In sy genadeverbond gee God aan sy kinders wette tot hulle beswil

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Maranata
Date: 
2021-01-24
Text: 
Levitikus 26:45-46
Preek Inhoud: 

Die Here God het in sy genade die volk Israel uitgekies.

Hy het hulle deur magtige wonderdade uit Egipte uitgelei, waar hulle slawe was.

En nou, in die boek Levitikus met al sy baie wette, dink Hy aan hulle beswil, soos daar in hoofstuk 26:45 staan.

Van sy kant kom God die verbond wat Hy met hulle gesluit het, nougeset na.

Dit bring Hom daartoe om al hierdie wette aan hulle te gee, ook die wette oor melaatsheid.

Dit is sy liefde en lojaliteit aan hulle, wat Hom sover gebring het, om dit te doen.

 

Tema: In sy genadeverbond gee God aan sy kinders wette tot hulle beswil

 

Ons het ‘n paar gedeeltes uit Levitikus 13 en 14 gelees.

Die Hebreeuse woord het waarskynlik ‘n wyer betekenis gehad, nie net melaatsheid of lepra nie, maar verskillende hoogs aansteeklike velsiektes.

Ons het gelees hoe die priesters die taak van God gekry het om inspeksies uit te voer.

Die priesters het in Israel tot ‘n mate die rol van mediese dokters vervul.

Soos ons gelees het, die priester moes ‘n diagnose vasstel.

As mens hierdie so lees, dan klink Levitikus 13 amper soos ‘n hoofstuk uit ‘n mediese handboek.

En dit is nie ‘n vergesogte gedagte nie, dit is eintlik baie waar.

 

Nou ons vind in hierdie hoofstuk verskillende maatreëls.

Byvoorbeeld dat iemand sewe dae opgesluit moes word. ‘n Tyd van isolasie.

Na sewe dae was daar weer inspeksie deur die priester.

Dan kon die priester die persoon onrein verklaar.

Maar die persoon kon ook rein verklaar word.

Daarna moes hy eers sy klere was, voordat die isolasie verby was.

Klere was, dit was ‘n belangrike maatreël wat by herhaling in hierdie hoofstuk voorkom.

Al hierdie diagnoses in die hoofstuk was met die doel om te onderskei of iemand ‘n aansteeklike velsiekte onder lede het, of dat die persoon dit dalk gehad het, maar weer daarvan herstel het.

Die priester moes daardie beslissing neem.

Die maatreël van isolasie was ‘n belangrike maatreël, sewe dae in kwarantyn.

Daarna kon dit nog sewe dae herhaal word.

Aan die ander kant is die kwarantyn nie onnodig uitgerek nie.

As iemand duidelike tekens van herstel getoon het, kon die termyn van isolasie weer beëindig word.

 

Dan was daar ook nog verdere maatreëls.

Daar moes in die klere van ‘n melaatse skeure wees en sy hare moes los hang.

Dit was bedoel as uitkenning, dat ander betyds kon raaksien dat dit ‘n melaatse was.

Dit laat ons dink aan wat ons deesdae noem ‘social distancing’.

Ook moes hy sy baard bedek.

As iemand sy hele baard bedek met ‘n doek of so – dan is dit in feite dieselfde as wat ons deesdae doen as ons ‘n gesigsmasker dra.

Mens kan vers 45 – die baard bedek – ook vertaal met: die onderste deel van sy gesig bedek.

Die bakterie kon ook versprei deur die lugweë, as mense byvoorbeeld hoes.

God het hierdie effektiewe maatreël voorgeskryf – naamlik deur die lugweë te bedek, en daardeur is verspreiding drasties beperk.

Ook moes die melaatse roep, sodra hy of sy in die omgewing van ander mense kom: onrein, onrein!

 

En dan was daar die maatreël, vers 46, dat ‘n melaatse alleen moes woon, buitekant die laer moes sy woning wees.

Vanaf vers 47 vind ons ook nog spesiale voorskrifte met betrekking tot kleding.

As ‘n kledingstuk ‘n vlek of merk toon wat dalk kan dui op besmetting, moes dit ook aan die priester gewys word.

Die priester moes die aangestaste kledingstuk dan sewe dae lank opsluit.

Daarna moes hy dit weer bekyk, of die vlek verder versprei het, en indien wel, moes dit verbrand word.

Maar indien nie, moes die priester dit nog sewe dae opsluit.

As die vlek dan nog steeds daar was, selfs al het dit nie verder versprei nie, moes die kledingstuk nog steeds verbrand word.

As hy dit egter gewas het, en die vlek lyk of dit weg is, dan moet die priester dit nog ‘n keer was, en eers daarna kon hy dit weer rein verklaar.

Dit laat mens dink aan berigte oor die coronavirus, ‘n virus wat meerdere dae lank buite die menslike liggaam kan oorleef, byvoorbeeld aan deurhandvatsels, of op ‘n mens se klere.

 

Nou in hierdie hoofstuk, net om weer saam te vat, vind mens dus verskillende maatreëls met betrekking tot wat bekend gestaan het as melaatsheid.

Hierdie maatreëls was veral gemik op voorkoming, voorkoming dat ‘n hoogs aansteeklike siekte verder sou versprei.

Ons vind in hierdie hoofstuk nie werklik maatreëls ter genesing nie.

Geen voorskrifte oor salf of medisyne of iets dergeliks nie.

Hierdie hoofstuk kom uit ‘n tyd toe daar nog nie ‘n effektiewe geneesmiddel teen melaatsheid was nie.

 

Nou wat kan ons leer uit hierdie hoofstuk vir vandag, spesifiek ook wat betref die pandemie wat tans soos ‘n veldbrand in ons land en die hele wêreld woed?

As ons iets uit hierdie hoofstuk wil leer, moet ons allereers die hoofstuk goed verstaan is sy eie historiese konteks.

Toe Moses hierdie wette namens die HERE aan Israel gegee het, was dit op ‘n oomblik dat die volk  met die woestynreis begin het.

Hulle het, al het hulle dit self toe nog nie geweet nie, veertig jare in die woestyn voor die boeg gehad, in baie primitiewe omstandighede.

Dit is dus die primêre historiese konteks.

Met die oog op hierdie dekades, en daarna ook met die oog op hulle nuwe lewe in die land Kanaän, vaardig God hierdie streng wette met betrekking tot higiëne uit.

Alles dus maatreëls ter bevordering van die algemene volksgesondheid.

 

Nou as dit so is, wat is dan die nut van hierdie hoofstuk vir ons?

Wel, al leef ons in ‘n heel ander tyd, nog steeds is die waarheid, die bedoeling, die intensie van al hierdie maatreëls vir ons baie relevant!

Ook in die uitleef van hierdie wette, hierdie maatreëls, was God se volk anders as die volke rondom hulle.

Dit was vir hulle beswil.

Ook in hierdie hoofstuk ontmoet ons Christus, wat die Vors van die lewe is.

Hy wat besig is om die dood terug te dring uit samelewing vol sonde en gevolge van die sonde, vol siektes en pandemies.

 

So het die lewenswyse van die Kanaäniete, na wie se land hulle oppad was, ‘n ernstige bedreiging vir hulle ingehou.

Nie net geestelik nie, maar ook liggaamlik, ook wat betref die volksgesondheid.

Historiese navorsing het aangedui dat die gemiddelde ouderdom in Kanaän in daardie tyd nie meer as 30 jaar was nie.

Dieselfde sou die voorland vir God se volk wees, as hulle al hierdie maatreëls nie ernstig sou opneem nie.

Dan sou hulle ook slagoffer word van al die besmetlike siektes wat in Kanaän rondgewaad het.

Besmetlike siektes wat vir ‘n groot deel veroorsaak is deur die Kanaäniete se lewensstyl.

Seksueel oordraagbare siektes, weens die losbandigheid.

En allerlei pessiektes, weens gebrek aan higiëne.

Maar, soos daar in hoofstuk 45:26 staan, die Here dink aan sy verbond.

Vir hulle beswil gee Hy aan hulle al hierdie voorskrifte in Levitikus.

 

Melaatsheid was een van hulle.

Nou die feit dat melaatsheid veroorsaak word deur ‘n bakterie, ‘n bakterie wat met antibiotika bestry kan word, dit het die mense toe nog nie geweet nie.

Dit het eers in die 20ste eeu bekend geword.

Die gevolg van hierdie bakterie was egter dat mense se vleis, byvoorbeeld aan hulle hande en voete, begin vrot het.

Melaatse mense was bekend vir die stank wat daar heeltyd rondom hulle gehang het.

Weinig kon daar vir hierdie mense gedoen word, sodra hulle eers hierdie siekte opgedoen het.

Maar wat wel gedoen kon word, was om nuwe besmettings te voorkom.

Dit is hoekom ons in die Bybel al hierdie uitgebreide maatreëls vind.

Hierdie hoofstukke uit Levitikus is eintlik – histories gesproke – die bloudruk vir latere volksgesondheidsmaatreëls in die wêreld.

Hierdie maatreëls was bedoel om die uitbreiding van ‘n plaag in te perk.

 

Mense kon nie net hulle gang gaan nie.

Daar moes kontrole plaasvind, daar moes diagnose plaasvind deur die priester.

Die priesters het die reg gehad om mense in isolasie te plaas.

Die priesters kon iemand opdra om in afsondering te gaan woon, buite die laer.

Die melaatse moes voldoen aan voorskrifte wat betref kleding en haarstyl, sodat hulle maklik uitkenbaar was.

Ook moes hulle hardop roep, onrein, onrein, en terwyl hulle roep moes hulle hulle mond en neus bedek, sodat die siekte nie by die roep deur hulle speeksel verder sou versprei nie.

Die priesters het die reg gehad om mense se klere te verbrand – onthou klere was vele male duurder en kosbaarder in daardie tyd as vandag.

En die priesters het ook die bevoegdheid gehad om te beoordeel of iemand weer terug mog kom in die samelewing.

 

Ons kom terug by die hede.

Is die maatreëls wat ons hier in Levitikus vind nog vir ons enigsins relevant?

Het dit nog sin om aandag te skenk aan ‘n wetboek, en in ‘n mate, ‘n mediese handboek, wat duisende jare oud is?

Wel, net die vir duidelikheid, die Bybel is nie bedoel as ‘n mediese handboek vir alle tye nie.

Die Bybel is die Woord van God, wat aan ons gegee is om Hom te leer ken.

Hoe Hy omgaan met sy kinders, hulle wat Hy ‘n plek in sy genadeverbond gegee het.

En dit word wel duidelik uit hierdie hoofstuk, God wat almagtig is, is besorg oor die lot van sy kinders.

Hy dra hulle gesondheid, geestelik en liggaamlik op die hart.

En daarom is die wese van hierdie maatreëls nog steeds vandag relevant.

Dit is bekend dat in die Middeleeue, toe die pes byvoorbeeld in Europa gewoed het, die sterftes in die Joodse gemeenskappe aansienlik laer was, juis omdat hulle die maatreëls uit die Tora ernstig geneem het.

 

Ook tans het ons te make met ‘n owerheid wat ‘n aantal restriktiewe maatreëls aan ons opgelê het.

Afsondering, isolasie, ‘social distancing’, om maar enkeles te noem.

Maatreëls wat nogal verrassend eenders klink as die maatreëls teen melaatsheid in Levitikus 13!

Dit kan ons dus duidelik uit hierdie hoofstuk leer.

Laat ons besef, die owerheid het wel die Skrif, o.a. Levitikus 13, aan sy kant!

En vir ons sit daar tans niks anders op as om die beperkende maatreëls in ag te neem, ten spyte van die frustrasies wat dit oplewer, ten spyte van die groot impak wat dit op die ekonomie het.

God se wette is gegee vir ons beswil.

En so ook die huidige owerheidsmaatreëls!

Ons is dalk nie meer gewoond aan inperkings nie.

Die lewensmotto deesdae is dat elke indiwidu hom of haarself moet kan ontplooi.

The sky is the limit ...

Bewegingsvryheid word beskryf as ‘n onvervreembare mensereg ...

Wel, wat die owerheid tans doen is nie vreemd aan die Bybel nie.

Juis daar in die Bybel vind ons die begin van maatreëls soos afsondering, inperking, isolasie, kwarantyn of hoe mens dit ook wil noem.

So te sien heel Bybelse maatreëls dus.

 

Dit in die eerste plek wat betref die owerheid.

In die tweede plek is daar egter ‘n komplekser saak.

Mag die owerheid die kerk se eredienste verbied?

Tans het ons met so ‘n situasie te make.

Religieuse samekomste, so lui die maatreël, mag nie plaasvind nie.

Nou is dit nie so dat hierdie maatreël voortkom uit ‘n antichristelike houding van ons owerheid nie.

Laat ek dit direk sê.

Die owerheid is tereg bekommerd dat te veel mense op een slag siek word, en dat die hospitale so vol raak dat mense sterf omdat hulle nie behandeling kan ontvang nie.

Verlede jaar was die meeste sterftes in die land as gevolg van Covid-19, aansienlik meer as HIV-Vigs, Tuberkulose, moorde of verkeersongelukke.

Dit is net uitgesonderd aborsies, wat verreweg die meeste dooies veroorsaak, ‘n pandemie wat onverminderd voortwoed in ons land, soos te sien is aan al die advertensies op die lamppale, ook in ons omgewing.

Maar die afgelope jaar het geblyk dat godsdienstige byeenkomste ook ‘n vrugbare plek was waar die virus kon verspei.

In baie kerkdienste wêreldwyd het mense hulle gesigsmaskers afgehaal.

In baie Christelike gemeenskappe is dit die gewoonte om mekaar ‘n drukkie te gee.

Dus hoewel ‘n kroeg en ‘n kerk hemelsbreed verskil, tog het hulle in gemeen dat dit tipiese plekke is waar die virus maklik versprei.

Tans het die owerheid godsdienstige byeenkomste verbied, maar hulle het nie enige strafmaatreëls daaraan verbind nie.

Hoogstens sal die polisie dus ‘n kerk versoek om op te hou met ‘n erediens, maar boetes of tronkstraf is nie ter sprake nie.

 

Tog bly ons met die feit dat die eredienste gehou word, omdat die Here ons dit opdra.

Dink aan die vierde gebod, dink aan verskeie tekste in die Nuwe Testament.

Geld die beginsel nie ook dat ons God meer gehoorsaam moet wees as die owerheid nie?

Dink aan Handelinge 4:19-20: “Toe antwoord Petrus en Johannes en sê vir hulle: Of dit reg is voor God om julle meer gehoorsaam te wees as God, moet julle self beslis; want vir ons is dit onmoontlik om nie te spreek oor wat ons gesien eh gehoor het nie.”

Om dit op ons situasie toe te pas: As die owerheid eredienste verbied, dan gaan ons aan God meer gehoorsaam wees as die owerheid.

Natuurlik neem ons maatreëls in lyn met alle ander bepalings wat die owerheid neergelê het, soos dat lidmate elektronies inskakel, en wat na die kerkgebou kom gesigsmaskers, sosiale distansiëring, ensovoorts toepas.

 

Wat die coronapandemie lastiger maak as melaatsheid, is dat dit by baie mense geensins sigbaar of duidelik is of hulle die virus onder lede het en kan versprei nie.

Daarom sulke drastiese maatreëls van inperkings.

Maar, as ons eredienste belê in die kerkgebou, kan ons dit nog steeds in die gees van die wet doen.

Gesigsmaskers, sosiale distansiëring, ontsmetting, en dies meer.

Ook kan ons die aantal lidmate wat ‘n erediens bywoon, drasties inperk, omdat ons gelukkig die tegniese moontlikheid het dat almal kan inskakel.

Tussen hakies, dit is moontlik om te sien op youtube of kerkradio hoeveel mense digitaal inskakel.

Die kerkraad is bietjie bekommerd dat daar steeds minder gemeentelede inskakel.

Om ‘n erediens te versuim, of dit nou fisies is om nie kerk toe te kom nie, of om nie in te skakel nie, dit is dieselfde.

“laat ons ons onderlinge byeenkoms nie versuim soos sommige die gewoonte het nie, maar laat ons mekaar vermaan, en dit des te meer namate julle die dag sien nader kom” - Hebreërs 10:25

 

Tans is dit so dat dit nie onwettig is om winkels, winkelsentrums of restaurante te besoek nie.

Laat ons wat die eredienste betref die maksimum maatreëls neem wat vir hierdie plekke geld, terwyl ons die gebod van die Here ook ernstig neem.

Ons kan ook byvoorbeeld ‘n brief na die owerheid stuur, waarin ons kenbaar maak dat die huidige maatreëls volgens ons nie konsekwent is nie.

Godsdienstige byeenkomste word effektief onder vlak 5 van die grendelregulasies geplaas, terwyl ander byeenkomste, soos dobbelhuise, wel oop mag wees.

 

Hoe lank die coronapandemie nog gaan duur weet ons nie.

Daar is mense wat voorspel dat dit hierdie jaar gaan verby wees, danksy die entstowwe.

Daar is ook pessimiste wat sê dat dit nog 10 jaar kan duur.

In elk geval is dit so dat die kerklike lewe hierdie jaar weer moet voortgaan, soveel moontlik binne die huidige beperkings.

As ons mekaar hierdie jaar weer nie fisies sal kan ontmoet nie, al is dit in klein groepies, gaan dit baie sleg wees vir die onderlinge gemeenskap van heiliges.

Laat ons hierdie jaar volop met die kerklike lewe aangaan:

Eredienste, kerkraadsvergaderings, Bybelstudies, gemeentevergaderings, kommissiebyeenkomste, ensovoorts.

Ons kan dinge oor internet doen.

Ons kan ook vergaderings in die buitelug hou, waar die gevaar van besmetting baie laag is.

Christus is ons Koning.

Hom gehoorsaam ons, Hom wil ons dien, ook in 2021.

Anno Domini 2021, ja ook hierdie jaar behoort aan ons Here Jesus Christus!

 

Kom ons kom weer terug by die Skrif se bepalings oor aansteeklike siektes.

God se wette hou rekening met die gebroke werklikheid wat daar na die sondeval ingetree het.

En daardie gebroke werklikheid duur tans nog steeds voort, ook in die 21ste eeu, al vergeet mense dit soms!

En daarom: gelukkig is elke persoon, en ook gelukkig, ja geseënd, is elke land wat die waarheid en inhoud van Levitikus 13 nog steeds ernstig opneem, juis ook nou te midde van die Corona Pandemie!

 

In sy genadeverbond gee God aan sy kinders wette tot hulle beswil.

Hierdie wette gee die Here aan ons, nie dat ons deur die naleef daarvan aanneembaar vir Hom word nie.

In sy genade, in Jesus Christus, is ons reeds aangeneem en deel van sy verbond.

Uit blydskap en dankbaarheid vir sy verlossing, mag ons nou die paaie van sy gebooie bewandel, al struikel ons van tyd tot tyd.

Geliefde broers en susters, vanaand wil ek verder gaan met hierdie tema:

Melaatsheid, aansteeklike siektes in die Bybel, en wat dit vir ons leer in ons huidige situasie.

Vanaand gaan ons in detail kyk hoe ons Here Jesus Christus met melaatse mense omgegaan het.

Ja Christus het geen jota of tittel van al hierdie wette afgeskaf nie.

Hy het wel gekom om hulle te vervul.

En Hy het veral weer vir ons geleer hoe God se barmhartigheid skitter, juis in hierdie wette!

 

Amen.

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 107:1,2

Wet

Ps 119:11

Gebed

Skriflesing: Levitikus 13:1-17, 13:45-52; 14:54-57

Ps 40:4,8

Teks: Levitikus 26:45-46

Preek

Ps 119:14,19,22

Gebed

Kollekte 

Sb 8:1,2 

Seën