Ek gaan op reis, en ek vat saam...

Minister: 
Ds HH van Alten
Church: 
Pretoria
Date: 
2020-04-19
Text: 
1 Timotheus 6:6-8
Preek Inhoud: 

Geliefde gemeente van Jesus Christus,

“Ek gaan op reis, en ek vat saam...” Ons almal ken waarskynlik hierdie speletjie? Ons speel dit met ons kinders wanneer ons ver moet reis om daarmee die tyd vir hulle korter te maak. Nou, as ‘n mens op reis gaan, dan moet jy besluit wat jy wil saamvat, en wat nie (net soos in die speletjie). En wat jy saamvat word vir ‘n groot deel bepaal deur die reis en die reisdoel. As ek, byvoorbeeld, Kiev toe gaan vir twee weke, dan vat ek ‘n groot koffer saam met gepaste klere om te kan klasgee, en in my koffer gaan ook ‘n klomp boeke en my lêers met klasnotas saam. Maar as jy op ‘n staptoer gaan, dan bly daardie dinge by die huis en probeer jy so min as moontlik saamvat, veral dinge wat so lig as moontlik is. As jy na ‘n warm plek gaan, dan vat jy ander dinge saam as wanneer jy na ‘n koue plek gaan. As jy in ‘n volledige toegeruste huisie gaan vakansie hou, is dit nie nodig om opblaas-matrasse saam te vat nie; gaan kampeer jy net met jou tent, het jy dit waarskynlik wel nodig.

 

Nou, dieselfde beginsels geld vir ons lewensreis. Almal van ons is besig met die reis van die lewe. En wat vat ons saam op hierdie reis? Om ons hiermee te help, gee Paulus in vers 7 van ons teks vir ons ‘n baie belangrike perspektief op die lewensreis, wanneer hy vir ons wys hoe hierdie reis begin en eindig: “Want ons het niks in die wêreld ingebring nie; dit is duidelik dat ons ook niks daaruit kan wegdra nie.” Dit is ‘n feit wat geld vir elke mens! Dit het gegeld vir ons eerste voorouers, Adam en Eva. Hulle het met niks in die wêreld ingekom, en met niks het hulle dit weer verlaat, “want stof is jy, het die Here vir hulle gesê, en tot stof sal jy terugkeer” (Gen. 3:19). Dieselfde het gegeld vir Job, die rykste man van sy tyd. Hy was ontsaglik ryk, maar binne ‘n baie kort tyd het hy alles verloor: sy beeste, sy donkies, sy skape, sy kamele, sy knegte, sy kinders... alles! En toe dit gebeur het, het Job op die grond neergeval en gesê: “Naak het ek uit my moeder se skoot uitgegaan, en naak sal ek daarheen terugkeer” (Job. 1:21). Die Prediker het tot dieselfde gevolgtrekking gekom: “Soos hy uit sy moeder uitgegaan het, gaan hy naak weer heen soos hy gekom het; en hy sal vir sy moeitevolle arbeid niks wegdra wat hy met hom kan saamneem nie” (Pred. 5:14). En in Psalm 49:17 en 18 word dit soos volg verwoord: “Wees nie bevrees as ‘n man ryk word, as die rykdom van sy huis groot word nie; want by sy dood sal hy van alles niks saamneem nie; sy heerlikheid sal nie neerdaal agter hom aan nie.” En tydens sy bediening op aarde het Jesus dieselfde boodskap oorgedra, soos onder andere blyk uit die gelykenis van die ryk dwaas in Lukas 12 – in hierdie gelykenis hoor ons die ryk dwaas vir homself sê: “Siel, jy het baie goed wat weggesit is vir baie jare; neem rus, eet, drink, wees vrolik.” En dan sê God vir hom: “Jou dwaas, in hierdie nag sal hulle jou siel van jou afeis; en wat jy gereedgemaak het, wie s’n sal dit wees?” (Luk. 12:19-20).

Dus, Paulus se woorde in vers 7 staan in ‘n lang Bybelse lyn waarin God telkens aan sy kinders dieselfde boodskap wil oordra, telkens dieselfde beginsel wil tuisbring: “niks in, niks uit” (met die klem op die laaste). Die eerste – nou ja, daar is nie veel wat ons daaraan kan doen nie; maar die laaste – dat ons niks uit hierdie lewe kan saamneem nie – daar lê ons probleem, daar lê ons swakheid. Maar dit is presies wat die Here aan ons wil oordra! Stel jouself voor: ‘n vliegtuig met 280 passasiers, waarvan almal die ewigheid ingaan wanneer die vliegtuig neerstort. Onder hulle is daar ‘n politikus, ‘n miljoenêr, ‘n direkteur van ‘n groot maatskappy, ‘n sosiale vlinder met haar kêrel, en die kind van ‘n sendeling wat oppad terug is ná ‘n besoek aan sy oupa en ouma. Ná die ongeluk staan hulle almal voor God, volledig gestroop van elke Visa-kaart, elke tjekboek, alle klere, alle sukses, alle Instagram-volgelinge, alle publikasies, en alle Hilton-besprekings – die politikus, die miljoenêr, die direkteur, die sosiale vlinder, en die kind van die sendeling, almal op dieselfde vlak met niks in hulle hande nie, behalwe dít wat hulle saamgedra het in hulle harte...

Broers en susters, as dit die realiteit van elke mens is – of hy dit nou erken of nie – wat is dan die dinge wat ons saam met ons neem op ons reis deur die lewe? Dit is die antwoord op hierdie vraag wat so bepalend is vir ons dankbaarheid! Immers, dit is dankdag vandag. ‘n Vreemde dankdag, ‘n gedempte dankdag; vir sommige is die noodroep en die klag moontlik nader as die dankgebed. By sommige begin die grendelstaat nou regtig druk – nie net op die gemoed nie, maar meer nog op die bankrekening en die koskaste. Ander weer het dalk genoeg om die grendelstaat te oorleef en die rekeninge te betaal, maar hulle is nogtans gespanne om weer aan die werk te gaan om hulle inkomste te verseker. Weer ander het dalk meer as genoeg. Wat die omstandighede ook al is, vir almal van ons geld die vraag: wat vat ons saam op die reis deur die lewe? Tema: Ek gaan op reis, en ek vat saam...

In ons teks wys Paulus ons op die drie dinge waarsonder ons nie op reis kan gaan nie:

  1. Godsaligheid
  2. Vergenoegdheid
  3. Kos en klere

 

1) Die eerste wat Paulus wil hê ons moet saamvat op ons lewensreis, is godsaligheid (vers 6). Dit is nie so ‘n maklike woord om te verstaan nie. Dit vat ons terug na hoofstuk 3:16, waar Paulus dit die eerste keer in hierdie brief gebruik. Hy skryf oor die verborgenheid (die geheim) van die godsaligheid. En in ‘n pragtige himne besing Paulus vervolgens vir ons wat hierdie geheim presies inhou; hy sê daar: “God is geopenbaar in die vlees, is geregverdig in die Gees, het verskyn aan engele, is verkondig onder die heidene, is geglo in die wêreld, is opgeneem in heerlikheid.” Dit gaan hier dus oor die vleeswording, die opstanding, die verkondiging, die gelowige aanvaarding en die verheerliking van Jesus Christus. Ten diepste gaan dit dus oor die inhoud van die Evangelie, waardeur mense gebring word tot aanbidding van God en tot ‘n lewe wat daarby pas. Godsaligheid gaan dus oor die kennis van Jesus Christus in die verstand en in die hart, wat vervolgens uitwerking vind in ‘n Christelike lewenswandel.

Dit is hierdie godsaligheid wat deur die dwaalleraars, teen wie Paulus skryf, misbruik is om hulleself finansieel te verryk (kyk maar na die laaste woorde van vers 5: “hulle dink dat die godsaligheid winsgewend is”). En dan sê Paulus in vers 6: nee, die godsaligheid is nie die middel tot finansiële wins nie – julle maak ‘n fout! – dit is wins, groot wins, in sigself alreeds! Die godsaligheid is nie die weg waarlangs ons ryk word, soos wat die ‘Word of Faith’ en die voorspoeds-teologie in ons tyd beweer nie. Hierdie kettery, wat duisende in ons tyd verslaan, sê dat as jy werklik op God vertrou en as daar geen sondes in jou lewe is wat nog nie bely is nie, dan is jy veronderstel om gesond en voorspoedig te wees. Want dit is wat God wil hê vir jou lewe – Hy wil hê jy moet gesond wees, Hy wil hê jy moet oorvloed hê, Hy wil hê jy moet ryk wees en die beste dinge besit. Maar Paulus sê: nee, die godsaligheid is in homself alreeds onbeskryflik waardevol. Die godsaligheid self is, soos Calvyn skryf, groot wins vir ons, want daardeur word ons nie slegs erfgename van die wêreld nie, maar word ons in staat gestel om Christus en al sy rykdom te geniet. En hierdie wins is, soos wat Paulus in hoofstuk 4:8 verduidelik, nie net vir hierdie lewe nie, maar ook vir die toekomende lewe. Geloof in Jesus Christus is die mees waardevolle investering, omdat dit waarde het tot in die ewige lewe.

 

Broers en susters, niks in – dit is die beginsel aan die begin van jou lewe; niks uit – dit is die beginsel aan die einde van jou lewe; jy bring niks in die wêreld in by jou geboorte nie, jy kan ook niks daaruit wegdra wanneer jy sterf nie. Maar, sê Paulus, terwyl jy so op reis is vanaf die begin van jou lewe na die einde daarvan, is dit beslis die moeite werd om godsaligheid in jou reissak saam met jou te dra. Want godsaligheid, die geloof in Jesus Christus met alles wat dit in jou lewe uitwerk, gee nou alreeds groot wins. Die geloof is inderdaad winsgewend, maar op ‘n heel ander manier as wat die dwaalleraars gemeen het. Dit maak ons deel van God se verhaal van skepping, verlossing en voltooiing. Dit gee perspektief op die ewigheid, aan ‘n lewe wat vir die meeste van ons nie langer as 80 of 90 jaar sal duur nie. En wanneer jy aan die einde van daardie kortstondige lewe te sterwe kom, is daar niks van wat jy hier op aarde bymekaar gemaak het, wat jy saam met jou kan neem nie. Maar die geloof in Jesus Christus, diep ingeplant in die hart, neem jou saam na ‘n volmaakte lewe waar mot en roes nie verniel nie en waar diewe nie inbreek en steel nie. Juis te midde van die moeite en onsekerheid van hierdie tyd; juis nou, wanneer die werksekerheid verdwyn en die inkomstestrome begin opdroog, word ons opnuut opgeroep om daarin te belê en daaraan vas te hou. En vir dié wat dit het, is dit ‘n bron van diepe dankbaarheid, want ook al sou die vyeboom nie bloei en aan die wingerdstokke geen vrug wees nie, die drag van die olyfboom sal teleurstel en die saailande geen voedsel oplewer nie, die kleinvee uit die kraal verdwyn en geen beeste in die stalle wees nie – nogtans sal ek jubel in die Here, en sal ek juig in die God van my heil! Dit is dankbaarheid in pandemie-tyd, want Christus het gesterf en het opgestaan en is opgeneem in heerlikheid. Hy leef, en ek in Hom!

 

2) Die tweede wat Paulus wil hê ons moet saamvat op ons lewensreis, gaan eintlik saam met die eerste. Vers 6: “Maar die godsaligheid (dit is waaroor ons sopas gepraat het) saam met vergenoegdheid is ‘n groot wins.” Vergenoegdheid – die woord wat Paulus hier gebruik is autarkia, en dit kom uit die Griekse filosofie, veral uit die denke van die Stoisyne. En dit dui op iemand wat alles wat hy nodig het, in homself het. Hy is nie van iets of iemand anders afhanklik nie; so ‘n persoon is volledig self-genoegsaam, en daarom word hy ook nie omgekrap of versteur deur die omstandighede rondom hom nie.

Nou, Paulus gebruik hierdie woord uit die Griekse filosofie, maar hy gee ‘n ander betekenis daaraan: vir hom gaan dit nie daaroor dat die Christen genoeg aan homself het nie, maar dat hy genoeg aan Christus het. Alles wat ons as Christene nodig het vir hierdie en die toekomende lewe, het ons in Christus. En juis daarom kan ons tevrede wees – vergenoeg wees – met die lewensomstandighede, soos wat God dit oor ons beskik het. Dit het Paulus op die harde manier en in die praktyk van sy eie lewe geleer, soos wat hy daarvan getuig in Filippense 4: “Ek het geleer om vergenoeg te wees met die omstandighede waarin ek is. Ek weet om verneder te word, ek weet ook om oorvloed te hê; in elke opsig en in alle dinge is ek onderrig: om versadig te word sowel as om honger te ly, om oorvloed te hê sowel as om gebrek te lê. Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee” (Fil. 4:11-13).

 

En daar lê nou dikwels ons probleem – ons vergenoegdheid word so dikwels nie in die eerste plek deur Christus bepaal nie, maar deur ons omstandighede. As ek net nog R2000 meer aan my salaris kan toevoeg, dan sal ek tevrede wees; as ek net daardie bietjie meer kan kry, dan sal alles reg wees; as ek net nog hierdie een kamer kan oordoen, net nog my kombuis se kassies kan vervang, net nog daardie nuwe vloere kan insit wat ek by my vriendin gesien het... Of miskien is jou vergenoegdheid gekoppel aan meer beskeie doelwitte: as ek maar net elke maand my uitgawes kan dek, as ek maar net genoeg het om van te lewe, as ek maar net my gesin kan versorg – dan sal ek vergenoeg wees. En dit gaan nie slegs oor geld en goed nie, broers en susters. O ja, geld en goed is só ‘n verleiding vir ons almal – en om na daardie klein bietjie ekstra te streef, kan jou ‘n valse gevoel van vergenoegdheid gee. Maar dit gaan nie net oor geld nie, dit gaan ook oor verhoudings en status: as ek maar net hom kan hê, sal ek tevrede wees; as ek maar net met haar kan trou, sal ek vergenoeg wees; as ek maar net hierdie sukses of daardie gewildheid kan hê... Maar as jou vergenoegdheid gebaseer is op enige iets wat jy nie in hierdie wêreld ingebring het en wat jy ook nie uit hierdie wêreld kan saamvat nie, dan is jou vergenoegdheid op die verkeerde basis gebou!

Die vergenoegdheid waartoe Paulus ons oproep, is nie ‘n vergenoegdheid in enige iets wat hierdie wêreld ons kan bied nie. Want so ‘n vergenoegdheid gaan nooit ver genoeg nie, dit vind nooit rus nie. Bereik jy A, dan dink jy: as ek maar net B kan kry. Ek kom jy by B, dan is C die volgende teiken. Vergenoegdheid, soos iemand ‘n slag gesê het, is om te weet dat as ek nie tevrede is met wat ek het nie, sal ek ook nooit tevrede wees met wat ek wil hê nie. Dit is dan ook die gevaar vir dié wat ryk wil word, soos wat Paulus waarsku in verse 9 en 10. Let wel, verse 9 en 10 gaan nie oor mense wat ryk is nie (ons sal later nog daaroor praat), maar dit gaan oor mense wat ryker wil word as wat hulle alreeds is; dit gaan oor mense wat steeds weer die doelpale van hulle vergenoegdheid verskuif. Maar vergenoegdheid, broers en susters, kan en mag nie gewortel wees in omstandighede, in dinge van hierdie wêreld nie. Want vergenoegheid beteken juis vrede en rus en vastigheid in alle wisselende omstandighede en ten spyte van alle wisselende omstandighede. Wat is dus die vaste punt wat aan jou rus gee op jou lewensreis? Wat is daardie onveranderbare oase waaruit jy steeds weer kan drink? As dit geld en goed is, moet ek jou waarsku dat dit allermins vas en onveranderbaar is; dieselfde geld vir verhoudings of status. Vir vergenoedheid om werklik vergenoegdheid te wees – ek het genoeg, ook al is alle rekening nie betaal nie, ook al kan ek nie alles koop of doen wat ek wil nie, maar ek het genoeg – dáárdie vergenoegheid moet gewortel wees in Jesus Christus, omdat ons in Hom alles het. Op ons reis deur die lewe – wat ‘n reis is deur reën en droogte, vrugbare en onvrugbare jare, gesondheid en siekte, rykdom en armoede heen (soos wat Sondag 10 ons leer) – is dit van onskatbare waarde om vergenoegdheid in jou reissak te mag saamdra.

 

3. En dan die derde wat Paulus wil hê ons moet saamvat op ons lewensreis: kos en klere. Vers 8: “Maar as ons voedsel en klere het, moet ons daarmee vergenoeg wees.” Die woord wat hier vir klere gebruik word, beteken letterlik ‘bedekking’, en verwys dus sowel na klere as na huisvesting (‘n bedekking / ‘n dak oor jou kop). Dit is opvallend dat dit dieselfde dinge is waarna Jesus verwys in Mattheus 6:25: “Moenie julle kwel oor jul lewe – wat julle sal eet en wat julle sal drink nie; of oor jul liggaam – wat julle sal aantrek nie.” Want dieselfde God wat aan die voëltjies kos gee en die lelies beklee, sal kos en klere en huisvestig vir sy kinders gee. En as dít vir ons darem ‘n bietjie te sober klink – kos en klere en huisvestig – dan is dit dalk omdat ons in so ‘n gegoede samelewing lewe waarin sommige mense die hoë koste van die lewe verwar met wat eintlik die koste van ‘n hoë lewe is.

Broers en susters, Paulus se boodskap hier is duidelik: elke Christen behoort tevrede te wees met die basiese behoeftes van die lewe. Immers, as jy met niks in die wêreld ingekom het en ook niks daaruit kan saamvat nie, wat het jy dan werklik in die tussentyd nodig? Wat het jy werklik nodig op jou reis van die begin na die einde, van geboorte na sterfte? Nie baie nie – kos en klere en ‘n dak oor jou kop. Alles wat meer is, is ekstra bagasie wat ons saam met ons moet dra op ons reis deur die lewe; dit is nie dinge wat ons kan saamneem na die ewigheid nie. En daarom word almal van ons aangeraai om lig te reis.

 

Maar as die Here nou tog meer vir ons gee? Wel, daarmee is op sigself niks verkeerd nie. Geniet daarvan, sê Paulus in vers 17, met dankbaarheid aan die Gewer! Ons is nie kommuniste wat van ons rykdom ontslae moet raak sodat almal ewe veel het nie. Maar laat ons met ons oorvloed goed doen en ryk wees in goeie werke, vrygewig en mededeelsaam (vers 18). Die rykes word dus geroep om ‘n vrygewige lewensstyl te omhels. In plaas daarvan om godsaligheid as ‘n weg tot wins te misbruik (soos die dwaalleraars in vers 5), wil die Here hê dat ons ons wins sal gebruik as ‘n weg om te groei in godsaligheid. Die Here gee dus deur Paulus baie duidelike aanwysings wat jy met hierdie ekstra bagasie moet doen tydens jou reis deur die lewe. En as jy hierdie ekstra bagasie saam met jou dra, luister mooi na hierdie aanwysings en gee gehoor daaraan. Lê vir jou skat weg, ‘n goeie fondament vir die toekoms. Wees vrygewing en mededeelsaam. Maar in beginsel moet alle Christene tevrede wees met ‘n eenvoudige lewensstyl. Wie by sy geboorte niks saamgebring het nie, en by sy sterwe niks kan saamvat nie, moet tydens sy lewe tevrede wees met wat vir hierdie lewe noodsaaklik is: kos, klere en ‘n dak oor jou kop. As gelowiges mag ons God dank vir hierdie bestaansminimum.

--------------------

Broers en susters, seuns en dogters, ek gaan op reis, en ek vat saam met my... In die speletjie wat ons speel, lei dit dikwels tot ‘n geweldige lang lys met dinge wat ons saamvat, ‘n lys wat ons skaars nog kan onthou. Die wenner is dan ook uiteindelik die een wat die lys die beste kan onthou. Paulus leer ons vanoggend dat ons op die reis deur die lewe net drie dinge nodig het: 1) geloof in Jesus Christus (godsaligheid), 2) vergenoegdheid (tevredenheid) in ons omstandighede, en 3) die basiese lewensbehoeftes. ‘n Baie kort lysie, nie moeilik om te onthou nie. Alles wat meer is, dreig om – juis in ‘n tyd soos hierdie – ons van ons dankbaarheid te beroof; dreig om juis vandag te lei tot die vraag: maar kan ons eintlik wel dankdag vier? Maar as ons hierdie drie voor oë hou (geloof, vergenoegdheid, basiese behoeftes), dan is daar alle rede om op ons knieë te gaan en te dank.

Ons wil daarom vandag die Here dank omdat Hy vir almal van ons in die afgelope jaar van ons reis deur hierdie lewe geloof gegee het. En dis waar, die geloof is nie altyd daarbo nie; ons geloof wil net altyd net lag en juig nie. Maar ons mag steeds bely: ons glo in God die Vader, en in sy Seun Jesus Christus, en in die Heilige Gees. Daardie geloof – soms sterk, soms swak – het ewigheidswaarde. Ons vat dit saam wanneer ons uit hierdie lewe uitgaan, ook wanneer ons niks anders kan saamvat nie.

Ons wil vandag ook die Here dank omdat Hy vir almal van ons in die afgelope jaar van ons reis deur hierdie lewe die vaste punt was te midde van wisselende omstandighede. En dis ‘n stryd, ek weet. Dis ‘n stryd om daardie vaste punt vas te hou en vergenoeg met Hom te wees as daar so baie dinge in hierdie wêreld is wat meeding om ons begeertes. Dis ‘n stryd as ons net daardie bietjie meer wil hê. Maar Hy is daar, die vaste punt wat nie wyk nie.

En ons wil vandag die Here dank omdat Hy vir almal van ons in die afgelope jaar van ons reis deur hierdie lewe kos en klere en ‘n dak bo ons koppe gegee het. En as jy dit nie self kon bekostig nie, dan het die Here dit nogtans voorsien deur middel van die ryker broeders en susters in die gemeentes en deur middel van die werk van die diakens. Ook al styg die nood in ons gemeentes, ook al is daar verskeie onder ons wat nie werk het nie, ons het almal die basiese behoeftes gehad. Ons kon almal eet, ook was dit dalk nie die luukse produkte wat ons in die winkels sien nie. Ons kon almal klere aantrek – dalk al oud en uitgewas, maar skoon en netjies. Ons het almal ‘n dak bo ons koppe gehad – dalk gehuur, dalk klein, dalk oud. En as ons meer – dalk baie meer – gekry het, dan sê ons daarvoor ook dankie, en ons bid vir wysheid en krag om vrygewig en mededeelsaam te wees.

 

Broers en susters, ons gaan ‘n nuwe seisoen in. Ons hervat weer ons reis. Wat vat jy saam? Paulus roep ons op: reis lig, pak eenvoudig. Dit hou ons naby die Here, en dit hou ons dankbaar. Dankie, Here, vir geloof, vir tevredenheid, vir kos en klere.

Amen

Liturgie: 

Votum Ps. 121:1

Seëngroet: Genade vir julle en vrede van God ons Vader, en van die Here Jesus Christus. Amen. Sing Ps. 67

Wetslesing en genadeverkondiging (1 Joh. 2:1-2)

Sing Ps. 79:5, 6, 8 en 9

Gebed

Lees: 1 Timotheus 6:3-21

Sing Ps. 49:3 en 4

Teks: 1 Timotheus 6:6-8

Preek

Amenlied Ps. 63:2-4

Gebed

Kollekte

Slotsang Ps. 36:2 en 3

Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen.