Jesus Christus is ons geregtigheid voor God

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Maranata
Date: 
2020-10-11
Text: 
Nederlandse Geloofsbelydenis Artikel 22-23
Preek Inhoud: 

Wat hou regverdiging deur die geloof in?

Daaroor handel artikel 22.

Art. 22 begin deur te benadruk dat dit van die Heilige Gees kom.

Hy laat ‘n opregte geloof in ons harte ontvlam.

Die geloof omhels Jesus Christus met al sy verdienstes.

Wat ‘n pragtige uitdrukking – omhels.

Dit is nie net verstandelik sonder gevoel nie.

‘n Mens omhels normaalweg net familie of vriende wat jy baie goed ken.

Jesus noem ons sy vriende.

Hy is ons groot Broer.

Ons omhels Hom en alles wat Hy vir ons gedoen het.

 

Vervolgens beklemtoon die NGB dat Christus se verdiense voldoende, oftewel genoegsaam is.

Om te probeer beweer dat dit nie heeltemal die geval is nie, is ‘n gruwelike Godslastering.

Kragtige woorde.

Verstaanbaar, in die konteks daardie tyd van die Roomse Katolieke leer van goeie werke.

Die NGB gaan egter terug na die Bybel en haal Romeine 3 aan.

Saam met Paulus sê ons dat ons deur die geloof alleen sonder werke geregverdig is (Rom 3:28).

Dit maak van die geloof self nog nie ‘n goeie werk nie, haas die NGB om daarby te voeg.

Jou geloof is slegs die middel.

Moenie van die middel ‘n goeie werk maak nie.

Die geloof is die middel waardeur ons Christus, ons Geregtigheid, omhels.

Die woord geregtigheid word hier as ‘n eienaam gebruik.

Baie kragtige uitdrukking.

As ons deur geloof toegang tot sy geregtigheid kry, is dit meer as genoeg om vryspraak te kry.

 

Artikel 23 van die NGB gaan verder hiermee, spesifiek deur nog na ‘n paar Bybelgedeeltes te verwys.

Daar word een Bybelskrywer uit die Ou, en een uit die Nuwe Testament by name genoem.

Dawid en Paulus.

Dink aan Dawid se bekende psalm, wat ons gesing het:

“Welsalig wie van skuld en straf onthewe,

die woord mag hoor: Jou sondes is vergewe.

Want God wat groot is in barmhartigheid,

het hom vergew’ en skeld die skuld hom kwyt.”

(Ps 32:1 – berymd).

En dan verwys die NGB na die hoofstuk wat ons gelees het, Romeine 3, waar Paulus beklemtoon dat ons verniet, dit wil sê uit genade, geregverdig is deur die verlossing in Jesus Christus.

Dit is die grondslag vir ons geloof waaraan ons vashou.

Ons roem nie in onsself of ons verdienste nie.

Ons maak slegs staat op die gehoorsaamheid van die gekruisigde Christus.

Dit is genoegsaam.

Dit gee ons vrymoedigheid om na God te gaan.

Ons hoef nie meer soos ons eerste vader, Adam, bewende van God weg te vlug nie.

 

Tema: Jesus Christus is ons geregtigheid voor God

1 Paulus se visie op die geregtigheid

2 Nuwe visie op Paulus

3 Nuwe visie op wat sonde is

 

1 Paulus se visie op die geregtigheid

Ons het vanaand ‘n baie belangrike hoofstuk gelees.

Die hartklop van die Evangelie vind ons hierin, naamlik ons regverdigmaking deur die geloof in Jesus Christus.

As ons die krag van hierdie hoofstuk tot ons wil laat deurdring, is dit belangrik om te begin by die historiese konteks.

Paulus het hierdie hoofstuk naamlik in die eerste plek aan die gelowiges wat in Rome was, geskryf.

Dit was vir ‘n groot deel gelowiges wat uit die heidendom gekom het, al was daar ook Joodse Christene by.

In die stad Rome was daar ‘n Joodse sinagoge.

Toe Paulus in Rome was, het hy met hierdie Jode gesprekke gevoer.

Sommiges het Christus as Messias erken, maar nie almal nie.

In die gemeente in Rome was daar baie vrae oor die posisie van die Jode, die posisie van die Tora –  die wet van Moses – en wat die funksie van Moses se wet in die nuwe bedeling moes wees.

Paulus maak duidelik dat daar ‘n era was waarin die lewende God ‘n spesiale pad met die Jode gestap het.

Die lig van God se regsorde het geskyn oor hierdie volk wat die wet van Moses ontvang het.

Maar, maak Paulus duidelik, nou vanaf Christus se koms, begin die lig van God se regsorde skyn ook oor mense wat nie die wet van Moses geken het nie.

Binne die eise van God se regsorde het daar nou die moontlikheid van vryspraak gekom deur geloof in Jesus Christus.

Hierdie vryspraak is nou universeel beskikbaar, nie meer deur middel van die Jode met hulle wet nie.

Deur geloof in Jesus Christus kan elke mens nou vryspraak ontvang van die regmatige aanklag van die wet.

Christus se dood is die betaling, die losgeld, vir elkeen wat in Hom glo.

God het self hierdie nuwe weg tot vryspraak geskep, waardeur elkeen nou uit genade deur God as regverdig aangeneem kan word.

Die feit dat God self hierdie nuwe weg tot vryspraak geskep het, benadruk Paulus in hierdie hoofstuk.

Christus is naamlik deur God self aangewys en deur Hom na die aarde gestuur.

God het self besluit om verdraagsaam te wees teenoor alle sondes wat in die verlede begaan is.

God het self besluit om nie kwaad met kwaad te vergeld nie.

God het self besluit om nou, in hierdie tyd, vryspraak beskikbaar te stel deur die geregtigheid wat sy Seun volbring het.

Hierdie geregtigheid wat God beskikbaar stel, is nie net juridies dat die straf nou afgewend is nie.

By die uitdrukking ‘God se geregtigheid’ moet ons verder kyk as net dit wat daar byvoorbeeld in ‘n Griekse woordeboek oor ‘geregtigheid’ staan.

Ons moet hierdie begrip verstaan in die konteks van die hele Ou Testament en wat daarin oor wie God is, geopenbaar is.

God se geregtigheid oorstyg die blote strafreg.

Dit gaan by God nie net oor vryspraak nie, maar sy doel is herskepping.

As Skepper en Koning is Hy van plan om sy skepping te herstel en nog glorieryker te maak.

Alles is dus uit en deur en tot Hom.

Hy is, soos Calvyn skryf, nie net die Een wat beoordeel of ‘n mens regverdig is nie, maar ook die Een wat die geregtigheid beskikbaar stel.

Hy is sowel Beoordelaar as Outeur van die geregtigheid.

Aan Hom kom toe die heerlikheid.

Alle roem in mense is uitgesluit.

 

Die Jode was trots op hulle uitverkore posisie.

En ook die heidene was trotse mense.

Die Romeine byvoorbeeld was trots op hulle volk, hulle was trots op die oorloë wat hulle gewen het, hulle was trots op hulle tempels.

Maar as dit by die Evangelie kom, dan pas geen roem, nòg vir ‘n Jood, nòg vir ‘n Romein, nòg besnede nòg onbesnede.

Vir beide geld een en dieselfde reël, naamlik dat hulle sonder verdienste uit geloof geregverdig word.

Beseffende hoe groot God se ontferming is, maak dit ‘n mens dankbaar en nederig.

God vra nederige vertroue, nie trots en eie geregtigheid nie.

 

Paulus sluit die hoofstuk af met die vraag of die wet van Moses dan nou maar in die asblik gegooi kan word.

“Maak ons dan die wet tot niet deur die geloof?”

Hierop gee hy ‘n besliste antwoord: “Nee, stellig nie!”

Hoe werk dit dan?

Dit maak sin as ons besef dat die wet van Moses, die Tora, nie net ‘n juridiese aaneenryging van wette is nie.

Die Tora is allereers ‘n verbondsboek, ‘n belofteboek.

Juis in die Tora is die koms van die Messias al aangekondig.

Dink aan al die seremoniële gebruike wat daarin voorgeskryf is, al die voorafskaduwings van die koms van ‘n Middelaar.

Die wet van Moses lê nie net die sonde bloot nie, dit wys ook die weg na versoening.

Die wet kla nie net aan nie, dit wys ook die pad na vryspraak.

 

Tot sover Paulus se argumentasie in hoofstuk 3.

Kort saamgevat, alle mense staan skuldig voor God.

In sy ontferming het God egter ‘n plan tot versoening gemaak.

En nou, in Christus, is hierdie versoening beskikbaar, nie net vir die Jode nie, maar ook vir die Grieke, vir elkeen wat maar net glo in Christus as Middelaar en Heiland.

Dit is, in kort, Paulus se visie op die regverdiging deur die geloof.

Alles is genade, vir die heiden maar net soveel vir die Jood!

Soos Calvyn skryf by Romeine 3: ‘n mens se gewete sal nooit rustig raak nie, tot dit rus vind in God se genade alleen.

 

(Tema: Jesus Christus is ons geregtigheid voor God

1 Paulus se visie op die geregtigheid)

 

2       Nuwe visie op Paulus

Nou is dit so, dat sedert ‘n paar dekades, daar in die teologie ‘n nuwe visie op Paulus ontwikkel het.

En in hierdie leerpreek is dit belangrik dat ons kortliks daaraan aandag skenk.

Daar is teenwoordig teoloë wat beweer dat ons as Gereformeerdes Paulus veel te veel deur die bril van Luther gelees het.

Vir Luther het die Evangelie oopgegaan, toe hy Romeine 1:16-17 begin verstaan het: “maar die regverdige sal uit die geloof lewe.”

Luther, saam met die Middeleeuse kerk, het gebuk gegaan onder die besef van sondeskuld voor die aangesig van ‘n toornige God.

Luther het geworstel met die vraag: Hoe kan ek regverdig in God se oë word?

Maar, soos ek genoem het, deesdae word daar beweer dat Luther vir Paulus verkeerd verstaan het.

Paulus se fokus sou nie soseer wees die sondelas van ‘n indiwidu in etiese opsig nie.

Paulus se fokus sou veel meer wees op die onderskeid tussen Jood en Griek.

En wat sondig was, is dat die Jode nie die heidene wou aanvaar as deel van God se volk nie.

Wat sondig was, is volgens hierdie teoloë dat die Jode mure gebou het rondom hulle identiteit, rondom hulle nasionale etnisiteit.

Die kern van die Evangelie is egter, volgens hierdie teoloë, dat alle mure afgebreek moet word.

Dat daar nie meer verskille tussen mense mag wees nie, dat daar nie meer uitsluiting mag wees nie, dat daar nie meer gediskrimineer mag word nie.

Hierdie sogenaamde non-diskriminasie-beginsel word dan as die kern van Paulus se evangelie gesien.

En hierdie non-diskriminasie-beginsel word dan ook op vandag toegepas.

Net soos Paulus die Jode ernstig opgeroep het om hulle diskriminasie teen, hulle uitsluiting van die heidene stop te sit, so word Christene vandag opgeroep om gekant te wees teen enige vorm van uitsluiting.

En hierdie kan dan op verskeie dinge toegepas word.

Christene mag nie etniese minderhede uitsluit nie.

Christene mag nie armes uitsluit nie.

Christene mag nie vroue uitsluit nie – dink aan die hele debat oor vrou in die amp.

Paulus se sogenaamde regverdigingsleer word dus as argument gebruik om vrou in die amp te bepleit.

Christene mag nie homoseksueles uitsluit nie.

Ensovoorts.

So kry die regverdigingsleer van Paulus ‘n totaal nuwe toepassing, en volgens hierdie teoloë was dit eintlik die oorspronklike bedoeling van Paulus.

 

As mens na liberale kerkgenootskappe in ons tyd kyk, dan is dit tipies dinge waarmee hulle besig is.

Hulle skenk baie aandag aan die opkom vir die regte van mense wat op een of ander manier deur die samelewing, of deur die kerk van die verlede, uitgesluit is.

Wie jy ook is, solank jy in Jesus glo, ja deur die geloof alleen, sal jy gered word.

As jy homoseksueel is, en jy leef dit uit, en jy wil saam nagmaal vier, wie het die reg om jou dit te belet?

Jesus se middelaarswerk hou in dat Hy alle teenstellings ophef, Hy bring versoening tussen alle groepe mense wat in die verlede teenoor mekaar was.

Selde hoor mens egter dat daar in hierdie liberale kerkgenootskappe nog erns gemaak word met die stryd teen die sonde, die woord sonde dan gedefinieer in terme van die 10 gebooie.

Dit is iets wat heeltemal op die agtergrond verdwyn het.

As kerkmense op Sondag arbeid verrig, en ander vir hulle laat werk, dit is heeltemal aanvaarbaar in sulke liberale kerke.

Hulle is skynbaar nie meer aan die vierde gebod gebind nie.

En moenie waag om daarop kritiek te hê nie, dan is jy wetties.

As mense ongetroud saamwoon – sonde teen die sewende gebod – in liberale kerke word nie ‘n ‘issue’ daarvan gemaak nie.

As iemand ‘n aborsie uitvoer, of as iemand kies vir ‘genadedood’, in liberale kerke word dit nie sonde teen die sesde gebod genoem nie.

Sonde in etiese sin begin steeds meer op die agtergrond verdwyn.

Die begrip sonde kry ‘n nuwe definisie.

Sonde is as jy ander uitsluit, net soos die Jode die heidene uitgesluit het, soos die Jode destyds van die heidene geëis het dat hulle eers besny moes word, en die Joodse voedselwette nakom, voordat hulle deel van die kerk mog word.

Siedaar dus, ‘n heel ander regverdigingsleer!

‘n Visie op die regverdiging wat totaal nie ooreenstem met wat hier in art. 22 en 23 van die NGB staan nie.

Op die NGB word dieselfde kritiek uitgebring as op Luther.

Hulle sou Paulus verkeerd verstaan het.

Paulus se visie op regverdiging sou anders gewees het.

 

Tot sover, gemeente, hierdie nuwe visie op Paulus.

En aan ons die vraag vanaand, in hierdie leerdiens, hoe interpreteer ons vir Paulus?

Het Luther en Guido de Brès Paulus werklik heeltemal misverstaan?

Wel gemeente, laat ons nugter daarna kyk.

Hierdie hedendaagse teoloë maak valse teenstellings.

Natuurlik is dit waar dat Paulus skryf oor die verhouding tussen Jode en heidene.

En dat die Joodse Christene vermaan word om nie die heidene uit te sluit nie.

Maar hierdie waarheid verander nog nie die regverdigingsleer nie.

Wat Paulus skryf, is heeltemal ingebed in die res van die Skrif.

Paulus skryf teen die agtergrond van die hele heilsgeskiedenis.

En dit bring ons by die derde punt:

 

(Tema: Jesus Christus is ons geregtigheid voor God

1 Paulus se visie op die geregtigheid

2 Nuwe visie op Paulus)

 

3       Nuwe visie op wat sonde is

Wat Paulus skryf, is ingebed in die heilsgeskiedenis.

Dat God naamlik vir die eerste mense, Adam en Eva, na sy beeld geskape het, sonder sonde (Gen 1-2).

Dat die mens in die regte verhouding met God kon leef, in liefde.

Maar dat Adam in sonde geval het.

En dat die Bybel baie duidelik daaroor is dat God toorn oor die sonde en soos Hy gewaarsku het, straf Hy dit met die dood (Gen 3).

Die mens kon nie die verhouding met God herstel nie en het skuldig voor God gebly.

Die offerwetgewing van die Ou Testament het God se volk steeds hieraan herinner:

Daar moet bloed vloei vir die sondes wat begaan is.

Terselfdertyd wys die offers van die Ou Testament na Christus se versoeningsoffer wat op koms was. Uit sy ondeurgrondelike liefde het God sy Seun gestuur om deur sy bloed, gestort aan die kruisoffer, in ons plek die skuld te betaal.

So het Hy die vredesgemeenskap tussen God en die mens weer moontlik gemaak.

Aan elke mens wat in Jesus Christus glo, word Christus se verdienste aan die kruis toegereken, asof hy self vir sy sonde betaal het.

In die regsaak tussen God en mens word die mens wat Christus se verdienste toeëien, vrygespreek sodat hy weer in ware gemeenskap met God kan leef.

Maar hulle wat Hom nie glo nie, sal in die oordeelsdag ewig veroordeel word.

 

Dit is die oorkoepelende boodskap, wat op so baie plekke in die Bybel na ons toekom.

Jesus het die skuld van ons sondes betaal deur sy offer aan die kruis.

Gelowiges word gered danksy sy bloed wat gevloei het.

Die verbinding tussen offer en plaasvervangende straf word duidelik deur die konteks van die Skrif uit meerdere tekste afgelei (Jesaja 53; Romeine 3:23-26; Galasiërs 3:13; 1 Petrus 1:19).

Regverdiging is die toesegging van God dat wie in Christus glo, voor God as vergewe staan, regverdig op grond van Christus se versoening.

Hierdie regverdiging is ‘n gawe van God.

As gevolg van die sondeval is dit inherent aan elke mens op aarde om ‘n neiging te hê tot wettisisme, eie geregtigheid en outonomie.

Die mens kom van nature in opstand teen sy Skepper en wil sonder Hom sy lewe leef.

Die Evangelie ontdek die mens aan hierdie ellende, en dryf hom na Christus toe.

Dit is die vrolike ruil vir sondaars: daar is voldoening deur sy genoegdoening.

 

Daarom moet enige nuwe perspektief op die regverdigingsleer wat afwyk van die sentrale fokus op Christus se genoegdoening aan die kruis vir die sondes, soos die Heilige Gees dit onder andere deur die apostel Paulus in die Skrif geopenbaar het, verwerp word.

En daarom beklemtoon en bely die kerk sedert die Reformasie God se regverdigheid en barmhartigheid in Christus (NGB art. 20),

die versoening deur Christus (NGB art 21),

die mens se regverdiging deur die geloof (NGB 22),

en die gelowige se geregtigheid voor God (NGB 23).

Dit alles stem in alle opsigte ooreen met wat die Skrif leer.

 

Hierdie sogenaamde nuwe perspektief wat voorgee dat die klassieke Reformatoriese regverdigingsleer ‘n vertekende beeld sou gee van wat – onder andere – die apostel Paulus geleer het, moet verwerp word.

Paulus se kritiek teen sy volksgenote in die algemeen en die Fariseërs in die besonder, was nie net gefokus op die afbreek van die tradisies wat die Jode van die heidene onderskei het – dinge soos die besnydenis, Sabbatsheiliging en voedselwette nie.

Die fokus was ook nie net op hul etniese houding van eksklusiwiteit nie.

Paulus het sy volksgenote veral gekritiseer vanweë hulle wettisisme of eie-werke-geregtigheid oor die hele etiese spektrum.

Daarteenoor het Paulus die onverdiende genade van God in die soenverdienste van Christus gestel.

    

Die wettisisme waarteen Paulus waarsku kan nie beperk word tot slegs etniese of sosiale eksklusivisme of uitsluiting nie.

Daarom verwerp ons ook die toepassing van hierdie sogenaamde nuwe perspektief op Paulus.

Dit is nie die Christelike kerk se taak in die hede om, net soos Paulus skynbaar gestry het teen alle grense en teen alle uitsluiting, dat die kerk vandag homself moet beywer vir die opheffing van alle grense nie.

Daar kan nie, op grond van die regverdigingsleer van die Skrif soos ook deur Paulus verwoord, gepleit word vir die opheffing van alle grense, soos byvoorbeeld die oopstel van die nagmaalstafel vir almal, die toelating van vroue tot die kerklike ampte of die toelating van homoseksueles tot die huwelik, om maar enkele voorbeelde te noem nie.

Dan maak ons van dit wat Paulus skryf, ‘n karikatuur.

Dan speel ons Paulus, en ook die res van die Skrif, teen homself uit.

Mag die Here al hierdie liberale Christene van teenwoordig genadig wees, en hulle terugbring na die klassieke leer van versoening deur voldoening, die geregtigheid van Christus, wat werklike sondes in terme van die 10 gebooie versoen, nie van dit wat die samelewing vandag kwansuis as sondig beskou nie.

 

Ek sluit af.

Die klassieke Bybelse regverdigingsleer breek alle menslike trots af.

Dit bring ons op die knieë, pleitende op God se genade.

Dit laat ons ons skuld eerlik erken, gemeet aan die maatstaf van God se wet.

Sy tien gebooie is vandag nog net so aktueel soos duisende jare gelede.

Die definisie vir wat sondig is, het nie verander nie.

Ons staan skuldig voor God se regterstoel.

Terselfdertyd weet ons dat ons kan pleit op grond van Christus se Middelaarswerk.

Ons roem in niemand anders nie as slegs in ons Heiland en Saligmaker.

Sy bloed het vir ons gevloei.

Sy lewe is geneem in ons plek.

En sy opstanding waarborg ons salige opstanding en ewige lewe.

“Ons het, o HEER, u wet weerstrewe,

genad’ is al waar ons op pleit:

gee ons in Christus nuwe lewe,

om dit te doen uit dankbaarheid.” (Sb 26:11)

Amen.

Liturgie: 

Votum (Ps 121:1)

Seën

Sb 26:1,2,11

Gebed

Skriflesing: Romeine 3:21-31

Ps 32:1,2

Teks: Nederlandse Geloofsbelydenis artikel 22-23

Preek

Ps 143:1,2,7,9

Gebed

Apostoliese Geloofsbelydenis (sing)

Kollekte

Ps 32:3,4,6

Seën