Die noodkreet: O Here, word wakker!

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Maranata
Date: 
2021-07-25
Text: 
Psalm 44:24
Preek Inhoud: 

Psalm 44 is nie ‘n baie bekende Psalm nie.

Dit lê moontlik aan sy melodie, wat nie so maklik is nie.

Baie Geneefse melodieë is pragtig en dra die inhoud van die Psalms tot binne in ons hart.

Maar daar is enkele Geneefse melodieë wat nie werklik ‘n sukses was nie.

Persoonlik dink ek dit is ook met Psalm 44 die geval.

Dieselfde geld ook vir die alternatiewe melodie van HPA Coetzee uit 1976.

As Psalm 44 ooit weer in die toekoms opnuut berym word, sal dit pragtig wees as dit op ‘n mooier melodie gedoen kan word.

 

Kom ons staan vandag stil by hierdie Psalm, om te leer wat God ons daarin wil sê.

Wat kan ons leer vir ons woelig tyd, ‘n tyd waarin so baie fondamente begin skuif?

Gesondheid het ons steeds meer as vanselfsprekend aanvaar.

‘n Pandemie skud daardie fondament hewig.

Dit lyk of wet en orde in ons land steeds verder weggly.

Hoe gaan dit ons alledaagse lewe affekteer?

Werksgeleenthede word minder.

Hy lyk die toekoms vir onsself, vir ons kinders en kleinkinders?

Watter boodskap kom daar tot ons vandag uit hierdie ou lied?

Spreek die Here ons probleme aan in hierdie psalm?

Hoe kan ek vandag baat vind by dit wat die kinders van Korag eeue gelede gesing het?

 

Tema: Die noodkreet: O Here, word wakker!

  • Hierdie Psalm leer ons hoe om te bid
  • Hierdie Psalm leer ons by wie ons verhoring kan vind

 

  • Hierdie Psalm leer ons om te bid

Hierdie Psalm is ook, soos baie ander, gedig deur die kinders van Korag.

Hulle is aangestel om die musiek te behartig by die tempel.

Hulle het liedere gedig, wat die volk kon sing as hulle voor God se aangesig verskyn het.

Hierdie liedere was bedoel om tot die HERE te bid, Hom te loof en dank, en terselfdertyd om die volk bly te maak, hulle te vertroos, en ook om hulle te onderrig.

Bo-aan hierdie Psalm staan spesifiek dat dit as ‘n onderwysing bedoel is.

 

Hierdie onderwysing begin met ‘n terugblik na die verlede.

O God, met ons ore het ons gehoor wat U in die dae van ons vaders gedoen het.

Maar dit was lank gelede – in die dae van die voortyd, staan daar.

Die volk leef nou al eeue later.

As kinders het hulle al die boeiende verhale gehoor, watter wonders God in die dae van hulle vaders verrig het.

Die digter vat dit saam in enkele woorde, waaruit blyk hoe goedgesind God juis vir hulle was.

Ander nasies verdrywe, maar hulle geplant.

Dit was nie deur hulle eie krag, deur hulle eie swaard, eie arm, wat hulle die beloofde land in besit geneem het nie.

God se regterhand, sy arm, die lig van sy aangesig het dit gedoen.

 

Nog steeds vertrou die digter op hierdie God.

U is my Koning.

In u Naam sal ons hulle kan vertrap wat teen ons opstaan.

Ook vandag vertrou ek nie op boog en swaard vir die oorwinning nie.

Ook vandag roem ons in God.

Sy Naam is werd om geloof te word tot in ewigheid.

 

Dan, vanaf vers 10, is daar ‘n wending in die Psalm.

Opvallend dat die eerste deel met die woordjie “Sela” afsluit.

Moontlik ‘n teken van afsluiting van die eerste deel, en begin van die tweede.

 

Maar hierdie tweede deel is dan ineens in die mineur.

Tog, al vertrou ons nog op U, al roem ons nog in U, tog het U ons verstoot.

Ons tot skande gemaak.

U trek nie met ons leërs meer uit nie.

U laat ons agteruitwyk.

Ons haters kan maar plunder na hartelus.

U gee ons oor soos slagvee.

U verkoop u volk vir niks.

U maak ons ‘n smaad vir ons bure, ‘n spot en beskimping.

‘n Spreekwoord wat die nasies laat kopskud.

Gemeente, ineens hoor ons ‘n dosyn en meer aanklagte teen God.

 

Hoekom, hoekom, hoekom, o God?

Want, ons het tog nie van u pad afgebuig nie?

As ons na ‘n vreemde god sou gebid het – dis wat hande uitbrei beteken in vers 21 – sou U, wat die geheime van die hart ken, dit mos agtergekom het.

Ons het U tog nie vergeet nie?

Ons het tog nie bedrieglik teen u verbond gehandel nie?

 

Dan gaan die digter nog ‘n stappie verder in sy aanklag:

Dis juis om U ontwil!

Om U ontwil word ons die hele dag gedood, gereken as slagskape.

 

En dan eindig die psalm met ‘n dringende oproep:

Ontwaak, Here!

Waarom slaap U, Here?

Word tog wakker!

Dit klink nogal baie oneerbiedig, dink u nie so nie, gemeente?

Dit klink nie soos iemand wat vir die HERE bid nie.

 

Maar so intens bid hierdie digter dus.

Waarom vergeet U ons ellende en verdrukking?

Ons siel byt in die stof, ons liggame kleef aan die grond.

 

En dan herhaal die digter in die laaste vers die oproep:

Staan op!

Help ons!

Verlos ons!

Om u goedertierenheid ontwil.

 

Nou, gemeente, hoekom sou die Heilige Gees ‘n so op die oog af oneerbiedige Psalm in die Bybel opgeneem het?

Durf jy soms om so oneerbiedig met die HERE te praat?

Ons sal eerder vir die HERE vergewing vra vir die feit dat ons self geslaap het, dat óns van God vergeet het, nie dat Hy van ons vergeet het nie.

 

Maar hierdie psalm gaan baie ver.

Nadat die digter erken het dat die HERE baie goed was vir die voorgeslagte, kla hy aan een stuk deur oor die hede.

En dan, pleks van – soos ons sou verwag – skuld te erken dat hulle van die HERE se paaie afgedwaal het en daarom nou hulle welverdiende straf kry, pleks daarvan hoor ons eerder hoe die digter die lef het om te sê dat dit nie hulle skuld was nie, want hulle roem in Hom die hele dag.

Die digter is selfs so brutaal – lyk dit – om te beweer dat hulle swaarkry God se skuld is.

Vers 23: “Om U ontwil word ons die hele dag gedood ...”

 

Dit is nie duidelik uit watter tyd hierdie Psalm stam nie.

Verklaarders het al verskillende moontlikhede geopper:

Dawid se tyd, tydens die oorloë teen Ammon en Syrië.

Of die tyd van die Babiloniese ballingskap.

Of die tyd van die Makkabeërs.

Maar in welke tyd mens die Psalm ook plaas, daar was geen tyd in die Ou Testament waar die volk met reg kon sê:

Die vyande plunder ons, terwyl ons heeltemal onskuldig is.

Natuurlik is dit so dat God se volk, juis omdat hulle die uitverkore volk was om die Messias voort te bring, juis omdat hulle die draer van God se Woord was, dat Satan juis daarom hulle ekstra geteiken en aangeval het.

Maar nog steeds, daar was geen tyd in die Ou Testament wat die digter die reg gehad het om te sê:

Ons word gestraf, maar ons is self heeltemal onskuldig.

 

Gemeente, hierdie psalm klink vir ons baie onbegryplik.

Dit strook nie met hoe ons opgevoed is nie.

Ons is mos opgevoed om eerbiedig te wees as ons met God praat in ons gebed.

Ons is mos geleer dat ons nie vir Hom die skuld mag gee vir dinge wat verkeerd gaan in ons lewe nie.

Hoe werk hierdie Psalm dan?

Kan ons wel iets uit hierdie Psalm leer?

 

Gemeente, ons kan hierdie Psalm slegs begryp as ons rekening hou met die aard van hierdie lied, en die aard van die Psalmboek in sy geheel.

Die Psalms het naamlik ‘n baie unieke posisie in die Bybel.

In teenstelling tot byvoorbeeld die 10 gebooie, waar die HERE dit letterlik aan Moses gedikteer het, het die Psalms anders tot stand gekom.

God het dit nie letterlik aan die digter gedikteer nie.

Juis in die Psalms kom die, wat ons in die dogmatiek noem, organiese inspirasie pragtig na vore.

Ons hoor hier woorde wat uit die diepste binneste van die digter kom.

Hy praat sy hart uit.

Ons hoor hoe hy eerstens terugdink aan die verlede, God se wonderdade toe.

Dan hoor ons hoe Hy worstel met die hede.

Met alles wat foutloop in die hede.

Die vertwyfeling van sy hart as hy vra:

Waarom vergeet U ons ellende?

Die een vers is hy op die toppe van die berge, die ander vers weer in diep donker dale.

Gemeente, is dit nie in ons dae ook so nie?

Soms op die toppe van die berge vir ons gevoel.

Maar die volgende dag in ‘n diep donker dal.

Veral as ons begin nadink en bekommerd raak oor die toekoms.

Wat gaan van die land word?

Wat gaan van die kerk word?

Wat gaan van my kinders en kleinkinders word?

Sal hulle die Here trou bly dien?

 

Gemeente, hierdie Psalm leer eintlik vir ons pragtig wat gebed is.

Aan die een kant oordink ons in ons gebed God se groot dade, ons mediteer daaroor, ons roep dit weer in ons geheue op.

Wie God is en wat Hy kan doen, wat Hy in die verlede vir sy kinders gedoen het.

Maar aan die ander kant maak ons ons hart oop vir God.

Want in die hede is daar so baie dinge waarmee ons worstel.

Ons toets vir die HERE.

Ons spoor Hom aan om net so te wees as wat Hy in die verlede was.

En dit selfs op die oneerbiedige af.

So kyk ons in die hart van die psalmis.

Terselfdertyd bly hierdie Psalm honderd persent die Heilige Gees se geïnspireerde Woord.

Hy gee ons juis hier ‘n skitterende onderwysing in wat gebed is.

 

Is dit ook, broer en suster, hoe jou gebed soms lyk?

Aan die een kant is daar sinne in jou gebed waarin jy God prys, Hom eer vir wat Hy gedoen het in die verlede.

Maar aan die ander kant is daar ook klagtes in jou gebed, selfs verwyte.

O God, hoekom het U my man, my pa, my kind laat sterf?

Hoekom moet ek met hierdie siekte, hierdie gebrek, deur die lewe gaan?

Hoekom moes ek my werk verloor?

Hoekom lewe hulle wat U en u kerk spot, so gelukkig?

Hoekom word hulle wat u wette vertrap, nie vasgetrek nie?

O God, dit lyk wel of U hier op aarde geen enkele invloed meer het nie.

O God, U waaroor daar sulke mooi dinge gesê word in die verlede, het U nou verander, het U swak geword? Slaap U dalk?

Het U u kinders, die wat volgens u Woord leef, vergeet?

 

Verstaan u, gemeente, in die Psalms leer die Heilige Gees ons nie net wie God is en wat Hy doen nie, maar met die Psalms help Hy ons ook om alles te verwerk wat met ons gebeur, en daarmee na God te gaan.

Daar is situasies in ons lewe waar die HERE ons inderdaad straf in die lig van spesifieke sondes.

Daar is ook situasies waar die HERE ons beproef met swaar tye, juis om ons te leer om ons kruis te dra agter Christus aan, om ons te beproef, om ons te leer om nie te veel te heg aan dit wat tydelik is nie.

En in gebed mag ons dit alles wat met ons gebeur, verwerk.

In die Psalmboek leer die Heilige Gees ons waarvoor gebed bedoel is.

Ons mag ons hart voor God oopmaak.

Ons mag kla.

Ons mag op sy verbond pleit.

Gebed is ‘n worsteling.

Daarom is ‘n gebed soms innerlik teenstrydig, onlogies, selfs oneerbiedig.

So help die gebed ons om weer op een lyn te kom met God se wil.

Om, al sien ons nie nou in die hede oplossings nie, om ons tog weer in vertroue aan God oor te gee.

 

Want wat wel soos ‘n paal bo water bly staan, is:

God is en bly my Koning, my Redder! (vers 5-8)

Hy sal ons nie bedrieg nie.

Hy sal nie ontrou wees aan sy verbond nie.

 

Gemeente, werk dit in ‘n gesin nie ook so nie?

As die kinders stout was, en daar word geraas, dan beweer hulle hoog en laag dat hulle stroopsoet was.

As die ouers dan vir hulle straf, hulle in hulle kamer opsluit byvoorbeeld, beteken dit nie dat die ouers van hulle vergeet het nie, dat die band tussen ouer en kind nou verbreek is nie, al mag dit vir die kind wel so voel.

Die straf is juis bedoel om die kind te laat nadink oor sy sondes, en weer te laat verlang na die samesyn.

Dit is onderdeel van die verbond, ook die straf by ongehoorsaamheid.

 

Moet ons dus dit wat die digter skryf, met ‘n knippie sout vat?

Wel, in die lig van die hele Skrif weet ons dat God nie sy kinders vergeet het, as daar staan:

U maak ons tot skande.

U trek nie met ons leërs meer uit nie.

U laat ons agteruitwyk.

Ons haters kan maar plunder na hartelus.

U gee ons oor soos slagvee.

U verkoop u volk vir niks.

U maak ons ‘n spot vir ons bure.

‘n Spreekwoord wat die nasies laat kopskud.

Dit is die digter se klag, sy subjektiewe gevoel op daardie oomblik.

Maar objektief weet ons dat dit nie waar is nie – dit weet ons uit die konteks van die res van die Skrif.

 

As dit in die hede gebeur, is dit nie omdat God bedrieglik handel teen die verbond nie.

Dis nie dat Hy ons vergeet het nie!

Gemeente, wat ‘n troosvolle woorde!

Juis ook in ons tyd, te midde van ‘n dodelike pandemie wat net nie wil end kry nie.

Troosvolle woorde, in ‘n tyd waarin daar so baie afval van die verbond is.

Troosvolle woorde, in ‘n tyd waarin kerkmense so dikwels ook ‘n wêreldse lewe lei.

Troosvolle woorde, in ‘n tyd waarin die kerk beskimp en bespot word, en in so baie lande na die kantlyn van die samelewing gedruk word.

Troosvolle woorde, in ‘n tyd waarin Christenvervolging onverminderd voortgaan.

Nee, God het ons nie vergeet nie!

Laat ons daarom elke dag in gebed na Hom gaan.

In blye dae, maar ook in droewige dae.

 

(Tema: Die noodkreet: O Here, word wakker!

  • Hierdie Psalm leer ons hoe om te bid)

 

  • Hierdie Psalm leer ons by wie ons verhoring kan vind

Nou soos by elke Psalm, is ook Psalm 44 in Christus vervul.

Soos ons weet, het Christus in sy gebede ook baie geworstel.

Dikwels het Hy plekke van eensaamheid opgesoek, sodat Hy daar kon bid, daar waar niemand Hom kon sien of hoor nie.

Wie weet, het Hy daar nie net saggies geprewel nie, maar ook gehuil, dalk uitgeroep en geskreeu het tot sy hemelse Vader.

Tot die laaste nag voor sy kruisiging het Hy gebid.

Daardie gebed in Getsemane was geweldig intens.

Sweet het bloeddruppels geword.

En aan die kruis was sy gebed ‘n wanhopige gil: “Eli, Eli, lama sabagtani? ... My God, my God, waarom het U My verlaat?” (Matt 27:46)

Hierdie woorde klink baie eenders aan die woorde van Psalm 44.

Waarom het U My vergeet?

Waarom maak U My tot skande?

Waarom trek U nie met u engeleleërs uit om my van die kruis af te haal nie?

Waarom plunder my haters My na hartelus?

Waarom verkoop U my vir niks?

Waarom maak U my tot ‘n spreekwoord wat die nasies laat kopskud?

Elke klag van Psalm 44 is direk op Jesus Christus van toepassing.

 

En wat so opmerklik is: In Jesus se lewe was daar niks maar ook niks wat al hierdie strawwe geregverdig het nie.

Waar God se strawwe teen sy volk bedoel was om hulle tot besinning te bring, hulle sondes te laat raaksien, was dit by Jesus nie nodig nie.

Waar mens jou vraagtekens kan hê by wat die digter van Psalm 44 oor homself sê, dat hy en die volk nooit hulle hande uitgebrei het na ‘n vreemde god (vers 21), dat hulle treë nooit van sy pad afgewyk het (vers 19), dat hulle nooit bedrieglik gehandel het teen die verbond nie, daar was dit by Jesus so duidelik soos daglig.

Nee, Hy het nooit sy hande na ‘n vreemde god uitgebrei nie.

Sy treë het nooit van die regte pad afgewyk nie.

Hy het nooit troubreuk gepleeg nie.

Tog het al hierdie strawwe op Hom geval.

So is hierdie Psalm volmaak in Christus vervul.

Elke sin is honderd persent waar wat betref sy lewe.

En ons kan dit slegs verstaan as ons besef wat die doel van sy lewe was.

Want Hy was op aarde as Middelaar.

Al het Hy self geen sondes gehad nie, het Hy wel die strawwe op Hom geneem.

God het sy aangesig vir Hom verberg, sodat ons ewig in die lig van sy aangesig kan lewe.

 

Want die Vader het nie vir ewig die band met sy Seun verbreek nie.

Na sy plaasvervangende lyde aan die kruis kon Jesus sy gees in die Vader se hande oorgee (Luk 23:46).

En in heerlikheid het Hy Hom op die derde dag opgewek.

Hierdie is die duidelikste bewys dat God nie troubreuk gepleeg het teen sy verbond nie, dat Hy nie bedrieglik was nie.

Hy het sy eie geliefde Seun gestuur om die verbond te herstel, wat ons verbreek het.

En nou mag ons lewe met die seker wete dat daardie verbond sal standhou.

Die hulproep van Psalm 44 se laaste vers is in Christus vervul:

“Staan op tot ons hulp en verlos ons om u goedertierenheid ontwil!”

 

Bo aan die psalm is as opskrif deur die uitgewer gesit:

Hulpgeroep van die martelaarsgemeente.

Hierdie opskrif is nie deel van die Bybel nie.

Die opskrifte boaan Bybelhoofstukke probeer deurgaans ‘n indikasie te gee waaroor die hoofstuk handel.

Tog is hierdie opskrif baie gepas ...

Israel was in benarde omstandighede.

Ons is soms ook in benarde omstandighede.

Psalm 44 se klagtes kan ook ons lewens reflekteer, soos Paulus sy omstandighede beskryf in Romeine 8, en juis daarvoor die woorde van hierdie Psalm gebruik:

“Soos geskrywe is: Om U ontwil word ons die hele dag gedood, ons is gereken as slapskape.” (vers 36)

Sekerlik was hierdie woorde op Paulus se lewe van toepassing.

En wie weet wat ons nog te wagte staan?

Desnieteenstaande lewe Paulus getroos:

“Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat ons liefgehad het. Want ek is versekerd dat geen dood of lewe of engele of owerhede of magte of teenwoordige of toekomende dinge of hoogte of diepte of enige ander skepsel ons sal kan skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus, onse Here, is nie.” (vers 37-39)

 

In Christus weet ons dat God nie slaap nie.

In Christus weet ons dat Hy nie vir ewig sal verstoot nie.

Die kinders van Korag het vir Jesus Christus nog nie by name geken nie.

Tog het hulle, geïnspireer deur die Gees, van Hom geprofeteer.

Deur sy genade is hulle ook gered.

Hulle hulpgeroep het nie op dowe ore geval nie.

Al was hulle gebed by tye oneerbiedig, kleingelowig, brutaal selfs, is ook hulle gebed deur Christus voor die Vader gebring.

En die Vader het dit daarom verhoor.

 

Broer, suster, moenie ophou bid nie.

Ook nie daardie dag as jy voel dat God nie bestaan nie.

Roep dan maar: HERE, waar is U?

HERE, word wakker!

HERE, wat ek het fout gedoen?

HERE, bly nie vir ewig stil nie!

Broer, suster, God wil liewers dat jy tot Hom skreeu, as dat jy jou gebed nalaat.

Hou aan klop, al is jy ‘n sondaar, al verdien jy dit nie, werk op God se gevoelens, net soos die digter van hierdie Psalm.

Want daar is verhoring.

Dit leer ons ook uit hierdie Psalm, spesifiek uit die vervulling in Christus.

Dit leer ons by wie ons verhoring kan vind.

 

Psalm 44 eindig met ‘n noodkreet, dit eindig onbeslis.

Maar Christus het hierdie Psalm vervul, en nou is die uitkoms nie meer onbeslis nie.

God sal nie vir ewig verstoot nie!

God het ontwaak!

God het gehelp!

God het verlos!

 

Amen.

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 44:1,2

Wet

Ps 17:3

Gebed

Skriflesing: Psalm 44

Ps 44:4,5

Teks: Psalm 44:24

Preek

Ps 44:6,8,9

Gebed

Kollekte

Ps 34:1,2,4

Seën