Doele
- Ons groei in ons verwagting van Christus en sy koninkryk
- Ons ontdek hoekom dit passend is om te vas omdat ons Christus verwag
- Ons verander ons gebede: ons bid en vas met die oog op die wederkoms.
Inleiding
Het jy lekker geëet vanmiddag?
Ek dink in die algemeen is voedsel vir ons belangrik.
Ons eet drie maal ’n dag. Dit is gesond en nodig om te eet.
Maar ons is bevoorreg wanneer ons kan vra: Wat eet ons vanaand? – en osn het keuse. Of selfs: wanneer gaan ons weer ’n slag uit eet?
Van julle het seker ook kinders wat vra: wanneer gaan ons weer braai?
Dit is lekker. Nie net die kos, maar ook die saamwees.
Maar nou… in hierdie tyd hoor ons dat daar mense is wat nie meer kos het nie. Hulle inkomste het opgedroog. Baie het hul werk verloor.
Hulle het nie geld om kos te kan koop nie.
Jy raak sommer skaam wanneer jy jou chips eet of vleis op die braai sit.
Ja, kom ons dink oor ons kos. Hoe belangrik dit vir ons is.
Hoe gewoon ons dit dit nie dat ons kos het?
Dis deel van ons kultuur. In die ouetehuise en ook in baie gesinne is daar vaste tye om te eet. Dan moet jy aan tafel sit.
En ons het altyd genoeg.
Maar sou jy minder te eet wanneer jy genoeg inkomste het?
Kan jy ook dink dat jy ’n maaltyd sal oorslaan terwyl daar genoeg kos is?
Wat daarvan om ’n hele dag nie te eet nie? Het jy dit al gedoen?
Ek dink dis goed om juis vandag, op die biddag, ’n nuwe gewoonte te leer: om te vas.
In Matthéüs 9 lees ons een van die baie geleenthede waarin Jesus ondervra word. Hy en sy dissipels wys afwykende gedrag.
Johannes se dissipels sien dit raak en vra: ‘Ons vas, die Fariseërs het die gewoonte om te vas, maar hoekom vas u dissipels nie?’
Hierdie vraag gee vir ons die geleentheid om te leer watter radikale verandering Jesus gebring het toe hy in die wêreld gekom het.
Tema: Hoe sien jy uit na Christus?
1. Hy sou kom. Dus Israel het gevas.
2. Hy is hier. Vier dus fees!
3. Hy sal terugkom. Wie uitsien na sy koms, sal weer vas.
1 Hy sou kom. Dus Israel het gevas.
1.1 Om te vas was ’n goeie gewoonte
In Matthéüs 9 word Jesus aangespreek op iets wat sy dissipels nagelaat het.
Dit het opgeval dat die dissipels van Jesus die enigste was wat nie gevas het nie.
Dit was ’n gewoonte in Israel om te vas.
Elke jaar was daar ’n spesiale dag waartydens hulle gevas het: die Groot Versoendag.
Die hoëpriester het op daardie dag versoening gedoen vir die sondes van die hele volk. Hulle is van al hulle sondes gereinig.
God het dit ingestel as ’n dag van volkome rus en verootmoediging.
Hulle het hulself verootmoedig (in Hebreeus: gekwel!) deur ’n hele dag niks te eet nie. (Levitikus 16:29).
Dit was ’n besonderse dag, maar nie ’n fees nie.
Hulle kon nie aangaan met hulle werk of gaan feesvier en eet nie, terwyl daar diere doodgemaak en verbrand is as ’n afbeelding van die erns van hulle sonde nie!
Om te vas is ’n passende manier om jouself te verootmoedig: jy voel dit in jou maag. Jy kwel jouself deur nie te eet nie. Jy bely jou kleinheid voor God vanweë jou sondes.
Wanneer jy vas, sien af van iets wat in die daaglikse lewe goed en toegestaan is. Jy kies daarvoor om dit tydelik nie te gebruik nie, sodat jy op iets anders kan konsentreer.
Daar was nóg geleenthede om te vas.
In ’n tyd van rou het hulle as op hul kop gestrooi, hul klere geskeur, en gevas.
Of wanneer ’n gelowige Gods leiding nodig gehad het, of vurig vir iets anders gebid het, het hy persoonlik of gesamentlik gevas.
Ook in tye van rampe of aanvalle van vyande, het Israel gevas.
Die sondes van die hele volk, of ’n groot ramp, was redes om te vas.
Dit was dus deel van hulle lewe met God.
En dikwels het bid en vas hand in hand gegaan.
1.2 Uitsien na Christus
Kom ons probeer nou om hierdie gewoonte om te vas te verstaan in verhouding tot Christus.
Die groot Versoendag is ’n roep om die Messias.
Ook die ander geleenthede waarby hulle gevas het (rampe, sondes, strawwe) is ’n erkenning van hul eie tekort, en ’n roep om die Messias wat die wet sou volbring en die vrede met God sou herstel.
Jy kan dit mooi raaksien in Anna (Lukas 2: 36-38). Dekades lank was sy ’n weduwee en sy was dag en nag in die tempel. Sy het daar gevas en gebid terwyl sy God aanbid het. Sy het uitgesien na die verlosser van Israel.
En toe is haar wens vervul: sy het Jesus gesien toe sy ouers hom tempel toe bring en God gedank en vir almal oor hom vertel.
Anna en Simeon het uitgesien na die verlosser. Anna het die toestand van Israel gesien en dag en nag gevas en gebid.
(Die tema was: Hoe sien jy uit na Christus?)
In die Ou Testament het hulle die Messias verwag.
Hy sou kom. Dus Israel het gevas.
Dit was dan ook die eerste deel van die preek:
2 Hy is hier. Vier dus fees!
2.1 Moet hulle aanhou vas?
Nou kyk ons na wat gebeur in Matthéüs 9.
Dit is dus tydens die lewe van Jesus.
Die Messias het gekom. En alles begin verander!
Juis daarvoor het Jesus Levi die tollenaar geroep om hom te volg.
Hy het net so opgestaan, alles gelos, en Jesus gevolg.
Jesus is dus nou in die huis van Levi. Levi het sy tollenaarvriende genooi om saam met Jesus te eet.
Die Fariseërs het hom daaroor aangevat, en gesê: ‘Hoekom eet hy met tollenaars en sondaars?!’
Jesus se antwoord was: “Ek het nie gekom om regverdiges te red, maar sondaars.”
Die dissipels van Johannes vra net na daardie moment vir Jesus:
‘Hoekom vas u dissipels nie?’
Die vraag maak sin. Hulle het goed geluister.
Jesus kom tog om sondaars te red?
Hulle moet tog ootmoedig wees, hulle bekeer?
Dan behoort jy tog te vas?
2.2 Die bruidegom is hier!
Jesus se antwoord is kort en kragtig:
“Kan die bruilofsgaste dan treur so lank as die bruidegom by hulle is? Maar daar sal dae kom wanneer die bruidegom van hulle weggeneem word, en dan sal hulle vas."
Om te vas is om te treur. Dit doen jy nie tydens ’n fees, wanneer jy bly is nie.
Maar jy mag nie treur wanneer die bruilofsfees begin het nie!
So sê Jesus dus: Israel het ewelank gewag op die Verlosser.
Die moment het nou aangebreek. Hy is hier! Dis ek!
Jesus bring genesing, lewe, vergewing!
Nou kan die fees begin.
Moenie meer vas nie. Vier fees!
2.3 Lap en wyn
Hoe groot die verandering is wat sy koms veroorsaak, verduidelik hy met ’n kort gelykenis.
’n Ou lap maak jy nie reg met ’n nuwe lap nie. Die nuwe een moet nog krimp wanneer jy dit dra of in warm water was. Nou word die skeur erger!
Dit pas nie by mekaar nie.
Nog ’n beeld, iets wat ons nie ervaring mee het nie. Ons koop wyn in bottels.
Maar jy weet dalk wel dat die wynmaakproses met gisting te doen het.
In daardie tyd het hulle wyn in leer sakke gesit. Maar as die sak reeds oud was, en die wyn begin gis, dan het dit meer plek nodig, en ’n ou leer sak kan nie meer uitrek nie. Dit sal skeur.
Nuwe wyn moet jy dus in nuwe leersakke gooi; die leer is nog sag en rekbaar. Dan sal die sak nie bars en die wyn nie verlore gaan nie.
Hiermee leer Jesus vir hulle, dat alles verander het.
Die Messias wat hulle so lank verwag het, is hier. Nou moet die gewoontes en die manier waarop hulle God vereer, verander.
Dit word baie duidelik in die manier waarop Israel gaan bid.
Die vas is nou verby. Die redder is hier! God het na Israel se gebede en smekings geluister, en die volheid van die tyd het gekom.
Dis soos met ’n troue.
Wanneer die bruidegom uit ’n ander deel van die land gekom het, moes die gaste wag tot hy daar was.
Maar sodra hy daar is, kan die party begin. Vier fees! Wees bly!
Die tyd van wag is verby.
So is dit by die koms van Jesus. Verheug jou, dat hy die Messias is.
Vier dus fees!
Jesus se dissipels mag dus nie meer vas nie.
Om te vas is nie altyd goed nie.
Daar is ’n tyd om te vas en te smeek en te huil.
En daar is ’n tyd om feesklere aan te trek, en fees te vier, want God het sy belofte vervul.
Dit was die radikale verandering wat die koms van Jesus gebring het.
Wat beteken dit vir ons?
Kan ons vir mekaar sê: ‘Die Messias het gekom. Wees bly! Hou op vas en treur.’
Kom ons luister daarna in die derde deel:
3 Hy sal terugkom. Wie uitsien na sy koms, sal weer vas.
3.1 Hy is nie meer hier nie
Jesus sê nog iets.
“Maar daar sal dae kom wanneer die bruidegom van hulle weggeneem word, en dan sal hulle vas.”
Die bruidegom het gekom.
Maar hy het ook weer weggegaan. Hy is nie meer hier nie.
Dit is die eerste keer dat Jesus in die Matteusevangelie oor sy sterwe praat.
Jesus sal vermoor word en hulle sal hom nie sien nie. En kort daarna sal hulle hom weer sien. (3 dae later)
Dan sal hulle weer bly wees.
3.2 En daarna?
Maar waar is Jesus tans?
Hy was maar ’n kort rukkie by hulle: na sy opstanding was hy 40 dae saam met hulle. Toe was hulle weer vol vreugde.
Ons leef in ’n tydperk nadat Jesus hemel toe gegaan het.
Die bruidegom is nie meer hier nie.
Maar… hy sal terugkom! Dit is sy belofte.
Ons leef nou weer in ’n tyd van verwagting.
“Maar daar sal dae kom wanneer die bruidegom van hulle weggeneem word, en dan sal hulle vas.”
Ons leef in daardie tyd.
Opnuut sien ons uit na die koms van die verlosser.
Ons het hom al heelwat beter leer ken as in die Ou Testament.
Die vreugde van Jesus se opstanding is steeds in ons hart. Dit is vanweë sy Gees, wat as trooster in ons hart kom woon het.
Maar tog leef ons in ’n tyd waarin ons hom nie sien nie.
Ons sien uit na sy terugkoms.
Dan sal die verlossing voltooi wees.
Dan sal die koninkryk volledig aanbreek.
3.3 Jesus verwag dit
“en dan sal hulle vas.”
Nee, dit is nie ’n gebod nie.
Jesus het ons gebied om die nagmaal te vier totdat hy kom.
Om te vas is vrywillig.
Maar dit is wel ’n natuurlike reaksie van die bruid van Jesus.
Totdat die bruidegom terugkom, sien die bruid vol verwagting uit na sy koms.
Daarom verwag Jesus dat sy bruid sal vas in voorbereiding op sy koms.
Behalwe vreugde is daar tog ook hartseer in haar hart: ‘ek wens my bruidegom was hier!’
Vandag hou ons ’n biddag.
Dit is nie ’n gewone dag nie. En ons leef ook nie in ’n gewone tyd nie.
Baie lande sug onder onder die besmetting met die COVID-19 virus. Mense ly onder die siekte, omdat hulle geliefdes verloor het. Of omdat hulle die grafte sien van naamlose slagoffers wat eensaam, sonder familielede, selfs sonder ’n naam op hulle kis, gesterf het.
Ons sug onder die lang periode van lockdown. Vir baie is die middel net so erg as die siekte waarvoor hulle bang is: hulle verloor só baie.
Dis hoekom ons bid vandag.
Vanweë die lyding, die ontreddering, die wanhoop wat mense aangryp.
Ons ly saam met almal. Christene behoort om te gee en ons naaste te help.
Ons bid dat God ons almal genadig sal wees.
En ons bid in verwagting van sy koms.
3.4 Die rede
Want ons ken mos die rede hoekom hierdie erge dinge moet gebeur?
Dit is die barensweë van die nuwe wêreld.
Ons hoor die voetstappe van Jesus.
Ons weet nie presies hoe laat dit is nie. Ons kan dit nie aflees uit die rampe en kalamiteite en die lyding in die wêreld nie. Dit is kenmerke van die hele periode vanaf sy hemelvaart tot aan sy wederkoms.
Maar ons het die belofte ontvang: “Kyk, ek maak alle dinge nuut!
Ek kom spoedig.”
Ons het ’n vaste hoop!
Laat ons daarom met sterk verlange uitsien na die koms van ons redder!
Christus verwag dit van sy bruid.
En hy verwag ook, dat ons sal vas. Omdat hierdie tyd so pynlik is.
Omdat daar mense is wat geen hoop het nie.
Omdat ons saam met hulle ly onder die gevolge van hierdie wêreld wat in sonde geval het.
Ons is hartseer dat die koninkryk nog nie gekom het nie.
3.5 Dis nie ons gewoonte nie
Vandag is ’n besonderse dag.
Dis is uitsonderlik dat ons ’n hele dag bepaal om te bid. Het julle inderdaad ook hierdie dag meer tyd geneem om te bid?
En wie van ons het daaraan gedink om te vas?
Dis net ’n enkele keer dat ek iemand in die VGK daaroor hoor praat het. Het jy dit al gehoor? Ons is nie daaraan gewoond nie.
Dit voel vreemd om te vas.
Ek dink ons het die verbinding uit die oog verloor wat daar bestaan tussen bid en vas.
Vandag is ’n biddag.
Hoe word jou verlange na Christus se koms sigbaar in jou lewe?
Dalk het jy vandag nie gevas nie.
Maar wat van môre, en die res van die lockdown, wat nou weer langer geword het?
En beplan jy om na hierdie lockdown so veel as moontlik met jou ‘gewone’ lewe aan te gaan? Of het jou verwagting van Jesus sterker geword?
Maar Jesus verwag dit van sy bruid.
Hy het vir ons sy Gees gegee.
Die Gees en die bruid roep om die koms van Christus.
Wie uitsien na sy koms, sal weer bid en vas.
Amen
Sing: Psalm 4:2-4
Skriflesing: Matthéüs 9:9-17
Sing: Skrifberyming 16:1-6
Preek: Matthéüs 9:15
Sing: Skrifberyming 29:6-9
Geloofsbelydenis: Skrifberyming 27
Gebed
Kollekte
Sing: Skrifberyming 30
Seën