Die onderwerp wat artikel 29 bespreek is nie ‘n maklike onderwerp nie.
Dit is ook ‘n baie gevoelige onderwerp.
Daarom klink daar in die eerste sin ‘n waarskuwing:
Ons moet sorgvuldig en met groot oplettendheid daarmee omgaan.
En vooraan staan dat ons na die Woord moet teruggaan.
Dit doen ons dan ook weer vanaand.
Die kerk se belydenis wil ons naby die Woord bewaar.
En so dryf NGB artikel 29 ons ook weer terug na die Bybel.
Wat God se Woord sê oor waar en vals, ware en valse kerke.
In die vorige preek wat ek na aanleiding van NGB artikel 29 gemaak het, dit was enkele jare gelede, het ek baie gefokus op die onderskeid tussen ware en valse kerk.
In vanaand se preek fokus ek bietjie meer op dit wat artikel 29 ook beskryf, naamlik die kenmerke van ‘n ware gelowige.
Tema: Christus sorg dat daar ware geloof op aarde gevind word
In die eerste plek vat ek net kortliks saam wat ons bely oor die onderskeid tussen ware en valse kerk.
Met behulp van God se Woord behoort ons te onderskei watter kerk die ware kerk is.
Daar is naamlik baie sektes in die wêreld, wat ten onregte die naam kerk gebruik.
Wat ons in die eerste plek hier leer is dat dit Skriftuurlik is om onderskeid te maak.
Die Skrif leer ons dat daar waar en vals is, kerk en sekte.
Ons bevind ons in ‘n samelewing wat dit nie meer wil doen nie.
Daar is so baie kerklike groeperings en godsdienste, maar dit word as onsensitief beskou om kritiek te hê op ‘n ander kerk of godsdiens.
Alle paaie lei uiteindelik na God, is die uitdrukking wat dikwels gebruik word.
Wel, hierdie opvatting het die Skrif nie aan hulle kant nie.
Die Skrif maak duidelik onderskeid tussen waar en vals.
Dink aan Christus se uitspraak in Mattheüs 7:15 “pas op vir die valse profete wat in skaapsklere na julle kom en van binne roofsugtige wolwe is.”
En Mattheüs 24:5 “baie sal onder my Naam kom en sê: Ek is die Christus! en hulle sal baie mense mislei.”
En Johannes 10:1 “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie nie by die deur in die skaapstal ingaan nie, maar van ‘n ander kant af inklim, hy is ‘n dief en ‘n rower.”
En in navolging van Christus het die apostels ook onderskei tussen waar en vals.
Paulus waarsku in Handelinge 20:29 “Want ek weet dit, dat na my vertrek wrede wolwe onder julle sal inkom en die kudde nie sal spaar nie.”
En Petrus waarsku in 2 Petrus 2:1 “Maar daar was ook valse profete onder die volk, net soos daar onder julle valse leraars sal wees wat verderflike kettery heimlik sal invoer ...”
Die NGB noem dan drie kenmerke waaraan ‘n ware kerk uitgeken kan word.
Die suiwer prediking van die Evangelie.
Die suiwere bediening van die sakramente.
Die gebruik van die kerklike tug om die sondes te straf.
Hierdie drie kenmerke kan saamgevat word in die volgende:
‘n Kerk gedra haar volgens die suiwere Woord van God.
‘n Kerk erken Jesus Christus as die enigste Hoof.
Dan word die tipiese kenmerke van ‘n valse kerk ook beskryf.
Kerklike besluite begin meer gewig te dra as die Woord van God.
In ander woorde: Dit onderwerp homself nie aan die juk van Christus nie.
Nie dat Christus se juk so swaar is nie.
Dink aan sy eie uitspraak: “Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus vind vir julle siele; want my juk is sag en my las is lig.” (Mattheüs 11:29-30)
Verder is tipies vir ’n valse kerk dat dit meer op mense as op Christus vertrou.
Wat Christus oor die skepping sê, word as minder geloofwaardig beskou as die wetenskap.
Dus, daar word meer op die wetenskap vertrou.
Wat Christus se Woord oor die vrou en die amp sê, word as diskriminerend beskou.
Daardie juk word afgewerp, en die wêreldse juk word op die skouers geneem in hierdie opsig.
Nog ’n baie tipiese kenmerk van ’n valse kerk is dat dit uiters verdraagsaam is, behalwe teenoor diegene wat haar op haar foute wys.
Hulle wat aan die Bybelse lyn vashou, word die swye opgelê.
En soms lei dit selfs tot vervolging.
Wat met Marten Luther gebeur het, is ’n goeie voorbeeld.
Die pous het hom eers ‘n swyggebod opgelê.
Maar toe Luther nie daaraan gehoor gegee het nie, is hy voëlvry verklaar.
Enigiemand wat hom sou doodmaak, sou nie ‘n krimineel wees nie, maar ‘n held.
Dit is hartseer, maar hoe meer ‘n dwalende kerk op die pad van afval voortgaan, hoe duideliker vertoon dit die kenmerke van ‘n valse kerk.
Christus het dit alreeds voorspel, Johannes 16:2:
“Hulle sal julle uit die sinagoges ban. Ja, daar kom ‘n uur dat elkeen wat julle om die lewe bring, sal dink dat hy ‘n diens aan God bewys.”
Presies so het die Roomse Kerk oor Luther gedink.
Dan nou in die tweede plek, artikel 29 skenk ook aandag aan die kenmerke van ‘n ware gelowige.
‘n Ware kerk kan nie bestaan sonder ware gelowiges nie.
Die ware kerk is Christus se werk.
En net soveel geld: Ware gelowiges is Christus se werk.
Christus sorg daarvoor dat daar ware geloof op aarde gevind word.
Nou hier geld dieselfde as wat ek laasweek genoem het oor die kerk as ‘n heilige vergadering.
Ware gelowiges is nie volmaak, sonder sondes nie.
Maar hulle lewe wel heilig.
Heilig beteken afgesonder van die sonde en toegewyd aan Jesus Christus.
Artikel 29 beskryf dit as volg: Hulle het Jesus Christus as enigste Verlosser aangeneem, en daarom ontvlug hulle die sonde.
Hulle jaag geregtigheid na.
Hulle kom die kern van elke gebod na, naamlik liefde vir God en liefde vir die naaste.
Hulle wyk nie na regs of links af nie.
Hoe tipies is dit nie vir mense om hulle standpunt te verander na gelang van die meerderheid nie ...
Of na gelang van die heersende opinie ...
As die waarheid jou ongewild gaan maak ...
Maar tog, ‘n ware gelowige wyk nie na regs of links af nie.
En al het ‘n ware gelowige ook daardie neiging, daar is inderdaad nog groot swakheid in ‘n ware gelowige sê artikel 29, tog voer dit nie in sy lewe die botoon nie, want hy span homself voortdurend in om sy sondige natuur met sy werke te kruisig.
Soos ons in Galasiërs 5:24 lees: “Maar die wat aan Christus behoort, het die vlees met sy hartstogte en begeerlikhede gekruisig.”
Daar is ‘n stryd in ‘n ware gelowige se lewe sigbaar.
‘n Stryd om die regte koers te bly vaar, waarby die Heilige Gees die roer van jou lewe vashou.
Die enigste manier hoe ware gelowiges dit regkry om op koers te bly, is om altyd weer hulle toevlug te neem tot die bloed van die Here Jesus.
Sy gehoorsaamheid word hulle gehoorsaamheid.
In Hom ontvang hulle vergewing van sondes.
Prakties beteken dit dat die sondes nie ‘n afdraaipad is waarop hulle bly voortgaan nie.
Maar omdat die sonde vergeef en weggeneem word, kan die regte lewenskoers weer herstel word.
Die Bybel gee vir ons baie voorbeelde van ware gelowiges.
Ons kan van hulle leer.
Ons kan ons lewens met hulle vergelyk, en daaruit bemoediging put.
Nou om direk ‘n groot misverstand uit die weg te ruim:
Die Bybel beskryf nie die beste, volmaakste en mees voorbeeldige mense wat daar op aarde rondgewandel het nie.
Dit is wel soms van hulle gemaak.
Dink aan hoe die Roomse Kerk Maria salig verklaar het.
Dink aan hoe hulle Petrus en Paulus op ‘n voetstuk geplaas het.
Die Bybel is egter deur en deur eerlik oor die ware gelowiges.
Hulle swakhede en sondes word eerlik beskryf.
Dink aan Abraham, Moses, Dawid ensovoorts.
Ons het vanaand uit die Bybel gedeeltes oor Petrus gelees.
Oor hierdie apostel, van wie Christus gesê het dat Hy ‘n rots is, en dat Hy op sy getuienis sy kerk sal bou, oor hierdie einste Petrus beskryf die Bybel nie net die hoogtepunte van sy lewe nie, maar net so veel ook die dieptepunte.
Hoogtepunte van geloof en vertroue was daar beslis in sy lewe.
Dink aan sy skitterende preek op Pinksterdag, waarna drie duisend mense bekeer is (Hand. 2).
Dink aan sy getuienis voor die Joodse raad (Hand. 4).
Dink aan hoe hy die Evangelie bly verkondig het, terwyl hy vervolging in die gesig gestaar het.
Meer as een keer is hy in die gevangenis gegooi as gevolg daarvan.
Maar die dieptepunte was net so goed aanwesig in sy lewe.
Soms volg ‘n dieptepunt direk op ‘n hoogtepunt.
Dink aan sy pragtige geloofsbelydenis in Mattheüs 16:
“En Simon Petrus antwoord en sê: U is die Christus, die Seun van die lewende God.” (Matt. 16:16)
Maar op dieselfde dag moes Jesus vir hom sê: “Gaan weg agter My, Satan! Jy is vir My 'n struikelblok, omdat jy nie die dinge van God bedink nie, maar die dinge van die mense.” (Matt. 16:23)
Dikwels as ‘n mens ‘n groot hoogtepunt, ‘n groot mylpaal in jou lewe behaal het, lê die versoeking des te meer op die loer.
Petrus was ‘n baie dapper man, waarskynlik die dapperste van al die dissipels.
Hy was bereid om Jesus met die swaard te verdedig, hy was meer as bereid om vir sy Heiland te sterf.
Toe die soldate van die owerpriesters en Fariseërs Jesus kom gevange neem, het Petrus sy Leermeester met die swaard verdedig.
Hy het Malchus se oor afgekap.
Al het Petrus op daardie oomblik die groter prentjie nog nie raakgesien nie, tog kan mens sê dat hierdie ‘n moment van standvastigheid in sy lewe was.
Hy het vervolging en lewensgevaar in die gesig gestaar, tog het hy lojaal aan die Messias gebly.
Maar weer eens het ‘n absolute dieptepunt kort na hierdie hoogtepunt gevolg.
Want in dieselfde nag nog het Hy sy Heiland verraai.
“Ek ken die man nie” het hy vir ‘n diensmeisie gesê (Matt. 26:72).
Wat ‘n antiklimaks!
Teen soldate het hy met die swaard geveg.
Teen ‘n diensmeisie het hy nie eers gedurf om die waarheid te praat nie.
Ook na Christus se opstanding sien ons nog steeds dieselfde patroon.
Toe Jesus nog in die graf was, was Petrus trou aan sy oorlede Leermeester.
Op Sondagoggend het hy die graf besoek, om eer aan die Ontslapene te bewys, om seker te maak daar gebeur niks ongehoords met sy liggaam nie.
Daarna het die opgestane Christus aan sy dissipels verskyn, ook aan Petrus.
Maar Petrus was traag om te glo.
Die evangelis Johannes beskryf hoe hy vir die ander dissipels gesê het: “Ek gaan visvang.” (Joh. 21:3)
Daardie kort sinnetjie spreek boekdele.
Petrus keer terug na sy ou beroep, soos destyds voordat Jesus hom geroep het om ‘n visser van mense te word (Matt. 4:19).
Jy vra jouself af, wat het Petrus eintlik die afgelope drie jaar by Jesus geleer?
Het hy wel iets geleer?
Die Here Jesus was egter geduldig met hom.
Weer het Hy hom geroep, weer met die oproep om ‘n visser van mense te word.
Hierdie keer het Jesus ‘n ander beeld gebruik: “Laat my lammers wei.” “Pas my skape op.” “Laat my skape wei.” (Joh. 21:15-17)
Nog een voorbeeld wil ek noem uit Petrus se veelbewoë lewe.
Petrus het ‘n kragtige verkondiger van die Evangelie geword.
Dink aan sy preek op Pinsterdag (Hand. 2).
Veral onder die Jode het hy met veel vrug gearbei.
Waar Paulus veral na die heidense wêreld gegaan het, het Petrus in Jerusalem en omstreke gebly.
Vol moed en vertroue op sy hemelse Sender was hy steeds betrokke in die debatte met die sinagoge.
Hy het sonder vrees vir die waarheid bly opkom.
Hy het sy volksgenote deur sy prediking en deur die wonders wat hy verrig het, oortuig dat Christus die Messias is wat God in die Ou Testament beloof het, dat Hy die ware Profeet is wat God sou stuur.
Tog beskryf die Nuwe Testament nog een insident waar Petrus van die waarheid afgewyk het.
‘n Groot geskilpunt in die Nuwe Testamentiese kerk was die posisie van die bekeerlinge uit die heidene.
Moes hulle besny word?
Moes hulle hulle aan die Joodse voedselwette hou?
Die boek Handelinge beskryf hoe die Heilige Gees dit duidelik gemaak het dat dit nie vir hulle nodig was nie.
Tog het dit vir baie Joodse Christene moeilik gebly om te aanvaar.
Die kerk in Jerusalem het die bekeerlinge uit die heidene nie altyd met ope arms ontvang nie.
En dit het ook vir Petrus gegeld.
In Galasiërs lees ons hoe Paulus vir Petrus skerp hieroor vermaan het.
Paulus skryf: “Maar toe Petrus in Antiochië gekom het, het ek hom openlik teëgestaan” (Gal. 2:11).
“... toe ek sien dat hulle nie reguit loop volgens die waarheid van die evangelie nie, het ek vir Petrus in teenwoordigheid van almal gesê: As jy wat ‘n Jood is, soos ‘n heiden lewe en nie soos ‘n Jood nie, waarom dwing jy die heidene om soos Jode te lewe?”
Wat was naamlik die geval?
Petrus was gewoond om saam met die heidene te eet – dit heeltemal in lyn met die visioen wat hy ontvang het.
Maar toe daar Joodse Christene kom met baie sterk opinies hierteen, het Petrus ineens die heidense Christene ‘n koue skouer gegee, en wou nie meer saam met hulle eet nie.
Die NGB skryf: ‘n Ware Christen wyk nie na regs of links af nie.
Hierdie is ‘n voorbeeld hoe Petrus van die reguit pad afgewyk het.
Maar gelukkig het dit nie so gebly nie, en het hy van sy afdwaalpad teruggekom.
Hy het homself ook nie vir Paulus vererg nie.
As invloedryke persoon het hy dit Paulus nie kwalik geneem dat die hom so openlik vermaan het nie.
Maar hy het sy nek weer onder die juk van Christus gebuig.
Hy het, na hierdie ernstige vermaning, Paulus se werk ook nie begin ondermyn nie, inteendeel.
Ons lees in Petrus se tweede brief die volgende opmerklike oproep aan die gelowiges:
“ag die lankmoedigheid van ons Here as saligheid, soos ons geliefde broeder Paulus ook met die wysheid wat aan hom gegee is, aan julle geskryf het” (2 Pet. 3:15).
Gemeente, ons het in voëlvlug na ‘n paar episodes uit Petrus se lewe gekyk.
Sy lewe illustreer pragtig wat artikel 29 oor ‘n ware gelowige skryf.
Al bly hulle sondig, ontvlug hulle steeds die sonde.
Hulle jaag die geregtigheid na.
Hulle het God en hulle naaste lief.
En al is daar nog groot swakheid in hulle, stry hulle deur die Gees al die dae van hulle lewe daarteen.
Elke keer weer neem hulle hul toevlug tot die bloed, dood, lyding en gehoorsaamheid van die Here Jesus.
Hulle glo, ja hulle het ‘n seker wete en vaste vertroue, dat hulle in Hom vergewing van hul sondes het.
In dieselfde geloof mag ons ook vandag lewe as ware gelowiges.
Oor elkeen van ons se lewens kan daar gesê word dat daar berge en dale is.
Geloofshoogte- en geloofsdieptepunte.
Soms slaan ons deur in ons ywer vir die Here, en wil ons Hom en sy saak verdedig met onbehoorlike middele, soos Petrus destyds.
Maar die doel heilig nie die middele nie.
Soms wyk ons na links of regs af.
Soms is mense groot in ons lewe en die Here Jesus klein.
Soms tel die verwagtings, opinies en groepsdruk van mense meer as die helder aanwysings van die Woord.
En dan is daar steeds nog die swakheid van ons ou mens, wat ons laat struikel.
Om eerlik te wees, veel meer dikwels as wat ons wens as kinders van die Here.
Hoe dikwels voel ons nie teleurgesteld in onsself nie?
“Ek, ellendige mens! Wie sal my verlos van die liggaam van hierdie dood?” (Rom. 7:24)
Dit is die noodkreet wat ‘n ware gelowige elke dag weer tot sy Heiland laat opstyg.
Daardie noodkreet bly nie onbeantwoord nie.
Dit mag ware gelowiges ook telkens weer ervaar.
Broer, suster, ek en jy struikel dikwels, maar bly naby jou Heiland.
Volg Hom deur berge en dale.
Neem elke dag jou toevlug tot sy bloed, dood, lyding en gehoorsaamheid.
Ware gelowiges was nie net iets van die Bybelse tyd nie.
In die Bybelse tyd was ware gelowiges ook nie volmaak nie.
Ook vandag is mense, ook kerkmense, nie volmaak nie.
Maar ook in ons tyd is daar ware gelowiges.
Christus sal nooit sonder onderdane wees nie.
Christus sorg daarvoor dat daar ware geloof op aarde gevind word, ook in die 21ste eeu.
Is jy ook een van hulle?
Amen.
Votum
Seën
Ps 33:9,10
Gebed
Skriflesing: Mattheüs 4:18-20; 16:13-23; 26:69-75
Sb 19:1-4
Skriflesing: Galasiërs 2:7-21
Sb 19:5-7
Teks: Nederlandse Geloofsbelydenis art. 29
Preek
Ps 132:8-10
Gebed
Apostoliese Geloofsbelydenis (sing)
Kollekte
Ps 68:2,9
Seën