Die feit dat mense sterf is deel van ons alledaagse bestaan.
Behalwe dalk vir ‘n begrafnisondernemer, raak ‘n mens nooit gewoond daaraan nie.
En selfs vir ‘n begrafnisondernemer is dit troumaties, as een van sy eie familielede of geliefdes te sterwe kom.
Veral nou in die Covid Pandemie-tyd word ons gekonfronteer met meer sterftes as normaal.
Dit is maar selde dat daar ‘n hele jaar verbygaan, sonder dat iemand in ons gemeentes te sterwe kom.
Daar is een maand van die nuwe jaar verby, en ons moes alreeds een van ons gemeentelede begrawe, en dieselfde geld ook vir ons buurgemeente Pretoria.
Die dood spaar ook nie gelowiges nie.
Hulle vorm deel van die aarde se sterftesyferstatistieke.
Die vernederende en verdrietige gebeurtenis staan ons almal te wagte.
Die Psalms berei ons daarop voor:
“Wie leef daar wat die dood nie eenmaal sal aanskou nie?” (Ps 89:17 ber)
Maar juis as gelowiges leef ons des te meer met die vraag:
Hoekom moet ons eintlik sterwe?
En ongelowiges vra juis vir ons hierdie vraag, met die nodige skeptisisme.
Julle wat in Christus glo, Hy wat glo opgestaan het uit die dood, watter verskil maak dit?
Julle sterf net soos ons.
En so gebeur dit dat gelowiges ook aanvegtinge het, en teen die dood opsien, veral as die dood onafwendbaar nader kom, soos wat ons ouer word.
Geen wonder dat die Kategismus hierdie vraag daarom ook nie omseil nie, maar op die man af vra:
“As Christus dan vir ons gesterf het, waarom moet ons ook nog sterwe?”
Oënskynlik is hier ‘n teenstrydigheid, wat juis ongelowiges ook raaksien.
Is dit ‘n swakplek in die leer van die Bybel?
Tema: Die geheim van die gelowige se dood
Gemeente, in hierdie preek fokus ek veral op v/a 42, maar wel in die konteks van die hele Sondag 16.
In v/a 42 word die leer van die Skrif oor hierdie vraag kortliks saamgevat.
Ek beklemtoon net weer, hierdie Kategismusantwoord is nie die mening, die teologie van die skrywer van die Kategismus, Ursinus, nie.
Dit is opvallend hoe die Kategismus sin vir sin, gedagte vir gedagte, uit die Bybel ontleen.
Dit geld ook vir hierdie antwoord.
As daar staan: “Ons dood is nie ‘n betaling vir ons sonde nie ...”, is dit ontleen aan wat spesifieke Bybeltekste ons leer.
Soos Markus 8:37, waar Jesus sê: “Of wat sal ‘n mens gee as losprys vir sy siel?”
Christus vra hier ‘n sogenaamde retoriese vraag.
Hy bedoel om te sê: Die mens kan niks maar ook niks gee as losprys vir sy siel nie!
Selfs die dood is nie genoeg straf om die skuld te betaal nie.
En verder lees ons in Psalm 49:8-10: “Niemand kan ooit ‘n broer loskoop nie; hy kan aan God sy losprys nie gee nie, want die losprys van hulle lewe is te kosbaar en vir ewig ontoereikend, dat hy vir ewig sou voortlewe, die vernietiging nie sou sien nie.”
Dus, selfs as jy bereid is om jou lewe op te offer, kan dit nie ‘n losprys wees om jouself of jou broer los te koop en die ewige lewe te gee nie.
Daarom, gaan die Psalm verder, tref die dood iedereen sonder onderskeid.
Wyse manne sterwe, dwase en onverstandiges net so.
‘n Goeie lewe, ‘n voorbeeldige lewe, ‘n lewe soveel moontlik volgens God se wil, sy gebooie, dit alles bied jou geen kans om aan die dood te ontsnap nie.
Nou hoekom noem die Kategismus dit, dat ons dood nie ‘n betaling is vir ons sonde, met verwysing na hierdie twee Bybeltekste?
Die rede is om duidelikheid te verskaf, veral in verband met ons gesprek met ongelowiges.
Dit is te simplisties om te redeneer: Hulle wat sondig lewe, sterwe; maar hulle wat nie sondig lewe nie, wat hulle bes doen om goed te lewe, sterf nie.
Ons word hier herinner aan die erns van die mens se sondeval, die omvang van ons skuld by God.
In die lig daarvan sal ook die mees vrome mens op aarde se lewe nie voldoende wees om die dood af te wend nie.
As dit die feite is, watter sin maak dit om te beweer dat jou dood, as gelowige, ‘n straf is met die doel om jou sondes af te betaal?
Dit maak nie sin om dit te sê nie, want jou dood sal verreweg nie voldoende wees nie.
Hierdie realiteit hou ons nederig, juis as gelowiges.
As jy met ‘n ongelowige praat, kan jy nie sê dat jou vroom lewe die verskil uitmaak tussen hoe God jou gaan behandel, teenoor hoe God ongelowiges gaan behandel nie.
Vergeleke met die ongelowiges staan jy as gelowige net so skuldig voor God.
Tog is daar ‘n verskil tussen jou as gelowige en ‘n ongelowige.
Die verskil is Christus.
Hy delg al jou skuld uit.
Hy staan Borg.
Wie aan Hom behoort, wie in sy Naam vergewig vra, ontvang kwytskelding, volledige vergifnis.
En dit is die rede hoekom ons saam met die Kategismus kan sê:
My dood is nie ‘n betaling vir my sonde nie.
Want my sonde is klaar betaal deur Christus.
God eis nie twee betalings, eers van Christus, en dan van ons nie.
Ek hoef nie meer sterf, soos ongelowiges, omdat my sondes gestraf moet word nie.
Hier kom dus die verskil in.
Hoewel sowel ‘n gelowige as ongelowige sterf, sterf hulle om ‘n ander rede.
Die ongelowige, wat die aanbod van versoening deur Christus se bloed verwerp, sterf as betaling op sy sondes, hy sterf die ewige dood.
Sy dood is ‘n liggaamlike en geestelike dood, laasgenoemde beteken dat hy in die hel kom.
Daarenteen sterf die gelowige vir ‘n ander rede.
Dit word in die tweede sin van v/a 42 duidelik gemaak.
Hier word twee redes gegee.
Eerstens, ons dood is slegs ‘n afsterwe van die sonde.
Ook hierdie antwoord hou ons nederig.
Al is al ons sondes deur Christus versoen, en dit nog vóór ons sterwe, tog is ons afsterwe noodsaaklik.
Ons sit naamlik nog met ‘n liggaam en siel wat die littekens van die sonde dra.
Ons sit nog met ons ou mens, soos die Bybel dit noem, wat nog nie heeltemal gedood is deur die nuwe mens, wat die Heilige Gees in ons werk nie.
Tot ons laaste lewensdag laat die ou mens steeds die begeerte na die sonde in ons hart opborrel.
En God sy dank, deur die werk van sy Gees onderdruk die nuwe mens al hoe meer hierdie sondige neigings van ons ou mens, en oorwin dit deur die goeie.
Maar feit bly dat die onrein fontein van sondebegeerte in ons hart aanwesig bly, solank as ons in hierdie ou lewe is.
Maar, en dit is die goeie nuus, hieraan kom ‘n einde met ons sterwe.
In hierdie sin kan ons sê dat ‘n gelowige se afsterwe vir hom wins is.
Dit is vooruitgang.
In hierdie lewe het hy alreeds die vreugde gesmaak van onvoorwaardelike skuldvergewing deur Christus.
Na sy sterwe beleef die gelowige nou ook dat hy vergoed die sonde agter hom laat.
Paulus vat dit mooi saam met die woorde:
“Want vir my is die lewe Christus en die sterwe wins.” (Fil 1:21)
Vir die ongelowige is die sterwe agteruitgang, hy val in die ewige vuur van die hel.
Vir die gelowige is die sterwe wins, vooruitgang.
Hy laat vergoed die sonde agter hom, en gaan die ewige lewe binne.
Dit is die tweede rede hoekom ‘n gelowige sterf.
Al ervaar hy reeds in hierdie lewe ‘n vrede wat alle verstand te bowe gaan (dink aan Filippense 4:7), gaan hy met sy sterwe oor tot ‘n nog groter vrede en vreugde.
Hy beërf die ewige lewe.
Voortaan rus hy vergoed van sy sondes en sy sondige aard.
Dit het hy agter hom gelaat.
Die liggaam met die littekens van die sonde, lê in die graf.
En die dag as dit opstaan, sal dit sonder daardie littekens opstaan, ‘n herskape, ‘n verheerlikte liggaam.
Paulus roep in Romeine 7 uit: “Ek, ellendige mens! Wie sal my verlos van die liggaam van hierdie dood?” (Rom 7:24)
En direk daarna roep hy: “Ek dank God deur Jesus Christus, onse Here!” (Rom 7:25)
Dit is die antwoord op sy vraag.
Jesus Christus sal hom verlos van die liggaam van hierdie dood!
Is dit nie iets om na uit te sien nie?
Dat met jou sterfdag ‘n toekoms begin, ‘n nuwe periode begin waarin jy nie meer sal wil sondig nie, nie meer sal hoef te stry teen wat verkeerd is nie, nie meer agtervolg sal word deur dit wat jy verkeerd gedoen of gesê het nie ...
Dit is dus, gemeente, die twee redes wat die Kategismus gee, hoekom ook gelowiges sterwe.
Een: Jy laat die sonde agter jou.
Twee: Jy beweeg in die ewige vreugde van die ewige lewe in.
En ook vir hierdie twee redes wat die Kategismus gee, geld dat die skrywer dit nie self uitgedink het nie, maar dat hy Skrifgetuienis daarvoor het.
In Filippense 1:23 skryf Paulus: “Want ek word van weerskante gedring: ek het verlange om heen te gaan en met Christus te wees, want dit is verreweg die beste”.
Hieruit spreek duidelik die besef dat die sterwe vir ‘n gelowige ‘n stap vooruit is.
Sterwe is vir ‘n gelowige nie agteruitgang nie, maar vooruitgang.
Dit is wat die Here ons leer in sy Woord.
Die implikasie hiervan is dat ‘n gelowige anders na sy sterfdag kyk.
Waar ‘n ongelowige sy sterfdag miskien veral probeer uitstel, omdat alle genot hierdie kant van die dood is, en dit daarna ophou, weet ‘n gelowige beter.
Natuurlik kan ‘n gelowige gemengde gevoelens hê.
Dit het Paulus ook gehad.
Nadat hy geskryf het dat dit verreweg die beste is om heen te gaan en met Christus te wees, vervolg hy: “maar om in die vlees te bly, is nodiger om julle ontwil.” (Fil 1:24)
Paulus was baie lief vir die gemeente in Filippi.
Hy sou graag langer wou lewe, juis om daar vir hulle te wees.
Baie gelowiges kan hierdie gevoel beaam.
Al verlang ons baie om met Christus te wees, sien ons ook geweldig daarteen op om afskeid te neem van ons geliefdes, dalk ons kinders, ons man of vrou, ons kleinkinders, ons vriende en familie, noem maar op.
Dit maak dat ons sterfdag nog steeds ‘n droewige dag is, vir onsself en veral vir die wat agterbly.
Tog verdrink ons nie in ons verdriet nie.
Want daarbo uit styg die wete dat ons sterwe wel wins is.
Dat om met Christus te wees tog verreweg die beste is.
En dat afskeid nie finaal is nie, omdat Christus hulle wat aan Hom behoort, ook eendag by Hom sal neem, en dat ons dus mag uitsien na ‘n dag van hereniging met ons geliefdes.
Daarom is die begrafnis van ‘n gelowige ook ‘n dag waarop ‘n dankgebed, en ‘n danklied kan klink – moet klink.
Om eerlik te wees, by al die gelowiges wat ek al begrawe het, het ek nog nie een keer meegemaak dat die troosdiens geëindig het met ‘n klaaglied nie.
Ja, daar is klaagliedere, klaagpsalms, in ‘n troosdiens.
Maar telkens sluit dit af met ‘n danklied, selfs ‘n loflied.
Psalm 116, of 150, of Sb 24, is liedere wat dikwels aan die einde van ‘n troosdiens gesing word.
Wat ‘n voorreg, wat ‘n rykdom, om ‘n begrafnis so af te sluit, met die besef dat dit uiteindelik die allerbeste is om met Christus te wees.
En dan, ook vir die feit dat die dood ‘n deurgang, ‘n oorgang is, is daar Skrifbewys.
In Johannes 11 lees ons die geskiedenis van Lasarus, een van Jesus se beste vriende.
Hy het siek geword en gesterf.
Sy suster Martha het ook in Jesus geglo, en het haar geloof bely deur te sê: “Ek weet dat hy sal opstaan in die opstanding in die laaste dag.” (Joh 11:24)
Maar Jesus antwoord dan vir haar en voeg die volgende toe: “Ek is die opstanding en die lewe; wie in My glo, sal lewe al het hy ook gesterwe, en elkeen wat lewe en in My glo, sal nooit sterwe tot in ewigheid nie.” (Joh 11:25-26)
Uit hierdie woorde van Jesus leer ons dat elkeen wat in Hom glo, nie meer die dood in eintlike sin sal meemaak nie, maar by sy afsterwe sal meemaak dat hy oorgaan tot ‘n nuwe vorm van lewe.
Dit is ook nie iets wat eers in die verre toekoms sal gebeur nie, maar dadelik.
Dink ook aan Jesus se woorde aan die misdadiger langs Hom aan die kruis:
“Voorwaar Ek sê vir jou, vandag sal jy saam met My in die Paradys wees.” (Luk 23:43)
En dan kan ons ook nog dink aan die pragtige woorde in 2 Korinthiërs 5:1:
“Want ons weet dat as ons aardse tentwoning afgebreek word, ons ’n gebou het van God, ’n huis nie met hande gemaak nie, ewig, in die hemele.”
Om dit te besef, bring vreugde.
Ons kan dan selfs verlang na die dood, soos Paulus wat hierdie geskryf het, ook verlang het.
En in my bediening het ek al verskillende mense ontmoet wat, as hulle op hulle sterfbed lê, na hierdie verhuising verlang het.
Soos ek aan die begin genoem het, fokus ek in hierdie preek veral op v/a 42.
Hierdie v/a staan natuurlik heeltemal in die konteks van die ander vrae in Sondag 16.
Die feit dat dit noodsaaklik was dat Christus moes sterf.
Dat Hy self daarvoor gekies het.
Dat Hy bereid was om aan God se geregtigheidseis te voldoen.
Dat Hy bereid was om daardeur die offer te bring, die enigste offer wat vir ons sondes kon betaal.
Vervolgens die feit dat Hy begrawe is.
Dit was bewys dat Hy werklik gesterf het.
Dit was ook sy laaste vernedering.
Ook hierin was Hy solidêr met ons, die feit dat sondige mense se liggame begrawe word en ontbind.
Maar Hy is daarna opgewek uit die dood, as bewys dat die liggaamlike ontbinding nie die laaste is wat met ons liggame gebeur nie.
En dan, vervolgens, na v/a 42, gaan die Kategismus verder deur te verduidelik dat Christus se soenverdienste aan die kruis nie net betekenis het vir ons toekoms na die dood nie.
Dis nie net toekomsmusiek nie.
Maar daaruit kry ons die krag om al in hierdie lewe ons ou mens dood te maak, sodat ons lewe al hoe meer ‘n dankoffer is vir die Here.
Ook skenk Sondag 16 aandag aan die feit dat Christus neergedaal het na die hel, wat dit beteken.
So het Hy ons van die helse angs en pyn verlos.
Dit geld vir nou al in die hede, dit geld des te meer op ons sterfdag.
Broer en susters, jy wat nog in hierdie lewe is.
Voor jou het daar al talle en talle mense met hierdie troos in Christus gesterf.
Toe die Kategismus geskryf is, in die 16de eeu, amper 500 jaar gelede, was dit vir hulle die enigste troos in lewe en in sterwe.
En toe die Apostoliese Geloofsbelydenis tot stand gekom het in die vroeë eeue na Christus – die Kategismus behandel hier per slot van rekening die artikels van die Geloofsbelydenis – toe, in die tyd van die vroeë kerk, was dit ook al hulle enigste troos.
Eeu in eeu uit bly hierdie heilsfeite oor Christus se plaasvervangende dood mense houvas gee, hulle hele lewe, en tot en met hulle sterfdag.
Ook vir ons wat in die lewe agterbly, troos dit ons as ons by ‘n oop graf staan.
Hierdie liggaam wat ons begrawe is van ‘n mens wat aan Christus behoort het, en wat daarom – al het hy of sy ‘n sondige lewe gelei – tog nou ewige vreugde beleef.
Dit is die geheim van die gelowige se dood.
‘n Geheim wat met ons menseoog onsigbaar is.
Maar met ons geloofsoog wel sigbaar.
Christus het die geheim van die gelowige se dood openbaar.
In Christus is ons dood nie meer ‘n misterie nie.
Dit is ‘n deurgang tot die ewige lewe!
Broer, suster, julle het met hierdie heilsfeite grootgeword.
Van jou kinderjare af is jy al bekend met die Apostoliese Geloofsbelydenis.
En op katkisasie het jy hierdie vrae en antwoorde van die Kategismus uit jou kop geleer.
Maar het jy dit al jou eie gemaak?
Het jy dit al toegeëien?
Dit wil sê, het jy al vir jouself gesê: Hierdie boodskap geld ook vir my?
Nie omdat ek beter as ander is nie, maar omdat Christus in my lewe gekom het.
Daarom wil ek die preek afsluit met die oproep:
Moenie hierdie preek net vir kennisgewing aanneem nie.
Laat dit in die wese van jou lewe deurdring.
Moenie die gedagte aan die dood uit angs net verdring, en uitstel om daaroor na te dink nie.
Maar sê vir jouself: As ek môre te sterwe kom, geld hierdie preek se boodskap ook vir my!
En laat daardie wete jou dankbaar maak.
Laat dit elke dag wat jou lewe nog voortgaan, tot ‘n dankoffer maak.
Amen.
Vrae na aanleiding van die preek:
Skriflesing: Filippense 1:1-26
Teks: Nav Heidelbergse Kategismus Sondag 16
Om hierdie preek te verwerk en uit elke aspek daarvan te leer, volg hier ‘n paar vrae. Die antwoord kan in die preek gevind word, en sommige vrae vereis ook persoonlike oordenking.
- Watter redes gee Sondag 16 hoekom gelowiges nog moet sterf?
- Wat is die verskil tussen ‘n gelowige en ‘n ongelowige se afsterwe?
- Watter boodskap spreek daar uit die feit dat Paulus ons aardse lewe ‘n tentwoning noem?
- Wanneer laas het jy ‘n troosdiens bygewoon? Met watter lied het daardie troosdiens afgesluit?
- Noem ‘n gelowige in die Bybel wat uitgesien het na sy / haar dood.
- Ken jy persoonlik iemand wat uitgesien het na sy of haar dood?
Votum
Seën
Ps 89:17
Gebed
Skriflesing: Filippense 1:1-26
Ps 49:1,3,5
Teks: Nav Heidelbergse Kategismus Sondag 16
Preek
Sb 24:7
Gebed
Apostoliese Geloofsbelydenis (sing)
Kollekte
Ps 16:2,4,5
Seën