Die groot Belofteboek wat in Christus vervul word

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Maranata
Date: 
2020-09-06
Text: 
Nederlandse Geloofsbelydenis Artikel 17
Preek Inhoud: 

Ons goeie God …

Dit is ‘n uitdrukking wat ons meer as een keer in die NGB vind.

Dit is veral baie toepaslik by die onderwerp van hierdie artikel.

Artikel 17 beskryf God se reaksie op die sondeval.

Hy het die mens weer opgesoek, toe Hy gesien het dat die mens homself in die liggaamlike en geestelike dood gewerp het, ja geheel en al ellendig gemaak het, ja dat die mens al bewende van Hom weggevlug het.

Uit die feit dat God die mens desondanks opgesoek het, blyk hoe God is – sy uitnemende wysheid en goedheid.

God het die mens toe getroos met die belofte om aan hom sy Seun te gee as middle waardeur die mens weer salig kon word.

En dan verwys die NGB na twee Bybeltekste, een uit die Nuwe en een uit die Ou Testament.

Galasiërs 4:4, waar ons lees dat God sy Seun uitgestuur het om ‘n mens te word, gebore uit ‘n vrou, en dit in die volheid van die tyd.

En die teks uit die Ou Testament: Genesis 3:15, die bekende moederbelofte, waarin God reeds aangekondig het dat Hy vyandskap sal stel tussen die vroue- en die slangesaad, die nakomelinge van die vrou en die van die slang.

Uit die konteks van die hele Skrif word duidelik dat hierdie vers, Genesis 3:15, inderdaad die allereerste belofte van God na die sondeval is.

Daarom dat dit die naam moederbelofte gekry het, die moeder van alle verdere beloftes.

 

En ja, daar is nog baie meer beloftes in die Bybel.

Stappie vir stappie het God in die Ou Testament die aankoms van sy Seun op aarde voorberei.

Juis deur beloftes te gee, het Hy sy volk voorberei op wat Galasiërs 4:4 noem, die volheid van die tyd.

God het op verskeie maniere die koms van sy Seun na die aarde beloof.

In feite staan die hele Ou Testament in daardie lig.

Soos ons in die teologie dit noem: Die hermeneutiese sleutel tot die Ou Testament is Jesus Christus.

Slegs as ons die Ou Testament lees deur die bril van sy vervulling in Christus, verstaan ons werklik die Ou Testament.

Geen Ou Testamentiese hoofstuk kan meer buite Christus om uitgelê word nie.

Dit neem nie weg nie dat elke hoofstuk ook sy eie direkte historiese konteks gehad het.

Dit neem ook nie weg dat Oudtestamentiese profesieë verskillende vlakke of tydperke van vervulling beleef het nie.

Maar steeds word die diepste wese van elke hoofstuk in die Ou Testmant openbaar in Jesus Christus.

 

Tema: Die groot Belofteboek wat in Christus vervul word

  • Profetiese beloftes
  • Priesterlike beloftes
  • Koninklike beloftes

 

1 Profetiese beloftes

In die Ou Testament was daar aankondigings van die koms van die Messias wat woordeliks uitgespreek is.

Reeds aan Abraham het God beloof, dat in sy nageslag al die volke van die aarde geseën sal word (Gen. 12:3), ‘n belofte wat Hy aan die aartsvaders Isak en Jakob herhaal het (Gen. 28:14).

God het veral profete gebruik om sy beloftes aan die volk oor te dra.

Dink aan Miga, wat geprofeteer het dat ‘n Heerser uit Betlehem Efrata sal opkom (Miga 5:1).

‘n Profesie wat betekenis gehad het vir Miga se eie tyd, maar wat ook reeds deur God gegee is as aankondiging van Jesus se geboorte in Betlehem.

Die vervulling van hiedie teks in Christus is nie net ‘n herinterpretasie van die teks nie, dit is die diepste betekenis van hierdie teks.

Want God staan bo alle tye, Hy ken hede, verlede en toekoms.

Dit is Hy wat na die volheid van die tyd toegewerk het.

 

Dink ook aan die profeet Daniël, wat die volgende gesig van God ontvang het, en wat dit noukeurig opgeskryf het:

“Ek het gesien in die naggesigte, en kyk, met die wolke van die hemel het Een gekom soos die Seun van ‘n mens, en Hy het gekom tot by die Oue van dae, en hulle het Hom nader gebring voor Hom. En aan Hom is gegee heerskappy en eer en koningskap, en al die volke en nasies en tale het Hom vereer; sy heerskappy is ‘n ewige heerskappy wat nie sal vergaan nie, en sy koninkryk een wat nie vernietig sal word nie.” (Dan. 7:13-14)

Hierdie gesig was bedoel as troos vir God se volk in Daniël se tyd, ‘n tyd waarin hulle klein en magteloos was, en rondgestamp is deur die politieke grootmoëndhede van daardie tyd, soos die Babiloniërs, Meders en Perse, Grieke, en daarna die Romeine.

 

Ook die profeet Sagaria het die koms van Sion se Koning aangekondig, ‘n Koning wat totaal anders sou wees as alle ander aardse konings:

“Verheug jou grootliks, o dogter van Sion! Juig, o dogter van Jerusalem! Kyk, jou Koning kom na jou; regverdig en ‘n oorwinnaar is Hy; nederig en Hy ry op ‘n esel ...” (Sag. 9:9)

‘n Unieke eienskap van die messiaanse Koning word hier aangekondig.

Hoewel Hy oppermagtig sal wees, sal Hy nog steeds nederig en maklik toeganklik bly – verwysing na die esel.

 

Die profeet wat miskien wel die meeste profesieë oor die koms van die Messias oorgedra het, was seker Jesaja.

Profesieë wat stuk vir stuk ‘n juweel is, en almal in Christus vervul is.

Dink aan die bekende profesie in Jesaja 7:14: “Kyk, die maagd sal swanger word en ‘n seun baar en hom Immanuël noem.”

‘n Profesie wat in daardie dae vervul is in ‘n nuwe gesalfde koning, maar wat volledig vervul is toe Jesus uit die maagd Maria gebore is.

Dink ook aan Jesaja 9:5: “Want ‘n Kind is vir ons gebore, ‘n Seun is aan ons gegee; en die heerskappy is op sy skouer, en Hy word genoem: Wonderbaar, Raadsman, Sterke God, Ewige Vader, Vredevors”.

Hierdie titels is slegs toepaslik vir iemand wat ook God is, soos Jesus.

Dink ook aan Jesaja 35:5-6: “Dan sal die oë van die blindes geopen en die ore van die dowes ontsluit word. Dan sal die lamme spring soos ‘n takbok, en die tong van die stomme sal jubel …”

‘n Profesie wat in sy volledigheid in Christus se dienswerk op aarde vervul is (Matt. 15:31).

Dink ook aan Jesaja 40:3-4: “’n Stem van een wat roep: Berei in die woestyn die weg van die HERE, maak gelyk in die wildernis ‘n grootpad vir onse God! Elke dal moet opgevul en elke berg en heuwel klein gemaak word; en die bult moet ‘n gelykte en die rotsagtige plekke ‘n laagte word. En die heerlikheid van die HERE sal geopenbaar word …”

Dit is ‘n profesie wat eerstens dui op hoe die HERE sy volk uit ballingskap, op ‘n grootpad deur die woestyn, weer teruggebring het na die beloofde land.

Maar hierdie selfde profesie is nog veel indrukwekkender vervul in Christus, toe Hy op aarde verskyn het.

Dink verder aan Jesaja 42:1-4: “Daar is my Kneg wat Ek ondersteun, my Uitverkorene in wie my siel ‘n welbehae het. Ek het my Gees op Hom gelê; Hy sal die reg na die nasies uitbring. Hy sal nie skreeu of uitroep of sy stem op die straat laat hoor nie. Die geknakte riet sal Hy nie verbreek ...” en so gaan Jesaja verder. Ook noem hy: “totdat Hy die reg op aarde gegrond het het ... en die eilande wag op sy leer.”

‘n Pragtige profesie oor die Messias se koms, en wat Hy op aarde gaan kom doen.

Ja, die impak van sy leer sal reik tot by die eilande – ‘n verwysing na die uiteindes van die aarde.

 

Gemeente, ek hoop nie u is al moeg vir Jesaja nie, want hy het nog baie meer profesieë oor die Messias.

Ek noem net nog twee, al is daar nog veel meer:

Jesaja 53:3-4: “Hy was verag en deur die mense verlaat, ‘n man van smarte en bekend met krankheid ... Hy was verag en ons het Hom nie geag nie. Nogtans het Hy ons krankhede op Hom geneem, en ons smarte – die het Hy gedra ...”

Ek dink Jesaja en die mense van sy tyd sou gewonder het, wat die bedoeling van hierdie profesie was.

Deurgaans het hulle die koms van die Messias verwag as ‘n grootse en indrukwekkende gebeurtenis, en die Messias self as ‘n onoorwinbare seëvierende Koning.

Tog word in hierdie profesie ‘n kant van die Messias openbaar, wat ook waar was.

Juis die feit dat Hy ook na die aarde sou kom om te ly, om versoening te bewerkstellig, en dit ten koste van Homself.

Hierdie was ‘n profesie waar die mense van die Ou Testament dikwels vinnig oorheen gelees het, omdat dit nie met hulle verwagtings gestrook het nie.

Selfs die dissipels het eers agteraf besef hoe hierdie profesie in Christus vervul is.

 

Ek noem nog een profesie uit Jesaja, 61:1-2: “Die Gees van die Here HERE is op My, omdat die HERE My gesalf het om ‘n blye boodskap te bring aan die ootmoediges; Hy het My gestuur om te verbind die gebrokenes van hart, om vir die gevangenes ‘n vrylating uit te roep en vir die geboeides opening van die gevangenis; om uit te roep ‘n jaar van die welbehae van die HERE en ‘n dag van die wraak van ons God; om al die treurendes te troos”

Jesaja beskryf hier wat daar volgens die wet van Moses moes gebeur in die jubeljaar, ‘n jaar van welbehae, ‘n jaar van genade, ‘n jaar van nuwe kanse.

Al was die jubeljaar deel van die Mosaïese wetgewing, het dit in die Ou Testament nooit werklik gerealiseer nie.

Maar Jesaja kondig dus nou aan dat die Messias hierdie jaar wel sal laat aanbreek!

 

Tot sover het ons na verskillende profete gekyk, en hoe hulle Messiaanse beloftes namens die HERE mog oordra.

Tog is die koms van die Messias nie net deur profete in die Ou Testament aangekondig nie.

Daar was selfs geleenthede waar vyande, hulle wat God vyandig gesind was, die koms van die Messias aangekondig het.

Dink aan die waarsêer Bileam, wat deur Balak ingehuur is om God se volk te vervloek.

Bileam het op ‘n stadium agtergekom dat hy nie meer beheer oor sy eie mond het nie.

Deur sy mond het die HERE die volgende profesie laat uitspreek:

“Ek sien hom, maar nie nou nie, ek aanskou hom, maar nie naby nie: ‘n ster kom te voorskyn uit Jakob, en ‘n septer kom uit Israel op ...” (Num. 24:17)

‘n Ster en ‘n septer, dit was in die ou ooste aanduidings vir ‘n koning.

So is Christus se koms eeue gelede aangekondig, en later het dit ook so gebeur, toe die wyse manne uit die Ooste sy ster opgemerk het, die ster wat hulle na sy geboorteplek gelei het.

Ja ook hierdie wyse manne was nie profete in God se volk nie.

Hulle was heidene uit ‘n ver land.

Tog het God hulle ook gebruik om die aandag te vestig op die koms van die Messias.

 

2 Priesterlike beloftes

Ons het tot dusver gesien hoe in die ou verbond die HERE baie mense ingespan het, veral profete maar nie net nie, om die koms van sy Seun in die volheid van die tyd aan te kondig.

Woorde wat op skrif gestel is en wat hulle plek in die boeke van die Ou Testament gekry het.

Dit het plaasgevind oor ‘n tydperk van baie eeue.

Die moederbelofte, die beloftes aan Noag, aan die aartsvaders, later aan die profete binne God se volk.

Ons praat hier oor ‘n periode van meerdere millenia.

En vanaf die dae van Moses is hierdie beloftes ook te boek gestel, in die vorm soos boeke toe gelyk het.

Kliptafels, kleitablette, boekrolle op perkamente, noem maar op.

Deur al hierdie eeue heen is God se beloftes op skrif gestel.

 

Daar was egter nog ‘n manier waarop die Here die koms van die Messias aangekondig en voorberei het, asook die besef van sy naderende koms wakker gehou het onder sy volk.

En dit was deur by sy volk onophoudelik in te prent vir watter doel die Messias sou kom, naamlik in die eerste plek om versoening te bewerkstellig, om die verbond te herstel.

Soos ons bely in NGB art. 17, die mens het homself in die liggaamlike en geestelike dood gewerp.

Juis om hierdie diepe val van die mens weer te herstel, dit sou die primêre doel van die Messias se koms wees.

En om daardie besef wakker te hou, het God die offerwetgewing ingestel, al die wetgewing rondom die diens by die tempel.

Die offerkultus was as ‘t ware ‘n Oudtestamentiese sakrament om die mense na die koms van die Messias te laat verlang.

Heel die offerkultus was in sekere sin ook profesie.

Die bloed van diere wat daagliks by die tempel gevloei het, was simbolies.

Simbool van die feit dat daar ‘n plaasvervangende offer plaasgevind het.

Maar ook die besef dat die dier nie werklik ‘n plaasvervangende rol kon speel nie.

Dit het net die betaling uitgestel, herinner daaraan dat in die toekoms nog ware betaling, werklike genoegdoening moes plaasvind, as ‘n mens se bloed sou vloei.

Die diens van die versoening by die Oudtestamentiese tabernakel en later tempel was dus een groot visuele profesie.

En die dag toe die Here Jesus met sy ampswerk op aarde begin, het hierdie profesie in vervulling gegaan.

Johannes die Doper het dit besef, toe hy uitgeroep het:

“Dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem!” (Joh. 1:29)

Jesus word hier vergelyk met ‘n Oudtestamentiese lam, wat geslag moet word.

En die manier hoe al vier evangeliste oor Jesus se lewe, sterwe en opstanding geskryf het, maak duidelik dat hulle diep deurdronge was van die besef dat Hy gekom het om die Oudtestamentiese offerkultus te vervul.

Dat Hy gekom het om die era van bloedvergieting te beëindig.

Ook die feit dat die besnydenis deur Jesus met die doop vervang is, het dit geïllustreer.

Ook die besnydenis was ’n Oudtestamentiese sakrament, wat op die koms van die Messias gedui het.

Met elke besnydenis het ’n klein bietjie bloed gevloei.

Maar al Christus se bloed het gevloei.

Hy het die bloedstroom van die ou bedeling beëindig.

Nou is daar die lewende water wat uit die tempel uitstroom.

Dink aan die bekende visioen van Esegiël oor die lewende water, nog so ’n pragtige Messiaanse profesie.

Esegiël was nie net profeet nie, hy was ook priester.

Daardie lewende water was ’n profesie van die Gees van Christus.

En in die nuwe bedeling staan daar nie meer ’n tempel in Jerusalem nie, maar elke Christen is nou ’n tempel van die Heilige Gees.

Uit ons lewens stroom ’n rivier van lewende water.

 

3 Koninklike beloftes

Geliefde gemeente, ons het tot dusver gesien hoe God in die ou bedeling die koms van die Messias aangekondig het deur die profete, asook deur die priesterdiens.

Maar ook deur die konings is die koms van die Messias aangekondig.

En dan dink ons aan Oudtestamentiese konings soos Dawid, Salomo, Hiskia, Josia.

Konings wat geregeer het volgens die wyse wette wat God deur Moses aan sy volk gegee het.

In hulle regeertydperke kon die mense ‘n voorproefie kry hoe dit gaan wees om onder die heerskappy van die Messias te lewe.

Vrede, harmonie, voorspoed, en dit nie net vir ‘n klein bevoorregte groepie nie, maar ook vir die weduwee en die wees, ook vir die buitelander, selfs vir die diere.

So het die heerskappy van hierdie konings profeties gewys op die Messiaanse eeu van vrede en voorspoed.

Nou toe Jesus op aarde gekom het, het Hy sy volk ook ‘n voorproefie gegee van die Messianse eeu, dink aan al die genesings wat Hy verrig het, dooies wat Hy opgewek het.

Tog was sy eerste koms na die aarde nie om as koning te kom heers nie.

Eers het Hy as priester, hoëpriester, die sonde kom versoen.

Daarna het Hy, na sy plaasvervangende sterwe, opgestaan en opgevaar.

Maar nou regeer Hy op die hemelse troon.

Maar ook ons wag nog op die volle verwerkliking van die Messiaanse vrederyk.

 

Ek het nounet die name genoem van konings soos Dawid, Salomo, Hiskia en Josia.

Daar was natuurlik nog baie meer konings in die ou bedeling, die meeste van hulle het afvallig geraak en van die HERE en sy gebooie af weggedwaal.

Hulle het daardeur die taak om in hulle amp die naderende koms van die Messias te weerspieel, nie uitgevoer nie.

Selfs Dawid, Salomo, Hiskia en Josia was uiteindelik teleurstellend as konings.

En dit het nie net vir die konings gegeld nie.

In die ou bedeling was daar ook baie valse profete.

En daar was ook priesters wat afvallig geraak het.

Dit was nie mense, ook nie God se eie volk, wat die koms van die Messias gerealiseer het nie.

In sy almag het God egter hierdie sondige mense, krom stokke, wel gebruik om die koms van die Messias aan te kondig en die volheid van die tyd voor te berei.

Aan die einde van die dag was dit alles sy werk.

En daarom kom Hom alleen die eer toe.

Tot vandag toe, in die 21ste eeu.

En daarom is tot vandag toe die Ou Testament nie vir ons ‘n geslote boek nie.

Ons lees dit as die groot Belofteboek, wat in Christus vervul is.

Want in elke hoofstuk daarvan leer ons meer oor ons Saligmaker, die Messias, die Here Jesus.

Daarom sing ons nog steeds die psalms uit die Ou Testemant, en leer ons kinders nog steeds versies soos:

          “Die steen waaraan die tempelbouers

          veragt’lik het ‘n plek ontsê,

          is voor die oog van die beskouers

          deur God as hoeksteen neergelê ...”

Psalm 118:11 – Totiusberyming.

Ons sing dit, want ons weet hierdie psalm is in Christus vervul, dat Hy die hoeksteen is vir die kerk van die nuwe bedeling, soos wat Petrus skryf in 1 Petrus 2:6: “Kyk, Ek lê in Sion 'n uitverkore en kosbare hoeksteen, en die wat in Hom glo, sal nooit beskaam word nie.”

 

Daar kom ’n dag wat die Totiusberyming verouderd gaan wees, want tale bly nooit dieselfde nie.

Maar daar sal nuwe berymings kom, wat hierdie ou psalms sal bly berym.

En Christus se kerk sal dit bly sing, tot die dag waarop Hy terugkom.

Ons sien uit na daardie dag, want dan gaan Hy sy vrederyk, die jubeljaar, permanent op aarde vestig.

En elkeen wat Christus met sy kosbare bloed gekoop het, sal dan saam met Hom as konings regeer tot in ewigheid.

 

Amen.

 

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 110:1,2,5

Wet

Ps 134:1,2

Gebed

Skriflesing: Jesaja 7:10-17, 9:1-6, 35:3-6, 40:1-5, 42:1-4, 61:1-3

Ps 16:3,5

Teks: Nederlandse Geloofsbelydenis Artikel 17

Preek

Ps 118:11-14

Gebed

Kollekte

Ps 132:7,10,11

Seën