Lewe in die werklikheid van die Evangelie

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Maranata
Date: 
2021-08-29
Text: 
Heidelbergse Kategismus Sondag 1
Preek Inhoud: 

“Daarom sal my mond en hart die lof van die Here verkondig van nou af tot in ewigheid.”

Met hierdie woorde het ons nounet die viering van die nagmaal afgesluit.

Ons lewe om te loof.

Die belydenis in Sondag 1 sluit pragtig daarby aan.

Daarna wil ons nou in die prediking kyk.

 

Tema: Lewe in die werklikheid van die Evangelie

 

Stefanus was een van die eerste diakens van die kerk.

Hy het wonders en groot tekens onder die volk gedoen.

Maar die belangrikste wat Stefanus gehad het, is wat elke Christen het.

Hy was vol van genade en krag.

Want elkeen wat die eiendom van Jesus Christus is, is vol van genade en krag.

Die besef dat Stefanus die eiendom van Christus was, het hom staande gehou deur sy afskuwelike lyding heen.

Hoe het dit eintlik gebeur, dat hy so erg moes ly?

 

Ons ken die spreekwoord: Die hoogste bome vang die meeste wind.

By Stefanus was dit die geval.

Daar was geleerde mense wat met hom in debat gegaan het, geredetwis het, geleerdes van verskillende sinagoges.

Tog was hulle nie by magte om die wysheid en Gees, waardeur Stefanus gespreek het, te weerstaan nie.

Die debat het telkens in hulle nadeel geëindig.

Dit was nie goed vir hulle aansien onder die volk nie.

Hulle het hulle gesig verloor en kon dit nie verkrop nie.

Daarom moes en sou hulle Stefanus terugkry.

Dit was Stefanus egter nie te doen om gelyk te kry nie.

Hy het maar een missie gehad:

Jesus Christus verkondig, wat vir sondaars gekruisig is.

Jesus Christus, wat opgestaan het uit die dood.

Jesus Christus, wat opgevaar het na die hemel en daar regeer.

Jesus Christus, wat sy Gees uitgestort het.

Dit was sy missie.

Om te getuig van Hom wat met sy kosbare bloed vir alle sondes volkome betaal het en mense uit die mag van die duiwel verlos.

 

Maar ons weet wat toe gebeur het.

Die afgevaardigdes van die sinagoges het manne teen hom opgestook wat hom van laster beskuldig het:

“Ons het hom lasterlike dinge hoor praat teen Moses en God.” (Hand 6:11)

En broers en susters, so gebeur dit dikwels met hulle wat Christus se eiendom is:

Dieselfde wat met die Heiland gebeur het, gebeur nou ook met Stefanus.

Ook hy is voor die Sanhedrin, die Joodse Raad, gesleep.

Ook teen hom tree daar valse getuies op.

En hulle kry dit reg om Stefanus se eie woorde so te verdraai dat dit ‘n aanklag teen homself word:

“ons het hom hoor sê: Hierdie Jesus, die Nasarener, sal hierdie plek afbreek en die sedes wat Moses aan ons oorgelewer het, verander.”

Soos gebruiklik het die beskuldigde die geleentheid gekry om hom teen sy beskuldiging te verdedig.

Stefanus gryp die geleentheid aan om te getuig.

Soos Petrus later sou skryf:

“wees altyd bereid om verantwoording te doen aan elkeen wat van julle rekenskap eis omtrent die hoop wat in julle is” (1 Petr 3:15).

Stefanus se lewenstaak was om oor sy Heiland te getuig.

Hy doen dit in ‘n indrukwekkende preek.

Hy gaan uitgebreid in op die geskiedenis van God se volk.

Hy lê daarop klem dat die geskiedenis van God se volk ‘n amper eindelose herhaling is van dieselfde patroon:

Hoe God profete gestuur het na sy ontrou volk om hulle weer op die regte spoor te kry,

maar hoe die volk telkens ondankbaar was teenoor die boodskappers wat God gestuur het.

 

Neem byvoorbeeld die optrede van die volk teenoor Moses.

Stefanus sê hulle het hom “afgestoot en gesê: Wie het jou as ‘n owerste en regter oor ons aangestel?” (Hand 7:27)

Dit is, getuig Stefanus, die patroon wat homself steeds herhaal.

God se genade keer op keer, maar by die volk gebrek aan gehoor, keer op keer.

En vandag is dinge nie anders nie.

Daarom eindig Stefanus sy preek deur die waarheid te praat:

“Julle hardnekkkiges en onbesnedenes van hart en ore, julle weerstaan altyd die Heilige Gees; net soos julle vaders, so ook julle. Watter een van die profete het julle vaders nie vervolg nie? Ja, hulle het die gedood wat vooraf die koms verkondig het van die Regverdige, van wie julle nou verraaiers en moordenaars geword het” (Hand 7:51-52).

Na hierdie woorde kon hulle nie meer wag om hom te vermoor nie, wat toe kort daarna gebeur het.

 

Maar gemeente, hoekom ons vanaand hieraan aandag skenk, is oor die houding van Stefanus.

Mens sien die enige troos in lewe en sterwe waaroor Sondag 1 gaan.

Christus werk daardie troos in hom, juis op die oomblik as hy die dood in die gesig staar.

Ek is met liggaam en siel, in lewe en sterwe, nie die eiendom van myself nie, maar van my troue Verlosser, Jesus Christus.

Dit het Stefanus op die been gehou.

Hy was nie beter as die ander nie.

Maar hy het geweet hy is Christus se eiendom.

Dus het sy eie belange nie in sy lewe voorop gestaan nie, maar sy Heiland.

Vir my is die lewe Christus, en die sterwe wins (Fil 1:21).

Christus wat my lewe sal teruggee, selfs al sterf ek.

Christus wat my uit alle mag van die duiwel verlos.

 

Kon Stefanus dit bely, daar waar hy gestaan het, aangeka deur die Sanhedrin, terwyl die kans groot was dat vandag sy laaste dag sou wees ...?

Kan jy dit bely:

Hy bewaar my op so ‘n wyse dat, sonder die wil van my hemelse Vader, geen haar van my kop kan val nie?

Was hy daar nie volledig in die greep van duiwelse magte nie?

Het die duiwel nie saamgespan met die Sanhedrin om een van die eerste diakens uit te skakel, ‘n diaken wat soveel goeds vir die mense gedoen het nie?

Hoe kan mens dan bely dat Jesus my uit die mag van die duiwel verlos?

Gemeente, die manier waarop Lukas hierdie regsaak beskryf, gee vir ons antwoord op hierdie teenstrydighede.

Laat ons eerlik wees: Wie het die regsaak verloor?

Op eerste gesig lyk dit of die Joodse geleerdes en die Sanhedrin hulle sin gekry het.

Hulle het Stefanus opgeruim.

Aan die ander kant, soos die spreekwoord lui:

Die bloed van die martelare is die saad van die kerk.

Dink u dat almal wat dit gesien het, nie besef het dat hier ‘n groot onreg plaasvind nie?

Waarskynlik het as gevolg van sy onregverdige dood meer mense tot geloof gekom as tydens sy lewe.

Lukas noem ook ‘n klein detail, maar in God se raadsplan was dit ‘n belangrike feit:

Die jong Saulus was ook betrokke by die steniging.

Hy het alles gesien.

Hy het ook gesien hoe Stefanus se gesig soos die gesig van ‘n engel geword het (Hand 6:15).

Hy het ook Stefanus se woorde gehoor:

“ek sien die hemele geopend en die Seun van die mens aan die regterhand van God staan.” (Hand 7:56)

Dit was die eerste indrukke wat die jong Saulus gekry het van die krag van die geloof in Christus.

Terwyl hy gestenig word, het Stefanus nog steeds geweet dat dit waar is, dat sonder die wil van my hemelse Vader geen haar van my kop sal val nie, hoe teenstrydig dit ook mag klink.

 

Gemeente, vandag klink hierdie belydenis nog steeds met net soveel krag.

Persoonlik weet ek van mense wat op hulle sterfbed dieselfde getuienis as Stefanus gegee het.

Dat hulle die hemel geopend gesien het, en hulle Heiland wat vir hulle wag.

Hulle het met nie minder krag en oortuiging tydens hulle sterwensuur bely:

Hy bewaar my so, dat sonder die wil van hemelse Vader geen haar van my kop kan val nie, dat alles dien tot my saligheid.

Dit is die krag van die geloof in Christus.

 

Maar, broer, suster, miskien plaas u in u gedagtes nog ‘n kanttekening.

Oor Stefanus, en al daardie mense wat op hulle sterfbed ‘n oop hemel gesien het ...

Dalk het jy persoonlik nog bedenkinge.

Aan die een kant stem jy saam dat dit baie mooi is vir mense soos Stefanus, dat hulle sonder angs die dood kon ingaan.

Want die dood bly maar iets wat elke mens angstig maak.

As mens egter rustig kan wees op jou sterfbed, dit is inderdaad begerenswaardig.

Maar aan die ander kant bly die teenstrydigheid jou pla.

Sondag 1 se getuienis dat geen haar van jou kop sal val nie, maar in werklikheid gaan jy wel dood ...

Dan is daar nie net ‘n haar wat van jou kop afval nie, dan hou jou hart ook op met klop.

Dus eintlik bewaar God jou glad nie.

Iemand mag dan miskien psigies troos put op sy sterfbed uit so ‘n belydenis, maar die feite is dat presies die teenoorgestelde gebeur.

En dieselfde geld vir gelowige en ongelowige.

Vir die wat Sondag 1 bely en die wat dit nie bely nie.

Albei gaan dood.

Sondag 1 klop dus gewoon nie met die praktyk nie.

Dit is heroïese taal, dit pas by ‘n martelaar soos Stefanus.

Maar in wese is dit net mooi woorde, want die werklikheid is anders.

 

Geliefde gemeente, hierdie kanttekening by Sondag 1 kan mens ‘n aanvegting van die duiwel noem.

En dit gebeur met elkeen van ons.

Dat sulke morbiede gedagtes in ons opkom.

Maar tog, gemeente, sulke gedagtes kon die Christelike geloof tot op vandag nog nie uitdoof nie.

As dit wel so was, sou die geloof in Christus al lankal nie meer bestaan het nie.

Maar skynbaar is Sondag 1 nie net ‘n heroïese belydenis, wat nie met die harde werklikheid klop nie.

Skynbaar is die inhoud van Sondag 1 tog op een of ander manier in ooreenstemming met die werklikheid.

Stefanus het dit werklik so beleef, en so vandag nog steeds baie mense op hulle sterfbed.

Dat jy in lewe en sterwe die eiendom van Jesus Christus is.

Dat die hemelse Vader so goed vir jou sorg, dat sonder sy wil geen haar van jou kop kan val nie.

Skynbaar is dit dan tog die werklikheid.

 

En gemeente, ja, dit is die werklikheid!

Maar om dit te aanvaar, moet jy na jou eie lewe begin kyk vanuit God se perspektief.

Dit kry jy reg as jy jou verdiep in God se Woord.

Sondag 1 bely: Daarom verseker Hy my deur sy Heilige Gees van die ewige lewe.

As ons iets oor die Heilige Gees hoor, moet ons direk aan die Bybel dink.

Dit is die instrument, die werktuig van die Gees.

As Sondag 1 sê: deur die Gees gee Hy my sekerheid, beteken dit:

Die Gees werk die sekerheid van die ewige lewe in my deur die Bybel, deur die verkondiging van die Woord, en Hy maak dit ook sigbaar deur die sakramente, soos die nagmaal vandag.

As jy die Bybel lees, leer jy dat daar ‘n ewige lewe bestaan.

Jy leer dat dit nie normaal behoort te wees dat mense sterf nie.

Dat dit nie die bedoeling was, toe God die mens geskape het nie.

So leer jy vanuit God se oogpunt na jouself kyk.

Die besef dring deur dat jy nie na 70 of 80 jaar ophou bestaan, of dalk bietjie korter of langer nie.

Jou lewe gaan voort.

Dit is hoe God na jou lewe kyk.

En die dinge wat God in ons lewe doen, doen Hy met die oog op daardie ewigheid, dat ons lewe na die dood nog sal voortgaan.

Dit is God se werklikheid.

En Hy wil dat ons nou al daardie werklikheid sal besef.

Daarom het Hy sy Woord gegee, om die besef van die ewige lewe in ons wakker te maak.

So gee die Heilige Gees ons sekerheid van die ewige lewe.

As daardie besef in jou hart geplant is, begin jy anders te kyk na hierdie lewe.

Jy begin anders te dink oor die dood.

Jy begin insien hoekom mense soos Stefanus, en ook gelowiges vandag, sonder vrees op hulle sterfbed op die dood kan wag.

Omdat hulle deur die Gees sekerheid van die ewige lewe gekry het.

Omdat hulle weet, soos ons in Sondag 16 bely, dat die dood ‘n poort is na die ewige lewe.

Danksy my getroue Verlosser wag daar ‘n onbeperkte lewe op die nuwe aarde.

Ek besef dat dit nie ‘n ramp is as ek in hierdie lewe nie alles gedoen kry wat ek wou doen nie,

omdat ek weet dat ek daarvoor op die nuwe aarde genoeg tyd sal hê.

 

Die lewensinstelling van baie ongelowiges is:

Jy lewe maar een keer, gebruik jou tyd optimaal, pluk die dag, sien die wêreld.

En dan hoor mens hulle soms sê as ‘n jong persoon te sterwe kom:

Dit is tog erg dat hy so min kon ervaar, so min kon doen in sy lewe ...

Maar so het Stefanus nie gelewe nie.

Hy het geweet dat dit nie die einde was nie.

Hy het geweet dat Jesus hom nie sou loslaat nie.

Daarom het hy gebid, toe hy gestenig word:

Here Jesus, ontvang my gees! (Hand 7:59)

Hy het selfs nog die tyd geneem om vir sy moordenaars te bid:

“Here, reken hulle hierdie sonde nie toe nie!” (Hand 7:60)

Aangrypend is dit hoe Stefanus met hierdie gebed mog meewerk aan die bekering van Saulus, die apostel vir die heidene.

Want God het daardie gebed verhoor.

 

So gee die Heilige Gees aan gelowiges die vermoë om hulle lewe in Jesus se hande te lê.

Jy kan sterf met die sekerheid van die ewige lewe.

Hierdie sekerheid het ook ‘n effek op ons wat nog nie op ons sterfbeddens lê nie.

Ons bely in Sondag 1:

Hy maak my van harte gewillig en bereid om voortaan vir Hom te lewe.

As jy weet dat jou voorland die ewige lewe op die nuwe aarde is, leer jy om swaarkry in hierdie lewe te relativeer.

En jy hoef nie nou alles al te doen nie.

Daar wag ‘n herskape aarde.

Hierdie lewe, of dit 80 jaar duur, of miskien net 30, is nog nie ‘n millimeter vergeleke by die kilometers van die ewige lewe nie.

Daarom leef gelowiges dankbaar in voorspoed, geduldig in teenspoed, en altyd van harte vir hulle Heiland.

Dit is ‘n voorreg om in hierdie lewe te geniet van alles wat die Vader ons skenk.

Die pragtige skepping, geliefdes om jou heen, noem maar op.

As hierdie aarde al so mooi is, hoewel dit ernstig toegetakel is deur die sonde, hoeveel mooier sal die nuwe aarde dan nie wees nie?

Gemeente, lewe in die werklikheid van die Evangelie!

 

Amen.

Liturgie: 

PRETORIA-MARANATA, 29 Augustus 2021, 17:30 (Nagmaal)

Votum

Seën

Ps 77:5,6

Gebed

Nagmaalsformulier (p 30)

          Skriflesing: Handelinge 6:8-15 & 7:35-8:1a

          Sing: Sb 17:1,2,6

Teks: Heidelbergse Kategismus Sondag 1

Preek

Sb 24:7

Gebed

Geloofsbelydenis van Nicea

Ps 145:10

Kollekte

Ps 145:11,12

Seën

 

Voedingsriglyne:

Om hierdie preek te verwerk en uit elke aspek daarvan te leer, volg hier ‘n paar vrae. Die antwoord kan in die preek gevind word, en sommige vrae vereis ook persoonlike oordenking.

  1. Stefanus staan bekend as die eerste martelaar. Ken jy die naam van nog ‘n martelaar?
  2. In watter land vind daar tans die meeste Christenvervolging plaas? Dink jy die Christene daar ken Sondag 1 van die Kategismus?
  3. Is dit wel goed dat Stefanus so konfronterend in sy prediking was?
  4. Noem ‘n voorbeeld hoe Christus Stefanus se laaste gebed verhoor het.
  5. Hoe verseker die Heilige Gees jou van die ewige lewe?
  6. Kan jy ‘n voorbeeld in jou lewe noem hoe Christus die heerskappy van die duiwel gebreek het?