‘n Mens kan nie op twee plekke op dieselfde tyd wees nie.
Soms kan mens skrik, as jy skielik iemand êrens sien waar jy hom nie verwag nie.
As jy byvoorbeeld op ‘n lughawe sit verweg oorsee, en skielik loop daar ‘n bekende voor jou verby, iemand wat jy nie daar verwag het nie.
Die feit dat jy skrik het te make met die feit dat ‘n mens nie op twee plekke tegelyk kan wees nie.
Maar nou die volgende vraag:
Geld dit ook vir die Here Jesus?
Kan Hy ook nie op meerdere plekke tegelyk wees nie?
Dit is waarna ons vanaand in die prediking gaan kyk.
Spesifiek v/a 47 en 48 vat die onderwys van die Skrif hieroor saam.
Tema: Die alomteenwoordigheid van ons Here Jesus Christus
Kort saamgevat staan daar die volgende in die Kategismus.
Jesus Christus is sowel God as mens.
As God is Hy alomteenwoordig.
As mens nie.
Sy menslike liggaam, sy verheerlikte liggaam wat uit die graf opgestaan het, is in die hemel en nie op aarde nie.
As mens is Jesus aan een plek gebonde.
As God nie.
Nou vra mens jouself af: Wat is so belangrik hieraan, aan die vraag of Christus op meer as een plek op dieselfde tyd kan wees?
Hoekom staan hierdie twee vrae in die Kategismus?
Net ‘n bietjie agtergrond:
In die tyd toe die Heidelbergse Kategismus geskryf is in 1563, was daar meningsverskil oor die alomteenwoordigheid van Christus.
Dit het veral met die nagmaal te make gehad.
Marten Luther het geleer dat wanneer ons nagmaal vier, Jesus liggaamlik daarby aanwesig is, in die brood en wyn.
Omdat Luther dit beweer het, het daaruit ook die oortuiging gekom dat die liggaam van Christus nie net in die hemel is nie, maar terselfdertyd ook hier op aarde kan wees.
Dit wil sê, Christus is nie net as God, maar ook as mens alomteenwoordig.
En dit is dus die rede hoekom hierdie twee vrae in die Kategismus staan.
Hulle is ‘n weerlegging van die opvatting van Luther en die Lutherane.
Toe, in die 16de eeu, was dit die vernaamste verskil tussen die Lutherane en die Gereformeerdes.
Vandag is daardie verskil in beginsel nog steeds daar, al het daar veel diepergaande verskille bygekom.
Die grootste deel van die Lutherse Kerk het naamlik liberaal geword.
Dit wil sê, die Bybel word nie meer beskou as histories betroubaar nie, as die Woord van God van begin tot end nie.
Hierdie verskil is ‘n veel groter kloof, wat vroeër nie daar was nie.
Byvoorbeeld in die 16de eeu het die Skrif vir die Lutherse Kerk die hoogste gesag gehad, en was normerend vir die alledaagse lewe.
Vandag is dit nie meer so in die meerderheid van Lutherse Kerke nie.
Wat dit betref het die kloof dus net groter geword.
Maar die eerlikheid gebied om te sê dat presies dieselfde by Gereformeerdes gebeur het.
Die meerderheid van Gereformeerde Kerke het ook liberaal geword.
Gelukkig is daar ook, sowel onder Lutherane as Gereformeerdes, diegene wat ortodoks gebly het, wat die Skrif nog steeds aanvaar as die enigste rigsnoer vir leer en lewe.
Maar goed, om terug te keer na die Kategismus.
Sondag 18 verdoesel nie die verskil oor die liggaamlike aanwesigheid van Christus by die nagmaal nie, al word dit ook nie uitvergroot tot ‘n onoorbrugbare kloof tussen Gereformeerdes en Lutherane nie.
Die Roomse mis word in die Kategismus ‘n afgodery genoem (Sondag 30), maar dit geld nie vir die Lutheraanse nagmaal nie.
Die Roomse leer van die sogenaamde transsubstansiasie hou in dat brood en wyn omgetower word in vleis en bloed.
Dit noem die Kategismus ‘n kettery.
Maar die Lutherane leer nie dieselfde nie.
Vir hulle is wat daar by die nagmaal gebeur nie towery, hocus pocus, nie.
Wat leer die Lutherane dan wel?
Hulle sê dat Christus se mensheid alomteenwoordig is, net soos sy Godheid.
Die menslike natuur van Christus kan dus op twee of meer plekke terselfdertyd wees.
As jy die brood eet en wyn drink, is Christus daarin teenwoordig.
Nie dat dit vleis en bloed geword het nie.
Maar, soos die Lutherane dit verwoord, die mensheid van Christus deurgloei die brood en wyn, soos ‘n stuk yster rooiwarm begin gloei, as dit verhit word.
Dit bly yster, maar as die hitte daarin kom, word dit rooiwarm.
Net so met die nagmaal, sê hulle.
Dit bly brood en wyn, tog is Christus liggaamlik daarin aanwesig.
Hy deurgloei die elemente van brood enw yn.
Nou wonder u miskien.
Hoekom maak die Lutherane so ‘n punt hiervan?
Hulle motivering is as volg.
Al ontken hulle die towery van die Roomse mis, tog beklemtoon hulle dat daar by die nagmaal ‘n wonder gebeur – naamlik dat Christus liggaamlik aanwesig is.
Die oomblik – so redeneer hulle – as jy sy liggaamlike afwesigheid ontken, dan gebeur daar geen wonder meer nie.
Die Lutherane veg daarvoor dat die wonder behoue moet bly.
Dit mag nie – soos hulle dit noem – net ‘n gedagtenismaaltyd word nie.
Wie van die nagmaal net ‘n herinneringsmaaltyd maak is, volgens Luther, ‘n ketter.
So het hy byvoorbeeld oor Zwingli gedink, die Switzerse reformator.
Na Luther en Zwingli het egter nog reformatore gekom, soos byvoorbeeld Calvyn en Melanchthon.
Hulle het die Skrif in diepte bestudeer oor hierdie vraagstuk en tot die konklusie gekom:
As mens al die Bybelse gegewens op ‘n rytjie sit, kan jy nie volhou dat Christus na sy mensheid alomteenwoordig is nie.
Neem byvoorbeeld Johannes 11:15.
Hier sê Jesus, nadat Lasarus gesterf het en Jesus die berig gehoor het:
Ek is bly, dat Ek nie in Bethanië was nie.
Hy was dus nie op twee plekke tegelyk nie.
Agteraf het duidelik geword hoekom Hy dit gesê het, omdat Hy vir Lasarus wou opwek uit die dood.
En in Mattheüs 28:6 staan dat die engel by die graf gesê het:
Jesus is nie hier nie.
Al het Hy uit die graf opgestaan met ‘n verheerlikte liggaam, was Hy nie daar nie.
Met sy menslike liggaam is Christus dus nie alomteenwoordig nie.
Die Bybel leer ons dat Christus met sy verheerlikte menslike liggaam nou in die hemel is.
As mens is Hy nie meer op die aarde nie.
Dus is Hy ook nie as mens by die nagmaal aanwesig nie.
Maar, dit beteken nie dat Hy afwesig is nie.
Want Hy is nie alleen mens nie, maar ook God.
As God is Hy wel alomteenwoordig.
Dit verduidelik Sondag 18.
Met sy Goddelike eienskappe – sy Godheid, majesteit, genade, verlaat Hy ons nooit nie.
En spesifiek, sy Gees bly altyd by ons.
Christus is teenwoordig met sy Gees.
Die Heilige Gees staan ook bekend as die Gees van Christus.
Christus is deur sy Heilige Gees aanwesig by die nagmaal.
Daarom is die nagmaal nie net ‘n gedagtenismaaltyd nie.
Natuurlik gedenk ons aan die nagmaalstafel, maar nie net nie.
Tydens die nagmaal word ons gevoed en versterk, juis omdat Christus deur sy Gees persoonlik aanwesig is.
Elkeen wat op katkisasie was, weet dat die Gees deur twee middele werk: deur die Woord en die sakramente.
Dus ook deur die nagmaal.
Dus in kort die antwoord: Christus is nie as mens aanwesig nie, maar wel as God, deur sy Gees.
Nou hoe ons dit konkreet moet voorstel, kan vir ons gevoel nog steeds vaag bly.
Hoe ontmoet ons Christus tydens die nagmaal?
In hierdie verband kan Artikel 35 van die Nederlandse Geloofsbelydenis ons help.
Laat ek ‘n hele gedeelte daaruit lees, u is welkom om in u Psalmboek saam te lees:
“So het God tot instandhouding van die liggaamlike en aardse lewe vir ons aardse en gewone brood voorsien; dit dien die lewe en behoort, soos die lewe self, aan almal. Maar om die geestelike en hemelse lewe wat die gelowiges besit, in stand te hou het Hy vir hulle 'n lewende brood gestuur wat uit die hemel neergedaal het, naamlik Jesus Christus; Hy voed en onderhou die geestelike lewe van die gelowiges wanneer Hy geëet, dit wil sê deur die geloof toegeëien en ontvang word. Om hierdie geestelike brood vir ons af te beeld het Christus aardse en sigbare brood as 'n teken van sy liggaam en wyn as teken van sy bloed ingestel. Hy gee ons daarmee dit te kenne: so waarlik as wat ons die sakrament ontvang en in ons hande hou en dit met ons mond eet en drink en dit daarna in die lewe hou, net so waarlik ontvang ons vir ons geestelike lewe in ons siele deur die geloof - die ware liggaam en die ware bloed van Christus, ons enigste Verlosser. Dit staan dus bo alle twyfel vas dat Jesus Christus nie tevergeefs sy sakramente vir ons voorgeskryf het nie; Hy doen immers in ons alles wat Hy vir ons in hierdie heilige tekens voor oë stel, al gaan dit ons verstand te bowe en is dit vir ons onbegryplik hoe dit gebeur, net soos die werk van die Heilige Gees ondeurgrondelik en onbegryplik is. Tog dwaal ons nie as ons sê dat wat deur ons geëet en gedrink word, die eie en natuurlike liggaam en die eie bloed van Christus is nie; maar die manier waarop ons dit nuttig, is nie met die mond nie maar met die Gees deur die geloof. Daarom, al bly Christus altyd aan die regterhand van sy Vader in die hemel sit, hou Hy tog nie op om ons deur die geloof aan Homself deel te laat hê nie. Hierdie feesmaal is 'n geestelike maaltyd waar Christus Homself met al sy weldade aan ons meedeel en waar Hy ons Homself en die verdienste van sy lyding en sterwe laat geniet. Hy voed, versterk en vertroos ons arme troostelose siel as ons sy liggaam eet en Hy verkwik en herstel dit as ons sy bloed drink.” (NGB art. 35)
Gemeente, ons het vandag die nagmaal gevier.
En in hierdie leerdiens het ons aandag bestee aan verskillende maniere waarop die nagmaal gevier word, en wat die motivering daaragter is.
Dit gaan terug op ‘n verskil van mening oor die alomteenwoordigheid van die Here Jesus.
‘n Mens kan nie terselfdertyd op twee plekke wees nie.
Ons het gesien dat dit ook vir die Here Jesus geld, wat sy menslike natuur betref.
Daarom is brood en wyn aan die nagmaal slegs tekens van sy liggaam en bloed.
Ons eet die liggaam van Christus nie letterlik nie, maar – soos die beeldspraak lui – met die mond van die geloof.
Tog is die Here Jesus nie afwesig nie.
Hy is aanwesig deur sy Gees.
Die nagmaal is ‘n wonder.
Christus is die Gasheer aan tafel.
Nou ten slotte, gemeente, nog die vraag.
Wat is die nut daarvan om al hierdie dinge te weet?
Hoekom moet ons weet wat God se alomteenwoordigheid inhou, en al hierdie dinge oor Christus se mensheid en Godheid?
Gemeente, daar word in ons gesekulariseerde samelewing gepraat oor Godsverduistering.
Mense sien nie meer vir God in hulle lewens nie.
Nou is daardie tipering nie korrek nie, mens sou eerder moet praat van mensverduistering.
Mense het hulle sig op God kwytgeraak.
Ons kan ook hierdeur beïnvloed word, dat ons nie meer vir God en dit wat Hy doen raaksien in die wêreld en ook nie in ons eie lewe nie.
Maar Sondag 18 help ons om weer ons blik skerp te kry, dat ons met geloofsoë weer helder kan sien.
Godsverduistering is in feite verduistering van jou eie verstand.
Maar die Skrif, soos in Sondag 18 saamgevat, verlig jou verstand, sodat jy kan glo.
En die sakramente versterk jou geloof.
Aan die nagmaal sien jy die brood en wyn, en dit laat jou dink aan Christus en sy versoeningsoffer.
Jy vier nagmaal met die besef dat Christus aanwesig is, dat Hy alles sien en hoor.
En versterk deur hierdie besef gaan ons huis toe en ‘n nuwe week in, met die besef dat Christus alles sien en hoor, dat sy Gees my voetstappe lei in die regte rigting.
So kry ons weer uitsig in die lewe, besef ons dat die lewe nie doelloos is nie, maar dat Christus se Gees ons na ‘n vaste doel lei, om die ewige lewe te beërwe, en dat niks in hierdie lewe toevallig gebeur nie.
En wat ook al gebeur, dat Hy ons sal dra en voed en alles gee om in hierdie lewe, in voor- en teëspoed, koers te hou, en die vrede van Christus se aanwesigheid te ervaar, ‘n vrede wat alle verstand te bowe gaan.
Amen.
Vrae na aanleiding van die preek:
Skriflesing: Mattheüs 28:1-10; Johannes 14:15-20, 16:5-15
Preek nav Heidelbergse Kategismus Sondag 18 v/a 47-48
Om hierdie preek te verwerk en uit elke aspek daarvan te leer, volg hier ‘n paar vrae. Die antwoord kan in die preek gevind word, en sommige vrae vereis ook persoonlike oordenking.
- Hoekom het v/a 47 en 48 ‘n plek gekry in die Heidelbergse Kategismus?
- Noem ‘n Bybelvers waaruit blyk dat Christus se opgestane nuwe liggaam nie alomteenwoordig is nie.
- Watter voorbeeld het Luther gebruik om te verduidelik dat Christus liggaamlik in die brood en wyn aanwesig is?
- Wat word met die uitdrukking ‘mond van die geloof’ bedoel?
- Hoe is Christus aanwesig tydens die nagmaal?
- Hoe het jy vandag se nagmaal ervaar?
Votum
Seën
Ps 148:1,2
Gebed
Nagmaalsformulier
Gebed (afgesluit met sing van Onse Vader)
Ps 148:3
Viering van die nagmaal
Skriflesing: Mattheüs 28:1-10; Johannes 14:15-20, 16:5-15
Ps 38:17
Lofverheffing & Gebed
Heidelbergse Kategismus Sondag 18
Preek
Ps 34:2,8
Gebed
Geloofsbelydenis van Nicea
Ps 31:5,12
Kollekte
Ps 73:12
Seën