Maak gereed vir die koms van die Erekoning

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Maranata
Date: 
2021-02-14
Text: 
Psalm 24
Preek Inhoud: 

Psalm 24 is ‘n baie ou lied wat soos ‘n kosbare juweel is.

‘n Juweel uit die verre verlede.

As jy vinnig daarna kyk, sê dit nie veel vir ‘n mens van vandag nie.

Maar neem jy die tyd om dit af te stof, te politoer, begin dit te skitter en kan jy oë nie meer daarvan afhou nie.

So is Psalm 24 in die Bybel vir baie ‘n onverstaanbare psalm, wat maar min gebruik word.

Maar sodra jy verstaan wat dit wil sê, juis ook in die konteks van die res van die Bybel, juis ook in sy vervulling in Christus, dan begin dit soos ‘n juweel te skitter.

Kom ons kyk vandag na hierdie juweel van ‘n psalm.

Ons doen dit in die kader van die jaartema vir ons as gemeente:

Lewe in die verbond.

Daar is geen Bybelboek wat die lewe in die verbond mooier beskryf as die Psalmboek nie.

 

Tema: Maak gereed vir die koms van die Erekoning

  • Hy is die Skepper
  • Hy is die Oorwinnaar
  • Hy is ons Verlosser

 

  • Hy is die Skepper

Psalm 24 is ‘n psalm van Dawid.

Dit begin met die belydenis dat die aarde en al sy volheid aan die HERE behoort.

Dit is werklik ‘n geloofsbelydenis.

Kyk in vers 1 hoe die HERE se Naam gespel is: met vier hoofletters.

Dit verwys na sy verbondsnaam: Jahweh.

In hierdie psalm ontmoet ons die Verbondsgod.

Dawid bely nie net in die algemeen dat daar ‘n God is aan wie die wêreld behoort nie.

Hy begin sy psalm nie met ‘n filosofiese opmerking dat daar êrens ‘n Hoër Wese is wat alles geskape het nie.

Inteendeel, te midde van die afgode van daardie tyd, Baäl, Astarte, Dagon en noem maar op, hoor ons Dawid se gewaagde belydenis:

Dis Jahweh, dis ons Verbondsgod, wat alles geskape het!

Hy het alles stewig gegrond!

Dis ‘n lied waarmee Dawid Israel oproep, almal wat dit sing, om dieselfde te bely!

 

Tot op vandag is dit nog ‘n omstrede belydenis.

Die gode Baäl, Astarte, Dagon het uitgesterf.

Vandag is daar nuwe gode aan wie die mensheid die skepping toeskryf.

Die geloof in die Big Bang – let wel dit word dikwels met hoofletters geskryf – die krampagtige vashou aan die ewolusieteorie – ewolusionisme – dit is ook die verering van ‘n afgod.

En hoor my, dis ook ‘n afgod wat in die toekoms gaan uitsterf, vroeër of later.

En soos destyds, toe Israel die diens aan die HERE die Verbondsgod dikwels gekombineer het met die buig voor die afgode, so gebeur dit vandag nog net so.

Selfs van ons broers en susters dwaal af as hulle poog om ewolusionisme met die Bybel te kombineer.

Sien u hoe aktueel die begin van hierdie psalm nog is!

Verwonder jy jou nog, is jy nog elke dag diep onder die indruk van die wonder van die skepping?

Van hoe solied die aarde is?

Vas gegrond – die ideale plek vir mense om te woon ...?

 

(Tema: Maak gereed vir die koms van die Erekoning

  • Hy is die Skepper)

 

  • Hy is die Oorwinnaar

Vervolgens lê Dawid se psalm die verbinding tussen hierdie Skeppergod, wat hulle Verbondsgod is –en die berg van die HERE, vers 3.

Nou watse berg bedoel hy?

Daaroor kry ons duidelikheid as ons vra na die oorsprong van hierdie psalm.

By watter geleentheid het Dawid hierdie psalm gedig?

Die laaste deel van die psalm gee meer duidelikheid daaroor:

Dit gaan oor ‘n koning, wat die oorwinning behaal het, en wat nou in triomftog optrek na ‘n stad, waar hy deur die poorte sal ingaan.

Hierdie koning is nie sommer net ‘n koning nie, maar die Erekoning.

Soos die laaste deel, die hoogtepunt van die psalm jubel: Wie is dan tog die Erekoning? Dit is die HERE van die leërskare – Hy is die Erekoning!

 

As dit die HERE – Jahweh – is wat die Erekoning is, dan maak dit sin dat die berg van die HERE die berg Sion is.

En dan vra mens jouself vervolgens af:

Na welke oorwinning wat die HERE behaal het, verwys Dawid dan?

Wel, gemeente, die meeste eksegete is dit daaroor eens dat Dawid hierdie psalm gedig het by die feestelike intog van die ark in Jerusalem.

Ons het daardie geskiedenis gelees.

Ons het ook gelees oor die groot oorwinning wat die HERE op die afgode behaal het.

Dagon het in sy tempel op sy neus geval!

Hulle het hom toe weer regop gesit.

Maar die volgende dag het hy weer op die grond gelê, voor die ark, terwyl sy kop en hande met die val afgebreek het.

Hulle het toe maar die ark weggevat uit Dagon se tempel.

Daarna het geblyk dat Dagon sy aanbidders, die Filistyne, nie kon beskerm teen die peste en plae wat uitgebreek het oral waar hulle die ark van die verbond heengevat het nie.

 

Wat die HERE aan die Filistyne en aan Dagon gedoen het, was nie nuut nie.

Israel het deur die eeue al geleer dat God oor die afgode triomfeer.

Hy het die afgode in Egipte laat les opsê tydens die tien plae.

Hy het die afgode van die Kanaäniete beskaamd laat staan.

Dink aan die haelbuie in die Rigtertyd waardeur Hy sy volk van die vyand bevry het.

Dit terwyl die Kanaäniete gemeen het dat Baäl in beheer was oor wolke, wind en weer.

Ja Hy is die HERE van die leërskare.

Sy leër bestaan nie net uit Israeliete nie, maar daar is ontelbare engele, sterre, wolke, wind, reën en hael, riviere, oseane en berge, noem maar op, wat vir Hom kan stry.

 

Dit is dus duidelik: Die HERE is geweldig in die stryd!

En juis Hy is nou in triomftog op pad na sy heilige berg.

Tot twee maal toe roep Dawid:

Hef op julle hoofde, o poorte!

Dawid vergelyk die koms van die ark met ‘n koning wat oorwinnend terugkeer.

‘n Koning wat op ‘n groot en hoë perd sit.

‘n Triomfantelike optog met baniere wat hoog in die lug wapper.

Vir so ‘n optog om deur die stadspoort te beweeg, moes die poort wel hoog genoeg wees.

Soms moes die poort selfs verhoog word, om voor te berei op die aankoms van so ‘n triomfantelike optog.

Soms moes hulle die pad uitgegrawe wat onder die poort deurloop, om sodoende die poort ook hoër te maak.

Met verloop van jare het daar dikwels grond en vuiligheid opgehoop, wat die poort se ingang laer gemaak het.

In elk geval, Dawid roep Jerusalem op, die stad op die berg Sion, om gereed te maak vir hierdie Erekoning se aankoms!

Dit is ‘n groot feestelike geleentheid!

Daarby hoort musiek, psalmgesang, koordanse, gejuig en basuingeklank, noem maar op!

 

Ons het gelees hoe Dawid gedans het by die intog van die ark in Jerusalem.

As ons die woord dans hoor, dan maak ons dikwels ‘n verkeerde assosiasie.

Ons dink dan aan dans soos dit gebruiklik is in ons Afrikanerkultuur.

As daar in ons kultuur gedans word, is dit meestal op partytjies of op troues.

Dit is ‘n soort dans wat eintlik altyd ‘n erotiese dimensie het.

Daar word gedans op veral liefdesliedjies.

Liedjies soos: “Kaptein, span die seile, kaptein, jy is myne ...”

Of:

“Wys my jou naweeklyfie, ek hou van ‘n groot partytjie ...”

 

Die manier waarop Dawid gedans het, het egter nie hierdie erotiese assosiasie gehad nie.

Dawid het nie gedans by die musiek van ‘n liefdesliedjie nie.

Ons kan aanneem dat hy op hierdie psalm gedans het, hierdie psalm wat hy juis vir die intog van die ark gedig het.

‘n Psalm vol krag, vol oorwinning, vol vreugde.

Mens kan Dawid se dans eerder vergelyk met die soort dans wat bedelaars deesdae by stopligte uitvoer, met sulke plastiek koeldrankkratte.

Ek sê nie dis goed dat hulle daar dans nie, ek dink dit is ‘n gevaar vir die verkeersveiligheid.

Maar in elk geval, dis ‘n soort dans sonder enige erotiese assosiase.

Dit bevat eerder ‘n strydlustige assosiasie.

Vir die van julle wat al die ou film Fiddler on the Roof gekyk het – daarin vind mens ook danssoorte sonder erotiese konnotasies.

Dawid se dans was ‘n uiting van blydskap, met sy dans het hy gedeel in die oorwinning wat die Erekoning behaal het.

 

Nou het ons die middelste gedeelte van die psalm nog nie behandel nie.

En dit bring ons by die derde punt van die preek.

 

(Tema: Maak gereed vir die koms van die Erekoning

  • Hy is die Skepper
  • Hy is die Oorwinnaar)

 

  • Hy is ons Verlosser

In vers 3 vra Dawid die vraag: Wie mag klim op die berg van die HERE?

Wie mag staan in sy heilige plek?

Hierdie twee vrae vorm ‘n parallelisme, dit vra basies dieselfde vraag.

Die eerste vraag wys meer in die rigting van: Wie mag in die stad Jerusalem woon, daar waar die Erekoning ook gekies het om te woon?

Wie mag klim op die berg waarop hierdie stad gebou is?

En die tweede vraag fokus meer op die heiligdom: wie mag staan – ‘n uitdrukking vir diens doen – in sy heilige plek?

Dit is daar waarheen die ark gebring gaan word – die heiligdom.

Daar waar die tempel later gebou sou word.

Mens hoor tussen die lyne die echo van wat daar gebeur het toe Ussa die ark geraak het, toe hy wou keer dat dit van die wa afval.

Dalk goed bedoel, maar dit het hom sy dood gekos.

Dawid is nou goed bewus van die feit dat die Erekoning ook ‘n erebehandeling vereis.

En daardie erebehandeling is die behandeling wat Hyself voorgeskryf het.

Daarom dat Dawid op hierdie dag die ark laat dra deur hulle wat deur die HERE daarvoor aangewys is, en op die manier soos deur Hom bepaal.

 

Met die vrae in vers 3 roep Dawid Jerusalem dus op om reg te maak vir die intog van die Erekoning.

En wat dan opval is dat die regmaak nie is om feesklere aan te trek of soiets nie.

Dit het nie net ‘n uiterlike karakter nie.

Die voorbereiding het ‘n innerlike, ‘n etiese karakter.

Wie mag klim op die berg van die HERE?

Vers 4: Hy wat rein van hande en suiwer van hart is.

Hy wat nie vals sweer nie.

Hy wat nie na nietigheid hunker nie.

Die Hebreeuse woord wat hier vir nietigheid gebruik word, is dieselfde as wat in die 3e gebod gebruik word: Jy mag die Naam van die HERE nie ydellik gebruik nie.

Hierdie dui dus op ‘n houding van respek teenoor die Erekoning wat op koms is.

Die besef dat sy Naam gewigtig is, dat daar nie spottend oor Hom gepraat mag word nie.

 

Nou moet ons nie Dawid verkeerd verstaan nie.

Hy sê nie:

Inwoners van Jerusalem, julle moet julle lewe op orde kry, julle lewe moet aan die eise van die verbondswet voldoen, anders gaan die Erekoning nie deur julle poort inkom en by julle kom woon nie.

Nee, dis andersom.

Dawid waarsku Jerusalem: Die Erekoning kom, Hy is onstuitbaar op koms!

En daarom, kry julle lewe in orde!

Net soos in ander psalms sien ons hier die regte volgorde in die verbond.

Dis is eers belofte, dan eis.

Die HERE het sy volk die oorwinning geskenk.

Hy het sy volk bevry.

Hy het sy volk ‘n veilige vestingstad gegee om in te woon.

En noudat Hy by hulle sy woning gevestig het, nou eis Hy ook trou aan Hom.

Nie net uiterlik nie, maar vanuit die hart.

Dat hulle opreg sy aangesig sal soek.

 

Dit is wat ons uit hierdie Psalm kan leer.

Dit het die Erekoning behaag om onder ons te woon.

Ons kan dink hoe hierdie Psalm vervul is Christus, ons Erekoning.

Dink aan Jesus se triomfantelike intog in Jerusalem.

Johannes die Doper het Jerusalem, het God se volk al opgeroep om reg te maak vir sy koms.

Nie net uiterlik nie, maar vanuit die hart.

Bekeer julle, want die koninkryk van die hemel het naby gekom (Matt 3:2).

Die skare het hulle mantels en palmtakke voor Hom in die pad gegooi.

Maar heel Jerusalem was nog nie gereed nie.

Tog het Hy binnegetrek.

Hy het toe nog nie op die troon gaan sit nie.

Psalm 24 is eers werklik vervul met sy hemelvaart!

Toe die hemelse poorte vir Hom opgegaan het, en Hy triomfantelik op die hemelse troon gaan sit het.

En Psalm 24 gaan weer vervul word, in nog groter heerlikheid, as Christus terugkom met sy wederkoms!

Ook daardie triomfantelike aankoms kom al hoe nader.

En Psalm 24 roep ons op om gereed daarvoor te wees.

Feesklere aan te trek, nie net uiterlik nie, maar ook innerlik.

Hierdie feesklere is nie ons goeie werke, ons prestasies nie, maar soos daar in vers 5 staan:

Dit is die geregtigheid wat ons van die God van ons heil ontvang!

Christus het dit ons geskenk, en ons word opgeroep om daaruit te lewe!

Dit is die eis van die verbond.

Om ‘n lewe te lei waardig aan die verbond!

 

Jerusalem mog leef met die heerlike vooruitsig dat die Erekoning in hulle midde gaan woon.

Hy wat oorwinnend in aantog is.

Met Hom in hulle midde hoef hulle geen vyand meer te vrees nie, solank hulle sou bly in die stad wat Hy uitgekies het.

Net so leef ons vandag vanuit die oorwinning wat Christus reeds behaal het.

Die bedreiging van die Satan, die werklikheid van die hel, die angs vir die dood, dit verlam ons nie meer nie.

Ons skuil by Hom wat sterker is, wat ons vyande oorwin het.

Wat ons die voorreg gegee het, uit onverdiende genade, om in sy stad te woon, in sy verbond te leef.

Laat ons steeds naby Hom, ons Verlosser, bly, noudat daar nog vyande daarbuite is.

Noudat die vyand nog naarstig probeer om in die kerkstad in te dring, en dit soms ook regkry.

Om in ons duur gekoopte lewens in te dring, en dit soms ook regkry.

Laat ons eksklusief bly by die verbond wat Christus met ons gesluit het, en geen ander bondgenootskappe aangaan nie.

En laat ons as stad van God, as kerkstad, ‘n lig op ‘n berg wees.

Sodat almal wat wil kom skuil by die Erekoning, die stad kan raaksien.

Almal wat ontnugter is in hulle vertroue op die afgode.

Ook die moderne afgode, waarop mense in hulle blindheid en beterweterigheid vertrou.

Soms wen die afgode ‘n veldslag, soos die Filistyne destyds gemeen het hulle kon die ark roof danksy hulle god Dagon.

Maar die oorlog het hulle nie gewen nie.

Vroeër of later sal alle afgode op hulle gesig val, net soos Dagon destyds.

Dit geld ook vir die ewolusionisme, en die vertroue op die tegniek, en die vertroue op medisyne en mediese ontdekkings, en die vertroue op geld, die vertroue op eiendom, op beleggings, die vertroue op politieke figure, die vertroue op regerings, op lande of grootmoëndhede, die vertroue op beskawings, noem maar op.

In die kerkstad vertrou ons en kyk ons op na Een alleen, dit is Jesus Christus, ons Erekoning!

Ons sien uit na sy triomfantelike wederkoms.

Ons reinig ons harte deur die geregtigheid wat Hy beskikbaar stel.

Ons jaag in hierdie lewe nie agter nietighede aan nie.

Ons hoogste geluk vind ons nie in dinge wat ons nie saam met ons die graf kan inneem nie.

Ons lewe staan in diens van sy koninkryk.

In sy kerkstad kry sy koninkryk al voet aan die grond.

En met sy wederkoms sal sy koninkryk in volle glorie deurbreek.

Geliefde gemeente, maak gereed vir die koms, die wederkoms, van die Erekoning!

Hy is jou Skepper. Hy is jou Oorwinnaar. Hy is jou Verlosser!

Is jy reg vir die aankoms van die Erekoning?

As hy môre verskyn, hoe sal Hy jou aantref?

Sal Hy behae vind in hoe jou lewenshuis lyk?

 

In die Koraalboek is daar ‘n baie ou gesang wat op ‘n mooi manier Psalm 24, asook Christus se intog in Jerusalem, asook sy wederkoms aan mekaar verbind.

Dit lui, in Afrikaans vertaal, soos volg:

 

Maak oop die poorte, deure, wyd!

Die Koning kom in heerlikheid!

Oorwinnened kom Hy aangery

met klere voor Hom uitgesprei.

Die Heerser van die hemelryk

is ook ons Heiland tegelyk.

Ons gee die Koning eer!

Ons prys u Naam, o Heer!

 

Sy wese is geregtigheid;

sy sieraad is sagmoedigheid;

sy koningskroon is heiligheid;

sy septer is barmhartigheid.

Ons maak aan Hom ons skuld bekend.

Aan al ons nood maak Hy ‘n end.

Hy kom, die Heer so groot!

Maak oop, maak oop die poort!

 

Geseën is die een wat Hom

as Koning groet wanneer Hy kom;

gelukkig hy wat Hom verwag,

wanneer Hy weer kom vol van krag.

Hy is die son van ware vreug

en y verlig ons. Sing verheug:

Ons gee die Koning eer!

Ons prys u Naam, o Heer!

 

Maar oop die poorte; wees gereed –

Hy kom wat Jesus Christus heet –

met liefde en geloof versier,

sal ons vol vreug sy aankoms vier;

Hy kom, beklee met glans en prag,

na elkeen wat sy koms verwag.

Hy kom, die Heer so groot!

Maak oop, maak oop die poort!

 

Amen.

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 24:1

Wet

Ps 84:3,4

Gebed

Skriflesing: 1 Samuël 5

Ps 48:1

Skriflesing: 2 Samuël 6:1-15

Ps 48:2

Teks: Psalm 24

Preek

Ps 24:2,3

Gebed

Kollekte

Ps 24:4,5

Seën