Die HERE seën vanuit Sion

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Maranata
Date: 
2021-11-28
Text: 
Psalm 134
Preek Inhoud: 

Preek: Psalm 134

 

Ons nader die einde van die jaar, ‘n jaar waarin ons as gemeente ‘n spesifieke tema behandel het in die prediking, op huisbesoeke ensovoorts, naamlik: lewe in die verbond.

Hierdie tema het ek die afgelope jaar veral vanuit die Psalms belig.

In die Psalms kan ons so mooi sien wat lewe in die verbond inhou.

In die Psalms vind ons al die hoogte- en dieptepunte van die lewe.

Maar deur dit alles sien ons hoe God in sy verbondstrou sy kinders dra.

Sy verbond is ‘n onwankelbare basis, waarop gelowiges hulle lewe kan leef.

Die Psalms besing God se verbondsbeloftes, wat Hy aan sy kinders skenk.

Hy seën sy volk onvoorwaardelik.

En dan, oorlaai met sy verbondsgawes, hoor ons in die Psalms die oproep aan God se kinders om naby Hom te leef, om Hom dankbaar te dien, om sy verbondsbepalings, sy gebooie, ernstig te neem.

Verder hoor ons ook in die Psalms die bedreiging, as God se kinders afdwaal.

As hulle hulle bevoorregte posisie vanselfsprekend begin vind, en al sorg die hemelse Vader vir hulle, tog sondige dinge begin doen.

In die Psalms vind ons ook skrikwekkende voorbeelde van die hemelse Vader se straf.

Afval en minagting van die verbond is nie ‘n middelmatige saak nie.

En so lees ons ook in die Psalms oor die werklikheid dat nie almal wat die rykdom van die verbond gesmaak het, uitverkies is tot die ewige lewe nie.

Kortom, alle aspekte van die lewe in die verbond kom in die Psalms voor die voetlig.

En dan, juis in die Nuwe Testamentiese era maak die Psalms nog net soveel meer sin, as ons besef hoe hulle in Christus vervul is.

Hulle boodskap word in Christus nog soveel ryker en dieper.

Die Ou Testamentiese gelowiges het daarna uitgesien, hulle het vermoed iets groots is op koms.

Ons weet dit nou.

Daarom sing ons die Psalms vanuit hulle vervulling in Christus.

Christus wat die verbond herstel het en deur sy Gees in staat stel om dankbaar in die verbond te lewe en te dien.

 

In Psalm 134 gaan ons terug in die verlede, en sien ons as ‘t ware ‘snapshot’ uit die lewe van God se volk in die Ou Testament.

Die Psalm is ‘n pelgrimslied, wat beteken dat dit gebruik is wanneer die volk opgetrek het na die tempel in Jerusalem, daar aan die feeste en offers deelgeneem het, en daarna weer teruggereis het huis toe.

 

Hierdie Psalm is ‘n beurtsang.

Soos wat die volk bymekaargekom het by die tempel, sing hulle eers die priesters toe – vers 1 en 2.

Daarna in vers 3 antwoord die priesters die volk.

Kom ons kyk eers na wat die volk sing, en daarna na die woorde van die priesters.

 

Tema: Die HERE seën vanuit Sion

1 Die volk se aanmoediging

2 Die ampsdraers se seën

 

1 Die volk se aanmoediging

‘n Priester, ‘n ampsdraer, is ‘n kneg, ‘n dienskneg – vers 1.

Nie ‘n kneg van die volk nie, maar van die HERE.

Hierdie waarheid klink tot vandag toe deur in die uitdrukking:

Dienaar van die Goddelike Woord, of in Latyn – Verbi Divini Minister, waarvan die afkorting VDM afgelei is, ‘n afkorting wat dikwels vir ‘n predikant gebruik word.

Die priesters het diens gedoen in die huis van die HERE.

En soos dit ‘n dienskneg betaam, moes hy sy werk doen in ooreenstemming met die instruksies van sy baas, sy heer.

Die tempel is gebou volgens God se instruksies aan Moses, en die priesters het hulle werk daar verrig volgens die voorskrifte in die Torah.

 

Die volk verwys na die feit dat die priesters in die huis van die HERE staan.

Staan het hier ‘n dieper betekenis, naamlik dat hulle in ‘n besondere amp aangestel is.

Nie enigiemand uit die volk mog in die HERE se huis staan, oftewel amptelike dienswerk verrig nie.

Slegs hulle uit die stam van Levi wat deur die HERE tot hierdie amp geroep is, het toegang gehad tot die tempel.

Staan beteken dus dat hulle ‘n amptelike posisie beklee het, wat deur God aan hulle opgelê is.

 

Vandag bestaan die tempel nie meer nie, maar ook vir vandag geld dat die HERE nog steeds sommiges uit sy volk aanstel om in sy diens te staan in ‘n besondere amp.

Net soos in die Ou Testament, is daar naas die amp van alle gelowiges, ook die besondere amp in die Nuwe Testament.

Ook in ons tyd roep die HERE broeders om in ‘n besondere amp te staan, sy volk te lei.

Daar is die ouderlinge wat die volk voorgaan in die lewe volgens God se Woord.

En daar is die diakens wat voorgaan in die praktiese dienswerk, waartoe God in sy Woord oproep.

Nie enigiemand kan homself in hierdie ampte aanstel nie.

Soos in die ou verbond die HERE bepaal het wie priesters en Leviete moes wees, so doen Hy dit vandag nog.

Uit die voorbeelde in die Nuwe Testament leer ons dat Hy sy gemeente gebruik om hierdie broeders aan te wys, op grond van kriteria wat God in sy Woord geopenbaar het.

Daarom is dit ‘n feit dat – soos ons ook later in die bevestigingsformulier gaan hoor – dat hierdie broeders deur God self aangestel word.

Hulle gaan in ‘n amp staan waarin hulle diensknegte van God is, om die gemeente te lei volgens God se wil.

 

Wat ons ook in hierdie Psalm hoor, is dat die priesters dag en nag in hulle amp gestaan het.

In 1 Kronieke 9:33 lees ons dat die Leviete dag en nag in hulle dienswerk besig was.

Dag en nag het daar lofliedere by die tempel geklink.

Die volk roep daarom die priesters en Leviete op om selfs ook in die nag hulle hande op te hef na die heiligdom en die HERE te loof.

Heiligdom dui spesifiek op die Allerheiligste – daar waar die ark van die verbond gestaan het.

En hande ophef is ‘n uitdrukking wat ons vandag kan verstaan as: die hande vou.

Hande ophef was die gebedshouding in daardie tyd.

Terselfdertyd klink die oproep: Loof die HERE!

En om te sing is by uitstek die manier om die HERE te loof.

Bid en sing, dit is twee dinge wat perfek saamgaan.

Baie van die Psalms is ook gebede.

 

As die volk die priesters dus oproep om in die nag in die HERE se huis te staan, hulle hande op te hef en Hom te loof, bedoel hulle dat die priesters nooit moet ophou om dit te doen nie.

Geen uur van dag of nag mag daar nie ‘n lied by die tempel klink nie.

24/7 staan die priesters in hulle amp as diensknegte van die HERE.

Dit is wat hulle opgedra is in die HERE se wet, dink aan Levitikus 8:

“Julle moet dan by die ingang van die tent van samekoms bly, dag en nag, sewe dae lank”. (vers 35)

Natuurlik is dit ‘n feit dat priesters ook omstebeurt hulle nagrus gehad het.

Die priesters en Leviete is in skofte ingedeel, maar die loflied het bly klink.

 

Vandag nog steeds staan julle, broers, as ampsdraers en opvolgers van die priesters in die Ou Testament, in julle amp 24/7.

Net soos aan die priesters van ouds, word aan julle die bediening van die versoening toevertrou.

Die tempeldiens het een sentrale tema gehad: Hier vergewe God sy volk.

Hier waar bloed vloei, nie van sy verbondskinders nie, maar van diere.

Hier mag die volk vergifnis ontvang.

En vir die Nuwe Testamentiese erediens geld dieselfde.

Hier vergewe God sy volk.

Hier word die Evangelie van Jesus Christus verkondig, van sy bloed wat gevloei het, tot ‘n versoening van al ons sondes.

 

Die bediening van die versoening ...

‘n Pragtige maar ook verantwoordelike taak.

Eerstens word jy persoonlik opgeroep om daagliks jou krag in Christus se versoening te vind.

Dat jy self diep deurdronge is dat jy elke dag Christus se bloed nodig het vir jou eie sondes.

Jou amp het ook alles te make met jou eie vertroue op jou Heiland, en jou diepe dankbaarheid vir sy versoening.

Nie net as jy in die kerk is, nie net as jy op huisbesoek gaan nie, maar met jou hele lewe is jy ‘n ampsdraer, ook by die werk en by die huis, uit jou woorde en dade blyk dat elke uur van jou lewe ‘n dankbaarheidsoffer is.

Mag almal wat jou ontmoet, waarneem dat jy ‘n biddende lewe lei.

Dat jou lewe ‘n loflied is.

Want net soos destyds, is dit die belangrikste deel van jou amp.

By die tempel was die bring van offers, die aansteek van die kerse op die kandelaar, al die liturgiese handelinge, nie die belangrikste onderdele van die amp nie, maar juis die loflied.

En so is dit vandag nog steeds.

Laat die gemeente jou so ken, dat jou lewe ‘n loflied is, 24/7, ‘n loflied op Hom wat jou in diens geneem het, Jesus Christus.

 

En moenie kla oor die amp, oor die las op jou skouers nie.

Moenie dat negatiwiteit jou oorneem nie.

Moenie afbrekende dinge sê oor jou amp, of oor Christus se gemeente nie.

Neem as voorbeeld ons hoogste Ampsdraer wat, toe Hy op aarde was, nie gekla het nie, maar gewillig die las gedra het, hoeseer die volk Hom ook geteister het.

 

En gelukkig is dit vandag nog steeds die geval dat jy nie alleen in die amp staan nie.

Ook vandag stel die HERE ‘n span aan.

Jou ampsdiens is nie ‘n solotrip nie, jy word opgeroep om in harmonie en konstruktief met die ander ampsdraers saam te werk, trou jou skof te verrig, en jou nie in te dring in die ampsdiens van ‘n ander nie.

 

Vandag word julle bevestig in die teenwoordigheid van God se volk.

Net soos destyds, moedig die gemeente julle aan met hierdie Psalm om julle dienswerk trou te verrig.

Uit hierdie eerste deel van die Psalm proe ons dat die volk regtig na die priesters opgekyk het.

Hulle het hulle as baie bevoorreg beskou, vir die feit dat hulle daar by die tempel mog leef en werk, vir die amptelike dienswerk wat hulle daar mog verrig.

Laat ons ook so as gemeente na die ampsdraers opkyk.

Al is dit nie altyd ‘n maklike taak nie, is dit ‘n pragtige, ‘n voortreflike dienswerk wat hulle mag verrig.

Eer hulle vanweë hulle amp, ag hulle hoog.

Wees vinnig om hulle instruksies op te volg, sowel die ouderlinge as die diakens.

Leef in vrede met hulle, hou hulle naam hoog.

En bid vir hulle, dat hulle hulle taak trou en met vreugde sal verrig.

Dalk is jy ‘n ampsdraer se vrou, dalk sy ouer, dalk sy kind of kleinkind, dalk is jy een van die lidmate in sy wyk.

Moedig hulle aan, spoor hulle aan, soos die volk van ouds:

Kom! kom nou jul wat almal saam

snags in die HEER se huis bly staan.

Diensknegte in die heiligdom,

hef op jul hand’ en prys vir Hom!

 

(Tema: Die HERE seën vanuit Sion

1 Die volk se aanmoediging)

 

2 Die ampsdraers se seën

Ons kom nou by die tweede deel van die Psalm, vers 3.

Waar in die eerste deel die volk aan die woord was, is dit nou die priesters.

En ons sien hier hoe hulle hulle Godgegewe taak uitvoer.

Hulle lê die HERE se seën aan die volk op.

Mag die HERE jou seën.

Hierdie was ‘n amptelike seën.

Natuurlik het die mense ook aan mekaar gereeld die seën van die HERE toegewens.

Dit het deurgeklink in die welbekende groet in Hebreeus: Shalom! Vrede! – ‘n enkele woord uit die hoëpriesterlike seën – Numeri 6:26: “die HERE sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou vrede gee.”

So mag ons as mense in die amp van alle gelowiges mekaar God se seën toewens.

 

Desnieteenstaande was en is daar ook die amptelike seën.

So was dit God se wens, sy instruksie spesifiek aan die priesters.

As die priesters by die tempel die volk geseën het, het hulle direk namens die HERE gepraat.

Let wel, hierdie amptelike seën het uitgegaan vanuit Sion, vers 3.

Daar waar dit die HERE behaag het om sy naam op aarde te vestig.

Wie in gehoorsaamheid aan die oproep van die HERE Hom kom opsoek het by sy tempel, hy of sy mog met die vaste vertroue huis toe gaan dat sy lewe sonder enige twyfel deur die HERE daar geseën is.

Ook na vandag mag julle, gemeente, weer huis toe gaan en weer met julle dagtaak môre begin in die wete dat God se seën met julle gaan, dat Hy sal voorsien.

Geseën beteken dan, soos ons in die bekende hoëpriesterlike seën hoor:

  • Hy behoed, dit wil sê Hy beskerm;
  • Sy aangesig sal oor jou skyn – Hy verlig jou lewenspad;
  • Hy sal genadig wees – Hy sal jou sondes vergewe;
  • Hy sal sy aangesig verhef – die HERE waak oor jou;
  • Hy sal vrede gee – Hy sal vrede gee in jou hart, in jou gesin, ensvoorts.

Voorwaar, hierdie is ‘n ryke seën.

 

En vandag nog steeds roep God spesifiek die ampsdraers om hierdie seën van Hom uit te spreek oor hulle wie gehoorsaam na sy huis gekom het.

As ampsdraer spreek jy nie die seën uit in ‘n winkelsentrum, of op die sportveld, of waar ook al nie.

Sy seën klink spesifiek hier in die kerk.

 

En dan, in die laaste sin van die Psalm, herinner die priesters die volk wie hulle HERE is – Hy wat hemel en aarde gemaak het!

As dit Hy is, is Hy inderdaad in staat om sy seën waar te maak.

Die heidenvolke rondom Israel het die gode van hulle land aanbid, en daarvan uitgegaan dat hulle gode buite hulle eie land nie krag of invloed gehad het nie.

Israel se Verbondsgod se almag is egter universeel.

As Hy hemel en aarde gemaak het, kan Hy jou mos bewaar, ja met sy seën agtervolg, waar jy ook gaan.

 

Uit Sion sal die HEER bly seen

vir jou al gaan jy waar ook heen.

Hy wat die hemel, aarde, see

gemaak het Hy gaan met jou mee!

 

Geliefde gemeente, u mag hierdie seën elke Sondag ontvang.

Hier waar God ampsdraers aangestel het om u by Christus en sy Woord te bewaar.

Kom dan ook om dit te ontvang.

En as u die seën vanaf die preekstoel hoor, hetsy dit uitgespreek word deur ‘n dominee of ‘n ouderling, luister dan daarna met die besef dat die HERE dit persoonlik oor jou lewe uitspreek.

 

Amen.

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 147:1,5

Wet

Ps 31:15

Gebed

Skriflesing: Numeri 6:22-27

Ps 115:7,8

Teks: Psalm 134

Preek

Ps 132:8,9,10

Bevestigingsformulier

Bevestiging ampsdraers

  • beantwoording vrae
  • oproep aan ouderlinge 
  • oproep aan diakens 
  • oproep aan gemeente 

Ps 134: 1,2 (gemeente)

Ps 134:3 (ampsdraers)

Ps 134:4 (almal)

Gebed

Kollekte

Ps 68:9

Seën