Om te leef vanuit die betroubare belofte alleen

Minister: 
Ds. R Pos
Church: 
Pretoria
Date: 
2021-09-12
Text: 
1 Konings 17
Preek Inhoud: 

Gemeente van ons Here Jesus Christus, broers en susters, seuns en dogters,

Ek neem julle saam  na ‘n Hollandse winterlandskap. Die ysbaan, die slote en die waters is heetemaal toege-ys. Maar daar is nog niemand op die ysbaan nie. Dit sou wel moontlik wees om veilig te skaats want orals is die ys dik genoeg. Maar ons het ooreengekom om eers te wag op ‘n buitenlandse gas. Die persoon is afkomstig van ‘n tropiese land. ‘n Land waar die riviere nooit toe-ys nie. Ons gas mag dan as eerste die ysbaan betree. Ons nooi hom uit: Betree gerus die ysbaan. Alles is veilig. Daar is geen gevaar dat die ys kraak en jy in die yskoue water beland nie.

As daar reeds ander mense op die ysbaan was, dan sou dit vir die buitenlandse gas baie makliker gewees het. Dan sou hy met eie oë kon sien dat dit veilig is. Maar as hy as eerste die ysbaan moet betree, dan moet hy vas glo dat dit veilig is. Hy moet vertrou op die woord van 'n ander. Daar is iemand wat hom aanmoedig: Doen dit gerus. Maar dis niks meer as net ‘n woord nie. Tog waag hy die stap. Hoekom waag hy dit? Want hy glo dat die persoon wat dit sê, nie lieg nie. Moontlik is sy eerste treë effe onseker. Maar met 'n bietjie verdere aanmoediging betree hy die ys. En nadat hy dit gedoen het, merk hy ook self dat dit veilig is. Die ys dra hom sonder om te kraak. Daardie besef is vertroue.

Om op iemand te vertrou is om dit wat ‘n ander sê of vra, uit te voer sonder dat jy self vantevore seker is van die goeie afloop. Ondanks jou eie onsekerheid, doen jy dit tog. Die persoon op wie jy vertrou, moet natuurlik wel betroubaar wees. Die persoon moet bekend staan as iemand wat nie lieg nie. As dit nie die geval is nie, dan kan jy moeilik die gevaarstemmetjie binne in jou tot swye bring. Die stemmetjie wat sê: Jy is mal as jy dit doen. Maar as jy die ander wel kan vertrou dat dit veilig is, dan doen jy dit wel. Hierdie vertroue is die tema van hierdie preek.

Tema: Om te leef vanuit die betroubare belofte alleen

De Here het altyd die beste bedoelings met sy volk Israel. Hy het aan hulle slegs die beste belowe. Uit hulle sou kinders gebore word en die Here self sou sy volk beskerm teen vyande. Voedsel sou altyd beskikbaar wees omdat die land vrugbaar was en omdat weiding beskikbaar sou wees vir skape en bokke.

Dit is nie so dat in Israel letterlik die son elke dag sou skyn, of dat daar altyd voldoende wolke sou wees vir reën nie. Nee, dit het ook gebeur dat die reën uitgebly het sodat mense na 'n tydjie opgemerk het: As dit nie binnekort reën nie dan verdwyn die groen gras vir die skape en ly die koringoes skade. Maar daar was gelukkig altyd mense wat gesê het: Ons moet op die Here bly vertrou. Het die Here ons dan nie belowe dat ons nooit tekort sou kom nie? Solank as wat ons maar gehoorsaam bly aan die Here.

Maar daar was ook baie mense wat anders gedink het. Hulle het gesê: “Ja, die Here het ons wel baie pragtige beloftes gegee, maar tog ervaar ons dat die reën steeds uitbly. Dit gaan nie goed met ons nie. Ons sal regtig nou ons eie maatreëls moet begin neem. Wat het hulle daarmee bedoel? Hulle bedoeling was: Omdat die Here geen reën gee nie, moet ons ‘n ander god vra vir reën. Naamlik die god Baäl. Maar waar het hierdie gedagtes onstaan? Dit was afkomstig van hul eie koning Agab.

Koning Agab het die Here wel geken, maar hy was ongehoorsaam aan die Here deur met 'n heidense vrou te trou. Hierdie Isebel was dus koningin. Isebel het bevel gegee dat 'n tempel gebou moes word vir die god Baäl en dat Baälpriesters aangestel moes word om aan Baäl te offer. Waarom dan? Omdat die god Baäl bekend gestaan het as die god van die wolke en van die reën. Koningin Isebel het mense aangemoedig om Baäl te vra vir reën. En so het dit ook gebeur. Die mense het nie meer op die Here alleen vertrou nie, maar ook op Baäl.

Die profeet Elia het dikwels hierteen gewaarsku. Selfs teenoor koning Agab: Dit is nie goed dat jy op Baäl begin vertrou nie. Die Here het immers self belowe dat Hy vir sy volk sal sorg. Solank as julle na God luister sal julle niks kortkom nie.

Maar toe die koning en die volk hulle tog begin afkeer het van die Here God en begin het om Baäl te vra vir reën, het die profeet Elia aan die Here gevra om die hemel toe te sluit vir wolke en reën. Koningin Isebel en koning Agab sou dan aan die mense sê om tot Baäl te bid. Maar as die Here God die hemel sou toesluit en geen reën gee nie, dan sou dit vir almal duidelik wees dat Baäl nie werklik bestaan nie – en slegs bestaan in die verbeelding van mense. ‘n Menslike idee. ‘n Geloof sonder basis.

Die Here dink Elia se plan is goed en Hy weerhou vir 'n paar jaar die reën. Hoe baie die mense ook bid dat Baäl reën moet gee, dit gebeur nie. En dus ly die land honger. Die bokke en skape sterf. En die koring verskroei op die landerye. Naderhand sterf ook mense van honger en dors.

Gegewe hierdie omstandighede was geen mens bereid om na Elia om te sien nie. Nee, almal was geweldig kwaad op Elia. En daarom sê die Here: "Elia, jy moet die Jordaan oorsteek en na die spruit Krit gaan. Daar is voorlopig nog wel ‘n bietjie water en ek sal sorg dat jy daar niks kortkom nie.” Elia vertrou op die woord van die Here en hy vertrek na die spruit Krit. Dit lê midde in die wildernis. Hoe sal die Here daar vir hom sorg? Elia weet dit nog nie.

As Elia aan die kant van die spruit sit, sien hy groot swart voëls wat na hom toe vlieg. Dit is rawe. En hulle dra almal iets in hul bekke. Die een dra 'n homp brood en 'n ander 'n stuk vleis. En hulle lê dit voor Elia neer. Ek dink nie dat Elia aanvanklik mooi verstaan het wat hier gebeur nie. Moontlik het hy selfs gewonder of hy die kos kon eet. Maar dan herinner hy die woorde wat die Here tot hom gespreek het: "Elia, ek het die rawe beveel om vir jou voedsel te bring." Elia verstaan dan eers dat dit die manier is waarop die Here hom van voedsel sal voorsien. Die Here stuur die voëls met voedsel wat hy kan eet. Presies soos die Here dit vooraf gesê het.

Ons moet hierby in gedagte hou dat rawe geen mak voëls is soos bv kanaries nie. Nee, rawe is groot wilde roofvoëls. Heelwat aggressiewer as kraaie. Hulle roof voedsel van mense en van diere. En hierdie roofvoëls vlieg dus oor die land waar ernstige drroogte en honger heers. As hulle êrens op ‘n kombuistafel 'n stuk brood raaksien, dan roof hulle dit onmiddellik. Maar inplaas dat hulle dit self verslind, bring hulle dit vir Elia. En as hulle êrens sien dat ‘n maer bok of skaap geslag word, dan duik hulle onmiddellik daarop neer om van die vleis te roof. En om dit ook na Elia te bring. Verstaan ons wat hier gebeur? Dis die Here se manier om vir Elia te sorg. As mense nie bereid is om vir Elia, die gehoorsame kneg van die Here, te sorg nie dan sorg die Here op ‘n ongewone manier dat Elia tog voedsel ontvang. So magtig is die Here.

Na verloop van tyd is die spruit Krit ook droog. Dan kom die Here weer na Elia toe en Hy sê: “Elia, jy moet heeltemal na die noorde trek. Na ‘n plek buite die grense van Kanaän – na die groot stad Sidon. Ek stuur jou na die dorpie Sarfat net noord van Sidon. Daar sal jy ‘n weduwee vind wat vir jou sal sorg.

Dit is opvallend dat die Here hom spesifiek daarheen stuur. De Here is immers magtig genoeg om byvoorbeeld ook binne Israel 'n weduwee opdrag te gee om vir hom te sorg? Maar nee, Elia moet selfs verby die stad Sidon reis. Dit was die groot stad waar koningin Isebel grootgeword het. Die stad was die sentrum van die Baäldiens. Die Here stuur Elia dus na die lêplek van die leeu. En die Here wil hiermee aantoon dat die Here self aan Elia voedsel sal voorsien en nie Baäl nie. Die Here gebruik ‘n wonderbaarlike manier om dit te doen. ‘n Manier wat weer alles te make het met die geloof en vertroue op die Here.

‘n Buitelandse weduwee sal sorg vir die profeet Elia. Dit is opmerklik. ‘n Weduwee is ‘n vrou wie se man reeds oorlede was. Daarom was weduwees tipies van die armstes van die armes. 'n Baie ongewone keuse van die Here. Hy kies iemand van wie ‘n mens kwalik hulp sou kon verwag. Want hoe kan ‘n weduwee wat amper nie vir haarself kan sorg nie ook nog vir iemand anders ook sorg? Maar de Here gee opdrag: “Gaan na daardie weduwee. Ek sal sorg dra dat sy jou kan versorg ”

Elia vertrek dus na Sarfat, na ‘n onbekende weduwee. Maar die Here het haar reeds uitgesoek. As Elia in Sarfat aankom, is 'n vrou net besig om ‘n paar stukkies hout bymekaar te maak. Elia is moeg van die reis en hy het honger en dors. Hy vra aan die vrou: Het jy moontlik 'n bietjie water vir my? Ek het pas 'n lang reis voltooi. Die vrou antwoord: "Ek gaan haal vir jou water." Dit is heel besonder. Want ook daar in Sarfat, het dit lank nie gereën nie. En water is skaars. Maar die vrou is bereid om water met Elia te deel. Dit is vir Elia hoopgevend. Die weduwee is goed vir hom. Maar is dit wel die spesifieke weduwee wat die Here uitgekies het? Elia waag dit om nog ‘n versoek tot die weduwee te rig. Hy vra haar ook om ‘n stukkie brood te bring. Dan rig sy haarself tot Elia: "Ek sou dit graag vir jou wil gee maar ek het geen brood nie. Ek het nog slegs 'n handjievol meel en 'n paar druppels olie by die huis. Ek staan op die punt om daarvan twee dun pannekoeke te bak met die houtjies wat ek nounet bymekaar gemaak het. Dan wil ek en my seun dit eet, maar dis ons laaste kos. Daarna sal ons van die honger sterf.”

Ons sou verwag dat Elia deur die antwoord sou terugdeins. Dat hy sou sê: “Ek is jammer dat ek dit gevra het. Ek het nie besef dat die situasie so ernstig is nie. En ek besef ook dat ek nie mag vra om jou voedsel met my te deel nie. Ek verstaan die situasie. Buitendien, ons het dan nog slegs vandag iets om te eet. Môre het ons niks nie.” Maar nee, Elia is nie in die eerste plek op soek na voedsel nie! Maar hy is deur die Here hierheen gestuur. De Here toon reeds lankal vir Elia, dat Hy wonders kan doen om Elia aan die lewe te hou. Het die rawe nie maande lank vir hom voedsel gebring nie? Daarom sê Elia aan die vrou: "Jy hoef jou nie te bekommer nie. Gaan na jou huis en bak daar vir my 'n klein pannekoek. Bring dit vir my en daarna kan jy vir jou en jou seun nog pannekoeke bak. Want die Here het aan my gesê dat Hy sal sorg dat die meel in die pot en die olie in die kruik nie sal opraak nie.”

Ons moet besef dat Elia se versoek haar in ‘n krisis situasie plaas. Watter besluit sal die weduwee neem? Want as sy eers ‘n pannekoek vir Elia moet bring, dan bly daar kwalik genoeg oor vir haar en haar seun.

En Elia vra nie iets van die weduwee wat hy later sal kan teruggee nie. Nee, dit gaan oor ‘n saak van lewe en dood. Die weduwee moet besluit of sy kan vertrou dat Elia die waarheid spreek. Dat daar nog genoeg meel en olie oor sal bly vir haar en haar seun. Maar die saak is nog meer ingrypend. Dit gaan uiteindelik nie of sy kan vertrou op Elia se woord nie. Nee, uiteindelik is dit of sy bereid is om die Here se belofte te glo. En om nie op die Baäl van haar familie te vertrou nie. Maar slegs op die God van Elia. Wie van die twee is uiteindelik by magte om haar en haar seun aan die lewe te hou? Is dat Baäl of is dit die Here God?

Ons kan ons voorstel hoe die vrou oor die saak kon gedink het. Moet ek werklik vir Elia glo? As ek hom eers 'n pannekoek gee, dan sal Elia moontlik heimlik die spot met my dryf oor my naïwiteit. Bowendien, ek het amper niks oor nie. Ek is mal om hom te glo. Dis baie beter as ek die meel en die olie vir myself hou. Elia moet maar êrens anders probeer om voedsel te kry. As sy dit sou gedink het, broeders en susters, dan sou sy inderdaad nog een pannekoek oor gehad het maar ook niks meer nie. Uiteindelik sou sy stadig van honger sterf. ‘n Seker maar stadige dood sou vir haar wag. En wat vir haar nog erger was: Sy sou haar seun ‘n stadige hongerdood sien sterf.

Maar Elia sê dat sy haar nie oor die toekoms hoef te bekommer nie. Die Here, die God van Elia en die God van die volk Israel sal vir haar en vir haar seun sorg. En om hierdie wonder-baarlike sorg te ontvang, hoef sy slegs een ding te doen. Sy hoef slegs eers een pannekoek vir Elia, die kneg van die Here te bak.

Verstaan ons, brs en srs, wat hier besig is om te gebeur? Hierdie arme vrou moet die belangrikste besluit van haar lewe neem. Dit is vir haar duidelik dat sy self op geen enkele manier haar lewe kan red nie. Sy verwoord dit as volg: Vir vandag het ek nog ietsie om te eet. Maar daarna wag daar vir my en my seun ‘n stadige maar seker dood. Daaraan kan ek niks verander nie. Maar as Elia werklik die woord van die Here spreek, dan is dit anders. As die woord van Elia werklik van die Here kom, en as sy die woord glo en daarop vertrou, dan sal sy en haar seun nie sterf nie. Dan sal hulle lewe. As sy haar laat lei deur die realiteit van die situasie, as sy haar laat lei deur wat sy sien en voel, dan sal hulle sekerlik sterf. Saam met haar seun. Maar as sy haar hongerpyne ignoreer en luister na wat Elia sê, dan sal hulle lewe. Ja, as sy na haarself luister, dan stuur sy af op ‘n sekere dood. Maar as sy kies om na die Here te luister, dan kan dit die begin wees van 'n nuwe lewe. Waar vir almal rondom haar die kos stadig sal opraak, sal daar vir haar en haar seun steeds iets wees om te eet.

Ek dink dat beide Elia en die Here as’t ware gespanne op die antwoord van hierdie weduwee gewag het. Nie op wat sy sou sê nie, maar op wat sy sou doen. Sou sy eers vir Elia ‘n pannekoek bak? Of sou sy haar gevoel volg en dit nie doen nie? Tog doen sy dit wel. Sy neem van haar kosbare laaste meel en bak daarvan 'n pannekoek vir Elia. So wys sy dat sy in die woord van die Here glo. En omdat sy haar geloof in die woord van die Here laat sien, daarom bevestig die Here ook Sy belofte aan haar. Sy sien dat die meel in die pot nie verminder het nie, en net so ook die olie in die kruik.

Nou kan ek vanmiddag maklik sê: Mense, let op die groot geloof van die arm weduwee. Ons sou almal ‘n les daaruit kan leer. Ook ons moet dieselfde mate van vertroue in die Here hê. Tog is die les wat ons uit hierdie verhaal kan leer, nie een wat betrekking het op die sterk geloof van hierdie gelowige buitenlandse suster nie. Ons leer in hierdie verhaal dat ons God trou bly aan sy beloftes. Ons moet ons aandag nie rig op die vrou nie, maar op God. Ek sal voorts verduidelik waarom dit die geval is.

Waarom het die Here soveel moeite gedoen om Elia aan die lewe te hou? Was dit bedoel as 'n beloning vir Elia se getroue diens? Nee, die Here het nog ‘n taak wat Elia moet uitvoer. Elia se opdrag was om steeds die stryd aan te gaan met die Baälspriesters op die Karmel. Waarom? Wou die Here daarmee die priesters en koning Agab laat sterf? Nee. As dit die geval was, dan kon die Here eenvoudig die droogte laat voortduur het. Dan sou hulle almal spoedig sterf. Maar die Here se doel was om sy volk te red. Nie van die droogte nie maar van die mag van Baäl. Baäl was die oorsaak dat die volk nie meer op die Here vertrou het nie. En as dit so sou bly, dan sou die hele volk vir ewig verlore gaan. En dit wil die Here God verhoed. Baäl moet oorwin word. En Elia moet in hierdie eindstryd nog ‘n een taak verrig. Daarom is dit nodig dat Elia bly lewe. En daarom hou God hom op wonderbaarlike maniere aan die lewe.
Die Here sou ook rawe na Sarfat kon stuur om brood en vleis van mense te roof om dit na Elia te bring. Maar die Here doen dit nie. Die verhaal toon duidelik dat mense nie op Baäl moet vertrou nie, maar op die Here alleen. Selfs as mens nie tot die jode volk behoort nie, dan word jy gered. Jy ontvang die lewe, terwyl alles rondom jou dood is.

So is ons God, brs en srs. ‘n God wat daarop gerig is om aan sy volk die lewe te gee en nie die dood nie. Maar Hy is ook die enigste God wat die lewe kan gee. Dit word duidelik in die laaste deel van ons teks.

Die weduwe, haar seun, Elia en moontlik nog enkele ander familielede kon steeds elke dag kos eet omdat die meel in die pot en die olie in die kan nie opraak nie. Ek weet nie hoe lank dit aangehou het nie. Maar op 'n dag word die seun siek. Die koors word al hoe hoër en wat die moeder ook al doen, dit help nie. Uiteindelik sterf die seun. Die moeder is buite haarself van verdriet. En in haar verdriet rig sy haar ook op Elia en op die God van Elia. Haar woorde aan Elia is nie so vleiend nie maar wel verstaanbaar. Sy het immers die Here nog nie so lank geken nie. In haar verdriet wonder sy of Elia nie moontlik gekom het met die doel om haar oor haar sondes te straf nie. Is die doel van die sterwe van haar geliefde seun moontlik nie om haar as moeder in die besonder te straf nie? Of het sy moontlik teen die God van Elia gesondig? Dit is natuurlik baie pynlik vir Elia, maar nog meer vir God. Die Here God het dan juis Elia na haar gestuur om haar en haar seun saam met Elia op 'n wonderbaarlike wyse in die lewe te hou. Dit lyk asof dit die Here se bedoeling is hulle te laat lewe. Maar ook vra hierdie vrou haarself af in haar enorme verdriet en wanhoop of die doel van de Here nie moontlik anders is nie? Soek die Here dalk die dood van mense?

Elia sou self ook geskok  gewees het deur die gedagtes van die bedroefde weduwee. Maar natuurlik ook as gevolg van die seun se dood. Waarom Here, het U dit toegelaat? Dit is ook Elia se vraag. Maar Elia soek nie vir teologiese antwoorde op die weduwee se wanhoopsvrae nie. Inteendeel hy neem die oorlede seun saam na sy eie kamer en lê hom neer op sy bed. Dan strek hy hom drie keer uit oor die gestorwe seun en smeek hy die Here om die seun weer lewend te maak. In wese lê Elia al sy vrae in die hand van die Here. En die Here luister. Die seun word weer lewend. Ons mag gerus glo dat Elia verheug is dat hy die seun weer lewend aan sy moeder kan teruggee. En die moeder is nog meer verheug en dankbaar. En dan sê sy iets opmerkliks. Sy sê: "Nou is ek finaal oortuig dat u, Elia, namens die Here spreek en ook dat die Here u na my toe gestuur het.” Was sy dan nie reeds daarvan oortuig deur die wonder van die meel en die olie nie? Maar blykbaar moes sy en moontlik ook Elia, tog iets meer belangriks hieruit leer. Dit is dat die meel en olie as sulks nie voldoende is vir lewe nie. Selfs met voldoende meel en olie kan mens steeds sterf. Want ons lewens word nie bepaal deur voedsel, medisyne of selfs deur 'n inenting nie. Ons lewens is in die hand van die Here. Hierdie buitelandse vrou het ontdek wat die getrouheid van die God van Israel vir ‘n mens kan beteken. Om op Baäl te vertrou, was betekenisloos. Baäl belowe voedsel, maar gee dit nie. En selfs als hy dit sou gee, dan kan hierdie  voedsel nie die lewe waarborg nie. Om op die krag van voedsel te vertrou, het ook geen sin nie. Slegs een saak is belangrik: Om heeltemal op die Here te vertrou. Om alles van Hom te verwag. Dit is wat die Here in ons wil werk. Want die Here gee graag en voldoende. Maar dan moet ons erken dat dit slegs van Hom afkomstig is.

En so mag ons verstaan dat voedsel as sulks nie belangrik is nie. En dit geld ook vir ‘n goeie mediese versorging. So-ook vir slim wetenskaplikes wat 'n effektiewe entstof teen Covid ontwikkel. Natuurlik, dit is alles middels wat ons met dankbaarheid mag gebruik. Maar die Here wil ons iets gee wat vele mate beter is. Hy gee ons die lewe. Hy gee ons die lewe saam met Hom. Maak nie saak of dit in ‘n menslike sin ‘n belangrike of ‘n minder belangrike lewe is nie. Of dit ‘n lewe is met goeie gesondheid of met siekte nie. Of ‘n lang lewe of ‘n kort lewe nie. 

Die Here beoog werklik niks anders as ons lewe en ons welsyn nie. Daardie lewe wat hy reeds aan ons geskenk het, en sigbaar maak in die doop. Die belofte van die lewe waarin God self ons Vader is en met ons 'n verbond sluit. Die lewe wat totaal skoongewas word deur die offer van die Here Jesus. ‘n Lewe wat volledige vernuwe word en op Christus gerig word deur die Heilige Gees. Om daardie lewe te verkry hoef jy regtig niks anders te doen as om op die Here te vertrou nie. Dan ontvang  jy dit. Ongeag of jy ‘n kind of ‘n volwassene is. Beide as jy ryk of as jy arm is. Ook as jy sterk en gesond is, maar ook as jy siek is, en selfs as jy siek sal bly en as jy gaan sterf. En laat ons goed besef, brs en srs: dat die gebeure van Elia en die weduwee van Sarfat, almal in diens staan van die planne van die Here om uiteindelik ’n hele volk te red. Dit is wat die Here uiteindelik beoog. Die Here se  planne is gerig op die lewe van sy volk.

En nou mag ons die skitterende nuus aanhoor: die Here het ook gesê dat ons deel mag vorm van sy volk. Dit is wat die doop vir ons sê. Ons mag die lewe ontvang omdat die Here vir ons die dood oorwin het. Ons mag ewig by die Vader inwoon omdat die Here Jesus eenmaal deur sy eie Vader verlaat is. Ons mag deur die Gees van God die ewige lewe ontvang, omdat die Here Jesus in ons plek die ewige doodstraf ondergaan het.

Ja, al hierdie wonderlike geskenke wil die Here aan ons gee sonder dat ons dit verdien het of ook maar iets daarvoor hoef te doen. Hy skenk dit selfs aan klein kinders, wat nog nie kan praat of loop nie. De Here stel slegs ‘n enkele vraag: Vertrou jy op My? Vertrou jy op my Woord? En as jy dit doen, dan mag jy seker weet, daardie God wat die rawe na Elia gestuurd het; daardie God wat gesorg het dat die meel in die kruik en die olie in die kan nie opraak nie, daardie God wat die seun van die weduwee weer lewend gemaakt het; daardie God is ook my God. Deur die Here Jesus Christus. By Hom is ons lewe veilig. Hoe lank of hoe kort my lewe op aarde ook is. By Hom is jy ewig veilig. Hy het dit aan ons belowe. En daarom mag ons vrymoedig Psalm 71: 1en 2 sing:

“Op U alleen, my Rotssteen bou ek. Laat my dan nimmermeer, in smaad verval, o HEER! U het beveel dat ek sal lewe; en 'k leef, o groot Ontfermer,  my Toevlug en Beskermer!”

Amen.

Liturgie: 

Psalm 57: 1,5

Teks: 1Konings 17

Psalm 77: 5,6

Psalm 71: 1,2

SB 71 belydenis

SB 17: 1,6