Seuns en dogters,
Wie van julle ken die bordspeletjie Risk? Risk is ‘n oorlogspel wat ten diepste gaan oor wêreldoorheersing – wie kan die magtigste wees? Op die bord voor jou is die wêreldkaart, opgedeel in kontinente en lande. Voordat die spel begin, word elke speler se leërs tussen die verskillende lande verdeel en kry elke speler ‘n opdrag om uit te voer. En dan begin die geveg! Met ‘n paar dobbelstene word talle veldslae beslis. En die doel is: die verowering van nuwe grondgebied, die uitvoering van jou opdrag, en uiteindelik: wêreldoorheersing. Baie van ons het die name van die kontinente en van die verskillende gebiede binne daardie kontinente nie in die eerste plek in die geografie-klas by die skool geleer nie, maar eerder met behulp van Risk: Noord-Amerika, Suid-Amerika, Afrika, Europa, Asië, Australië; met plekname soos Groenland, Indonesië, Kamtsjatka, Mongolië, Siberië, en Alaska.
En natuurlik is dit ‘n speletjie – iemand wen, ons pak op, en die lewe gaan weer verder. Maar deur die loop van die geskiedenis sien ons telkemale hoe die speletjie werklikheid word. En vandag is dit nie anders nie... Wie die nuus van die laaste dae gevolg het, sal sien dat die Taliban op hierdie stadium besig is met ‘n baie ernstige speletjie Risk in Afghanistan, veral noudat Amerikaanse soldate besig is om te onttrek; Rusland is al vir enkele jare lank besig met ‘n riskante onderneming om voormalige Sowjet-lande se grondgebied in te palm; en in Afrika-lande soos Ethopië en Libië is Risk tans nie net ‘n speletjie van verowering nie, maar ‘n bloedige werklikheid. Die nasies woel... nie met dobbelstene nie, maar met masjiengewere en tenks (Ps. 2:1).
Nou, wanneer ons vandag Jesaja 13-23 behandel, dan moet ons raaksien hoe Jesaja in hierdie hoofstukke ‘n soort Risk-bord vir sy luisteraars skets: Babel, Assirië, Filistea, Moab, Damaskus (Aram), Efraïm (Israel), Kus (Ethiopië), Egipte, Edom, Arabië, en Tirus (sien die kaart op die uitdeelstuk). Jesaja beskryf hoe hierdie lande van die Bybelse Midde-Ooste streef na uitbreiding, na oorheersing; hy beskryf hoe hulle hulself deur middel van bondgenootskappe probeer bevry van onderdrukking; hy wys vir ons die magspolitiek van sy dae. En reg in die middel van hierdie Risk-bord van Jesaja 13-23 vind ons... Jerusalem! Hoe moet Jerusalem – die kerk van die Ou Testament – omgaan met die gewoel van die nasies? Die Here self gee die antwoord in ons teks, en dit is tewens ook die tema vir die prediking:
Tema: Kyk na Hom wat dit gedoen het en wat dit lankal beskik het!
Broers en susters, as ons Jesaja 13-23 as geheel ondersoek, dan moet ons erken dat daar nie regtig enige struktuur in hierdie lys van nasies is nie. Die onderskeie nasies word lukraak na mekaar bespreek, sonder dat daar ‘n duidelike oorgang van die een na die ander is. Maar een ding val in elk geval op, en dit is die plek van Babel in hierdie lys van nasies. Babel word heel eerste deur Jesaja bespreek. Maar is dit dan so opmerklik? Babel was mos een van die groot wêreldryke van daardie tyd? Hy verdien tog sy plek op die Risk-bord? Ja, maar onthou nou: dit was nog nie die geval in Jesaja se dae nie. In Jesaja se dae was Babel nog maar ‘n kleinerige, plaaslike mag. Die Assiriërs – húlle was die wêreldryk van Jesaja se dae... maar aan hulle bestee die profeet ‘n skamele vier versies (Jes. 14:24-27). Hoe so?
Wel, as ons dit wil verstaan, dan moet ons die plek van Babel in die geheel van die Skrif verstaan. Babel is in die Bybel naamlik die simbool vir alle anti-goddelike wêreldmag – regdeur die Bybel vind ons dit. Dit begin alreeds wanneer Nimrod – hy wat in Genesis 10 ‘n geweldenaar genoem word – ‘n ryk stig waarvan die belangrikste stad Babel genoem word (Gen. 10:8-10). In later bronne word Nimrod dan ook aangedui as die leier van diegene wat in Genesis 11 die toring van Babel gebou het. Of dit waar is, weet ons nie, maar die toring van Babel is in elk geval die simbool van die mensdom wat saamstaan in hulle poging om na die hemel te reik! Vervolgens word Babel verskeie male in die profete uitgebeeld as die wêreldmag wat teen God in opstand is. En meer as ‘n eeu ná Jesaja se profesie sou Babel inderdaad daardie wêreldmag-status bereik. Vanaf 625 vC het Babel homself begin losmaak van die Assiriese oorheersing, en binne enkele dekades het Babel heerskappy uitgeoefen oor die hele Midde-Ooste. Ook oor God se volk, wat deur die Babiloniërs in ballingskap weggevoer is. En uiteindelik vind ons Babel nogmaals terug in die boek Openbaring (hoofstukke 14:8, 16:19, 17:5, en 18:2, 10, 21), waar dit simbool staan van die stad Rome, die Romeinse wêreldmag wat in die eerste eeu na Christus begin het om die kerk te vervolg. Dít is Babel in die Bybel – toonbeeld van alle anti-godelike wêreldmag! Alles wat Jesaja vervolgens oor die ander nasies sê, vind ons eintlik alreeds in die beskrywing oor Babel – Babel verteenwoordig die goddelose nasies, die nasies wat meeding om mag, die nasies wat op hulleself vertrou! Dáárom is Babel eerste!
En wat is nou die uitstaande kenmerk van Babel en van elke ander nasie wat gryp na wêreldoorheersing, wat teen God in opstand kom? Hoogmoed! Trots! Dit is opmerklik hoe hierdie eienskap telkens weer in hierdie profesieë teen die nasies na vore kom. Babel word in Jesaja 13:19 genoem die sieraad van die koninkryke en die trotse pronkstuk van die Chaldeërs (‘Chaldeërs’ is ‘n ander naam vir die mense van Babel). In hoofstuk 14:11 word gepraat van die trots van die koning van Babel. In hoofstuk 16:6 lees ons: “Ons het gehoor van die trotsheid van Moab – hy is baie trots! – van sy hoogmoed en sy trotsheid en sy grimmigheid, sy onbehoorlike grootpatery.” En Jesaja sluit sy profesieë oor die nasies ook hiermee af wanneer hy in hoofstuk 23:9 praat van die pralende trots van die edeles van Tirus. Trots, hoogmoed – amper soos die dobbelsteen-oorwinnaar op die Risk-bord.
Maar dan maak die Here deur sy profeet duidelik dat hy hierdie trots en hoogmoed tot ‘n val gaan bring: “Ek sal die trots van die vermeteles laat ophou en die hoogmoed van tiranne verneder” (Jes. 13:11). “En hulle sal verslae wees en beskaamd staan vanweë Kus, hulle toeverlaat, en vanweë Egipte, hulle trots” (Jes. 20:5). “Die Here van die leërskare het dit besluit, om te ontheilig al die pralende trots, om die edeles van die aarde in veragting te bring” (Jes. 23:9). En pragtig word hierdie vernedering vir ons geïllustreer in die val van die koning van Babel in die gedeelte wat ons saam gelees het – Jesaja 14. Ja, weereens verteenwoordig Babel al die ander nasies! Vanaf vers 9 sien ons hoe die koning van Babel na die doderyk toe neerdaal. Daar word hy deur al sy koninklike voorgangers met leedvermaak begroet; hulle sing vir hom ‘n spotlied: Welkom hier by ons, jy wat jouself so trots gehou het; nou is jy net soos een van ons: “Jou trots is neergewerp in die doderyk...” Nou het jy ook ‘n bed van wurms en ‘n bedsprei van maaiers (Jes. 14:11). Hulle spot hom oordat hy homself so groot en belangrik geag het: môrester, seun van die dageraad (v. 12). “Ek wil opklim in die hemel, my troon verhef bo die sterre van God en sit op die berg van samekoms...” (v. 13) Die berg van samekoms – dit is ‘n beeld uit die oosterse mitologie; op hierdie berg het die gode jaarliks bymekaar gekom, en daar het hulle deur die lot al die gebeurtenisse van die komende jaar vasgestel. Dis hoe hoogmoedig hierdie koning was: hy het gedink hy kan die toekoms bepaal! Dit is so tipies van die hoogmoed van die magtiges van hierdie wêreld. Mense van mag dink dat hulle die toekoms kan vasstel, dat hulle die ekonomie kan beheer, dat hulle die opkoms en ondergang van volke kan bepaal. Op die berg van samekoms – in die raadsale van die Verenigde Nasies en die G7; in die paleise van konings en die parlementsgeboue van die magtiges van hierdie wêreld – dáár word, so dink hulle, die toekoms bepaal.
Maar die Here bring hulle hoogmoed en trots tot ‘n val – Babel se naam en oorblyfsel, sy kroos en nageslag sal uitgeroei word (Jes. 14:22). En dan sê die Here vervolgens in vers 24: “Waarlik, soos Ek gedink het, so gebeur dit; en soos Ek besluit het, kom dit tot stand.” Die Here sal Babel soos Sodom en Gomorra omkeer (Jes. 13:19); Hy sal Assur verbreek en vertrap (Jes. 14:25); Hy sal Filistea van honger laat sterwe (Jes. 14:30); Hy sal binne drie jaar die heerlikheid van Moab veragtelik maak (Jes. 16:14); Hy sal van Damaskus ‘n vervalle puinhoop maak (Jes. 17:1); Hy sal Egipte deur burgeroorlog verwoes (Jes. 19:2); Hy sal die heerlikheid van Arabië binne ‘n jaar laat verdwyn (Jes. 21:16); Hy sal die skepe van Tirus verwoes (Jes. 23:1). Die Here is in beheer; die Here regeer! In alle rus: “Ek wag rustig en aanskou uit my woonplek ... voor die oes, as die bloeisel volgroeid is en die blom ‘n ryp druiwekorrel word, sal Hy die ranke afsny met snoeimesse en die lote wegkap...” (Jes. 18:4-5). Die Here laat die volke begaan, Hy laat hulle groei en ryp word, Hy hou hulle rustig dop – en dan gryp Hy in, en daar is niemand wat Hom kan keer nie. Die Here is in beheer! Pragtig, hierdie boodskap van Jesaja aan die volk in Jerusalem, vir die stad in die middel van die wêreldse Risk-bord!
Maar dis nou die skreiende, die hartseer, broers en susters... Vir Jerusalem was hierdie boodskap nie meer genoeg nie! Dit was vir die volk nie meer voldoende om te weet dat húlle God in beheer is en dat hulle maar net rustig op sy tyd moet wag nie. Met die gevolg dat Jerusalem, God se uitverkore stad en volk, haar soos die nasies begin gedra het. Dis hoekom ons Jerusalem in die lys van profesieë teen die nasies teëkom – die hele hoofstuk 22 is gerig teen Jerusalem. Met die eerste oogopslag verbaas dit ons: wat soek Jerusalem tussen die nasies? Hoekom is daar ‘n profesie teen Jerusalem in die middel van hierdie lys van profesieë teen die nasies? Jerusalem is mos God se uitverkore volk, sy is mos apart geplaas van die nasies? Ja, sekerlik, maar as Israel haar gedra soos die nasies, dan word sy op een lyn gestel met die nasies!
Die volk het bondgenootskappe met ander volke begin sluit – want ja, ons moet die Assiriërs, die wêreldmag van daardie tyd, buite die poorte probeer hou. En verder het die volk hulle wapenarsenaal aangevul (hulle het gereed gemaak vir oorlog), hulle het die bresse in die mure toegemaak (hulle het hulself probeer beveilig), en – volgens die eerste deel van ons teks, Jes. 22:11a – het hulle selfs die watervoorsiening veilig gestel. En oënskynlik het dit gewerk: ons weet dat die Assiriese koning oral in die omringende Judese platteland oorwinnings behaal het, maar aan Jerusalem kon hy nie raak nie. En daaroor was die inwoners van Jerusalem vrolik, daaroor het hulle partytjie gehou: “daar is vreugde en vrolikheid, beeste word doodgemaak en skape geslag, vleis geëet en wyn gedrink, met die woorde: Laat ons eet en drink, want môre sterf ons” (Jes. 22:13). In Juda het dit gegaan net soos dit in Israel, die tienstammeryk, gegaan het: “jy het vergeet die God van jou heil en nie gedink aan die rots wat jou toevlug was nie. Daarom lê jy lieflike tuine aan en beplant dit met uitlandse wingerdstokke...” (Jes. 17:10) Israel het voorspoed probeer kultiveer, rykdom probeer skep – net soos die nasies om hulle heen.
Maar intussen het die volk een kritiese ding vergeet: “julle kyk nie na Hom wat dit gedoen het nie, en Hom wat dit lankal beskik het, sien julle nie” (die woorde van ons teks: Jes. 22:11b). Net soos die omringende nasies het die volk begin planne maak en voorsorg getref. Alles om die toekoms in hulle eie hande te kan hou. Selfs bondgenootskappe met volke wat histories altyd hulle vyande was. Ja, ons weet dat die Filistynse stad Asdod ‘n rebellie teen die Assiriërs probeer reël het; in die sterfjaar van koning Agas (Jes. 14:28) het die Filistynse boodskappers in Jerusalem aangekom om God se volk vir hierdie rebellie te probeer oorhaal. Wat moet julle hulle antwoord?, vra die Here in Jesaja 14:32: “Dat die Here Sion gegrondves het, en dat die ellendiges van sy volk daarin sal skuil.” Sê vir die boodskappers: Hierdie volk is veilig by hulle God! Maar die volk het dit vergeet. Hulle het volledig opgegaan in die aktiwiteite van die volke-wêreld om hulle heen. En dís hoekom Jerusalem die twyfelagtige eer ontvang om ook in die lys van nasies opgeneem te word. Hulle word deel van die Risk-bord van hulle dae, en saam met die nasies gooi hulle die dobbelstene van oorlewing en oorheersing. En hulle vergeet: die Here het al hierdie dinge in sy hande.
Ag, hoe dwaas kan die kerk nie wees nie. Hoe maklik laat die kerk haar nie intrek in die Risk-speletjie van die wêreld om ons heen nie. Ons kyk na die woelinge, ons sien hoe die volke raas en die leiers blaas. En ons vergeet totaal dat ons God in beheer is. Ons vergeet dat ons ‘n Koning het wat regeer. Dit wat in Jesaja 16:5 nog maar net ‘n belofte is (“opgerig is ... ‘n troon, en daarop sit een in getrouheid in Dawid se tent, ‘n regter wat die reg soek en gou is in geregtigheid”) – daardie belofte het intussen werklikheid geword. Jesus Christus regeer: “Psalmsing tot Gods eer, weet dat Hy regeer! Hy het opgevaar, Koning is Hy daar...” (Ps. 47:4 ber) En die sleutel van die huis van Dawid, wat (volgens Jes. 22:15-25) eers op Sebna se skouer was en vervolgens (omdat Sebna homself nie waardig gedra het nie) op Eljakim oorgedra is (Eljakim wat uiteindelik ook maar ‘n mens was en teleurgestel het), daardie sleutel is nou in die hand van koning Jesus: “Dit sê die Heilige, die Waaragtige, wat die sleutel van Dawid het, wat oopmaak en niemand sluit nie, en Hy sluit en niemand maak oop nie...” (Op. 3:7) Ja, ons is intussen soveel verder as die volk in die Ou Testament! Hulle moes dit doen met die belofte – ‘n betroubare belofte, vir seker, maar nogtans ‘n belofte – maar ons mag lewe vanuit die werklikheid!
Dit is die werklikheid wat behoort te bepaal hoe ons in hierdie land en in die wêreld lewe. Ja, dis waar, die gebeure op die Risk-bord van hierdie wêreld kan ons benoud maak; vir seker kan ons bang wees oor wat in ons land gebeur. Maar moet dit ons angstig na ons goedjies laat gryp om te emigreer? Laat dit baie duidelik wees: daar is vir die gelowige vryheid om hier te bly, en daar is vryheid om weg te gaan; ons gaan mekaar daaroor nie veroordeel nie. Maar diegene wat weggaan, moet wel hulle harte ondersoek en seker maak: hoekom gaan ons weg? Met watter motief? Wat dryf ons? En die wat bly – en dis die meerderheid van ons – moet onsself deeglik ondersoek: hoe bly ons hier? Met voortdurende doemdenke? Met voortdurende vrees vir die massas wat gaan kom in die nag van die lang messe? Deur die hele tyd pessimisties te praat oor ons regering? Onthou, gemeente, hulle dink hulle speel Risk, hulle reken hulleself as rolspelers in die spel om wêreldoorheersing, maar hulle is maar net pionne op Gód se skaakbord.
God speel ‘n ander spel – en in sy spel is daar, behalwe die vernietiging van die nasies, ook hoop vir die nasies. Daarom, in plaas daarvan om gehipnotiseer te word met die Risk-spel van die nasies en die wêreldleiers, word eerder aktief betrokke by die skaakspel van God. Pragtig word dit vir ons uitgebeeld in die profesie teen Moab – hoofstuk 16. In hoofstuk 15 wys Jesaja op die verwoesting van Moab. Aangeval deur – waarskynlik – die Assiriërs, sien ons dat ‘n lang stroom van vlugtelinge die land verlaat; ons sien hulle saamgedrom by die driwwe van die Arnon – dus, op die grens met Israel. En wat sê Jesaja dan in hoofstuk 16:1 vir die koning van Moab: Stuur die lammers na Sion! En vir Juda sê hy: “Gee raad, gee beslissing ... verberg die wat verdryf is, verraai die vlugteling nie ... wees vir hulle ‘n skuilplek” (Jes. 16:3-4) Doen iets vir hierdie vlugtelinge! Net soos wat lank gelede die Moabitiese Rut skuilplek in Betlehem gevind het, so word daar weer ‘n beroep op God se volk gedoen om aan die Moabiete hulp te verskaf. En God se volk kán dit doen, want “gedaan is die verdrukker, klaar is dit met die verwoesting, weg is die vertrappers uit die land” (Jes. 16:4). In Juda – in die kerk! – het die verdrukkers geen plek nie, kry hulle geen kans om verwoesting te saai nie. Daar staan immers ‘n troon – gebou op reg en geregtigheid! Die troon van Christus staan hier in ons midde – die kerk hoef niemand te vrees nie! – en dit maak ons hande vry om vir die nasies te sorg. Om vir die nasies skuiling te bied, om vir die nasies die evangelie te bring. Ons hande is vry om – letterlik en figuurlik – die vlugtelinge te versorg. Want Christus regeer!
En so mag ons saamwerk sodat daar, soos wat ons lees in Jesaja 19:23, ‘n grootpad kom vanaf Egipte na Assirië, “en Assiriërs sal in Egipte kom en Egiptenaars in Assirië; en Egipte sal saam met Assirië die Here dien.” ‘n Grootpad – ‘n kerkpad – van Egipte tot in Assirië. En kyk dan maar op jou kaart, dan sal jy sien dat dit ‘n pad is wat vanaf die verre suide van die Midde-Ooste tot in die verre noorde sal strek. Ja, só ver sal die Naam van die Here uitgebrei word, só ver sal die kerk strek – van die suide na die noorde, van die ooste na die weste. En Egipte en Assirië en Israel sal deur die Here geseën word: “Geseënd is my volk Egipte, en my maaksel Assirië en my erfdeel Israel” (Jes. 19:25). En ons mag hieraan saamwerk, gemeente. Omdat ons nie bang is nie, omdat ons nie vasgevang is in die gewoel van die nasies op die Risk-bord nie. En omdat ons perspektief het! Perspektief op wat reeds is: ons Koning regeer, nie president Ramaphosa of president Putin of president Biden nie – hulle is maar net pionne in sy spel. En ons het perspektief op wat kom: al die nasies sal die Here dien. Die kerk mag hierdie dinge weet, en die kerk mag uitsien na die dag wanneer die nasies hulle geskenke sal bring “na die plek van die Naam van die HERE van die leërskare, na die berg Sion” (Jes. 18:7). Daarom, soos die Hebreërskrywer (Hebr. 12:12) ons oproep, “rig die slap hande en die verlamde knieë weer op”, en laat ons deel wees van die groot werk van die Koning. Onthou Jesaja se reaksie toe die Here in hoofstuk 6 gevra het: “Wie sal Ek stuur? En wie sal vir ons gaan? Toe antwoord ek: Hier is ek, stuur my.”
Amen
Votum en Seëngroet: Ons hulp is in die Naam van die Here wat die hemel en die aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.
Sing Ps. 82 (Christus is die Owerste oor die konings van die aarde)
Wetslesing
Sing Ps. 32:3
Gebed
Lees: Jesaja 14:9-17
Jesaja 16:1-5
Jesaja 22
Sing Ps. 2:1-2
Teks: Jesaja 22:11b
Preek
Amenlied Ps. 83:2-4
Gebed
Kollekte
Slotsang Ps. 108:2-4
Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen. / Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.