O God, bly nie stil nie!

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Maranata
Date: 
2021-09-26
Text: 
Psalm 83
Preek Inhoud: 

Preek: Psalm 83

 

Het jy al ooit gebid: Here, moenie stilbly nie?

As jy dit gebid het, wat het jy eintlik van die Here verwag?

Waarop het jy gehoop, as die Here jou gebed sou verhoor?

Het jy verwag dat daar letterlik ‘n stem uit die hemel moes kom?

Of het jy verwag dat jy ‘n spesiale openbaring, ‘n visioen, of ‘n droom moes kry?

Of het jy gehoop dat jy die stem van die Here sal hoor, in die sin dat jou omstandighede skielik sou verander?

Byvoorbeeld dat ‘n siek familielid van jou nie sterwe nie, maar skielik gesond word?

Of dat nadat jy vir werk gebid het, jy die week daarna ‘n werk kry?

Kan ‘n mens sê dat jy in sulke gebeurtenisse die stem van die Here hoor?

 

In Psalm 83 vra Asaf ook: Here, moenie stilbly nie.

Swyg nie, o God!

Moenie Uself doof hou nie!

Nou wat het Asaf hiermee bedoel?

En op watter uitkoms het hy gehoop?

Hoe het hy verwag dat sy gebed deur God verhoor moes word?

Gemeente, dis waarna ons in vandag se preek oor Psalm 83 gaan kyk.

 

Tema: O God, bly nie stil nie!

1 Psalm 83 openbaar die HERE se stem in die verlede

2 Psalm 83 profeteer oor die HERE se stem in die toekoms

 

1 Psalm 83 openbaar die HERE se stem in die verlede

Die Psalm begin inderdaad wanhopig:

Drie keer roep Asaf dieselfde.

O God, swyg nie, moenie stilbly nie, moenie Uself doof hou nie!

Hierdie wanhoopskreet het te make met vyande reg rondom.

Asaf noem hulle: U vyande – God se vyande.

Maar dit is ook sy volk se vyande.

Want hulle smee listig planne teen God se verborgenes.

Verborgenes – dit wil sê – hulle wat by God veilig, geborge behoort te wees.

 

Asaf haal dan die vyand aan:

Kom, laat ons hulle vernietig.

Die plan is groot en brutaal.

Hulle wil Israel uitwis, ‘n hele volk se naam van die aardbodem wegvee.

En dit is nie net een vyand nie.

Verskillende nasies sluit saam ‘n verbond.

Asaf noem hulle: Edom, Ismael, Moab, die Hagareners, Gebal, Ammon, Amalek, Filistea, Tirus, selfs Assur sluit by hulle aan.

Dit is letterlik reg rondom:

Tirus in die noorde.

Ammon en Moab in die ooste.

Edom in die suide.

Amalek in die suidweste.

Filistea in die weste.

Noord, oos, suid, wes – alle kante.

En dan was daar Assur – Assirië – die grootmag, die wêreldryk, in die noordooste.

Hulle is ‘n arm vir die kinders van Lot – dit is Ammon en Moab.

Assur is ‘n arm vir hulle, dit wil sê, reik hulle die hand, is bereid om hulle te ondersteun in die vernietingsekspidiesie teen God se volk.

Assur help hulle, dalk met manskappe, dalk met die verskaffing van wapens.

Maar so ‘n grootmag wat ook tot die oorlog toetree, dit was ernstige sake.

Dink aan die grensoorlog in die voormalige Suidwes-Afrika en Angola.

Die feit dat Rusland wapens verskaf het aan die MPLA, het die oorlog veel groter en gevaarliker gemaak.

In elk geval, al hierdie nasies span nou saam teen Israel.

En wat nog ernstiger is, Asaf sê vir die HERE:

Hulle sluit ‘n verbond teen U!

Dis nie net haat en wrok teen ‘n volk wat op sig glad nie so ‘n magtige volk is nie.

Dit is opstand teen die lewende God, wat juis sy naam verbind het aan hierdie volkie, wat met hulle ‘n verbond gesluit het.

 

Die woord Sela in vers 9 dui waarskynlik op die oorgang na ‘n nuwe paragraaf, ‘n nuwe deel in die Psalm.

In die eerste deel het Asaf die kritieke situasie geskets.

Vanaf vers 10 roep hy die HERE op tot aksie.

Daarvoor gebruik hy verskillende voorbeelde, uit die verlede en uit die natuur.

Met die eerste oproepe verwys Asaf na die verlede.

Eerstens tydens die woestynreis en intog in Kanaän.

Onthou U, HERE, wat U met Midian gedoen het?

Nadat Mídian vir Israel met ‘n valstrik gevang het, met die hulp van Bileam, het die HERE wraak geneem op Midian.

Die HERE het hulle in Israel se mag gegee: Al die manlike persone is gedood, ook die konings van Midian, en ook Bileam is gedood (Num 31).

Asaf pleit of God nou dieselfde sal doen.

Tweedens tydens die Rigtertyd.

Asaf herinner die HERE aan Sisera, die leërowerste van Jabin.

Die HERE het dit so bestuur dat Sisera deur ‘n vrou gedood is.

Jael het ‘n tentpen deur sy kop gekap.

Ook het die HERE Jabin, die Koning van Kanaän, in Israel se hand gegee, en hy is gedood (Rigters 4).

Asaf stel dit baie sterk: Hierdie vyande het mis geword vir die grond – daar het niks van hulle oorgebly nie.

Dan, gaan Asaf voort, was daar Oreb en Seëb, twee vorste van die Kanaäniete (Rig 7:25).

Hulle is gedood, onthoof, en hulle koppe is na Gideon gebring.

Verder het Gideon vir Seba en Salmúna gedood (Rig 8:21).

 

Al hierdie vorste het gepoog om Israel weer uit die beloofde land weg te kry.

Vers 13 – hulle sê: Laat ons die woninge van God vir ons in besit neem.

Woninge kan hier dalk beter vertaal word met: weivelde – soos die 2020-vertaling dit doen.

Laat ons die weivelde van God in besit neem.

Die weivelde van God, bedoelende, die weivelde wat God aan sy volk gegee het.

 

Om saam te vat, tot dusver het Asaf ‘n paar voorbeelde uit die verlede opgediep, telkens hoe die HERE vyandige vorste, vyandige nasies uitgeskakel het.

So pleit Asaf by die HERE: Doen tog nou dieselfde met hierdie onheilige verbond van heidennasies wat hulle gesmee het teen U en u volk.

Broer, suster dit kan ons leer uit hierdie Psalm vir ons eie gebede.

Verwys jy in jou gebed ook na die verlede, na wat God in die verlede gedoen het?

Pleit jy daarop, dat God net so in die hede sal doen?
Dat God wat wonders van uitredding in die verlede verrig het, dit ook vandag sal doen?

 

Vanaf vers 14 gebruik Asaf beelde uit die natuur, en hy gaan voort om by God te pleit.

My God, maak hulle soos strooi, soos stoppels voor die wind.

Dit behoef geen uitleg, dit is duidelik.

Laat daardie nasies wegwaai.

Die 2020-vertaling het vertaal: Maak hulle soos tolbosse.

 

Maak hulle soos vuur wat ‘n bos verbrand.

‘n Vlammetjie wat berge aan die brand steek.

Vervolg hulle met u storm, verskrik hulle met u stormwind.

 

Nou Asaf gebruik nie toevallig sulke beelde uit die natuur nie.

Want hy weet dat in die verlede die HERE ook so vir sy volk gestry het, deurdat Hy die kragte van die natuur ingespan het.

Die skeppingswonders in Egipte, die Skelfsee, die Jordaanrivier ...

Watervloede en hael in die Rigtertyd, noem maar op.

As God wil, kan Hy die skepping inspan tot behoud van sy kinders.

 

Asaf sluit die Psalm af deur te verduidelik hoekom God al hierdie dinge moet doen.

Uiteraard is die doel om sy eie volk te red, te beskerm, die dreiging weg te neem, vir hulle weer rus en vrede te gee.

Maar hier aan die einde noem Asaf dit nie eksplisiet nie.

Daar is wel iets anders wat hy noem.

God moet die vyande met skande oordek, hulle beskaamd en verskrik maak, sodat hulle u Naam sal soek!

En dan noem Asaf vir die eerste keer in die Psalm God se Verbondsnaam: HERE – Jahweh.

Asaf bid dat hierdie vyandige nasies tot die erkenning sal kom dat hierdie God, wie se Naam HERE – Jahweh – is, dat Hy alleen die Allerhoogste is oor die hele aarde.

 

Hiermee sluit Asaf sy Psalm dus af.

Die doel van sy gebed is nie primêr die uiterlike rus en vrede van Israel nie.

Maar sy doel is die erkenning van die HERE.

Dat daar geen ander God is nie.

En dat daardie heidennasies – Edom, Ismael, Moab, die Hagareners, Gebal, Ammon, Amalek, Filistea, Tirus, selfs Assur – dat hulle ook tot daardie erkenning sal kom.

Israel se uitredding het dus nie as eerste doel hulle vrede en welvaart nie, maar die erkenning van die HERE se Naam as die Allerhoogste, en dit nie net deur sy eie volk nie, maar deur die hele aarde.

 

Gemeente, in hierdie Psalm sien ons dat Asaf besef hoekom God juis vir Israel sy volk gemaak het.

Nie omdat Israel beter was, of groter of magtiger nie.

Maar Hy het hulle gekies om draer van God se Woord te wees, sy beloftes, om ‘n lig vir die wêreld te wees!

En daarom dat Asaf nou so ernstig bid dat die HERE vir Israel sal bewaar, net soos daardie benoude kere uit die verlede.

Want as al hierdie nasies hulle sin sou kry om Israel van die aardbodem af te vee, wat sou dan van God se beloftes word, van God se opdrag dat Israel juis ‘n lig vir die nasies moes wees, juis omdat hulle die Torah ontvang het?

Die HERE se eie Naam, sy eie eer, sy eie beloftes staan op die spel.

En agter die monsterverbond van nasies wat teen Israel opruk, skuil nie net die begeerte na Israel se grondgebied, Israel se weivelde, nie – op sig was daardie weivelde eintlik nie soveel as dit tussen al daardie nasies verdeel moes word nie.

Maar agter hierdie monsterverbond het Satan gestaan, met as enigste doel om hierdie volkie van die aardbodem te verwyder, omdat Satan geweet het dat hulle draer van die belofte was, van die koms van ‘n Heerser – ‘n Ster soos Bileam al geprofeteer het – wat sy kop sal vermorsel (Gen 3:15).

Hier is nie net ‘n stryd gaande oor grondbelange, oor weivelde nie.

Hier is ‘n stryd tussen die geeste in die lug.

Wat Paulus vir die Efesiërs geskryf het, het ook vir Asaf en die verbondsvolk gegeld: “ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar ... teen die bose geeste in die lug.” (Ef 6:12)

Met die bede: Laat hulle u naam soek, o HERE – bid Asaf dat hierdie heidennasies verlos word uit die magte van Satan.

Dat hulle tot erkenning mag kom dat Hy – wie se Naam HERE is – alleen Allerhoogste oor die hele aarde is.

 

Dit, broer en suster, kan ons ook uit hierdie Psalm leer vir ons eie gebede.

Bid jy ook vir jou vyande?

Bid jy dat hulle die Naam van die HERE sal erken, dat hulle sal bely dat Hy die Allerhoogste is oor die hele aarde?

Draai jou gebed net om jouself en jou eie belange?

Of dra jy ‘n wêreld in nood aan God op?

En bid jy selfs dat Hy jou vyande tot besinning sal bring?

 

(Tema: O God, bly nie stil nie!

1 Psalm 83 openbaar die HERE se stem in die verlede)

 

2 Psalm 83 profeteer oor die HERE se stem in die toekoms

Nou is Asaf se gebed in Psalm 83 verhoor?

Ja, dit is!

Daar sal meerdere voorbeelde gewees het.

Dink byvoorbeeld aan hoe Assirië in die dae van koning Hiskia en van die profeet Jesaja nie vir Jerusalem kon verower nie (2 Kon 19; 2 Kron 32).

Met ‘n magtige leër is die stad toe omsingel.

Maar sonder dat Jerusalem enigsins hoef te geveg het, het die HERE ‘n engel in die laer van die Assiriërs laat uittrek, wat in een nag honderd-vyf-en-tagtig-duisend verslaan het.

Sanherib, koning van Assirië, het onverrigter sake teruggetrek na sy stad Ninevé.

Het die vyand toe erken dat die HERE die Allerhoogste God is?

Ja hulle het!

Ons lees in 2 Kronieke 32:

“En die HERE het Jehiskia en die inwoners van Jerusalem verlos uit die hand van Sanherib, die koning van Assirië, en uit die hand van almal, en hulle rondom tot rus gebring. En baie het geskenke aan die HERE na Jerusalem gebring ...” (vers 22-23)

So het die HERE sy eie Naam groot gemaak op aarde, en ook die naam van sy gesalfde koning, Hiskia, en ook die naam van sy verbondsvolk.

 

Maar, gemeente, Asaf se gebed in Psalm 83 is nog veel meer verhoor in die Messias, ons Here Jesus Christus.

Ook teen Hom het alle magte saamgepak, uit die noorde, ooste, suide en weste.

Handelinge 4:27: “Want waarlik, Herodes en Pontius Pilatus het saam met die heidene en die volke van Israel vergader teen u heilige Kind Jesus wat U gesalf het”.

Satan het al die wêreldse magte ‘n monsterverbond laat sluit teen God se Gesalfde.

Maar hulle mag is gebreek.

God het nie stilgebly nie.

Psalm 83 se gebed is beantwoord.

Christus het al die magte te skande gemaak, hulle beskaamd laat afdruip.

En die dood se kop het Hy vermorsel, en Satan het Hy uit die hemel gewerp, en die dag sal kom dat Hy Satan se kop vergoed sal vermorsel.

Vanuit die hemel het Hy, die Almagtige, sy Gees uitgestuur.

En met sy Gees gaan die boodskap van redding die wêreld in.

Ja God bly nie stil nie.

Sy Evangelie klink die wêreld oor!

In Handelinge lees ons hoe die apostels nie net na die Jode gegaan het met die reddingsboodskap nie, maar ook na die heidene.

Die apostels het ook deur die gebiede getrek van daardie nasies, oor wie ons in Psalm 83 lees.

Ook uit Edom, Ismael, Moab, die Hagareners, Gebal, Ammon, Amalek, Filistea, Tirus, en Assur het daar Christene gekom, mense wat die Evangelie met blydskap aanvaar het, wat voortaan ook Psalm 83 begin sing het, wat ook tot die erkenning gekom het dat die HERE die Allerhoogste is oor die hele aarde.

Ja Edomiete, Ismaeliete, Moabiete, Hagareners, Gebaliete, Ammoniete, Amalekiete, Filistyne, Tiriërs, Assiriërs is ook gedoop, hulle en hulle kinders, en ook hulle het die Naam van die HERE begin aanroep, ook hulle het in dankbaarheid in sy diens begin lewe.

So is die bede van Asaf in Psalm 83 vervul!

 

Gemeente, daar is dae wat ons ook soos Asaf kan voel, en met reg.

Ek bedoel al die bedreigings wat rondom Christus se kerk versamel, en haar van alle kante bedreig.

Hier in ons land is daar baie kerke wat krimp.

Hulle verloor die stryd teen die bose geeste in die lug.

Mense onttrek uit die kerk, mense is dalk nog in naam lid, maar kom nooit meer kerk toe nie.

Jongmense word op skool en universiteit geïndoktrineer met ewolusionisme, atheïsme, feminisme, rassisme, noem maar op.

Ideologieë wat hulle geloof probeer dood maak.

Dan is daar die wat ontnugterd is, omdat die kerk in die verlede politieke beleid met die Bybel verdedig het, ‘n politieke bestel wat nou nie meer daar is nie.

En dan is daar vandag kerke wat vandag se nuwe denkrigtings probeer verdedig.

Dan is daar die welvaartsafgod, mense het die kerk nie meer nodig om werk te kry, om armoedeverligting te kry, nie.

Of bloot, mense het so ryk geword, hulle kom tyd te min om hulle geld uit te gee, om lekker dinge te doen.

Sondag is nie meer vir kerk toe gaan nie, die naweek is vir lekker dinge doen.

Naweke is om stokperdjies, waarvoor daar soveel geld uitgegee word, te beoefen.

Of mense ag hulle bloedfamilie belangriker as hulle geloofsfamilie.

Kuiers met familie en vriende skuif erediensbywoning aan die kant.

Of al die meeslepende televisieprogramme, sepies of sporttoernooie, wat ons deesdae kan volg vanuit ons gemaklike sitkamerbanke op televisies wat al hoe groter word.

Wie is dan nog lus om op te staan en kerk toe te gaan, of Bybelstudie toe, of gemeentevergadering toe?

Al hierdie dinge is nie net in ons land ‘n probleem nie, die hele Westerse wêreld het daarmee te make.

Broer, suster, klink hierdie dinge vir jou bekend?

Ervaar jy ook soortgelyke situasies in jou lewe?

Ervaar jy die totale aanslag van die Satan?

Voel jy in sulke dinge hoe die Satan probeer om jou weg te lok?

 

Hierdie toestand is eintlik nog erger as wat ons in Psalm 83 kry.

Daar vind ons ‘n magtelose volkie, maar wat ten minste by die HERE hulp soek.

In ons tyd sien ons egter hoe mense die diens aan al hierdie afgode kombineer met hulle Christenskap.

Ja sommiges sal openlik die naam van die HERE verloën – soos mense wat hulleself atheïste noem.

Maar baie sal dit nie openlik doen nie, maar naas die HERE nog ander afgode in hulle lewe dien, al noem hulle daardie dinge dalk nie afgode nie.

 

Al met al is ‘n gebed soos Psalm 83 net nog nodiger vir ons haglike tye.

‘n Gebed dat God tot nie sal swyg, stilbly, niks van Homself laat merk nie.

‘n Gebed dat God mense se oë sal oopmaak vir die sinneloosheid om hierdie afgode met hulle lewe te dien.

‘n Gebed dat God weer die begeerte in mense se harte sal wakker maak om na sy Naam te soek, Hom van harte te dien.

 

Maar uit Psalm 83 se vervulling in Christus put ons ook troos.

Ons kry perspektief in hierdie lewe, met al die vyande rondom ons.

Jesus het gesê: “As die wêreld julle haat, moet julle weet dat hy My voor julle gehaat het.” (Joh 15:18)

As God se kinders moet ons besef wat om ons aangaan.

In alle beproewinge, alle versoekinge moet ons raaksien wie daaragter sit.

Of dit, soos Luther dit genoem het, versoekings is wat van links kom, of van regs.

Van links – swaar dinge, moeilike dinge wat op jou afkom – siekte, werkloosheid, konflik, verlies van ‘n geliefde.

Maar ook van regs – juis lekker dinge, rykdom, gesondheid, vriende, voorspoed.

Van links en van regs, van voor en van agter, stuur Satan sy vyande op ons af.

Tog hoef ons nie benoud te raak nie.

Wie by sy Naam skuil – die Naam HERE – Jahweh – waarmee Psalm 83 afsluit;

en wie by die Naam bo alle name skuil, wat in die Nuwe Testament aan ons geopenbaar is – Jesus Christus God se Seun – wie by Hom skuil, staan sterk.

Want Hy het alle “magte uitgeklee en hulle in die openbaar tentoongestel en daardeur oor hulle getriomfeer” (Kol 2:15)

Of met Psalm 83 se woorde: Hy het hulle beskaamd laat staan.

Ja Hy, Christus, is gestel “bo alle owerheid en mag en krag en heerskappy en elke naam wat genoem word, nie alleen in hierdie wêreld nie, maar ook in die toekomstige.” (Ef 1:21)

Daarom, hou moed, geliefde gemeente, al voel julle so kwetsbaar, want julle Hoof en Heiland het oorwin.

Johannes 16:33: “hou goeie moed, Ek het die wêreld oorwin.”

Sy oorwinning waarborg ons oorwinning.

 

Gemeente, die grootste en vyandigste monsterverbond moet nog gesluit word.

Ons lees daaroor in Openbaring 20.

Dan sal die Satan uitgaan om die nasies te verlei wat in die vier hoeke van die aarde is, die Gog en die Magog, om hulle te versamel vir die oorlog, en hulle getal sal wees soos die sand van die see.

Hulle sal opkom oor die breedte van die aarde en laer opslaan rondom Christus se gemeente.

In feite is die Satan nou in die hede al besig om voor te berei vir daardie beslissende stryd, daardie Armageddon.

Hy is nou al besig om die een na die ander aardse mag in sy monsterverbond in te trek.

So is hy besig, al intenser, al desperater, om Christus se gemeente van die aarde af te probeer wegvee.

 

Twee verbonde, wat lynreg teenoor mekaar staan.

Die monsterverbond en die genadeverbond.

Die gemeentejie mag kwetsbaar en totaal nie opgewasse lyk teenoor Satan se monsterverbond nie.

Maar die gemeente word gedra deur die genadeverbond, wat vas en stewig staan in Christus.

Ons lees ook in Openbaring 20: “vuur het van God uit die hemel neergedaal en hulle verslind. En die duiwel wat hulle verlei het, is in die poel van vuur en swawel gewerp” (Open 20:9-10).

Asaf het wanhopig gevoel, ook ons het tye wat ons regtig wanhopig voel.

Maar dan kan ons weer opkyk na Hom, wie se Naam bo alle name is, Christus wat alleen die Allerhoogste is oor die hele aarde.

Sy oorwinning is ook ons oorwinning.

 

Amen.

 

Voedingsriglyne:

Om hierdie preek te verwerk en uit elke aspek daarvan te leer, volg hier ‘n paar vrae. Die antwoord kan in die preek gevind word, en sommige vrae vereis ook persoonlike oordenking.

  1. Op watter maniere hoor ons God se stem in ons lewe?
  2. Hoekom wys Asaf in Psalm 83 op verskillende kere toe God sy volk deur wonders gered het van vyande?
  3. Wat was die doel van die monsterverbond van verskillende nasies teen Israel, waaroor ons in Psalm 83 lees?
  4. Noem voorbeelde hoe Psalm 83 deur God verhoor is.
  5. Wat bedoel Luther met versoekings van links en van regs?
  6. Wat is die grootste en vyandigste monsterverbond wat nog gesluit moet word teen God se volk?

 

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 4:1,2

Wet

Ps 4:3,4

Gebed

Skriflesing: Psalm 83

Ps 83:1-3

Teks: Psalm 83

Preek

Ps 83:4

Gebed

Kollekte

Ps 87:1-5

Seën