Dit is opvallend, as dit in artikel 33 oor die sakramente gaan, dat God die onderwerp van elke sin is.
Hy het die sakramente vir ons ingestel.
Hy beseël sy beloftes aan ons.
Hy bekragtig daarmee die heil aan ons meegedeel.
Die sakramente, doop en nagmaal, gaan dus duidelik oor dit wat God doen.
Die sakramente self gee nie vir ons redding nie.
Hulle is slegs simbole wat ons wys waar om ons redding te vind: by Jesus Christus.
Beide sakramente gaan oor ons Here Jesus Christus.
Die NGB gaan dan verder om die doop te behandel.
Dit verwys na die einde van die besnydenis, omdat die besnydenis met bloed gepaard gegaan het, en Christus se bloed alle verdere bloedvloeiing oorbodig gemaak het.
Die besnydenis as teken van die ou verbond is vervang deur die doop as teken van die nuwe verbond.
Die doop is die besnydenis van Christus, lees ons in Kolossense 2:11.
Daar word ook verwys na Christus se instelling van die doop in Mattheüs 28:19.
Verder verwerp die NGB die gewoonte dat mense twee maal gedoop word.
As dit die regte doop was, naamlik in die Naam van God Drieënig, dan is een doop voldoende.
God se belofte verander nie, en die doop gaan oor wat God belowe, Hy is die onderwerp.
Wat ook in jou lewe verander, sy belofte bly dieselfde.
Die dwaling van die Wederdopers word daarom verwerp in artikel 34.
Die feit dat hulle twee keer doop, juis omdat hulle die doop van kindertjies veroordeel.
Nou in vandag se preek wil ek veral hierop fokus, op die doop van kindertjies.
Die kinderdoop.
Elke nou en dan word die kinderdoop in ons gemeente bedien.
Wat beteken dit?
En is dit wel Bybels om jong kinders te doop?
Tema: Alhoewel kinders dit nog nie verstaan nie, mag hulle nogtans nie daarom van die doop uitgesluit word nie.
(aanhaling uit die vir ons bekende Doopsformulier, wat net soos NGB art. 34 op ‘n mooi manier die Skriftuurlike onderrig oor die doop saamvat)
Net soos in die tyd van die Reformasie, is daar vandag ook nog Baptiste wat met baie klem die kinderdoop veroordeel.
Hulle roep Gereformeerdes ten sterkste op om op te hou met die kinderdoop, en daarvoor gebruik hulle Bybeltekste.
Veral die jeug kry met hierdie menings van Baptiste te make, wat byvoorbeeld op internet beskikbaar is in potgooie wat gekyk of geluister kan word.
Aangebied deur name soos John McArthur en dies meer.
Nou in vandag se leerpreek oor die doop gaan ons spesifiek kyk na tekste in die Bybel.
Tekste wat sowel deur Baptiste en Gereformeerdes gebruik word om hulle punt te staaf.
Ons gaan daardie tekste noukeurig ondersoek, vanuit die Griekse grondtaal, met die doel om presies seker te maak wat die Heilige Gees ons in daardie tekste onderrig.
Volgens die Baptiste was die Reformasie van die 16de eeu naamlik onvolledig.
Reformatore soos Luther en Calvyn het halfpad vasgehaak.
Hulle moes nie net die Roomse siening dat die doop letterlik en fisies Christus se genade meedeel verwerp nie.
Hulle moes nie net die bygeloof dat die doopwater towerwater is, verwerp nie.
Hulle moes ook die Roomse gewoonte om kinders te doop verwerp.
Nou as ons na die Bybel gaan, na die Nuwe Testament, vind ons nêrens ‘n eksplisiete bevel dat kinders gedoop moet word nie.
Aan die ander kant vind ons ook nie ‘n eksplisiete bevel dat net volwassenes gedoop mag word nie.
Baptiste redeneer: As iets in die Bybel nie beveel word nie, mag jy dit nie doen nie.
Gereformeerdes is dus verkeerd as hulle iets doen wat nie in die Skrif beveel is nie.
Nou is dit nie ‘n volledige en korrekte weergawe van die Gereformeerde oortuiging nie.
Die Gererformeerde leer oor die kinderdoop is naamlik onder andere gebaseer op die volgende hermeneutiese uitgangspunt, naamlik:
As iets beveel is in die Ou Testament, en dit is nie afgeskaf in die Nuwe Testament nie, dan is dit nog steeds van krag.
Die besnydenis is eksplisiet afgeskaf in die Nuwe Testament.
Die besnydenis is vervang met die doop – Kolossense 2:11, maar nêrens staan daar in die Nuwe Testament dat voortaan net volwassenes gedoop mag word en nie kinders nie.
Verder kan mens die Skrif nie so gebruik asof net dit wat eksplisiet beveel word, gedoen mag word nie.
Om ‘n voorbeeld te noem: Nêrens vind ons ‘n bevel in die Skrif dat vroue nagmaal moet vier nie.
Daar is ook nêrens in die Skrif ‘n voorbeeld van ‘n vrou wat nagmaal gevier het nie.
Tog is dit nie verkeerd nie, want dit is in lyn met die bedoeling van die nagmaal.
So is dit in lyn met die bedoeling van die doop as kinders ook gedoop word.
Nou kom ons by die vraag: Is daar dan voorbeelde in die Nuwe Testament waar kinders gedoop is?
As Gereformeerdes sê ons ja, maar Baptiste ontken dit.
As Gereformeerdes wys ons dan veral op Bybeltekste soos die wat ons vanoggend gelees het, waar daar staan dat ‘n persoon met sy huisgesin gedoop is.
Lydia en haar huisgesin (Hand 16), die tronkbewaarder en sy huisgesin (Hand 16), Cornelius en sy huisgesin (Hand 10-11), Stefanas en sy huisgesin (1 Kor 1:16).
Baptiste sê egter: In hierdie tekste word kinders nie eksplisiet genoem nie.
Hulle neem vervolgens aan dat daar in al hierdie huisgesinne nie kinders was nie.
Nou wie is reg?
Was daar kinders in hierdie huisgesinne of nie?
Daar is net een manier om dit agter te kom, en dit is om terug te gaan na die Griekse grondteks.
Die Griekse woord wat hier vir huisgesin gebruik word, die woord oikia, of oikos, se betekenis het eksplisiet ook kinders ingesluit.
Die eerste lesers wat die Nuwe Testament gelees het, soos Theofilus aan wie Handelinge geskryf is, of die Korinthiërs, of die eerste lesers van die Evangelies, hulle het by die hoor van hierdie woord ook aan kinders gedink.
Daar is nog ‘n Bybelgedeelte wat ons gelees het – uit Johannes 4 – oor die koninklike beampte wie se seun siek was.
Oor hom word geskryf in vers 53: “En hy het self geglo en sy hele huis”.
Nou volgens Baptiste kon daar nie kinders in hierdie huis gewees het nie, want daar staan dat sy hele huis geglo het, en ‘n kindjie kan nog nie glo nie.
Wel, vroeër in die gedeelte het ons gelees oor ‘n kind, naamlik die seun van die koninklike beampte wat siek was.
Maar, sê Baptiste dan, hierdie seun moes al so oud gewees het dat hy selfstandig sy geloof kon bely, net soos dit vandag in Baptistekerke plaasvind as iemand sy geloof bely – tipies ‘n jong volwassene, hoogstens ‘n tiener, maar nie ‘n kleuter nie.
Is hierdie aanname reg oor die seun van die koninklike beampte?
Kom ons kyk na die woorde wat in die Griekse grondteks spesifiek vir hierdie seun gebruik word.
In vers 46 en 53 word hy seun genoem.
Die Griekse woord vir seun is ouderdom neutraal.
‘n Pa kan na sy seun verwys wat ‘n baba is, ‘n pa kan met dieselfde woord ook na sy seun as ‘n volwasse man verwys.
Die Griekse woord vir seun gaan ons dus nie verder help om die ouderdom van hierdie koninklike beampte se seun te bepaal nie.
Maar in vers 49 word ook na hierdie seun as “kind” verwys.
Die Griekse woord wat hier vir “kind” gebruik is, is paidion, en dit verwys deurgaans na ‘n klein kind, ‘n kleuter, of selfs ‘n baba.
So as daar hier staan dat die koninklike beampte en sy hele huis geglo het, dan het dit dus hierdie seuntjie ingesluit, wat van so ‘n ouderdom was waarvan Baptiste sê dat so iemand nie gedoop mag word nie.
Nou in teenstelling tot hierdie Griekse woord vir “kind”, is daar in Grieks nog ‘n ander woord wat ook vir ‘n kind gebruik kan word, naamlik die woord teknon, en dit is wel ‘n woord wat ouderdom neutraal is.
So as hierdie seun van die koninklike beampte al volwasse of jong volwasse was, sou die evangelis nie die eerste woord paidion gebruik het nie, maar hierdie tweede woord teknon.
Nou mag u dalk vind, gemeente, dat die preek veels te tegnies raak, met die bespreking van Griekse woorde.
Tog is dit in hierdie geval noodsaaklik, juis omdat hierdie debat oor die kinderdoop hewig kan raak.
Ons jongmense ervaar dit nog baie meer intens dalk as die oueres.
Baptiste is geneig om Gereformeerdes skerp te kritiseer oor hulle kinderdoop.
En moet ons jongmense dan met ‘n mond vol tande staan, terwyl hulle die Baptiste nie kan antwoord nie, nie met teenargumente kan kom nie?
Deur die jare het daar al meer as een lidmaat uit ons gemeente onttrek, juis omdat hulle beïnvloed is deur die Baptiste en die kinderdoop begin verwerp het.
Onttrekkings tot baie onlangs toe.
Hoe ryk is ons nie met die kinderdoop nie!
Laat ons dit oppas en soos ‘n kosbare geskenk verdedig!
Nog ‘n Bybelgedeelte waar ons hierdie woord vir ‘n kindjie vind, is die geskiedenis van die ouers wat hulle kindertjies na Jesus gebring het.
Markus 10:13-15: “En hulle het kindertjies na hom gebring, dat Hy hulle kon aanraak ...”
Die dissipels het hulle bestraf dat Jesus te besig is, te besig om aan sulke klein kindertjies aandag te skenk.
Grieks hier vir kindjie is dieselfde woord paidiov.
Nou hoekom verwys ek na hiedie gedeelte?
Ek doen dit om die volgende rede.
Hierdie geskiedenis van die ouers wat hulle kindertjies na Jesus toe gebring het, gebruik Baptiste as begronding vir hulle gewoonte om kindertjies op te dra.
As Baptiste ouers ‘n baba kry, dan neem hulle die baba nie kerk toe om gedoop te word nie, maar wel om die baba op te dra.
Dus, volgens Baptiste is hierdie kindertjies waarvan ons lees dat hulle ouers hulle na Jesus gebring het, nog te jonk om te gedoop te word, te jonk om aktief te glo en hulle geloof te bely, maar hulle kan wel deur Jesus aangeraak en geseën word.
Nou hier is ‘n inkonsistensie, gemeente.
As hierdie kindertjies hier te jonk was om hulle geloof te bely en gedoop te word, en net om opgedra te word, hoekom kan die kindjie van die koninklike beampte, waarvoor presies dieselfde woord in Grieks gebruik word, hoekom kan hy dan wel oud genoeg wees om sy geloof te bely?
Verstaan u, dit is inkonsistent.
Want presies dieselfde Griekse woord word gebruik: paidion.
En sie daar hoe belangrik dit is om by eksegese ook na die grondteks terug te gaan.
Die Bybelgedeelte oor die koninklike beampte bewys dus juis dat daar in ‘n huisgesin ook jong kinders was.
Nou vra u dalk: Ja maar hoe kan jong kinders dan glo?
Baptiste beweer jong kindertjies kan nog nie glo nie, hulle kan nog nie hulle geloof bely nie, omdat hulle skaars kan praat.
Hierdie Baptistiese redenering kan baie twyfel by ouers veroorsaak, veral as hulle baba as jong kindjie op vroeë ouderdom te sterwe kom.
Wat gebeur daar met so ‘n kindjie, sal dit salig word?
Die Dordtse Leerreëls (hfst 1.17) wys tereg op hierdie twyfel en angs wat ouers kan hê:
“Godvrugtige ouers moet daarom nie twyfel aan die uitverkiesing en saligheid van hulle kinders wat God in hulle kinderjare uit hierdie lewe wegneem nie”.
As Gereformeerdes bely ons dat God elke kind sal oordeel volgens sy vlak van toerekeningsvatbaarheid.
Van ‘n kleuter word nie dieselfde geloof verwag as van ‘n tiener nie, en van ‘n tiener ook nie die van ‘n volwassene nie.
By elke ouderdom verwag die HERE ‘n opregte geloof, passend by daardie leeftyd.
‘n 5 jarige kleuter wat gehoorsaam is aan sy ouers wat God oor hom gestel het, het ‘n ware geloof, passend by sy leeftyd, al weet hy byvoorbeeld nog niks van die Drieëenheid nie.
Maar ‘n persoon wat 21 jaar is en openbare geloofsbelydenis gedoen het, van so ‘n persoon op so ‘n ouderdom mag wel verwag word dat hy weet en aanvaar dit wat die Skrif oor die Drieëenheid openbaar.
Toe God sy volk Israel in die woestyn gestraf het vir hulle ongehoorsaamheid en gebrek aan vertroue, het Hy almal in die woestyn laat sterf, behalwe hulle wat onder 20 jaar oud was (Num 14:29).
Hulle was nog nie in dieselfde mate toerekeningsvatbaar as die volwassenes nie.
Gelowige ouers hoef dus nie te twyfel aan die saligheid van hulle vroeggestorwe kind, as hulle daardie kind Godvresend begin opvoed het nie.
Dit geld selfs vir babas in die genadeverbond.
Daarmee word nie geïmpliseer dat babas salig word buite Christus se soenverdienste om, dat babas nie sondig is nie.
Inteendeel, babas het die versoeningsbloed van Christus net soveel nodig.
Maar ‘n baba wat nog nie kan praat en Christus se heerlike Naam op sy lippe kan neem nie, word nie daarom veroordeel nie.
Sy toerekeningsvatbaarheid is op ‘n ander vlak as die van ‘n volwassene.
Hierdie is ‘n groot troos, ook vir ons.
Ook in ons gemeente sterf daar babatjies, dink veral aan ma’s wat ‘n miskraam het.
Dit is ‘n onderwerp wat nie veel bespreek word nie.
Maar moenie ‘n fout maak nie, as ‘n ma ‘n miskraam het, is haar kop vol gedagtes.
Wat gebeur nou met my kindjie?
Ken die HERE wel hierdie kindjie?
Wat ‘n heerlike vertroosting, dat selfs die ongeborenes van gelowige ouers deur God geken word en deur Christus se soenverdienste gered word.
Ons kom terug by die Bybelgedeeltes wat ons gelees het.
Geld vir Lydia en haar huisgesin (Hand 16), die tronkbewaarder en sy huisgesin (Hand 16), Cornelius en sy huisgesin (Hand 10-11), die koninklike beamte en sy huis (Joh 4), Stefanas en sy huisgesin (1 Kor 1:16) – geld vir al hierdie huisgesinne dat daar geen kinders was nie?
Dit sou baie toevallig gewees het, juis in die lig van die feit dat die Griekse woord vir huisgesin eksplisiet ook kinders insluit.
En dat dit kinders insluit, is ook so verstaan deur die eerste lesers.
Al hierdie gesinne laat mens terugdink aan Josua en sy gesin, aan dit wat Josua in Josua 24:15 bely het: “maar ek en my huis, ons sal die HERE dien”.
Josua praat hier as die gesinshoof.
Hy praat nie oor elkeen in sy gesin se uitverkiesing nie.
Maar dat sy hele gesin in die verbond opgeneem is, en dat hy as gesinshoof sy verantwoordelikheid sal neem dat sy hele huis die HERE dien.
Hy sal sorg dat daar in sy huis geen plek is vir diens aan die afgode nie.
Dieselfde het gegeld vir die koninklike beampte van Johannes 4, en vir Cornelius, en vir Stefanas, vir die tronkbewaarder en vir Lydia.
Deur die doop is hulle huisgesinne opgeneem in die verbond, apart geplaas en toegewy aan die diens van die HERE.
Hulle is geheilig, betekende hulle is afgesonder, toegewy vir die diens aan die HERE.
Nog een saak wil ek aanspreek.
Baptiste maak ‘n punt daarvan dat doop net onderdompeling mag wees.
In ons doopsformulier staan beide as moontlikhede: indompeling òf besprinkeling.
Beide is wettige moontlikhede.
Is besprinkeling dan verkeerd, soos Baptiste beweer?
Dit gaan te ver om dit te sê.
Al is daar nie ‘n letterlike voorbeeld daarvan in die Bybel nie, maak dit dit nog nie verkeerd nie.
Daar is ook nêrens ‘n voorbeeld in die Bybel van ‘n vrou wat nagmaal vier nie.
Is dit daarom verkeerd dat susters ook nagmaal vier??
Die simboliek van besprinkeling gaan terug op Bybelgedeeltes soos Esegiël 36:25 en Hebr 12:24.
Esegiël 36 ken ons goed in die berymde teks van Sb 14: “Water sal Ek op hul sprinkel.”
En in Hebreërs 12:24 lees ons oor Jesus, die Middelaar van die nuwe testament, en sy bloed van die besprenkeling.
Doop deur besprinkeling wys simbolies hierop, hoe ons gereinig word deur die besprinkeling met Jesus se bloed.
Gemeente, die oudste Christelike boek wat ons ken, die eerste Christelike boek wat ons ken na die Nuwe Testament, met die titel Didache, daarin lees ons die volgende instruksies vir ‘n voorganger:
As jy geen stromende water het nie, doop dan in ander water. En as jy dit nie in koue water kan doen nie, doen dit dan in warm water. En as jy geen van beide het nie, giet dan drie keer water op die kop in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees.[1]
Hier is duidelik sprake van beide moontlikhede: indompeling of besprinkeling.
Nou as iemand wat so naby aan die Nuwe Testament geleef het, wat moontlik nog self onder die apostels se prediking was, dit skryf, moet ons dan daaraan twyfel of besprinkeling wel korrek is?
As ek moet kies tussen hierdie boek, die Didache, en Baptiste se mening vandag, dan kies ek eerder vir wat daar in hierdie boek staan.
Gemeente, ek vat saam.
Alhoewel kinders nog nie verstaan nie, mag hulle nogtans nie daarom van die doop uitgesluit word nie.
Die huisgesinne wat in die Nuwe Testament gedoop is, het ook kinders ingesluit – jong kinders.
Hulle doop was nie ‘n teken of bevestiging van hulle geloofsbelydenis nie.
Hulle doop was die waarborg dat God ook hulle in sy verbond opneem, en laat deel in al die voorregte van die verbond.
En so is dit vandag nog steeds.
Die doop maak kinders nie salig nie.
Slegs Christus se soenverdienste maak ons, kinders en volwassenes salig, En soos kinders groter word, moet hulle leer om al hoe meer op Christus te vertrou.
Vertroue op Christus, geloof in Christus, lyk nie vir elke ouderdomsgroep dieselfde nie.
Jong kinders is nog nie toerekeningsvatbaar op dieselfde vlak as volwassenes nie.
In sy verbond gee God aan elkeen die kans om te groei.
Geliefde gemeente, die voeding van vandag se preek was baie ryk, dalk nie so maklik verteerbaar nie.
Dit was nie kitskos nie.
En daarom roep ek u op: Werk met hierdie preek in die week wat kom.
Lees dit nog ‘n keer, oordink die vrae wat u daarby ontvang het.
Laat ons so groei in ons waardering en dankbaarheid vir die sakrament van die doop.
Laat ons bid vir die Baptiste, wat dikwels opregte geloofsgenote van ons is, maar wat nog nie altyd die rykdom van doop en verbond besef nie.
Laat ons veral goed na mekaar luister, sodat ons nie ‘n karikatuur van mekaar en mekaar se argumente maak nie.
Laat ons saam groei in ons insig in God se Woord en die toepassing daarvan.
Tans is daar ongebore babas in ons gemeente.
Ons sien uit na die dag as hulle die doop mag ontvang.
Alle eer aan God Drieënig, ons Skepper, ons Verlosser, ons Vernuwer.
Amen.
Voedingsriglyne:
Om hierdie preek te verwerk en uit elke aspek daarvan te leer, volg hier ‘n paar vrae, een vir elke dag van die week. Die antwoord kan in die preek gevind word, en sommige vrae vereis ook persoonlike deurdenking.
- Hoekom wil ouers, wat baie keer self nie meer kerk toe gaan nie, tog hulle baba laat doop? Gaan daardie baba se doop enige voordeel vir hom inhou?
- Kan mens aanneem dat ‘n baba wat gedoop is, wedergebore is?
- Is jong kinders volgens Baptiste deel van die verbond?
- Waar staan daar in die Bybel dat die doop in die plek van die besnydenis gekom het?
- Het jy al met ‘n Baptis oor die kinderdoop gepraat? Hoe het daardie gesprek verloop?
- Wat is die voordeel van jou doop (dalk lank gelede) vir jou lewe vandag?
- Is doop deur onderdompeling visueel nie baie indrukwekkender as doop deur besprinkeling nie? Hoekom hou Gereformeerdes so vas aan doop deur besprinkeling?
[1] The Teaching of the Twelve Apostles to the Nations, known as THE DIDACHE, Edition by Legacy Icons (Michigan, 2016), 8.
Votum
Seën
Ps 8:1,2
Wet
Ps 34:6
Gebed
Skriflesing: Markus 10:13-16 & Johannes 4:43-54
Sb 15:1-3
Skriflesing: Handelinge 16:11-15; 27-34 & 1 Korinthiërs 1:16
Sb 15:4-7
Teks: Nederlandse Geloofsbelydenis art. 33-34
Preek
Sb 2:2,3
Gebed
Kollekte
Ps 147:5
Seën