Daar is geen Bybelboek waarin die lewe in die verbond – ons jaartema – mooier na vore kom as in die Psalmboek nie.
Ook vandag kyk ons weer na ‘n juweel van ‘n psalm.
En soos dit eie is aan poësie, aan die digkuns, gebruik Dawid pragtige beelde in hierdie psalm.
Metafore wat ook vir ons hier in Suid-Afrika sal aanspreek.
Israel is ‘n land met ongerepte natuurskoon, veral in die onherbergsame bergagtige dele.
Dele wat Dawid goed geken het, dink aan hoe hy daar moes skuil toe koning Saul hom agtervolg het.
Op hoë gevaarlike berge het hy geklim.
Soms was die kranse vir hom te hoog, maar het hy tog verlang om tot bo te klim, omdat hy daar waar niemand kon kom, veilig sou wees vir sy agtervolgers.
Ons ken hier in Suid-Afrika ook onherbergsame gebiede, eindelose berge, hoë kranse waarvan mens wonder of daar al ooit ‘n mens bo-op was.
Daardie kranse, of dit nou die Drakensberge is, of in die Oos- of Weskaap, waar ook in die land, boesem ontsag in.
As ons aan hulle dink, kan ons dit goed verstaan as Dawid sing: “Op ‘n rots waar ‘t hoog en yl is, my te steil is ...”
Kom ons kyk vanoggend na hierdie psalm, ook met die vraag in ons agterkop wat ons in hierdie psalm kan leer oor die lewe in die verbond.
Tema: Hoog op die vaste rots van ons behoud
In teenstelling tot sommige ander psalms van Dawid, word bo-aan hierdie psalm nie vermeld wanneer hy dit geskryf het nie.
Daar is egter verskillende episodes in sy lewe waarop dit direk van toepassing kan wees.
Dink aan sy jongdae, toe hy nog ‘n herder was.
Hoe hy soms sy skape diep in die bergwoestyn ingelei het, op soek na iets om te eet in droë rivierlope.
Dink aan hoe hy daar moes gesit het, vir sy gevoel aan die einde van die aarde, stoksiel alleen, en al tydverdryf wat hy gehad het was om met sy siter musiek te maak en te sing.
Dink aan die dae toe hy deur die berge geswerf het, toe hy moes vlug vir koning Saul.
Daar is voorbeelde in die Bybel wat beskryf hoe hy teen berge uitgeklouter het.
En hoe hy grotte teen die kranse opgesoek het.
Dink verder aan die tyd, toe hy al koning was, maar vir sy seun Absalom op die vlug was.
As dit so is dat Dawid in vers 7 na homself verwys, as hy die HERE vra om die koning se lewe te verleng, dan is daar ‘n goeie kans dat hy die psalm gedig het toe hy vir Absalom op die vlug was.
Ons lees in 2 Samuël hoe hy na die woestyngebied by Mahanaïm gevlug het (2 Sam 17:24, 19:32).
Teen hierdie agtergrond verstaan mens as hy sing:
Lei my op ‘n rots wat vir my te hoog is.
Normaalweg sal ‘n gewone mens dit nie doen, teen lewensgevaarlike rotse uitklouter nie.
Maar gesien sy omstandighede, kan mens sy wens verstaan.
Want daarbo sal dit vir hom veilig wees.
Maar, soos ek genoem het, Dawid gebruik metafore in hierdie psalm.
Hy vergelyk hierdie magtige kranse met die HERE.
Die HERE is vir hom so ‘n berg, waar bo-op hy veilig kan wees.
Die HERE is, skryf hy verder, vir hom ‘n sterke toring.
Vroeër het stede in die middel ‘n toring gehad, ‘n soort fort.
As die vyand dit reggekry het om oor die mure die stad binne te dring, kon die inwoners nog as laaste skuilplek in die versterkte toring vlug.
So is die HERE vir Dawid die laaste toevlug in sy lewe om by te skuil.
Nog ‘n beeld wat Dawid gebruik, is die HERE se tent.
Die woord tent het deur die Ou Testament die naam gebly van die plek waar die HERE onder sy volk woon.
Dit is afkomstig van die tabernakel, wat in die woestyn gebou is, wat in feite ‘n tent was.
Die woord tent is daarom ‘n metafoor vir God se aanwesigheid.
God se aanwesigheid waarborg vir Dawid veiligheid.
En dan is daar nog ‘n laaste metafoor wat Dawid gebruik, vers 5:
“in die skuilplek van u vleuels my verberg.”
Dawid dink aan die gewoonte dat voëls, dink aan ‘n arend, of dink aan ‘n hen, hulle kleintjies onder hulle vlerke wegsteek.
Dawid wil soos ‘n klein voëltjie by die HERE wees.
Hy voel soos ‘n klein kuikentjie, weerloos, maar veilig onder God se vlerke.
Pragtige metafore.
Metafore sê net soveel meer as droë akademiese taal.
Hulle maak dit moontlik dat ons in Dawid se siel kan kyk.
Hoe hy homself voel as ‘n klein kwesbare mens.
Broer, suster, voel jy nie soms ook so nie?
En dan bedoel ek nie net as jy met vakansie in die Drakensberge of waar ook al is, en die kranse voor jou oë oprys nie.
Ek bedoel ook as jy met ‘n vyand te make het.
Verskillende mense of omstandighede kan ons as vyande beleef.
As dit soos ‘n swaard bo jou kop hang dat jy dalk by die werk afgedank gaan word.
As jy by die hospitaal sit en wag vir ‘n scan, omdat jou huisdokter vermoed daar is ‘n gewas in jou liggaam.
As daar iemand is, by die skool, of dalk in jou familie, of dalk in die kerk of by die werk, wat jou heeltyd verkleineer.
As daar mense is wat net altyd kritiek op jou werk het, en nooit die goeie wil raaksien nie.
En dan nog dieper.
As daar mense in jou lewe is wat God nie dien nie, wat byvoorbeeld heeltyd vloek, wat met die kerk spot, wat die bestaansreg van die kerk openlik betwyfel.
Dink ook aan die sekulêre media, wat heeltyd die gebooie van die HERE ondergrawe.
Wat ‘n lewe sonder die gebooie as normaal probeer voorstel.
En so kan ons aangaan.
Veral vir ‘n gelowige geld, soos Paulus aan Timotheüs skryf: “En almal wat ook godvrugtig wil lewe in Christus Jesus, sal vervolg word.” (1 Tim 3:12)
Dit was ook vir Dawid wat die ergste was.
Dat sy seuns Adonia en Absalom die koningskap by hom wou afvat, dit was nie die ergste nie.
Maar dat sy kinders nie in die paaie van die HERE gewandel het nie.
Dat hulle nie wou koning word om as gesalfde van die HERE die volk te lei in ‘n lewe in diens van die HERE nie, maar omdat hulle magsbehep was.
Daarom, as hy in hierdie psalm die HERE bid om dae by die koning se dae by te voeg; en dat sy bewind mag wees soos van geslag tot geslag, is dit nie omdat hy self magsbehep is nie, maar sodat die HERE se regering oor die volk mag voortgaan.
“Beskik goedertierenheid en trou”, vra hy in vers 8, dat dié hom bewaar.
Mens kan ook vertaal toewyding en waarheid.
Dawid vra dat dit die koning se heerskappy sal kenmerk.
Toewyding aan sy taak.
Liefde vir die waarheid.
Hy wil nie aan die volk ‘n voorbeeld stel van selfverheerliking nie, dat die volk na hom sal opkyk as ‘n god nie – iets wat tipies was vir die heidense konings rondom Israel ...
Inteendeel, hy wil die volk voorgaan in psalmsing tot eer van die HERE se Naam.
So sluit hy sy psalm af in vers 9.
Hy wil die volk lei in die betaal van sy geloftes, op daaglikse basis.
Gemeente, is dit nie ‘n pragtige voorneme van Dawid nie?
Mens sou kon sê, dit is die bloudruk van die volmaakte koning!
Nou is dit nie so dat Dawid homself op die skouer klop in hierdie psalm nie.
Dat hy die HERE probeer beïndruk hoe goed hy is nie.
Ons weet uit sy lewensgeskiedenis dat dit beslis nie so was nie.
Dawid was verre van volmaak.
Meer as een keer het hy sy familie in die steek gelaat.
Ook het hy sy volk in die steek gelaat, deur sy sondige optrede.
Die volk het nie net gebaat by sy heerskappy nie, maar daar was ook tye wat hulle daaronder gely het.
En gemeente, is dit nie vandag nog steeds so nie?
Dat onderdane ly onder die optrede van die gesagsdraers wat oor hulle gestel is?
Dink aan regerings, dink aan al die magsmisbruik en korrupsie wat daar plaasvind – in ons land en reg oor die wêreld.
Dink aan kerklike leiers, hoe mense onder hulle kan ly as hulle in ontug lewe.
Dink aan ouers, wat hulle kinders misbruik of verwaarloos.
Dink aan onderwysers, wat nie die kinders se karakters vorm nie, maar afbreek.
Aardse leiers is en bly verre van volmaak.
Dawid steek nie sy bors uit nie.
Maar hy vra dat dit tot so mag wees.
Mag goedertierenheid en trou sy heerskappy bewaar teen sonde.
Koning Dawid is hier ‘n voorafskaduwing van die ware Messias.
In Dawid se heerskappy, al was dit met ‘n krom stok, kon die volk iets proe van die volmaakte heerskappy van die Messias wat op koms was.
En ons mag vandag bely dat hierdie Psalm in Jesus Christus vervul is.
Christus, dit beteken Messias.
Op aarde het Hy nog nie geregeer nie.
Maar inmiddels sit Hy op die hemelse troon, en ons as sy kerk lewe reeds onder sy volmaakte heerskappy.
Vers 7 is in Hom vervul, want Hy is ‘n ewige koning, wat regeer van geslag tot geslag.
En ons sien uit na die dag waarop die hele aarde onder sy volmaakte heerskappy gestel sal word.
Dit sal genesend wees vir hierdie aarde deur sonde en misbruik toegetakel, dit sal herskeppend wees.
Sien jy uit na die dag waarop Christus se volmaakte heerskappy oor die hele aarde werklikheid gaan word?
Ja, ons verlang daarna, as ons op televisie sien, as ons by ons kollegas agterkom, hoe die mensheid sonder God of gebod leef, en slegs vir hulle eie plesier lewe.
Ons verlang daarna, as ons hoor dat weer iemand vermoor is.
Ons verlang daarna, as ons hoor dat nog ‘n geestelike leier in ontug geleef het.
Ons verlang daarna, as ons verneem dat daar by iemand kanker gekonstateer is.
Ons verlang daarna, as ‘n pandemie soos ‘n veldbrand oor die aarde versprei.
Ons verlang daarna, as ons op ‘n wintersoggend die besoedeling oor ons stad sien hang.
Ons verlang daarna, as ons hoor hoe die tropiese reënwoude gestroop word.
Ons verlang daarna, as ons sien die kloof tussen arm en ryk word al hoe groter op aarde.
Ons verlang daarna, as ons hoor hoe die oseane vol plastiek is, dat seediere vrek as gevolg van die mens se afval.
Kom Here Jesus, Maranata, kom herskep hierdie aarde!
Kom plaas die lengte en breedte van hierdie planeet onder u volmaakte heerskappy!
En hou ons in die tussentyd vas.
Leer ons elke Sondag weer om na U op te kyk, en voor u heerskappy te buig.
Voorkom dat ons as u gemeente ophou psalms sing, ophou om U te prys.
Lê Dawid se wens ook in ons harte, vers 9:
“So wil ek psalmsing tot eer van u Naam tot in ewigheid”.
Want juis Christus se kerk het hoop vir hierdie aarde.
En dit moet ons kommunikeer, uitstraal, juis as die wêreld om ons heen al hoe meer in wanhoop lewe, al hoe meer met die houding asof dinge in die toekoms net slegter kan gaan.
En voor- en teëspoed bly ons psalmsing, want ons lewe met hoop!
Ons glo in die toekoms.
“Die geloof dan is 'n vaste vertroue op die dinge wat ons hoop, 'n bewys van die dinge wat ons nie sien nie.” (Hebr 11:1)
Daar is nog een vraag waaraan ek wil aandag skenk, en dit is:
Wat leer hierdie psalm ons oor die lewe in die verbond – ons jaartema.
Die woord verbond kom nie in hierdie psalm voor nie, tog is dit ’n verbondsmatige psalm.
Soos ons ’n paar weke terug in Psalm 25 gesien het, is die verbond so heg dat God Dawid selfs sy vriend noem.
Dit proe ons ook in Psalm 61.
Dawid praat vertroulik met die HERE.
Hy kan selfs by die HERE kla (vers 2).
Hy kan by Hom uithuil.
Daar is ’n innige band tussen hom en God.
Dit is die eerste wat ons kan leer.
Lewe in die verbond beteken nie dat jy opgaan in die massa nie.
Lewe in die verbond skakel nie die persoonlike band tussen jou en God uit nie.
Dit is waar lewe in die verbond begin.
Dat daar ‘n hegte band is tussen jou en jou Verbondsgod.
Broer, suster, is dit by u, by jou ook die geval?
Deel jy in jou gebedslewe al jou geheime met God?
Al jou sorge, al jou verlangens, al jou vreugdes?
Dit is die taak van Jako en Eugenie om hulle dogtertjie Isabella by hierdie God te bring, wat haar ook sy vriend noem in die verbond.
Dat sy ook ‘n hegte band met hom kry.
Dat sy ook by hom kan uithuil.
Wat ‘n voorreg as ‘n mens, veral as die lewe moeilik is, by so ‘n God troos kan vind!
Maar tweedens, die verbondslewe is nie individualisties nie.
Dawid staan nie net alleen op die vaste rots van sy behoud nie.
Dawid se persoonlike lewe is vervleg met sy taak as koning oor God se volk.
Sy lofprysing tot God is nie net ‘n solostem nie, maar saam met al God se kinders in ‘n koor.
As hy in God se tent wil vertoef, is dit saam met die ander gelowiges.
As hy onder God se vleuels wil wegkruip, is dit saam met al die ander kuikentjies.
En so is jou lewe as gelowige vandag vervleg met die gemeentelike lewe, met al die ander wat aan Christus behoort.
As kerkgemeenskap bou ons almal saam op die vaste rots van ons behoud.
As dit nie so is nie, is dit nie ‘n goeie teken nie.
As jy jou medegelowiges net op Sondag ontmoet, net op Sondag met hulle kontak het, is dit nie ‘n goeie teken nie.
As ampsdraer gaan jou daaglikse gebede nie net oor jou eie lewe nie, maar dra jy ook diegene onder jou hoede aan die HERE op.
As bejaardes in die gemeente bid jy nie net vir jou eie kinders en kleinkinders nie, maar vir heel die gemeente.
En as gemeente bid ons nie net vir onsself nie, maar vir heel Christus se kerk op aarde, veral vir die gelowiges wat vervolg word.
Dit is lewe in die verbond, persoonlik en gesamentlik.
En dit is ook Jako en Eugenie se taak, om Isabella nie net by God te bring nie, maar ook by sy kerk hier op aarde.
Gemeente, broers, susters, is ons ‘n verbondsgemeente?
Ja, ons is!
Uit vrye welbehae het God met ons sy verbond gesluit.
En Hy het ons reeds oorlaai met sy seën, met sy beloftes.
Maar maak ons nou ook gebruik van sy beloftes?
Leef ons ook waardig ons posisie as verbondsgemeente?
Laat ons eerlik erken, net soos Dawid oor sy eie koningskap moes erken, dit is verre van volmaak.
Al is daar baie omsien na mekaar, is gebrek aan onderlinge meelewe ook nog ‘n realiteit.
Is daar gemeentelede van Maranata wat jy nog nie ken nie?
Waarmee jy nog nooit gepraat het nie?
U begryp wel, geliefdes, daar is baie ruimte om te groei, om meer en meer te lewe waardig die verbond waarin ons opgeneem is.
Mag die tema van vanjaar ons oë steeds meer hiervoor oopmaak.
Dankbaar vir dit wat ons ontvang het in die verbond, span ons onsself in om dinge te verbeter.
Dit begin uiteraard by jouself, by jou verbondsband met God.
En van daaruit vloei dan ook die liefde en omgee vir mekaar.
Die navolg van ons Verbondshoof, Jesus Christus, wat nie sy eie belange eerste gesoek het nie, maar gelewe het om te dien.
Saam bou ons op Hom, ons sterke toring, die vaste rots van ons behoud.
Amen.
Votum
Seën
Ps 62:1,4
Wet
Ps 119:47,48
Gebed
Doopsbediening: Isabella Smit
Ps 128:2,3
Gebed
Skriflesing: Psalm 61
Ps 31:2,3
Teks: Psalm 61
Preek
ps 61:1-4
Gebed
Kollekte
Ps 61:5,6
Seën