Broers en susters,
“Laat u koninkryk kom...” – so bid ons in die Onse Vader. Dis ‘n bede wat ons baie maklik na die toekoms toe verskuif: dit kom nog, daar ver in die toekoms, eendag kom die koninkryk... en intussen is al my aandag op my daaglikse lewe, hier en nou. Sondag 48 van die Kategismus, wat ‘n uitleg gee van die woorde “laat u koninkryk kom”, laat dit egter nie toe nie. Sondag 48 plaas my héle lewe, hier en nou, onder die erns van hierdie bede; ons lees daar: “Regeer ons so deur u Woord en Gees dat ons ons hoe langer hoe meer aan U onderwerp. Bewaar u kerk en laat dit groei. Vernietig die werke van die duiwel, elke mag wat teen U opstaan, en alle kwaadwillige planne wat teen u heilige Woord bedink word, totdat [ja, eers dan verskuif die aandag na die toekoms!] die volkomenheid van u ryk kom, waarin U alles in almal sal wees.” Ons lewe dus alreeds in die koninkryk, broers en susters, en dit het verreikende implikasies! Iemand wat ons vanmôre alles hiervan kan vertel, is die profeet Miga.
Tema: God daal uit sy paleis om sy Koninkryk in die plek van ons koninkrykies te kom stel.
Ons het tot dusver na drie Skrifprofete gekyk: Jona, Amos en Hosea. Al drie hierdie profete het in die noordelike tienstammeryk opgetree, rofweg in die eerste helfte van die 8ste eeu voor Christus (800-750 vC; sien die preekblad). Met die profeet Miga verskuif ons egter na die suidelike tweestammeryk, êrens gedurende die tweede helfte van die agste eeu voor Christus (± 750-700 vC). Net vir interessantheid, Miga se tydgenoot was die bekende profeet Jesaja, waarna ons volgende gaan kyk. Dus, Miga en Jesaja tree in dieselfde tyd op, altwee in die tweestammeryk.
Nou, wat belangrik is om raak te sien, is dat Miga in sy profesie in die tweestammeryk tot ‘n groot mate dieselfde sondes aanspreek as wat Amos en Hosea enkele dekades voor hom in die tienstammeryk aangespreek het. Hoe so? Wel, Amos en Hosea profeteer vóór die val van Samaria (die hoofstad van die tienstammeryk), dus vóór die wegvoering van die tienstammeryk in ballingskap deur die Assiriërs in die jaar 722. Maar Miga profeteer kort nadat die tienstammeryk weggevoer is. En wat het gebeur met die wegvoering? ‘n Stroom van vlugtelinge vanuit die noorde vlug oor die grens na die tweestammeryk toe; ons weet vanuit argeologiese ondersoeke dat die getal inwoners in Jerusalem in daardie tyd viervoudig vermeerder het. En saam met hierdie vlugtelinge het die sondes van Israel in Juda ingang gevind. Lees maar Miga 1:9, waar Miga oor die tienstammeryk sê: “Waarlik, haar wonde is ongeneeslik [‘wonde’ is simbool van die sonde!]; want dit het gekom tot by Juda, dit reik tot aan die poort van my volk, tot by Jerusalem.” En weer in Miga 1:13: “Dit was die begin van sonde vir die dogter van Sion, dat die oortredinge van Israel in jou gevind is.” So, die sondes wat in Israel (die tienstammeryk) geheers het (en wat uiteindelik tot hulle ballingskap gelei het), het begin oorstroom na en ingang vind in Juda (die tweestammeryk), en veral in die hoofstad Jerusalem. Dis die gevaar van beïnvloeding, broers en susters, waarvoor ons vandag ook nog deeglik op ons hoede moet wees; die gevaar dat persone of groepe met wie jy omgaan jou dalk negatief kan beïnvloed, en jou dalk kan aftrek na hulle vlak. Soos die uitdrukking sê: wie met pik omgaan, word daarmee besmet. Laat ons daarvoor op ons hoede wees!
Maar oor watter sondes het dit presies gegaan? Wel, dit sal u vind in daardie gedeeltes in Miga se profesie, wat ek op die preekblad in die drie blokke met ‘sonde & oordeel’ aangedui het. Op godsdienstige vlak het Juda begin om aan die afgode te offer, om deel te neem aan die heidense rituele, en om waarsêery en goëlery te beoefen (Miga 5:11-13). Op ekonomiese gebied was daar allerhande oneerlikheid en korrupsie wat plaasgevind het: Miga praat onder andere van ‘n valse weegskaal en bedrieglike gewigte (Miga 6:11). In die samelewing was daar geweld, leuentaal en bedrog (Miga 6:12). Verder rig Miga sy pyle veral teen die leiers van die volk – die vorste, die regters, die priesters, die profete. Hulle het ryk geword deur gierigheid en diefstal. Hoofstuk 2:2 (“hulle begeer velde en roof dit”) herinner ons aan Agab se sonde met Nabot se wingerd, ‘n baie konkrete voorbeeld van hoe die sonde van die tienstammeryk nou ook onder die leierskap van die tweestammeryk posgevat het. En in plaas daarvan dat die profete en die priesters (die godsdienstige leiers – God se verteenwoordigers!) teen al hierdie korrupte praktyke standpunt ingeneem het, het hulle eerder daaraan deelgeneem. Volgens hoofstuk 3:5 en 11 was sowel die profete as die priesters slegs bereid om te profeteer of onderrig te gee as hulle behoorlik daarvoor betaal is. En met al hierdie korrupsie en bedrog van die kant van die leiers en die rykes, is die armes beroof van hulle land en hulle sekuriteit. In skreiende taal beskryf Miga die leiers en die rykes as diegene “wat die vlees van my volk eet en hulle vel van hulle afslag ... wat hulle gebeente verbrysel en hulle aan stukke kap soos vleis in ‘n pot en soos vleis in ‘n pan” (Miga 3:3). Die rykes het al hoe ryker geword, en die armes al hoe armer...
Ja, gemeente, die sosiale, godsdienstige, ekonomiese, en politieke lewe van Juda was siek (verskeie kere in Miga se profesie word gepraat van die volk se siekte, se wonde, en die roep om genesing). Juda was siek! Want die volk het hulleself oorgegee aan ‘n selfgesentreerde lewe sonder enige konsiderasie vir God of hulle mede-volksgenote. En dit alles is bedek met ‘n dun vernislagie van vroomheid en godsdienstigheid: “Nogtans steun hulle op die Here en sê: Is die Here nie in ons midde nie? Geen onheil sal ons wedervaar nie” (Miga 3:11). Onder ‘n skyn van godsdienstigheid was die inwoners van Juda besig om elkeen hulle eie koninkrykies te bou.
En ek gebruik spesifiek hierdie beskrywing (die volk was besig om hulle eie koninkrykies te bou), want dít is die onderliggende tema wat ons in Miga se profesie moet raaksien: dit gaan oor die Koninkryk! Reg aan die begin van sy profesie alreeds bied Miga vir ons hierdie tema aan wanneer hy God se verskyning op dramatiese wyse beskryf: “o Volke, luister almal saam! O Aarde en sy volheid, let op! Sodat die Here HERE getuie teen julle kan wees, die Here uit sy heilige paleis” (Miga 1:2) Dis waarmee Miga sy profesie begin: die Koning daal neer uit sy hemelse paleis, en dit bring die natuur in beweging: “Die berge smelt onder Hom, en die laagtes skeur oop, soos was voor die vuur, soos water wat langs die helling afstroom” (Miga 1:4; so het ons gesing in Ps. 68). En wat kom doen hierdie Koning op aarde? Wel, vers 5, “dit is alles vanweë die oortreding van Jakob en vanweë die sondes van die huis van Israel.” Die hemelse Koning kom konfronteer Hom met die sondige, aardse koninkrykies wat sy volk besig was om te bou! Dís die stryd wat hom voor ons oë in Miga se profesie afspeel.
Die volk het vergeet dat hulle deur die Here uitverkies is, afgesonder is, om sy Koninkryk te bevorder – en nie net om dit te bou nie, maar om dit te wees! Juda, die tweestammeryk tot wie Miga homself rig, was die stam, die lyn, waarin die Messias – die groot Koning! – gebore sou word. Wat ‘n genade! Dít is waarop die volk hulle moes rig, dít moes hulle fokus wees. Maar vir die volk was dit nie prioriteit nie. Hulle het gedink dat hulle die Here tevrede kan hou met vroom godsdienstige rituele, met offers van kalwers, ramme en olie (Miga 6:6-7) ... en naas dit alles ook nog hulle eie koninkrykies kan bou. En dáárom klim die Here simbolies van sy hemelse troon af en daal Hy na sy volk toe neer om met hulle daaroor te twis. Meer nog: om met hulle daaroor ‘n regstryd te voer: “Hoor, berge, die twis van die HERE! En onwankelbares, grondslae van die aarde! Want die HERE het ‘n twis met sy volk en sal met Israel ‘n regsgeding hou” (Miga 6:1-2). Onder God se volk kan daar net een koninkryk wees – syne! En daarom sien ons in Miga se profesie Koninkryk teenoor koninkryk staan – ‘n stryd om bestaansreg!
---------------
Voordat ons verder ons pad deur die profesie van Miga vind, is dit goed om vir ‘n oomblik hierby stil te staan, broers en susters. Koninkryk teenoor koninkryk, koning teenoor koning... Wie is jou Koning? Aan watter koninkryk bou jy? Baie eeue later sal Jesus vir sy dissipels in die bergrede sê: “Niemand kan twee here dien nie; want óf hy sal die een haat en die ander liefhê, óf hy sal die een aanhang en die ander verag. Julle kan nie God én Mammon dien nie” (Mt. 6:24). Dit is nie moontlik om in God se Koninkryk te wil wees, maar intussen ook jou eie koninkrykie te bou nie. Maar is dit nie wat ons dikwels – miskien onbewustelik – doen nie? Sekere tye reserveer ons vir godsdienstige rituele – ons bid voor en ná ete, Sondae gaan ons kerktoe, dalk nog ‘n Bybelstudie gedurende die week – maar vir die res beywer ons onsself vir ons koninkrykie hier op aarde: die gesin, die huis, die tuin, die werk, die sport, die sosiale aktiwiteite; daar is skedules en roetines wat ons volg, daar is mikpunte en doelwitte wat ons nastreef; daar is planne vir die besigheid; daar is eksamens en toetse, gevolg deur ‘n langverwagte vakansie... En in dit alles bou ons steen vir steen, dag na dag, tree vir tree aan ‘n aardse koninkrykie: my wêreldjie, my plekkie onder die son. En dalk is dit nie baie luuks nie – want onthou, dis nie net die rykes wat aardse koninkryke bou nie, almal van ons doen dit – maar dis my tuiste, die plekkie waarvoor ek hard gewerk het.
Maar dan gaan Jesus in dieselfde gedeelte lynreg hierteen in: soek eers die koninkryk van God (Mt. 6:33)! Nie my koninkryk nie, God se koninkryk eerste! Dit is God se stryd in Miga se tyd; dit is Jesus se oproep in die bergrede. En, vervolg Jesus, dan sal al hierdie dinge vir jou bygevoeg word – ja, dan mag jy ‘n huis hê waaraan jy tyd spandeer, en ‘n tuin waarin jy graag werk, en dan mag jy die nodige energie aan jou werk en jou sport en jou sosiale aktiwiteite skenk. Maar Wie kom eerste? Vir watter koninkryk werk jy? En staan al hierdie dinge (gesin, werk, skool, sport...) in diens van God se koninkryk? Dus, wat staan sentraal in jou lewe? Ons kan nie twee here dien – soek daarom allereers die koninkryk van God!
-----------------
In die profesie van Miga maak die Here baie duidelik dat sy koninkryk eerste moet kom! Daar is nie plek vir sy volk se koninkrykies nie. Hulle dink hulle kan Hom gelukkig hou met ‘n paar godsdienstige rituele – en dat alles dan goed sal gaan (“Geen onheil sal ons wedervaar nie” – Miga 3:11), maar dan sê die Here in vers 12: “Sion sal om julle ontwil soos ‘n land omgeploeg en Jerusalem puinhope word en die tempelberg bosrante.” En kort daarna, in hoofstuk 4:10, word dit nog meer konkreet: “Want nou sal jy die stad verlaat en op die veld gaan woon; en jy sal in Babel aankom...” Verstommend hoe konkreet die profete is! Nadat die tienstammeryk nog maar skaars deur die Assiriërs weggevoer is, kondig die Here hier die ballingskap van die tweestammeryk deur die Babiloniërs aan. Omdat hulle sy koninkryk misbruik het vir hulle eie belange (vir hulle eie koninkrykies), daarom word die volk as’t ware uit die koninkryk weggestuur na Babel. Die Here sê as’t ware: “Ek het julle hier laat woon om aan my Koninkryk te bou, maar aangesien julle jul eie koninkrykies bou... Uit! Verlaat my land!”
Maar dit is nie die einde nie, broers en susters. God se oordeel oor sy volk is juis tot hulle redding. God bou sy koninkryk deur sy volk se koninkrykies af te breek in die ballingskap, in Babel. En kyk dan weer na hoofstuk 4:10: “... en jy sal in Babel aankom - dáár sal jy gered word, dáár sal die Here jou verlos uit die hand van jou vyande”! Die ballingskap – daardie ondenkbare ramp waarby Jerusalem en die tempel verwoes is – is uiteindelik die redding vir die volk. Hulle word daar gestroop van hulle eie, nietige, mensgemaakte koninkrykies. Sodat God se koninkryk kan kom! En hoe gaan die Here dit doen?
Eers gaan die Here vanuit die ballingskap ‘n oorblyfsel van die volk laat terugkeer. ‘n Oorblyfsel / ‘n res – dis ‘n baie belangrike begrip in die profete. Die Here maak ‘n nuwe begin met ‘n oorblyfsel, met ‘n res van sy volk! Kyk maar na hoofstuk 2:12: “Gewis sal Ek vergader die oorblyfsel van Israel; almal bymekaarbring soos skape in ‘n kraal.” Hoofstuk 4:7: “Dan sal Ek die wat kreupel was, tot ‘n oorblyfsel maak en wat ver verwyder was, tot ‘n magtige nasie.” En ook nog hoofstuk 5:2: “Dan sal die oorblyfsel van sy broers saam met die kinders van Israel terugkeer.” In die oorblyfsel (die klein res!) vind ons die nuwe begin van God se koninkryk. En wat is interessant in al drie hierdie tekste? Wel, in al drie tekste is daar die oorblyfsel, maar saam met die oorblyfsel gaan ook die koning! Hoofstuk 2:13: “Hulle sal deurbreek en deur die poort intrek en daardeur uittrek; en hulle koning sal voor hulle uit gaan, en die Here heeltemal vooraan.” Hoofstuk 4:7: “En die HERE sal koning wees oor hulle op die berg Sion, van nou af tot in ewigheid.” En dan die bekende hoofstuk 5:1: “En jy, Betlehem Efrata ... uit jou sal daar vir My uitgaan een wat ‘n Heerser (‘n Koning!) in Israel sal wees.” Sien u, die ballingskap beteken uiteindelik redding vir die volk! Gestroop van hulle eie, sondige koninkrykies, sal die oorblyfsel vanuit die ballingskap versamel word onder die heerskappy van hulle koning!
Ja, goed, maar wanneer het daardie koning dan gekom? Want toe Israel uit die ballingskap teruggekeer het, was daar geen koning nie. Ja, daar was Serubbabel, uit die nageslag van Dawid, maar hy was geen koning nie. Nee, jy’s reg. En nou is dit belangrik om iets van profesie te verstaan: soos so dikwels in die profete word die verskillende fases van vervulling inmekaar geskuif asof dit een en dieselfde gebeurtenis is. Dikwels lê daar honderde jare tussen die vervulling van die verskillende elemente van ‘n profesie, maar dit word so vertel asof dit op dieselfde tyd vervul word. Jy kan dit vergelyk met ‘n konsertina (sien die prentjie) – die profete skets vir ons die toekoms soos ‘n konsertina wat toe is (al die elemente van die toekoms lê naby aan mekaar). Maar in die realisering word die konsertina oopgetrek, en dan sien jy dat daar tussen die verskillende fases van die vervulling soms honderde jare kan lê. So is dit ook hier: die oorblyfsel word vir ons geskets asof hulle uit ballingskap gaan terugkeer onder leiding van ‘n koning, maar daardie koning kom eers baie eeue later.
Meer as vyfhonderd jaar na die terugkeer uit ballingskap word die koning gebore, in Betlehem! Sien weereens hoe konkreet Miga hier is: “En jy, Betlehem Efrata, klein om te wees onder die geslagte van Juda, uit jou sal daar vir My uitgaan een wat ‘n Heerser in Israel sal wees.” Jesus Christus, gebore in Betlehem, is die Koning van God se Koninkryk! Hy kom breek al ons mensgemaakte koninkrykies af, en Hy laat ons vir Hom lewe in sy koninkryk van vergifnis en goedertierenheid. So beskryf Miga vir ons die koninkryk in die laaste verse van sy profesie: “Wie is ‘n God soos U, wat die ongeregtigheid vergewe en by die oortreding van die oorblyfsel van sy volk verbygaan? ... Hy sal Hom weer oor ons ontferm, ... ja, U sal al hulle sondes in die dieptes van die see werp” (Miga 7:18-20). Dit, gemeente, is die hart van die Koninkryk waarvan Christus die Koning is: vergifnis, goedertierenheid, genade. En dit is hierdie werklikheid wat ons menslike koninkrykies afbreek; dit is vergifnis en genade wat maak dat ek nie meer my eie koninkrykie hoef te bou nie.
En daarom, wanneer hierdie Koning op aarde kom, dan is sy heel eerste woorde: “Bekeer julle, want die koninkryk van die hemele het naby gekom” (Mt. 4:17). Bekeer julle van julle eie koninkrykies, bekeer julle van al die sondes wat met hierdie aardse, mensgemaakte koninkrykies gepaard gaan! Kom in my Koninkryk in en kom leef vir my! Dit is Jesus se openingswoorde – Mattheus 4:17. En wat doen Hy direk daarna? Hy kies die eerste Koninkryksburgers – die dissipels (Mt. 4:18-22). En daarna? Wel, in Mattheus 5 klim Jesus op die berg, en net soos wat God eeue daarvoor op die Sinai sy wet aan sy volk gegee het, gee Jesus vervolgens aan sy volgelinge sy koninkrykswet in die Bergrede (Mt. 5-7). Wat God in Miga 6:8 kort saamvat (“Hy het jou bekend gemaak, o mens, wat goed is; en wat vra die Here van jou anders as om reg te doen, liefde te betrag, en ootmoedig te wandel met jou God?”), dit kom leer Jesus in die Bergrede aan sy dissipels as die wet van die Koninkryk.
In Miga se tyd het die rykes die armes uitgebuit – in Jesus se koninkrykswet hoor ons: “salig is die wat arm van gees is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemele” (Mt. 5:3). In Miga se dae het die valse profete net geprofeteer vir geld – in Jesus se koninkrykswet waarsku Hy teen die valse profete wat in skaapsklere kom en van binne roofsugtige wolwe is (Mt. 7:15). Miga profeteer dat die nasies van hulle swaarde pikke sal smee en van hulle spiese snoeimesse, en dat hulle nie meer sal leer om oorlog te voer nie (Miga 4:3), en in Jesus se koninkrykswet hoor ons die verwerkliking daarvan: “Salig is die vredemakers, want hulle sal kinders van God genoem word” (Mt. 5:9), en “as iemand jou op jou regterwang slaan, draai ook die ander een na hom toe” (Mt. 5:39). In Miga se dae het almal hulle eie koninkrykies probeer bou deur net ryker en ryker te word – Jesus waarsku: “Moenie vir julle skatte bymekaarmaak op die aarde, waar mot en roes verniel en waar diewe inbreek en steel nie, maar maak vir julle skatte bymekaar in die hemel!” (Mt. 6:19-20). In Miga se profesie sien ons dat die Koning se verskyning die berge laat smelt en die laagtes laat oopskeur (Miga 1:4), maar in Jesus se bergrede sien dat hierdie einste Koning die voëls van die hemel en die lelies van die veld versorg – en so ook vir jou en my (Mt. 6:26-30).
Dit is die Koninkryk waarbinne ons mag lewe, broers en susters! Dis so anders as die mensgemaakte koninkrykies wat ons om ons heen sien. In hierdie mensgemaakte koninkrykies gaan dit net oor myself, net oor my eiebelang – ek, ek, ek. In hierdie mensgemaakte koninkrykies doen ek alles wat nodig is om my belange te beskerm – ek baklei, ek byt, ek voer oorlog as dit moet. En ek sluit net bondgenootskappe wanneer dit my belange kan bevorder. Dis hoe dit was onder die volk in Miga se dae. En daarvoor is hulle gestraf in die ballingskap! Hulle het, soos wat Jesus sy bergrede afsluit in Mattheus 7:26-27, hulle huis op die sand gebou – en die reën het geval en die waterstrome het gekom en die winde het gewaai en teen daardie huis aangestorm en dit het geval en sy val was groot. Die ballingskap was ‘n groot ramp. En so sal dit gaan met elkeen wat sy eie koninkrykie bou. En dan help dit nie jy bedek dit met ‘n dun godsdienstige lagie van kerktoe gaan en af en toe bid nie, want “nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! Sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie (Mt. 7:21).
Nee, gemeente, in die Koninkryk van Koning Jesus is dit geheel en al anders. In sy Koninkryk hoef ek nie meer vir myself te baklei nie, maar kan ek lewe van sy genade en vergifnis. Genade en vergifnis – dit is die rots waarop hierdie Koninkryk gebou is. En die reën het geval en die waterstrome het gekom en die winde het gewaai en teen hierdie huis aangestorm, en dit het nie geval nie, want sy fondament was op die rots! Ons is veilig in hierdie koninkryk, ons is veilig in die genade van die Here! En ons word vrygemaak om vir ons Koning te lewe – nie meer vir onsself nie, maar vir Hom! En dan kan ons, soos wat ons Koning ons leer in sy Koninkrykswet, ons vyande liefhê, ons kan seën die wat ons vervloek, ons kan goed doen aan die wat ons haat, ons kan bid vir die wat ons beledig en vervolg (Mt. 5:44). Ons kan liefdadigheid bewys op so ‘n manier dat die linkerhand nie weet wat die regterhand doen nie (Mt. 6:3). Ons kan ons naaste hulle oortredinge vergewe (Mt. 6:14). En ons hoef ons nie meer te kwel oor môre nie, want God sorg vir ons (Mt. 7:33-34).
Gemeente, kom ons volg hierdie Koning, ons Here Jesus Christus. Kom ons soek saam na die belange van sy Koninkryk. Laat, volgens Miga 4:5, al die volke maar wandel in die naam van hulle eie god, maar óns sal wandel in die Naam van die Here onse God vir ewig en altoos!
Amen
Votum en Seëngroet: Ons hulp is in die Naam van die Here wat die hemel en die aarde gemaka het. Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.
Sing Ps. 68:1 en 2
Gebed
Doop:
- Doopsformulier + vrae
- Doopsbediening
- Dankgebed
- Sing Ps. 105:4 en 5
Lees: Mattheus 6:19-34
Sing Skr. 17:6
Teks: Miga 1:1-9, 2:12-13, 3:9-12, 4:7&10, 5:1-2, 7:18-20
Preek
Amenlied Ps. 145:1, 2, 4 (staande)
Wet vd Koninkryk
Sing Ps. 99:1, 4 en 5
Gebed
Kollekte
Slotsang Ps. 145:7, 8, 10, 12
Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen. / Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.