Goddelike wysheid vir 'n lewe van ware vriendskap

Minister: 
Ds HH van Alten
Church: 
Pretoria
Date: 
2022-05-01
Text: 
Spreuke 17:17
Reference: 
Leer en laat leer 7
Preek Inhoud: 

Seuns en dogters, gebeur dit ook soms met jou dat jy voel asof jy nie maats het nie? Almal speel lekker met mekaar hier buite op die skoolterrein, maar jy staan eenkant... alleen. Dalk voel dit vir jou of niemand jou verstaan nie. Of die ander in jou klas word genooi om by iemand te gaan speel, maar nie jy nie. Jongmense, julle praat dalk nie meer van ‘maats’ nie, maar die gevoel kan by julle dieselfde (en selfs nog sterker) wees: ek het nie regtig vriende nie; of ek wil so graag deel van dáárdie groep wees, maar dit lyk nie of hulle in my belangstel nie; of die persoon wat my vriendin was het besluit sy wil nou met iemand anders vriende wees. En selfs wanneer ons volwasse of dalk al bejaard is, kan hierdie vertwyfeling oor vriendskappe ons nog steeds besig hou: wie is werklik my vriende?

En is dit so vreemd, gemeente? Natuurlik, daar kan by ons baie maklik egoïstiese motiewe wees in ons soeke na vriendskap; natuurlik kan dit gebeur dat gewildheid of aansien die rede is waarom sekere vriendskappe vir ons belangriker is as ander. Maar die verlange na vriendskap as sulks is nie vreemd nie. Want – het God in die begin gesê – “dit is nie goed dat die mens alleen is nie”! En dan weet ons dat die huwelik die onmiddellike vervulling was vir hierdie alleen-wees van Adam – en die huwelik is dan ook die mees intieme vriendskap denkbaar; jou lewensmaat is die belangrikste vriend wat jy ooit gaan kies (kies daarom sorgvuldig!). Maar “dit is nie goed dat die mens alleen is nie” gaan wyer as net die lewensmaat. Dit gaan daaroor dat God die mens as ‘n sosiale wese gemaak het – net soos wat die Drie-enige God sélf ‘n sosiale wese is. Ons is gemáák om in verhoudings te staan, ons is gemáák om vriendskappe te soek. Dis deel van ons mens-wees! En wie dit nie soek nie, wie homself doelbewus van enige vorm van vriendskap onttrek, van hom sê die Spreukedigter: “Hy wat hom afskei, soek sy eie begeerte; hy bestry alles wat waarlik tot voordeel strek” (Spr. 18:1). Daardie persoon mis iets kosbaars wat die Here gemaak het. Maar goed, hoe doen ons dit dan? Hoe kultiveer ons ware vriendskappe? Kom ons luister vanaand na wat die Spreukedigter hieroor sê...

Tema: Goddelike wysheid vir ‘n lewe van ware vriendskap.

  1. Ware vriende moet gekies word
  2. Ware vriende is altyd daar
  3. Ware vriende is eerlik
  4. Ware vriende is min
  5. Wat ‘n vriend het ons in Jesus

 

1. Jou ouers kan jy nie kies nie, jou broer en suster ook nie – as jy kon, sou jy moontlik anders gekies het. Maar wanneer dit kom by vriende, het ons ‘n keuse. Jy kan kies wie jou vriende is, en wie nie. En dis ‘n belangrike keuse, want jou keuse van vriende het ‘n groot invloed op die rigting van jou lewe. In hoofstuk 13:20 wys die Spreukedigter vir ons hoekom hierdie keuse so belangrik is: “Gaan met die wyse om, dan word jy wys; maar hy wat met dwase verkeer, versleg.” Dit is ’n baie logiese gevolg wat die Spreukedigter hier vir ons beskryf: jy wórd soos die mense met wie jy omgaan. In hoofstuk 22:24 en 25 maak die Spreukedigter dit selfs nog meer konkreet vir ons (ek lees uit die 2020-vertaling): “Moenie vriende maak met ‘n humeurige mens nie, en met ‘n opvlieënde man moet jy nie saamgaan nie, anders raak jy vertroud met sy paaie en stel jy só ‘n valstrik vir jouself.” Jy raak vertroud met sy paaie – dus, jy raak gewoond aan die manier van praat en dink en optree van jou vriende, van die mense met jy omgaan. Nou, hier in hoofstuk 22 word dit veral negatief gestel, maar in hoofstuk 13:20 (wat ek reeds aangehaal het) sien ons dat dit sowel positief as negatief kan wees: “Gaan met die wyse om, dan word jy wys; maar hy wat met dwase verkeer, versleg.” Dus, as daar in jou vriendekring positief oor ander mense gepraat word, as julle mekaar aanmoedig om goeie dinge te doen, as julle nie omgee om ander in julle vriendekring toe te laat nie – dan gaan dit ongetwyfeld ‘n invloed hê op hoe jy (as deel van hierdie groep) dink en praat en optree. Maar as daar binne jou vriendekring die hele tyd vuil grappe vertel word, growwe taal gebruik word, ander mense beskinder word – ja, dan is die kanse goed dat jy dit ook gaan doen.

 

Broers en susters, dit is nie in ons hande óf daar invloede op ons gaan wees nie, maar dit is wel in ons hande wátter invloede daar gaan wees. Kies daarom jou vriende reg! Dis geen onbelangrike saak vir die Spreukedigter nie; hy wy nie maar net ‘n paar kort versies daaraan nie. Nee, alreeds in hoofstuk 1 waarsku die vader sy seun uitvoerig vir die gevare om met verkeerde mense om te gaan: “My seun, as die sondaars jou wil verlei, moet jy nie inwillig nie; as hulle sê: Gaan saam met ons, laat ons loer op bloed, laat ons die onskuldige voorlê..., laat ons hulle lewendig verslind... – my seun, gaan nie met hulle saam op die weg nie, hou jou voet terug van hulle pad” (Spr. 1:10-15). Kies daarom met wie jy omgaan. Moenie net sê: hierdie is die mense wat my aanvaar soos wat ek is, by hulle kan ek myself wees nie. Nee, oorweeg deeglik: is hierdie mense ook goed vir my? Help hulle my om as kind van die Here te groei? Soek hulle die beste vir my? En daarom die Spreukedigter se gevolgtrekking in hoofstuk 12:26: “’n Regverdige soek sy vriende uit, maar die pad van godeloses lei hulle op ‘n dwaalspoor” (2020-vertaling). ‘n Regverdige soek sy vriende uit! Soek as kind van die Here jou vriende uit – en dit geld veral vir ons jongmense, julle wat nog besig is om julle plekkie in die lewe te vind, julle wat so graag wil behoort – kies bewustelik met wie jy wil assosieer (en ouers, begelei julle kinders hierin). Maar dit geld ook as ons al ‘n bietjie ouer is, of selfs as ons al bejaard is – moenie dink dat, omdat jy al ouer is, jou vriende geen invloed op jou het nie. Hulle het! En die Here se oproep is: maak seker dat daardie invloed positief, opbouend en tot eer van my Naam is.

Dus, ware vriende moet gekies word – dit is ons eerste gedagte. Maar vervolgens: hoe herken ‘n mens ‘n ware vriend? Wel...

 

2. “Die vriend het altyd lief” – so lees ons in die eerste deel van Spreuke 17:17. Die vriend het altyd lief – kom ons let net eers op die woordjie ‘altyd’. Beteken dit dat ons as vriende altyd saam moet wees, alles saam moet doen – soos twee klein maatjies wat onafskeidelik is? Nee, Spreuke sê eintlik dat ons juis daarvoor moet oppas: “Sit jou voet selde in jou naaste (en hier word dieselfde Hebreeuse woord as vir ‘vriend’ gebruik) se huis, sodat hy nie van jou genoeg kry en jou haat nie” (Spr. 25:17). Ja, ook vriende kan ‘n oorlas van hulleself maak. Ware vriendskap beteken dus nie dat ‘n mens altyd saam moet wees en alles saam moet doen nie. “Die vriend het altyd lief” beteken eerder dat jy altyd op hom of haar kan staatmaak – hy of sy is altyd daar vir jou (of hy/sy nou fisies naby is of nie). In goeie tye, in swaar tye – en in al die tye tussen-in is die ware vriend daar.

Dis interessant, die Spreukedigter skep die indruk (en die praktyk bewys dit op ‘n manier ook) dat dit met familie dikwels anders werk: “Die vriend het altyd lief” (dis die eerste deel van vers 17), en dan volg die tweede deel: “die broer word gebore met die oog op die nood.” Hoor u die verskil? Ja, wanneer dinge moeilik gaan, dan is die familie daar ... want dis mos waarvoor ons familie is. En die Spreukedigter bedoel dit nie noodwendig negatief nie: familie is daar wanneer daar probleme is; die broer word mos gebore met die oog op die nood. “Maar (sê Spreuke 18:24) daar is ‘n vriend wat sterker aanhang as ‘n broer.” Die woord wat hier met ‘aanhang’ vertaal is, beteken letterlik vaskleef of klou. Die familie is daar wanneer daar probleme is, maar die ware vriend klou aan jou in álle omstandighede – altyd is hy of sy daar, gereed om te help met wat ook al nodig is! Altyd reg met ‘n luisterende oor, altyd reg met ‘n bemoedigende woord, altyd reg met ‘n bord kos.

Dít moet jy nie van valse vriende verwag nie, mense wat om verkeerde redes jou vriende wil wees. Spreuke is daaroor baie duidelik: “Die arme word selfs deur sy naaste gehaat, maar die vriende van die ryke is talryk” (Spr. 14:20), “goed bring baie vriende aan, maar die arme word deur sy vriend verlaat” (Spr. 19:4), “baie soek die guns van die edele, en die man van geskenke het ‘n hoop vriende. Al die broers van die arme haat hom; hoeveel te meer hou sy vriend hulle ver van hom af” (Spr. 19:6-7). Herhaaldelik leer die Spreukedigter ons: kyk wie wil jou vriende wees wanneer jy ryk en gegoed is; en kyk waar is daardie vriende die dag wanneer dinge moeilik gaan. Maar ware vriende klou vas – in tye van voorspoed én teëspoed, gesondheid én siekte, rykdom én armoede – die ware vriend is daar!

 

En wanneer ons vriendskap op hierdie manier verstaan, broers en susters, dan verstaan ons ook dat hierdie soort vriendskappe harde werk vereis. Dit is nie eenvoudig om iemand altyd lief te hê nie. Dit is nie maklik om te bly liefhê wanneer die omstandighede van ons vriendskap verander nie – wanneer die een ‘n kêrel kry en die ander nie; wanneer die een trou en die ander een dalk alleen bly; wanneer die een sy vrou verloor en die ander een nog gelukkig getroud is; wanneer die een wegtrek en die ander een agterbly. Dit vereis harde werk om vriendskappe te behou wanneer kinders in die prentjie kom en die besige lewe sy tol eis. En nie net vereis dit harde werk nie, maar ook ‘n behoorlike dosis geduld en vergewingsgesindheid. Vir vriendskappe om stand te hou, moet vriende bereid wees om vergewing te vra én vergewing te gee. Immers, “wie ‘n oortreding bedek, soek liefde; maar hy wat ‘n saak weer ophaal, skei vriende van mekaar” (Spr. 17:9). ‘n Saak weer ophaal, ou koeie uit die sloot haal: “Ek kan nou nog nie glo dat jy nie na my gradeplegtigheid gekom het nie”, of “ek sal nooit vergeet hoe jy van ons ete-afspraak vergeet het nie” – dit is dodelik vir enige vriendskap. Ware vriende doen dit nie.

“Die vriend het altyd lief” – gemeente, as dít die konstante in ware vriendskap is, dan besef ons dat ware vriendskap – buiten harde werk – ook tyd vat om te vorm. Daar is geen kitsresep na blywende vriendskap nie. Blywende vriendskap word gekultiveer deur die daaglikse, weeklikse, maandelikse rituele om vir mekaar lief te wees, om jouself betroubaar te bewys. Dit doen ‘n mens nie op Facebook of Instagram of Whatsapp nie. Nee, dit doen ‘n mens in die daaglikse gang van die lewe – oor jare heen.

So, ware vriende is altyd daar. Maar ons moet nog meer sê, en dis ons derde gedagte: Ware vriende is openhartig.

 

3. En hier let ons op die woordjie liefhê in “die vriend het altyd lief”. Wat beteken dit om altyd lief te hê? Beteken dit om altyd te doen wat die ander een wil hê of te sê wat die ander een wil hoor? Nee, liefde tussen ware vriende beteken dat hulle ook openhartig en eerlik vir mekaar die waarheid kan vertel. Nie aangenaam nie – nee! Dit maak seer – vir seker! Maar dit is egte liefde tussen vriende! So leer Spreuke ons in hoofstuk 27:5 en 6: “Openlike teregwysing is beter as verborge liefde. Die wonde deur een wat liefhet, is opreg bedoel, maar die soene deur ‘n vyand is oorvloedig.” Sien jy, die teregwysing van ‘n vriend staan hier teenoor die soene van die vyand. Soene het in Spreuke dikwels die konnotasie van vleiery – vleitaal wat lekker is om te hoor, wat ons laat beter voel oor onsself (almal van ons hou daarvan om te hoor hoe oulik en goed ons is), maar hierdie soene ignoreer ons foute en swakhede. Iemand wat net vlei, wat net altyd vir jou sê wat jy wil hoor, is nie ‘n ware vriend nie.

Ware vriendskap, gemeente, moet daarom altyd rekening hou met waaroor vanoggend se preek gegaan het – die feit dat ons sondige mense is. Ware vriende hou rekening met hierdie werklikheid, en hulle liefde reflekteer hierdie werklikheid. En daarom help ware vriende mekaar met wyse raad: “Olie en reukwerk verbly die hart, net so die aangenaamheid van ‘n vriend vanweë welgemeende raad” (Spr. 27:9). Maar daarby wys ware vriende mekaar ook op foute en gebreke; ware vriende vermaan en roep mekaar ook op wanneer die een sien dat die ander een al hoe minder sy Bybel lees, wanneer die een sien dat die ander al hoe minder kerktoe gaan, wanneer die een sien dat die ander een ontrou teenoor sy lewensmaat is, wanneer die een sien dat die ander een oneerlik in die eksamen wil wees. Dit is wat ware vriende doen. Ware vriende bevestig nie net mekaar nie, nee, hulle help mekaar ook om te groei as mense, as kinders van die Here. “Yster slyp yster, so slyp die een mens die persoon van die ander” (Spr. 27:17) – ‘n pragtige spreuk wat ook in ons gewone omgangstaal sy plek as idioom gevind het. Vriende vorm mekaar, slyp mekaar, soek daarna dat die ander as mens groei. Daarteenoor leer Spreuke ons dat ‘n man wat sy naaste/vriend vlei, ‘n net voor sy voetstappe uitsprei (Spr. 29:5). Jy help nie jou vriend deur vir hom of haar altyd net mooi dinge te vertel, maar intussen stil te bly oor die verkeerde nie. Dan is jy eintlik besig om sy of haar ondergang te bewerk.

En wanneer jy gelukkig is om so ‘n eerlike vriend of vriendin te hê? Hoe reageer jy op sy of haar vermaning? “’n Berisping gaan by ‘n verstandige dieper in as om ‘n dwaas honderd maal te slaan” (Spr. 17:10). Luister na die welgemeende raad en vermaning van ‘n vriend – dit is uiters waardevol, en dra by tot jou groei as kind van God. Dank die Here vir eerlike vriende!    

Dus, vriende moet gekies word (dit was ons eerste gedagte). Vervolgens het ons gesien dat ware vriende altyd daar is (2de gedagte), en dat hulle openhartig is (3de gedagte). Maar daar is ook ‘n beperking aan vriendskap. En dit is ons vierde gedagte.

 

4. “’n Man met baie vriende word geruïneer...” – so leer die Spreukedigter ons in hoofstuk 18:24a. Ware vriendskap, broers en susters, vind ons nie in groot getalle nie; ware vriendskap vind ons in hierdie lewe slegs met enkeles. Want ons kan eenvoudig nie dieselfde tyd en energie – daardie tyd en energie waarvan ek hierbo reeds gepraat het – aan elke verhouding spandeer nie. Ek weet dat Instagram en Twitter en Facebook vir ons ‘n ander prentjie wil skets – hulle wil vir ons die indruk gee dat ons met duisendes tegelyk vriende kan wees. Maar dit is ‘n vals beeld – dit is eenvoudig nie waar nie! Deur sosiale media het die woord ‘vriend’ so breed geword dat ek nou selfs vriende kan wees met mense wat ek nog nooit ontmoet het nie, en van wie ek net so nou en dan ‘n foto van hulle vakansie op Instagram of Twitter verby sien kom. Deur sosiale media het vriendskap geword soos een van hierdie massiewe passasierskepe, vol met baie aangename mense, maar waarvan ons nie één behoorlik ken nie. Ware vriendskap, egter, behoort eerder soos ‘n duikboot te wees – daar is plek vir min, maar dit gaan baie diep!

Dit is opmerklik dat die Here Jesus tydens sy lewe op aarde twaalf dissipels gekies het met wie Hy ‘n noue band gehad het. En binne daardie twaalf was daar selfs drie met wie Hy ‘n besonder intieme verhouding gehad het. Nou, sy voorbeeld is ‘n wyse patroon vir ons om na te volg. Streef vriendskappe na, maar soek na die diepte, nie noodwendig na die breedte nie. Ook hier in die kerk kan ons nie almal met mekaar vriende wees nie – dikwels dink mense dat dit so moet wees (dat ons almal hier in die kerk mekaar se vriende moet wees). En om te voorkom dat mense dink dat ons ‘cliques’ vorm en eksklusief is, vermy ons dit liewer om egte vriendskappe met mense in die kerk te vorm. En natuurlik is dit waar, ons mag nie eksklusief wees nie, en daar is geen rede om onvriendelik teenoor ‘n mede-broer of -suster te wees nie. Maar die begeerte (en opdrag!) om vriendelik teenoor alle mense te wees, moet ons nie daarvan weerhou om diep vriendskapsbande met enkeles hier in die gemeente na te streef nie. As dit ‘n opregte strewe is, hoef ons nie skuldig te voel dat ander nie deel van daardie diep vriendskappe is nie. En wanneer ons sien dat ander mense hierdie diep vriendskapsbande met mekaar nastreef, dan moet ons nie jaloers wees en op daardie vriendskap probeer inbreuk maak nie. Wees dankbaar dat daar sulke vriendskappe is. Wees dankbaar as daar in die kerk van die Here egte vriendskappe nagestreef word, ook al is dit dan nie met ons nie. Maar hou intussen jou oë wawyd oop om seker te maak dat daar nie iemand is wat sonder ‘n egte vriendskap moet klaarkom nie – daardie opdrag bly onverminderd staan, ook wanneer ons vriendskappe met enkeles nastreef.

En dit bring ons by ons laaste gedagte: wat ‘n vriend het ons in Jesus.

 

5. Dis ‘n frase uit ‘n bekende liedjie: “Wat ‘n vriend het ons in Jesus”. ‘n Liedjie wat ons nie so gereeld sing nie. Op een of ander manier maak dit ons ongemaklik. Want is Jesus regtig ons Vriend? Hy is ons Here, ja! Ons Verlosser, vir seker! Ons God, sonder twyfel! Maar ons Vriend? Maar in Johannes 15 spreek Jesus tog ‘n ander taal. Hy daar hoe diep sy vriendskap met sy dissipels gaan: “Groter liefde het niemand as dit nie, dat iemand sy lewe vir sy vriende gee” (Joh. 15:13). Jesus se vriendediens aan sy dissipels beteken sy dood aan die kruis. En hierdie vriendskap tussen Jesus en sy dissipels vat ons terug na die allereerste begin – daar waar God ons gemaak het vir sosiale omgang, vir vriendskap. Helaas het ons in Adam gekies vir vrienskap met die duiwel en die wêreld, en vyandskap teen God. Maar God het nooit opgegee nie: Hy wil die vriendskap waarvoor Hy ons gemaak het, weer herstel. En dit is wat Jesus kom doen het, dit is wat sy vriendediens beteken het: Hy het sy lewe gegee, sodat ons weer in ware, diepe, eerbiedige vriendskap met ons God kan lewe. Aan die vooraand van sy sterwe wou Jesus hê dat sy dissipels moet weet dat die kruis nie maar net die grootste daad van liefde ooit was nie, maar ook ‘n kosmiese daad van vriendskap. En só word Jesus Christus – en ons sê dit met groot eerbied vir ons Heer en Verlosser – ons grootste en mees getroue vriend.

En hierdie Vriend belowe om altyd by jou te wees – Hy bewys dit deur sy Gees aan jou te gee. In Hom ontvang jy die mees wyse vriend wat daar ooit was – want sy Gees lei jou in die hele waarheid. Hy is jou eerlikste vriend ooit – want sy Gees ontdek jou aan jou sondes, sodat jy heilig en sonder gebrek voor Hom kan wees. En in hierdie vriendskap is daar ware openheid, want – sê Jesus – Ek het alles wat Ek van my Vader gehoor het aan julle bekend gemaak (Joh. 15:15). Wat ‘n heerlike vriendskap – in ‘n wêreld waar vriende tog telkens maar weer teleurstel en seermaak, en waar vriende steeds geslote is en dinge van ons terughou.

Ja, gemeente, God se wysheid vir ons vriendskappe is heilsaam en ons maak dankbaar gebruik daarvan. Maar steeds lewe ons in ‘n gebroke wêreld – nie elkeen met wie ek vriende wil wees, wil noodwendig my vriend wees nie; nie elke vriend is ‘n ware vriend nie; vriendskappe kry soms onherroeplik seer. Maar wat ‘n Vriend het ons in Jesus – Hy het sy lewe gegee vir jou. Hy het jou in sy vriendekring opgeneem. En as jy binne sy vriendekring wil bly, doen dan wat Hy beveel het (Joh. 15:14). Gehoorsaam Hom, volg Hom, leef in sy liefde. En mag sy vriendskap jou dra, ook wanneer jy soms alleen voel. En intussen dank ons Hom vir elke ware vriendskap wat ons hier op aarde mag geniet – deur sy bloed.

Amen

Liturgie: 

Votum en Seëngroet: Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van God ons Vader, en van die Here Jesus Christus, deur die kragtige werking van die Heilige Gees. Amen.

Sing Ps. 122

Gebed

Lees:   Spreuke 17:17-18:24

            Spreuke 27:5-17

            Johannes 15:12-15

Sing Ps. 40:4 en 5

Preek

Amenlied Skr. 44:3 en 4

Gebed

Geloofsbelydenis

Kollekte

Slotsang Ps. 101:4 & 119:22

Seën: Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen