Help ons, o God van ons heil!

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Pretoria en Maranata
Date: 
2020-08-30
Text: 
Psalm 79:8-9
Preek Inhoud: 

Vanjaar is ‘n historiese jaar, veral vir ons kerkverband.

Presies 70 jaar gelede is die eerste Vrye Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika gestig.

Dit was op 8 Oktober 1950.

In Oktobermaand hoop ons om as kerkgemeenskap meer hierby stil te staan en dit te gedenk, vir sover dit moontlik is te midde van die owerheid se Covid-19 beperkings.

Om die HERE te dank vir wat Hy die afgelope 70 jaar geskenk het.

Om stil te staan by die seëninge.

Ook om te leer uit die foute van die verlede.

Om ‘n besef te ontwikkel dat dit wat in die verlede gebeur het, belangrik is, juis ook vir ons koers in die toekoms.

Die manier hoe ons vandag kerk is, het alles met die verlede te make.

Wie sy verlede nie ken nie, is dikwels kompasloos wat betref sy koers na die toekoms toe.

 

Ook in die teks van vandag speel die verlede ‘n groot rol.

Ja die verlede het ‘n onmiskenbare impak op die hede.

Daarvan was die digter van Psalm 79, Asaf, goed deurdronge.

 

Tema: Help ons, o God van ons heil!

  • Asaf bely die ongeregtighede van die voorgeslagte
  • Asaf erken sy en sy tydgenote se eie swakheid
  • Asaf pleit vir versoening ter wille van die HERE se Naam

 

  • Asaf bely die ongeregtighede van die voorgeslagte

Asaf was een van die sangers wat Dawid destyds by die tabernakel aangestel het (1 Kron. 6:39).

Nou is Psalm 79 ‘n klaaglied oor Jerusalem en meer spesifiek die tempel wat in puin lê.

Maar in Asaf se tyd, dit is die tyd van koning Dawid, het die tempel nog nie eers bestaan nie.

Hierdie psalm is dus nie deur Asaf self geskryf nie, maar deur een van sy nakomelinge, moontlik ‘n naamgenoot.

Net soos daar psalms is van die kinders van Korag, so is hierdie ‘n psalm van die kinders van Asaf.

Tussen hakies, Korag was ook ‘n voorvader van Asaf.

Hierdie psalm het dus sy ontstaan gehad onder die tempelsangers wat van Asaf afgestam het.

Die psalm dateer waarskynlik kort na die verwoesting van die tempel.

 

Dit begin met ‘n beskrywing van die verwoesting van Jerusalem.

Die psalm begin met ‘n klag tot God, naamlik dat die heidene gekom het en van u heilige tempel, en van die hele Jerusalem, ‘n puinhoop gemaak het.

Ons hoor die digter se klaagstem oor die lyke van u knegte wat as kos vir die voëls agtergelaat is.

Moontlik dink die digter hier aan sy eie kollega sangers, wat die verwoesting nie oorleef het nie.

U gunsgenote se vleis is vir die wilde diere gevoer.

Hulle is nie eers begrawe nie.

Die bloed het rondom Jerusalem soos water gestroom.

 

Ons het, so konkludeer die digter dan, ‘n smaad, spot en beskimping vir ons bure geword.

Die digter, as Israeliet, is deur een van die mees traumatiese ervarings in die geskiedenis van God se volk.

En die vraag wat hom besig hou, is: Hoe lank, HERE?

Sal U vir ewig toornig wees?

Die digter maak dus ‘n duidelike konneksie tussen dit wat gebeur het en die HERE se toorn.

En dan nie net die HERE se toorn oor die huidige generasie nie, maar skynbaar sy toorn oor eeue se geslagte.

Dit sien ons duidelik in ons teks:

Reken ons die ongeregtighede van die voorvaders nie toe nie.

Uit hierdie vraag klink die besef dat die nageslag die gevolge van die voorvaders se ongeregtigheid moes dra.

 

Nou is dit so, as mens na verskillende Bybelvertalings kyk, dat sal blyk dat ons teks nie altyd dieselfde vertaal word nie.

Sommige vertalings het: die ongeregtighede van die voorvaders.

Ander vertalings het: ons vroeëre ongeregtighede.

Vanuit die grondteks lyk dit of beide vertalings moontlik is.

Wanneer dit met ons vertaal, kan daardie ons ook inklusief verstaan word – ons as die hele volk, van hede en verlede.

 

Is dit dan so, dat ons, die generasie van die hede, die gevolge kan dra van die ongeregtighede van vorige geslagte?

Het ons nog iets te make met die sondes van ons voorouers?

Blykens hierdie psalm, ja!

Asaf besef dat die HERE vir eeue lank sy toorn opgespaar het, maar dat die emmer nou volgeloop het.

En nou, dit was in die jaar 586 voor Christus, stort Hy sy toorn uit juis oor daardie geslag wat toe in lewe was.

God het na sy volk as ‘n eenheid gekyk, deur die eeue heen.

Voor- en nageslag was aan mekaar verbonde.

Dit is ‘n werklikheid in die verbond, sowel wat seën as vloek betref.

Reeds toe God sy verbond met Abraham gesluit het (Gen. 17), was dit al duidelik dat ook sy nageslag geseën sou word, ja ook hulle is reeds in die verbond opgeneem.

Daar is baie voorbeelde in die Skrif wat laat sien dat die nagesalg juis geseën is, danksy die Godvresende lewenswandel van die voorgeslag.

Die uitdrukking ‘ter wille van my kneg Dawid’ is ‘n refrein wat ons dikwels in die Bybel lees.

Ter wille van sy kneg Dawid was die HERE nog vir eeue lank die nageslag goedgesind, en was Hy geduldig, al het hulle van sy paaie afgedwaal.

So beloof die HERE aan koning Hiskia: “Ek sal hierdie stad beskut, om dit te verlos, ter wille van My en my kneg Dawid.” (2 Kon. 19:34)

Hiskia het baie geslagte na Dawid geleef.

Mens proe in hierdie teks iets van wat die HERE beloof het in die tweede gebod: Ek bewys barmhartigheid aan die wat My liefhet en my gebooie onderhou, tot in die duisendeste geslag (Ex. 20:6).

Maar daar is ook ‘n ander kant in die verbond.

Reeds in die tweede gebod het die verbondsdreiging ook geklink: wat die misdaad van die vaders besoek aan die kinders, aan die derde en aan die vierde geslag van die wat My haat (Ex. 20:5).

Hierdie kant kom in ons teks duidelik na vore.

Die nageslag dra nou die gevolge van die beeldediens van hulle voorvaders.

Die HERE het lank hierteen gewaarsku, vir eeue lank was Hy geduldig.

Eers het die maat volgeraak vir die noordelike ryk.

Wat met Jerobeam se huis gebeur het, is ‘n visuele illustrasie van waarvoor in die tweede gebod gewaarsku is.

Maar later het Juda ook in sy sussie se voetspore gevolg, deur agter die afgode en hulle beelde aan te hoereer.

Die digter van Psalm 79 erken die ongeregtigheid.

Die woord ongeregtigheid in ons teks dui veral op die afgodediens, die feit dat Juda die diens aan die lewende God ingeruil het vir beeldediens, vir eiewillige godsdiens.

Dit was die oorsaak vir die verwoesting van die tempel.

 

  • Asaf erken sy en sy tydgenote se eie swakheid

Hoe was die digter, Asaf, se eie posisie hierin?

Was hy dan ook ‘n afgodsdienaar?

Is dit so dat die HERE die sondes van die vaders nou straf op die kinders?

Omdat die vaders groen druiwe geëet het ... – u ken wel die bekende spreekwoord uit Jeremia 31 en Esegiël 18.

Nee, dit doen die HERE nie.

Maar dit neem nie weg dat kinders, dat die nageslag soms wel die gevolge moet dra van die voorgeslag se sondes nie.

En so was dit ook in die digter Asaf se tyd.

En die HERE was nie onregverdig nie.

Die realiteit waarvoor die tweede gebod waarsku, dat die sonde van die vaders ook die kinders aansteek, tot in die derde en vierde geslag, dit was ook realiteit in Juda.

Dit was deurgaans die geval.

Die afval was wydverbreid.

Al die kinders, heel die nageslag was ook besmet met die sondes van die voorvaders.

Dit was net by enkeles, by ‘n gelowige res, wat die teendeel geblyk het.

Maar hulle, waaronder die digter Asaf, het hulle solidêr opgestel.

So het koning Hiskia dit ook gedoen, bewus dat daar ‘n verlede van skuld gelê het:

“want ons vaders het ontrou gehandel en gedoen wat verkeerd was in die oë van die HERE onse God, en hulle het Hom verlaat en hulle aangesig van die tabernakel van die HERE afgewend en dit die rug toegekeer ... Daarom het ‘n toorn van die HERE oor Juda en Jerusalem gekom ... hierom is ons seuns en ons dogters en ons vroue in gevangenskap.” (2 Kron. 29:6-9)

So ook het Nehemia hom later solidêr opgestel, toe hy gebid het: “ook ek en my familie het gesondig.” (Neh. 1:6).

Net soos Daniël ook later, na die ballingskap, sou bely in sy gebed namens die volk: “ons het gesondig en verkeerd gedoen en goddeloos gehandel en in opstand gekom en van u gebooie en verordeninge afgewyk. En ons het nie gesluister na u knegte, die profete ...” (Dan. 9:5-6)

 

So bid Asaf nou ook namens die verbondsvolk, en hy hou ‘n vurige pleidooi:

Laat u barmhartighede ons gou tegemoetkom, want ons is baie swak.

Pragtige woorde ...

Volledig verstaanbaar in Asaf se konteks – ‘n stad wat in puin lê, lyke oraloor, en die oorblywendes in ballingskap.

Help ons! o God!

Help tog gou!

O God van ons heil – pragtige geloofsbelydenis!

 

  • Asaf pleit vir versoening ter wille van die HERE se Naam

Mense soos Asaf, Nehemia, Daniël, hulle maak gebruik van die laaste pleitgrond wat daar nog oor was.

Soos Moses dit destyds geopenbaar het.

Die laaste weg wat daar na God terug is, die laaste noodlyn tot Hom, te midde van die oordeel wat reeds bo hulle koppe losgebars het, soos God dit destyds via Moses aangereik het, Levitikus 26: maar as hulle “hul ongeregtigheid bely en die ongeregtigheid van hulle vaders ...” dan “sal Ek dink aan my verbond met Jakob, en ook aan my verbond met Isak en ook aan my verbond met Abraham sal Ek dink ...” (vers 40-42)

Moses het hier geprofeteer oor wat later inderdaad gebeur het.

Naamlik dat die HERE vir eeue geduldig was en sy toorn ingehou het.

Maar toe het die dag gekom dat die emmer oorgeloop het, en dit was in Asaf se dae.

Die hemelse Vader is lankmoedig, Hy straf dikwels nie dadelik nie.

Maar Asaf se generasie het geleef toe al die opgegaarde toorn soos ‘n wolkbreuk losgebars het.

Asaf besef daar was sprake van historiese skuld.

Nie dat hy homself distansieer, homself vererg dat dit nou hom moet tref nie.

Hy stry nie met die HERE, dat die HERE nie in sy reg staan om dit te doen nie.

Hy pleit net vir genade.

Reken ons die ongeregtighede van ons voorvaders nie toe nie ...

Laat u barmhartighede ons gou tegemoetkom, want ons is baie swak.

Nie dat ons dit verdien nie, maar, en dan gee Asaf ‘n baie kragtige pleitgrond:

Dit om die eer van u Naam.

Red ons en doen versoening oor ons sondes ter wille van u Naam.

Pragtige vers!

Asaf besef hulle kan nie die versoening doen nie.

Ook hierdie tyd van straf en boete, hierdie tyd van ballingskap, sal geen versoening vir al die sondes van hulle en hulle voorgeslagte kan bewerk nie.

Die HERE sal dit self moet doen.

Want ons is baie swak, erken Asaf.

‘n Diep insig hierdie, wat ook vir ons geld.

As jy swaarkry in jou lewe, geld dit nie as boetedoening, in die sin dat jy daarmee krediete by God kan opbou en skuld kan afbetaal nie.

Net die HERE kan versoening bewerk.

Asaf smeek: Doen U versoening oor ons sondes ter wille van u Naam.

As kerk in die nuwe verbond weet ons dat die HERE hierdie smeekbede verhoor het, toe Hy sy eie Seun gestuur het om die versoening te bewerkstellig.

 

En dit is op basis van hierdie selfde pleitgrond – naamlik die eer van God se Naam – wat Asaf aan die einde van die psalm dan ook bid vir God se straf oor die heidene.

Dikwels hoor ons in die Bybel dat die straf by God se huis begin.

Dit is eintlik genade, dat die straf daar begin.

Daardeur gee God die kans vir hulle wat tot bekering kom, om aan die straf te ontsnap.

Maar van daaraf kring die oordeel uit.

So bid Asaf: stort u grimmigheid uit oor die heidene wat U nie ken nie.

Oor die koninkryke wat u Naam nie aanroep nie.

Met as motivering, nie net vir die feit dat hulle Israel se bloed laat vloei het nie, nie net om hulle Israel se eiendom verwoes het nie, maar veral omdat hulle die HERE se Naam gesmaad het.

Vergeld ons bure sewevoudig, spesifiek vir dit waarmee hulle die HERE gesmaad het.

Dit was die eintlike sonde van die vyand, van Israel se buurvolke.

Die HERE het hulle gebruik om sy afvallige volk te straf.

As hulle hulle daartoe beperk het, sou hulle in lyn met God se bedoeling gehandel het.

Maar hulle het verder gegaan.

Juis toe Israel kaal uitgetrek en magteloos gestaan het voor die oog van die hele wêreld, het hulle begin spot, nie net met Israel nie, maar ook met Israel se God.

 

En dan sluit Asaf sy Psalm af met ‘n voorneme: ons, die skape van u weide, ons sal U vir ewig loof, van geslag tot geslag.

Ja deur die dal van doodskaduwee van die verwoesting van stad en tempel heen, sal die HERE weer vir Homself ‘n nuwe kudde versamel, die skape van sy weide.

Ja ook na die verwoesting van stad en tempel sal daar weer nuwe geslagte kom, wat sy lof sal vertel.

Selfs vir ewig!

Dit is die troosvolle perspektief waarmee Asaf sy psalm, wat so onstellend begin het, afsluit.

 

Gemeente, wat kan ons leer uit hierdie Psalm, ook met die oog op ons herdenking van 70 jaar VGKSA?

Wel, wat duidelik is uit Psalm 79 is dat daar nie goeie oue tye bestaan het nie.

En as mens jou verdiep in die 70 jaar geskiedenis agter ons, word ook vinnig duidelik dat dinge vroeër beslis nie beter was as vandag nie.

Ek noem dit nie om te beweer dat die bestaan van die VGKSA ‘n fout was nie.

In geen kerk se verlede gaan mens goeie oue tye vind nie.

Net soos by God se volk in die Ou Testament die geval was, geld dit ook vir Christus se kerk in die nuwe bedeling.

Dit is enkel genade dat dit bestaan, dat dit voortbestaan.

Dat ten spyte van menslike hardkoppigheid, of ingeslapenheid, of onstandigvastigheid, Christus tog voortgaan om deur die geslagte heen vir Hom ‘n gemeente te versamel.

Daarop mag ons fokus as ons herdenk.

Op die goeie werk wat Christus in ons midde begin het, en nog voortsit.

As mens so deur 70 jaar geskiedenis lees, val dit op dat die voorgeslagte soms nogal hardkoppig kon wees.

En ja, die huidige geslag dra miskien nog die gevolge van vorige geslagte se hardkoppigheid.

Ook ons kan bid, net soos Asaf: HERE, reken ons die ongeregtighede van die voorvaders nie toe nie.

Wil U tog herstel dit wat in die verlede stukkend gemaak is.

 

Die generasie van vandag is miskien nie meer so hardkoppig nie.

Maar laat dit nie so wees, broers en susters, dat ons kleinkinders eendag oor ons generasie sal moet sê dat ons ingeslape geraak het, dat ons die ywer vir die huis van die HERE verruil het vir aardse skatte en genietinge nie.

Ja laat ons maar eerlik wees, ons het geen enkele aanleiding om te beweer dat ons beter as ons voorgeslagte is nie.

Laat ons eerder solidêr wees, net soos Daniël, Hiskia en Asaf van ouds.

Ook ons moet op ‘n weeklikse, ja daaglikse basis, op ons knieë voor God verskyn, om te smeek vir versoening oor ons sondes.

Ons self is bais swak, die HERE sal dit moet doen.

En gelukkig het God dit moontlik gemaak, in Christus.

In Hom roem ons, in sy Naam!

 

Die digter Asaf het in unieke tye geleef.

God se toorn wat Hy vir eeue lank opgespaar het, is juis in die tyd toe hy geleef het, oor Jerusalem uitgestort.

Maar deur hierdie straf het die HERE ook nuwe moontlikhede geskep, vir hulle wat aan Hom trou gebly het, al moes hulle self ook deur hierdie ellendige omstandighede gegaan het.

Ons kan eerlik sê dat ons nie soortgelyke tye beleef as die waarin Asaf hierdie psalm geskryf het nie.

Maar dit is nie uitgesluit dat daar ‘n dag gaan kom dat die HERE weer besluit om sy opgespaarde verbondstoorn uit te stort nie.

As ons kyk na die afgelope eeue van kerkgeskiedenis, dan is dit in baie lande, veral in die Weste, ‘n afgaande lyn, ‘n lyn van toenemende afval en kerkverlating.

As die HERE sou besluit om ‘n soortgelyke wolkbreuk van straf oor die Westerse Christenheid uit te stort, sal Hy heeltemal in sy reg staan.

Laat in elk geval nie die godsdiensvryheid wat ons tans beleef, vir ons ‘n aanleiding tot geestelike luiheid en ingeslapenheid word nie.

Laat ons juis hierdie gedenkjaar benut om ons, elkeen persoonlik en ook gesamentlik as gemeentes, onsself almal jonk en oud, opnuut tot toegewyde diens aan die HERE te verbind.

Die herdenking van 70 jaar is nie ‘n rede om onsself op die skouer te klop nie.

Maar eerder om opnuut, saam met Asaf, tot die HERE te roep: Help U vir ons, o God van ons heil!

Sonder U kan ons nie die toekoms ingaan nie.

Ja, ook ons moet die ongeregtighede van die voorgeslagte erken, onder oë sien, uit hulle foute leer.

En ja, ook ons en die generasie van vandag is net so swak en sondig.

Ook ons kan slegs leef en kerk wees op basis van die versoening wat God self moet bewerkstellig, en wat Hy ook in Christus beskikbaar gemaak het.

 

Amen.

 

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 74:1,2

Wet

Ps 81:9-12

Gebed

Skriflesing: Psalm 79

Ps 79:1-4

Teks: Psalm 79:8-9

Preek

Ps 79:5-9

Gebed

Kollekte

Ps 74:12,15,16

Seën