Die Gees van Christus skep ‘n diakonale gemeente

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Maranata
Date: 
2020-02-23
Text: 
Galasiërs 5:22a
Preek Inhoud: 

Preek: Galasiërs 5:22a & 1 Johannes 3:11-18 & 4:7-12

 

Hierdie jaar het ons as gemeente ‘n jaartema, naamlik wat dit is om diakonale gemeente te wees.

Tot op hede het ons in die prediking gekyk na die instelling van die diakenamp in die Nuwe Testament.

Hoekom dit ingestel is.

Asook wie in die diakenamp moet dien.

Daar is nog meer Bybeltekste waaroor ek hopelik hierdie jaar gaan preek, waar dit spesifiek oor die diakenamp handel.

Maar, ons jaartema handel nie net oor die diakens nie, maar om diakonale gemeente te wees.

Hoe kan ons, elke gemeentelid persoonlik, en almal saam, ‘n diakonale gemeente wees?

Diakonaal beteken diensbaar, en soos ek in ‘n vorige preek genoem het, dit word dikwels opgedeel in vier hoofdele: naamlik sorg vir hulle wat gebuk gaan onder armoede, siekte, eensaamheid en ouderdom.

Mens sal nog aspekte kan byvoeg, maar hierdie is alreeds 4 baie belangrike fokusareas as dit oor diakonale diensbetoon gaan.

En die vraag wat ons nou besighou is: Hoe kan ons as gemeente groei in diakonale diensbetoon?

Hoe kan ons beter daarin word?

En dan nie net die diakens nie, maar die hele gemeente.

Nou in hierdie verband is daar een geweldig belangrike realiteit as dit gaan oor elke gemeentelid se persoonlike lewe, en ook oor ons gemeentelewe gesamentlik, en dit is dat as ons tot die slotsom kom dat daar iets moet verander, dat sommige dinge moet verbeter, dat gedrag aangepas moet word, dan help dit nie om net die vlak van gedrag aan te spreek nie.

Dit is ‘n realiteit waaroor die Bybel glashelder is: As jy mense se gedrag wil aanpas, help dit nie om hulle op te roep tot gedragsverandering nie.

Wil jy gedrag verander, moet ons op ‘n dieper vlak begin.

En so sal ons hierdie jaar, met ons jaartema diakonale gemeente, nie net op die vlak van gedrag kan bly nie.

Dit gaan nie help om hier en daar aanpassings te wil maak, strukturele veranderinge aan te bring, bepaalde dinge beter te organiseer, en en en nie.

Natuurlik kan sulke dinge waardevol wees, maar dan moet ons wel op ‘n dieper vlak begin.

 

Dit is dan ook die rede hoekom ek gekies het om in die komende weke te fokus op die vrugte van die Gees, soos ons dit kort opgesom in Galasiërs 5 vind.

Die lys wat Paulus noem, is nie volledig nie, hy noem dit as voorbeeld.

Uit die Nuwe Testament is daar nog meer vrugte wat aan hierdie lys toegevoeg word, om ‘n enkele voorbeeld te noem, die vrug van gasvryheid byvoorbeeld.

Maar in elk geval gaan ons begin met hierdie lys wat Paulus vir ons in Galasiërs 5 gee.

En in vandag se preek fokus ons op die eerste vrug, naamlik liefde.

 

Tema: Die Gees van Christus skep ‘n diakonale gemeente

1 Die vrugte van die Gees is die beter weg

2 Die liefde is die uitnemendste weg

 

1 Die vrugte van die Gees is die beter weg

Hierdie vrug – die liefde – staan nie toevallig eerste nie, mens kan dit met reg die primêre en belangrikste vrug van die Gees noem.

Die Skrif staan vol van hierdie vrug, dink aan die bekende hoofstuk 1 Korinthiërs 13.

Dink ook aan die gedeeltes wat ons uit die Brief van die apostel Johannes gelees het.

Met sy lys van vrugte maak Paulus duidelik hoe die lewe lyk van iemand wat vervul is van die Heilige Gees.

Uiteindelik is hierdie lys van vrugte ‘n skets van hoe die Here Jesus se lewe self was, toe Hy hier op aarde was, Jesus wat vervul was van die Heilige Gees.

Al wat die Galasiërs moet doen, is om na Jesus Christus te kyk.

Dit werk Paulus baie mooik uit in die eerste hoofstukke van Galasiërs.

In teenstelling tot wat ander hulle probeer wysmaak het, naamlik dat die gelowiges ook nog die Joodse tradisies moes nakom, in teenstelling daarmee fokus Paulus slegs en alleen op Christus.

Die Judaïste het kritiek hierop gehad.

Hulle was bang dat veral die gelowiges uit die heidene dan sou voortgaan met hulle onrein en immorele lewens.

Dit is binne hierdie kragteveld wat Paulus sy brief aan die Galasiërs skryf.

Aan die een kant die uiterste van die legaliste, hulle wat steeds gehamer het op die nakoming van die Joodse tradisies en voorskrifte.

Ja, het hulle gesê, ons moet in Christus glo, maar ons moet ook ons aan die wette hou.

En aan die ander kant die uiterste van hulle wat alle wette oorboord wou gooi.

‘God hou van jou soos jy is’ – was hulle slagspreuk.

Tussen hierdie twee uiterstes wys Paulus ‘n beter weg.

En dit is die weg waarop die Gees van Christus ons lei.

Dit is waar, skryf Paulus, die Evangelie van Christus het ons bevry.

Moet dus nie toelaat dat die Ou Testamentiese voorskrifte van julle slawe maak nie.

“Staan dan vas in die vryheid waarmee Christus ons vrygemaak het” (Gal 5:1).

In  Christus het besnydenis of onbesnedenheid geen krag meer nie (vers 6), maar die geloof wat deur die liefde werk.

Hier begin Paulus al te skryf oor die eerste en belangrikste vrug van die Gees: die liefde.

Liefde is die beter weg, die uitnemender weg (1 Kor 12:31).

Liefde verval nie in legalisme aan die kant, maar ook nie in losbandigheid aan die ander kant nie.

Liefde sal voorkom dat ons ons vryheid in Christus misbruik.

Wie die liefde praktiseer, kom vanself al die gebooie na.

Daarom is liefde die vervulling van die wet.

 

Hierdie spanningsveld wat daar is tussen legalisme aan die een kant, en losbandigheid aan die ander kant, is ‘n spanningsveld wat daar is in elke gemeente.

Die gemeentes in Galasië het daarmee geworstel.

En dieselfde geld vir ons.

Ook ons as gemeente, Pretoria-Maranata, vandag in die 21ste eeu, ons worstel met presies dieselfde spanningsveld.

Daar is ook in ons gemeente hulle wat hamer op die nakoming van wette en reëls.

Daar mag nie uitsonderings gemaak word nie.

Mense wat alles wil hou soos dit was, mense wat nie hou van verandering nie.

Aan die ander kant is daar ook hulle wat alle nadruk lê op die vryheid in Christus, wat nie graag oor wette en reëls en regulasies praat nie.

Hierdie spanningsveld kry dikwels sy eie dinamiek.

Dit kan gebeur dat mense steeds meer teen mekaar begin te reageer, dat mense nog meer ekstreem na die een kant toe oorhel, in reaksie op die ander.

So begin daar as ‘t ware twee kampe te vorm, en as dit so aanhou en dit word al hoe erger, dan ontstaan daar as ‘t ware ‘n burgeroorlog, ‘n oorlog binne ‘n gemeente.

En soos dit altyd gaan in ‘n oorlog, hulle wat in die middel is, word gedwing om te kies vir een van die twee kante, vir een van die twee uiterstes.

Dit raak later soos erg, dat dit is soos honde wat baklei, wat mekaar stukkend byt.

Aan die einde van die dag kan so ‘n konflik tussen Christene ‘n kerk heeltemal verwoes.

Presies hierdie dinamiek was aan die orde in die gemeentes in Galasië.

Dit was eintlik ‘n neerwaarste spiraal.

Paulus skryf: “Maar as julle mekaar byt en opeet, pas op dat julle nie die een deur die ander verteer word nie.” (Gal 5:15)

 

Paulus skryf dit nie om dowe neute nie.

Die Heilige Gees waarsku met hierdie vers vir die kerke in Galasië, maar net so goed ook vir ons:

As mens so aangaan, dan bly daar later niks van die kerk oor nie.

Weet tog goed waarmee julle besig is.

 

Dit bring Paulus dan by die oproep in vers 16: Wandel deur die Gees.

Dit is die beter weg.

Dit is wat sal voorkom dat ‘n gemeente in strydende partye uitmekaar val.

As die krag van die Gees ons lewens beheer, sal dit voorkom dat ons verseild raak in ekstreme posisies van legalisme of losbandigheid.

Die krag van die Gees sal voorkom dat die werke van die vlees die botoon voer in ons lewens.

Paulus noem die werke van die vlees, vanaf vers 12:

owerspel, hoerery, onreinheid, ongebondenheid, afgodery, towery, vyandskap, twis, jaloersheid, toornigheid, naywer, tweedrag, partyskap, afguns, moord, dronkenskap, brassery en dergelyke dinge.

Ons is dikwels geneig om hierdie werke van die vlees net met die een uiterste te assosieer, naamlik losbandigheid.

Maar dis nie wat Paulus hier bedoel nie.

Beide uiterstes, legalisme aan die een kant, en losbandigheid aan die ander kant, laat die werke van die vlees sien.

Sommige dinge sal mens oorwegend meer assosieer met die een uiterste.

Dinge soos owerspel, hoerery, dronkenskap, brassery assosieer ons meestal met losbandigheid.

In die Nuwe Testament was die hoere en tollenaars die spreekwoordelike losbandiges, met tipies sulke werke van die vlees.

Maar dan is daar ander werke van die vlees, wat Paulus noem, wat baie sterk na vore kom by die ander uiterste, by legaliste.

Dink aan dinge soos vyandskap, twis, toornigheid, tweedrag, partyskap, ...

In die Nuwe Testament was dit die Fariseërs, en die Judaïste, wat hierdie werke van die vlees vertoon het.

Paulus is duidelik oor beide hierdie groepe in vers 21: Hulle wat sulke dinge doen, sal die koninkryk van God nie beërwe nie.

 

En dan gaan Paulus verder deur die beter weg te wys.

Ja, daar is ‘n beter weg, ‘n uitnemender weg!

Daar is ‘n weg wat daartoe sal lei dat ‘n gemeente blom, dat ‘n gemeente ook werklik saamwoon en in eensgesindheid voor die HERE lewe (Ps 133).

Hierdie beter weg is ‘n Geesvervulde lewe.

En wat so mooi is, is dat met hierdie beter weg, Paulus nie terugval op die ou teenstelling: meer of minder wette, wel wette of nie wette, legalisme of ongebondenheid nie.

Maar Paulus oorstyg hierdie teenstelling deur die beeld van vrugdra te gebruik.

Die vrugte van die Gees.

Mens dink dan aan ‘n vrugteboom.

‘n Vrugteboom het nie ‘n bevel nodig om vrug te dra nie.

As die boom gesond is, sal dit vrug dra.

So geld dit ook vir die lewe van ‘n gelowige.

Hierdie vrugte van die Gees is nie vrugte wat ons produseer vir die Gees nie.

Dit is omgekeerd.

Dit is vrugte wat die Gees produseer in ons.

God werk hierdie pragtige vrugte in ons lewens.

Hoe is dit moontlik?

Dit is moontlik omdat God ‘n gelowige se karakter verander het.

Hierdie karakterverandering is die gevolg van die wedergeboorte wat die Gees in ons lewens werk, die geboorte uit God – sien 1 Johannes 4:7.

Wedergeboorte is nie iets waaraan ons ‘n dag en datum moet koppel nie.

Wedergeboorte, mens kan ook sê, nuwe geboorte van bo af, van God – is die werk van die Gees en dit is iets wat ‘n leeftyd duur.

Maar dit neem nie weg dat dit ‘n duidelik sigbare impak het nie.

Dit verander ‘n karakter diepgaande.

En waaraan sien jy daardie verandering?

Dit word sigbaar in hierdie vrugte van die Gees wat Paulus noem:

liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing.

Hierdie kosbare vrugte gaan ons stuk vir stuk behandel.

Hulle is belangrik, ook vir ons jaartema.

Want as hierdie vrugte in ons gemeentelede se lewens groei, dan vloei daaruit ook voort dat ons ‘n diakonale gemeente sal wees, in elke opsig.

As die vrugte van die Gees blom in elke gemeentelid se lewe, dan sal ons outomaties ook ‘n diakonale gemeente word, steeds meer en meer.

Dan kan daar nog steeds bepaalde dinge aangepas word, dalk hier en daar strukturele veranderinge, dalk hier en daar dinge anders organiseer, maar dit is dan net die puntjie op die ‘i’.

Dit sal nie moeilik wees nie, want ieder en elk sal meer as gewillig en bereid wees.

Elke gemeentelid sal soos ‘n atleet in sy wegspringblokke gereed staan, en gretig vra: wat kan ek doen, wat kan ek gee, wat kan ek beteken, waar kan ek ‘n verskil maak?

 

En soos ek genoem het, ons begin vandag met die eerste en vernaamste vrug van die Gees, naamlik die liefde.

 

(Tema: Die Gees van Christus skep ‘n diakonale gemeente

1 Die vrugte van die Gees is die beter weg)

 

2 Die liefde is die uitnemendste weg

 

Die eerste en vernaamste vrug van die Gees, is die liefde.

In Grieks die woord: agape-liefde, opofferende liefde.

Ons het ook ‘n paar stukkies gelees uit Johannes se eerste brief, by uitstek ‘n brief wat oor die liefde handel.

Wat Johannes hier skryf, is volledig in lyn met Christus se onderwys.

Toe Jesus gevra is watter gebod die belangrikste is, het Hy geantwoord:

“Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand. Dit is die eerste en groot gebod. En die tweede wat hiermee gelykstaan: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Aan hierdie twee gebooie hang die hele wet en die profete.” (Matt. 22:7-40)

Met die laaste het Jesus bedoel: elke gebod draai uiteindelik om die liefde.

Wat Jesus hier gesê het, was nie ‘n nuwe gebod nie.

Jesus het bloot terugverwys na dit wat reeds die hart van die Ou Testament was.

“Daarom moet jy die HERE jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met al jou krag.” – Deut. 6:5.

En ook Levitikus 19:18: “jy moet jou naaste liefhê soos jouself.

 

Nou as ons oor die vrugte van die Gees praat, dan fokus ons veral op hierdie tweede gebod, dat jy jou naaste liefhet soos jouself.

En die groot vraag is dan natuurlik: Wie is my naaste?

Wel, Christus ons groot Leermeester, het dit baie duidelik gemaak in sy onderrig toe Hy op aarde was.

Jou naaste is nie net jou volksgenote nie.

Dink aan die gelykenis van die barmhartige Samaritaan.

Dink veral ook aan Jesus se woorde: “Want as julle liefhet die wat vir julle liefhet, watter loon het julle? Doen die tollenaars nie ook dieselfde nie? En as julle net jul broeders groet, wat besonders doen julle dan? Doen die tollenaars nie ook so nie?” (Matt 6:46)

Christus se onderrig is glashelder: As dit kom by wie ons naaste is, is daar geen grense nie, nie godsdienstig, nie kultureel, nie etnies, geen grense in watter opsig ook nie.

Dit is vir ons as gemeente belangrik om te aanvaar, as dit kom by ons tema, naamlik om diakonale gemeente te wees.

Daar is burgerregte-organisasies in ons land wat by hulpverlening veral fokus op volksgenote en taalgenote.

Daarin doen hulle min of meer dieselfde as ons regering, wat dikwels ook hierdie soort modus operandi toepas.

Beide is nie in lyn met Christus se onderrig nie.

As julle net liefhet die wat julle liefde, as julle net julle broeders groet, wat besonders doen julle dan?

As ons diakonale gemeente wil wees in lyn met Christus se onderrig, dan begin dit in ons eie gemeente, maar dit kan nie daar ophou nie.

Dis duidelik.

 

Die liefde van Christus is ‘n liefde wat Hy vir ons betoon het, toe ons nog sy vyande was.

Dit het ons laasweek nog gehoor aan die nagmaalstafel.

Hierdie liefde van Christus was selfopofferend, dit was dienend.

Dit is die soort liefde wat Christus deur sy Gees nou ook in sy gemeente werk, en in elke gelowige afsonderlik.

Hoe weet jy of ‘n boom lewendig is?

Die vrugte is die bewys daarvan.

Hoe weet jy of ‘n gelowige, of ‘n gemeente, lewendig is?

Kyk na die vernaamste vrug van die Gees: die liefde.

Die apostel Johannes gee in sy brief twee voorbeelde, een negatief, een positief.

Kaïn het nie sy broer liefgehad nie.

Kaïn se hart was vol haat, en dit het tot die dood gelei.

Johannes gee ‘n ernstige waarskuwing (1 Joh 3:15): Elkeen wat sy broeder haat, is ‘n moordenaar.

As mense sê dat hulle gelowiges is, maar hulle lewe, hulle karakter, hulle woorde is vol haat teenoor ander, dan waarsku Johannes dat hulle die ewige lewe nie in hulle het nie, maak nie saak wat hulle beweer nie.

En dan die positiewe voorbeeld:

Christus was vervul van liefde, Hy het nie soos Kaïn iemand se lewe geneem nie, maar Hy het sy eie lewe vir ons afgelê.

Die essensie van liefde is selfopoffering vir ander.

Dus, bedoel Johannes, moenie soos Kaïn wees nie, maar volg Christus na.

Nou gaan hierdie selfopofferende liefde nie net oor daar insidentele momente in ‘n mens se lewe, waar jy werklik letterlik jou lewe moet waag om ‘n ander te red nie.

Dit gaan net soveel oor die gewone, onopvallende, alledaagse geleenthede wat hulle voordoen waartydens jy vir jou naaste werklike, praktiese liefde, gulheid, sorg en omgee kan wys.

Johannes skryf: as iemand materiële besittings het en hy sien sy broeder gebrek ly en hy sluit sy hart vir hom toe, hoe bly die liefde van God in hom?

As ons dan beweer dat ons God liefhet, dan lieg ons.

Wie beweer dat hy God liefhet maar sy broeder haat, is ‘n leuenaar.

Kortom, konkrete naasteliefde is ‘n vrug van die Gees.

Dit is ‘n tasbare bewys dat jy ‘n gelowige is.

As hierdie vrug afwesig is, dra dit die boodskap oor dat die nuwe lewe in die Gees ook nog afwesig is.

Jy kan liefde vir God, en geloof in God, nie opsplit en losmaak van naasteliefde nie.

 

Hierdie konkrete naasteliefde openbaar of God in jou werk.

Want God is liefde, skryf Johannes.

“Geliefdes, as God ons so liefgehad het, behoort ons ook mekaar lief te hê.”

 

En dan is daar nog iets baie wesentliks wat Johannes skryf:

1 Joh 4:12: “Niemand het God ooit aanskou nie. As ons mekaar liefhet, bly God in ons ...”

Hierdie sin het ‘n geweldige betekenis ook vir ons tema, diakonale gemeente.

Soos ons weet, God is onsigbaar.

Maar God word sigbaar op aarde, daar waar daar konkrete naasteliefde plaasvind.

God het by uitstek sigbaar geword op aarde in Christus.

Christus se opofferende naasteliefde gedurende sy hele lewe op aarde en veral aan die einde daarvan.

Daarin het ons God gesien.

Jesus sê in Johannes 14: “Hy wat My gesien het, het die Vader gesien.” (vers 9)

Hiermee het Jesus nie bedoel letterlik God sien met jou menseoë nie, want God is Gees en onsigbaar.

Maar hiermee het Christus bedoel: As jy na My kyk, dan sien jy wie en hoe die Vader in die hemel is.

En soos Christus sy Vader geopenbaar het op aarde, so doen ons as gelowiges dit ook, as ons konkreet naasteliefde bewys.

Dit is waartoe Johannes ons oproep as hy skryf: “Niemand het God ooit aanskou nie. As ons mekaar liefhet, bly God in ons ...”

God word vir die wêreld, vir die mense om ons, sigbaar as ons ons naaste liefhet.

Ons naasteliefde maak God se liefde sigbaar.

En laat ons eerlik wees, dis dan nie ons naasteliefde nie.

Dit is wat Christus deur sy Gees in ons werk.

Dit is die heerlike vrug van sy Gees!

En weer eens, hierdie is nie die soort liefde wat tollenaars in elk geval vir mekaar het, wat familielede in elk geval vir mekaar het omdat bloed dik is, wat taal- en volksgenote in elk geval aan mekaar bewys nie (Matt 6:46).

As Christene liefhet, daardie liefde wat ‘n vrug van die Gees is, is praktiese liefde, opofferende liefde, en dit mag iets kos, selfs veel kos, en dit steek alle grense oor wat daar bestaan tussen mense.

Die onsienlike God maak Homself sigbaar in die liefde wat gelowiges bewys.

Soms word daar gesê: moenie na die Christene kyk nie, want ons as Christene is maar sondige mense, maar let op Christus.

Dit is natuurlik heeltemal waar!

Maar hierdie uitspraak mag ons nie gebruik as ‘n verskoning om Christus se liefdesgebod nie ernstig te neem nie.

Die wêreld behoort, as hulle na gelowiges kyk, ook na ons as gemeente, dan behoort hulle iets te kan waarneem van God se heerlikheid!

God self word sigbaar as sy kinders liefhet.

Godsverduistering vind plaas wanneer Christus se kerk die liefdesgebod nie meer in praktyk bring nie.

Dit is nie net erg vir hulleself nie.

Daardeur ontneem hulle ook aan ongelowiges die geleentheid om God hier op aarde te ontmoet.

 

Dit wys ons hoe belangrik, hoe onmisbaar, hierdie eerste vrug van die Gees is.

Hierdie vrug van die liefde is die hartklop van ‘n diakonale gemeente.

As gelowiges mekaar liefhet, om mee te begin, en tweedens al hulle naaste, dan bring dit mense by Jesus.

Hierdie naasteliefde is nie eie aan die wêreld nie.

Dit is ‘n unieke vrug van die Gees.

Die krag van die evangelie laat hierdie vrug in ons groei.

Dit is ‘n heerlike vrug.

Orals waar dit groei, maak dit die saamleef van mense gesond.

In die kerk, in families, ook in ons land, en in die hele wêreld.

 

Amen.

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 67:1

Wet

Ps 40:4  

Gebed

Skriflesing: Galasiërs 5

Ps 119:14

Skriflesing: 1 Johannes 3:1-24 & 4:7-21

Sb 21:1,2

Teks: Galasiërs 5:22a & 1 Johannes 3:11-18 & 4:7-12

Preek

Sb 21:3,4

Gebed

Kollekte

Sb 21:5,6

Seën