Jesus, die Naam bo alle name

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Maranata
Date: 
2021-11-21
Text: 
Heidelbergse Kategismus Sondag 11
Preek Inhoud: 

Die behandeling van Sondag 11 se onderwerp is baie van toepassing op ‘n Nagmaalssondag.

Nagmaal het alles met die Naam Jesus te make.

In die tweede deel van die Apostoliese Geloofsbelydenis fokus die kerk op die name, middelaarswerk, lydensweg, verheerliking en wederkoms van haar Hoof.

In die komende Sondae gaan die Heidelbergse Kategismus dit een vir een behandel.

So kyk ons vandag na die eerste naam van Jesus, waar dit vandaan gekom het, en wat die betekenis daarvan is.

Jesus is die Griekse vorm van die Hebreeuse Josua.

Beide beteken dieselfde, naamlik: Die HERE red.

 

Tema: Jesus, die Naam bo alle name

1 Hy ontvang hierdie Naam by sy besnydenis

2 Hy maak hierdie Naam waar tydens sy hele lewe

 

1 Hy ontvang hierdie Naam by sy besnydenis

In Jesus kom God se eeue oue belofte nou werklik in vervulling.

Sy word die volheid van die tyd genoem.

Daarmee word meer bedoel as dat sy ma Maria na ongeveer nege maande geboorte geskenk het aan ‘n seuntjie.

Met die volheid van die tyd word die voltooiing van die hele Ou Testament bedoel.

Die hele periode vanaf die paradys, toe die moederbelofte geklink het – Genesis 3:15 – dit was die eerste keer toe die koms van God se Seun aangekondig is, tot en met die nag van Betlehem.

Die hele Ou Testamentiese periode was verwagtingstyd.

En op God se tyd het die beloofde Messias toe gekom.

Kerstyd is die volheid van die tyd.

Sedertdien eis God nie langer dat die kinders van sy volk besny word nie.

Die doel van die besnydenis was voltooi.

Nou ken ons die sakrament van die doop, wat danksy Jesus Christus gekom het.

 

Maar, gemeente, wat wel opvallend is uit wat ons gelees het in Lukas 2, is dat Jesus wel self besny is.

In die Ou Testament is elke babaseuntjie in God se volk op die agste dag besny.

Dit was die teken dat die kind in die verbond opgeneem het en dat God vir hom sou sorg.

‘n Klein stukkie vleis is afgesny.

Met hierdie operasie het daar bloed gevloei.

Maar nie soveel dat die baba gesterf het nie.

God het simbolies gesê: Eintlik moes al jou bloed gevloei het.

Eintlik moes jy sterf, omdat jy ook in sonde ontvang en gebore is.

Maar Ek is jou genadig.

Daar vloei maar net ‘n bietjie bloed.

En op my tyd sal Ek die Messias stuur.

Al sy bloed sal vloei.

En so sal Hy vir jou sondes betaal.

 

Maar hoekom moes die Here Jesus dan besny word?

Hy was mos nie sondig nie?

Tog het dit gebeur.

 

Ons Heiland is onder die wet gebore.

Daarom is Hy op die agtste dag besny.

Dis wat die wet aan alle Joodse seuntjies voorgeskryf het.

“’n Seuntjie van agt dae dan moet onder julle besny word, al wat manlik is in julle geslagte.” Genesis 17:12.

So is die teken van die verbond ook in Jesus se liggaam uitgesny.

Hy is ingelyf in die volk Israel – die volk waarmee God sy verbond opgerig het.

Daarna is Hy saam met sy ma gereinig, “volgens die wet van Moses” staan daar in Lukas 2:22.

Ook is Hy as eersgebore seun voor die Here gestel soos voorgeskryf staan in die wet van die Here – vers 23.

So het Josef en Maria al die pligte wat die wet hulle voorgeskryf het, nagekom.

Ook het hulle die opdrag van die engel nagekom, om hulle Seun nie te vernoem soos gebruiklik was nie, maar om Hom Jesus te noem.

En, dan lees ons in vers 39:

“toe hulle alles volbring het wat volgens die wet van die Here was, het hulle teruggegaan na Galilea”.

So is God se Seun dus gebore in die volheid van die tyd, gebore uit ‘n vrou, gebore onder die wet, soos daar in Galasiërs 4:4 staan.

Wat dit betref was Hy mens onder die mense.

 

Die oomblik toe Lukas die Evangelie opgeskryf het, was êrens na die hemelvaart van Christus.

En soos ons in Handelinge 15 lees, was dit redelik kort na die hemelvaart al duidelik dat dit nie God se wil was in die nuwe verbond dat die bekeerlinge uit die heidene ook besny moes word nie.

In Handelinge 15 lees ons ‘n brief wat die apostels en oudstes vanuit Jerusalem geskryf het aan die bekeerdes uit die heidene, o.a. in Antiochië.

Daarin staan duidelik dat die besnydenis nie vir hulle noodsaaklik was nie.

Maar in die Lukasevangelie kyk Lukas terug na die einde van die ou verbond.

Jesus is naamlik gebore in die allerlaaste fase van die ou verbond.

En daarom is Hy ook besny.

Die feit dat ons vandag nie meer besny hoef te word nie, dit het gekom omdat Jesus Homself juis onder die wet gevoeg het, en dus wel besny is.

 

Juis in sy besnydenis het Jesus al begin om sy taak uit te voer, die taak wat sy Vader Hom opgedra het, en soos dit in sy naam na vore kom.

Selfs as babaseuntjie van agt dae oud, het Hy al ons straf begin dra.

 

Hy is gebore binne die volk Israel.

Geografies in Betlehem, die stad van Dawid.

Maar ook juridies het Hy Homself gevoeg onder die wette wat God aan sy volk in die ou verbond gegee het.

Jesus, die Messias vir alle nasies is besny as ‘n Jood.

Dit moet duidelik wees dat die betekenis van die besnydenis ook met sy lewe te make het.

Maar dan nie dat aan Hom genade bewys is deurdat net ‘n bietjie bloed moes vloei nie.

Heel die offerkultus, al die bloed wat daagliks by die tempel gevloei het, sou in Hom tot vervulling kom.

 

Destyds het God die besnydenis gegee as teken van die verbond met Abraham.

Seuntjies van agt dae oud sou die besnydenis moes ondergaan.

God het voorlopig die bietjie bloed, wat by hierdie ritueel gevloei het, as genoegdoening aanvaar, alhoewel hierdie baba geen reg gehad het om te lewe nie.

Eintlik moes al sy bloed vloei.

Maar die Here het vir die kindjie gesê: Dis My genade dat jy mag leef, jy en jou nageslag.

Ek sal vir jou sorg.

Ek sal sorg dat daar eendag Een sal kom wat ook jou van jou sondes sal red.

Dit was die boodskap van die besnydenis.

 

Eintlik het die Here Jesus die besnydenis self nie nodig gehad nie.

Hy het geen sonde gehad nie.

Hy het ook nie by sy geboorte al die skuld van die erfsonde gehad nie.

Sy oorsprong as mens was nie uit ‘n mens nie, maar uit die Heilige Gees.

In Jesus se geval was dit glad nie nodig dat daar bloed moes vloei nie.

Die simboliek agter die bloed, naamlik dat Hy ook sy hart moes besny, was eweneens nie op Hom van toepassing nie.

Vir Hom was die oproep tot bekering nie nodig nie.

 

Tog het Jesus die besnydenis ontvang.

‘n Engel het nie nog ‘n keer aan Josef of Maria verskyn met die waarskuwing dat hulle nie vir Jesus mog besny nie.

Nee, Jesus het presies dieselfde ondergaan as elke Joodse seuntjie, volgens die eis van die wet.

Hy is gebore uit ‘n vrou, gebore onder die wet (Galasiërs 4:4).

Die ryke betekenis hiervan is, dat ons hierin die begin sien van sy Middelaarswerk.

Reeds die dag toe sy ouers hom Jesus genoem het, het Hy sy naam al begin waarmaak.

Daardie eerste bloedverlies was al die begin van al die kosbare bloed wat Hy later sou vergiet, om die sondes van die volk op Hom te neem.

Hy is die Middelaar tussen God en die mense, wat Homself gegee het as ‘n losprys vir almal.” (1 Tim 2:5)

 

Aan die een kant was daar geen verskil tussen Jesus en alle ander babaseuntjies nie, omdat Hy ook besny is.

Maar aan die ander kant was daar ‘n immense verskil.

Dit blyk uit die naamgewing.

Dit was besonder.

Net soos sy voorloper Johannes, word Hy nie vernoem nie, maar kry Hy die naam wat deur die engel meegedeel is.

Dit was al weer maande gelede, toe die engel aan Josef en Maria die opdrag gegee het om hierdie naam aan die seun te gee.

Jesus, wat beteken: Redder, Verlosser.

Uit hierdie opdrag blyk dat God direk betrokke was by hierdie geboorte.

Dit geld natuurlik vir die geboorte van elke kind, dat God direk betrokke is.

Maar by hierdie Kind is daar wel iets heel besonders aan die hand.

Watter ouers het naamlik al meegemaak dat ‘n engel aan hulle verskyn, aan die begin van die swangerskap, om te vertel hoe God wil hê dat die kind genoem moet word?

Dit is iets wat ouers nie meemaak nie.

Duidelik dat God ‘n spesiale plan met hierdie Kind gehad het.

‘n Plan vir Israel, ja selfs vir alle volke.

Eers vir die Jood, maar daarna ook vir die Griek.

Hy is Verlosser nie net vir hierdie volk nie, maar vir alle volke.

Dink aan die lofsang van Simeon in hierdie verband:

‘n Vors vir Israel, maar ook ‘n Lig vir alle volke.

So is Jesus se besnydenis en die naam wat Hy daar ontvang het, direk relevant vir jou en my lewe.

Daar het Hy al begin om ons sondes op Hom te neem.

 

2 Hy maak hierdie Naam waar tydens sy hele lewe

Vandag aan die nagmaal het ons ook dit herdenk, ja nie net dit wat aan die einde van Jesus se lewe op aarde gebeur het nie, maar heel sy lewe het in die lig van sy naamgewing gestaan, reeds ook sy besnydenis.

Aan die begin van sy lewe het daar ‘n bietjie bloed gevloei.

Aan die einde van sy lewe het Hy al sy bloed gestort.

Nie vir Homself nie, maar vir ons!

In ons plek is sy lewe geneem.

Hy het vir ons die straf gedra.

So het Hy sy eie naam eer aangedoen,

Reeds vanaf sy besnydenis, en tydens sy hele lewe.

Deur hierdie naam is daar vir ons redding!

Hy is ons Verlosser!

In Christus Jesus het nòg die besnydenis nòg die onbesnedenheid enige krag, maar die geloof wat deur die liefde werk (Galasiërs 5:6).

Jesus het ons besnydenis geword.

Deur sy kruisdood word ons sondige vlees, nie net die voorhuid nie, maar ook ons sondige hart, weggesny.

Dit gebeur elke keer as ons op grond van sy kruisdood vergewing van ons sondes vra.

Sy kruisdood is dus ons besnydenis.

Sy kruisdood is ons redding.

Sy bloed is vir ons lewewekkende water.

Toe Jesus as baba besny is, het sy Middelaarswerk begin.

 

Sy naam moes Jesus wees, want Hy sal sy volk red van hulle sondes.

Daardie opdrag het die engel aan Josef en Maria gegee.

In Mattheüs 1 aan Josef, in Lukas 1 aan Maria.

Hy gaan redding bring, bevryding, in die eerste plek van sondes.

Moenie dink hierdie is net ’n interpretasie van die evangelis Mattheüs nie, want as mens die ander evangeliste lees, dan beklemtoon hulle almal presies dieselfde.

Johannes sê byvoorbeeld: Kyk, die Lam van God, wat die sonde van die wêreld wegneem.

Dit was sy lewenstaak.

En Markus sê oor die voorganger van Jesus, Johannes die Doper: hy het die doop van bekering tot vergewing van sondes gepreek.

En die evangelis Lukas skryf: Hy sal baie van die kinders van Israel bekeer tot die Here hulle God.

Jesus bring dus redding van die sondes.

Sy hele lewenstaak word in sy Naam saamgevat.

Mens hoef maar net te blaai deur die res van die Mattheüsevangelie om te sien dat alles hierom draai.

Vandaar die woordewisseling, die verskil van mening met die Fariseërs.

Jesus bring geen nasionale of politieke bevryding nie.

Hy bring ook nie ’n luilekkerland vir die Jode nie.

Nee, Hy bring redding van die sondes.

Vergewing van die sondes.

Wie na Jesus kyk, word bewus van sy eie sondigheid.

Ons kan nie onsself red nie.

Ons kan net op Hom vertrou.

Maar Hy is alle vertroue werd.

Hy het sy naam gestand gedoen.

By niemand anders hoef ons ons saligheid te gaan soek nie.

 

Gemeente, broer, suster, buig daarom voor hierdie Naam bo alle name.

Sy Middelaarswerk is voltooi, Hy het sy naam eer aangedoen, van die begin tot die einde van sy Middelaarswerk op aarde.

In die hemel word sy Naam nou verheerlik met lofliedere.

En ook op aarde klink sy Naam in lofsange, noem sondaars elke dag sy naam in hulle gebede, om vergifnis te ontvang.

Verwag alles van hierdie naam.

Neem hierdie Verlosser met ‘n ware geloof aan.

In sy naam, in Hom, is daar alles wat vir jou saligheid nodig is.

Moenie dat ‘n dag verbygaan, waarin jy sy naam nie noem nie.

Dank Hom in die voorspoedige dae van jou lewe.

Skuil by sy naam in onweersdae.

Hou vas aan sy Naam en moenie die geloof in sy Naam verloën nie – Openbaring 2:13.

Tussen hakies, dit is opvallend gemeente, hoeveel keer ons in die Nuwe Testament die uitdrukking sy Naam lees.

Elke keer klink hierin saam die betekenis van hierdie Naam – Verlosser.

Daarin lê die kern van die Evangelie.

In sy Naam ontvang jy alles maar ook alles wat jy nodig het.

Daarom, leer sy naam ook vir jou kinders en kleinkinders.

Leer hulle dat by niemand anders enige saligheid te soek of te vind is nie.

Doop hulle in sy heerlike naam, sodat sy naam op hulle voorkoppe sal wees – Openbaring 22:4.

Kom self, en bring ook jou geliefdes elke Sondag na die plek waar julle lewe in sy Naam geseën word.

 

Amen.

 

Vrae na aanleiding van die preek:

Skriflesing: Lukas 1:26-33 & 2:21-40

Teks: Nav Heidelbergse Kategismus Sondag 11

Om hierdie preek te verwerk en uit elke aspek daarvan te leer, volg hier ‘n paar vrae. Die antwoord kan in die preek gevind word, en sommige vrae vereis ook persoonlike oordenking.

  1. Aan wie het die engel Gabriël die opdrag gee om God se Seun Jesus te noem, en by watter geleenthede.
  2. Wat is die Hebreeuse vorm van die naam Jesus? Het persone in die Ou Testament hulle naam ook waargemaak?
  3. Wat was die betekenis van die besnydenis in die Ou Testament?
  4. Hoekom is Jesus ook besny?
  5. Het Jesus se besnydenis met sy Middelaarstaak op aarde te make gehad?
  6. Mag ‘n ouer vandag vir sy kind die naam Jesus gee?

 

 

 

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 18:1

Gebed

Nagmaalsformulier (p30)

Gebed (afgesluit met sing van Onse Vader)

Nagmaalsviering

          Skriflesing: Lukas 1:26-33 & 2:21-40

          Sb 1:1 

Lofverheffing & Gebed

Teks: Nav Heidelbergse Kategismus Sondag 11

Preek

Sb 13:9 

Gebed

Geloofsbelydenis van Nicea

Sb 4:3

Kollekte

Ps 145:5,11,12 

Seën