Die belydenis van die mens se volledige verdorwenheid lei tot die lofsang op God se volledige vergifnis

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Maranata
Date: 
2020-08-02
Text: 
Nederlandse Geloofsbelydenis Artikel 15
Preek Inhoud: 

Ons behandel vanaand, na aanleiding van NGB artikel 15, die Bybelse leer wat die erfsonde genoem word.

Dit is nie net ‘n teoretiese leerstelling nie.

En juis die Psalm wat ons vanaand gelees het, Psalm 51, help ons om hierdie leer van die erfsonde raak te sien in die praktyk van die alledaagse lewe.

Daarom wil ons vanaand spesiale aandag aan hierdie Psalm skenk.

Die Nederlandse Geloofsbelydenis beskryf die erfsonde as ‘n oorgeërfde gebrek, wat al aanwesig is in die moederskoot, as ma’s hulle baba verwag.

Dit in teenstelling tot die opvatting van Pelagius, waarna die NGB ook verwys, ‘n opvatting wat ongelukkig nie saam met hom begrawe is nie, maar nog steeds vandag lewe, naamlik die opvatting dat sonde slegs uit navolging ontstaan, en dat elke mens, elke baba, sonder enige neiging om te sondig gebore word.

 

Nee, bely ons saam met die NGB: die sonde wat ons elke dag doen, borrel soos water op uit ‘n giftige fontein, wat die erfsonde is.

Dit gaan terug na die paradys, daar waar God die boom van kennis van goed en kwaad geplaas het.

Toe Adam en Eva daarvan eet, was dit nie net ‘n vrug steel nie, maar ‘n bewuste aksie om ‘n grens oor te steek.

Dit was ‘n oorlogsverklaring teen God.

Voortaan wou hulle bepaal wat goed en kwaad is, wat reg en verkeerd is.

As die ouers sê die kinders moet so laat tuis wees, dan kan die kinders nie self daardie reël verander nie.

Onder aanhitsing van die duiwel het Adam en Eva egter gerebelleer, hulle wou voortaan self die reëls bepaal.

Hulle wat self bepaal wat goed en sleg is.

En daardie neiging, daarmee is ons almal sedertdien besmet.

Dit het elke individu op aarde geaffekteer.

Die erfsonde, erfsmet, strek homself uit oor elke nakomeling van Adam.

In Job lees ons: “Ag, kon maar ‘n reine voortkom uit ‘n onreine – nie een nie!” (Job 14:4)

Soos die doopsformulier sê: hulle word in sonde ontvang en gebore. Daarom rus die toorn van God op ons, sodat ons nie in die ryk van God kan inkom nie, tensy ons opnuut gebore word.

Sedertdien word geen baba meer as ‘n neutrale wese gebore nie.

Uit sy hart kom allerlei sonde op, sy hart is soos ‘n giftige fontein.

Niemand het dit daarin geplaas nie, dit sit klaar daarin.

“Bedrieglik is die hart bo alle dinge, ja, verdorwe is dit; wie kan dit ken?” so skryf die profeet Jeremia (Jer 17:9)

Ook ‘n bekeerde, wedergebore mens, het nog hierdie giftige fontein in hom.

Sommige charismatiese groeperings beweer dat wedergeboorte veroorsaak dat jy die geneigdheid tot sonde agter jou laat.

Iemand wat so iets beweer, ken homself nie goed genoeg nie, of is oneerlik met homself.

Dink aan Dawid, wat wedergebore was, maar tog nie van die sonde ontslae kon raak nie.

Ons is eers heeltemal van die giftige fontein ontslae, en die sondes wat daaruit opborrel, wanneer ons sterf – Romeine 6:7.

 

Nou gemeente, dit wat die NGB oor die erfsonde bely, gaan direk terug op die Skrif.

Ons kyk vanaand na hoe hierdie werklikheid tot ons kom in Psalm 51.

In artikel 15 staan dat God ons wil vergewe, nie sodat ons rustig in die sonde kan bly slaap nie, maar sodat daar steeds meer ‘n verlange in ons groei om van hierdie liggaam van die dood verlos te word.

Dit sien ons mooi in Psalm 51.

 

Tema: Die belydenis van die mens se volledige verdorwenheid lei tot die lofsang op God se volledige vergifnis

 

Psalm 51 het in ‘n spesifieke historiese konteks ontstaan.

Dit is deur Dawid geskryf nadat die profeet Natan hom besoek het.

Dawid het ‘n aantal gruwelike sondes begaan.

Dit het met een sonde begin, wat hy toe probeer toesmeer het met telkens nuwe sondes.

So gaan dit dikwels by elke mens, as jy een sonde nie bely nie, dan baar dit nuwe sondes.

Nou is Psalm 51 ‘n boetelied van Dawid.

Dawid het nie uit eie krag tot berou gekom nie.

Die HERE het sy profeet gestuur om hom te konfronteer met sy eie sondes.

Deur Natan se optrede het die Gees die proses van berou in Dawid se hart begin.

Hierdie psalm, hierdie boetelied, was ‘n onderdeel van hierdie proses van berou.

 

Wat opvallend is, is dat Dawid homself nie beperk tot daardie sondes waarop Natan hom aangespreek het nie.

Die Gees het hom gelei dat hy nog dieper gegrawe het, daar waar sy medemense nie kon sien nie.

En so het Dawid uiteindelik by die erfsonde, die erfsmet, uitgekom, wat ook in sy lewe aanwesig was.

Dawid ontvang die insig dat dít uiteindelik die bron is, die giftige fontein, van waaruit hierdie erge dinge wat hy aangevang het, voortgekom het.

Dit was nie, om dit Pelagiaans te stel, die omstandighede wat hom sover gebring het dat hy gesondig het nie.

Dawid blameer nie die omstandighede in sy psalm nie.

Hy gee ook nie sy ouers die skuld nie, niks en niemand anders nie as net hyself.

Nee, die oorsaak het uit sy eie hart gekom.

Daarom vra hy vir ‘n nuwe hart – skep vir my ‘n rein hart, o God ...

Die diepste oorsaak van die sonde het nie in eksterne faktore gelê nie.

Nee, vers 7, kyk, in ongeregtigheid is ek gebore, en in sonde het my moeder my ontvang.

Dawid was dus nie ‘n goeie voorbeeldige seuntjie, wat later deur sy omstandighede sleg geword het nie.

Vanaf voor sy geboorte was die neiging om verkeerd te doen al by hom aanwesig.

Ongeregtigheid, dit wil sê: vanaf voor sy geboorte was dinge al nie reg tussen hom en sy Skepper nie.

In hierdie psalm kla hy nie oor eksterne omstandighede nie.

Hy roep God se hulp nie in weens ‘n dreiging wat van buite af op hom afgekom het nie.

Hy bely in hierdie psalm dat die gevaar binne-in homself is.

En dit geld vir elkeen van ons, en om dit te besef het die Heilige Gees Psalm 51 in die Bybel laat opneem.

Die Here Jesus het sy dissipels ook op dieselfde manier onderrig, Markus 7:

“Daar is niks wat van buite af in die mens ingaan wat hom onrein kan maak nie; maar die dinge wat van hom uitgaan, dit is die dinge wat die mens onrein maak.” (vers 15)

“Want van binne, uit die hart van die mense, kom die slegte gedagtes, egbreuk, hoerery, moord, diewery, hebsug, boosheid, bedrog, losbandigheid, afguns, lastering, hoogmoed, dwaasheid. Al hierdie booshede kom van binne uit en maak die mens onrein.” sê Jesus in Markus 7:21-23.

Dit is radikale woorde.

Dit is die realiteit van die erfsmet.

 

Gemeente, die pelagiaanse redeneertrant, om heeltyd aan die omstandighede die skuld te gee, as mens dit ver genoeg deurdink, is dit niks anders as dat mens aan die einde van die dag vir God self die skuld gee.

Want as die omstandighede, as eksterne faktore, die gevolg is hoekom ons sondig geraak het, dan is die onafwendbare volgende vraag:

Waar kom die omstandighede, waar kom die eksterne faktore vandaan?

Wie beheer hulle?

En as ‘n mens enigsins in God se almag en sy voorsienigheid glo, dan sal mens moet erken dat God in beheer is van die omstandighede.

So lei hierdie sillogisme, hierdie redenasie ons dus terug na God.

Mense is sondig, want slegte omstandighede het hulle beïnvloed.

God is in beheer van alle omstandighede.

Dus die feit dat mense sondig geword het, is omdat God hulle aan slegte omstandighede blootgestel het.

Ek kan nie help nie, ek kopieer maar net die sondige gewoontes wat my pa ook het.

En dit is mos die Here wat hierdie pa vir my gegee het ...

Gemeente, dit is nie verniet dat die belydenis die dwaling van die Pelagiane so kragtig verwerp nie.

Want die gevolg van hierdie dwaling is dat aan die einde van die dag die oorsaak van die sonde by God neergelê word, dat Hy geblameer word!

 

Daarteenoor staan egter Psalm 51.

Dawid bely in vers 6: God is regverdig as Hy spreek.

Hy is rein as Hy gerig hou (sien ook Rom. 3:4).

Dus, om die skuld by God se deur te lê, dit is allermins wat hierdie Psalm ons leer.

Daar is geen greintjie selfregverdiging in hierdie psalm, of die neiging om die omstandighede die skuld te gee vir die sonde nie.

Dawid was self gewoon onrein, van voor sy geboorte af.

Hy was ‘n onreine uit ‘n onreine.

“Ag, kon maar ‘n reine voortkom uit ‘n onreien – nie een nie!” (Job 14:4)

 

Daar is nog iets in hierdie Psalm wat vir ons baie relevant is.

As Dawid begin met sy boetelied, begin hy om sy sonde teenoor God te bely.

Hy sê in vers 6: Teen U alleen het ek gesondig.

Dit is opvallend.

Dit is leersaam, ook vir ons.

Dawid sing sy boetelied nie in die trant van:

Here, ek het kwaai gesondig teen Batseba.

Ek het veral gesondig teen haar man, Uria.

Maar teenoor U het ek niks verkeerd gedoen nie.

Ek het U nie te na gekom nie.

Ek het trou my offers gebring.

Ek het elke dag gebid.

U was steeds my God.

Hou dit net in gedagte, noudat ek U vergewing nodig het.

Dis nie wat ons in Psalm 51 lees nie.

Die hele boetelied draai om die besef dat Dawid juis teen Gód gesondig het.

Vers 6: Teen U alleen het ek gesondig.

En dit is wat hierdie Psalm vir ons wil leer.

Elke sonde begin as jou verhouding met die HERE nie reg is nie.

En die sonde word vergewe, as jou verhouding met die HERE weer herstel is.

 

Hierin het Dawid presies gelyk soos sy eerste voorouers, Adam en Eva.

Want in Adam en Eva se lewens het die sonde ook ‘n kans gekry, daardie oomblik toe hulle verhouding met hulle Skepper nie meer reg was nie.

Die duiwel het met Eva gepraat, hy het twyfel in haar kop gesaai oor God.

En die oomblik toe Eva begin wonder het oor God, en oor of dit wat God hulle opgelê het, of dit wel billik was, die oomblik toe Adam en Eva met die gedagte begin speel dat hulle ook soos God kon wees, toe het dinge foutgeloop.

Dit was toe dat hulle die verbode vrug gepluk en daarvan geëet het.

Dus, eerstens het daar iets ingekom tussen hulle en hulle God, en toe kry die sonde ‘n kans.

En so was dit ook met hulle verre afstammeling, Dawid.

En dit is wat Dawid dus in hierdie psalm bely.

So is dit ook in ons lewens.

Die erfsmet trek deur die geslagte, dit slaan niemand oor nie.

 

So stoei Dawid in hierdie boetelied eerstens dus met die HERE.

Ja, ons sondes beskadig ons medemens.

Ja, ons sondes veroorsaak dat ons ons doel in die lewe misloop.

Maar dit is nie die hoofsaak nie.

Hoofsaak is dat elke sonde die band met God skaad.

En voor alles moet dit herstel word.

En uit die herstel van die band met God, sal ook die herstel van die ander bande voortvloei.

In Psalm 51 bely Dawid eerstens sy sonde voor God, en hy smeek Hom: Verwerp my nie van u aangesig nie.

Neem u Heilige Gees nie van my weg nie.

“Ontsondig my met hisop” (vers 9).

Hisop was ‘n struik, ‘n kruiebossie, wat in die Ou Testament deur die priesters gebruik is by seremoniële reiniging, byvoorbeeld wanneer iemand in aanraking gekom het met ‘n melaatse, of met ‘n lyk.

Daarna verwys Dawid hier.

Maar met hierdie seremoniële terme – dink aan die werkwoorde ontsondig, was, reinig – vra hy nie vir ‘n eksterne reiniging nie, maar vir ‘n reiniging van binne uit.

Ontsondig my met hisop, dat ek rein kan wees.

Was my, dat ek witter kan wees as sneeu. (vers 9)

Wat Dawid hier vra, is meer as net ‘n ritueel.

Nog hyself, nog ‘n priester sal hom kan reinig.

Daar is geen betaling of kompensasie wat hy of ‘n ander kan bring nie.

Die HERE self moet dit doen.

Daar is slegs een offer wat God aanvaar: “’n gebroke en verslae hart sal U, o God, nie verag nie” (vers 19).

Nie ‘n dier wat geslag word, nie die bloed van die dier wat gesprinkel word, sal die band herstel nie.

Maar ‘n hart wat berouvol is.

 

En dan is dit net die HERE wat weer herstel kan skenk.

Dawid gebruik die woord “skep” – vers 12: “Skep vir my ‘n rein hart, o God”.

Dit is ‘n baie kragtige woord.

Daarmee bely Dawid dat hierdie nie mensewerk is nie.

Hierdie wedergeboorte wat hy moet ondergaan, vereis bomenslike kragte.

Kragte so sterk as waarmee God hemel en aarde geskep het.

As kerk bely ons oor hierdie wedergeboorte in die Dordtse Leerreëls:

“Dit is 'n volkome bonatuurlike, baie kragtige en tegelyk baie aangename, wonderlike, verborge en onbeskryflike daad van God. Volgens die getuienis van die Skrif, wat deur Hom, die Outeur van hierdie werking geïnspireer is, is dit deur sy krag wat nie minder of geringer as die skepping of as die opwekking van die dooies is nie.” (hoofstuk ¾, par. 12)

 

Geen ritueel, geen offer, geen doop, geen sakrament, was die erfsmet uit ons binneste weg nie.

Tussen hakies, dit is wat die Roomse kerk geleer het, dat die doop noodsaaklik is om die erfsmet weg te was.

In Artikel 15 reageer Guido de Brès daarteen.

Die doop is nie ’n towerritueel wat die erfsonde in een keer wegneem nie.

God moet vir ons deur sy Gees en Woord ’n nuwe hart skep.

Calvyn skryf by hierdie psalm: Dit is die werk van die Heilige Gees wat inwendig in ons gewete die bloed van Christus sprinkel.

En die erfsmet bly helaas by ons, tot die dag wat ons ons laaste asem uitblaas.

 

Dawid eindig sy psalm deur ook te bid vir die herstel van Jerusalem.

Hoewel Dawid niks en niemand anders as net die erfsmet wat binne-in homself was, kon blameer vir die sondes wat hy gepleeg het nie, was dit wel so dat ander ook die kwalike gevolge gedra het van Dawid se erfsmet en die sondes wat daaruit voortgekom het.

Ja die hele volk het onder Dawid se sondes gebuk gegaan.

En Dawid het dit besef: Sy dade het die potensiaal gehad om die hele volk te ruïneer.

Daarom vra hy eerbiedig of God die mure van Jerusalem weer wil opbou.

Ja nog gevaarliker as ‘n buitelandse vyand wat die stad beleër, is die sondes wat binne die stad gepleeg word.

Dit is nie die gelowiges wat Jerusalem se mure kan bou nie.

Hulle sondige geaardheid breek dit net af.

Dit is Christus was deur sy Woord en Gees sy kerk bou.

Dit is net genade, dat die mure van Jerusalem nog staan, dat daar nog ‘n kerk bestaan.

Tot ons laaste dag benodig ons die volledige soenverdienste van Christus.

En dit bring ons weer by vanaand se tema:

Die leer van die erfsonde, oftewel die erfsmet, en die belydenis van die mens se volledige verdorwenheid lei tot die lofsang op God se volledige vergifnis.

Dit sien ons in Psalm 51.

Dit is ‘n boetelied, maar tegelyk ook ‘n loflied op God se vergifnis.

En so geld dit ook vir jou en my eie lewe.

Ook oor ons lewe bely ons: ons is en bly van nature sondig.

Maar ons roem in die vergifnis van ons Here Jesus Christus.

Mag sy vergifnis elke dag in jou en my lewe skitter.

 

Amen.

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 51:1

Gebed

Skriflesing: Psalm 51

Ps 51:3,4

Teks: Nederlandse Geloofsbelydenis Artikel 15

Preek

Ps 51: 5-8

Gebed

Geloofsbelydenis van Nicea

Kollekte

Sb 8:2,4

Seën