As jy die Heilige Gees ontvang het, is jy seker van die toekoms / erfenis

Minister: 
Ds DM Boersma
Church: 
Pretoria
Date: 
2020-09-06
Text: 
Efésiërs 1: 11 & 14
Reference: 
Serie: Efésebrief #6 (2031A)
Preek Inhoud: 

Bybelgedeelte (fokus op verse 11 en 14):

“in Hom in wie ons ’n erfdeel ontvang het nadat ons vantevore daartoe verordineer is ooreenkomstig die voorneme van Hom wat alles werk volgens die raad van sy wil, (12 sodat ons kan wees tot lof van sy heerlikheid, ons wat reeds tevore op Christus gehoop het, 13 in wie julle ook, (...) verseël is met die Heilige Gees van die belofte,) wat die onderpand is van ons erfdeel om sy eiendom te verlos tot lof van sy heerlikheid.”

Inleiding:

Die brief aan die kerk in die Efese (en dalk ook die kerke in die omgewing) begin op ’n baie mooi manier. Geen teregwysing of onderrig nie, maar ’n lofsang.

“My erfenis is vir my mooi” het David in Psalm 16 gesing (as hy Afrikaans sou gepraat het!). Paulus het reeds in v.10 die wye perspektief vir ons geskilder: alles sal sy eenheid vind in Jesus. Alles sal aan hom onderwerp word en sy betekenis kry / terug in hom.

En nou kyk hy ver in die toekoms.

Onthou, hy is in die tronk!

As jy die Heilige Gees ontvang het, is jy seker van die toekoms / erfenis

1 -    Kyk, hoe mooi is jou erfenis!
2 -    Die Gees van Jesus is self die waarborg
3 -    Kyk, dis wat ons verwag!

1    Kyk, hoe mooi is jou erfenis!

1.1    Hoekom glo jy?

Hoekom glo jy in Jesus en gaan jy kerk toe?

Dit is ’n vraag wat ons in die sending vir nuwe lidmate vra.

Dis ook goed vir almal van ons as ’n reality check. Hoekom glo ek eintlik? Om iets te ontvang? Redding? Sekerheid? Troos? Vrede?

‘Julle ontvang ’n erfenis’: dit is ’n bekende woord in die OT. Vir die Israeliet was die beloofde land die vervulling van Gods beloftes aan Abraham: bevryding uit Egipte, ’n eie land, met ’n eie regering, beskerming teen vyande: geweldig! Wat ’n seëninge! Dis presies wat die slawe in Egipte gesoek het, en vir die res van die OT was dit deel van hulle identiteit. Erfdeel was dus iets wat hulle reeds in besit gehad het. Elke stam, elke familie, en elke gesinshoof het ’n erfdeel in die beloofde land ontvang.

1.2    Meer as die land: gemeenskap met God

Maar God hou aan om die woord erfdeel te gebruik.

David sê in Psalm 16 heel duidelik dat die Here self sy erfdeel is:

Die HERE is die deel van my erfenis en van my beker; Ú onderhou my lot.”
(Psalm 16,5)

Die erfenis meer is dus meer as die land. Dit gaan oor die gemeenskap met God. En dit sal ewig duur.

1.3    Daarna: nuwe hemel en aarde in OT en NT

En die beloftes wat die profete gegee het, praat oor ’n erfenis wat groter is as ’n stuk land met ’n huis op en ’n wynstok en vyeboom om onder te sit.

Jesaja 2:2:
aan die einde van die dae sal die berg van die huis van die HERE vasstaan op die top van die berge en verhewe wees bo die heuwels, en al die nasies sal daarheen toestroom.

Jesaja 11 praat van die vrederyk: babas speel by die skuilplek van ’n giftige slang. Daar sal vrede wees op die heilige berg van God, en geen verderf meer nie. En die aarde sal vol wees van die kennis van God. Jesaja 65 gee selfs die beskrywing van ’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde!

1.4    Erfenis

in Hom in wie ons ook ’n erfdeel ontvang het nadat ons vantevore daartoe verordineer is ooreenkomstig die voorneme van Hom wat alles werk volgens die raad van sy wil,

Hoe ontvang jy ’n erfenis of erfdeel?
Daarvoor moet iemand sterwe.
Jesus het gekom en het aan die kruis gesterwe.
En, die beste nuus is nog: hy het nie dood gebly nie. Paulus verkondig die nuus van Jesus se opstanding. Dit, sê hy, is die groot verskil tussen hom en die Jode, dit is die kern van sy prediking: Jesus het opgestaan!
En daarom is daar nou verlossing vir almal wat glo.

Nou raak die verwagting van sy dissipels gespanne. Wat gebeur met die erfenis? Die erfenis is dus nou beskikbaar na die dood van Jesus, en Jesus het opgestaan. Gaan hulle dit dan dadelik na die opstanding ontvang? Hulle verstaan dat dit ook die begin van die koninkryk van God is.
Die dissipels het dit vir Jesus gevra in Handelinge 1: gaan u nou die koninkryk herstel?
Nee, eers stuur Jesus hulle uit met die boodskap van redding, tot die einde van die aarde. Dit moet oor die hele wêreld verkondig word.

1.5    ’n Nuwe verwagting

Uit Jesus se woorde blyk dat die erfenis nog uitstaande is. Hy praat van die koninkryk wat eers oor die hele wêreld  sal groei soos ’n mostersaadjie en soos suurdeeg. Dit het tyd nodig.
Hy vertel gelykenisse oor die oes en die laaste oordeel wat in die toekoms lê. Hy sal verheerlik word, hemel toegaan, en eers later terugkom. Dan eers, by die wederkoms, vind daar vergelding en beloning plaas.

Die erfenis wag dus nog vir ons.

1.6    Profesie: hoe werk dit? illustrasie

Dit kan moeilik vir ons wees om die belofte te verstaan.
Bring Jesus die vervulling, of nie?
Ons kan dit dalk beter verstaan as ons die beloftes van die erfenis vergelyk met ’n berglandskap wat jy van ver vanaf ’n bergtop bekyk.  Dit lyk asof al die bergtoppe en kranse reg agter mekaar lê, met min spasie daartussen. Maar dan begin jy na die berge toe ry, en kom jy agter die bergtoppe lê verder uit mekaar as wat jy gedink het! Hoe nader jy kom, hoe duideliker jy die afstand tussen die bergtoppe wat so naby aan mekaar gelyk het. Die afstand het die perspektief saamgedruk.

So is dit ook met die profesie.
God vervul dit in Christus, en dan is daar nuwe dieptes wat nog wag. Die erfenis van die nuwe hemel en nuwe aarde kom nie dadelik na die opstanding van Jesus nie.

Maak dit jou ongeduldig, of selfs moedeloos?
‘Ons sug, daar is geen oogbewys!’ sê een van die skrifberymings. Dit hou maar aan. Ons is nou reeds 2000 jaar na Jesus se opstanding! Hoe lank nog, Here?

Dis nou waar die onderpand vir ons belangrik is.

“hy is die onderpand van ons erfdeel om sy eiendom te verlos tot lof van sy heerlikheid.”
(Efésiers 1:14)

God het die Heilige Gees as onderpand gegee.

2    Die Gees van Jesus is self die waarborg (dat jy dit sal ontvang)

2.1    Beloof is beloof, maar…

Ons almal maak en kry beloftes:

‘Ek sal jou volgende week skakel’. ‘Volgende maand het ek weer geld. Dan sal ek jou dadelik betaal!’

Maar jy wag en dit bly uit…
Jy raak teleurgesteld.
En ek dink ons het almal seker ook beloftes gemaak wat ons nie gehou het nie. Om daarteen te beveilig, is depositos afgespreek: wanneer jy nie jou verpligtings nakom nie, verloor jy die geld wat jy inbetaal het.
Die deposito is dus ’n middel om die persoon wat leen, te dwing om te betaal of sy belofte te hou.

God is nie soos ons nie.
Alles wat hy beloof, gebeur.
Hy word nooit onkant gevang deur omstandighede nie, hy regeer oor alles en is in beheer. God se beloftes is veranker in sy karakter: hy is absoluut betroubaar en verander nooit nie (Jakobus 1,17 bv).

Vir God is die dus ook nie nodig dat hy ’n deposito betaal nie.
Maar hy doen dit tog!
Dit is vir ons. Sonde het ons oë blind gemaak vir God se goedheid en trou. Ons is swak en het lae verwagtings. Ons eers wil sien en dan glo.  God is so genadig, dat hy met ons swakheid rekening hou!

Daarom het hy die Heilige Gees as ’n onderpand, ’n waarborg. Wie die Heilige Gees ontvang het, weet virseker dat God alles wat hy beloof het, sal doen.
Daarom is dit dus belangrik dat ons die werk van die Gees in ons hart raaksien. Dan weet jy dat jy die onderpand ontvang het.

2.2    Hoe sien jy die Heilige Gees raak?

Nou, dis tog eenvoudig?
Tongetaal is ’n oortuigende bewys dat die Gees uitgestort is. Dis wat gebeur het op die Pinksterdag en ook by latere geleenthede. Hulle ontvang die Gees en praat in tonge.
Paulus kon dit gesê het: ‘Onthou julle nog die dag dat julle die Gees ontvang het? Dit is duidelik dat hy in julle woon. Julle praat mos elke dag tongetaal, en as daar iemand siek is, kan julle haar genees.’

Toe Paulus die tweede keer in Efese aangekom het (na ’n baie kort eerste besoek, en die prediking van Apollos), het hy ’n groepie mans ontmoet wat net die doop van Johannes ontvang het (Handelinge 19).
Toe ontvang hulle die Gees en begin in tongetaal praat.
In die gemeente van Efese was daar ’n groepie dissipels wat dus ’n kragtige ervaring van die Heilige Gees gehad het.

2.3    Tongetaal ’n tydelike teken

Maar luister mooi. Dis nou juis nie wat hy sê nie!
Tongetaal was ’n teken wat God in sekere tye gegee het om die groot verandering te wys, en om dadelik duidelik te maak dat sy Gees aan die werk is. Maar jy vind in die res van die NT baie min van tongetaal terug. Dit was beperk en tydelik. Pleks daarvan gebruik Paulus hierdie brief om vir hulle te wys alles wat hulle in Christus ontvang het. Geloof in Jesus is die duidelikste bewys dat jy die Gees van Jesus ontvang het.

2.4    Blywende bewyse van die Gees

Sy Gees verbind ons aan Christus. En sy daaglikse werk is om ons voortdurend te wys op wie Christus vir ons is en wat hy vir ons beteken. 
Moet dus nie vra ‘praat jy in tonge?’ nie. Vra ’n ander vraag: Woon die woord van Christus in jou? Glo jy in hom? Dit lei dan daartoe dat jy hom volg.
Dit is die aanhoudende werk van die Gees en die bewys dat hy in jou woon!

Die Gees van Christus woon in gelowiges en werk in hulle harte. En hy is die onderpand dat ons die erfenis sal ontvang.

3    Kyk, dis wat ons verwag!

3.1    Vervulling: nuwe Jerusalem

Laat ons tenslotte weer na die erfenis kyk.
Openbaring 21 en 22 gee vir ons ’n pragtige beskrywing van die totale erfenis, die uiteindelike toestand van gemeenskap met God.

Daar is water wat deur die stad stroom. Water van lewe, wat reg uit die troon van God en van die Lam stroom. Langs daardie rivier, in die hart van die stad, groei bome met vrugte wat genesing skenk, lewe gee.

Hier hoor ons die eggo van die paradys.
Daar het die boom van die lewe gestaan. Maar dit het vir ons onbereikbaar geword. Vanweë die sonde van Adam en Eva het God die hof toegemaak, om te voorkom dat hulle van die boom van die lewe sou eet.

In die nuwe Jerusalem is daardie boom weer bereikbaar!
Almal wat gered word uit die volke, kan die vrugte met hulle hand pluk!

Dit is die ewige lewe: na die vergewing van sondes volg die genesing van al sy skadelike gevolge van die sonde. Kyk na die kontraste in die beskrywing:

  • Daar is geen vervloeking meer nie, maar genesing
  • geen nag – God self sal hulle verlig. 
  • Die stad het die son of die maan nie nodig om in hom te skyn nie, want die heerlikheid van God het hom verlig, en die Lam is sy lamp.

3.2    Leef in verwagting

Die erfenis wat ons verwag, is soos ’n geskenk wat nog in die geskenkboks verpak is. Dit is nog nie uitgepak en sigbaar nie. Jesus het wel die vloek van die sonde vir ons weggeneem. Maar tot die dag van Jesus se terugkoms lê die skepping onder die vloek. Ons wag tot die oorwinning van Jesus volkome sal wees en die hele skepping bevry word!

Met die oog op daardie vervulling is dit nodig dat ons in die belofte glo. Om Jesus te volg beteken dat ons God vertrou, ook wanneer ons nie die vervulling sien nie. En die Heilige Gees werk in die gelowiges op so ’n manier, dat ons ons lewe hier op aarde leef in die lig van die koninkryk. Ons begin reken met die toekoms, want dit is gewaarborg.

Hou vas aan die belofte. Glo dit! Dit is seker. 
God los ons nie op ons eie nie. Hy het sy Heilige Gees gegee – Hy gee vir ons die geloof wat ons nodig het.
En hy is self ook die waarborg van die erfenis: die belofte van die ewige lewe.

Amen

Liturgie: 

Sing: Psalm 108: 1,2,4

Skriflesings:
Efésiërs 1:7-23
Openbaring 21:9 - 22:5

Sing: Psalm 111:1-2

Teks:
Efésiërs 1:11 & 14

Sing: Psalm 111:3-5

Sing: Skrifberyming 24:5-7