As mens op ‘n begraafplaas rondloop, kan jy dikwels sien op watter fundament mense hulle lewens gebou het.
Grafstene waarop daar ‘n Bybelteks staan, spreek boekdele.
Dit getuig dat daardie persoon op Jesus Christus en sy onfeilbare Woord vertrou het, toe hulle op niks anders meer kon vertrou nie.
Ja die dood maak ons magteloos.
In Christus het ons egter ‘n gewaarborgde oorwinning van die dood, vir jou siel, en in die toekoms ook vir jou liggaam.
Dit mag ons in besonder in hierdie dae van Goeie Vrydag en Paasfees herdenk.
Tema: Glo in Jesus, die Seun van Dawid, en jy sal behoud vind
In ons teks ontmoet ons vir Jesus in Jerigo.
Jerigo was ‘n stad waar baie paaie gekruis het.
Baie Jode uit byvoorbeeld die noorde, wat op reis was na Jerusalem, het aan die ooskant van die Jordaan suidwaarts gereis.
By Jerigo het hulle die Jordaanrivier dan oorgesteek.
Jerigo was vlak langs die Jordaanrivier, onder in die rivierdal.
En dit is ‘n diep dal, want net suid van Jerigo begin die Dooie See, wat selfs onder seevlak lê.
Vanaf Jerigo gaan die pad steil boontoe rigting Jerusalem, wat geleë was op die Sionsberg.
Reisigers rigting Jerusalem het in Jerigo hulle laaste ruspouse geneem, dikwels ook ‘n oornagting, voordat hulle die laaste klompie steil kilometers aangedurf het.
Jesus was ook so ‘n reisiger, een van die ‘pelgrims’ op pad na Jerusalem vir die feesdae.
Die Paasfees.
Jesus, wat as Lam vrywillig Hom na die slagplek begeef het.
Maar op hierdie oomblik het niemand dit nog besef nie, net Hyself.
Sy dissipels kon dit geweet het, want Jesus het nog maar onlangs vir die derde keer sy lyde aangekondig.
Sien ‘n paar verse eerder in hierdie hoofstuk – verse 32-34.
Maar hulle het nog nie besef wat sou gaan gebeur nie.
Daardie lydensaankondiging het hulle vreemd in die ore geklink.
Dit was asof dit toe nie tot hulle deurgedring het nie.
Wel het hulle besef dat daar ‘n moeilike tyd op koms was.
Jesus was soort van voëlvry verklaar deur die godsdienstige leiers.
Almal het hulleself afgevra wat Jesus op die aanstaande fees sou doen.
Die spanning het in die lug gehang.
Daar moes maar iets gebeur, of die vlam kon in die pan slaan.
Om dan openlik rigting Jerusalem te reis, was vra vir probleme.
Aan die ander kant, vol verwagting het hulle uitgesien na die oomblik as Jesus in Jerusalem die troon sou bestyg.
Hy het genoeg aanhang gehad, soos ons in die teks gelees het, Jesus en sy dissipels was vergesel deur ‘n aansienlike skare.
Maar dan kom daar ‘n onderbreking.
Op pad uit Jerigo uit sit daar ‘n blinde man met die naam Bartimëus.
Opvallend dat sy naam genoem word.
Meestal is bedelaars anonieme mense.
Dis ook net die evangelis Markus wat sy naam noem.
Daar is ‘n rede dat hy sy naam noem.
Waarskynlik omdat die eerste lesers aan wie Markus sy evangelie geskryf het, vir hom geken het.
Ons teks noem dat hy dadelik vir Jesus begin volg het.
Later, na Hemelvaart en Pinkster, kan ons daarvan uitgaan dat hy lid van die eerste kerk in Jerusalem geword het.
Dus, vir die eerste lesers van die Markusevangelie was hy gewoon een van hulle medebroeders, behalwe dan nie meer blind nie.
Wat ook opvallend is, is dat Markus eksplisiet skryf oor hierdie genesing van ‘n blinde.
Want ons weet, dit staan aan die einde van Johannes, dat Jesus so baie wonders gedoen het, dat dit in geen boek beskrywe kon word nie (Joh. 21:25).
Jesus het waarskynlik op daaglikse basis blinde mense genees, naas al die ander siekes.
Bartimeüs was maar een van vele.
Maar wat opvallend aan hierdie geskiedenis is, is veral die woorde wat Bartimeüs geroep het, asook die omstandighede waarin hy dit geroep het.
Bartimeüs, toe hy agterkom Jesus gaan verby, het nie na Hom geroep soos almal Hom genoem het nie.
Hy het nie geroep: Jesus van Nasaret, nie.
Maar hy het ander woorde gekies:
Seun van Dawid, Jesus, wees my barmhartig!
Hierdie woorde het die dissipels laat skrik.
Nie omdat hulle nie saamgestem het nie.
Self was hulle ook daarvan oortuig: Natuurlik is Jesus die Seun van Dawid!
Juis daarom het hulle Hom gevolg, want Hy was oppad om plaas te neem op die troon van Dawid.
Tog het die dissipels geskrik.
Daarom het hulle hom bestraf dat hy moes stilbly.
Die bedelaar het egter nie moed opgegee nie.
Nog harder het hy geroep: “Seun van Dawid, wees my barmhartig!”
Hierdie roep was ‘n geloofsbelydenis.
In hierdie uitdrukking – Seun van Dawid – het deurgeklink dat hy Jesus as die Messias beskou het.
Mense het nog nie gedurf om Jesus so te noem nie.
Ongetwyfeld was daar duisendes wat daardie gedagte in hulle harte gekoester het.
Jesus is die Seun van Dawid, Hy is die beloofde Messias.
‘n Paar dae later sou hierdie belydenis losbars, by Jesus se intog in Jerusalem.
Hosanna! vir die Seun van Dawid!
Toe het die spanning wat vir maande opgebou het, ontlaai.
Maar op hierdie stadium het baie mense nog nie gedurf om dit te sê nie.
Hoekom nie?
Omdat daar baie swaar strawwe op gestaan het.
Dink vir ‘n oomblik terug aan die genesing van nog ‘n blinde, die blindgebore man van Johannes 9.
Toe hy na sy genesing begin te bely dat Jesus die Messias is, is hy uit die sinagoge verban.
Ook het die Jode toe ooreengekom dat dit met ieder en elk sou gebeur wat dieselfde sou bely.
Daarom het mense geskroom om openlik te bely dat Jesus die Messias, die Seun van Dawid is.
Dit wil sê, die Een wat op die troon behoort te sit.
Baie het dit wel in hulle hart geglo, maar het nie daarvoor uitgekom nie.
Die spanning was hoog, veral noudat Jesus op pad was na Jerusalem.
Die vorige keer wat Jesus in Jerusalem was, het dit al op ‘n konflik uitgeloop.
Ondertussen het die spanning maar net verder verhoog.
Almal het die onvermydelike gevrees, dat daar oproer sou kom.
En was die Romeinse oorheersers nie gewoond om ook maar die kleinste opstand onder die Jode hardhandig met bloedvergieting te onderdruk nie?
Niemand was nou lus vir ‘n bloedbad in Jerusalem so vlak voor Paasfees nie.
Die mense, ook die dissipels, het hulleself afgevra of Jesus dit self nie besef het nie.
In elk geval, hulle het die arme bedelaar afgesnou:
Hou jou mond!
Dit was nou nie die regte oomblik om dit van Jesus te sê nie.
Boonop het dit Jesus weer vertraag in sy optog na Jerusalem.
Eers daar, as Hy omring was deur al sy aanhangers, op dit punt om die troon te bestyg, dan sou dit geleë wees.
Maar by die Here Jesus sien ons die teenoorgestelde reaksie.
Die roep van die bedelaar het Jesus bewus laat stilstaan.
Vir Hom was dit nie net die geroep van ‘n bedelaar nie.
Jesus het geweet dat dit ‘n geloofsbelydenis was!
Hierdie man het openlik vir sy geloof uitgekom.
Dit was ‘n geloofsdaad van hom.
Daarom staan Jesus stil.
Wie Hom met ware geloof aanroep, wie sy Naam bely, hy sal altyd gehoor vind.
Jesus het stilgehou en die bedelaar nadergeroep.
Jesus vra vir hom: Wat wil jy hê moet Ek vir jou doen?
Waarop Barimeüs antwoord:
Rabboni, dat ek mag sien.
Nou gemeente, as mens bietjie daaroor nadink, was dit wel slim dat Bartimeüs dit gevra het?
Kon hy nie meer gevra het nie?
As hy tog geglo het dat Jesus die Messias was, dat Hy tot alles in staat was, hoekom het Bartimeüs net dit gevra?
Ons ken verskeie sprokies waarin iemand die kans kry om ‘n wens uit te spreek.
In sommige sprokies sien mens dat so ‘n wens agteraf iemand juis ongelukkig gemaak het.
Soos die koning wat gewens het dat alles waaraan hy raak, goud sou word.
Daardie wens het ‘n nagmerrie geword, toe hy sy eie dogter aangeraak het.
‘n Harde leerskool vir die koning, dat daar baie dinge is wat waardevoller is as goud.
Maar mens sou jouself kon afvra:
Hoekom het die blinde Bartimeüs nie meer gevra nie?
Byvoorbeeld:
Meester, ek wil nie net siende word nie, maar ek wil nooit meer siek word nie, ek wil vir altyd bly lewe – of soiets.
Bartimeüs kon nou wel sien, maar na ‘n aantal jare sou hy net soos alle ander mense ook te sterwe kom.
Maar gemeente, die groot nuus is egter dat Bartimeüs wel baie meer ontvang het as waarvoor hy gevra het.
In Jesus se antwoord word sigbaar dat Jesus hom soveel meer gee, selfs al het hy nie daarvoor gevra nie.
Ook vir hierdie geskiedenis geld, net soos by die baie ander genesings wat Jesus verrig het, dink byvoorbeeld aan die genesing van die verlamde man, ook vir hierdie genesing het gegeld dat die wonderwerk slegs ‘n teken was vir iets veel belangrikers, iets veel grootser, iets veel wonderliker.
Wat Jesus laat stilhou het, was nie die feit dat Bartimeüs ‘n arme blinde bedelaar was nie.
Maar wat Jesus laat stilhou het, was die opregte, onbeskaamde roep van Bartimeüs, die skreeu waaruit opregte geloof geklink het.
Bartimeüs het niks meer gehad om te verloor nie.
Met sy skreeu het hy homself volledig aan Jesus oorgegee.
Mog Jesus nie na hom geluister het nie en gewoon aangeloop het – soos die dissipels se wens was – dan sou Bartimeüs nie net blind gebly het nie, maar – nog veel erger! – die volgende dag sou hy ook uit die sinagoge verban geword het, en hy sou vir sy lewe nie meer veilig wees nie.
Maar hy het die risiko geneem met sy uitroep: Seun van Dawid, Jesus, wees my barmhartig!
Daaruit het sy volledige, sy onbeskaamde vertroue op Jesus geblyk.
Jesus het sy hoop nie beskaam nie.
Hy het stil gaan staan, Hy het geluister, Hy het hom selfs veel meer gegee as waarvoor hy gevra het:
“Gaan, jou geloof het jou gered.”
Bartimeüs het onmiddelik siende geword.
Maar Jesus se antwoord het nie net dit beteken nie.
Deur geloof het Bartimeüs inderdaad die ewige lewe ontvang!
En Bartimeüs se geloof was nie net in woorde nie.
Sy geloof het hy ook in dade omgesit.
Dadelik het hy Jesus op die pad gevolg, staan daar in ons teks.
Dadelik het hy sy gesigsvermoë vir die regte doel gebruik, naamlik om agter sy Heiland aan te gaan.
Hy kon wel daarvan uitgaan dat hy uit die sinagoge verstoot sou word, maar dit het hom nie meer gedeer nie.
Agter Jesus aan was nou sy toekoms!
Geliefde gemeente, verstaan u dat hierdie geskiedenis nie met ‘n sogenaamde wens-sprokie vergelykbaar is nie?
‘n Bedelaar doen ‘n wens – hy wil siende word – en towenaar Jesus bring die wens in vervulling.
Absoluut nie.
Hierdie geskiedenis is ‘n illustrasie van die mees basiese boodskap van die Bybel.
Ewige redding is daar vir elke mens wat glo in Jesus Christus, die Seun van Dawid, die Seun van God.
Dit is waaroor hierdie geskiedenis gaan.
En dan nie net omdat Jesus ‘n suksesverhaal is nie.
Bartimeüs ontmoet Jesus hier nog op sy lydensweg.
Hy is die lydende Kneg van die Here.
Die volg van Jesus sou ook vir hom nie ‘n triomftog word nie.
Net soos die dissipels, kan ons daarvan uitgaan dat Bartimeüs kort daarna ook vir Jesus sou verlaat, toe Jesus in Getsemane in hegtenis geneem is.
Maar Jesus se genade was ook vir hom sterk genoeg.
Later sou Bartimeüs lid word van die eerste Christelike gemeente.
Maar ook as lidmaat van daardie gemeente sou hy baie onderdrukking en selfs vervolging moes deurmaak.
Ook sou, net soos by elke mens, vir hom die dag kom dat hy moes sterf.
Tog het Jesus hom nooit meer verlaat nie.
Danksy die feit dat Jesus aan die kruis gesterf het, maar ook die derde dag weer opgestaan het, het vir Bartimeüs beteken dat sy sterwe nie die einde was nie.
Steeds mog Hy agter sy Saligmaker aangaan, deur lyde na heerlikheid.
Ja ook hy mog, net soos sy Messias, die Messiaanse tyd tegemoet gaan.
En die feit dat Bartimeüs siende geword het, was ‘n teken daarvan.
‘n Teken van wat Jesus op daardie oomblik vir hom gesê het:
Bartimeüs, jou geloof het jou gered.
Net soos by die verlamde man se genesing, geld ook vir hierdie genesing, dat dit bloot ‘n teken was vir ‘n nog veel belangriker boodskap van Jesus aan daardie man:
Jou sondes is vergewe!
Geliefde gemeente, as ons hierdie genesing van Bartimeüs so lees, is dit ‘n pragtige geskiedenis om dit ook vir vandag toe te pas.
As dit slegs ‘n wens-sprokie was, dan was dit eenmalig.
Maar gelukkig is dit nie.
Hierdie geskiedenis is ‘n teken, dit staan simbool daarvoor dat elkeen wat in Jesus glo, wat Hom as Seun van Dawid bely, gered sal word.
En dit is hoekom die Heilige Gees dit deur die evangelis Markus laat opskryf het.
Omdat dit ook vir ons ‘n boodskap het.
Net soos dit toe nie net vir Bartimeüs, maar ook vir die dissipels en die skare ‘n boodskap gehad het.
Dit was ‘n teken vir hulle:
Moenie bang wees om Jesus se Naam te bely nie.
As jy eerlik vir jou geloof in Hom uitkom, beteken dit nie jou ondergang nie, maar jou redding!
Jy word miskien uit die sinagoe verban, maar daarteenoor staan dat jy opgeneem word in die gemeenskap van die heiliges, wat Christus vergader.
Dit is dan ook die toepassing vir hierdie Goeie Vrydag.
Broer, suster, roep jy ook soos Bartimeüs, sonder skaamte, sonder skroom?
Roep jy dit nie net op Sondag as jy die geloofsbelydenis opsê of sing, naamlik dat Jesus gely het en gesterf het en begrawe is nie, maar roep jy dit ook deur die week, met jou woorde en dade?
Skaaam jy jou vir jou Heiland?
Skaam jy jou om vir Hom te bid, nie net tuis nie, maar ook in die restaurant?
Skaam jy jou om uit se Woord te lees, nie net tuis nie, maar ook op ander plekke?
Is jy so onder die indruk van die rykdom wat Hy jou skenk, dat al die res op aarde vir jou waardeloos geword het, as jy as gevolg daarvan Christus se rykdom moes ontbeer?
Verwag alles van Hom!
Verbrand alle skepe agter jou.
Ook vir jou sal Hy sê: Jou geloof het jou gered.
Baie jare later, toe Bartimeüs op sy sterfbed gelê het, was Jesus se woorde nog steeds sy houvas: jou geloof het jou gered!
Want Christus se Middelaarswerk op aarde was nie net om ‘n wonderdokter te wees, ‘n goeie towenaar by wyse van spreke nie.
Al het Jesus talle en talle blindes siende gemaak, was dit tog nie die vernaamste rede hoekom Hy aarde toe gekom het nie.
Hy het in die eerste plek gekom om te ly, om gekruisig te word, om mense van hulle sondes, van die ewige straf te red.
Daardie redding het Hy, naas die feit dat hy siende geword het, aan Bartimeüs geskenk.
Jou geloof het jou gered.
Nie dat Bartimeüs se geloof ‘n prestasie was nie.
Die Kategismus bely tereg dat mens geloof nie ‘n prestasie kan noem nie.
Vertroue op ‘n ander omdat jy self swak is, is nie ‘n prestasie nie.
En so is vertroue op Christus vandag, net soos by Bartimeüs, sowel ‘n geskenk as ‘n opgawe.
Geloof beteken dat jy jou totaal aan Christus oorgee.
Laat ons dit elke dag weer doen.
Laat ons hierdie Goeie Vrydag benut om die noodsaak daarvan weer werklik te besef!
Aan die een kant kan mens sê dat dit vir Bartimeüs nie so moeilik was nie, want hy het niks gehad om te verloor nie.
Hy was arm, hy was ‘n bedelaar, hy was blind.
Miskien het hy in elk geval ‘n sinagoge nooit meer van binne gesien nie.
Miskien was dit vir hom makliker om Jesus as die Messias te bely as vir ons.
Nie vir niks het die Here Jesus gesê dat dit vir ‘n ryke moeiliker is om die koninkryk te beërf as vir ‘n kameel om deur die oog van ‘n naald te gaan nie.
Ons het baie om te verloor.
Ons kyk te maklik agterom.
Ons wat ryk, gesond, en nie eensaam is nie.
Dikwels is dit so, dat ons eers werklik besef wat geloof is, dat daar eers by ons werklik geloofsverdieping plaasvind, as dinge van ons afgevat word.
Ons almal belewe vroeg of laat ‘n dag wat dinge van ons afgevat word.
Dit is die swaar dae van die lewe.
Dan kom ons op die vlak van Bartimeüs, in die sin dat ons nie meer illusies kan koester, dat ons onsself kan help nie.
Maar daardie swaar tye hoef ons nie te beangstig nie.
Reken daarop dat Christus juis dan daar is.
Dat Hy sal stilhou, en na jou geroep sal luister.
Jou noodkreet sal Hom nie ontgaan nie.
Juis dan word sy belofte werklikheid.
As jy van jouself en van ander mense niks meer te verwagte het nie, dan val ons soveel meer bewus terug op die Seun van Dawid.
Maar laat dit geen verskoning wees om, noudat dinge nog voor die wind gaan, jou geloof te verwaarloos nie.
Dan kan dinge dalk anders uitdraai.
Want in moeilike tye val mens terug op die fondament wat deur die jare gebou is.
As daar deur die jare nie gebou is nie, is daar ook geen fondament nie.
Leef elke dag in afhanklikheid van jou God.
Kruisig elke dag jou ou mens, wat op homself wil vertrou.
Lei elke dag ‘n biddende lewe.
Dan sal jou Heiland jou nie beskaam nie, nooit nie.
Hy wat sy eie lewe aan die kruis geoffer het, om jou lewe te red.
Jou siel, en ook jou liggaam.
Mag daar eendag ook op jou graf ‘n Bybelteks staan, waaruit jou onwankelbare hoop spreek, jou geloof in die opstanding van die liggaam.
Net soos by Bartimeüs, sal ook vir ons geld, dat die geloof in Jesus Christus en sy Middelaarswerk sal sorg dat ons die toekoms van ewige heerlikheid sal sien met ons eie oë.
Amen.
Votum
Seën
Ps 71:1-3
Gebed
Skriflesing: Markus 10:46-11:10
Ps 71:4-6
Teks: Markus 10:46-52
Preek
Ps 130:2-4 (2e beryming)
Gebed
Geloofsbelydenis (NGB art. 21)
Sb 6:1-3
Kollekte
Sb 6:4-6
Seën