Broers en susters,
“o HERE, hoor my gebed; luister tog na my smekinge; verhoor my in u trou, in u geregtigheid. En gaan nie na die gereg met u kneg nie, want niemand wat leef, is voor u aangesig regverdig nie” – so lees ons in Psalm 143:1-2. Gaan nie na die gereg met u kneg nie – dít is Dawid se smeking, dat die Here nie teen hom ‘n regsaak, ‘n hofsaak, sal begin nie. Want hy weet wat die uitkoms sal wees; hy weet dat hy skuldig bevind sal word; hy weet dat hy die dood verdien. En so sal dit gaan met elkeen teen wie die Here ‘n hofsaak begin. Nou, broers en susters, dít is die onheilspellende agtergrond waarteen die profeet Elia op die toneel van die geskiedenis van God se volk verskyn. God begin ‘n hofsaak teen sy volk, en Elia is God se aanklaer, God se verbondsaanklaer. Vanaf Moses (wat die middelaar was by die sluiting van die verbond), via Samuel (wat opgetree het om die verbond te handhaaf), kom ons dus vandag by Elia (die aanklaer van die verbond).
Tema: Elia, God se verbondsaanklaer om ‘n ontroue volk na die Here terug te roep!
Ek noem Elia spesifiek God se verbondsaanklaer, want ons Skrifgedeelte bevat duidelike merkers wat wys dat ons hier baie konkreet met God se verbond te make het. Natuurlik, ons weet dat die hele Skrif God se Verbondsboek is, maar in ons Skrifgedeelte (1 Kon. 19) word dit baie eksplisiet gemaak. Kyk maar... Elia se reis deur die woestyn vat hom na die berg van God, na Horeb (1 Kon. 19:8). Horeb – dít is die einste plek waar die Here destyds, deur bemiddeling van Moses, amptelik sy verbond met sy volk gesluit het (Ex. 19). Dít is ook die plek waar die volk die verbond verbreek het deur hulle sonde met die goue kalf (Ex. 32). En net soos wat Moses veertig dae en veertig nagte op die berg by God verkeer het (die eerste keer in Ex. 24:18, en daarna weer in 34:28), en net soos wat die volk as gevolg van hulle sonde veertig jaar in die woestyn moes rondswerf (Num. 32), so vat dit Elia veertig dae en veertig nagte om die reis na die berg van God af te lê (1 Kon. 19:8). En net soos wat Moses in die skeur van die rots weggesteek word wanneer die heerlikheid van God by hom verbygaan (Ex. 33:22), so skuil ook Elia in ‘n spelonk wanneer God Homself in sy heerlikheid aan hom openbaar (1 Kon. 19:13). Hierdie duidelike parallelle met die Exodus-geskiedenis moet ons laat besef dat ons hier met verbondsake te make het. En as ons weet hoe belangrik die verbondsluiting in Exodus vir die geskiedenis van Israel was (dáár, immers, het die Here Homself amptelik aan sy volk verbind – Ek is julle God, julle is my volk!), dan begin ons aanvoel dat Elia se besoek aan Horeb nie sommer toevallig is nie. Hier kom iets groots, iets gewigtigs, hier kom iets wat met die verbond te make het...
Maar wat is dan die agtergrond vir hierdie gewigtige oomblik? Wel, diegene wat die oordenkings van die laaste paar weke geluister het, sal weet wat die agtergrond is. Ons het daarvan gelees in die laaste verse van 1 Konings 16. Koning Agab het, onder invloed van vroulief Isebel, begin om Baäl te dien en voor hom neer te buig. Hy het vir Baäl ‘n tempel in Samaria gebou en daarin vir hom ‘n altaar opgerig. Dit is ‘n kritiese draaipunt in Israel se geskiedenis; die beskrywing hiervan in die laaste verse van 1 Konings 16 is soos ‘n historiese skarnierpunt. Vóór Agab het al die konings van die tienstammeryk die goue kalwers aanbid, die goue kalwers wat Jerobeam (die eerste koning van die tienstammeryk) in Dan en Bet-el opgerig het. Natuurlik was dit verkeerd, maar Jerobeam se doel met hierdie goue kalwers was nogtans om die Here te aanbid. Luister maar na 1 Konings 12:28, waar Jerobeam sê: “Julle het lank genoeg opgegaan na Jerusalem – hier is, o Israel, jou gode wat jou uit Egipteland laat optrek het.” Dus, uit vrees dat die tien stamme hom sou verlaat en hulle heil in Jerusalem, by die tweestammeryk sou gaan soek, rig Jerobeam hierdie goue kalwers op. Maar weereens, sy doel was om die Here te dien (“hier is jou gode wat jou uit Egipteland laat optrek het”) – vir seker, dit was op ‘n eiewillige manier, dis waar, maar Jerobeam wou steeds die Here aanbid. Dit was sonde teen die tweede gebod. Maar Agab gaan nog ‘n stap verder, ‘n groot stap verder – Agab verlaat die Here; hy begin om ‘n ander god (Baäl) te dien, en hy trek die volk daarin saam. Agab verlei die volk tot sonde teen die eerste gebod – hy kry ‘n ander god in die plek van die HERE!
En dít, gemeente, maak Elia se profetiese bediening so spannend. Elia se hele bediening (vandat ons hom die eerste keer ontmoet in 1 Konings 17:1 tot en met sy opname in die hemel in 2 Konings 2) moet verstaan word teen die agtergrond van die Baäl-diens! Waar die volk voorheen nog die Here wou dien – weliswaar op ‘n verkeerde manier – kry die Here nou ‘n direkte teenstander. Jahwe versus Baäl – dít is die stryd wat Elia se bediening kenmerk. Nou, wie was hierdie Baäl presies? O, ons ken die naam goed – van kleins af hoor ons daarvan in die kinderbybel-verhale. Maar weet ons regtig wie hierdie god was? Wel, broers en susters, die god Baäl – wat op verskillende plekke in Kanaän verskillende name gehad het, maar uiteindelik na een en dieselfde godheid verwys het – was in wese die god van die natuur; die god wat beheer het oor die hele natuur, en wat daarom storm, weerlig en vuur as sy wapens gebruik, en wat reën en vrugbaarheid en voedsel as sy seën gee; hy is die god wat beheer het oor die see en die riviere, en wat van die berge sy woning maak; die god wat uiteindelik bepaal oor lewe en dood. Hierdie god word tydens Agab se bewind die teenstander van Jahwe!
En pragtig sien ons dan in die bediening van Elia (en onthou: Elia se naam beteken: my God is Jahwe – dit is dus baie duidelik aan wie se kant hy staan), pragtig sien ons in sy bediening hoe die Here die stryd teen hierdie teenstander aangaan. In byna elke optrede van Agab en in elkeen van sy wonders is Baäl die teenstander. Dit is daarom nie toevallig nie dat reën en watervoorsiening ‘n belangrike plek in Elia se bediening inneem – soos wat blyk wanneer Elia in 1 Konings 17 ‘n droogte aankondig, maar in 1 Konings 18 ook weer reën voorspel, terwyl hy self tussen-in hierdie twee gebeurtenisse vanuit die spruit Krit sy water kry; want die Here beheer reën en droogte! Dit is ook nie toevallig dat vuur uit die hemel ‘n kernelement in Elia se bediening is nie – ons sien dit op die Karmel wanneer vuur uit die hemel Elia se offer verteer (1 Kon. 18:38), en wanneer vuur uit die hemel twee maal ‘n leërafdeling van vyftig man verteer (2 Kon. 1:9-16); die Here het beheer oor die vuur, nie Baäl nie. Verder word Baäl, die sogenaamde gewer van voedsel, verskeie male deur die Here uitoorlê, wanneer die Hére aan Elia kos voorsien by die spruit Krit (1 Kon. 17:6), wanneer Hy sorg dat die weduwee van Sarfat se meel en olie nie opraak nie (1 Kon. 17:14), en wanneer die engel aan Elia ‘n broodkoek en water verskaf waarmee hy veertig dae en veertig nagte aaneen kan reis (1 Kon. 19:6). En wanneer Elia in 1 Konings 18 die Baäl-priesters op die Karmel ore aansit, dan blyk duidelik dat Baäl selfs op sy tuisveld – die berge! – nie teen die Here bestand is nie. En wanneer Elia en Elisa in 2 Konings 2 op die Jordaan kan slaan sodat die water in twee verdeel, dan wys dit dat nie Baäl nie maar die Here beheer oor die riviere het. En hoewel Baäl, na bewering, bepaal oor lewe en dood, is dit Elia, die profeet van Jahwe, wat die weduwee van Sarfat se seun uit die dood opwek (1 Kon. 17:22-23).
Sien u, in Elia se hele bediening – in byna elkeen van sy optredes en wonders – gaan die Here die stryd aan teen Baäl se sogenaamde sterk punte, teen Baäl se spesialiteite. En elke keer wys die Here: Ek is God! En dit is in daardie lig dat ons die wind en die aardbewing en die vuur in ons Skrifgedeelte moet verstaan. Wanneer Elia ná veertig dae en veertig nagte by Horeb aankom en die Here by hom verbygaan, dan is die Here nie in die groot en sterk wind wat die berge skeur en die rotse verbreek nie; dan is die Here nie in die aardbewing nie; dan is die Here nie in die vuur nie. Nie in een van hierdie dinge – waarvoor Baäl so bekend gestaan het! – openbaar die Here Homself nie. Want Jahwe is nie Baäl nie – die Here is meer as Baäl, die Here is groter as Baäl, die Here is sterker as Baäl. Die Here staan teenoor Baäl. Die Here... kom in die gesuis van ‘n sagte koelte (1 Kon. 19:12). Letterlik staan daar: in die stem van ‘n sagte gefluister. Ja, die Here kom met sy stem na Elia toe; die Verbondsgod kom práát met Elia. En Hy vra: “Wat maak jy hier, Elia?” Nou, hierdie vraag kan by ons verwytend oorkom: wat maak jy hier? Maar dit is nie die Here se bedoeling met hierdie vraag nie. Immers die Here self het Elia na die berg van die verbond laat kom. Nee, met hierdie vraag sê die Here as’t ware vir Elia: “Die verbondsgeding, die regsaak, gaan nou begin. Kom, sê vir My wat die situasie is, laat die hofsaak begin.” Só stel die Here sy aanklaer aan die woord.
En dan volg die klagstaat in vers 14; Elia sê: “Ek het baie geywer vir die HERE, die God van die leërskare; want die kinders van Israel het u verbond verlaat, u altare afgebreek en u profete met die swaard gedood, sodat ek alleen oorgebly het; en hulle soek my lewe om dit weg te neem.” Met groot emosie – met groot liefde vir die saak van die Here – kla Elia die volk voor die Here aan, en daar is drie aanklagte: 1) die volk het u verbond verlaat; 2) die volk het u altare afgebreek; en 3) die volk het u profete gedood, en hulle wil dieselfde met my doen. Dís die klagstaat. En hoe reageer die Here hierop? Wat sê die Here van hierdie aanklagte? Wel, die Here wys in sy reaksie dat Elia se klag meriete het, dat Israel inderdaad die verbond verlaat het. En daarom spreek die Here vanaf vers 15 sy oordeel uit, en sy uitspraak is soos volg: 1) Elia moet Hasael as koning oor Aram gaan salf, want dit is deur die Arameërs dat die Here sy volk gaan straf (2 Kon. 8); 2) Elia moet Jehu as koning oor Israel gaan salf, want dit is Jehu wat uiteindelik die huis van Agab sal uitroei (2 Kon. 9); en 3) hy moet Elisa as profeet in sy plek salf, want dit is Elisa wat die stryd teen die Baäldiens sal voortsit wanneer Elia nie meer daar is nie. Die Here stel dus konings aan en Hy sit konings af, Hy beheer die geskiedenis – ter wille van sy straf wat Hy bepaal het oor sy volk wat sy verbond verlaat het. Maar gelukkig, broers en susters, daar is meer as net oordeel. Daar is ook genade, vers 18: “Maar Ek sal seweduisend in Israel laat oorbly, al die knieë wat nie voor Baäl gekniel en elke mond wat hom nie gesoen het nie.”
Gemeente, as u ooit die verbond van die Here in werking wou sien, dan is dit hier, in hierdie hofsaak tussen die Here en sy volk. Die Here bring die hof in sitting met sy fluisterstem, Elia lees die klagstaat voor, die Here bevind sy volk skuldig en spreek vervolgens die oordeel en die straf uit, en Elia moet dit daarna gaan uitvoer. En tog, deur dit alles skyn die genade van die Here: daar is seweduisend wat nie voor Baäl gekniel het nie. En nou moet ons goed raaksien, broers en susters: dít word die patroon vir die profete ná Elia. Telkemale in die latere profete sien ons hoe die Here hierdie regsgeding met sy volk voortsit, hoe Hy weereens die hofsaak teen hulle opneem. Ek wil dit in enkele Skrifgedeeltes vir u aantoon:
- Jesaja 3:14: “Die HERE gaan na die gereg met die oudstes en die vorste van sy volk. Ja, julle het die wingerd afgewei; wat aan die arm man ontroof is, is in julle huise.”
- Jeremia 2:35: “Nogtans het jy gesê: Ek is tog onskuldig; gewis het sy toorn hom van my afgewend. Kyk, Ek sal met jou na die gereg gaan, omdat jy sê: Ek het nie gesondig nie.”
- Esegiël 17:20: “En Ek sal my net oor hom uitsprei, en in my strik sal hy gevang word; en Ek sal hom na Babel bring en daar met hom na die gereg gaan, weens die troubreuk wat hy teen My begaan het.”
- Esegiël 20:35-36: “En Ek sal julle bring in die woestyn van die volke, en Ek sal daar met julle in die gerig tree van aangesig tot aangesig. Soos Ek met julle vaders in die woestyn van Egipteland in die gerig getree het, so sal Ek met julle in die gerig tree, spreek die Here HERE.”
- Hosea 4:1: “Hoor die woord van die HERE, o kinders van Israel! Want die HERE het ‘n regsaak met die inwoners van die land, omdat daar geen trou en geen liefde en geen kennis van God in die land is nie.”
- En dan ook nog die mees bekende gedeelte, Miga 6:1-8 [lees]
Dwarsdeur die verdere geskiedenis van God se volk hoor ons dus die eggo van hierdie eerste verbondsaanklaer, Elia. Sy klag, soos wat hy dit uitgespreek het op Horeb, herhaal homself telkens weer in die geskiedenis van die volk. Elke keer sleep die Here sy volk weer hof toe, maak Hy weer ‘n saak aanhangig. Totdat dit uiteindelik uitloop op God se oordeel in die ballingskap van sowel die twee- as die tienstammeryk. Die ballingskap is die vonnis waarop die volk se verbondsverlating uiteindelik uitloop. Eeue se hofsake, eeue se regsgedinge, eeue se aanklagte bring ten slotte die swaarste vonnis vir die volk van die ou verbond: skuldig, weg, uit die land met julle! Daar loop ‘n direkte lyn vanaf Elia (die aanvanklike verbondsaanklaer), via die ander profete, tot by die ballingskap van God se volk.
Maar ons moet goed raaksien, broers en susters, dat die Here se regsgeding met sy volk nie net iets van die Ou Verbond was nie. Dit is nie net iets van die tyd van Elia en die daaropvolgende profete nie. Nee, daar kom weer ‘n regsgeding. Die finale een, waarvan ons lees in Openbaring 20:12-15: “En ek het die dode, klein en groot, voor God sien staan, en die boeke is geopen; en ‘n ander boek, die boek van die lewe, is geopen. En die dode is geoordeel na wat in die boeke geskryf is, volgens hulle werke. En die see het die dode gegee wat daarin was, en die dood en die doderyk het die dode gegee wat daarin was; en hulle is geoordeel, elkeen volgens sy werke... En as dit bevind is dat iemand nie opgeskryf was in die boek van die lewe nie, is hy in die poel van vuur gewerp.” Want, sê Paulus in 2 Korinthiërs 5:10, ons moet almal voor die regterstoel van Christus verskyn, sodat elkeen kan ontvang wat hy deur die liggaam verrig het, volgens wat hy gedoen het, of dit goed is of kwaad.” Dit is die hofsaak waarheen ons almal oppad is, broers en susters. En dan bring dit my weer by die woorde uit Psalm 143 waarmee ek die preek begin het: “En gaan nie na die gereg met u kneg nie, want niemand wat leef, is voor u aangesig regverdig nie.” Hoe sal ons aan God se finale, ewigdurende vonnis ontkom?
Slegs op een manier, broers en susters: deur daardie een vonnis waaroor ons nog nie gepraat het nie. Deur daardie een hofsaak wat uiteindelik alle ander hofsake bepaal: die hofsaak en vonnis oor Jesus, die Christus. Waarom, só vra Sondag 15 van die Heidelbergse Kategismus, het Hy onder die regter Pontius Pilatus gely? En die antwoord: “Sodat Hy onskuldig deur die wêreldlike regter veroordeel sou word, en ons daardeur sou bevry van die streng oordeel van God, wat oor ons moes kom.” Hy was onskuldig – die wêreldlike regter, Pontius Pilatus, het immers verklaar: ek vind geen skuld in hierdie man nie. Almal moes dit weet: Hy is onskuldig. En tog is Hy veroordeel – die volle vonnis van God, die totale, vernietigende doodstraf, het op Hom gekom, sodat elkeen wat in Hóm glo, vrygespreek kan word. Wie in Jesus Christus glo, hoef die verbondsoordeel nie te vrees nie!
En dit was uiteindelik Elia en al die ander profete ná hom se hartewens; dit was hulle begeerte: bekeer julle! Meer nog, dit is die Here se begeerte: “Sê vir hulle: So waar as Ek leef, spreek die Here HERE, gewis, Ek het geen behae in die dood van die goddelose nie, maar daarin dat die goddelose hom bekeer van sy weg en lewe. Bekeer julle, bekeer julle van jul verkeerde weë! Waarom tog wil julle sterwe, o huis van Israel? (Es. 33:11) Dit is ook Paulus se oproep in 2 Korinthiërs 5:20-21: “Ons tree dan op as gesante om Christus wil, asof God deur ons vermaan. Ons bid julle om Christus wil: laat julle met God versoen. Want Hy het Hom wat geen sonde geken het nie, sonde vir ons gemaak, sodat ons kan word geregtigheid van God in Hom!” In die hofgeding van die Here met elke verbondsverlater is daar net een doel: die Here soek geloof en bekering! Uit pure liefde soek die Here ons harte. Dit was sy doel op die Horeb, toe Elia die klag voorgelees het. Dit is steeds sy doel vandag.
Gemeente, Elia en sy bediening laat ons deeglik besef dat die verbond waarin ons met die Here staan, nie ‘n vryblywende verhouding is nie. Ons kan nie, soos Agab, dink dat ons die Here uit ons lewens kan laat verdwyn en Hom met ‘n ander god kan vervang nie; ons kan nie maar net lewe en maak asof God nie bestaan nie. Hy bestaan, en Hy neem die verbond wat Hy persoonlik met elkeen van ons gesluit het, bitter ernstig. Enige verbondsbreuk het geweldige konsekwensies – regskonsekwensies. Elia se profetiese loopbaan wys vir ons waartoe verbondsbreuk lei – dit lei ons tot voor die troon van God, dit plaas ons in ‘n staat van beskuldiging... en wie sal dan bestaan?
Dit is die doel van die prediking – van die profetiese woord, ook vanaand – om ons voor die aangesig van God te plaas, met die oproep: laat julle met God versoen. Wie dít doen, hoef die oordeel nie te vrees nie. In die groot hofsaak wat God met hierdie wêreld het, is die gelowiges veilig. Inteenstelling tot die ongelowiges, wat die laaste dag – die wederkoms – met vrees en bewing tegemoet gaan, bely die gelowiges saam met Sondag 19: Ek verwag met gespanne afwagting dieselfde Persoon as Regter uit die hemel wat Hom tevore in my plek voor die regbank van God gestel en alle vervloeking van my weggeneem het. Ek is nie bang nie, want my Regter is my Redder. En in teenstelling tot wat ek verdien, sal die uitspraak oor my wees: onskuldig! Ek weet dit, want ek glo in Jesus Christus. Elia en die ander profete juig wanneer hulle hierdie belydenis uit die monde van gelowiges hoor, want daarvoor het hulle gekom; dít was hulle boodskap, dít was hulle oproep. Daarvoor het die Here hulle gestuur, want die Here begeer nie die dood van die sondaar nie, maar dat hy hom bekeer en lewe. Mag hierdie profetiese boodskap ons lewens aanraak en, waar nodig, verander.
Amen
Votum: sing Ps. 121:1
Seëngroet: Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.
Sing Ps. 138:1
Gebed
Lees: 1 Konings 16:29-17:1
1 Konings 19
Teks: 1 Konings 19:11-14
Sing Ps. 106:12, 15 en 16
Preek
Amenlied Ps. 31:4, 16, 19
Gebed
Apostoliese Geloofsbelydenis (staande en singende)
Kollekte
Slotsang Ps. 96:2, 3, 8
Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen. / Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.