Gemeente van ons Here Jesus Christus. Broers en susters, seuns en dogters,
Dit gebeur soms dat mense wat uit ‘n lewensgevaarlike situasie gered word, heel onverstaanbaar daarop reageer. Veral as hulle uiteindelik geen letsel daarvan oorhou nie. Dit lyk dan of hulle die gevaar waaraan hulle ontkom het, geheel en al onderskat. Hulle houding is dan: Moenie julle so bekommer nie. Terwyl die aanskouers nog steeds die ene bewerasie is oor die gebeure, sê hulle dan: "Moenie so oordrewe reageer nie. Dit was regtig nie so erg nie”. Vir diegene wat aktief in die reddingsaksie betrokke was, is dit ook nie aangenaam om hierdie tipe reaksie te hoor nie. Want in feite word die reddingsaksie dan nie op waarde geskat nie. Dit sou oordrewe voorstelling wees.
As gelowiges leef ons ook in ‘n situasie dat ons gered is. Ons het ternouernood aan die kloue van die dood ontkom. En ons moet erken, dat ons ook dikwels net so 'n onverstaanbare reaksie toon soos wat ons nou net geskets het. Nee, ons sê nie aan die Here: "Ons situasie was darem nie so erg nie. Ons verstaan glad nie hoekom U so oordrewe reageer nie." Nee, ons sal dit nooit so sê nie. Maar ons dade toon dit soms wel. Want wat sou die Here dink ons ongeërgde manier van lewe, nadat Hy ons gered het?
Gestel jy sou met gevaar vir eie lewe ‘n kind uit ‘n moeras red. Wat sou jy daarvan dink as dieselfde kind oomblikke later weer op daardie plek speel? Jy sal vererg daarop reageer. Want selfs ‘n kind moet tog kan besef dat jy hom nie sonder goeie rede daar weggehaal het nie.
Maar nou is dit ons beurt. De Here het ons verlos uit die mag van die sonde. Hy het ons gered uit die lewensgevaarlike moeras. Ons kon maklik daarin verdrink het. Ons sondes sou ons kon oorspoel en ons ondergang kon bewerk. Maar God trek ons weg uit hierdie moeras. Hy maak ons los van ons sondes. Maar hoe reageer ons dan daarop? Sal ons die moeras beslis vermy of keer ons stadig daarna terug?
Ons moet weet: De Here is geen Redder wat ons eers red van die dood en daarna alleen los nie. Hy red ons nie van die dood om daarna stil-stil uit ons lewe te verdwyn nie. Nee, ons Reddder vertel ons ook hoe gevaarlik die moeras van die sonde is. En hoe ons voortaan veilig binne die vaste grond van die verbond kan lewe. En omdat Hy ons Redder is, daarom het sy Woord alles met ons lewe te make. Ons lewe is nou verbonde met die Woord van die Here, ook soos dit in die vorm van gebooie tot ons kom. Ons gehoorsaamheid daaraan lei daartoe dat ons weer voluit van die lewe mag geniet. Ek gebruik met opset die woord “geniet”. Want ons mag glo dat dit die bedoeling van ons Redder is. Want as ons 'n nuwe lewe ontvang, is dit ook werklik nuut. Ons ou lewe word nie slegs herstel en hier en daar weer oorgeverf nie. Ons hele lewe word radikaal anders. Dit word geheel vernuwe. En omdat ons verhouding met God weer goed is, het dit ook gevolge vir ons verhouding met ons naaste.
Dit gaan vanmôre oor drie geskenke. Ons ontvang in ons lewe:
1. ‘n Nuwe rigting: gered uit die moeras en op pad rigting de Here
2. ‘n Nuwe verhouding: ons kan maar vrymoedig spreek met God deur ons gebed
3. ‘n Nuwe gemeenskap: ‘n lewe vol liefde vir God en mekaar
1. ‘n Nuwe rigting: gered uit die moeras en op pad rigting de Here
Broeders en susters, seuns en dogters. As Johannes in vers 18 ons oproep om lief te hê, raak dit ons dan werklik ook persoonlik? Of maak ons dit slegs van toepassing op ander, wat volgens ons eie oordeel hierin minder goed presteer as onsself? Dit is egter opvallend dat Johannes homself ook hierby insluit. Hy sê immers "Laat ons liefhê". Daarby moet ons die oproep ook lees teen die agtergrond van 'n voorafgaande teks gedeelte. In 1 Johannes 3:14b lees ons: "Hy wat sy broeder nie liefhet nie, bly in die dood." Uit onsself bevind ons ons in die dood. Ons lewe lei uiteindelik tot die dood. So ‘n lewe sink stadig weg in die moeras en ons verstik in die dood. Dit alles solank die liefhê waartoe Johannes ons oproep in ons lewens ontbreek.
Liefde is in ‘n lewe sonder Christus natuurlijk nie geheel uitgesluit nie. Ook die wêreld om ons heen ken liefde. Maar helaas is daardie liefde nie ‘n belangelose offer waarvoor ons geen teenprestasie verwag nie. Dit is eerder ‘n tipe belegging wat vir jou ‘n opbrengs moet terug verdien. Dit is geen suiwer liefde meer nie, al word dit wel so genoem.
Johannes moet dus wel iets meer sê oor sy oproep om lief te hê. Anders sou almal daarmee kan instem sonder om te besef wat die implikasies daarvan is. Daarom sê Johannes: "...elkeen wat die geregtigheid nie doen nie, is nie uit God nie. Ons moet waarlik liefhê, nie slegs met woorde nie, maar ook met die daad.” Johannes se bedoeling is nie dat jy slegs moet sê wat jy ook regtig bedoel nie. Immers, niemand sê in sy hart: "Kom, laat ek iets vriendelik doen alhoewel ek dit nie werklik bedoel nie." Nee, Johannes bedoel dat ons nie onsself moet bedrieg nie. Liefde mag nooit slegs 'n uiterlike saak wees, waarmee jy uiteindelik slegs jouself dien nie. Slegs as jou hart vervul is met liefde, dan is jy seker dat jou dade ook “uit liefde” plaasvind. Want liefde is nie slegs 'n vriendelike woord nie. Of om iemand met empatie te benader nie. Nee, dit is ook ‘n ingesteldheid om iemand te kan tereg wys; of om iemand te kan vertroos. Dit is om iemand te help, sowel as om vir iemand te bid. Liefde beoog altyd vir 100% die ware welsyn van die naaste. Liefde plaas jouself langs jou naaste, om saam met hom voor die aangesig van die Here te verskyn en om dan saam van die Here die nodige te ontvang.
En dan, as sulke liefde in jou lewe aanwesig is, dan kom jy tot 'n verbasingwekkende ontdekking. Dit is iets wat ons lankal al gehoor het, naamlik dat ons deur die geloof aan die kant van God staan. Maar nou kan mens dit ook werklik waarneem. Uit die dinge wat jy sê, en uit die dinge wat jy doen, kan jy agterkom dat jy aan God se kant staan. Want op die manier waarop jy omgee vir jou naaste, kan jy bemerk dat jy aan God verbonde is.
Die Here het ons vanaf die moeras van ons sonde verplaas na vaste grond. Om dan te wil terugkeer na die moeras, sê iets van ons geringe inskatting van God se reddingswerk in ons. Maar omgekeerd, as ons ons afkeer van die moeras, en ons instem met God se reëls wat beoog om ons op vaste en veilige grond te bewaar, sê dit baie oor ons verhouding met die Here. In 1Joh3v8 lees ons eers die teenoorgestelde: "Hy wat die sonde doen, is uit die duiwel.." Andersins lees ons in 1Joh3v18-19: "laat ons nie liefhê met woorde (alleen) nie, maar met die daad en in waarheid..”. Dan is jy verbonde met die bron van waarheid, naamlik God self. Jy kom dan voort uit Hom, en jy is Sy kind. Dan is jy “uit God gebore” (1Joh3v9).
Is dit nie besonder, brs en srs, dat dit wat van God afkomstig is, dit wat uit God gebore is, nie slegs teorie bly nie? Want teorie is iets waarin jy slegs kan glo. Iets wat ‘n sertifikaat van egtheid vereis. Soos ‘n amptelike dokument met die handtekeninge van jou predikant en van jou wyksouderling wat bevestig dat jy ‘n gelowige gemeentelid is. Maar ‘n lewe wat uit God gebore is, is nie ‘n gewone lewe versier met ‘n skoon sertifikaat nie. Nee, di’s ‘n lewe wat sigbaar aan God verbonde is. Deur lief te hê verander jou lewe regtig waarneembaar.
Maar nou kom ons by die praktyk. Kan ons by onsself hierdie verandering waarneem? Ja, ons is vanselfsprekend vriendelik teenoor dié wat ons van hou. Maar teenoor mense wat ons minder van hou, stel ons ons eerder hoflik op. Maar is dit werklik onbaatsugtige en belangelose liefde? In watter mate spreek dit van ware liefde? Maar sien jy, brs en srs, dat hierdie gedagtes slegs onsekerheid by ons veroorsaak. Jy gaan dalk vra: het ek self wel 'n goeie band met die Here? Want in die geval van 'n goeie band met die Here sou ons lewe tog heel anders moes wees?! Dan sou ek mos geen probleem meer ondervind met daardie een sonde wat my steeds bly agtervolg nie. Dan sou ek nooit meer onvriendelik wees nie. En ek sou altyd met vreugde kerk toe gaan. Ek sou altyd behulpsaam wees, selfs al sou ek geen voordeel daaruit put nie. Maar ek sien veels te min daarvan in my lewe. Het ek wel so 'n goeie band met die Here? Dit is ‘n reële vraag. Dis ons hart, ons gewete wat ons aankla.
Maar dan maak Johannes duidelik dat ons ons nie moet laat lei deur ons hart en ons gevoel nie. Want ons hart is net so sondig as onsself. En hoe sou so 'n sondige hart ooit in staat wees om ons toestand na regte te beoordeel? Ons gewete is inderdaad ‘n besondere gawe. Maar ons gewete moet hom wel onderwerp aan Diegene, wat ons uit die dood gegryp en aan ons die lewe gegee het. Daarom sê Johannes: "God is groter as ons hart en Hy weet alles" As ons hart ons aankla met: Jy voldoen te min aan dit wat vereis word. Of jou hart sê: Daar is maar min getuienis dat jy aan die kant van God staan. Dan sê die Here: “Dit is waar, jou goeie werke staan nog slegs aan die begin. Maar ek let nie op die optelsom van jou goeie werke nie. Ek kyk na die rigting van jou lewe. Is jou pad gerig terug na die moeras toe, of lei jou weg na my toe?” Miskien staan jy nog maar heel aan die begin van daardie weg en dink jy self ook dat baie ander gelowiges al baie verder daarop gevorder het as jyself. Maar de Here sê: “Ek weet watter gedagtes binne in jou leef. Watter lewensrigting jy koester. En Ek sien ook of daar voortuitgang is.” Want dit is noodsaaklik. Daarom doen ons teks die oproep: "Laat ons liefhê." So ‘n oproep sou onnodig wees, indien ons almal reeds die kuns sou bemeester het. Maar Johannes wil ons in beweging bring. In die rigting na God toe, wat reeds sy liefde bewys het deurdat Hy Sy Seun na ons toe gestuur het. Om ons te red uit die moeras van die dood. Daarom, laat ons antwoord daarop duidelik aantoon dat ons in die regte rigting beweeg. Laat ons liefhê omdat God ons eerste liefgehad het.
Drie geskenke. Ons ontvang in ons lewe:
1. ‘n Nuwe rigting: gered uit die moeras en op pad rigting de Here
2. ‘n Nuwe verhouding: ons kan maar vrymoedig spreek met God deur ons gebed
Brs en susters, seuns en dogters. "As ons hart ons nie aanklaag nie, dan kan ons ons met volle vertroue tot God wend." Maar eers moet ons daardie hartsingesteldheid, wat ons aanvanklik die moeras ingedryf het, die swye oplê. Want daardie ou hart was juis daarop gerig om ons pad op die nuwe lewe vir ons te ontmoedig. Dit was daarop gerig om ons te oortuig dat ons nog te min op die pad van die liefde gevorder het. Johannes wil daarom nie ontken dat daar nog steeds baie sondes aanwesig is nie. Maar hy wil wel ontken dat die sonde uiteindelik die oorhand sal kry. Want Christus het oorwin. En dit beteken dat sondaars soos ek en julle weer voor God mag verskyn.
Maar ons ou hart moet dan eers wel die swye opgelê word. Dit mag natuurlik nie ons bedoeling wees om slegs ons gewete te probeer sus nie. Dat ons onsself probeer oortuig dat dit nie so erg is as ons God by tye buite spel plaas nie.
Maar as ons ons ou hart die swye oplê deur te let op daardie dinge wat die Here vir ons gedoen het, dan groei ons vrymoedigheid. Omdat ons dan glo, wat die Here aan ons gesê het. Hy het Sy lewe vir my gegee. Sy liefde was voluit op my lewe gerig. En as ons met so ‘n geloof tot God nader, dan hoef ons nie te vrees nie. En dan hoef ons ook nie slegs te dink aan later nie. Aan die laaste oordeel nie. Johannes het ook ons hedendaagse lewe op die oog. Daarom kan ons reeds vandag sonder vrees tot God nader. Johannes verwys dan na die gebed. Dit is die middel wat God ons gegee het om te kan nader tot Sy troon.
Oor die algemeen staan ons te min stil by die wonder dat ons nou reeds in God’s huis mag vertoef terwyl ons steeds besmet is met die vuil en modder van die moeras. Die geur wat ons versprei is allermins aangenaam. Eintlik stink ons en modderspore mag maklik die heilige grond besmet. En tog wil die Here ons hier ontvang. Ons mag vrymoedig en vol vertroue staan teenoor God. En Hy gee ons alles wat ons van Hom vra in ons gebed.
In die verband sal ons onmiddellik dink aan baie dinge waarvoor ons wel gevra het, maar nie ontvang het nie. Is dit wel tereg dat Johannes so sterk benadruk dat ons alles ontvang wat ons vra? Dit bots immers met ons praktiese ervaring?
Maar dan moet ons wel let op die rede wat Johannes vermeld. Waarom ontvang ons volgens Johannes alles? Omdat (1Joh3v22): “ons sy gebooie bewaar en doen wat welgevallig is voor Hom”. Ons mag dan vinnig dink aan allerhande gebooie (reëls) waaraan ons moet voldoen as voorwaarde vir gebedsverhoring. Maar dit is beslis nie die bedoeling nie. Die reëls wat die Here ons gee het betrekking op die nuwe lewe wat ons van Hom ontvang. Hierdie reëls geld eers na ons redding. Hierdie reëls het geen ander doel as om ons nuwe lewe op veilige en vaste grond te plaas nie. As ons ons aan hierdie reëls hou, dan sê dit alles oor die waarde wat ons heg aan ons redding. As ons ons “hou aan die verkeersreëls van die Verbond” dan bevestig dit hoe belangrik ons ons verbonds-verhouding met die Here inskat. En wat die Here wil verhoed is dat ons, terwyl ons veilig lewe in die verbonds-verhouding met Hom, ons in vyandskap lewe met mekaar. Dat ons mekaar beveg. Dat ons eerstens ons eie belange wil bevorder ten koste van ons naaste. Daarom word die gebooie saamgevat deur die voorskrif dat ons mekaar moet liefhê. Dit is presies dieselfde as “om te doen wat die Here wil”. Daarom vra ons dan die Here wat Hy wil hê ons moet doen. En dit sluit aan by die doel wat die Here wil bereik deur ons op vaste grond te plaas. Hy beoog daarmee niks anders as dat ons 'n gelukkige lewe mag hê nie. ‘n Gelukkige lewe waar ons niemand anders in die pad staan nie. Ons kan dit kontrasteer met daardie ou lewe in die moeras. Want daar soek elkeen slegs sy eie belang. Maar nou weet ons dat die Here slegs ‘n enkele doel nastreef: Dat ons 'n gelukkige lewe mag hê, en dat ons Hom alles mag vra wat met daardie geluk te make het. En as ons tot die Here bid om geluk soos die Here dit self uitspel, dan ontvang ons ook wat ons vra.
Maar dan sal ons waarskynlik nog sê: "Ja, maar ek het dit of dat al so dikwels van die Here gevra. Maar die Here gee dit nie. Hoe is dit dan moontlik? Bid ek soms verkeerd? Maar dan is slegs een gevolgtrekking moontlik, brs en srs. Ons het iets gevra, wat nie ons lewe sou bevorder binne die Verbond met die Here nie. Dit sou ons slegs tot las wees. Dit sou ons slegs op daardie stadium laat wegdwaal van die Here. Of ons het iets gevra wat oppervlakkig beoordeel wel goed lyk, maar moontlik ons naaste kon sou benadeel. Daarom is dit goed dat Johannes die gebed plaas binne die raamwerk van die doel van die gebooie van die Here. Wie in sy gebed God soek asook sy naaste, mag seker wees dat hy sal ontvang wat hy vra. Die probleem is egter: ons plaas die gebod van die Here meestal buite ons gebed. Ons plaas tipies die gebod van de Here, sê tussen soggens 7 en saans 10 uur. Want ons meen dat ons deur dinge te doen of te laat God en die naaste soek. Maar ons moet oppas dat ons die soeke van God en die naaste nie onbewus buite ons gebed plaas nie. Veral ook in die gebed moet ons ons rig op God’s eer en die heil van ons naaste. Hierdie dinge moet die inhoud van ons gebed bepaal. En dan mag ons seker weet dat ons sal ontvang wat ons vra. Moontlik nie onmiddellik op daardie tydstip nie. Maar wel op God se tyd. Omdat ons ‘n nuwe verhouding met de Here het. Want waar jy vroeër slegs vir jouself gebid het, rig jy nou jou gebed beide op jou liefde vir God en vir die naaste. Dan word jou gebed ‘n gesprek met die Here oor jou lewe met Hom en met Sy ander kinders. ‘n Vrymoedige gesprek. Omdat dit ‘n gesprek geword het in die Naam van ons Redder. Want dit wat Hy met ons redding beoog, dit bepaal voortaan ons gebedsinhoud. En dan kan dit nie anders nie as dat ons dit ook ontvang nie. Alles wat nodig is vir 'n lewe met God in die gemeenskap van dié wat gered is.
Drie geskenke. Ons ontvang in ons lewe:
1. ‘n Nuwe rigting: gered uit die moeras en op pad rigting de Here
2. ‘n Nuwe verhouding: ons kan maar vrymoedig spreek met God deur ons gebed
3. ‘n Nuwe gemeenskap: ‘n lewe vol liefde vir God en mekaar
Broeders en susters, seuns en dogters. Johannes laat ons nie in die duister oor die inhoud van die gebooie van die Here nie. In 1Joh3v23 sê hy duidelik: “En dit is sy gebod, dat ons in die Naam van sy Seun, Jesus Christus, moet glo en mekaar liefhê ...” Hierdie maak dit vir ons onmoontlik om die gebod te wil beperk tot ‘n aantal reëls. En dit is maar goed ook. Ons sien baie groeperings, en ook kerke, wat uiteindelik hul godsdiens beperk tot die noukeurige onderhouding van ‘n aantal gebooie en reëls. Dit word dan voorgehou as voorwaarde vir kerklike lidmaatskap en kenmerkend van 'n goeie geloof. Maar ook ons het die neiging om mekaar te wil beoordeel aan die hand van 'n aantal reëls. En as jy jou aan die reëls hou, dan is jy 'n goeie kerklid.
Maar Johannes trek 'n dik streep deur ‘n sodanige stelsel. Die gebooie van die Here bestaan nie uit 'n aantal reëls nie. Maar wel uit twee dinge: Ons moet in die naam van Jesus Christus glo en ons moet mekaar liefhê. Dit is duidelik dat in beide gevalle verhoudings betrokke is. Want as ons glo dat Jesus Christus ons gered het uit die moeras van die sonde, dan verander ons lewe radikaal. Ons kry ‘n afkeer van die sonde. Ons sal alles doen om nie na die moeras terug te keer nie. Maar dit beteken ook dat ons verhouding met ons naaste verander – dit gaan heel anders lyk as toe ons nog in die moeras was. Ons gaan ons naaste liefhê. Waarlik en van harte. Ons rig ons dan op hul belange en op hul geluk. Weet julle wat dan so treffend is? Dat ons dan presies dieselfde doen, wat die Here Jesus ook gedoen het. Nee, dit sluit natuurlik nie sy verlossingswerk in nie. Dit is iets wat ons Hom nooit sal kan nadoen of wat ons kan herhaal nie. Maar gerigtheid op die belang van die ander, dit is dieselfde wat die Here Jesus ook gedoen het. Hy en ons beoog dan dieselfde. Ons beoog dieselfde doel.
En dan sê Johannes: as sake so gesteld is, is daar ook sprake van 'n baie nabye verhouding: Johannes noem dan die woord “gemeenskap”. Eenheid. Solank ons doen wat die Here ons voorhou oor ons verhouding tot mekaar, dus om mekaar lief te hê, sal ons steeds in Hom bly en Hy in ons.
Die laaste is dalk 'n moeilik verstaanbare iets: Ons in Christus en Christus in ons. Maar dit sê eenvoudig dat ons lewe nie meer onafhanklik van ander is nie. Selfs nie 'n lewe wat langs ander bestaan nie. Ons lewens is nou totaal met mekaar verbonde. Ons lewens vul mekaar aan. Ons lewens is onderling met mekaar vervleg. Wat Christus doen, doen hy altyd vir ons. En wat ons doen, doen ons voortaan vir Christus. Ons lewe vir mekaar. Ons is deel van die liggaam van die Here. En Hy is ons Hoof. Ons lewe nooit meer afsonderlik en vir onsself nie. Christus bedien die stuur van ons lewe. En dit gebeur nie by wyse van ‘n tipe afstandsbediening nie. Waar Christus hoog in die hemel is, en ons hier op aarde nie. Nee, Hy stuur vir ons Sy Gees wat nou in ons woon. En dié Gees bestuur en regeer ons. En solank as ons die gebooie van die Here bewaar, dit is om Hom en mekaar lief te hê, is ons een van gees met Hom. En so ook onderling met mekaar. En dit is wat gemeenskap beteken. Dit is absoluut die teenoorgestelde van wat ons in die moeras ervaar. Want daar geld die reël: elkeen vir homself. Elkeen vertrap die ander om bo kan te bly. En nog baie erger. Hoe kan dit ook anders wees as ons daaraan dink dat nie die liefde vir die naaste nie, maar slegs eieliefde heers?
Maar wat sal dit dan anders wees in die kerk. Want dit moet ook anders wees. En dit kan ook anders wees. Want Christus het ons Sy Gees gegee. Anders sou ons nie nou hier bymekaar wees nie. Ons het die bewys in ons hande. Want die Here het Homself aan ons bekend gemaak. Hy het ons uit die dood na die lewe toe oorgeplaas. Hy wil in ons woon deur sy Heilige Gees. Wie sal dan nog daaroor kan twyfel? Sal Christus wat Sy lewe aan ons lewens verbind het, dan nie vir ons belang opkom by die Vader nie? En as ons Vader sien hoe ons ons lewens laat lei deur Christus self, dan sal God ons vryspreek. En so mag ons die ewige lewe ontvang. Maar die mees fantastiese is dat hierdie lewe wat vrygespreek is, nou al mag begin. Ons mag dit reeds vandag sien: Ons lewens verander. Daar kom liefde inplaas van haat. Ons staan langs mekaar inplaas van teenoor mekaar. Ons ontvang ‘n nuwe lewe. Omdat ons na Hom luister, wat hierdie nuwe lewe vir ons moontlik maak. Ons hoef ons nie meer konfronterend teenoor brs en srs op te stel nie. Want hulle beoog slegs my welsyn, terwyl ek slegs hulle s’n op die oog het. En ons mag vrylik geniet van wat die Here aan ons gee. Want my brs en srs is glad nie afgunstig ingesteld nie. En ek laat hulle vrylik saam daarvan geniet. Ons kry 'n nuwe onderwerp van gesprek: Die wonder van God se liefde vir ons. Ja, ook met ander waarmee ek vroeër ‘n stroewe verhouding gehad het.
Wat is dit nie ‘n fantastiese en ontspannende lewe nie! Saam met almal wat dieselfde liefde met ons deel. Dit is ‘n lewe met ‘n ryk perspektief. Dit is reeds pragtig, maar dit word steeds beter. Want: Eendag word ons uitgenooi na ‘n fees. ‘n Bruilof. Die alles oortreffende gemeenskap met ons Heiland en met mekaar. Eén gesamentlike lewe. En daardie fees sal, wonder bo wonder, nooit meer ophou nie.
Amen.
Votum & Seëngroet
Psalm 111: 1
Lesing van die wet
Psalm 111: 4,5
Gebed
Lesing doopformulier
SB 15: 1,2
Vraë en bediening van die Doop
Psalm 128: 3
Aan die gemeente
SB 15: 6,7
Dankgebed
Skriflesing: 1 Johannes 3
Psalm 50: 7,11
Tekst: 1 Johannes 3: 18-24
Preek
Psalm 73: 10
Gebed
Kollekte
Psalm 33: 11
Seën