‘n Loflied oor ‘n droewige geskiedenis, maar ook oor ‘n troue Held

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Maranata
Date: 
2021-09-19
Text: 
Psalm 106:47-48
Preek Inhoud: 

Preek: Psalm 106:47-48

 

Psalm 106 begin en eindig met die woord Halleluja.

Normaalweg sing ons ‘n uitbundige loflied as daar ‘n rede is om bly te wees:

Op dankdag, op Paasfees, op Kersfees, met ‘n huwelik, met ‘n doop, met ‘n verjaarsdag, noem maar op.

Psalm 106 is egter anders.

Hoewel dit met ‘n Halleluja begin en eindig, fokus die res van die Psalm byna uitsluitlik op ons sondes, hardkoppigheid, ongehoorsaamheid, gebrek aan vertroue.

Hoe is dit moontlik dat jy daaroor ‘n loflied kan sing?

Wel, dit hoop ons in vandag te preek te sien, dit is slegs moontlik as mens besef dat hierdie uitgerekte skuldbelydenis terselfdertyd ‘n loflied is op God se verbondstrou.

 

Tema: ‘n Loflied oor ‘n droewige geskiedenis, maar ook oor ‘n troue Held

 

Daar staan nie by hierdie Psalm wie dit gedig het nie.

Wel begin die digter persoonlik.

Vers 4: Dink aan my, o HERE, besoek my met u heil.

Vers 5: sodat ek die geluk van u uitverkorenes kan aanskou.

Maar wat opval, is dat die persoonlike bedes van die digter heeltemal vervleg is met die wel en wee van God se volk.

Dit is kenmerkend aan die verbond.

Lewe in die verbond – dit is mos die tema wat ons hierdie jaar behandel.

Die bede dat die HERE hom nie sal vergeet nie, motiveer die digter deur te wys op God se welbehae vir sy volk.

Die geluk van God se uitverkorenes maak hom ook gelukkig.

Die blydskap van sy verbondsvolk maak hom ook bly.

In vers 5 is die woorde uitverkorenes, volk en erfdeel sinonieme.

As ons die woord uitverkorenes hoor, dink ons dalk aan daardie mense wat tot die ewige lewe uitverkies is.

En soos ons weet, nie almal in God se volk was uitverkies nie, net soos nie elkeen in die kerk uitverkies is nie.

Hierdie is die betekenis wat die woord uitverkorenes in die dogmatiek gekry het.

Tog is dit eksegeties nie korrek om daardie betekenis nou in vers 5 in te lees nie.

Soos ek genoem het, die woord uitverkorenes funksioneer hier as sinoniem vir heel God se verbondsvolk.

Die woord verwys spesifiek na ‘n ander uitverkiesing, naamlik na die feit dat God daardie volk uitgekies het om ‘n spesiale opdrag op aarde te vervul in die tyd van die Ou Testament.

En, soos genoem, die digter se wel en wee is heeltemal vervleg met God se volk.

Wanneer hy geleef het, staan nie eksplisiet in die Psalm nie.

Die woorde in ons teks: “versamel ons uit die nasies” kan daarop dui dat hy na die ballingskap geleef het.

Skynbaar was God se volk verstrooid onder die nasies.

Die noordelike ryk, die tien stamme, is deur die Assiriërs in ballingskap gevoer, hulle is letterlik verstrooi na orals en nêrens.

Die suidelike ryk, Juda en Benjamin, is deur die Babiloniërs in ballingskap weggevoer.

‘n Res van hulle het na sewentig jaar weer teruggekeer.

Maar die grootste deel van hulle is ook verstrooi onder die nasies.

Was dit die einde van die verbondsvolk?

Die digter bid dat die HERE sy verbondskinders weer sal versamel.

Die woord HERE word in die psalm gebruik, God se verbondsnaam.

Ek is wat Ek is, Ek is betroubaar, beteken dit.

Deur die eeue het Hy nie verander nie, en daarop pleit die digter.

Dit wat Hy eeue gelede gedoen het om sy verbond in stand te hou, daarop pleit die digter.

En dit is wat ons in die groot middeldeel van die Psalm vind, naamlik ‘n uitgebreide terugblik op die verlede.

 

Maar voordat ons daardeur gaan, noem ek net die hooflyn, die les wat die digter daaruit leer, naamlik:

Die volk was soveel keer afvallig.

Keer op keer het hulle die HERE geterg – daardie woord word letterlik gebruik – sien vers 29.

Keer op keer het die HERE toornig geword.

Maar keer op keer het die HERE redes in sy verbondstrou gevind om weer medelye te hê.

 

Kom ons kyk kortliks na die geskiedenis wat die digter uit die verlede ophaal.

Dit vorm nie verniet die grootste deel van die Psalm nie.

Die digter beskryf dit vir ons om kennis daarvan te neem, om daarvan te leer.

Ook die manier waarop hy die geskiedenis beskryf, is leersaam.

Dikwels beskryf ‘n volk sy geskiedenis as ‘n aaneenryging van heldedade.

Op skool het ek in geskiedenis oor Jan van Riebeeck en oor die Voortrekkers geleer as helde, wat amper niks verkeerd gedoen het nie.

Deesdae word Mandela en die ‘struggle-helde’ beskryf as mense wat helde was.

Wat egter uitstaan in die Bybelse geskiedskrywing is hoe krities dit oor die volk se verlede is.

Hierdie digter, maar nie net hy nie, dink ook aan die groot geskiedenisboeke Samuël, Konings, Kronieke.

Wat dit betref is die Bybelse geskiedskrywing uniek, in hoe dit die verlede blootlê as ‘n droewige geskiedenis, met al sy menslike mislukkings, maar ook met God se steeds voortdurende verbondstrou.

 

Die digter begin by Egipte.

Hy beskryf hoe die vaders in Egipte gesondig het.

Maar dan nie al hoofskuddend oor hoe die vaders so onnosel kon gewees het nie.

Eksplisiet noem hy: Ons het gesondig, saam met ons vaders.

Hulle het nie ag gegee op al God se wonders in Egipte nie.

Dit het wel geblyk uit hulle kleingeloof, die oomblik toe hulle aan die rand van die Skelfsee kom.

As hulle werklik onder die indruk was van sy wonders in Egipte – dink aan al die water wat in bloed verander het, dink aan die haelstene, om maar net twee wonders te noem, dan was daar mos nie rede om wanhopig te raak, om in opstand te kom, toe hulle by die Skelfsee aankom nie.

Want uit daardie twee wonders het mos geblyk dat hulle God in beheer is oor die waters, die waters in riviere, en al die waters in die lug.

Dan sou Hy mos ook ‘n plan kon maak met die waters van die see?

Tog het die HERE, om sy Naam ontwil, om sy mag te toon, hulle nie vir daardie houding toe gestraf nie, maar hulle verlos.

Poëties word in verse 9-11 beskryf hoe die volk deur die see gelei is, maar hoe die vyande verdrink het.

Hierdie wonderdaad het gelei tot ‘n opwelling van geloof onder die volk, ‘n opwelling van lofsang, aan die oorkant van die see.

Maar, dit was maar van korte duur.

Gou het hulle weer sy dade vergeet.

Dat daar in die verbond ook gestraf kan word, het hulle toe agtergekom.

Hulle opstandigheid teen die HERE, hulle onvergenoegdheid met hulle omstandighede, het hulle teen mekaar laat ontbrand.

Hulle was jaloers op Moses en Aäron – waarom moes die hulle leiers wees?

Waarom moes hulle deur die woestyn trek, ‘n plek waar hulle nie wou wees nie?

Mense soos Datan en Abiram het openlik in opstand gekom.

En by Horeb het die volk voor ‘n kalf gebuig.

Die digter praat nie van ‘n goue kalf nie, maar denigrerend van ‘n bees wat gras heet.

So het hulle God vergeet en die groot dinge wat Hy gedoen het.

Hulle houding het tot straf gelei, daar het dooies geval, baie dooies.

Die HERE het so moedeloos geraak, dat Hy selfs die hele volk wou verdelg.

Moses het vir hulle in die bres getree, om die vernietigende toorn af te weer.

Hierdie episode is vir ons een van die raaisels in die Bybel.

Hoe kon God soiets van plan wees, Hy wat in sy ewige raadsplan ander planne vir die volk gehad het?

Hoe kon ‘n mens God op ander gedagtes bring?

Onbegryplik vir ons.

Dit kom neer op die vraag watter verband daar is tussen God se verbond aan die een kant en sy ewige raad en uitverkiesing aan die ander kant – ‘n verband wat ons nie kan deurgrond nie.

Of was dit ‘n pedagogiese les wat God vir die volk en vir Moses wou leer?

Dat Hy daardie so ernstige woorde, naamlik om die volk te verdelg, nie gemeen het, maar wel gebruik het om die volk en Moses op die erns van die saak te wys?

Ons weet nie presies nie.

 

Wat ons wel uit hierdie episode kan leer, is hoe dinamies die verbond is, dit is ‘n lewende verhouding.

Die volk se gehoorsaamheid en ongehoorsaamheid het gevolge.

Die eis en bedreiging van die verbond is realiteit.

Die HERE het sy volk in staat gestel om Hom alleen te dien, deur met al sy wonderdade hulle uit slawerny te bevry.

Maar nou hulle ondankbaar is en teen Hom kies, terwyl Hy alles gedoen het vir hulle om Hom lief te hê, nou kom die verbondstraf ook in aksie.

 

Ook toe die beloofde land in sig kom, het die vertroue en dankbaarheid agterweë gebly.

Hulle het selfs die HERE vir die afgod Baäl-Peor verruil.

In vers 28 staan: hulle gekoppel, of verbind aan Baäl-Peor.

Verbind is ‘n verbondswoord.

Die verbinding met Baäl-Peor het hulle verkies bo hulle verbinding met die HERE.

Weer het die HERE gestraf, daar het ‘n plaag onder die volk uitgebreek.

Hierdie keer het Pinehas opgetree as reformator, om die volk weer na die HERE terug te lei.

 

Die Psalmis gaan voort met sy lys van opstandighede.

Inderdaad, uit sy geskiedskrywing blyk sy pessimisme, pessimisme altans oor die volk, oor sy voorvaders.

Hy noem die waters van Meriba, waar daar aanvanklik geen water was nie – Numeri 20.

Waar die volk met Moses getwis het:

Waarom het julle ons uit Egipte laat optrek?

Waarom in hierdie slegte plek gebring?

Hierdie keer was Moses so gefrustreerd, dat hy buite sy boekies gegaan het as leier.

 

Vervolgens spring die digter na die tyd van die Rigters, toe die volk reeds in die beloofde land was.

Toe het hulle die volke daar nie verdelg het, soos die HERE aan hulle opdrag gegee het nie.

Hulle het selfs met die heidene vermeng, en hulle afgode begin dien.

Hierdie afgodediens was nie iets onskuldigs nie, dit het vir hulle ‘n valstrik geword.

Want die offers aan die afgode het ingehou dat hulle hulle eie seuns en dogters moes offer – letterlik.

So is die land deur bloedskuld besoedel.

Bloedskuld verwys na ‘n oortreding wat die dood verdien.

 

In vers 40 staan ernstige woorde:

Die HERE se toorn het ontvlam teen sy volk.

Hy het selfs ‘n afsku gekry van sy erfdeel.

Daarom het Hy die heidene toegelaat om oor hulle te heers.

 

 

Gemeente, tot sover ‘n ry voorbeelde wat die digter uit die verlede opdiep.

Inderdaad, alles behalwe ‘n heldegeskiedenis, eerder ‘n droewige geskiedenis.

Eerder ‘n volk wat gedoem was om onder te gaan.

Vers 43 maak bestek op met hierdie konklusie:

Al het Hy hulle baiekeer gered, het hulle weggesink in hulle sondeskuld.

Kan dieselfde nie ook oor jou en my gesê word nie?

En oor die geskiedenis van die kerk?

 

Geen heldegeskiedenis nie.

Is dit dan die einde van die verbondsvolk?

Nee, dit is nie die Psalm se boodskap nie.

Juis die geskiedenis van hierdie opstandige volk het die digter geleer dat God se barmhartighede telkens weer roem teen die oordeel (Jak 2:13).

Dat daar ‘n oomblik is in sy toorn, maar ‘n lewe in sy goedgunstigheid (Ps 30:6).

“Vir 'n klein oomblik het Ek jou verlaat, maar met groot ontferminge sal Ek jou vergader.” (Jes 54:7)

So sluit die digter af deur een Held te beskryf.

Die woord “nogtans” in vers 44 beskryf hoe die HERE is.

Deur die eeue was dit ‘n aaneenskakeling van episodes waarby hierdie woord telkens ter sprake gekom het: nogtans, nogtans, nogtans ...

Hy het hulle benoudheid aangesien.

Hy het hulle smeking gehoor.

Hy het tot hulle beswil aan sy verbond gedink.

Hy het berou gekry.

Daar was ‘n oorvloed aan sy goedertierenhede.

Hulle kon telkens weer by Hom medelye vind.

 

Ja een Held – die troue Verbondsgod.

En dit is dan ook na hierdie Held waarheen die digter in die hede vlug.

Verlos ons, HERE onse God.

Versamel ons uit die nasies.

Maak U dit weer vir ons moontlik om U te kan loof.

Werk U in ons harte weer die begeerte om te roem in U.

Laat ons lesse leer uit die geskiedenis.

Laat ons besef: Die strawwe gaan nie buite U om nie, al is dit nie u skuld nie.

U gee ons oor aan onsself, aan die gevolge van ons eie dade.

En as ons onsself so vasgeloop het in ons eie ellende, leer U ons daaruit om te skreeu vir hulp, om ons magtelose en leë hande na U uit te steek.

En die oomblik as ons, as God se kinders dit doen, dan sal sy arm nooit te kort wees om te red nie.

In ons teks herinner die digter God aan sy eie belofte, as hy pleit: versamel ons uit die nasies.

Hy het dit mos beloof dat sodra daar berou is, dat Hy vinnig sal wees om uit te red.

Dink aan sy belofte in Deuteronomium 30: as “jy jou tot die HERE jou God bekeer en na sy stem luister ... jy en jou kinders, met jou hele hart en met jou hele siel, dan sal die HERE jou God jou lot verander ... Hy sal jou weer versamel uit al die volke waarheen die HERE jou God jou verstrooi het. Al was jou verstrooides aan die einde van die hemel, daarvandaan sal die HERE jou God jou versamel, en daarvandan sal Hy jou haal haal.” (vers 2-4)

Ja die arm van die HERE is nie te kort om te red nie.

 

Soos ek aan die begin van die preek genoem het, begin en eindig hierdie Psalm met die woord Halleluja.

Normaalweg sing ons ‘n uitbundige loflied as daar ‘n rede is om bly te wees:

Op Dankdag, op Paasfees, op Kersfees, met ‘n huwelik, met ‘n doop, met ‘n verjaarsdag, noem maar op.

Psalm 106 is egter anders.

Hoewel dit met ‘n Halleluja begin en eindig, fokus die res van die Psalm byna uitsluitlik op ons sondes, ons hardkoppigheid, ongehoorsaamheid, gebrek aan vertroue.

Hoe is dit moontlik dat jy daaroor ‘n loflied sing?

Wel, dit het ons in vandag se preek gesien, dit is slegs moontlik as mens besef dat hierdie uitgerekte skuldbelydenis terselfdertyd ‘n loflied is op God se verbondstrou.

Hierdie Psalm roep ons op om die geskiedenis nie te verheerlik nie, maar eienaarskap te neem van ons en ons voorvaders se sondes, hardkoppigheid, ongehoorsaamheid, gebrek aan vertroue.

Dit is opstand teen ons lojale Verbondsgod.

Dit bedreig die voortbestaan van die kerk voortdurend.

God moet ons van ons eie ontrou red.

Elkeen van ons is geneig om presies dieselfde sondes te pleeg wat hierdie Psalm noem:

Ongeloof, opstand, begeerte na wêreldse plesier bo God, die dien van afgode, om te kla en te beskuldig in tye van beproewing, om God se gawes gering te skat, om selfsugtig te wees.

 

Maar teen hierdie donker agtergrond roem die Psalm in God se verbondstrou en redding.

Dit is die refrein van die lied, oor en oor: Ons het gesondig, maar God was genadig en het uitgered.

Die lys van sondige episodes in hierdie Psalm kan maklik verdubbel, ja vertienvoudig word, nie net in Israel se geskiedenis nie, ook in ons eie lewe.

Oneindig veel voorbeelde.

Net so is daar in jou persoonlike lewe ‘n opeenstapeling van sondigheid, kleingelowigheid, gebrek aan vertroue uit die verlede.

En dieselfde geld vir die kerklike verlede.

Maar net soos in Psalm 106 is dit nie ‘n teken van swakte om die foute uit die verlede te erken nie.

‘n Kerk wat oog het vir sy foute uit die verlede en dit ook erken, so ‘n kerk staan sterk.

Die van u wat meegewerk het aan die Gedenkbundel verlede jaar – 70 Jaar VGKSA – en elkeen wat ‘n eksemplaar gekoop het, sal weet:

Ons kerklike geskiedenis is vol sondes, vol hardkoppigheid, vol gebrek aan vergewingsgesindheid.

Om dit te erken is nie ‘n swakte nie, dit laat jou juis sterk staan.

Want des te meer verbaas ons ons oor wat die Here gedoen het.

Die feit dat die kerk nog daar is, dat dit groei en bloei, is enkel sy genade – sola gratia!

Net so leer hierdie psalm jou en my om oop te maak oor jou sondige verlede.

Juis daardeur skitter Christus se vergewing soveel meer.

Net soos die Psalm ‘n opeenstapeling van sondes is, so is jou en my lewe ook, so is die kerklike lewe ook.

Maar tog begin en eindig die Psalm met ‘n halleluja.

Net so werk die Heilige Gees ‘n loflied, ‘n halleluja, vandag in sy gemeente.

Wat ‘n voorreg om deel van daardie koor te wees.

 

Al rede hoekom ons nog verbondskinders is, hoekom die kerk nog bestaan, is omdat God trou is.

Alleen danksy sy Seun, Christus, waarin Hy sy trou bewys het.

Slegs deur sy offer kan al hierdie sondes uitgedelg word.

Pleitend op God se beloftes, moet ons Hom elke keer weer soebat om tog asseblief te onthou wat Jesus Christus vir ons gedoen het.

Ons diepste sonde-ellende beklemtoon net nog meer die diepte, hoogte, lengte en breedte van Christus se genade.

En dit laat ons spontaan uitroep: Halleluja!

 

Dit is dan ook wat die digter in die laaste vers doen:

Geloofd sy die HERE, die God van Israel, van ewigheid tot ewigheid!

Die digter doen dit self, persoonlik.

En hy roep ook almal op:

Laat die hele volk hierop Amen sê – ja dit is waar en seker!

Ja halleluja!

Met hierdie woord begin en eindig die Psalm.

Die geskiedenis bewys telkens die mislukkings, die ongehoorsaamheid van mense, die verbondsontrou van kerkmense.

Die geskiedenis bewys ook telkens die toegewydheid aan die verbond van die HERE.

Die Psalm leer dat ek en jy elke keer weer kan vlug na die grootste Held, wat ons tersyde staan in die verbond.

Sy heldedaad, die grootste van die geskiedenis, op Golgota, roem teen die oordeel.

Halleluja is die spontane reaksie daarop.

Halleluja, loof die HERE van begin tot end!

 

Gemeente, ek roep u op om amen te sê op God se verlossing van jou lewe, en van hierdie gemeente, deur sy Seun Jesus Christus.

Laat ons Hom loof van ewigheid tot ewigheid.

Laat julle amenlied nou klink, vanuit julle dankbare harte:

 

“Hy, Isréls HEER, is God alleen!

‘n “Amen” klink uit ver verlede,

‘n “Amen” deur die hede heen!”

 

Amen.

 

Voedingsriglyne:

Om hierdie preek te verwerk en uit elke aspek daarvan te leer, volg hier ‘n paar vrae. Die antwoord kan in die preek gevind word, en sommige vrae vereis ook persoonlike oordenking.

  1. Waarmee begin en eindig Psalm 106?
  2. Waarom handel die grootste deel van Psalm 106 oor die verlede?
  3. Hoe is dit moontlik om ‘n loflied te sing oor ‘n sondige geskiedenis?
  4. Vertel ons oupas en oumas net oor die hoogtepunte van hulle lewens, of ook oor die sonde-dieptepunte? Getuig hulle ook van die Held in hulle lewe?
  5. Waarom laat die HERE soms toe dat sy kinders vasdraai in hulle eie sondes?
  6. Dank die HERE spesifiek in jou gebed vir sy geduld en bereidheid om te luister, elke keer as jy in wanhoop na Hom terugkeer – beide wat betref jou persoonlike lewe en ook wat betref die kerklike lewe.

 

 

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 106:1,2

Wet

Ps 106:3,17

Gebed

Skriflesing: Psalm 106

Ps 106:14,18

Teks: Psalm 106:47-48

Preek

Ps 106:19,20

Gebed

Kollekte

Ps 30:3,8

Seën