Die geheim van die uitverkiesing is God se genade in Jesus Christus

Minister: 
Ds DM Boersma
Church: 
Pretoria
Date: 
2020-10-11
Text: 
Efésiërs 1: 4-6
Reference: 
Serie: Efésebrief #2
Preek Inhoud: 

Bybelgedeelte:

“GESEËND is die God en Vader van onse Here Jesus Christus wat ons geseën het met alle geestelike seëninge in die hemele in Christus, 
soos Hy ons in Hom uitverkies het voor die grondlegging van die wêreld om heilig en sonder gebrek voor Hom in liefde te wees, 
deurdat Hy ons voorbeskik het om ons as sy kinders vir Homself aan te neem deur Jesus Christus, na die welbehae van sy wil, tot lof van die heerlikheid van sy genade waarmee Hy ons begenadig het in die Geliefde.” (Ef1:4–6) 

Inleiding

In die eerste preek (oor v3) het ek gesê dat dit besonders is dat die hoofstuk oor die leer van die uitverkiesing begin met ‘n loflied.

Dit is die houding waarmee jy jou redding moet benader. God is goed. God is genadig. Hy stort die seëninge van Christus oor sy gemeente uit. Almal wat in Jesus glo, ontvang dit en daarmee kom blydskap. Loof hom!

Paulus se lofprysing help jou om te voorkom dat jy in die slaggat trap dat jy jou redding hanteer as ’n leerstuk (die leer van die uitverkiesing) wat net verskille en moeilike diskussies oplewer.

Paulus stuur nie ’n hoofstuk uit ’n teologiese handboek vir die gemeente nie. Hy skryf ’n brief vir christene wat uit die Jode en heidene afkomstig is. Met hierdie brief wil hy verwondering en dankbaarheid in hulle harte wek.

Hy kyk saam met hulle terug: kyk, julle is gelowiges – en hoe het dit nou gebeur? Wie moet julle nou daarvoor bedank: julle self? Die apostele? Die wet van Moses? Nee! Alle eer is vir God – vrygewig gee hy hierdie genadegeskenk.

Begin by die lof op God. Hy gee hierdie seëninge in Christus.
En as jy by hom begin, kry jy die sleutel om die geheim van die uitverkiesing te verstaan.

Die geheim van die uitverkiesing is God se genade in Jesus Christus

  1. Hy het jou uitgekies
  2. Heilig leef is moontlik
  3. Leer die loflied.

1. Hy het ons uitgekies

“soos Hy ons in Hom uitverkies het voor die grondlegging van die wêreld om heilig en sonder gebrek voor Hom in liefde te wees,…”

1.1    Uitgekies: Abraham!

Paulus begin nou vertel watter seëninge God vir ons gegee het in Christus. 

Hy skryf vir christene in Efese: afkomstig van Jode en heidene.
Vir die Jode was die woorde ‘God het julle uitgekies’ vertroude klanke.
God het dit dikwels in die Ou Testament vir sy volk gesê: ek het julle uitgekies, ek het julle geroep, julle behoort aan my.

God het met Abram begin. geroep en uitgekies:
Gen18,19: “Want Ek het hom verkies, dat hy aan sy kinders en sy huis ná hom bevel sou gee dat hulle die weg van die HERE moet hou om geregtigheid en reg te doen; sodat die HERE oor Abraham kan bring wat Hy oor hom gespreek het.”

God het dieselfde gesê vir Israel, die nakomelinge van Jakob, Abraham se kleinseun:
In Deut 7,6: “Want jy is ’n volk heilig aan die HERE jou God; jou het die HERE jou God uitverkies om uit al die volke wat op die aarde is, sy eiendomsvolk te wees.” 

Abraham se kinders en kleinkinders het gedeel in dieselfde roeping en belofte en ontvang die seën van Abraham as hulle glo.

1.2    Hoekom? Was hulle beter, veelbelowend?

Hoekom het God vir Abraham en die Joodse volk uitgekies?
Was hulle beter?
Het God dalk hulle edelmoedige harte raakgesien en daarom iets van hulle verwag?
Was hulle sterker, indrukwekkender as ander volke?

Dis nou presies die vraag wat God in Deut 7 beantwoord:
Deut 7,7-8: “Die Here het ’n welgevalle aan julle gehad en julle uitverkies, nie omdat julle meer was as al die ander volke nie, want julle was die geringste van al die volke. Maar omdat die Here julle liefgehad en die eed gehou het wat Hy vir julle vaders gesweer het, het die Here julle met ’n sterke hand uitgelei en jou uit die slawehuis, uit die hand van Farao, die koning van Egipte, verlos.”

Die uitverkiesing berus dus nie op iets in die volk nie, maar net op God se vrye keuse om hulle lief te hê.

1.3    Voorvader

Israel het begin en dink dat God hulle gekies het omdat hulle spesiaal was. Hulle het met veragting neergekyk op díe wat nie Joods was nie.

Maar hulle afkoms en karakter was nie goed nie.

Hulle voorvader was ’n afgodedienaar gewees! In Josua 24,15 lees ons dat Abraham saam met sy pa afgode vereer het (“die gode wat julle vaders daar oorkant die Eufraat gedien het”) . 

Dis nou nie ’n impressive stamboom nie!

En dink net: toe God Abram geroep het, het die volk Israel nie eers bestaan nie. God het hulle in die lewe geroep. Die volk Israel het ontstaan as gevolg van God se seën vir Abraham.

En gaan lees die geskiedenis van die aartsvaders en van die volk Israel. Die OT gebruik nie ’n wit kwas om alles mooi te laat lyk nie. Dit is nie is soos die geskiedenisboeke en inskripsies van die andere volke in die Midde Ooste nie. Daardie volke het die oorwinnings van die koning opgehemel en alles net mooi laat lyk.

Die OT daarenteen is nogal ’n beskamende boek: Abraham se leuens en Sara se ongeloof word eerlik beskryf. Simeon en Levi se moordparty, Juda se seksuele misstappe, koning David... nou ja, ek hou maar op. Alles is daar.

Hoekom?

Sodat ons sou raaksien dat God se keuse vir Abraham en Israel net uit sy eie liefde voortgekom het. Sy verkiesende liefde soek nie mense wat waardig is nie en vind geen rede in die mens nie, maar net in homself.

1.4    Heidenchristene ook!

En nou, in die Efesebrief skryf Paulus vir Jode en heidene dieselfde woorde:
“God het ons in Christus uitverkies”
“voor die grondlegging van die wêreld om heilig en sonder gebrek voor Hom in liefde te wees, deurdat Hy ons voorbeskik het om ons as sy kinders vir Homself aan te neem deur Jesus Christus, na die welbehae van sy wil, tot lof van die heerlikheid van sy genade waarmee Hy ons begenadig het in die Geliefde.”
(Efésiërs 1:4–6) 
“Voor die grondlegging van die wêreld”: voordat God die lig geroep en gemaak het, die bome begin swaai in die wind, die diere begin en beweeg, en voordat Adam en Eva in die tuin van Eden gewoon het, het God reeds ’n volk gekies.
Ook in die tyd van Abraham en die Joodse volk het God reeds beplan om ook die heidenvolke te roep. Ook uit daardie volke het God mense gekies.

Paulus skryf hier opsetlik ‘ons’: “God het ons in Christus uitverkies.”
Dit is Jode en Grieke en Parte en Babiloniërs, en Indiërs en Suid-Afrikaners.
Hy skryf hierdie brief vol verbasing en verwondering vertel Paulus van die wonderlike nuus dat ook christene uit die heidenvolke uitgekies is.

1.5    Effek

“God het ons in Christus uitverkies voor die grondlegging van die wêreld om heilig en sonder gebrek voor Hom in liefde te wees,”

Laat daardie woorde net insink.
Dit maak ons klein en dit gee hoop.
Voordat ons ook maar iets goeds kon doen het God reeds die besluit geneem. En omdat die mensheid in sonde geval het, het God ons in Christus uitverkies: hy is die middelaar. Deur sy volkome gehoorsaamheid reinig hy ons van ons sondes.

Ons kan maar by die lang tou van sondaars aansluit: ons is ook sondaars en leef net uit genade.
God het ons nie gekies omdat ons beter was as ons bure nie, of omdat hy meer met ons kan regkry as met mense waarop jy neerkyk.

Ons moet daaraan herinner word. Sodra ons ons lewe vergelyk met mense wat slegte dinge doen, kruip daar sommer ’n gevoel van trots en eiewaarde in ons hart in. Maar ek maak nie so nie....: korrupsie, leuens, bedrog, seksuele ongebondenheid – ek doen dit nie, of ... dit is verwaarloosbaar klein. Dit tel nie...

God het sondaars uitgekies met die doel “om heilig en sonder gebrek voor Hom in liefde te wees”, en nie omdat ons al klaar heilig en perfek was nie!

So sny die uitverkiesing ons selfbeeld in klein stukkies – ons was nie vir God aantreklik nie – en rig ons dan weer op: ons het hoop op ’n nuwe toekoms: Hy gaan ons “heilig en sonder gebrek” maak.

Almal wat eerlik in die spieël kyk en erken hoe verlore en magteloos hy is vanweë die sonde, kry teselfdertyd die goeie nuus van die redding in Christus. En daardie redding is holisties: dit verander jou hele persoon.

2. Heilig leef is moontlik

Watter verskil maak dit nou, dat God ons uitgekies het?

Die probleem met die woorde “heilig en sonder gebrek” is, dat solank ons sondaars bly, ons nie daarvan hou nie. Dit klink nie aantreklik as jy ’n natuurlike en nie ’n geestelike lewenshouding het nie.

Ek onthou ’n gesprek met ’n jong man wat nog nie hom wou bekeer nie. “Ek wil eers my lewe geniet, en eers daarna Jesus volg” het hy gesê. 

Hy het raakgesien dat dit nodig was dat sy lewe sou verander as hy Christus sou volg; jy kan nie net so aangaan nie. Maar… die sonde in hom het sy denke só beheers dat ’n heilige lewe vir hom nie aantreklik was nie. Hy het gehou van die begeertes wat hy toe nog gevolg het.

Dis wat sonde doen: dit verander jou verlangens en jou waardes. Die lewe met God lyk dan saai en sonder blydskap.

2.1    Heiliging in Hom

God het ’n doel met die uitverkiesing. Almal wat hy van die sonde red, maak hy heilig. Hy sny die toue waarmee die sonde jou gevange hou, ook in jou denke, deur. Hy verbreek die kettings van slawerny. Hy bevry jou hart en jou denke van die oorheersing deur die sonde.

Die evangelie is dan ook ’n pragtige uitnodiging: kom met jou gebrokenheid na Christus toe! Geen sonde is te groot nie. Sy bloed was dit weg. Geen ketting van afhankelikheid en slawerny is te sterk vir Jesus nie. Sy Gees maak jou nuut en bevry jou.

Watter gebrokenheid daar ook al is in jou lewe – dalk het verhoudings stukkend gegaan of vriendskappe nooit uitgewerk nie; dalk het mense vertroue in jou verloor en voel jy soos ’n mislukking; of jy het mense van jou vervreem omdat jy onvriendelik of strydlustig is

Dalk kyk jy na jou lewe en treur jy oor die gebrokenheid, veroorsaak deur jou sonde en / of die sonde van ’n ander. Jy sien net skerwe, en nie meer die fyn glasvaas wat so pragtig was nie.
Hoe kan hierdie stukke ooit weer reggemaak en mooi gemaak word?

Jesus vat daardie gebreekte lewens van ons en maak iets nuuts, iets moois daarvan. God het ons uitgekies in hom om heilig en sonder gebrek te wees.
Dit is moontlik!

2.2    Wat is ’n heilige lewe eintlik?

Dalk het jy tot nou toe ’n skewe beeld van heiliging en heiliges gehad.
Hoe lyk dit?

Heiliges / saints: met bewondering kan ons kyk na mense wat hul hele lewe in kloosters leef, dra ’n eenvoudige kleding, hulle het geen aardse besit nie, heeldag met die Bybel besig is (vertaling, oorskryf, studie). 

Is dit wat God bedoel met ’n heilige lewe? Moet jy jou dan uit die wêreld terugtrek en jou afsonder?

Maar wat moet ek dan maak in my  gesin, by my werk? Hoe kan ek daar heilig lewe?
“Heilig en onberispelik (vlekkeloos, sonder gebrek)” – voel dit vir jou soos ’n swaar gewig wat om jou nek hang, jou neerdruk, of verwurg? Hoe kry jy dit reg?

2.3    Moenie jou eie ding doen nie

Luister mooi. Hierdie is evangelie. Dis goeie nuus oor Christus en wat hy vir jou en in jou doen.

Dit is nie jy wat dit nou op jou eie gaan doen nie!

Jy kan dit nie regkry nie. Jou arms is te kort, die skerwe teveel en te klein. Wat jy ook probeer om jouself te verbeter, jy maak die mess net groter!

Moenie dink dat God net stap nr 1 vir jou doen (vergewing) en dat jy nou jou sokkies moet optrek om die volgende stap self te kan doen nie. Die bedoeling is nie dat jy nou baie moeite gaan doen om te probeer vir Jesus te wys hoe dankbaar jy is nie.

Ons moet eers deur God vernuwe word.
Jesus se heiligheid word jou heiligheid. Hy is die bron van ’n heilige lewe.
God verander ons diep diep diep van binne.
“God het voorbeskik om ons as sy kinders vir Homself aan te neem deur Jesus Christus”

Elke kind van God ontvang die Gees van die kindskap, die Gees van aanneming. Hy laat gedurigdeur besef dat ons kinders van God is en ’n nuwe lewe ontvang het. Daardie nuwe lewe kom van Christus af, en is die bron van alle vernuwing wat nou gaan begin. Sy Gees doen dit in ons.

Hy verander ons denke. Hy begin met die opstandingskrag van Christus in ons werk. En nou hoor ons weer die gebooie van God: keer jou rug op die sonde, dien my uit liefde, laat jou gedagtes, jou verlangens en prioriteite verander sodat dit God behaag.

En daardie bevele is nie ’n las op ons nek nie. Die bevel is gerig aan ’n nuwe mens, ’n mens met ’n nuwe wil: ons wil dit graag. En ons kan dit deur die Gees van Christus.

3. Leer die loflied

Aan die einde van v. 6 is ons terug by die begin:
Paulus het begin met ’n lofprysing. En nou sê hy dat dit die hele doen van die uitverkiesing is:
"tot lof van die heerlikheid van sy genade waarmee Hy ons begenadig het in die Geliefde.”

Die uitverkiesing is dus nie ’n onderwerp om nou maar oor te debatteer nie.
Ja, dit is nodig om dit te bestudeer en dit ook teen dwaalleer te verdedig.
Maar ons moet nie begin en vashaak by diskussies nie.
God het ons uitverkies sodat ons hom sou prys.
Teologie (kennis van God) moet lei tot doksologie: prys God.

Baie mense wonder: hoekom laat God die kwaad toe? Hoekom is daar sonde in die wêreld? God kon dit tog in die paradys gekeer het?
God het mense van wie hy vooruit geweet het dat hulle sondaars sou word – voor die grondlegging van die wêreld in Christus uitgekies om deur hom gered te word en om heilig te wees. En die doel is: dat ons sal sing en leef tot “lof van die heerlikheid van sy genade waarmee Hy ons begenadig het in die Geliefde.”

  • Wanneer ons ons sondes bely en erken dat ons niks kan doen om onsself te red nie, en dan op Jesus vertrou, is dit tot lof van die van die heerlikheid van sy genade.
  • Wanneer ons bid en God as Vader aanroep deur die Gees van die aanneming, prys ons die heerlikheid van sy genade.
  • Wanneer ons klaagpsalme sing en uit die diepte van ons sonde en gebrokenheid na Jesus toe vlug, prys ons die heerlikheid van sy genade.
  • Wanneer ons Psalms en ander liedere sing om die diepte van genade van God in woorde uit te druk en te prys, dan dien ons ook hierdie doel.
  • Wanneer ons nie op ons eie krag vertrou en probeer iets vir God te doen nie, maar alles van Christus verwag en nederig vir hom leef, is dit ’n verwerkliking van die doel ‘tot lof van die heerlikheid van sy genade waarmee Hy ons begenadig het in die Geliefde.”

Leef uit Christus en leer die loflied.

Amen

Liturgie: 

Verwelkoming

Oproep om God te vereer

Seëngroet

Psalm 63:3.4

Gebed

Skriflesing:
Efésiërs 1

Skrifbereiming 24:4,6

Preek: Efésiërs 1:4-6

Psalm 30:3,8

Geloofsbelydenis (sing)

Gebed

Kollekte (na die diens)

Skrifbereiming 33

Seën