Christus skenk dienaresse aan sy kerk

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Maranata
Date: 
2020-10-18
Text: 
Romeine 16:1-2
Preek Inhoud: 

Hierdie jaar het ons as gemeente ‘n jaartema, naamlik om diakonale gemeente te wees – dienende gemeente.

Aan die begin van die jaar, dit was nog voor die Coronapandemie, het ek aandag geskenk aan die instelling van die diakenamp, soos ons dit die eerste keer in die Bybel in Handelinge 6 vind.

Ook het ek aandag geskenk aan die vereistes vir diakens, soos ons dit in die briewe aan Timotheüs vind.

Vervolgens het ons gekyk na die feit dat om ‘n diakonale gemeente te wees, nie net beteken dat slegs die diakens aktief moet wees nie.

Elke lidmaat in die gemeente het ‘n diakonale, ‘n dienende taak.

Eers dan is ons ‘n diakonale gemeente, as almal aktief betrokke is.

In hierdie konteks het ek toe ook aandag geskenk aan die vrugte van die Gees, soos ons dit onder andere in Galasiërs 5 vind, vrugte soos liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing, mededeelsaamheid, ensovoorts.

Hierdie vrugte van die Gees maak dat ‘n gemeente ook werklik diakonaal, dienend word.

Dit verseker dat niemand ongetroos hoef te leef onder die druk van siekte, of eensaamheid, of ouderdom, of armoede nie.

 

Hierdie jaar se Coronapandemie en gevolglike grendelstaat was ‘n direkte praktiese uitdaging vir ons as gemeente om ‘n diakonale gemeente te wees.

Meer as gewoonlik moes die diakens uitreik, en is ons almal opgeroep om saam na mekaar om te sien.

Die Here het ons gebede verhoor.

Daar was meer finansiële hulp nodig, maar die diakens het ook meer ontvang om te kon uitdeel.

Verder het ons as gemeente die digitale middele wat beskikbaar was, probeer gebruik om met mekaar in verbinding te bly tydens die grendelstaat.

 

Vanoggend se preek, met as teks Romeine 16:1-2, het ook met die jaartema te make.

En wel op die volgende manier.

Aan die begin van die jaar, toe ek in ‘n preek vanuit Handelinge 6 en 1 Timotheüs 3 verduidelik het dat in die Bybel broeders en nie susters nie in die spesiale diakenamp bevestig is, het sommiges na die diens na my toegekom met die vraag:

Maar wat dan van Febe?

Was sy dan nie ‘n vroulike diaken in die Bybelse tyd nie?

 

Kom ons kyk vanoggend na Romeine 16:1-2, waar ons lees oor Febe.

Kom ons kyk na wat die Here in hierdie vers vir ons wil sê.

En kom ons kyk of ons vraag dan beantwoord gaan word, of Febe ‘n vroulike diaken, ‘n diakones, was of nie.

 

Tema: Christus skenk dienaresse aan sy kerk

 

Die Romeinebrief het op ‘n manier ‘n dubbele einde.

Die inhoudelike deel van die brief eindig reeds in die vorige hoofstuk met die woordjie “Amen” (Rom. 15:33).

In hoofstuk 16 volg dan met ‘n aantal persoonlike groeteboodskappe.

Vir die skryf van die Romeinebrief het Paulus van ‘n skrywer, ‘n skriba, gebruik gemaak.

Iemand met die naam Tertius, sien hoofstuk 16:22.

Maar Paulus sluit die brief af deur met sy eie hand nog ‘n aantal groeteboodskappe op te skryf.

 

Maar voordat die groeteboodskappe begin, is daar eers nog ‘n persoon wat spesiaal aanbeveel word: Febe.

Febe was ‘n vrou afkomstig uit Kenchreë, ‘n voorstad ten ooste van Korinthe aan die see, waar die hawe geleë was.

Baie internasionale skeepvaart het verby Kenchreë gevaar.

Paulus beveel Febe by die gemeente te Rome aan, want sy was op pad om na Rome te reis, en na alle waarskynlikheid het sy die Romeinebrief persoonlik vir hierdie gemeente saamgeneem.

Nie dat dit die enigste rede was hoekom sy na Rome gereis het nie.

Sy was reeds van plan om daarheen te reis, en dus kon sy die brief saamneem.

Hoekom sy Rome toe gereis het, is nie presies bekend nie.

In vers 2 word sy ‘n beskermster genoem.

Die Griekse woord dui daarop dat sy moontlik bemiddeld was, en sommige mense dus finansieel ondersteun het.

In Engelse vertalings word die woord “patron” gebruik.

Beskermster dus ook in finansiële sin, vers 2: “Want sy was vir baie ‘n beskermster en ook vir my.”

Paulus is dus ook deur haar finansieel ondersteun.

 

Daar bestaan soms die idee deesdae dat vroue in die algemeen vroeër slegs agtergesteld en onderdruk was.

Maar wie werklik bronne uit vroeër tye lees, sal agterkom dat hierdie hedendaagse persepsie nie histories korrek is nie.

Net soos vandag was die samelewing vroeër ook kompleks.

Daar was natuurlik voorvalle waar vroue onderdruk is, maar die omgekeerde was seker ook waar in ander gevalle.

Ook vroeër was daar vroue wat selfstandige sakevroue was, dink aan iemand soos Lydia die purperverkoopster.

Ook vroeër was daar vroue wat invloedryke politieke posisies beklee het, tot koningin toe.

En dit het dus ook voorgekom dat daar vroue soos Febe was, wat finansieel bemiddeld was, wat self besluit het waarvoor sy haar kapitaal wou aanwend, en wat self ook selfstandig verre reise kon onderneem.

Moontlik het sy vir sakedoeleindes na Rome gereis, moontlik vir familie, ons weet nie presies nie.

 

In elk geval word sy hartlik deur Paulus by die broers en susters in Rome aanbeveel.

Paulus gee ook ‘n goeie getuienis, ‘n goeie attestaat oor haar.

Sy is ‘n dienares van die gemeente in Kenchreë.

Ontvang haar daarom in die Here, soos dit die heiliges betaam.

 

Nou hierdie woord dienares is die vertaling van die Griekse woord diakonos.

En dit het sommiges daartoe gebring om te argumenteer dat hierdie Griekse woord eerder met diaken vertaal moet word, met dan as konklusie, sien jy, vroeër in die Bybelse tyd was daar wel vroulike diakens, want Febe was ‘n diaken, ‘n diakones van die gemeente in Kenchreë.

 

Nou voordat ons na hierdie konklusie spring, kom ons kyk bietjie nader na hierdie Griekse woord diakonos.

Die Griekse woord diakonos word in die Nuwe Testament in verskillende kontekste gebruik.

In die meeste gevalle het dit ‘n algemene betekenis, wat nie op ‘n amp dui nie.

In Mattheüs 20:26 sê Jesus byvoorbeeld: “maar so moet dit onder julle nie wees nie; maar elkeen wat onder julle groot wil word, moet julle dianaar wees.”

Jesus gebruik hier die woord diakonos.

Ons almal moet ‘n diakonos wees, iemand wat bereid is om te dien.

Ook in Mattheüs 22:13 vind ons die woord diakonos: “Toe sê die koning vir sy dienaars: Bind sy hande en voete, neem hom weg ...”

Hier dui die woord diakonos dus op die bediendes van die koning.

In Romeine 15:8 word Christus self ‘n diakonos genoem, nie in die amptelike sin nie, maar in die algemene sin:

“En ek sê dat Jesus Christus ‘n dienaar geword het ...”

Hy het na die aarde gekom nie om te heers nie, maar om te dien.

Van die meer as 30 keer wat die woord diakonos in die Nuwe Testament voorkom, verwys dit in die verre meerderheid van die gevalle na ‘n dienaar, ‘n bediende, ‘n dienskneg in die algemeen.

Daar is slegs vier plekke in die Bybel waar die woord spesifiek vir die besondere amp van diaken gebruik word – naamlik Filippense 1:1, en 1 Timotheüs 3:8,12 en 13.

 

Hoekom noem ek dit?

Ek noem dit om te verduidelik dat dit verkeerd is om te redeneer dat as daar in die Griekse oorspronklike teks die woord diakonos staan, dit altyd met diaken vertaal moet word, verwysende na die besondere amp.

In die meeste gevalle verwys hierdie woord in die Nuwe Testament dus nie na die diakenamp nie.

Dit is daarom dus ook ‘n denkfout om op grond van hierdie woord te konkludeer dat Febe ‘n diaken, oftewel diakones, was.

Net die woord diakonos gee nog nie uitsluitsel daaroor nie.

Ons sal ook na die konteks en die res van die Skrif moet kyk.

 

Kom ons neem vir ‘n oomblik ‘n teks waar hierdie woord wel na die diakenamp as sulks verwys.

In Filippense 1:1 lees ons: “aan al die heiliges in Christus Jesus wat in Filippi is, saam met die opsieners en diakens”.

In kombinasie met die woord opsieners – ‘n ander woord vir ouderlinge – is dit in hierdie vers duidelik dat dit wel oor ‘n spesiale amp gaan, as die woord diakonos gebruik word.

In ons teks, Romeine 16:1, maak die konteks egter nie duidelik dat met die woord diakonos hier die spesiale diakenamp bedoel word nie.

As ons dan ook die res van die Nuwe Testament in ag neem, lyk dit nog onwaarskynliker.

Want nêrens anders in die Nuwe Testament lees ons oor vroulike diakens nie.

In Handelinge 6, waar die eerste diakens bevestig is, was dit 7 broeders.

Daar staan eksplisiet in Handelinge 6:3: “Kyk dan uit, broeders, na sewe manne uit julle ...”

En in 1 Timotheüs 3, waar Paulus vereistes neerlê vir wie in die amp van ouderling en diaken kan dien, ook daar gaan dit oor broeders.

Dus sowel die konteks as die res van die Nuwe Testament ondersteun nie die lesing asof Febe ‘n suster in die spesiale diakenamp was nie.

 

Nou as Febe nie ‘n diakones was nie, wat was sy dan wel?

Ons kan begin deur daarop te wys dat ons teks in ons vertaling korrek vertaal is.

Sy was ‘n dienares.

Net soos alle ander gemeentelede, net soos dit oor Paulus gesê word, net soos dit oor Christus self geskryf is, was sy ook ‘n dienares van haar mede geloofsgenote.

Dit is des te meer treffend dat dit van Febe genoem word, juis omdat sy ‘n welvarende vrou was.

Met haar invloedryke posisie en al haar middele het sy juis die gemeente en die voortgang van die Evangelie gedien.

Haar invloedryke posisie en finansiële middele het haar nie hoogmoedig en onbetrokke gemaak nie, maar juis diensbaar.

Sy het selfs vir Paulus finansieel ondersteun.

‘n Pragtige getuienis oor haar.

 

Nou sal sommiges vra: As Febe soveel mense diakonaal ondersteun het, hoekom was sy nie ‘n diaken nie?

Dit bring ons by ‘n beginsel wat ons ook al eerder hierdie jaar behandel het in die kader van ons jaartema.

En dit is die feit, die beginsel dat elke gemeentelid, man of vrou, oud of jonk, ryk of arm, elke gemeentelid ‘n diakonale taak het.

Onthou, diakonaal beteken eenvoudig om dienend te wees.

Maar al het elkeen van ons ‘n diakonale taak, maak dit nog nie van ons almal diakens nie.

In ons gemeente is daar tans slegs vier broeders wat ons diakens noem.

Aan hulle is die leiding in die diakonale sake van ons gemeente toevertrou.

As jy ‘n ryk persoon is, en jy gee finansiële hulp aan verskillende mense, dan maak dit nog nie van jou ‘n diaken nie.

Iemand word eers ‘n diaken as hy in hierdie besondere amp bevestig word, soos in die Bybel waar dit met handoplegging gebeur het.

Handoplegging – iets wat ons eintlik nog steeds behoort te doen, as ouderlinge en diakens bevestig word.

En hulle wat in die diakenamp bevestig word, hulle moet aan spesifieke vereistes voldoen – 1 Timotheüs 3.

 

Om saam te vat.

Febe was ‘n persoon met ‘n diakonale hart, ‘n dienende hart.

In ons teks word sy hartlik aanbeveel by die gemeente van Rome.

Die gemeente in Rome word opgeroep om haar in alle opsigte by te staan.

 

Wat kan ons uit ons teks leer, gemeente?

Nie dus dat ons nou susters as diakens moet begin bevestig nie.

Die feit dat sommige kerke daartoe oorgegaan het om ook vroulike diakens te hê, berus nie op ‘n korrekte eksegese van die Bybel nie.

Dit gebeur eerder onder die invloed van die emansipasiegolf wat deur die samelewing trek.

Die tydsgees probeer dit in ons koppe inpraat dat dit wat in die Bybel staan, uit ‘n totaal ander tyd kom, en dat dit daarom nie meer van toepassing op vandag kan wees nie.

Dat vandag se samelewing so anders is as vroeër, dat dit wat in die Bybel staan, nie meer direk op vandag toegepas kan word nie.

Dat die 21ste eeu eintlik buite die bereik van die Bybel val.

Laat ons as Gereformeerdes daarvoor waak dat ons nie so oor die Bybel begin dink nie.

Dat die Bybel eintlik nie meer toepasbaar op vandag sou wees nie.

Dit is essensieel dat ons ons hart en verstand bly oopstel vir dit wat uit die Bybel na ons toekom.

Die Bybel is en bly God se Woord!

En God regeer ook oor die 21ste eeu!

Een van die grootste swakhede van ons tyd is dat ons onsself as superieur, as beter, as die verlede beskou.

Met al die tegnologiese vooruitgang begin mense deesdae te dink dat hulle in alle opsigte beter is as mense in die verlede.

Meer nog, dat hulle beter as God is.

Laat ons as gelowiges ligloop vir hierdie uitermate hoogmoedige tydsgees.

 

Maar wat ons wel uit die teks kan leer, is om Febe se ingesteldheid na te volg.

Die vrugte van die Gees was in haar lewe aanwesig.

Sy het bekend gestaan vir haar mededeelsaamheid.

Met die materiële gawes waarmee sy geseënd was, het sy die voortgang van die Evangelie bevorder, onder andere deur Paulus finansieel te ondersteun.

Haar posisie as ‘n invloedryke vrou, wat selfstandig internasionale reise kon onderneem, het sy ook gebruik in diens van die Evangelie, deur byvoorbeeld Paulus se brief wat hy vir die Romeine geskryf het, saam te neem uit Korinthe na Rome.

Sy het haar dienswerk soos ‘n goeie vrou, ja soos ‘n goeie dienares van die gemeente en van Christus vervul.

Daarom word sy hoog aangeprys deur die apostel. 

Mag sy daarin ‘n voorbeeld wees vir alle vroue om waardige dienaresse van Christus te wees.

 

So mag elke gemeentelid vandag ook in sy of haar omstandighede dienend lewe, tot opbou van Christus se kerk en koninkryk.

Daar is vroue in ons gemeente wat getroud is en kinders het, en daarin ‘n belangrike lewensvervulling en taak vind.

Daar is vroue in ons gemeente wat nie getroud is nie, maar wat ander werk verrig en moontlik invloedryke posisies in die samelewing beklee.

Ook hulle mag, soos Febe, die voortgang van die Evangelie dien met hulle tyd en gawes, en vanuit hulle posisie.

 

Ons teks handel dus nie oor die diakenamp as sulks nie.

Ons teks handel wel deeglik oor die diakonale opdrag vir elke gemeentelid, sowel manlik as vroulik, in die algemeen.

Ons teks roep ons op, met die voorbeeld van Febe, om ‘n diakonale gemeente te wees.

Net soos Paulus die gemeente van Rome opgeroep het om ‘n diakonale gemeente te wees, om Febe gasvry te ontvang, en om haar by te staan in elke saak waarin sy hulle nodig mog hê.

 

Ons tema lui: Christus skenk dienaresse aan sy kerk.

Mag ons gemeente ook geseënd wees met vroue soos Febe.

Vroeër was Febe nie die enigste diensbare vrou nie.

In Romeine 16 noem Paulus verskillende gelowige vroue:

Vroue soos Priscilla, Maria, Trifena, Trifosa, Persis, en Julia.

En ook in ons tyd skenk Christus diensbare vroue aan sy gemeentes.

Toe ek hierdie preek gemaak het, het Febe my laat dink aan twee susters wat 70 jaar gelede aan die wieg gestaan het van die Vrye Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika.

Die ouer lidmate sal hulle dalk nog onthou, die twee susters Van der Mark.

Hulle was van die allereerste gemeentelede, toe die kerk hier in Pretoria geïnstitueer is.

Al het hulle nie in die amp gedien nie, ook nie in die diakenamp nie, het hulle ‘n onmisbare rol in die gemeente gespeel.

Sonder hulle sou die jong gemeente nie oorleef en gegroei het nie.

Hulle het letterlik aan die wieg van die VGK gestaan.

Net soos Lydia die purperverkoopster aan die wieg van die gemeente van Filippi gestaan het.

Wat ‘n voorreg dat Christus deur alle eeue sulke vroue aan sy gemeentes skenk.

 

Amen.

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 146:1-3

Wet

Ps 86:2,4,6

Gebed

Skriflesing: Romeine 16

Sb 35:1-3

Teks: Romeine 16:1-2

Preek

Sb 16:1,3,5,6

Gebed

Kollekte

Ps 146:6-8

Seën