Uit sy voorsienigheid blyk dat God onbegryplik, groot maar ook goed is

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Maranata
Date: 
2020-03-15
Text: 
Nederlandse Geloofsbelydenis Artikel 13 (God se voorsienigheid)
Preek Inhoud: 

Ons het nounet uit Psalm 104 gesing hoe God voorsien in heel die skepping se behoeftes.

Sy troue sorg vir alles wat Hy geskape het vat ons saam met die term voorsienigheid.

Ons gaan in hierdie preek sien dat God se voorsienigheid nie beperk is tot voedsel en klere en gesondheid nie.

In die lig van die mens se sondeval, kry sy voorsienigheid ‘n ekstra dimensie.

As gevolg van die sondeval het dinge soos siekte, droogte, onvrugbaarheid, armoede, oorlog en dood deel van die aarde se geskiedenis geword.

In die preek gaan ons sien dat hierdie skadukante van ons bestaan egter nie buite God se voorsienigheid val nie.

Op meesterlike wyse neem God hierdie afskuwelike gevolge van menselike optrede ter hand, om dit vervolgens om te buig sodat dit sy goeie doel dien.

 

Tema: Uit sy voorsienigheid blyk dat God onbegryplik, groot maar ook goed is

 

Behalwe vir artikel 13 skryf die Heidelbergse Kategismus ook uitgebreid oor God se voorsienigheid.

Daar word die Bybelse leer soos volg saamgevat:

“Die almagtige en oralteenwoordige krag van God waardeur Hy hemel en aarde en al die skepsels asof met sy hand nog onderhou en so regeer dat lower en gras, reën en droogte, vrugbare en onvrugbare jare, voedsel en drank, gesondheid en siekte, rykdom en armoede en alles ons nie per toeval nie, maar uit sy Vaderhand toekom.” – Sondag 10.

Gesondheid én siekte kom van die HERE.

Daar is baie Skrifgedeeltes wat dit kan staaf.

Daar is mense in die Bybel wat op hulle gebed wonderbaarlike genesing ontvang het.

Dink aan Hiskia in die Ou Testament.

Dink aan al die genesingswonders wat die Here Jesus verrig het.

Daar is ook mense in die Bybel wat God juis doodsiek laat word het.

Dink aan Gehasi se melaatsheid.

Dan nog ingrypender as gesondheid en siekte, wat die Skrif ons ook leer is dat God in beheer is van lewe en dood.

Daar is mense wat dood was, wat op God se Woord hulle lewe teruggekry het.

Dink aan die Jaïrus se dogtertjie.

Dink aan die weduwee van Naïn se seun.

Dink aan Lasarus.

Dink aan die jongman wat uit die vensterbank geval het, tydens Paulus se nagtelike rede.

Maar daar was ook mense wat deur God se ingrype daar en dan hulle lewe verloor het.

Dink aan Lot se vrou.

Dink aan Farao en sy soldate in die Rooisee.

Dink aan Ananias en Safira.

 

Die stelling dat gesondheid én siekte, lewe én dood uit God se Vaderhand na ons toekom, is dus deur en deur Skriftuurlik.

Hierdie gee ons as gelowiges ‘n unieke kyk op die werklikheid.

Sonder dat ons passief en lydelik word, sonder dat ons ons verantwoordelikheid nie neem nie, bly ons altyd besef dat alle verloop van gebeurtenisse in God se hand is.

Die spoor wat die coronavirus tans deur die wêreld trek, is binne God se beheer.

Meer spesifiek die Covid 19 virus.

Die 19 verwys na 2019, die jaar toe dit die eerste keer gediagnoseer is.

Die virus het in drie maande se tyd ongeveer 4000 lewens wêreldwyd geëis.

Hierdie virus is tans baie in die media, maar dit wil nie sê dis die ergste siekte op aarde nie.

Die siekte wat die meeste sterfgevalle veroorsaak, is nog steeds malaria, met meer as 1000 dooies per dag.

Daarby vergeleke is Corona maar lig in die broek.

Gesondheid én siekte kom uit God se Vaderhand.

Ja siektes wat daaglikse duisende mense se lewens eis wêreldwyd.

Verstaan u dat sommige mense hierdie nie verstaan nie?

Verstaan u dat sommige mense ‘n probleem met God kry, as hulle hoor dat siekte uit God se Vaderhand kom?

So het die leer van die voorsienigheid onder swaar kritiek deurgeloop.

God is mos liefde!

Hoe kan God toegelaat het dat miljoene der miljoene mense in die Tweede Wêreldoorlog omgekom het?

In die moderne denke sien mens dan ook weer die ou dwaalleer van iemand soos Marcion wat die kop opsteek, in die sin dat God nie in beheer van die kwaad is nie.

Marcion het geleer dat daar ‘n goeie en ‘n slegte God is, wat met mekaar stryd voer.

Marcion was beïnvloed deur die tydsgees van sy tyd, onder andere die gnostiek.

Daarteenoor het kerkvaders soos Augustinus die Skriftuurlike leer verdedig.

Wat die kwaad betref, dit word deur God volkome beheer, al bly die mens self verantwoordelik vir die kwaad en nie God nie, aldus Augustinus.

 

In die moderne denke lê die leer van die voorsienigheid onder vuur, omdat die moderne mens hom nie meer aan die Woord wil onderwerp nie.

Die wetenskap word aangevuur as ‘n argument teen die voorsienigheid.

Volgens die atheïstiese wetenskap bestaan daar niks behalwe die waarneembare wêreld nie.

‘n Onsigbare God wat ‘n invloed het op die gang van sake, is wensdenkery.

Verder word godsdiens en die geloof in God se voorsienigheid afgemaak as projeksie.

Die onseker mens projekteer vir homself ‘n god in die hemel om homself te beskerm.

Maar aan die einde van die dag is daardie voorsienige god slegs die mens se eie breinkind.

Verder word daar telkens gewys op die katastrofes uit die verlede.

Hoe kon God toelaat dat Auswitsch gebeur, of Hiroshima, of die tsunami van 2004, of malaria, of corona ...

So sien ons dat sommiges hierdie argumente gebruik om die geloof in God agter hulle te laat.

Of ander pas hulle godsbeeld drasties aan.

So beweer sommiges dat God nie opgewasse is teen die kwaad, dat Hy net soos die mensheid ook stry teen die kwaad, dat Hy tans nie beheer oor alles het nie.

Ons troos sou dan egter wees, dat God met ons medelye het, simpatie.

Dat Hy ons aanmoedig om vol te hou, dat Hy miskien ‘n langer asem as ons het.

God weet hoe ons voel, Hy ly saam met ons.

Hierdie soort denke oor God, u verstaan wel, reken heeltemal af met die klassieke leer van God se voorsienigheid, waarvolgens die kwaad wel in God se hand is, waarvolgens God wel volledig in beheer van die kwaad is.

 

Hoe dit ook sy, hierdie bly een van die groot vrae in die menslike bestaan.

Die vraag na die sin van lyde.

Die aanwesigheid van pyn en lyding het sommige daartoe gebring om met die vinger beskuldigend na God te wys, en ‘n vertroue op sy voorsienigheid oorboord te gooi.

Terselfdertyd het dit ander juis na God laat vlug, en vashou aan die belydenis dat niks buite sy wil om gebeur nie, dat God met vaste hand alles lei na sy doel toe.

Dat selfs lyde deur God omgebuig word om ‘n goeie doel te dien.

‘n Bekende teoloog uit die vorige eeu, C.S. Lewis, het lyde bestempel as God se megafoon vir ‘n dowe wêreld.

Megafoon is ‘n ou woord vir ‘n luidspreker.

As mense is ons geestelik se doof, dat ons nie luister nie, tensy God met ‘n luidspreker in ons ore skreeu.

Daar skuil baie waarheid in hierdie uitdrukking.

Normaalweg wil mense nie na God luister nie.

Maar as Hy pyn en lyding op hulle pad bring, dan bestee hulle wel aandag aan God.

As alles altyd net voor die wind sou gaan in die wêreld, dan sou niemand moeite doen om God te eer nie.

Hoe dikwels gebeur dit nie, dat mense se geloof eers verdiep, nadat hulle deur lyde moes gegaan het.

Lyde of in hulle eie lewens, of in die van ‘n nabestaande.

In Psalm 119 sing die digter daarvan:

 

“Dat U my verdruk het, HERE,

dit was enkel goed vir my,

want daardeur het U my dieper

in u kennis ingelei.

Daarom is dit my veel beter

as die allerrykste skat,

meer as al die goud en silwer

wat die wêreld kan bevat.”

Ps 119:25

 

Broer, suster, kan u hierdie saamsing?

Laat ons eerlik wees, meestal kan ons hierdie eers agteraf sing.

As ons terugkyk op lyde, swaarkry, verdrukking.

As dit agter die rug is.

As ons oog gekry het vir watter vrug die HERE daardeur in ons lewe laat ryp word het.

Dikwels, as ons dit in die gesig staar, dan stoei en worstel ons, selfs met die HERE.

Wat ‘n troos, om dan tog die wete vas te hou, dat niks oor ons kom, wat nie binne God se handbereik is nie, ja alle skepsele is so in sy hand, dat hulle hul teen sy wil nie kan roer of beweeg nie!

 

(pouse)

 

As ons na die Skrif kyk, kom God se voorsienigheid daarin op gevarieerde wyse na vore.

God is die een wat sal voorsien.

Dink aan Abraham se belydenis, Genesis 22:8: “God sal vir Homself die lam vir ‘n brandoffer voorsien”.

God is die een wat skep en vernuwe.

Dink aan Psalm 104:30: “U maak die gelaat van die aarde nuut”.

God is die een wat sorg.

Dink aan Deuteronomium 11:12: “’n land waar die HERE jou God voor sorg; die oë van die HERE jou God is altyddeur daarop, van die begin van die jaar tot die einde van die jaar.”

En 1 Petrus 5:7: “Werp al julle bekommernis op Hom, want Hy sorg vir julle.”

God is die een wat regeer.

Dink aan Psalm 47:9: “God regeer oor die nasies”.

God is die een wat dra.

Dink aan Hebreërs 1:3: “Hy ... wat alle dinge dra deur die Woord van sy krag”.

Al hierdie woorde omskryf iets van God se voorsienigheid:

God skep, Hy vernuwe, Hy sorg, Hy regeer, Hy dra.

Dit is alles eienskappe wat saamgevat word met die term: voorsienigheid.

Behalwe vir hierdie eienskappe wat eksplisiet in die Skrif na vore kom, kan ons ook dink aan die lewensgeskiedenisse van mense oor wie ons in die Bybel lees.

Ook daarin openbaar die Skrif God se voorsienigheid.

Die manier hoe iemand soos Josef se lewe gelei is, is ‘n Skriftuurlike les in God se voorsienigheid.

Josef wat deur sy eie broers as slaaf na Egipte verkoop is, wat daar onskuldig in die tronk beland het, maar wat deur Goddelike sameloop van omstandighede op die troon gekom het, na Farao die magtigste man van Egipte.

Later mog Josef God se voorsienige hand in sy lewe besef, toe hy vir sy broers gesê het:

“Want om lewens te behou, het God my voor julle uit gestuur ... God het my voor julle uitgestuur om vir julle ‘n oorblyfsel op die aarde te verseker en om julle in die lewe te hou tot ‘n groot verlossing. Julle het my dan nou nie hierheen gestuur nie, maar God.” (Gen. 45:5-8)

 

Dieselfde geld ook vir die Bybelboek Ester.

Ook Ester se lewensgeskiedenis is ‘n Bybelse les oor God se voorsienigheid.

Dinge lyk so toevallig, maar daaragter sit die besturende hand van God.

As koning Ahasveros nie aan die slaap kan raak nie, is dit God wat besig is om ‘n plan uit te voer om sy volk te red.

Mordegai haar oom het Ester daarop gewys, hoekom sy koningin geword het:

Ester 4:13-14: “Want as jy nou werklik swyg, sal daar van 'n ander kant af verligting en redding vir die Jode tot stand kom, maar jy en jou familie sal omkom, en wie weet of jy nie met die oog op 'n tyd soos hierdie tot die koninklike waardigheid geraak het nie?”

Dit is ou Afrikaans, en die katkisante het soms gesukkel om hierdie sleutelvers uit Ester uit hulle koppe te leer.

Maar dit wat die boodskap van die boek Ester pragtig saam.

Ester het nie koningin geword omdat sy die mooiste was nie.

Ester het nie toevallig koningin geword nie.

Sy het koningin geword omdat in God se voorsienige plan hy so Haman se moorddadige plan teen die Jode wou stuit.

 

Gemeetne, die kragtigste voorbeeld uit die Skrif van God se voorsienigheid is wat met God se eie Seun gebeur het.

In sy Pinksterpreek getuig Petrus daarvan:

Hom wat julle deur die hande van goddelose manne geneem en gekruisig en omgebring het, Hom het God opgewek (Hand. 2:23-24).

Ja dit was selfs deur God se raad en voorkennis so voorbeskik.

Petrus bedoel om te sê: Die feit dat die Jode Hom aan die Romeine uitgelewer het, die feit dat Pilatus Hom gevonnis het, die feit dat die soldate Hom geskop, spoeg en slaan het, en Hom toe aan die kruis gehang het, dit was nie buite God se wil om nie, dit was selfs in sy hand!

Nie dat die hemelse Vader dit gedoen het nie, Hy was nie skuldig daarvoor nie.

Maar Hy het dit toegelaat.

Hy het hierdie kwaad toegelaat, om iets anders te bereik, iets wat goed is.

Hy het toegelaat dat sy Seun sterf, om daarmee sy almag te toon, dat Hy Hom uit die dood kon opwek.

Dit wat ons bely in Sondag 10, sien ons so mooi terug in Jesus se lewe op aarde:

Hy was in alle teëspoed geduldig, Hy het ’n vaste vertroue gehad op sy Vader dat geen skepsel Hom van sy liefde sou kon skei nie, Hy het aan die wete vasgehou dat alle skepsels so in sy hand is dat hulle hulle sonder sy wil nie kan roer of beweeg nie.

 

Die wete van sy Vader se voorsienigheid het Hom onuitspreeklike troos gebied, en so bied dit ons ook, omdat niks per toeval oor ons kan kom nie.

Dink aan wat Jesus ons self voorgehou het – Mattheüs 10:29-30:

“Word twee mossies nie vir ’n stuiwer verkoop nie? En nie een van hulle sal op die aarde val sonder julle Vader nie. En van julle is selfs die hare van die hoof almal getel.”

NGB art. 13 verwys eksplisiet na hierdie onderwys van Jesus.

Ook kom dit terug in Heidelbergse Kategismus Sondag 1: dat sonder die wil van my hemelse Vader geen haar van my kop kan val nie.

 

Dit wat Christus ons geleer het, daaraan het Hyself ook vasgehou, toe Hy deur die dal van helse doodskaduwee gegaan het.

Daar is sommiges wat beweer dat Christus se dood aan die kruis nie beplan was nie.

Dat sulke wreedheid ook God die Vader oorval het.

Dat God nie verwag het dat sy verbondskinders so iets sou doen nie.

Mense met so ’n opvatting het die Skrif egter nie aan hulle kant nie.

Hoewel die Skrif die skuld 100% by die Jode, by die mensdom lê, maak die Skrif terselfdertyd ook duidelik dat dit volgens God se raad en voorkennis was.

 

So leer die Skrif ons dat in sy almag God die kwaad ten goede kan verander.

Josef se broers het kwaad teen hom beraam, maar God het dit ten goede gekeer.

Ja hoeveel keer, op daaglikse basis, sorg God dat die kwaad op aarde gestuit word, en gee Hy ‘n goeie wending daaraan?

Laat ons eerlik wees, ontelbare kere.

Meestal is ons salig onbewus daarvan, en leef ons maar net voort asof dit normaal is.

Was dit nie vir God se voorsienigheid nie, dan sou daar geen aarde meer oorgewees het nie.

 

Wat Jesus ons verder openbaar, gemeente, is dat in hierdie bedeling, God se voorsienigheid daar is vir sowel die gelowiges as die ongelowiges.

In hierdie bedeling, wat nog genadetyd is, groei die onkruid saam met die koring op.

Dit beteken, God se voorsienigheid bevoordeel nie net die gelowiges nie.

Ook hulle wat God ignoreer, ervaar desnieteenstaande die voordele van God se voorsienigheid.

Jesus het gesê: “Hy laat sy son opgaan oor slegtes en goeies, en Hy laat reën op regverdiges en onregverdiges.” (Matt. 5:45)

 

Wat dit betref is God se voorsienigheid en sy uitverkiesing nie identies nie, hoewel hulle oorlap.

God se uitverkiesing het as voorwerp daardie mense wat Hy bestem het vir die ewige lewe.

God se voorsienigheid het as voorwerp alles wat Hy geskape het.

Heel die geskape wêreld, sigbaar en onsigbaar, dra Hy in sy voorsienigheid en trou.

 

Nou word God se voorsienigheid nie net in ons tyd aangeval en belaglik gemaak nie.

In die verlede was dit ook al so.

Ook in die tyd toe Guido des Brès die Nederlandse Geloofsbelydenis geskryf het, was daar hulle wat die voorsienigheid geloën het.

Wat die ou dwaling van die Epikureërs weer laat herleef het.

Die Epikureërs het geleef nog voor Christus se koms na die aarde.

Hulle lewensinstelling was dat God Hom met niks op aarde bemoei nie, en alles aan die toeval oorlaat.

In die eeu van die Reformasie was daar ook sulke vrydenkers, wat dit wat die Skrif leer oor die voorsienigheid oorboord gegooi het.

Die eeu van die Reformasie was ‘n kookpot van allerlei verskillende denkrigtings.

Daarom wou Guido des Brès duidelikheid verskaf met die skryf van die Nederlandse Geloofsbelydenis.

Die owerheid moes nie dink dat die Gereformeerdes saamgegaan het met al die vreemde idees wat die ronde gedoen het nie.

En so het hy in artikel 13 duidelik rekenskap gegee van dit wat hulle volgens die Skrif oor God se voorsienigheid geglo het.

Ek weet nie of Guido des Brès besef het dat hy ses jaar nadat hy hierdie opgeskryf het, hiervoor sou boet met die marteldood nie.

Maar toe die dag kom dat hy opgehang is, het hierdie einste woorde ook hom getroos: Hy waak oor ons met vaderlike sorg en heers so oor alle skepsels dat sonder die wil van ons Vader nie een haar van ons kop val nie.

Nie net ‘n haar het van sy kop geval nie, daar is ‘n strop om sy nek gespan en hy is opgehang.

Sekerlik sou dit dan ook nie buite die hemelse Vader se wil omgegaan het nie!

Guido de Brès het geskryf: ons verlaat ons hierop, dit wil sê, ons vertrou hierop, omdat ons weet dat Hy die duiwel en al ons vyande in toom hou.

Hy het ervaring hiermee gehad.

Meerdere kere moes Guido de Brès in sy lewe van een stad na ‘n ander, van een land na ‘n ander, vlug omdat sy lewe in gevaar was.

En toe die 31ste Mei 1567 aanbreek, die dag wat hy na die galg gebring is, het dit gelyk of die duiwel en sy vyande vryspel gehad het.

Tog was dit nie so nie.

As die duiwel nie vryspel op Golgota gehad het, soos ons eerder in die preek gesien het, dan het hy dit ook nie by enigiemand wat aan Christus behoort en wat met sy bloed gekoop is nie.

Guido des Brès mog sterf met die wete: Al my lewensdae is getel.

As ek sterf, is dit op die dag wat God bepaal het.

En tot sy troos mog hy aan Jesus se woorde dink: “moenie vrees vir die wat die liggaam doodmaak, maar die siel nie kan doodmaak nie; maar vrees Hom liewer wat die siel sowel as die liggaam kan verderwe in die hel.” (Matt. 10:28)

God se doel met Guido des Brès se lewe was volbring.

Net so mag ons ook lewe, vertrouende op sy voorsienige sorg.

Ons erken eerlik: Ons menslike verstand het nie die vermoë om alles te verstaan nie, om alles uit te redeneer nie.

As ons sy voorsienigheid wil deurgrond, net soos wanneer ons sy verkiesing wil deurgrond, dan draai ons verstand vas.

Die Here vra ook nie van ons dat ons dit moet verstaan nie.

Ons moet ook nie probeer om dit te doen nie.

Ons moenie ‘n probleem maak van God se soewereiniteit aan die een kant en die mens se verantwoordelikheid aan die ander kant nie.

Oor ‘n probleem kan mens nadink en kan mens probeer om ‘n oplossing te vind.

Maar die Skrif maak van hierdie saak geen probleem nie!

Die Skrif openbaar dit gewoon aan ons as waarheid.

Hierdie waarheid, wat God openbaar, moet ons eenvoudig glo.

Ons kan in hierdie saak slegs God se grootheid aanbid.

God is so groot, dat Hy alles bestuur en tog terselfdertyd die volledige verantwoordelikheid van die mens handhaar.

 

Sommige nuuskierigheid is sondig, bely ons met artikel 13.

Ons bly daarom eerder binne die grens van die Woord.

Ons hou daaraan vas dat ons ‘n goeie God het, soos artikel 13 begin.

Wat ‘n pragtige belydenis!

Ook daardie belydenis kom uit die Skrif:

“God is goed in al sy handel,

en sy pad is enkel reg;

daarom laat Hy sondaars wandel

in die waarheid van sy weg.

Hy sal met sy hand hul lei

wat verdwaal was en verlore;

wie sagmoedig is, laat Hy

wandel op sy regte spore.”

Psalm 25:4 (berymd)

 

Amen.

 

Liturgie: 

Votum (Ps 121:1)

Seën

Ps 147:1,2

Gebed

Skriflesing: Genesis 45:1-8; Ester 4:10-14; Handelinge 2:22-28

Ps 104:1,8,9,10,11,12,15,19,21

Teks: Nederlandse Geloofsbelydenis art. 13 (God se voorsienigheid)

Preek

Ps 25:4,5,6,7

Gebed

Geloofsbelydenis van Nicea

Ps 119:25

Kollekte

Ps 147:4,7

Seën