Die voortgang van die Evangelie roep op tot diakonale diensbetoon

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Maranata
Date: 
2020-02-02
Text: 
Mattheüs 25:31-46
Preek Inhoud: 

Die kerkraad het hierdie jaar ‘n spesiale tema gekies om te behandel, naamlik wat dit is om diakonale gemeente te wees.

Drie weke gelede het ons in die oggenddiens aandag geskenk aan die eerste keer toe diakens in die Nuwe Testament aangestel is.

Ons kan dit in Handelinge 6 lees.

Ons het gesien dat die diakenamp ‘n geskenk van Christus is, juis vir die nuwe bedeling.

Daarna het ons, dit was twee weke gelede, in die oggenddiens gekyk na wie geroep word om as diakens te dien.

Ons het aandag geskenk aan die apostel Paulus se oproep dat diakens manne van een vrou moet wees.

Ons het gesien hoe dit wat Paulus leer, in lyn is met sy Opdraggewer, Christus se onderrig.

Christus roep broeders in die gemeente om leiding te neem in die diakonale arbeid.

Dit neem egter nie weg dat die gemeente as geheel van Christus ‘n diakonale taak ontvang nie.

Vandag kyk ons verder na wat dit is om diakonale gemeente te wees.

 

Tema: Die voortgang van die Evangelie roep op tot diakonale diensbetoon

 

In die bevestigingsformulier vir diakens vind ons ‘n kort taakomskrywing vir die diakens.

Dit lui soos volg:

Ten opsigte van die diens van barmhartigheid leer die Skrif dat dit voortvloei uit die liefde van Christus.

Hy het in die wêreld gekom om te dien en het Hom ontferm oor baie wat in nood verkeer het.

Die bevestigingsformulier vermeld dan by hierdie woorde die Bybelgedeelte wat vandag ons teks is.

Ons teks vir vandag staan natuurlike in ‘n bepaalde konteks, ‘n historiese konteks.

Dit is belangrik dat ons hieraan aandag skenk, voordat ons toepassings uit die teks probeer maak.

Ons teks vorm naamlik onderdeel van die Here Jesus se sogenaamde profetiese rede.

Ons teks vorm die afsluiting van hierdie profetiese rede.

 

Die Here Jesus se profetiese rede was sy laaste onderrig aan sy dissipels.

In hierdie rede, eintlik ‘n preek, bereik sy onderrig ‘n toppunt.

In hierdie rede word sy onderrig ook baie konkreet.

Deur die ampsjare van Jesus op aarde, ongeveer drie in totaal, sien mens ‘n bepaalde ontwikkeling.

Hy het meer algemeen of – as mens die woord kan gebruik – neutraal begin.

Maar soos die jare gevorder het, het die reaksie van al die verskillende mense en groepe mense binne die Joodse volk teenoor Christus se prediking al hoe duideliker geword.

Deur die jare het Christus se ampswerk keer op keer gestuit op konfrontasie, byvoorbeeld met die Fariseërs, met die Sadduseërs, met die Skrifgeleerdes, om enkeles te noem.

Deur die jare sien mens dat daar by sommiges ‘n verharding begin optree het teenoor Christus se prediking.

In sy laaste preek, hierdie sogenaamde profetiese rede, draai Christus nie doekies om nie.

Net daarvoor het Jesus sy bekende wee-preek uitgespreek, Mattheüs 23.

Agt keer spreek Jesus ‘n wee uit oor die Skrifgeleerdes en Fariseërs.

Wee julle!

In sy profetiese rede gaan Christus voort in hierdie lyn.

Nou in hierdie rede of preek, wat Jesus spesifiek vir sy dissipels hou, berei Hy hulle voor op die toekoms.

Hy beantwoord hierin twee vrae wat die dissipels gehad het.

Eerstens: wanneer die verwoesting van die tempel sal plaasvind, wat Jesus aangekondig het.

En tweedens: wanneer die voleinding van die wêreld sal wees (sien Matt 24:3).

Jesus se profetiese rede is ‘n indrukwekkende openbaring van wat die gelowiges te wagte staan.

Jesus begin deur hulle voor te berei op die naderende oordeel oor Jerusalem, die volk en stad wat Hom verwerp het.

Maar in sy onderrig gaan Jesus ook verder en praat oor die tyd tot en met sy wederkoms, en dan die pragtige vooruitsig van die herstel van alle dinge.

Daarin maak Hy duidelik dat die gelowiges se lewe in die hede alles te make het met daardie toekoms.

Hoe ons leef in die hede is bepalend vir wat met ons in die toekoms sal gebeur.

Ons optrede in die hede bepaal of ons eendag, as ons voor Christus te staan kom, gereken gaan word by die skape of by die bokke – daaroor is ons teks baie duidelik.

 

In ons teks is daar ‘n tydsaanduiding, in vers 31:

Wanneer die Seun van die mens in sy heerlikheid kom ... dan sal Hy op sy heerlike troon sit.

Nou wanneer is dit?

Ons teks is nie eksplisiet hieroor nie, en daarom sal ons dit inklusief moet uitlê.

Inklusief, daarmee bedoel ek, dat dit sowel dui op die laaste dag, die oordeelsdag, ‘n dag wat sal kom op ‘n uur waarop mens dit nie sal verwag nie, soos Jesus in die vorige hoofstuk gesê het (Matt 24:44).

Maar terselfdertyd dui dit ook byvoorbeeld op Christus se hemelvaart.

En dit dui op die tydstip wanneer elkeen van ons, op ons sterfdag, voor Christus se troon te staan gaan kom.

Die skeiding van skape en bokke vind nie net op die laaste dag, die oordeelsdag plaas nie, maar dit begin al in die hede, vir elke persoon wat sterf.

En as jy dan voor Christus se troon kom, sal Hy regspreek op grond van wat jy in hierdie lewe gedoen het.

Hierdie beeld van skape en bokke ontleen Jesus uit die alledaagse lewe van daardie tyd.

Bokke teenoor skape.

Bokke wat die weiveld van die skape met hulle pote vertrap.

Bokke wat self die helder water drink, en die res met hulle pote troebel maak (Eseg 34:17-18).

 

Soos ek genoem het, hierdie profetiese rede is uitgespreek in ‘n bepaalde historiese konteks.

In sy toepassing fokus Jesus eerstens op die lewens van die dissipels, wat hulle in die verdere verloop van hulle lewens te wagte staan.

Nou ons weet wat die voorland van die dissipels was, en van almal wat Jesus gevolg het.

Na Jesus se hemelvaart en die uitstorting van die Heilige Gees het daar ‘n moeilike tyd vir die gelowiges gewag.

Met sy profetiese rede vertroos Jesus egter sy dissipels.

As Hy op sy hemelse troon sit, sal Hy met ‘n wakende oog hulle dophou.

Hy sal elke mens op aarde ter verantwoording roep, oor hoe elkeen se houding teenoor hulle was, teenoor selfs die geringste van hierdie broeders van My, sê Jesus in ons teks.

 

Nou wie is eintlik hierdie ‘broeders van My’, waaroor Jesus praat?

Wie bedoel Hy met ‘hierdie broeders van My’ (sien vers 40 en vers 45).

Wel, gemeente, deur die eeue was daar al verskillende eksegeses.

In ons tyd oorheers veral die mening dat Jesus in ons teks die algemeen menslike leed aanspreek.

En dat Hy dus oproep tot algemene medemenslikheid.

Dat Hy met ‘broeders van My’ bedoel almal wat arm en minder bevoorreg is.

Wie dus uitreik na die armste van die armstes, wie uitreik na diegene wat in tronke sit, wie algemene humanitêre hulp verleen, hulle reik uit na ‘hierdie broeders van My’, en so bevorder hulle Christus se koninkryk, selfs al doen hulle dit nie bewus vir sy koninkryk nie.

Dit is die een lyn van eksegese.

‘n Ander lyn is egter dat Christus met die ‘broeders’ in ons teks spesiaal die kerk op die oog het, die liggaam van Christus.

Dat Christus dus in ons teks spesifiek oproep tot naasteliefde binne die kerk.

Dan is daar verder nog ‘n lyn van eksegese wat sê dat ons teks spesifiek handel oor ongelowiges wat naasteliefde aan die Christene betoon, en dat Christus daardie ongelowiges wat die Christene gehelp het, op die oordeelsdag goedgesind sal wees.

Soos u hoor, hierdie eksegeses gee nogal uiteenlopende antwoorde oor wie die ‘broeders’ in ons teks is.

Nou wat is die regte eksegese?

Om daar agter te kom, sal ons weer eens goed moet kyk na die historiese konteks.

Want let op, Christus is hier in gesprek met sy dissipels.

Hulle wat binnekort as sy apostels uitgestuur gaan word, en wat ‘n moeilike tyd te wagte staan, ‘n tyd waarin hulle die Evangelie moet uitdra.

Maar Jesus waarsku hulle dat hulle voorbereid moet wees op afwysing en selfs vervolging.

So Leermeester, so leerling.

As die mense vir Jesus smadelik behandel het, sal hulle dieselfde met sy dissipels doen.

Maar, laat die apsotels nie swig voor druk van mense nie, maar veral opkyk na Christus op die troon, en hoe Hy oor sake dink!

 

Gemeente, onthou u hoe Christus aan die begin van sy ampsperiode op aarde, die dissipels na elke stad en dorp in Israel uitgestuur het?

Mattheüs berig daaroor in hoofstuk 10.

Ook toe het Jesus sy dissipels verseker: Wie julle ontvang, ontvang My.

Elkeen wat een van hierdie kleintjies net ‘n beker koue water laat drink, omdat hy ‘n dissipel is, voorwaar Ek sê vir hulle, hy sal sy loon sekerlik nie verloor nie (Matt 10:40,42).

Dit was dus aan die begin, toe Jesus sy dissipels uitgestuur het na die hele Israel.

 

Nou, in ons teks, aan die einde van Christus se ampstyd op aarde, spreek Hy weer soortgelyke woorde.

Maar nou is daar ‘n skaalvergroting.

Nou gaan dit nie net meer oor Israel nie, maar oor alle volke (Matt 24:14).

Voortaan sal die skeiding nie meer wees tussen Abraham se nageslag enersyds en die heidene andersyds nie.

Voortaan sal die skeidslyn dwars deur alle volke heenloop, en sal daar in elke volk skape en bokke wees.

Voortaan sal die oordeel voltrek word ten opsigte van elke persoon se houding teenoor hierdie dissipels wat Jesus uitgestuur het, en die boodskap wat hulle kom bring.

Die mense se reaksie op die evangelie wat hulle bring, sal onder andere blyk uit hoe hulle die dissipels behandel.

Sal die mense vir hulle voedsel verskaf en klere?

Sal die mense hulle voorthelp op weg om die evangelie verder te verkondig?

Of sal die mense juis hierdie dissipels van Jesus teëwerk, en die voortgang van die evangelie probeer blokkeer?

 

In 2 Korinthiërs 11 vertel Paulus van sy wedervaringe as apostel.

En inderdaad, die lysie van dinge wat Jesus in ons teks noem, het hom nie bespaar gebly nie.

Honger, dors, naaktheid, verwondige, uitputting, en gevangenskap.

Soos Paulus dit meegemaak het, so ook die ander apostels.

Hulle het meegemaak dat daar mense was wat hulle voedsel en drank gegee het, toe hulle honger en dors was, en dit uit dank vir die evangelie wat die apostels gebring het.

Hulle het meegemaak dat hulle vreemdelinge in ‘n onbekende stad was, maar dat die wat tot geloof gekom het, hulle geherberg het.

Hulle het meegemaak dat, toe hulle siek was, daar geloofsgenote was wat hulle besoek het, selfs as hulle in die gevangenis was.

Dit aan die een kant.

Maar aan die ander kant het die apostels ook ander mense ontmoet, wat hulle deure gesluit gehou het, wat hulle nie eers ‘n glas koue water gegun het nie, wat hulle in die tronk laat opsluit het.

Maar dit is Christus se bemoediging vir sy apostels:

Watter mens op aarde ook, as hy of sy eendag voor my troon te staan kom, elke mens sal geoordeel word op grond van hoe hulle opgetree het teenoor my evangeliedienaars, selfs teenoor een van die geringstes van hierdie broeders van My!

In hulle, in my evangeliedienaars, sê Christus, sal hulle My ontmoet!

Gemeente, aan die einde van die dag gaan dit dus oor aanvaarding of verwerping van die evangelie.

En dit spreek vanself dat hulle wat die evangelie aanvaar, ook vir diegene wat die evangelie kom bring het, goed sal behandel, en die spreekwoordelike glas koue water nie sal weerhou nie.

Maar hulle wat nie die evangelie aanvaar nie, sal ook nie belangstel om die evangeliedienaars te ondersteun in die voortgang van hulle taak nie.

As die evangeliedienaar in die gevangenis tereg gekom het, nie belangstel om ‘n besoek te bring nie.

As die evangeliedienaar as ‘n vreemdeling in die stad of dorp aankom, geen gasvryheid, geen onderdak verleen nie.

En as die evangeliedienaar siek is, nie omgee nie.

Dit is ‘n realiteit waarop Jesus sy dissipels voorberei.

Maar laat hulle nie moedeloos word nie.

Laat hulle na Hom opkyk.

Hy sal op sy tyd regspreek oor sulke mense.

En aan die ander kant, laat hulle ekstra dankbaar wees vir daardie mense wat wel gasvryheid verleen, wel onderdak verskaf, wel voedsel en drank gegee het, en hulle wel in die gevangenis opgesoek het.

 

Geliefde gemeente, ek hoop dat die oorspronklike historiese konteks van ons teks nou bietjie duideliker geword het.

In sy profetiese rede het Jesus dus primêr sy dissipels op die oog gehad, toe Hy oor “broeders” gepraat het, selfs “een van die geringstes van hierdie broeders van My” (vers 40).

 

As ons nou vervolgens ons teks wil toepas, sal hierdie eksegese, vanuit die oorspronklike konteks, ons help om dit reg toe te pas.

Dit sal ook help voorkom om ‘n verkeerde toepassing te maak.

Hierdie teks gaan dus nie primêr oor liefdadigheid en medemenslikheid in die algemeen nie.

Hierdie teks roep nie op tot filantropie in die algemeen nie.

Maar ons teks wentel om die evangelie, en die wyse waarop die evangelie deur elke mens op aarde aanvaar word.

En daardie aanvaarding van die evangelie blyk onder andere uit hoe die dissipels, die evangeliebedienaars, behandel gaan word.

 

As ons nou terugkom by die taak van die diakens, en ook breër die diakonale taak van ons as gemeente, kan mens jouself afvra of hierdie teks wel daarvoor toepaslik is.

Is dit wel tereg dat hierdie teks staan in die bevestigingsformulier vir diakens, as ‘n bewysteks by die woorde: “Die Here roep ons nou ook op tot gasvryheid, offervaardigheid en barmhartigheid”?

Wel, hierdie is nie die enigste bewysteks by hierdie opmerking in die formulier nie.

Daar is ook ander tekste met ‘n breër strekking.

Desnieteenstaande dink ek nie dis verkeerd dat ons teks van vandag ook daar staan nie.

Ons teks roep inderdaad op tot gasvryheid, offervaardigheid, en barmhartigheid.

Ons teks se oproep staan wel, soos ek verduidelik het, in ‘n spesifieke konteks.

En ook dit is vandag relevant, ook vir diakens, ook vir die hele gemeente.

Naamlik, dat dit alles wentel om die evangelie, en om die voortgang daarvan.

Gasvryheid, offervaardigheid en barmhartigheid is nie net algemeen filantropiese dade nie.

Ons diakonale arbeid het alles met die evangelie te make.

Dit het alles met Christus te make.

As ons diakonaal uitreik, of dit nou binne of buite die gemeente is, is dit altyd om mense by Christus te bring, om mense medeërfgename te maak van sy koninkryk wat op koms is!

Ons diakonale uitreik is nie om mense te bemagtig en meer gelukkig te maak net vir die hier en nou nie.

Daarom dat die bevestigingsformulier die diakens ook oproep om met God se Woord te vertroos en te bemoedig.

Hulpbetoon aan mense, of dit nou binne of buite die gemeente is, staan altyd in die lig van die evangelie.

Stoflike hulpbetoon, met geld of goed, of hulp deur tyd af te staan, dit alles is steeds gekoppel aan die kosbaarste skat wat ons kan meedeel, en dit is die evangelie self, die boodskap van ewige hoop, ewige redding, ewige genesing, ewige rykdom, ewige blydskap.

In die sin is die diakenamp ‘n baie toekomsgerigte amp.

Dit wat ons in die hede doen, staan in die lig van die glorieryke toekoms wat ons te wagte staan.

Hulpverlening het ten doel om mense by Christus te bring, en hulle erfgename van sy koninkryk te maak.

En as gemeente is ons diakonale taak om al iets van daardie heerlike koninkryk hier op aarde te laat sien.

‘n Bietjie hemel op aarde.

Onthou, as die Bybel praat oor die koninkryk van die hemel, dan word nie bedoel dat dit ‘n koninkryk in die hemel gaan wees nie.

Bedoel word ‘n koninkryk wat vanuit die hemel hier op aarde gevestig gaan word.

In ons funksionering as diakonale gemeente mag ons al ‘n voorsmakie daarvan gee.

 

As mens die amp van ouderling en die amp van diaken met mekaar vergelyk, sou mens veralgemenend kon sê:

Die ouderlinge se fokus is meer op die regverdiging van die sondaar.

Die diakenamp se fokus is egter meer op die heiliging van die lewe.

Die toewyding van die nuwe lewe aan Christus en sy koninkryk.

Om as diaken te dien, is eintlik iets baie positiefs.

‘n Diaken se fokus is heeltyd om goed te doen, om gelukkig te maak, om te sorg dat mense ook proe dat die Here goed is.

Diakonale werk is veral dankbaarheidswerk.

Uit dankbaarheid vir Christus se verlossing, en aangevuur deur die Heilige Gees, mag ‘n nuwe soort lewe vorm kry, ook ‘n nuwe soort van saamlewe, ‘n nuwe soort gemeenskapslewe.

Vir alle praktiese redes, aan die einde van die dag, maak die diakenamp die verskil, of ‘n gemeente bloei of kwyn.

Ons besef dit dalk te min.

Dis nie die ouderlinge, dis nie die dominee, dis nie die koster of orrelis of wie ook wat ‘n gemeente maak of breek nie.

Dis die diensbetoon waarin die diakens die voortou neem.

Dis hoe hulle sorg dat die evangelie hande en voete kry in die midde van die gemeente.

‘n Gemeente wat in diakonale opsig groei en bloei, val op.

Dit is soos ‘n stad op ‘n berg.

Dit straal iets uit wat in die wêreld onbekend is.

In die wêreld sien mens bejaardes wat vereensaam, wat selfs deur hulle eie kinders nie meer besoek word nie, laat staan finansieel ondersteun word.

Maar in die kerk sien mens bejaardes wat nie eers kinders het nie, maar wat tog nie vereensaam nie, en wat na behore voor gesorg word.

In die wêreld lê mense vir weke in die hospitaal sonder om besoek te ontvang.

As ‘n gemeentelid in die hospitaal opgeneem word, hang daar binne dae ‘n klomp kaartjies bo die bed.

In die wêreld sien mens huishoudings wat in ‘n spiraal van skuld en armoede beland.

In die kerk is daar ook mense wat hulle werk verloor, maar die diakens voorkom dat hulle in ‘n armoedespiraal verval.

So mag ons hier in die kerk al ‘n voorproefie kry van hoe God dit op aarde bedoel het om te wees.

So mag ons in die kerk al smaak waarheen Christus op pad is met sy herskeppingswerk.

Ja die evangelie verander alles!

Die evangelie roep op tot diakonale diensbetoon.

Wat ‘n voorreg om self daarin te mag deel.

Wat ‘n voorreg om medewerkers te word, om te sorg dat die evangelie verder sy loop neem, na alle volke, stamme, tale en nasies.

 

Amen.

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 116:1,2

Wet

Ps 116:3-5

Gebed

Skriflesing: Mattheüs 24:1-14 & 25:31-46

Ps 72:1-4

Teks: Mattheüs 25:31-46

Preek

Ps 72:5-9

Gebed

Kollekte

Ps 72:10-11

Seën