Haastig en gewillig in diens van die opgestane Here

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Maranata
Date: 
2022-04-17
Text: 
Mattheus 28:1-7
Preek Inhoud: 

Preek: Mattheüs 28:1-7

 

Ek was ‘n keer met vakansie in ‘n dorpie hier in Suid-Afrika, waar hulle die gewoonte het om op Paassondag voor sonsopgang op te staan.

Almal kom dan bymekaar by die kerk.

Daarna stap hulle terwyl dit nog skemer is vanaf die kerk na die begraafplaas, sodat hulle met sonsopkoms daar aankom.

Dan word daar met trompette en ander blaasinstrumente gespeel en lofsange gesing.

Die trompetgeklank skal dan oor die hele dorp en maak almal wakker wat nie daar was nie.

Die simboliek daaragter is natuurlik dat, soos Christus op Paassondag uit die graf opgestaan het, almal wat op daardie begrafplaas begrawe is, sal opstaan die dag as Christus weer in heerlikheid terugkom.

Dit was vir ons ‘n pragtige ervaring om dit te kon meemaak, daardie Paasnaweek toe ons op daardie dorpie was.

Nou sal so ‘n tradisie vir ons moeiliker wees, gesien die afstand wat daar tussen ons kerk en Zandfontein is.

Dit neem nie weg dat ons op Paassondag ook feesvier, en dankbaar saamkom in die kerk, en uitbundig lofliedere vir ons opgestane Heer en Heiland sing nie.

Vanuit hierdie kerk klink ook vandag, op Paasfees 2022, die blye klanke van die Evangelie.

 

Tema: Haastig en gewillig in diens van die opgestane Here

 

‘n Engel, met ‘n voorkoms soos weerlig, en klere so wit soos sneeu.

Twee manne in blink klere.

Sommige evangeliste gebruik nie die woord engel nie, maar Mattheüs wel.

Die woord engel beteken in Grieks letterlik afgesant, of boodskapper, bode.

Dit is verwant aan die woord angello, wat beteken om ‘n boodskap oor te bring, ‘n tyding aan iemand te bring.

So ontmoet ons die engele in die Bybel, as boodskappers namens God.

Hulle woonplek is nie op aarde nie, maar by God in die hemel.

Hulle word wel deur God na die aarde gestuur, om dinge namens Hom te doen, soos byvoorbeeld ‘n berig, ‘n boodskap aan mense oordra.

Ook ontmoet ons hulle in die Bybel as uitvoerders van God se straf.

Dink aan die Bybelboek Openbaring.

7 engele blaas op 7 basuine en stort 7 plae oor die aarde uit.

Ook voer die engele oorlog.

Dink aan Migael en sy engele wat oorlog voer teen die draak en sy engele – Openbaring 12:7.

 

Dit is opvallend dat nie elke keer dieselfde woord vir ‘n engel gebruik word nie.

Lukas verwys na twee manne.

Markus verwys na ‘n jongman.

God se boodskappers, sy engele, het dus in die gedaante van ‘n jongman by die graf verskyn.

Hulle verskyning was indrukwekkend, en ontsag ingeboesem, soos ‘n soldaat se veskyning ontsag inboesem.

Dink aan die wagte wat so geskrik het dat hulle soos dooies geword het.

Hulle was nie soldate geklee in die gebruiklike soldateklere van daardie tyd nie.

Tog was dit juis hulle kleding wat so ‘n indruk gemaak het: oogverblindend, selfs angsaanjaend.

Die soldate het gebewe en soos dooies geword.

Hulle klere word eksplisiet deur die evangeliste vermeld.

Dit is iets wat daardie vroue wat by die graf gekom het, skynbaar baie opgeval het.

Lukas vermeld dat hulle geklee was in blink klere.

Mattheüs skryf in ons teks: kleding wit soos sneeu.

Wat word daarmee bedoel?

Ons weet dat sommige materiale blink, ‘n glans het.

Dink aan sy, of satyn.

Trourokke word van materiaal gemaak wat ‘n glans het.

Tog was die engele se klere meer as dit.

Dit was asof ‘n lig daaruit gestraal het.

Want Mattheüs skryf dat sy voorkoms soos weerlig was en sy kleding wit soos sneeu.

Spierwit en soos oogverblindende weerlig.

Ook Markus noem dat die jongman ‘n lang wit kleed aangehad het.

En ook die evangelis Johannes verwys daarna: Maria het twee engele gesien met wit klere aan.

Duidelik was die klere nie ‘n bykomstigheid nie.

Al vier evangeliste verwys eksplisiet daarna.

Hulle klere het direk te make gehad met hulle verskyning.

Dit het duidelik tot doel gehad om vrees en ontsag in te boesem.

Of die feit dat dit wit was, nog ‘n spesiale betekenis gehad het, daaroor kan ‘n mens wonder.

Drie evangeliste noem dit eksplisiet, net Lukas noem dit nie, hy praat net oor blink klere.

Tog weet ons uit die Skrif dat wit dikwels simbool staan vir reinheid, sondeloosheid, en simbool vir die lewe, teenoor swart as simbool van die dood.

Dit pas natuurlik perfek by daardie oomblik, toe Jesus in ‘n nuwe en sondelose, volmaakte lewe uit die graf opgestaan het.

So lees ons ook in Openbaring dat die gelowiges beklee sal word met wit klere, simbool van reinheid.

Maar ook nog ‘n simbool van iets anders, naamlik van oorwinning.

Dink aan Openbaring 3:5: “Wie oorwin, sal beklee word met wit klere” – skryf Jesus aan die gemeente in Sardis.

En dit is natuurlik beslis waar vir Paassondag.

Die feit dat die engele daar was, was om die oorwinning aan te kondig.

 

Dit bring ons by die taak van die engele.

Soos ek genoem het, dui hulle naam reeds aan dat hulle in diens van God staan om ‘n boodskap, ‘n tyding oor te dra.

Die feit dat hulle verskyn in die gedaante van manne, het daarmee te make.

Tussen hakies, engele is geestelike wesens, hulle het nie ‘n liggaam nie.

Maar in die Skrif sien ons wel, dat as God hulle na die aarde stuur, hulle tydelik ‘n liggaam kan aanneem, om hulle vir die mense sigbaar te maak.

So het die vroue by die graf die engele gesien as jongmanne.

Die feit dat hulle manne was, dui hier nie op geslagtelikheid nie.

Onder die engele is daar nie manlik en vroulik nie.

Die engele is destyds deur God almal in een keer geskape, nie soos die mensheid waar God een man en een vrou geskape het, wat moes vrugbaar wees en vermeerder nie.

By die engele is daar dus nie manlik en vroulik om hulle getal te vermeerder nie (Matt 22:30).

Hulle aantal is dieselfde, van altyd af.

 

Hoekom het die engele dan hier in manlike gedaante verskyn?

Gemeente, soos ons weet, manne is soldate, vroeër en vandag nog steeds.

Dit is die boodskap wat eerstens hier oorgedra word.

Engele is gedugte soldate, hulle is God se leërmagte.

Tweedens was manne in die oudheid ook diegene wat lang afstande afgelê het om ‘n tyding oor te dra.

Blitsvinnig het hulle gehardloop en lang afstande afgelê.

Daar was nog nie telefone en internet nie.

Boodskappers was hardlopers, wat baie kilometers per dag afgelê het om ‘n tyding na die uithoeke van die ryk te bring.

Vergeleke by daardie hardlopers was die engele blitsvinnig.

Soos weerlig het hulle uit die hemel verskyn.

 

Ook op Paassondag was dit hulle taak.

Hulle is gestuur om die tyding te bring.

Die vroue en dissipels het dinge by die graf gesien, naamlik dat die steen voor die opening weggerol was, en dat die graf leeg was.

Maar om elke twyfel uit hulle harte weg te neem, het God sy boodskappers gestuur.

Hulle berig was duidelik:

Mattheüs 28:5: “Moenie vrees nie, wat ek weet julle soek Jesus wat gekruisig is. Hy is nie hier nie, want Hy het opgestaan soos Hy gesê het. Kom kyk na die plek waar die Here gelê het ...”

Die engele se stem was amper verwytend:

“Waarom soek julle die Lewende by die dooies? Hy is nie hier nie, maar Hy het opgestaan.” (Luk 24:5-6)

En dan herinner die engele vir die vroue aan wat Jesus alreeds self aangekondig het.

Mattheüs of Lukas was nie self op daardie oomblik daar nie, maar soos ons aan die begin van die Lukasevangelie kan lees, het hy opgeskryf wat hy van die ooggetuies gehoor het (Luk 1:1-4) – daardie vroue wat by die graf was: Die twee Maria’s, en Johanna en ook nog ander vroue wat nie by name genoem word nie (sien Lukas 24:10).

En dan hoor ons die engel se opdrag om haastig die blye boodskap na die dissipels te bring.

 

Uit hierdie woorde blyk dat die engele presies op die hoogte was van dit wat plaasgevind het.

Nie net die gebeure van die afgelope drie dae en Paassondag nie.

Ook was hulle presies op die hoogte van Jesus se onderwys aan sy dissipels, die afgelope drie jaar.

Hulle verwys daarna, amper verwytend, omdat as sy dissipels en die vroue dit onthou het, sou hulle nie nou so onkant gevang en verbaas gewees het nie.

 

Gemeente, al voel die engele ver van ons af, al is hulle onsigbaar die meeste van die tyd, tog blyk hieruit dat ons in dieselfde werklikheid leef.

Wat Christus op aarde verkondig het, dit was aan hulle geensins vreemd nie.

En waar die Evangelie vandag gebring word, in 2022, ook daarvan is hulle op die hoogte.

Ja hulle is daar om Christus se gemeente te beskerm, ook in ons tyd!

 

So die engele is op die hoogte van die groter prentjie wat besig was om te ontvou, God se asemrowende heilsplan.

Hulle was ook direk daarby betrokke.

Elke keer as God ‘n belangrike stap vorentoe sit in sy heilsplan, lees ons dat die engele daarby betrokke is.

Die engel Gabriël kondig die geboorte van die Messias vir Josef en Maria aan.

Die engele stuur die herders na Betlehem en sing: Ere aan God in die hoogste hemele.

In die woestyn het die engele vir Jesus gedien, nadat Hy die veldslag teen die satan gewen het (Matt 4:11).

In Getsemane troos ‘n engel vir Jesus.

En nou, op Paassondag, rol ‘n engel die klip weg voor die opening van die graf, en vorm hulle ‘n erewag as Jesus triomfantelik uitkom.

Die engele is aanwesig by die een na die ander heilsfeit.

Ook as Jesus opvaar na die hemel, is die engele daar (Matt 25:31, Hand 1:10).

En die dag as Christus terugkom, sal die engele met trompetgeklank Hom begelei.

Wat ‘n heerlike taak het die engele tog, gemeente!

Dit is om jaloers op te raak!

En om dan te dink dat hulle slegs diensknegte is, terwyl ons God se kinders is.

‘n Heerliker taak en posisie was vir ons weggelê, as ons nie in sonde geval het nie.

 

Nou voordat ons verder gaan, gemeente, moet ons net gou aan die volgende ook aandag bestee.

Dit het u miskien opgeval dat die vier evangeliste nie almal 100% dieselfde opgeskryf het oor die engele nie.

En dalk het u begin wonder: Is hier nie sprake van teenstrydighede nie?

Byvoorbeeld: Hoeveel engele was daar eintlik?

Mattheüs skryf oor een engel.

Markus skryf oor een jongman.

Maar Lukas praat oor twee manne in blink klere.

En Johannes noem ook twee engele.

Nou wie was reg, Lukas en Johannes met hulle twee, of Mattheüs en Markus met een engel?

Gemeente, die aantal is nie die enigste verskil nie.

Soos ons gesien het, gebruik sommige evangeliste die woord man, terwyl ander praat oor engel.

Ook wat betref hulle klere is die beskrywing nie 100% identies nie.

Wat wel so is, as mens lees wat al vier oor die klere skryf, is dit duidelik dat al vier – al is dit elkeen in sy eie woorde – tog oor dieselfde skryf.

Ooggetuies, al beskryf hulle dieselfde gebeurtenis, gebruik nie altyd dieselfde woorde nie.

En so moet ons ook die oënskynlike verskil in aantal begryp.

Sommige van die ooggetuies het gefokus op daardie een engel wat die woord gevoer het.

Ander van die ooggetuies het vertel dat daar meer as een engel was.

Al was die ooggetuies se gesigspunte verskillend, was hulle aanwesig by dieselfde gebeurtenis.

 

Gemeente, hierdie verskynsel vind ons nie net hier nie, maar meer dikwels in die evangelies, dat dit lyk of die vier evangeliste mekaar weerspreek.

As mens dit egter van naderby ondersoek, blyk telkens dat dit oor dieselfde gebeurtenisse gaan, wat verskillende ooggetuies met hulle eie woorde beskryf het.

En ook vandag, as daar byvoorbeeld ooggetuies in die hof moet getuig en beskryf wat hulle gesien het – byvoorbeeld ‘n misdaad – dan gebeur dit ook nie dat almal presies dieselfde woorde gebruik nie.

As dit die geval is – dat almal presies presies dieselfde sê – dan moet mens aflei dat hulle vooraf gekonkel het.

Normaal is egter dat ooggetuies dieselfde gebeurtenis beskryf, elkeen vanuit sy eie perspektief.

En so, as daar byvoorbeeld vier ooggetuies is, kry mens ‘n viervoudige bevestiging van dieselfde gebeurtenis, al is dit uit verskillende gesigspunte.

Dit is wat ons ook in die evangelies vind.

Op die getuienis van een persoon staan ‘n saak nog nie vas nie, sê die Here se Woord (1 Tim 5:19).

Maar wel op die getuienis van twee of drie.

In die Nuwe Testament vind ons ‘n viervoudige getuienis van die Evangelie!

 

Nou kom ons by die vraag: Wat leer ons uit hierdie verskyning, hierdie optrede van die engele?

Wel, gemeente, wat opvallend is, is die ooreenkoms tussen wat die engele gedoen het, en wat die opdrag aan die mense was om te doen.

Beide word naamlik ingespan om die boodskap te versprei.

Die engele is deur God uitgestuur om die tyding te bring.

Hulle was onmiddelik gehoorsaam, en het soos weerlig uit die hemel neergedaal.

Nou daardie selfde opdrag gee die engel vervolgens aan die vroue:

“gaan haastig, sê vir sy dissipels: Hy het opgestaan uit die dode ...” (Matt 28:7).

Boodskappers van die goeie tyding.

Dit was die engele, en daartoe word die vroue ook opgeroep.

En 40 dae later, net voor sy hemelvaart, beveel Jesus ook sy dissipels dieselfde.

“Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies ...” (Matt 28:19); en “julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en Samaria en tot aan die uiterste van die aarde.” (Hand 1:8)

 

In die gebed wat Jesus ons geleer het, bid ons:

“laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde”.

Met soos in die hemel verwys Jesus na die gewilligheid van die engele.

Die Kategismus skryf oor hierdie vierde bede: Gee dat ons en alle mense ons eie wil prysgee, om aan u wil, wat alleen goed is, sonder enige teëpratery gehoorsaam te wees, sodat elkeen sy amp en roeping net so gewillig en getrou kan uitvoer soos die engele in die hemel. (Sondag 49)

 

Op hierdie Paassondag is die engele aktief, om die blye tyding aan die mensheid te bring, en om hulle op te roep om hulle navolgers te wees:

Gaan haastig, gaan vertel aan die hele wêreld: Hy is nie hier in die graf nie, maar Hy het opgestaan!

In die Bybel word mense soms ook met die benaming engel aangespreek.

Dink aan Maleagi 3:1: “Kyk, Ek stuur my boodskapper – mens kan ook hier met engel vertaal – wat die weg voor My uit sal baan”.

Hierdie is ‘n profesie van Johannes die Doper.

God het hom na die aarde gestuur om die koms van die Messias aan te kondig.

Verder, in Openbaring, lees ons ook van mense wat engele genoem word.

In die briewe aan die sewe gemeentes, sê Christus elke keer:

“En skryf aan die engel van die gemeente ...” (bv. Openb 2:12), dit dui op die voorganger, die herder en leraar, van daardie gemeente.

Nie elkeen van ons is ‘n apostel, of ‘n predikant of sendeling nie.

Maar ons is almal ook engele, in die sin van gestuurdes.

Tereg sê die Kategismus: Laat elkeen van ons ons amp en roeping gewillig en getrou uitvoer net soos die engele in die hemel.

 

Ons vier Opstandingsondag vandag.

Ons hoor opnuut die blye evangelie.

Daarmee werk die Heilige Gees in ons harte blydskap en geloof.

Mag ook ons, net soos die engele, gehoorsaam wees.

Mag ons blitsvinnige voete hê, om die tyding tot aan die uiterste van die aarde te bring.

 

Ons staan as gelowiges in die amp van profeet, priester en koning.

Elke aspek van daardie amp het te make met die opstandingsevangelie.

Ons vervul ons roeping vanuit die blye wete dat dit wat ons in diens van Christus, ons opgestane Here doen, dat dit ewigheidswaarde het.

So doen ons op aarde wat die engele in die hemel doen.

Ons getuig met woord en daad van die opgestane Christus, die Vors van die lewe.

Danksy Paasfees is daar ook vir ons ‘n toekoms.

“Ek is die opstanding en die lewe; wie in My glo, sal lewe al het hy ook gesterwe” (Joh 11:25);

“wie in My glo, het die ewige lewe” (Joh 6:47).

 

Gemeente, laat ons die engele navolg.

Haastig en gewillig in diens van die opgestane Here.

Al is die engele hoe kragtig, ons aanbid hulle nie – daaroor is die Skrif baie duidelik.

Maar laat ons hulle navolg: haastig, gewillig, gehoorsaam, om die goeie tyding uit te dra.

En gemeente, dit is die mooiste, die grootste taak van die engele: om God in die hemel ewig te loof en te prys.

Ook daarin volg ons hulle na.

Hier al op aarde, en in die toekoms saam met hulle in die hemel.

Eendag gaan ons saam met al die engele Christus voor sy troon prys, soos ons in Openbaring lees, saam met die tienduisende van tienduisende en duisende van duisende engele gaan ons saam sing: “Die Lam wat geslag is, is waardig om te ontvang die krag en rykdom en wysheid en sterkte en eer en heerlikheid en lof.” (Openb 5:12)

 

Amen.

 

Vrae na aanleiding van die preek:

Skriflesing: Mattheüs 28:1-10; Lukas 24:1-12

Teks: Mattheüs 28:1-7

Om hierdie preek te verwerk en verder daaruit te leer, volg hier ‘n paar vrae. Die antwoord kan in die preek gevind word, en sommige vrae vereis ook persoonlike oordenking.

  1. Wat beteken die woord engel?
  2. Hoekom word die engele wat by die graf verskyn het, jongmanne genoem?
  3. Hoekom word mense in die Bybel soms ‘n engel genoem (bv. Mal 3:7 en Openb 2:12)?
  4. Noem ‘n voorbeeld hoe jy in jou lewe haastig en gewillig is in diens van die opgestane Here?
  5. Sien jy daarna uit om eendag die tienduisende der tienduisende engeleskare te sien?
  6. Wat kan ons doen om die erediens op Paassondag meer feestelik te maak? Dit is per slot van rekening een van die grootste kerklike feesdae.

 

Liturgie: 

Votum

Seën

Sb 8:3

Wet

Ps 81:1,10,11

Gebed

Skriflesing: Mattheüs 28:1-10

Sb 30:1,5,6

Skriflesing: Lukas 24:1-12

Sb 8:4,5

Teks: Mattheüs 28:1-7

Preek

Sb 29:1-5

Gebed

Kollekte

Ps 103:10,11

Seën