Die wonder van Christus se kerkvergaderende werk in ons midde

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Maranata
Date: 
2021-03-07
Text: 
Nederlandse Geloofsbelydenis Artikel 28
Preek Inhoud: 

Die Vrye Gereformeerde Kerk Pretoria-Maranata bestaan uit ‘n paar honderd lidmate, waarvan u, waarvan jy een is.

Hoe het jy eintlik lid van hierdie gemeente geword?

Was dit ‘n bewuste keuse, toe jy lid geword het?

Vir die jeug onder ons was dit nie ‘n bewuste keuse nie, want julle is in die kerk gebore.

Tog, die dag as jy geloofsbelydenis doen, word van jou ook ‘n bewuste keuse vir hierdie kerk verwag.

Vanaf daardie dag is die keuse van jou ouers nie meer beslissend nie, maar jou eie keuse.

Vanaand gaan ons voort, aan die hand van die Nederlandse Geloofsbelydenis, om te kyk wat die Skrif ons oor die kerk leer.

Bo-aan artikel 28 staan: Elkeen is verplig om by die ware kerk aan te sluit.

Om kerklidmaat te wees, is nie iets opsioneels nie, dit is ‘n verpligting.

En dan is daar ook nog die feit dat hierdie plig nie geld vir enige kerk nie, maar spesifiek die ware kerk.

 

Tema: Die wonder van Christus se kerkvergaderende werk in ons midde

Ons gaan in hierdie preek aan verskillende aspekte aandag skenk wat betref die kerk:

  • Die kerk is heilig.
  • Buite die kerk is daar geen saligheid nie.
  • Die aard van die ware kerk.
  • Die verpligting om by die ware kerk aan te sluit.
  • Dat die ware kerk steeds moet reformeer en bly buig onder die juk van Christus.

 

Die ware kerk is ‘n heilige vergadering, sê artikel 28.

Heilig beteken nie volmaak of foutloos nie.

Soos die katkisante al op katkisasie geleer het: Heilig beteken afgesonder en toegewy vir die diens aan die Here.

Die kerk is inderdaad afgesonder van die wêreld om ons heen.

Daarmee bedoel ons dat die kerk nie byvoorbeeld onder regeringsbestuur val nie.

Die kerk behoort ook nie aan ‘n groot korporatiewe besigheid nie.

Die kerk volstaan ook nie met die grondwet van die land nie.

Die kerk is ‘n selfstandige liggaam.

Dit het sy eie regering, dit het sy eie struktuur, dit is onafhanklik van welke wêreldse liggaam en persoon ook al.

Die kerk funksioneer op basis van sy eie ‘grondwet’, naamlik die Woord van God.

Dit is afgesonder en slegs toegewy aan haar Hoof, Jesus Christus.

Dat die kerk slegs aan Christus behoort, maak die Skrif duidelik met verskillende beelde.

Die kerk is die liggaam, Christus is die Hoof.

Die kerk is die diensknegte, Christus is die Heer.

Die kerk is die onderdane, Christus is die Koning.

Die kerk is die bruid, Christus is die Bruidegom.

Die kerk is die kudde, Christus is die goeie Herder.

 

Dan maak die NGB ‘n gewaagde stelling:

Buite die kerk is daar geen saligheid nie.

Vertroue op wetenskaplike vooruitgang, tegniek, vertroue op regerings, vertroue op beskawings, vertroue op prinse, sê Psalm 146, vertroue op watter mens of instansie ook al, dit gaan nie vir jou ‘n paradys op aarde bring nie.

Dit in die eerste plek.

Maar hierdie stelling beteken ook dat iemand wat gelowig is, wat God dien volgens die Bybel, nie los van die kerk mag bly lewe nie.

Meer spesifiek, los van die ware kerk.

Dit geld ook vir gelowiges dat hulle nie onbepaald in dwalende kerke aanbly nie.

 

Nou kan dit soms wees – eintlik gereeld – dat die ware kerk nie ‘n goeie naam in die samelewing het nie.

Dat lidmaatskap aan die ware kerk, veral vir persone van stand en status sê die NGB, nie werklik aantreklik is nie.

Dit kan wees dat ander kerkgenootskappe, dalk ‘n staatskerk, op die ware kerk pik, omdat dit klein en onaansienlik is.

So was dit die geval in Guido de Brès se dae, toe die NGB geskryf is.

Die Roomse Kerk was groot en magtig, lidmaatskap aan daardie kerk het vir jou deure oopgemaak in die maatskappy.

Die Prostantse Kerk daarenteen was in die oë van die wêreld onaansienlik, veragtelik, selfs werd om vervolg te word.

Wie wil nou by so ‘n kerk aansluit, as dit jou reputasie kan kos, jou werk en inkomste, of selfs jou lewe?

Tog skryf artikel 28 baie pertinent: Niemand, wat sy stand en status ook al is, mag hom in selftevredenheid van hierdie vergadering afsydig hou nie.

Selfs nie as regerings en wette van regeerders daarteen sou wees nie.

God se bevel moet swaarder weeg.

Almal is verplig om daarby aan te sluit.

Maar dan gaan dit nie daaroor dat hierdie ware kerk ‘n superkerk is, waarin die mense so goed is nie.

 

Inteendeel, soos die NGB skryf, dit gaan daaroor dat elke mens sy nek onder die juk van Jesus Christus moet buig.

Die ware kerk is naamlik daar waar Christus se bevel, sy wil, sy Woord alle gesag het.

Die ware kerk is nie staties nie, maar dit reformeer homself op aaneenlopende basis.

Soos wat die ware kerk se insig in die Woord groei, so word die gelowiges daarin hoe langer hoe nederiger, hoe langer hoe skuldbewuster, maar ook hoe langer hoe toegewyder, deur die krag van die Heilige Gees wat deur die lewende verkondiging van die Woord werk.

Dus geen superkerk, Superchristene nie, maar kwesbare mense wat al hulle behoud en saligheid by Jesus Christus soek.

‘n Kerk wat vry van die wêreld en die eise van die wêreld opereer.

 

Die NGB beskryf die aansluit by die ware kerk in twee stappe.

Eerstens moet gelowiges hulle afskei.

In Guido de Brès se tyd was daar nog baie gelowiges in die Roomse Kerk.

Dit is ‘n feit, ook vir vandag.

Daar is nog baie gelowiges in kerke wat dwalende is, wat vals geword het.

Ons moet hulle nie uit die oog verloor nie.

Maar, staan daar, hulle het die plig om van daar waar hulle nou is, te vertrek.

Hulle moet afskei.

Vir ons wat die voorreg het om reeds in die kerk te wees waar Christus alleen regeer, is dit egter belangrik dat ons hierdie mense as gelowiges erken, en hulle as sodanig behandel.

Soms kan ons die neiging hê om onbarmhartig te wees.

As hulle (nog) in ‘n dwalende kerk is, dat ons hulle oor een kam skeer met die res, asof hulle eintlik alreeds ongelowig is, net omdat hulle tans nog op die verkeerde plek kerk toe gaan.

As ons so ‘n houding het, maak ons dit nie maklik vir sulke gelowiges om hulle af te skei nie, want daar wag niemand daarbuite om hulle met ope arms te ontvang nie.

Hulle word eerder gewantrou.

Laat ons hulle dus as ware gelowiges herken en erken, die eenheid van die band van die geloof wat die Heilige Gees reeds daargestel het, ook ernstig neem.

 

Dit dus eerstens, ware gelowiges moet hulleself afskei.

Maar dan is die tweede stap dat hulle hulle moet aansluit by dié vergadering, waar God dit ook al gevestig het.

Dit is die ware kerk, oftewel vergadering wat slegs aan Christus behoort, wat slegs aan Hom toegewy is, wat die nek onder sy juk buig.

Ware gelowiges behoort nooit kerkloos te bly nie.

Om aan te sluit is ‘n plig.

 

Nou soos ek genoem het, die ware kerk is ‘n steeds reformerende kerk, dit streef steeds daarna om haarself te verbeter.

Hierdie reformerende proses is iets wat positief is.

En wat ware gelowiges ook as positief moet beleef.

Daar is ‘n gevaar dat hierdie proses ontaard in foutsoekery, of in ‘n kultuur waar gelowiges steeds mekaar veroordeel, waar kritiek op mekaar die botoon voer.

As die kerkdiens verby is, word daar veral gepraat oor wat hulle gemis het in die preek, of wat volgens hulle eensydig was.

As die orrelis ‘n fout gemaak het, word veral daaroor gepraat.

As die kerk te koud of te warm is, word direk by die koster daaroor gekla.

Sommiges hou hulle afsydig van die Bybelstudieverenigings, want dit is in hulle oë nie goed genoeg nie, daar is foute in die verlede gemaak.

Sommiges is negatief oor die sending, want die glas is nog maar halfvol.

 

In die Nuwe Testamentiese gemeentes in Galasië en Korinthe het so ‘n kultuur ook begin ontwikkel.

Ja, dit was gemeentes wat onder juk van Christus gebuig het, dit was ware kerke.

Maar weer eens, dit was nie superkerke, volmaakte kerke nie.

En die apostel Paulus vermaan hulle met ‘n baie sterk woorde:

Pas op dat julle nie mekaar byt en opeet nie!

Pas op dat die een nie deur die ander verteer word nie – Galasiërs 5:15.

Inderdaad, dit kan in ‘n ware kerk gebeur.

Dat die duiwel ‘n vastrapplek kry in mense wat steeds met mekaar foutsoek.

In Korinthe was hulle so fynproewerig en krities op die prediking, en op die welsprekendheid van die prediker, dat daar groepsvorming ontstaan het rondom die predikers.

Ek is mal oor Apollos ...

Ek verkies eerder vir Cefas ...

Nee, ek is van Paulus ...

En noem maar op.

In Korinthe het hulle mekaar selfs voor die wêreldlike regter gesleep.

 

Nou, broers en susters, as daar so ‘n kultuur in ‘n gemeente heers, dink u dat dit aantreklik is vir gelowiges uit dwalende kerke om by ons aan te sluit?

Hulle sal eerder bang wees dat hulle kort voor lank op die vingers getik gaan word.

Nogmaals, om ‘n reformerende kerk te wees is ‘n positiewe saak.

Dit is iets wat ons bly behoort te maak.

Dit is nie iets wat tot verdeeldheid mag ly nie.

Groepsvorming kan so maklik ontstaan.

Die een groep bestempel hulleself as behoudend, hulle benadruk die behoud van oorgelewerde tradisies.

Die ander groep bestempel hulleself as vernuwend.

Dis waarin mense hulle identiteit soek, om deel van so ‘n groep te wees.

As so ‘n atmosfeer ‘n gemeente in sy greep kry, is die wysheid en verdraagsaamheid by die deur uit.

En nog erger, so ‘n gemeente begin te kwyn.

Ware gelowiges uit dwalende kerke raak skrikkerig om daar aan te sluit.

Selfs jongmense wat in daardie gemeente opgroei, raak skrikkerig om steeds op die vingers getik te word.

Hulle het naamlik nog nie soveel ervaring nie.

Hulle weet nog nie so mooi waar om wel en nie te trap nie.

 

So bevat Paulus se briewe aan die Korinthiërs en Galasiërs ook vir ons ‘n oproep, ‘n vermaning.

Bly buig onder die juk van Christus.

Moenie selfingenome raak nie.

Moet ook nie – spreekwoordelik – vir mekaar opeet nie.

Stap saam op die pad van heiligmaking, dankbaar en bly.

Ondersteun die swakkes, moenie hulle afkraak nie.

Laat die wat sterk is en vinnig kan vorder, aan die kreupeles ‘n hand uitreik.

Laat ons geduld met mekaar hê.

Laat ons wysheid aan die dag lê.

Mekaar reghelp in ‘n gees van sagmoedigheid, beseffende dat daar nog soveel aspekte is waarin ek self ook reggehelp moet word.

‘n Ware kerk moet per definisie ‘n nederige kerk bly.

Alles van Christus verwag, slegs oor Hom grootpraat.

 

As so ‘n positiewe gesindheid in ‘n gemeente heers, dan word dit ook ‘n aantreklike gemeente.

Soos die Bybel haar beskryf: ‘n bruid.

En wie wil nie na ‘n bruid kyk nie?

As ‘n gelowige wat soekende is met so ‘n gemeente kennis maak, is dit ‘n positiewe kennismaking.

Dit smaak na meer.

Die ware kerk se deure staan oop.

Nie dat die ware kerk haarself moet aanpas om aantreklik te word vir buitekerklikes nie.

As ‘n kerk is wat sy behoort te wees, dan sal sy uitstraling hê, dan sal sy aantreklik wees.

 

As ons dit alles so hoor, dan moet ons as gemeente van Pretoria-Maranata erken:

Ons het nog ‘n lang pad om te gaan.

Dit is egter nie ‘n rede tot negatiwiteit nie.

Dit maak ons wel nederig, maar terselfdertyd vol verwagting.

Vol verwagting van dit wat Christus nog in ons midde sal kan regkry.

Al was Korinthe, al was die gemeentes in Galasië, nog myle ver van volmaak, Christus het hulle nie afgeskryf nie.

Solank hulle bly buig het onder sy juk.

 

Maar sodra ‘n kerk daardie juk afwerp;

sodra ‘n kerk krities raak op Christus se Woord self, dit begin aanpas aan die eise van die tyd, aan die vereistes van die wêreld, dan loop dinge lelik fout.

Dan raak ‘n kerk dwalende, op pad om ‘n valse kerk te word.

Dan mag die mense daarin hoe vroom wees, tog is dit besig om ‘n gemeenskap te word waaruit Christus sy kandelaar gaan wegneem.

In die tyd toe die NGB geskryf is, het die Roomse Kerk meer gesag toegeken aan die uitsprake van die pous, aan die besluite van konsilies, as aan die Woord.

Vandag is daar ook kerklike groeperings wat meer gesag toeken aan ander persone of instansies as die Woord van God.

Vandag gebeur dit in verskeie kerkgenootskappe dat die wetenskap begin heers oor die Woord.

Dat wetenskaplike insigte bepaal wat in God se Woord as waarheid beskou kan word, en wat nie.

Ook kan die tydsgees so dominant raak, dat dit wat die Bybel sê, aan die eise van die tyd aangepas moet word.

Wat die Bybel oor homoseksuele verkeer sê, word irrelevant, selfs onverdraagsaam.

Wat die Bybel oor die skepping openbaar, word outyds, selfs fundamentalisties, en mag nie op skole onderrig word nie.

En so is daar nog meer voorbeelde wat genoem kan word.

In sulke gevalle kan kerke nog die mond vol hê oor Christus, maar inderwaarheid begin hulle die juk van Christus af te gooi.

Luther het ‘n keer geskryf: As ‘n kerk op alle fronte standhou, behalwe op die front waar dit aangeval word, dan is sy besig om te deserteer, te dros.

Dan is sy besig om vals te word.

Om ons heen is daar kerkgenootskappe wat dit oorkom het.

Wat aanpassings aan die wêreld en die tydsgees geyk het in amptelike kerkraads- en sinodebesluite.

In ons eie midde voel ons ook die aantrekkingskrag van die wêreld en die tydsgees.

“Daarom, wie meen dat hy staan, moet oppas dat hy nie val nie.” – 1 Korinthiërs 10:12.

 

Ek wil hierdie preek op ‘n positiewe noot afsluit.

Paulus het meestal sy briewe aan die gemeentes positief begin en geëindig.

Nie net as ‘n skryftegniek om sy lesers simpatiek te stem nie.

Maar omdat daar ook in daardie gemeentes, alhoewel hy harde neute moes kraak, omdat daar tog soveel positiefs was.

Dink aan sy briewe aan Korinthe, ‘n gemeente waarin daar baie gebreke was, soos ons weet.

Tog skryf hy:

“Ek dank my God altyd oor julle vir die genade van God wat aan julle in Christus Jesus gegee is,

dat julle in alle opsigte in Hom ryk gemaak is, in elke woord en alle kennis ...

sodat julle in geen enkele genadegawe agterstaan nie” – 1 Korinthiërs 1:4-7.

En: “ons hoop vir julle is vas, omdat ons weet dat net soos julle deelgenote is aan die lyding, so ook aan die troos.” – 2 Korinthiërs 1:7.

 

So mag ons ook die Here Jesus Christus dank, elke keer as ons aan hierdie gemeente dink – aan Pretoria-Maranata.

Dit is ‘n gemeente wat in geen enkele genadegawe agterstaan nie.

Dit is ‘n gemeente met soveel gawes en talente.

‘n Gemeente met soveel ervaring.

Dink net aan die werk wat Christus al deur sy Woord en Gees in die lewens van soveel gemeentelede verrig het.

Dink aan die ampsdraers, die talente wat hulle ontvang het, waarmee hulle die gemeente mag lei.

Dink aan die vrugte van die Gees wat in hierdie gemeente blom: liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing, mededeelsaamheid, noem maar op.

Dink aan hoe die Evangelie vanuit hierdie gemeente versprei word op die sendingsveld.

Dink aan hoe gemeentelede evangeliseer, ‘n getuienis is vir die Evangelie in hulle daaglikse lewe.

Ons is nie ‘n supergemeente nie, verre van.

Maar feit is wel dat Christus baie geïnvesteer het in hierdie gemeente, en dat dit ook vrugte afwerp.

Aan Hom alleen die eer.

“Die wat roem, moet in die Here roem.” (1 Korinthiërs 1:31)

Laat ons vanuit hierdie bevoorregte posisie waarin Christus ons geplaas het, woeker met ons gawes.

Laat gaste in ons midde welkom voel.

Laat hulle wat gedesilluioneerd is in hulle dwalende gemeentes, in ons midde weer ‘n geestelike tuiste vind.

Laat ons, net soos die geïnspireerde apostel Paulus, altyd begin deur die positiewe in mekaar raak te sien.

Laat ons verwonderd bly oor Christus se kerkvergaderende werk in ons midde!

 

Amen.

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 105:2

Gebed

Skriflesing: 1 Korinthiërs 3:1-23 & 6:1-11

Ps 100:2

Skriflesing: Galasiërs 5:13-26

Ps 100:3,4

Teks: Nederlandse Geloofsbelydenis art. 28

Preek

Ps 22:9,11

Gebed

Geloofsbelydenis van Nicea

Sb 27:5

Kollekte

Ps 99:2,5

Seën