Geliefde gemeente,
As die Here Jesus nóú sou terugkom – vandag – is hierdie gemeente dan gereed om Hom te ontmoet? Natuurlik, uiteindelik gaan elkeen van ons individueel voor die Here staan, maar onthou: ons gaan nie individueel oppad na daardie groot dag toe nie. Ons doen dit in en met die gemeenskap van die kerk; as kérk is ons oppad na die wederkoms. ‘n Sogenaamde kerklose Christendom – wat vandag baie gewild is – is daarom ‘n innerlike teenstrydigheid. Daar bestaan nie so iets soos ‘n kerklose Christendom nie; jy kan nie Christen wees los van die kerk nie. Die Skrif is baie duidelik daaroor: wie ‘n Christen is, soek ook die kerk (die liggaam) van Christus op, en as kerkgemeenskap gaan ons die Here tegemoet. En die vraag vannaand is: is hierdie gemeente voorbereid op daardie ontmoeting?
Broers en susters, vanjaar se adventspreke staan almal in die teken van hierdie voorbereiding op die koms van die Here. Twee weke gelede het ons gelet op die gelowige gebed van Sagaria en Elisabet, met daarby die vraag van die Here Jesus in Lukas 18: “As die Seun van die mens kom, sal Hy nog hierdie geloof – hierdie biddende geloof – op die aarde vind?” Daarmee het die Here Jesus ons voorberei om biddend op sy koms te wag. Vandag bevind ons onsself nog steeds binne die familie-kring van Sagaria en Elisabet, en ons let spesifiek op die taak wat die engel aan Sagaria en Elisabet se seun, Johannes, gee. En volgende week sluit ons dit af deur te let op hoe Johannes hierdie taak in die openbaar uitgevoer het. En dit alles staan in die teken van advent: is ons voorbereid op die koms van die Here?
Tema: Johannes se taak om vir die Here ‘n toegeruste volk te berei – en wat dit vir ons beteken...
Ons het twee weke gelede alreeds aandag geskenk aan die konteks van ons Skrifgedeelte – Sagaria in die heiligdom, die ontmoeting met die engel Gabriël, en die aankondiging van Johannes se geboorte. Dus, ek gaan nou nie weer hierop in nie. Ek wil liewer dadelik spring na ons teks, verse 16 en 17, waarin die engel toeligting gee oor wat Johannes se toekomstige taak sal wees: “En hy sal baie van die kinders van Israel bekeer tot die Here hulle God. En hy sal voor die Here uitgaan in die gees en die krag van Elia, om die harte van die vaders terug te bring tot die kinders en die ongehoorsames tot die gesindheid van die regverdiges, om vir die Here ‘n toegeruste volk te berei” (Luk. 1:16-17). Nou, enige Jood wat hierdie laaste woorde gehoor het, het onmiddellik geweet waar dit vandaan kom – Maleagi 4:6. Maar dit gaan oor meer as net vers 6, broers en susters. Want soos amper altyd wanneer die Nuwe Testament die Ou Testament aanhaal, gaan dit nie net oor daardie spesifieke woorde wat aangehaal word nie, maar gaan dit oor die hele konteks waarbinne daardie aangehaalde woorde in die Ou Testament staan – u kan dit maar in gedagte hou wanneer u die Bybel lees. En die aanhaling van Maleagi 4:6 in Lukas 1:17 staan binne die konteks van die slot van Maleagi se profesie, die woorde wat ons saam gelees het. Maleagi 4:4-6 vorm die sogenaamde epiloog (of slot) van Maleagi se profesie. Kom ons vat ‘n paar minute om hierdie gedeelte goed te verstaan.
Maleagi se profesie (4 korterige hoofstukke) is ‘n gesprek / ‘n dialoog, wat die Here met sy volk voer. Die volk is al ‘n hele paar jaar terug uit ballingskap, en die eerste dankbaarheid en entoesiasme en toegewydheid het al agteruit begin gaan. En nou doen die Here in hierdie profesie ‘n laaste appél op die harte van sy volk, voordat die profetiese woord vir meer as 400 jaar sou stilword. Want ja, tussen Maleagi (die laaste boek van die Ou Testament) en Johannes (die laaste profeet voor die koms van die Messias) lê daar ongeveer 400 jaar van stilte – dis verstommend as ‘n mens daaraan dink: geen profetiese woord het in hierdie vier eeue geklink nie, geen profeet van die Here het in hierdie tyd opgetree nie. Nou, voordat hierdie stilte aanbreek (want die Here het natuurlik geweet dat sy stem vir vier eeue sou stil word), doen die Here ‘n laaste appél op sy volk. Hy begin deur sy liefde aan hulle te verklaar: “Ek het julle liefgehad, sê die HERE” (1:2). Dis die basis, die vertrekpunt: God se verkiesende liefde. Maar, sê die Here, waar is dan julle liefde vir my (1:6)? Priesters, waar is die trou wat julle in jul dienswerk aan My verskuldig is? Sluit liewer die tempel se deure (1:6-2:10)! En volk van Israel, hoekom is egskeiding en gemengde huwelike aan die orde van die dag onder julle (2:11-16)? Hoekom beroof julle My van die tiendes (3:8-12)? En wanneer die volk in reaksie hierop kla dat die Here verander het, dan wys die Here dat Hy dieselfde gebly het – in sy seën, sowel as in sy vloek. Hy het eenvoudig gedoen wat Hy eeue tevore al belowe het Hy sou doen: sy seën sal rus op die regverdiges, sy vloek sal kom oor die goddelose. Sy dag kom, wanneer Hy ‘n onderskeid gaan maak tussen die regverdiges en die goddelose, tussen dié wat die Here dien en dié wat Hom nie dien nie (3:18).
En dan volg uiteindelik nog die slot (die epiloog) van Maleagi se profesie – hoofstuk 4:4-6... Hierin wys die Here deur Maleagi wat Hy gaan doen om sy volk voor te berei om Hom te ontmoet.
Hy begin in vers 4 met: “Dink aan die wet van Moses, my kneg, wat Ek hom beveel het op Horeb vir die hele Israel – insettinge en verordeninge.” Dit is die eerste waarmee God sy volk voorberei: Dink aan die wet van Moses. En as ons hoor van die ‘wet’, dan moet ons nie uitsluitlik aan die Tien Gebooie dink nie, maar dan moet ons dink aan die hele torah, die insettinge en verordeninge – ja, ten diepste gaan dit hier oor die Woord van die Here. “Dink aan die wet van Moses” is dus ‘n oproep, ‘n vermaning – nee, nie om wetties te lewe nie! – maar om terug te keer na die Here en sy Woord. Of soos Jesaja dit in hoofstuk 8:20 van sy profesie verwoord: “Terug na die wet en die getuienis! As hulle nie spreek volgens hierdie woord nie, is hulle ‘n volk wat geen dageraad het nie.” Keer dus terug na die ou fondament wat gelê is, want daar is geen toekoms vir die volk wat nie op daardie fondament – die Woord van die Here – bou nie!
Maar daar is nog meer... Eers, dus: dink aan Moses! Maar vervolgens: “Ek stuur julle ook die profeet Elia” (vers 5). Nou, Elia staan in die Skrif simbool van die profete; hy verteenwoordig as’t ware al die profete wat deur die geskiedenis in Israel opgetree het. Ons het hier dus enersyds te make met die wet (Moses), en andersyds met die profete (Elia). En, volgens vers 6, is dit Elia se taak om die hart van die vaders terug te bring tot die kinders, en die hart van die kinders tot hulle vaders. Dis nie ‘n eenvoudige uitspraak nie – wat presies bedoel Maleagi hiermee? Wel, broers en susters, dit gaan hier nie daaroor, soos sommige meen, dat progressiewe en vrye jongmense moet terugkeer na die paaie van die ouer geslag nie – ai, die jeug van vandag, as hulle maar net bly by dit wat óns hulle geleer het, en wat óns altyd gedoen het. Nee, dis nie wat hier staan nie. Daar is immers ‘n wederkerigheid in vers 6, die terugkeer van die harte werk twee kante toe: die hart van die vaders word teruggebring tot die kinders, en die hart van die kinders word teruggebring tot hulle vaders. Waaroor dit ten diepste hier gaan, is die herstel van die gemeenskap van die heiliges. Die volk wat op die vaste grondslag van die Woord van die Here bou (“dink aan die wet van Moses” – vers 4), daardie volk word ook tot ‘n hegte gemeenskap saamgevoeg – ‘n gemeenskap waarin die gaping tussen die generasies (tussen vaders en kinders) oorbrug word, waarin oud en jonk in die eenheid van die geloof staan, waarin vaders en kinders met een hart die Here dien.
Dus, waarmee word die volk voorberei op die dag van die Here? Met Moses én met Elia, met die wet én met die profete: met die Woord van die Here én met die egte gemeenskap wat daarop gebou is. Op die heel laaste bladsy van die Ou Testament, sê God: “Só gaan Ek my volk voorberei om hulle Here te ontmoet.” En dít is nou in besonder die taak wat Johannes, volgens die engel, kry. Johannes, sê die engel in vers 16 aan Sagaria, sal baie van die kinders van Israel bekeer tot die Here hulle God (dáár het ons die werking van die Woord – Moses!). En vervolgens vers 17: hy sal in die gees en krag van Elia die harte van die vaders terugbring tot die kinders en die ongehoorsames tot die gesindheid van die regverdiges (dáár het ons Elia). Moses (die wet, die Woord) én Elia (die profete) kom bymekaar in hierdie voorloper, Johannes. Só sal hy vir die Here ‘n toegeruste volk berei – ‘n volk wat gereed is, voorbereid is, om die komende Messias te ontmoet.
Nou, ons sal volgende week sien hoe Johannes dit in die praktyk gedoen het (dus, volgende week hoop ons om verder te fokus op Johannes se optrede), maar ek wil vandag nog ‘n treetjie verder gaan. Want Johannes het natuurlik die volk voorberei op die éérste koms van Jesus Christus hier op aarde; hy het hulle gereed gemaak om uiteindelik met die vinger te kan wys: daar is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem. Maar ons vandag lewe uiteraard ná daardie eerste koms – dus, wat leer hierdie profesie vir óns? Wel, lees saam met my Mattheus 17:1-13 [lees]. Sien u, hier het ons weer vir Moses en Elia, dié keer in gesprek met Jesus Christus (17:3)! En dis nie die mens Jesus wat by die groot wetgewer Moses en by die groot profeet Elia gaan raad vra nie; dis nie Jesus op gelyke vlak met Moses en Elia, soos wat Petrus gedink het toe hy vir elkeen van hulle ‘n hut wou bou nie (17:4). Nee, hier kom soek Moses en Elia die verheerlikte Christus op – die Christus wie se aangesig geblink het soos die son en wie se klere wit geword het soos die lig (17:2). Hier kry ons – deur die oë van Petrus, Jakobus en Johannes – ‘n voorskou van die Christus soos wat Hy ná sy opstanding en hemelvaart sou lyk. Dit gaan hier oor die Christus wat die dood oorwin het! Dít is dieselfde Christus wat die apostel Johannes baie jare later in Openbaring 1 vir ons beskryf: “Sy hoof en hare was wit soos wit wol, soos sneeu, en sy oë soos ‘n vuurvlam ... sy aangesig was soos die son wat skyn in sy krag...” (Op. 1:14 & 16) En hierdie verheerlikte Christus wandel tussen die sewe goue kandelaars (Op. 1:13), tussen die sewe gemeentes, in die midde van sy kerk! Dit is hierdie verheerlikte Christus na Wie Moses en Elia op die berg gekom het. Hy, die verheerlikte, is die vervulling van die wet en die profete: die spoor van die Sinai (Moses) en van die profete (Elia) kom uiteindelik in Hom bymekaar; die wet en die profete vind in die verheerlikte Christus hulle vervulling, hulle volheid, hulle egte betekenis! Sodat die stem uit die hemel kan sê: “Dit is my geliefde Seun in wie Ek ‘n welbehae het. Luister na Hom!” (Mt. 17:5)
Dit is daarom hierdie Christus, broers en susters, wat deur sy Woord (onthou, Hy is die vervulling van Moses!) die gelowiges saamvoeg tot ‘n gemeenskap van heiliges (want Hy is ook die vervulling van Elia!). Dit is Hy wat as die verheerlike tussen die sewe kandelaars wandel, dit is Hy wat die kerk bou met sy Woord, en wat gemeenskap mét en tússen sondaars skep! Woord en gemeenskap – is dit nie presies wat ons teëkom by daardie eerste gemeente in die boek Handelinge nie? In Handeling 2:42 lees ons van die eerste gemeente dat hulle volhard het in: die leer van die apostels en in die gemeenskap en in die breking van die brood en in die gebede. Die leer van die apostels – daar het ons die Woord, die ware leer (en saam met die Woord gaan die breking van die brood – die sakramente – want Woord en sakramente hoort bymekaar). En die gemeenskap – daar het ons die verbondenheid wat die gelowiges met mekaar het. En dan is daar ten slotte ook nog die gebede – is dit nie waaroor dit twee weke gelede gegaan het toe ons gehoor het van die vervulling van Sagaria en Elisabet se gebede in die geboorte van die Verlosser nie? Woord en sakramente, gemeenskap, gebede: die eerste gemeente het hierin volhard, omdat hulle die koms van hulle Here verwag het.
En op hierdie manier, gemeente, word ons vandag voorberei op die koms van ons Here Jesus – nee, nie sy eerste koms nie, maar sy wederkoms op die wolke. Die Here Jesus sélf berei ons voor, Hy sélf rus ons toe, sodat ons gereed is om Hom te ontvang wanneer Hy kom. Want Hy is die vervulling van Moses en Elia, van die wet en die profete (Mt. 5:17). Hy is die verheerlikte wat in die midde van sy gemeente is en haar voorberei op sy wederkoms. En so begin daar vir ons ‘n prentjie te vorm van die gemeente wat gereed is om haar Here te ontmoet. Of om dit in die taal van ons belydenis uit te druk: so begin daar vir ons ‘n prentjie te vorm van die ware kerk van Jesus Christus.
En die prentjie wat ons kry, is in die eerste plek van ‘n gemeente, ‘n kerk wat alle fokus plaas op die gehoorsaamheid aan die Woord van die Here (“Dink aan die wet van Moses!). Dis die eerste... ‘n Kerk wat, vanweë haar gehoorsaamheid aan die Woord, anders lyk as die skets wat Maleagi in sy profesie vir ons gee van die volk Israel. In hierdie kerk sien ons priesters – ampsdraers! – wat trou is in hulle ampsdiens, wat die Naam van die Here verhoog in elke gesprek wat hulle voer, wat sorg dat die tafel van die Here nie verontreinig word nie, wat betroubare uitsprake lewer in die sake waarby hulle advies en besluite gevra word, wat werklik sorg vir elke siel. In hierdie kerk sien ons, anders as in Israel van Maleagi se dae, mans wat trou is aan die vrou van hulle verbond, aan die vrou van hulle jeug. Mans en vroue wat nie net wegloop wanneer dinge moeilik gaan nie, maar wat sover moontlik trou bly, wat veg vir hulle huwelik, wat hulleself opoffer om hulle huwelik mooi te hou. In hierdie kerk, anders as in Israel van Maleagi se dae, gee lidmate getrou hulle tiendes, wys hulle hul dankbaarheid vir alles wat hulle ontvang het, en gee hulle met dankbaarheid vir die Here dít wat Hy van hulle vra. Bo alles, in hierdie kerk lewe die gemeente in die verbond met die Here, beoefen hulle die gemeenskap met die Here, en ontvang Hy van hulle die wederliefde wat ‘n mens op grond van sy verbond mag verwag.
En die prentjie is, in die tweede plek, van ‘n gemeente, ‘n kerk wat in liefdevolle gemeenskap met mekaar lewe. ‘n Gemeente waar ons deur Christus aan mekaar verbind word – in goeie en moeilike tye. ‘n Gemeente waar ons vir mekaar sorg, waar ons na mekaar omsien, waar ons mekaar oproep en vermaan as dit nodig is. ‘n Gemeente van gelowiges wat nie mekaar uitkies nie, maar wat deur die Here aan mekaar gegee word. ‘n Gemeente waar oud en jonk, waar die generasies sáám vir die Here lewe, waar die harte van die vaders teruggebring word en verbind word met die harte van die kinders, en andersom. Waar die generasie-gaping nie ‘n probleem is omdat die oueres net vaskleef aan wat oud is en die jongeres net wil vernuwe nie, maar waar oud en jonk saam soek na die weg van die Here vir vandag!
Dít, broers en susters, is die prentjie van die kerk wat toegerus is vir die wederkoms van haar Here – op grond van die lyn vanaf Maleagi, deur Johannes, tot by die verheerlikte Christus! Klink dit dalk bietjie saai? Effens oninteressant? Woord en gemeenskap. Moet daar nie dalk ‘n klompie instrumente en ligte en ‘n rookmasjien in die eredienste bykom nie? Of wat van mense wat hier voor kom staan om getuienis te gee? Dalk ‘n paar wat in tale praat of profeteer of drome uitlê? Dalk moet ons ‘n podium hier voor bou (in plaas van die preekstoel) en dalk moet julle predikant van sy pak en das ontslae raak en met sy jeans en oopknoop-hemp kom preek? Miskien nog ‘n paar Hillsong-liedjies by ons repertoire voeg? Broers en susters, dit is nie my doel om ‘n karikatuur van ander groepe se dienste te maak nie óf om ons manier as die enigste geldige te verhef nie, maar ons moet onsself bly afvra: hoe word die ker, hoe word hierdie gemeente gereedgemaak om haar Here te ontmoet?
U onthou mos nog die gelykenis van die ryk man en die arm Lasarus in Lukas 16? Beide die ryk man en Lasarus sterf – Lasarus gaan na die hemel, en die ryk man beland in die hel. En vanuit die hel vra hy vir barmhartigheid – eers vir homself: kan Lasarus nie asseblief die punt van sy vinger in water steek en my tong verkoel nie, want ek ly smarte in hierdie vlam? Daarna vir sy vyf broeders op aarde: asseblief, kan Lasarus nie maar net gaan om hulle te waarsku nie? En dan spreek Abraham hierdie kragtige woorde: “Hulle het Moses en die Profete; laat hulle na dié luister. Maar die ryk man antwoord: Nee, vader Abraham, maar as iemand uit die dode na hulle gaan, sal hulle hul bekeer. Maar Abraham sê vir hom: As hulle na Moses en die Profete nie luister nie, sal hulle nie oortuig word nie, al sou iemand ook uit die dode opstaan” (Luk. 16:24-31). Sien u dit? Moses en die Profete! Moses en Elia! Moses, wat die Woord van die Here aan die volk gebring het; Elia, wat die gemeenskap tussen gelowiges kom herstel. Moses en die Profete: dít is wat die kerk nodig het om op die koms van haar Heiland voorberei te word.
In hierdie adventstyd roep die Woordverkondiging ons vanaand weer op om hieroor te besin: Is hierdie gemeente gereed om haar Here te ontmoet? En wat moet gebeur om haar gereed te hóú of – indien sy nog nie gereed is nie – gereed te máák? Ons het Moses en die Profete ontvang – ons kan allerhande dinge byvoeg, maar as ons na Moses en die Profete nie luister nie, gaan niks anders ons oortuig nie. Laat ons daarom ‘n gemeente wees waar die Woord sentraal staan – werklik sentraal, nie as ‘n tradisie nie, maar as ‘n lewende oortuiging van jonk en oud. En laat ons verder ‘n gemeente wees waar die gemeenskap van die heiliges kragtig funksioneer, waar jonk en oud in die eenheid van die geloof lewe. Sodat ons gereed is wanneer die groot dag van die Here kom.
Amen
Votum en seëngroet: Ons hulp is in die Naam van die Here wat die hemel en die aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.
Sing Skr. 4:3 en 5
Gebed
Lees: Lukas 1:5-17
Maleagi 4:4-6
Sing Skr. 2:3-4
Teks: Lukas 1:16-17
Preek
Amenlied Ps. 101:4 & 119:22
Gebed
Geloofsbelydenis (staande en singende)
Kollekte
Slotsang Skr. 43:1, 2 en 4
Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen.