskap van die Gees, as daar enige innige tederheid en ontferming is...” – as hierdie evangelie enige iets werd is... wat dan? Wel, kyk maar na verse 2-4: wees dan eensgesind, leef dan in dieselfde liefde, moenie selfsugtig wees nie, moenie julle eie eer soek nie, wees nederig, ag die ander hoër as jouself, moenie na jou eie belange soek nie, maar soek die ander se belange. Dit is wat die evangelie van Christus doen, broers en susters. Christus is nie maar net ‘n voorbeeld wat ons vervolgens in eie krag moet navolg nie – nee, sy menswording en sy kruisdood verander ons lewens van binne-uit.
Die kerkvader Athanasius het hierdie beroemde woorde geskryf: “God het mens geword, sodat die mens God kan word.” Daarmee het Athanasius nie bedoel dat ons natuur vergoddelik word nie; nooit sal ons die diepe skeidslyn tussen Skepper en skepsel, tussen God en mens oorsteek nie. Maar Athanasius het daarmee wel uitgedruk dat, deur die menswording van Christus, die mens, hoewel hy in sy natuur méns bly, God kan begin weerspieël in sy lewe en optrede. Daarmee begin die styl van Christus ook in ons lewens sigbaar word. “God het mens geword, sodat die mens God kan word.” Hoekom dien jy as diaken in die gemeente? Hoekom dien jy as ouderling? Wat dryf jou? Wat dryf jou om iemand, wat op jou normale plekkie in die kerk sit, te vra om te skuif omdat dit jou plek is? Watter gesindheid bring jou tot hierdie optrede? Wat is die diepste dryfveer waarom jy tydens die eredienste wel ‘n masker dra óf nie ‘n masker dra nie? Wat is die rede waarom ek tydens ‘n Bybelstudie graag wil saampraat, of hoekom bly ek liewer stil by ‘n kommissie-vergadering? Wat dryf my om jou te kom besoek wanneer jy probleme het, of om vir jou ‘n bord kos te bring wanneer jy siek is?
En sal jy al hierdie dinge dalk met ‘n ander gesindheid begin doen wanneer jy eers stilstaan by die wonder van God wat mens geword het? Wanneer jy tot jou laat deurdring dat die Goddelike natuur tot in die graf met die menslike natuur verenig gebly het? Tot in die graf toe het die Seun van God in sy Goddelike natuur die vereniging met die menslike natuur nie opgegee nie. Wat ‘n vernedering! Wat ‘n opoffering! Wat ‘n diensbaarheid! Mag hierdie evangelie ons diepste motiewe en dryfvere verander, broers en susters – sodat ons dieselfde (en nog baie meer!) mooi dinge doen, maar dan met ‘n nuwe styl en dryfveer; en sodat ons die kwade dinge sal nalaat. Mag God hierdie evangelie in ons werk, om te wil en om te werk na sy welbehae (vers 13). En dit beteken, verse 14 en 15, dat ons alles sonder murmurering en teëspraak sal doen, en dat ons onberispelik en opreg sal wees, kinders van God sonder gebrek te midde van ‘n krom en verdraaide geslag. Ag, as ons maar almal so in die gemeente en in die wêreld diensbaar sal wees; as ons maar almal so ‘n gesindheid kan hê. Ag, as die skat van Christus se Persoon en werk maar ons gemeente mag verryk met hierdie nuwe styl...
Amen
Votum & Seëngroet: Ons hulp is in die Naam van die Here wat die hemel en die aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van God ons Vader, en van ons Here Jesus Christus, deur die kragtige werking van die Heilige Gees.
Sing Ps. 49:3, 5 en 6
Gebed
Lees: Filippense 1:27-2:18
Teks: NGB, art. 19
Sing Skr. 5
Preek
Amenlied Skr. 63:1-4 (beryming van Kol. 1:15-20)
Geloofsbelydenis van Athanasius (deel 2)
Sing Skr. 63:5 en 6 (staande)
Gebed
Kollekte
Slotsang Skr. 8:1 en 2
Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen.