Die verhaal gaan verder...

Minister: 
Ds HH van Alten
Church: 
Pretoria
Date: 
2020-05-17
Text: 
Handelinge 1:1-8
Preek Inhoud: 

Geliefde gemeente(s) van ons Here, Jesus Christus,

Dit is vir die meeste van ons geen geheim dat die Evangelie volgens Lukas en die boek Handelinge altwee deur Lukas geskryf is en altwee aan Theofilus geadresseer is nie. Twee boeke, een outeur, een ontvanger. Dit is eintlik jammer dat hulle in ons Bybels nie langs mekaar kan staan nie. Want dan sou ons dalk beter kon gesien het, hoe nou Lukas die twee boeke aan mekaar verbind het. Baie bewustelik weef doktor Lukas die laaste hoofstuk van sy evangelie in die eerste hoofstuk van Handelinge in, amper soos wat ‘n bekwame skrynwerker twee stukke hout met ‘n swaelstert-voeg aan mekaar verbind sodat jy skaars nog kan sien dat dit twee stukke hout is. Kom ek wys vir u...

In Lukas 24:45, byvoorbeeld, open Jesus die verstand van die dissipels om die Skrifte te verstaan – wat Lukas in Handelinge 1:2 inweef deur te vertel hoe Jesus deur die Heilige Gees aan sy dissipels bevele gegee het. Ja, die opening van die verstand is uiteindelik niks anders nie as verligting met die Heilige Gees! Ook wys Jesus in Lukas 24:47 dat bekering en vergewing van sondes in sy Naam aan al die nasies verkondig moet word, van Jerusalem af en verder – iets wat Hy in Handelinge 1:8 herhaal wanneer Hy sê: “... en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in Judea en Samaria en tot aan die uiterste van die aarde.” En verder gee Jesus in Lukas 24:49 aan die dissipels bevel om in Jerusalem te bly totdat hulle toegerus is met krag uit die hoogte – wat ooreenstem met die bevel in Handelinge 1:4 om nie van Jerusalem af weg te gaan nie, maar om te wag op die belofte van die Vader.

‘n Mens sou nog meer ooreenkomste kon noem, maar hierdie is genoeg om die punt te bewys – en dit is dat Lukas se eerste boek amper naadloos oorloop in sy tweede boek. Dit is een verhaal. Dit is dieselfde verhaal wat eenvoudig voortgaan. En juis dít – dat die verhaal voortgaan! – is waarna ons vanaand wil kyk. En ons doen dit in voorbereiding op Hemelvaart wat ons hoop om Donderdagaand te gedenk (want let daarop, direk ná ons teks – vers 9 van Handelinge 1 – volg die geskiedenis van Jesus se hemelvaart). Maar behalwe dat dit ons voorberei op Hemelvaartsdag, dink ek dat hierdie gedeelte ook ‘n bemoediging en ‘n oproep is vir die tyd waarin ons leef.

Ek vat die inhoud van ons teks saam onder die tema: die Verhaal gaan verder...

  1. Omdat Jesus leef (vers 1-4)
  2. Omdat die kerk gedoop is met die Heilige Gees (vers 5-8)

 

1) Ons maak soms die fout, broers en susters, om ‘n kunsmatige onderskeid te tref tussen Lukas se Evangelie en die boek Handelinge. Dan ontaard dit baie gou in iets soos: die Evangelie volgens Lukas gaan oor Jesus se lewe en werk, en die boek Handelinge gaan oor die ontstaan van die kerk deur die verkondiging van die apostels. Uiteraard is daar iets van waarheid hierin, maar ons mis die kontinuïteit en die krag van die een verhaal wanneer ons Lukas se twee boeke so uitmekaar trek. Want in wese het beide hierdie boeke dieselfde onderwerp: Jesus Christus! En eintlik sê Lukas dit self vir ons in vers 1 alreeds: “Die eerste verhaal, Theofilus, het ek opgestel oor alles wat Jesus begin doen en leer het...” Dus, die eerste verhaal (die Evangelie volgens Lukas) vertel ons van die begin van Jesus se woorde en dade. Maar dit eindig nie daar nie, want Handelinge is die verhaal van wat Jesus voortgaan om te doen en leer. Wel in ‘n ander hoedanigheid, dis waar, maar sowel in die Evangelie as in Handelinge is Jesus die handelende Persoon, in woord en in daad. Hy het die leisels in sy hande. Want Hy leef!

Lukas lê in Handelinge 1:3 besondere klem op die feit dat Jesus Hom ná sy lyde lewend vertoon het deur baie kentekens. Op allerhande maniere wou Jesus dus aan sy dissipels bevestig: dit is Ek, Ek leef! Nou, hierdie kentekens laat ons nogmaals terugdink aan Lukas 24 – dit herinner ons aan hoe die Emmausgangers Jesus spesifiek in die breking van die brood herken het (24:30-31), hoe hulle naderhand besef het dat hulle hart brandende in hulle was toe Hy vir hulle die Skrifte uitgelê het (24:32), hoe Jesus sy dissipels uitgenooi het om sy hande en voete te voel en te bekyk as bewys dat dit werklik Hy is (24:39-40), en hoe Hy ‘n stuk gebraaide vis en ‘n stuk heuningkoek geëet het as bewys dat Hy nie sommer ‘n gees is nie (24:42-43). Veertig dae lank neem Jesus die tyd om aan sy volgelinge te verskyn – gaan lees maar in 1 Korinthiërs 15 (verse 4-9) die lys met huisbesoeke wat Jesus in hierdie tyd afgelê het – om seker te maak dat daar by sy dissipels geen twyfel meer bestaan het nie: die Meester het waarlik opgestaan, Hy leef. Want dit is die sentrale heilsfeit waarmee hulle vervolgens die wêreld moet gaan konfronteer. Die opstanding is daarom ook een van die hooftemas in die res van die boek Handelinge – u weet miskien dat Handelinge eintlik ‘n afwisseling is van verhalende gedeeltes en toesprake (of anders gestel: ‘n afwisseling van geskiedenis en preke). Voortdurend wissel dié twee mekaar af – en wat opmerklik is by die toesprake / preke, is dat byna elkeen van hulle hul klimaks bereik met die boodskap van die opstanding! Dít is die konfronterende punt vir Jode sowel as Grieke, dit is die heilsfeit waar die geloofsbeslissing val – glo jy in die opstanding van Jesus Christus? Glo jy dat Hy leef?

 

Die vier evangelies, broers en susters, eindig dus nie in die graf nie; hulle eindig met die opstanding, hulle eindig met ‘n lewende Jesus. Juis sodat Handelinge met ‘n lewende Jesus kan begin, en juis sodat hierdie Jesus met sy dissipels oor die dinge van die koninkryk van God kan praat (einde van vers 3). Hy praat met hulle oor die koninkryk van God, omdat Hy self die Koning van daardie hemelse koninkryk is. Wanneer Hy in vers 9 na die hemel opvaar, dan moet ons dit sien as sy troonbestyging; soos wat ons sing in Psalm 47: “Hy het opgevaar, Koning is Hy daar...” In sy opstanding en in sy hemelvaart lê vir ons die waarborg, gemeente, dat die verhaal voortgaan! Die verhaal wat begin het in die krip in Betlehem; die verhaal wat gelyk het asof dit tot ‘n abrupte einde sou kom aan die kruis op Golgota, maar wat skielik wonderbaarlik voortgang gevind het op Paassondag; die verhaal wat ‘n hoogtepunt vind in Jesus se troonbestyging met sy hemelvaart, en die uitstorting van die Heilige Gees daarna; die verhaal wat vertel van Jesus se heerskappy in Jerusalem, in Judea, in Samaria, tot in Rome, die hoofstad van die wêreldryk van daardie tyd. Dit is ook die verhaal wat verder gaan wanneer Lukas sy tweede boek afsluit met ‘n oop einde (Hand. 28:30-31), want ook al is Paulus ‘n gevangene, preek hy die Evangelie van Jesus Christus met vrymoedigheid en sonder enige verhindering. Dit is die verhaal wat voortgaan deur 2000 jaar se kerk- en sendingsgeskiedenis. Dit is die verhaal wat ons bestaan, as kerk hier in Suid-Afrika vandag, verklaar. Dit alles begin met ‘n lewende Jesus wat gedurende veertig dae sy dissipels toerus vir wanneer Hy nie meer fisies by hulle is nie, maar op die troon in die hemel sit.

Handelinge gaan oor hierdie Jesus, en wat Hy sê en doen om sy kerk te plant en te laat groei. Handelinge gaan oor die kerkvergaderende werk van die verhoogde Christus! En dit laat ons daarom anders kyk na die kerk, broers en susters. Die kerk is nie ‘n klub of ‘n vereniging nie. Die kerk is ook nie die ampte nie – hoewel dit nie onbelangrik is nie. Die kerk is nie die reëls wat ons met mekaar afgespreek het nie – hoewel ons daardie reëls nie sommer mag verbreek nie. Die kerk is nie die som van ons eredienste, ons bybelstudie-verenigings, ons kerkraadsvergaderings, en ons katkisasie-klasse nie. As al hierdie dinge die kerk was, dan sou daar vandag niks meer van die kerk oor gewees het nie. Nee, die kerk is die liggaam van Jesus Christus, onlosmaaklik aan Hom verbonde en totaal van sy koninklike en hemelse sorg afhanklik. Hy verskyn reg aan die begin van Handelinge aan sy dissipels as die lewende Here. En Hy verskyn vandag nog steeds aan ons in die tekens van die doop en die nagmaal, en Hy spreek vandag nog met ons deur sy Woord. Daar lê die wese van die kerk, en daarin lê die waarborg van haar voortgang. Dit is die een stabiele, rooi lyn regdeur die geskiedenis waaraan ons mag vashou!

 

Dit is ‘n stabiliteit wat ons nie om ons heen sien nie. Juis in hierdie tyd is stabiliteit so vlugtig en in baie opsigte so ongrypbaar. Wêreldwyd – en ook in ons eie land – sien ons hoe regerings en besighede en toerisme en skole en sportfederasies hulleself begin voorberei vir heropening onder nuwe, ongekende omstandighede. Sommige bedrywe beveel aan dat hulle werknemers maar langtermyn van die huis af moet begin werk; winkels berei hulle voor vir permanente sanitasie en sosiale afstand; sokker-ligas stel datums vas om weer wedstryde in leë stadions te begin speel; toerisme-buro’s gis oor hoe vlugte in die toekoms bedryf sal word om afstand tussen passasiers te handhaaf; skole in Suid-Afrika wonder wanneer daar uiteindelik klinkklare datums van die minister af gaan kom. Sommige meen die lewe het vir altyd verander; ander is van mening dat die Corona-virus vir eers hier is om te bly, amper soos VIGS in die negentigerjare van die vorige eeu. In elk geval is te betwyfel of die lewe binnekort gaan terugkeer na die normaal waaraan ons gewoond was. En ook ons worstel met die langtermyn-impak vir ons persoonlike lewens en ons kerklike lewe. Jou lewe lyk moontlik totaal anders as toe ons in hierdie krisis ingegaan het – dalk het jy toe ‘n werk gehad, en nou nie meer nie; dalk was jy toe gesond, en is jy nou siek; dalk het jy toe nog nie geliefdes verloor nie, maar nou wel. En dan ontmoet ons vanaand die lewende Jesus – Hy was dood, maar Hy leef – en Hy praat vanuit die hemel met ons oor die dinge van die koninkryk. Sy verhaal gaan verder. En dit is sy verhaal wat, deur die geloof in Hom, ook ons verhaal mag wees. Laat jouself opneem in die verhaal van sy koninkryk. Wees deel van daardie verhaal, sodat ook jy van die lewe seker mag wees.

Maar daar is nog ‘n tweede gedagte: Sy verhaal gaan verder, want Hy doop sy kerk met die Heilige Gees.

 

2. Jesus beveel sy leerlinge om in Jerusalem te wag op die belofte van die Vader – dit is nou die 10 dae tussen sy hemelvaart en Pinksterdag. En Jesus bevestig die belofte van die Vader met ‘n uitspraak van Johannes die Doper in Lukas 3:16, waar Johannes sê: “Ek doop julle wel met water, maar Hy kom wat sterker is as ek... Hy sal julle doop met die Heilige Gees en met vuur.” Nou, hierdie belofte van die Gees en sy werking in verse 4 en 5 het die dissipels aan die dink gesit. Want onthou nou: die belofte van die Gees was ‘n belangrike deel van die Ou Testamentiese profesieë waarin die herstel van Israel verkondig is. As deel van Israel se herstel, het die gelowiges die Heilige Gees verwag! Dink aan Jesaja 32:15: “totdat oor ons uitgegiet word die Gees uit die hoogte”, of Esegiël 36:27: “En Ek sal my Gees in julle binneste gee en sal maak dat julle in my insettinge wandel...”, of ook Joël 2 wat Petrus op die Pinksterdag aanhaal. Die belofte van die Gees was onlosmaaklik deel van die Ou Testamentiese gelowiges se verwagting van ‘n nuwe en groot toekoms vir Israel. En te meer nog vir die dissipels, omdat Jesus net daarvoor met hulle oor die dinge van die koninkryk van God gepraat het. Dit is daarom nie so vreemd dat die dissipels in vers 6 vra of Jesus nou weer die koninkryk vir Israel sou oprig nie. Hulle het die Ou Testamentiese beloftes goed geken, hulle het gehoor wat Jesus vir hulle oor die koninkryk vertel het – en daarom stel hulle hierdie vraag. In vers 7 korrigeer Jesus daarom ook nie hulle verwagting nie, maar Hy stel wel hulle tydsberekening by. Dit sal langer vat as wat hulle gedink het.

 

Eers moet daar ‘n beweging plaasvind – ‘n beweging van Israel na die volke. ‘n Beweging wat deur die Gees self aan die gang gesit sal word, en waarby die gelowiges aktief betrek word. ‘n Beweging wat inherent is aan die woorde van Johannes die Doper in vers 5. In hierdie uitspraak verwoord Johannes die verskil tussen homself en Jesus, die Sterkere wat ná hom kom. Want Johannes se doop en prediking het die mense van buite-af benader, met die doel om in hulle harte in te kom. Die doop van Jesus, egter, bewerk ‘n begeestering wat van binne-uit kom en buitentoe beweeg. Dit is ‘n middelpuntvlietende begeestering!

Die Gees wat die dissipels en die kerk vanaf die Pinksterdag van binne-uit sal begeester, Hy sal maak dat hulle buitentoe beweeg, uit hulle klein kringetjie. En in konsentriese sirkels sal die getuienis van die dissipels al wyer uitkring – Jerusalem, Judea, Samaria en tot aan die uiterste van die aarde (vers 8). En dit is presies wat ons in die boek Handelinge sien gebeur [sien kaart op skerm]. Jerusalem, Judea, Samaria en die eindes van die aarde word as’t ware die program, dit bepaal die struktuur, van die res van die boek Handelinge. Vanaf Handelinge 2-7 vind ons Jerusalem en Judea. In Handelinge 8:1 vind ons die oorgang vanaf Jerusalem via Judea na Samaria. In die tweede deel van Handelinge 8, asook in Handelinge 10, vind ons die oorgang na die heidene, wanneer eers die hofdienaar van Ethiopië en vervolgens Cornelius tot bekering kom. Vanaf Handelinge 13 word Paulus uitgestuur met die spesifieke opdrag om die heidene te bereik. En vanaf Handelinge 19 verskyn Rome, die hoofstad, op die toneel. En dit gebeur alles deur die verkondiging van die dissipels, die ambassadeurs van Koning Jesus, wat met sy Gees begeester is.

 

Broers en susters, die verhaal gaan verder, want Jesus leef! Maar die verhaal gaan ook verder omdat die kerk met die Heilige Gees gedoop is. Nie net die apostels nie – nee, die hele kerk! Dis waar, Pinkster is ‘n eenmalige gebeurtenis, ‘n eenmalige heilsfeit, maar dit het uitwerking deur al die eeue tot op vandag. Pinkster is soos ‘n kraan – in die Ou Testament het hierdie kraan gedrup-drup-drup. Hier is iemand vervul met die Gees, daar is iemand vervul met die Gees – ‘n priester, ‘n rigter, ‘n koning... Maar met Pinkster word die kraan wyd oop gedraai (en oop gelos!). Die eenmalige van Pinkster is dat die Gees uitgestort word (die kraan word oopgedraai); die blywende van Pinkster is dat die stroom bly vloei. Ons hoef nie vandag Pinkster-bidure te hou om te vra vir ‘n nuwe Pinkster nie; ons hoef nie te vra vir ‘n herhaling van die Pinkster-tekens van vuur en tale nie. Die lewende Christus gee die Gees vir ons sonder mate. Die kraan is vandag nog steeds wawyd oop. Soos Petrus sê in Handelinge 2:39: “Die belofte kom julle toe en julle kinders en almal wat daar ver is, die wat die Here onse God na Hom sal roep.” Maar wat doen ons met hierdie vers? Ons gebruik dit as begronding vir die kinderdoop. Wat dit ook is. Maar in die heel eerste plek verwys Handelinge 2:39 terug na Handelinge 2:33, waar Petrus sê: “Nadat Jesus dan deur die regterhand van God verhoog is en van die Vader die belofte van die Gees ontvang het, het Hy dít uitgestort, wat julle nou sien en hoor.” Die belofte van die Gees – daardie belofte kom julle toe en julle kinders en almal wat daar ver is, die wat die Here onse God na Hom sal roep. Hierin lê die blywende van Pinkster. Dit is die krag wat ook ons ontvang, en waardeur ook ons getuies kan wees tot aan die eindes van die aarde.

 

Die lewende Jesus, Koning in die hemel, laat sy verhaal voortgaan – mede deur ons getuienis, broers en susters. Nie asof die voortgang van sy verhaal afhanklik is van ons getuienis nie, maar dit is wel sy begeerte om sy Naam te hoor op die lippe van elkeen wat met sy Gees vervul is. Dit is sy begeerte dat ons deel sal wees van die verhaal wat ook ons bereik het – via die apostels, via die sendelinge en teoloë van naam, maar ook via die verkondiging van elke naamlose christen deur die eeue. In daardie stroom mag ons gaan staan.

Dan is dit jammer as ons van Christene in hierdie tyd te dikwels ‘n ander geluid hoor. Te dikwels hoor en sien ons Christene wat praat oor komplot-teorieë oor China wat die virus met opset die wêreld ingestuur het, of Christene wat artikels aanhaal oor hoe ons regering hulle radikale ekonomiese transformasie-planne deurdryf op die rug van die Corona-virus en die huidige grendeltyd, of oor 5G-corona bestraling, of oor Bill Gates-skandale. Het ons dan nie ‘n ander boodskap nie? Laat ons woorde van hoop spreek, die boodskap van die evangelie, die wil van God; woorde oor uitsig, vreugde, kreatiwiteit, nuwe lewe. Laat ons die gesonde teengeluid laat hoor – die teengeluid van genesing en heling deur Jesus Christus. Vertel vir mense van God se geheime plan dat Jesus moes sterf om mense te red, of van die komplot van Handelinge 2 wat die wêreld verower het. Vertel vir mense van ons direkte verbinding met die lewende Here in die hemel, waarmee 5G nie kan kompeteer nie. Vertel vir hulle van die Romeine 14:17-inenting, naamlik dat “die koninkryk van God nie spys en drank is nie, maar geregtigheid en vrede en blydskap in die Heilige Gees”. “Want God het ons nie ‘n gees van vreesagtigheid gegee nie, maar van krag en liefde en selfbeheersing. Skaam jou dan nie oor die getuienis van onse Here nie!” (2 Tim. 1:7-8)

 

En dan is die doel nie om van ons almal apostels en sendelinge te maak nie, maar wel getuies, mense wat in die hofsaak van God met die wêreld getuig van God se liefde vir elkeen wat glo, en sy oordeel oor elkeen wat hulle van Hom afkeer. Laat ons hierdie roeping – waarvoor die gawes en die toerusting volledig van God af kom – met blydskap op ons neem. Laat ons bruikbare instrumente wees in die hande van Jesus Christus sodat die verhaal – ook deur ons – kan voortgaan. Die verhaal van God se koninkryk in Weltevredenpark (Johannesburg), die verhaal van God se koninkryk in Bellville, die verhaal van God se koninkryk hier by ons in die Moot. Want Jesus Christus het opgevaar, Koning is hy daar! Vorste en volk kom om sy volk te wees, Abram se God te vrees. Sing dan jubelend bly, hoog verhewe is Hy! Laat ons met daardie boodskap die week ingaan, en – as dit moontlik is – ons huise uitgaan.

Amen

Liturgie: 

Votum en seëngroet: Ons hulp is in die Naam van die Here wat die hemel en die aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die Eersgeborene uit die dood, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.

Sing Ps. 103:9 en 10

Gebed

Lees: Lukas 24:44-49

Sing Apostoliese Geloofsbelydenis

Teks: Handelinge 1:1-8

Preek

Sing Ps. 47:3 en 4

Gebed

(Kollekte)

Slotsang Ps. 100:2-4

Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen