Die waarde van Christus se troonsbestyging

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Maranata
Date: 
2022-03-06
Text: 
Heidelbergse Kategismus Sondag 19
Preek Inhoud: 

Vroeër was Hemelvaartsdag ‘n amptelike vakansiedag in ons land.

Ek vra myself af hoeveel mense, selfs kerkmense, hierdie dag mis.

Natuurlik sal mense graag nog ‘n vakansiedag wil hê.

Maar as hulle hierdie Christelike feesdag werklik gemis het, sou hulle voortgaan om Christus se hemelvaart op hierdie dag te vier, byvoorbeeld met ‘n aanderediens.

Om ons heen weet ek egter van weinig tot geen kerke wat enigsins op Hemelvaart aan die heilsfeit aandag skenk nie.

Terwyl Christus se troonsbestyging op sy minste net so ‘n belangrike fees is as Kersfees of Paasfees.

 

In vandag se preek wil ek spesiaal aandag skenk aan wat die resultaat van Jesus se hemelvaart is.

Al is Hy nou op ‘n vir ons onsigbare plek en dimensie, watter effek het dit tot op vandag dat Hy na die hemel gegaan het?

 

Die preek bestaan uit twee dele.

Ons fokus veral op vrae 50 en 51.

 

Tema: Die waarde van Christus se troonsbestyging

 

1 Christus sit aan God se regterhand

2 Die waarde van Christus se heerlikheid

 

1 Christus sit aan God se regterhand

Om aan iemand se regterhand te sit, beteken om ‘n ereposisie te hê.

As jy iemand wil eer, laat jy hom aan jou regterhand loop of sit.

Hierdie etiket is in ons tyd nie meer so bekend nie, maar vroeër was dit baie algemeen.

Meestal het die onderkoning plaasgeneem aan die regterhand van die koning.

By onderkoning Josef was dit, kan ons aanneem, ook die geval.

Ons het enkele gedeeltes gelees uit die lewensgeskiedenis van Josef.

Dis ‘n vir ons bekende en baie boeiende biografie.

Josef is van die een op die ander dag gepromoveer van tronkbewoner tot onderkoning.

Nadat hy Farao se drome verklaar het, het sy voorstel instemming ontvang.

Sy plan was om goed voor te berei met die oog op die aanstaande hongersnood.

Farao was erg onder die indruk van hierdie man.

En hy gee aan Josef die posisie van onderkoning.

Hy het vir Josef gesê:

Jy moet oor my huis wees.

Na jou bevel moet die hele volk hulle skik.

Ek stel jou aan oor die hele land Egipte.

Toe het Farao sy seëlring van sy hand afgetrek en dit aan Josef se hand gesit.

So is hy verhoog tot onderkoning.

 

Die hemelvaart van Jesus vertoon eintlik baie ooreenkomste.

Jesus is ook verhoog in ‘n baie kort tyd.

Hy het uit die graf opgestaan, en veertig dae later het Hy opgevaar om in die hemel plaas te neem aan die regterhand van die Koning van hemel en aarde.

Maar in teenstelling tot Josef, vir wie die promosie totaal onverwags gekom het, het Jesus geweet dat hierdie eer aan Hom verleen sou word.

Hy het dit byvoorbeeld al voorspel toe Hy voor die Joodse Raad tereg gestaan het.

Hy het toe gesê: Maar Ek sê vir julle, van nou af sal julle die Seun van die mens sien, gesete aan die regterhand van die Mag en komende op die wolke van die hemel.

Die Joodse Raad het goed besef wat Jesus hiermee bedoel het, want die hoëpriester het sy klere geskeur as aanduiding van skok.

Hoe kan hierdie Man só vir God laster deur te beweer dat Hy langs Hom op die troon gaan plaasneem?

Maar teen alle menslike verwagtings in, het dit tog gebeur.

Christus is opgeneem in die hemel en het aan die regterhand van God gaan sit.

In Openbaring 7:17 staan:

Die Lam is in die middel van die troon.

Wat word hiermee bedoel?

Die Lam is ‘n metafoor vir Christus.

En in die middel van die troon verwys na die feit dat destyds trone in die Midde-Ooste nie uit ‘n enkele stoel bestaan het nie, maar iets soos ‘n platform, waarop daar plek was vir meer as een setel.

Hierdie beeld het die Here Jesus ook voor oë gehad, toe Hy in Openbaring 3:12 gesê het: “Aan hom wat oorwin, sal Ek gee om saam met My te sit op my troon, soos Ek ook oorwin het en saam met my Vader op sy troon gaan sit het.”

Christus gaan ons in die eer laat deel.

Christus is die Hoof, en ons is die liggaam.

As liggaam mag ons deel in die eer wat die Hoof het.

 

Christus is nie vir ons ‘n vreemde nie, al is Hy nou onsigbaar en in die hemel.

As Hoof en liggaam is ons baie nou aan mekaar verbonde.

As kerk vorm ons sy liggaam op aarde.

Dink vir ‘n oomblik weer terug aan die geskiedenis van Josef.

Dink net met hoeveel bewondering Benjamin opgekyk het, toe hy hoor dat Josef die onderkoning van Egipte geword het.

En dat Farao vir Josef gesê het:

Sonder jou toestemming mag niemand sy hand of voet in die hele Egipteland verroer nie.

Gemeente, Christus is, net soos Josef vir Benjamin was, ons groot Broer.

Aan Hom is gegee alle mag in hemel en op aarde.

Hy  sit aan die regterhand van God.

Die uitvoerende mag oor alles laat God die Vader aan Hom oor.

En sonder sy wil, die toestemming van ons Heiland, mag niemand op die hele aarde sy hand of voet verroer nie.

Soos dit gegaan het by Josef in Egipte, so gaan dit nou ook by die Here Jesus, maar net op veel groter skaal.

 

Gemeente, om saam te vat: Dit is dus wat bedoel word met die woorde uit die Apostoliese Geloofsbelydenis: Hy sit aan die regterhand van God.

Deur Hom regeer die Vader alles.

En soos Josef aan sy familie, so bestee Christus ekstra sorg aan sy kerk, omdat dit sy liggaam is.

Geliefdes, hierdie Evangelie is veral ‘n troos in onrustige tye.

Poetin kan sy hand of voet nie verroer sonder Christus se toestemming nie.

Hoe die geskiedenis gaan verloop, ook in Ukraïene, daarin het Christus die leiding.

Al is dit wat daar gebeur, die oorlogsmisdade, geensins sy skuld of wil nie.

En sonder sy wil kan niemand sy hand teen jou oplig nie.

En sonder sy wil kan jy ook nie jou eie hand roer of beweeg nie.

Dit is die konsekwensie van Jesus se posisie aan God se regterhand.

Dis maar dat ons dit besef.

Dit sal ons eerbiedig maak, dit sal ons bang maak om teen sy wil te oortree, dit sal ons bewus skuiling by Hom laat soek in tye van gevaar.

 

Dit bring ons by die tweede punt.

 

(Tema: Die waarde van Christus se troonsbestyging

1 Christus sit aan God se regterhand)

 

2 Die waarde van Christus se heerlikheid

 

Wat beteken dit vir jou dat Christus so ‘n hoë posisie het?

Dit word duideliker as ons nog ‘n keer die vergelyking met Josef maak.

Wat was die waarde, die nut, vir sy familie dat Josef onderkoning geword het?

Ek dink dat ons almal wel die antwoord op hierdie vraag ken.

As seun en broer het Josef die belange van sy familie op die hart gedra.

Hulle mog op sy besluit na Egipte kom.

Hulle het selfs die vrugbaarste deel van die land Egipte ontvang.

Hulle kon ongestoord hulle beroep as veeboere uitoefen.

Hulle het nie soos vlugtelinge in Egipte aangekom, wat geen regte gehad het, terwyl hulle ervaar dat die inwoners van die land hulle skeef aangekyk het nie.

Hulle het in die land aangekom as familie van die onderkoning.

Koning Farao het dit op prys gestel om die ou vader van Josef persoonlik te ontmoet.

En gemeente, dieselfde geld nou vir ons en vir Jesus Christus, ons groot Broer.

Op die troon dra Hy ons belange op die hart.

En wie is ons?

Ons is sy bruid, sy kerk.

As sy bruid het ons direkte toegang tot Hom.

 

Hierdie bevoorregte posisie van die kerk word in die Skrif telkens benadruk.

Neem byvoorbeeld Efesiërs 1, waar ons lees:

God “het alle dinge onder sy voete onderwerp en Hom as Hoof bo alle dinge aan die gemeente gegee, wat sy liggaam is, die volheid van Hom wat alles in almal vervul.” (Ef 1:22-23)

Hierdie wete maak ons baie bly, en gee ons baie vertroue.

Die feit dat Josef onderkoning van Egipte was, het vir sy familie ‘n groot gevoel van vertroue gegee.

Die feit dat Christus oor hemel en aarde regeer, gee vir ons ook ‘n groot gevoel van vertroue.

Hy dra ons belange op die hart.

Dink aan wat Hy beloof in Johannes 10: “Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal nooit verlore gaan tot in ewigheid nie, en niemand sal hulle uit my hand ruk nie.” (Joh 10:28)

Weet jy dat die Here Jesus dit ook vir jou sê?

In ewigheid sal niemand jou uit sy hand ruk nie!

In ewigheid sal Hy jou vashou!

 

Die Kategismus verwoord dit soos volg:

Hy beskerm en bewaar ons met sy mag teen alle vyande.

Dit is die waarde, die nut, van die hoë posisie van Christus.

Hy het die bevoegdheid, en Hy het die mag.

En soos Josef se familie destyds oorlaai is met geskenke, en die beste land vir hulle vee gekry het, so word ons ook oorlaai met geskenke.

Die Kategismus sê: Deur sy Heilige Gees stort Hy in ons, sy lede, die hemeles gawes uit.

Hierby is die Heilige Gees dus betrokke.

Die hemelse gawes bereik ons deur die Gees.

 

Hoe doen die Gees dit?

In die Bybel word die Heilige Gees met die wind vergelyk.

“Die wind waai waar hy wil, en jy hoor sy geluid, maar jy weet nie vanwaar hy kom en waarheen hy gaan nie. So is elkeen wat uit die Gees gebore is. “ – Johannes 3:8.

Dit is nie toevallig dat die werk van die Gees met die wind vergelyk word nie.

Die wind laat ’n boom heftig heen en weer beweeg.

As die wind heeltyd uit een rigting waai, begin die bome selfs skeef te staan.

Die krag van die wind veroorsaak dat alle bome skeef staan in dieselfde rigting.

Mens sien dit veral in die Kaap.

 

Net so werk dit met mense.

Ons sê soms:

Daar heers ’n gees van ontevredenheid onder die mense.

Of: Daar heers ’n gees van materialisme.

So begin, net soos die bome, daar skeefgroei plaasvind in mense se lewens.

Die lewensrigting van ’n mens word òf bepaal deur ’n bose gees, òf deur die Gees van God, die Heilige Gees.

Toe Jesus na die aarde gekom het, het die profesie in Jesaja 11 tot vervulling gekom:

“op Hom sal die Gees van die HERE rus, die Gees van wysheid en verstand, die Gees van raad en sterkte, die Gees van kennis en van die vrees van die HERE.” (Jes 11:2)

Dit is inderdaad vervul in die lewe van Jesus.

Hy is aangevuur deur die Gees van die HERE.

Sy lewensrigting en lewenswyse is bepaal deur die Gees.

Die duidelikste was dit toe Hy uit die dood opgestaan het.

Toe het so duidelik sigbaar geword dat Hy aangevuur is deur die lewendmakende Gees.

En wat so mooi is, toe Hy na die hemel opvaar, het Hy belowe dat hierdie selfde kragtige Gees ook op die gelowiges sou neerdaal.

Dit het gebeur, vanaf Pinksterdag.

Vanuit die hemel het Hy sy Heilige Gees uitgestort.

Deur hierdie kragtige Gees word ons lewens voortgedrywe.

Ons lewensrigting en lewenswyse word bepaal deur hierdie Gees.

Nie deur ‘n bose gees, of ‘n gees van ontevredenheid, of ‘n gees van materialisme, of watter ander gees ook al nie.

 

En so sorg die Heilige Gees vir eenheid in die kerk.

Net soos met ‘n sterk wind alle bome skeef in dieselfde rigting groei.

So bepaal die Gees die rigting van elkeen van ons se lewe, en dat ons saam as gemeente in dieselfde rigting beweeg.

Ons is nie meer slawe van die sonde nie.

Ons stry teen die kwaad.

Ons word nie voortgedryf deur ‘n gees van ontevredenheid, of materialisme, of angs, of watter ander gees ook al nie.

Ons word voortgedryf deur die Gees van Christus.

Dieselfde Gees wat Hom uit die dood opgewek het, is ook die lewendmakende Gees wat in ons werk.

 

Wat is dus die hemelse gawes, waaroor die Kategismus praat?

Die heel grootste een is die Heilige Gees.

En deur die Gees kom nog meer gawes ons rigting.

 

Byvoorbeeld, onderdeel van die gawe van die Gees is ook die gawe van die Bybel.

Die Bybel is ook ‘n hemelse gawe, wat ons deur die Gees ontvang.

Hy het gesorg dat die Bybelboeke tot stand gekom het.

Petrus wys daarop in sy tweede brief, as hy skryf:

“want geen profesie is ooit deur die wil van 'n mens voortgebring nie, maar, deur die Heilige Gees gedrywe, het die heilige mense van God gespreek. “ – 2 Petrus 1:21.

In die Bybel leer die Heilige Gees ons wie Christus is.

In die Bybel leer die Gees ons wat die doel van ons lewe is, en gee Hy ons die krag om in daardie rigting ons lewens te lei.

 

En dan is daar nog ‘n gawe, nog ‘n skenk, wat ons deur die Gees ontvang.

Dit is die geskenk van die kerk.

Ook dit is ‘n hemelse geskenk vanaf Christus se troon.

Dit is die Gees se werk dat daar in alle lande van die wêreld gemeentes van Christus is;

dat die lidmate ‘n eenheid vorm;

dat hulle die goeie stryd bly stry;

dat hulle in staat is om te volhard, ook in tye van teëspoed.

Hoe sterk winde daar ook deur die wêreld waai, tog is die Heilige Gees sterker.

Die kerk van Christus hou stand, ook al poog Satan om haar in alle rigtings uit te dryf met elke wind van dwaling.

Maar die Gees waai sterker en hou die kerk op koers.

Die kerk sal verbonde bly met haar Hoof.

Ook dit is ‘n hemelse gawe.

Ons kan daarom veilig voel in die kerk.

Hier bewaar Christus, hier gee Hy geborgenheid.

Hier waai die aangename bries van die Gees, wat vir ons gesond is in lewe en sterwe.

 

Ja ons kan ook getroos sterwe.

Want die Hoof van die kerk laat sy liggaam, geen enkele ledemaat van Hom, in die steek nie.

Wie sterf, word deur Hom opgeneem in die hemelse heerlikheid.

Dit is nog ‘n gesken.

Dit is, gemeente, die groot hemelse gawe wat ons nog te wagte staan.

Dat ons die volmaaktheid sal beërwe en saam met Hom op die troon sal sit.

 

En so kan ons aangaan.

Talle gawes, talle geskenke, wat ons vanaf die hemelse troon ontvang.

Dink ook aan die gawe van vergewing van sondes.

Elke dag bring die Gees ons daartoe om in Christus se Naam vergifnis te vra.

En as ons dit doen, ontang ons elke dag daardie gawe.

 

As ons nounou die Apostoliese Geloofsbelydenis gaan sing, gaan ons ook reëltjie sing: “opgevaar het na die hemel en sit aan die regterhand van God”.

‘n Kort sinnetjie met ‘n oorvloed aan betekenis, soos ons in vanaand se preek gehoor het.

Besef dit, as jy dit nounou gaan sing.

Leef met daardie besef: Daar is hemelse gawes en hemelse beskerming wat elke dag op jou lewe neerdaal.

 

Amen.

 

Vrae na aanleiding van die preek:

Skriflesing: Genesis 41:37-45 & 47:1-12

Teks: Preek nav Heidelbergse Kategismus Sondag 19 v/a 50-51

Om hierdie preek te verwerk en verder daaruit te leer, volg hier ‘n paar vrae. Die antwoord kan in die preek gevind word, en sommige vrae vereis ook persoonlike oordenking.

  1. Hoe moet ons dit voorstel dat Christus, en later ook ons, saam met God op die troon sal sit?
  2. Watter simboliese waarde het dit om aan iemand se regterhand te sit?
  3. As onderkoning het Josef goed vir sy familie in Egipte gesorg. Wie se familie is ons?
  4. Wat is die grootste geskenk wat ons as Christus se liggaam hier op aarde van Hom ontvang?
  5. Noem 3 geskenke wat ons deur die Gees ontvang.
  6. Kan mens dit sonde teen die Gees noem as jy ‘n geskenk van die Gees van die hand wys?

 

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 9:1,3,5

Gebed

Skriflesing: Genesis 41:37-45 & 47:1-12

Ps 110:1-5

Teks: Preek nav Heidelbergse Kategismus Sondag 19 v/a 50-51

Preek

Ps 2:5,6

Gebed

Apostoliese Geloofsbelydenis (sing)

Kollekte

Sb 27:3,4

Seën