Die Heilige Gees werk as die Parakleet

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Maranata
Date: 
2021-05-23
Text: 
Handelinge 9:31
Preek Inhoud: 

Ons vier vandag Pinksterdag.

Ons herdenk hoe die Heilige Gees uitgestort is.

Op ‘n dag soos hierdie is ons al gewoond aan Bybelgedeeltes soos Handelinge 2, seker die meeste bekende teks oor die uitstorting van die Gees.

Tog is daar baie tekste in die Nuwe Testament – en moenie die Ou Testament vergeet nie – wat gepas is om op Pinksterdag oor te preek.

Vandag se teks is ‘n voorbeeld daarvan.

Dit is een van die baie tekste wat vertel oor die werk van die Heilige Gees, nadat Hy uitgestort is.

Kom ons kyk vandag na wat hierdie teks ons leer oor die werk van die Heilige Gees.

Hoe die Heilige Gees gewerk het aan die begin van die Nuwe Testament.

Maar ook ons kan hieruit leer hoe die Gees vandag nog steeds werk.

Of ons onsself al aan die einde van die Nuwe Testamentiese tyd bevind, of dalk nog maar in die middel daarvan, wanneer ook al, dit weet ons nog nie.

Wat ons wel weet is dat Jesus Christus sy Gees, die Parakleet, die Trooster, die Bemoediger, uitgestort het om ewig by ons te bly, tot op die dag dat Hy terugkom.

En deur al die eeue heen bly Hy aktief.

Ook in die midde van ons gemeente, ook op die sendingsveld, ook daar waar evangelisasie gedoen word.

 

Tema: Die Heilige Gees werk as die Parakleet

 

Ons ken Paulus as die apostel wat veral na die heidene gegaan het.

In die boek Handelinge word hy deur Lukas egter eers as Saulus aan ons voorgestel.

Dit geld vir die hoofstukke waar die fokus nog vernaamlik op die Jode is.

Ons ontmoet Saulus vir die eerste keer by die steniging van Stefanus.

Die getuies wat hom gestenig het, het hulle klere neergelê by ‘n jongman met die naam van Saulus (Hand 7).

Om iemand met klippe dood te gooi, eis liggaamlike inspanning, jy begin te sweet.

Dis hoekom die getuies hulle boklere uitgetrek het.

En dan noem Lukas net kortliks dat Saulus ook die steniging goedgekeur het.

 

Vervolgens vertel Lukas hoe hy die jong gemeente in Jerusalem vervolg het (Hand 8).

Hy het die gemeente verwoes.

Hy het die lidmate uit hulle huise gaan sleep, manne en selfs die vroue.

Hy het hulle in die gevangenis oorgelewer.

Saulus was toe nog ‘n jong man, en jong manne kan soms baie fanaties wees.

So was Saulus ook.

Hy het nog baie energie gehad, en was selfs bereid om ver afstande te reis, net om die gelowiges te teiken.

Hy het spesiaal na die hoëpriester gegaan en briewe gevra wat hy kon saamvat na die sinagoges in Damaskus.

Briewe waarin die hoëpriester die sinagoges in Damaskus waarsku teen die gelowiges, en dat vir Saulus volmag gegee is om hulle gevange te neem, manne en vroue, om hulle geboeid na Jerusalem te bring.

Onthou, die eerste Christene was uit die Jode, op daardie stadium was hulle nog aan die sinagoges verbonde.

Daar was nog nie ‘n Christelike kerk in Damaskus geïnstitueer nie, hulle is nog nie Christene genoem nie, maar die mense wat van die Weg was.

Damaskus was meer as 200km van Jerusalem af.

Dit was ‘n reis van baie dae.

Dink jou net in hoe dit moes gelyk het ...

‘n Groep aan mekaar geboeide mense, vir dae deur die warm son op pad na Jerusalem.

‘n Groep van twintig, dertig, dalk vyftig mense, wie weet?

Met die fanatiese jongman Saulus wat hulle aandryf, miskien wel met ‘n sweep ...

 

Maar gelukkig het Christus gekeer dat dit nie gebeur nie.

Hy gryp in.

In sy raadsplan het Hy ‘n ander doel vir Saulus se lewe gehad, iets anders as om ‘n fanatiese Fariseër te wees.

Terwyl Saulus nog op die heenpad was, verskyn Christus uit die hemel aan hom in ‘n oogverblindende lig.

Ons ken daardie geskiedenis, ‘n geskiedenis waaruit die almag van die verhoogde Christus so duidelik blyk.

Dit was ‘n totale ommekeer in Saulus se lewe.

 

Christus het ook aan Ananias verskyn, ‘n gelowige in Damaskus.

Die het Saulus toe aan die mense van die Weg voorgestel.

Saulus het Christus begin verkondig, sommer daar in Damaskus in die sinagoges.

Die Jode in Damaskus is in die war gebring.

Hierdie Saulus, wat gekom het om die mense van die Weg gevange te neem, preek nou self uit die Skrif dat Jesus die Messias is.

En soos dit maar altyd werk, as Christus ‘n oorwinning behaal, is die Satan vinnig daarby om dit te probeer dwarsboom.

Die Jode het beraadslaag om Saulus om die lewe te bring.

Hulle het die poorte van die stad bewaak, dag en nag.

Maar die gelowiges het dit vir Saulus opgeneem.

Tydens die nag het hulle vir hom in ‘n mandjie oor die muur van die stad laat afsak.

 

Daarna, skryf Lukas, het Saulus teruggekeer na Jerusalem, en ook daar het hy by die dissipels probeer aansluit.

Maar so maklik het dit nie gegaan nie.

Die mense was bang vir hom.

Toe het Barnabas, wat gesag gehad het in die gemeente in Jerusalem, hom na die apostels gebring, en alles verduidelik wat gebeur het.

Daarna, skryf Lukas, het Saulus saam met die apostels in- en uitgegaan in Jerusalem.

Die apostels het besef dat hierdie man ook deur Christus as apostel geroep is.

Hulle het hom in hulle groep aanvaar.

Hy is direk ingespan in die uitdra van die Evangelie.

Maar ook in Jerusalem het hulle geprobeer om hom dood te maak.

Daarom het die broeders, om hom te beskerm,  hom na Tarsus gestuur.

Die broeders het hom selfs na Tarsus gestuur om daar die Evangelie te

Tarsus was nog verder as Damaskus, oor land 900 km, oor die see bietjie korter.

Die broeders het hom na Cesarea vergesel, sodat hy daar ‘n boot kon vind wat na Tarsus vaar, oor die Middellandse See.

Paulus was oorspronklik self van Tarsus afkomstig.

Die mense het hom daar geken, vertrou.

Sy prediking sou daar ook ‘n groot impak kon hê.

 

En dan lees ons in ons teks:

En die gemeentes deur die hele Judea, Galilea en Samaria het vrede gehad.

Die hoofaanstigter van die onrus en vervolging, Saulus, was nie meer daar nie.

Die verhoogde Christus het van hom ‘n werktuig van die Evangelie gemaak.

 

Nou kon die gemeentes verder opgebou word.

Hierdie woord – opgebou – is ‘n metafoor.

Soos ‘n gebou wat verrys, verdieping na verdieping, vertrek na vertrek.

Hier word nie na ‘n letterlike kerkgebou in Jerusalem of so verwys nie.

Dit verwys na beide die innerlike en uiterlike groei van die gemeentes.

Die kerklike lewe kon meer en meer vaste vorm kry.

Hulle het gewandel in die vrees van die Here.

Die woord wandel dui daarop dat dit hulle lewenswyse was.

Hulle lewenswyse het daaruit bestaan om die Here te vrees.

Om Hom te vrees beteken om rekening te hou met sy wil.

Nie om vir Hom bang te wees nie, maar wel om bang te wees om teen sy wil in te gaan.

Die vrees van die Here is ‘n lewe in ware diens aan Hom.

 

Ook sê ons teks: Hulle het gewandel in die vertroosting van die Heilige Gees.

Eintlik, as mens na die oorspronklike teks kyk, moet die verwysing na die Heilige Gees en sy vertroosting gekoppel word aan die woorde wat volg.

Die vertroosting van die Gees het hier te make met die vermeerdering.

Dan lees mens: deur die vertroosting van die Heilige Gees het hulle vermeerder.

Hierdie woorde herinner ons aan Jesus se belofte aan sy dissipels.

Jesus sal die Vader bid, en Hy sal hulle ‘n ander Trooster gee om by hulle te bly tot in ewigheid (Joh 14:16).

Die Vader sal in sy Naam die Heilige Gees stuur, die Trooster, wat die gelowiges alles sal leer en herinner aan wat Jesus gespreek het, toe Hy op aarde was (Joh 14:26).

Hy, die Trooster, is die Gees van die waarheid.

Hy gaan van die Vader en die Seun uit (Joh 15:26 & Joh 16:7).

Hy sal van Christus getuig.

 

Kom ons staan nog vir ‘n oomblik stil by hierdie woord vertroosting, woord wat duidelik afgelei is van die benaming Trooster vir die Heilige Gees.

Hoe kon die gemeentes vermeerder deur die vertroosting van die Heilige Gees?

 

Die woord vertroosting in Grieks is paraklesis.

Dit is verwant aan die Griekse woord parakleet, wat in die Johannesevangelie vir die Heilige Gees gebruik word, en wat in ons vertaling as die Trooster vertaal is.

Hierdie woord kan egter verskillend vertaal word.

Sommiges vertaal dit met: hulle het vermeerder – nie deur die vertroosting nie – maar deur die bystand van die Heilige Gees.

Ander vertaal dit met: hulle het vermeerder deur die vermaning van die Heilige Gees.

Ander vertaal weer: hulle het vermeerder deur die bemoediging van die Heilige Gees.

Duidelik is, gemeente: die woord paraklesis en die woord parakleet is woorde met verskillende betekenisse, ‘n ryke skakering aan betekenisse.

Vir daardie rede het die 2020-Bybelvertaling die woord parakleet, as dit in die Johannesevangelie na die Heilige Gees verwys, gewoon onvertaald gelaat.

Byvoorbeeld in Johannes 14:16: “En Ek sal die Vader vra en Hy sal vir julle ‘n ander Parakleet gee, sodat Hy vir ewig by julle kan wees.”

In ‘n voetnota in die 2020-vertaling staan dan hierby: Die Griekse woord parakleet “verwys na iemand wat geroep is om bestand te verleen – ‘n helper, ‘n voorspraak, ‘n pleitbesorger, ‘n trooster.” (Joh 14:16)

Op ‘n manier, gemeente, is al hierdie betekenisnuanses van toepassing ook op ons teks.

In kort: Dit was deur die werk van die Parakleet, die Heilige Gees, wat die gemeentes vermeerder het.

Die Heilige Gees was hulle Helper, Hy het sy bystand verleen.

Die Heilige Gees was hulle Voorspraak, hulle Pleitbesorger.

Die Heilige Gees was die een wat bemoedig en vermaan het.

Die Heilige Gees was die een wat vertroos het.

Die vermeerdering van gelowiges en van die gemeentes was slegs en alleen die werk van die Heilige Gees.

Deur die prediking van die Woord van Christus bou en vermeerder die Gees die kerk.

Dink aan wat Jesus reeds geprofeteer het oor die Parakleet: “Hy sal My verheerlik, omdat Hy dit sal neem uit wat aan My behoort, en aan julle verkondig.” (Joh 16:14)

 

Hierin proe ons die vervulling van Jesus se belofte.

Vandag, op Pinksterdag, herdenk ons dat die Vader, en Christus op sy verhewe troon, inderdaad die Parakleet gestuur het – Handelinge 2.

En in ons teks sien ons nou iets van die vrug daarvan.

Daar was vrede in die gemeentes van Judea, Galilea en Samaria.

Hulle het die vertroosting, die omvattende werk van die Heilige Gees tasbaar ervaar.

En die vrug op sy werk was duidelik sigbaar.

 

Soos Jesus gesê het, die Gees sal hulle herinner aan wat Jesus gespreek het (Joh 14:26).

Dit is spesifiek aan die apostels gesê.

En nou tree die apostels op as ooggetuies, orals getuig hulle, preek hulle die woorde wat Jesus aan hulle oorgedra het.

En so werk die Gees deur hulle getuienis.

So werk die Gees deur die Woord, deur die prediking van die Evangelie.

En dit dra vrug, naamlik dat die gemeentes vermeerder het.

 

Die gemeentes ...

Net nog een opmerking oor die Griekse teks.

Sommige manuskripte het gemeentes – meervoud.

Ander manuskripte het gemeente – enkelvoud.

Ons vertaling volg die Griekse manuskripte wat die meervoud gebruik.

Maar byvoorbeeld die ESV Engelse vertaling en die Afrikaanse 2020-vertaling volg ander Griekse manuskripte wat hier enkelvoud het.

Ek noem dit net vir die wat dalk die ESV, of die 2020-vertaling gebruik.

Maar, of dit nou vertaal word as enkelvoud of as meervoud, as mens na die betekenis in die konteks van hierdie hoofstuk kyk, bly dit dieselfde, naamlik:

Die kerk in sy geheel het gegroei.

Eerstens het daar meer en meer lidmate aangesluit.

En tweedens het die aantal gemeentes ook toegeneem.

Dit is waaroor die res van die boek Handelinge sal gaan.

Oor die gemeentes wat deur die apostels geplant is, nie net onder die Jode nie, maar ook onder die heidene.

Die boek Handelinge laat ons ‘n sirkel sien, wat al hoe wyer word.

Soos Christus voor sy hemelvaart al voorspel het:

“julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en Samaria en tot aan die uiterste van die aarde.” (Hand 1:8)

Hier in ons teks sien ons dat die sirkel al uitgekring het na Judea, Galilea en Samaria.

Dit was die sirkel waar Jesus se bediening op aarde plaasgevind het, in Judea, Galilea en Samaria.

Die gemeentes wat daar gestig is, het waarskynlik bestaan uit baie mense wat nog self Christus se prediking gehoor het.

Maar die uitbreiding van die Evangelie en die ontstaan van gemeentes het nie tot hierdie sirkel beperk gebly nie.

Nog wyer kringe begin hier en daar ook al sigbaar word: die hofdienaar van Ethiopië, die hoofman Cornelius, en so meer.

Christus se program vir die nuwe bedeling het op dreef gekom.

Die Evangelie kring uit.

Meer en meer mense word deel van die Weg.

Hulle sluit hulle aan by die liggaam van Christus.

‘n Beweging, soos Christus geprofeteer het, wat sal voortgaan tot aan die uiterste van die aarde.

 

Geliefdes, ook vandag gaan die werk van die Heilige Gees nog steeds voort.

Ons teks openbaar hoe Hy aan die begin van die Nuwe Testament gewerk het.

En of ons onsself al aan die einde van die Nuwe Testamentiese tyd bevind, of dalk nog maar in die middel, of wanneer ook al, wat ons wel weet is dat Jesus Christus sy Gees, die Parakleet, die Trooster, die Bemoediger, uitgestort het om ewig by ons te bly, tot op die dag dat Hy terugkom.

Deur al die eeue heen bly Hy aktief.

En daardie laaste woordjie in ons teks beskryf eintlik die pragtig die resultaat van sy werk.

Die woordjie vermeerder.

Hy vermeerder die kerk.

Hy laat dit groei, in aantal, ook in diepte.

Hy vermeerder ook vir jou.

Hy laat jou groei, jou geloof, jou toewyding.

 

Ervaar jy die Gees, die Parakleet, se werk in jou lewe?

Hoe Hy jou bemoedig?

Hoe Hy jou vermaan?

Hoe Hy jou bystaan?

Hoe Hy deur die Woord jou vertroos?

Deur sy werk word jy opgebou tot ‘n tempel.

Jy is ‘n tempel van die Heilige Gees, soos die Skrif leer.

Soos die priesters se taak destyds was om die tempel skoon en netjies te hou, om die tempelgebou toe te wy aan God, so word jou liggaam en jou siel, jou lewe, opgebou deur die Gees.

Die Gees maak jou lewe skoon van sondes.

Die Gees maak jou lewe toegewyd aan Christus.

Die Gees maak jou lewe gelukkig deur die boodskap van die Evangelie.

Die Gees berei jou aardse lewe voor vir die ewige lewe.

So laat Hy jou groei.

Wat ‘n ervaring, wat ‘n voorreg, as die Gees jou lewe opbou.

 

En net so werk die Gees, die Parakleet, ook in die midde van die gemeentes.

Ook hierdie gemeente reinig Hy steeds meer van sondes, wy Hy steeds meer aan Christus toe.

Ook hierdie gemeente maak Hy gelukkig.

Ook hierdie gemeente is Hy besig om te versier as ‘n bruid, in afwagting op Christus se wederkoms, in voorbereiding op die groot bruilof.

Wat ‘n ervaring, wat ‘n voorreg, as die Gees, die Parakleet, die gemeente opbou.

 

En net so werk die Gees ook buite die gemeente, orals waar die Evangelie verkondig word.

Die Parakleet oortuig die wêreld van sonde, van geregtigheid en oordeel (Joh 16:8).

Hy werk berou in mense se harte.

Hy werk bekering, ommekeer van mense se lewens.

Hy werk die begeerte om by Christus se gemeente aan te sluit.

 

En net so werk die Gees ook op die sendingsveld.

Daar is Hy letterlik besig om nuwe gemeentes te plant.

Daarvoor gebruik die Parakleet sy diensknegte wat die Evangelie preek, in die huise, op die strate, op vaste bymekaarkomplekke, aanvanklik dalk onder ‘n boom, later in ‘n huis, of ‘n tydelike gebou, later dalk in ‘n mooier gebou.

Maar ook op die sendingsveld word die gemeente opgebou, verwysende na die innerlike en uiterlike groei.

Op Pinksterdag is die gebruiklik om spesifiek te bid vir die uitbreiding van die Evangelie.

En dit hoop ons vandag dus ook weer te doen.

 

En boweal, kom ons loof en aanbid die Heilige Gees opnuut op hierdie Pinksterdag.

 

Loof die Gees wat deur die Vader

en die Seun is uitgestort.

Sing aan Hom steeds jul psalme

roep sy Naam uit, juig voor Hom.

Hy, Geskenk en Skenker beide,

uitgesend is en uitsend.

Loof, o volk, die Gees van lewe,

Hy wat skep en ook herskep,

wat jul hart verander het.

 

Loof die Gees, Hy sal nie wyk nie

van die kerk, gekoop met bloed.

Sy nabyheid sal nie kwyn nie,

hoe die vyand ook bly woed.

Vrees nie, skape o so weerloos,

vrees nie, duurgekoopte siel,

hoe die satan ook verniel.

Hy is mos die Gees die Trooster

Hy is die onsigb’re Mag,

by sy kudde dag na dag.

 

Amen.

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 33:1,3

Gebed

Skriflesing: Johannes 14:12-31

Sb 11:1,2

Skriflesing: Handelinge 9:1-31

Ps 143:8

Teks: Handelinge 9:31

Preek

Sb 20:5,7,8

Gebed

Geloofsbelydenis van Nicea

Sb 27:2,4

Kollekte

Sb 24:7

Seën