Christus se instruksies vir wie as diakens moet dien

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Maranata
Date: 
2020-01-19
Text: 
1 Timotheüs 3:12a
Preek Inhoud: 

Preek: 1 Timotheüs 3:12a

 

Ons jaartema is hierdie jaar ‘diakonale gemeente’.

Om ‘n diakonale gemeente te wees, is uiteraard iets waarin die diakens leiding moet gee.

Deur eerstens hulle voorbeeld, en tweedens hulle aansturing, kan ons as gemeente in sy geheel ons diakonale taak uitvoer.

As net die diakans aktief is in diakonale sake, dan is ons nog nie ‘n diakonale gemeente nie.

En vir alle duidelikheid, diakonale sake het nie net met finansies te make nie.

As gemeente mag ons omsien na hulle wat die las van armoede ervaar, inderdaad, maar net soveel na hulle wat die las van eensaamheid ervaar, of siekte, of ouderdom, ensovoorts.

In die komende tyd hoop ek in die prediking nader stil te staan by hierdie pragtige taak wat Christus vir sy gemeente gee, naamlik om diakonale gemeente te wees.

‘n Taak wat voortvloei uit Christus se eie lewenstyl, sy dienende lewenstyl.

 

Maar voordat ons fokus op die diakonale taak van die hele gemeente, is dit goed om duidelikheid te kry oor die taak van die diakens wat in die besondere amp geroep is.

Die teks van vanoggend skenk in hierdie verband aandag aan wie die diakens behoort te wees.

En soos u waarskynlik weet, is hierdie ‘n baie aktuele onderwerp in ons tyd.

En dan dink ek veral aan die diskussie of daar ook vroulike diakens mag wees.

Dit is ‘n vraag wat ons vanoggend vir ons teks gaan vra.

En ek hoop dat dit aan die einde van die preek duidelik sal wees.

Dat hierdie vraag beantwoord is.

 

Tema: Christus se instruksies vir wie as diakens moet dien

  • Die getuienis van Paulus in ons teks
  • Die getuienis van Christus in sy voorbeeld en onderrig

 

  • Die getuienis van Paulus in ons teks

‘n Opsiener dan moet onberispelik wees, die man van een vrou.

Dit skryf Paulus in 1 Timotheüs 3:2.

Dit gaan daar spesifiek oor die opsieners, oftewel die ouderlinge.

In ons teks, 1 Timotheüs 3:12, herhaal die apostel Paulus hierdie selfde woorde, nou in verband met die diakens:

“Die diakens moet manne van een vrou wees.”

 

Nou wat beteken hierdie uitdrukking, om die man van een vrou te wees?

Daar is uitleggers wat meen dat dit slegs beteken dat ‘n ampsdraer monogaam moet wees.

Dan maak dit nie saak of dit ‘n man of ‘n vrou is nie, solank die persoon mongaam is, dit wil sê net een eggenoot het, en solank die persoon kuis lewe.

In daardie geval, so meen uitleggers dan, sê ons teks niks oor die geslag van ‘n ampsdraer nie.

En so gaan die deur dan oop, volgens hierdie uitleggers, om ook vroulike diakens en vroulike ouderlinge aan te stel.

 

Nou is dit so dat die uitdrukking “man van een vrou” in Grieks dieselfde beteken en niks meer beteken as monogaam?

Dit is naamlik wat hierdie uitleggers beweer.

Wel, ondersoek het uitgewys dat in die Griekse literatuur uit daardie tyd hierdie uitdrukking onbekend was.

Kortom dit was glad nie ‘n uitdrukking of idioom nie.

‘Man van een vrou’ is ‘n unieke uitdrukking wat Paulus hier gebruik.

Trouens, ‘n paar hoofstukke later gebruik hy die uitdrukking weer, maar dan omgekeerd.

In 1 Timotheüs 5:9 skryf Paulus as dit oor weduwees gaan: sy moes die vrou van een man gewees het.

Duidelik is dit hier ook nie geslagtelik neutraal nie.

Dit onderstreep net dat Paulus se woorde in ons teks ook nie geslagtelik neutraal kan wees nie.

As hy skryf: “die man van een vrou”, dan bedoel hy ook letterlik: die man van een vrou.

Uiteraard beteken dit ook: monogaam, dat hy nie meer as een vrou het nie.

Uiteraard beteken dit ook dat hy kuis moet wees, dat hy behalwe vir die verhouding met sy vrou, nie ook owerspelige verhoudings met ander vroue mag hê nie.

Dit alles word ook deur ons teks bedoel.

Maar feit bly, dit gaan hier oor manne.

Dit gaan hier nie oor vroue nie.

 

Nou het die uitleggers wat graag vrou in die amp wil invoer, nog ‘n argument wat hulle gebruik.

En dan kyk hulle spesifiek na vers 11, die vers voor ons teks.

Daar staan: “Net so moet die vroue waardig wees, geen kwaadspreeksters nie, nugter, betroubaar in alles.”

Sien jy, sê hierdie uitleggers dan, hier word vroue aangespreek!

Dus, daar was ook vroulike diakens in Paulus se dae!

Gemeente, is hierdie gevolgtrekking korrek?

Was daar vroulike diakens in daardie gemeentes waar Timotheüs gearbei het?

Ook hier moet ons dit wat Paulus skryf, noukeurig en eerlik uitlê.

 

Dit is inderdaad so dat daar in die Griekse teks van vers 11 nie ‘hulle vroue’ staan, met ‘hulle’ verwysende na die manlike diakens nie.

Is dit egter genoeg rede om te veronderstel dat dit hier dus oor vroulike diakens handel?

Mense wat die Griekse taal nie goed genoeg ken nie, kan inderdaad hierdie indruk kry.

Dit is naamlik normaal in Grieks om dikwels nie die woord ‘hulle’ te gebruik nie, maar om dit wel in daardie sin te verstaan.

As daar dus in vers 11 staan: “Net so moet die vroue waardig wees”, dan maak die konteks duidelik dat dit hier spesifiek oor die vroue van die diakens gaan.

Om daardie rede vertaal sommige Bybelvertalings vers 11 as hulle vroue.

Die woordjie hulle staan nie letterlik in die Griekse teks nie, maar uit die konteks maak dit sin om hulle daarby te lees.

Paulus bedoel naamlik hulle vroue, die diakens se vroue.

 

Dieselfde is die geval in ons teks, vers 12, die tweede deel.

Want daar lees ons: “Die diakens moet manne van een vrou wees en hulle kinders en eie huise goed regeer”.

Hulle kinders, lees ons.

Maar in die oorspronklike Griekse teks staan ook hier nie die woord hulle nie.

Oorspronklik staan daar net: Die diakens moet manne van een vrou wees en die kinders en eie huise goed regeer.

Uit die konteks is egter duidelik dat dit hier nie oor kinders in die algemeen gaan nie, maar spesifiek oor die diaken se eie kinders.

En daarom dat ons vertaling dit hulle kinders gemaak het.

 

Dit bring ons weer terug by vers 11.

In hierdie vers gee Paulus nie instruksies vir vroulike diakens nie, maar vir die vroue van die diakens.

Die gedrag van die diakens se vroue, ja selfs van hulle kinders, het ook ‘n impak op die diakens se geloofwaardigheid.

En daarvan behoort diakens se vroue goed bewus te wees.

Dis nie so dat hulle kan redeneer: My man is verkies tot diaken, maar ek het niks daarmee te make nie.

Die Skrif roep juis daardie susters op, wat getroud is met ‘n diaken, om waardig te wees, om nie kwaadspreeksters te wees nie, om nugter te wees, om betroubaar te wees in alles.

Pragtige deugde, as ‘n diaken se vrou so in die lewe staan!

Dan is sy ‘n groot aanwins vir haar man!

So help sy haar man om die las van die amp te dra.

Hoewel die vroue nie self in die spesiale amp staan nie, het hulle dus wel ‘n belangrike ondersteunende taak.

Hulle lewenswyse het ook ‘n impak op die amp van hulle mans.

Gemeente laat ons dit onthou.

As ons vir die ampsdraers bid, dan moet ons ook vir hulle vroue en gesinne bid.

Hulle dra saam die las van die amp.

Om ampsdraer te wees is ‘n voorreg, maar terselfdertyd is dit ook ‘n las.

En dis nie ‘n geheim dat ‘n ampsdraer se vrou ook daardie las terdeë voel nie.

 

(Tema: Christus se instruksies vir wie as diakens moet dien

  • Die getuienis van Paulus in ons teks)

 

  • Die getuienis van Christus in sy voorbeeld en onderrig

Ons kom tot ‘n gevolgtrekking.

Ons teks is duidelik.

Slegs broeders word deur Christus geroep in die spesiale diakenamp.

Hierdie gevolgtrekking is nie verwonderlik nie.

Dit is gewoon in lyn met die res van die Nuwe Testament.

Laas week het ons aandag bestee aan die eerste keer toe die diakenamp ingestel is – Handelinge 6.

Ook daar het dit oor manne gegaan.

Sewe broeders uit die eerste gemeente in Jerusalem is verkies.

Op daardie stadium was die apostel Paulus nog nie in die prentjie nie.

Toe was hy nog besig om die gemeente van Christus te vervolg.

Maar dit wat hy later in sy brief aan Timotheüs sou skryf hier in ons teks, dit stem ooreen met die handelwyse van die twaalf apostels in Handelinge 6.

En hulle handelwyse het uiteraard ooreengestem met hoe Christus hulle onderrig het, toe Hy op aarde was.

 

In die apostel Paulus se pastorale briewe, dis nou Timotheüs en Titus, gee hy duidelike instruksies oor die kerklike ampte.

In ons teks, en dieselfde geld vir ouderlinge soos ons kan sien vers 2 van 1 Timotheüs 3, is daar ‘n eksplisiete instruksie dat broeders in die ampte van ouderling en diaken aangestel word.

Hierdie instruksie volg die voorbeeld waarin Jesus voorgegaan het.

Die Here Jesus het naamlik twaalf manlike apostels geroep.

Dis nie omdat Jesus geen vroulike dissipels gehad het nie.

Dink aan Maria, Maria Magdalena, Johanna ensvoorts.

Hierdie vroue het die Here Jesus trou gevolg, hulle was selfs die eerste ooggetuies van sy opstanding.

Tog het Christus hulle nie in die apostelamp aangestel nie.

En dit is nie omdat hulle nie genoeg geloof gehad het nie.

Dit is ook nie omdat hulle minder talente gehad het nie.

Die feit dat die Here Jesus in die Nuwe Testament manlike apostels aangestel het en hulle ook opgedra het om broeders in die kerklike ampte te bevestig, het nie met meer of minder talente te make, of met meer of minder sondigheid nie.

Talente of bekwaamheid gee nog nie die reg op ‘n posisie nie.

As God sommiges aanstel en ander vrystel, is dit sy soewereine besluit.

 

Dit was ‘n soewereine keuse van Christus: die broeders ontvang die oproep om in die besondere ampte te dien, en aan die susters word vrystelling verleen.

Die feit dat die regeeramp nie toeganklik is vir susters nie, moet nie gesien word as ‘n opoffering of ‘n blaam wat hulle moet saamdra nie.

Net soos dit ook nie ‘n blaam vir die 11 stamme van Israel was dat hulle vrystelling van die besondere priesteramp ontvang het, terwyl God dit slegs op die stam van Levi se skouers geplaas het nie.

Dit was ‘n soewereine besluit van God.

En hulle wat hulle nie aan God se soewereine besluit gehou het nie, was besig met eiewillige godsdiens (soos Miga in Rigters 17).

 

Ons kan maklike die denkfout begaan wat in die wêreld baie algemeen is.

Naamlik om van die strewe na mag uit te gaan.

Mag is, so wil die moderne wetenskap ons wyskmaak, ‘n basiese menslike behoefte, waarna elke mens streef.

Om mag te hê, om in ‘n posisie te wees waarin jy mag het oor ander, word as beter beskou as om in ‘n ondergeskikte posisie te wees.

Hierdie algemeen menselike behoefte het sy ontstaan in die sondeval.

Adam was nie tevrede met ‘n posisie waarin Iemand anders mag oor hom gehad het nie, en dieselfde het vir Eva gegeld. 

Die korrekte denkwyse moet egter wees dat dit nie so is dat ‘n magsposisie beter is as ‘n ondergeskikte posisie nie.

‘n Koning of president is nie beter as ‘n onderdaan, omdat eersgenoemde oor laasgenoemde aangestel is nie.

En ‘n man is nie beter of meer bevoorreg as sy vrou, omdat hy oor haar gesag ontvang het nie.

Elkeen moet die Here dien in die posisie waarin Hy hulle geplaas het.

Lewensgeluk en lewensvervulling lê nie daarin om bo te probeer uitkom nie, maar om die Here te dien in die posisie waarin Hy jou geplaas het.

As ons as mense hierdie basiese kopskuif maak, bring dit rus, blydskap en vervulling in ons lewe.

As mense aanhou om – in die lyn van die sondeval – te dink dat die vermeerdering van mag geluk bring, veroorsaak dit aanhoudende spanning, ongelukkigheid en stryd op aarde, of dit nou tussen volke is, of tussen mans en vroue.

 

Hierdie strewe na mag het ‘n baie slegte invloed op die kerk deur die geskiedenis gehad.

Deur die eeue sien mens die tendens dat mense honger is vir mag.

Dink aan die hiërargie in die Roomse kerk.

Maar om die feit dat vroue vrystelling ontvang het uit die die kerklike ampte aan manlike magsmisbruik toe te skryf, is ‘n stap te ver.

Die Here Jesus het Homself nie daaraan skuldig gemaak nie, en net so min die kerk wat ook vandag nog in daardie ortodokse lyn wil voortgaan.

 

As Gereformeerdes is ons deel van ons tyd, en die tydsgees het ‘n invloed op ons denke en doen, maar ons mag nie toelaat dat die tydsgees so in ons koppe begin spook dat dit die gesag van die Skrif begin aantas nie.

Wat veral gevaarlik is, is as die tydsgees ons sodanig begin beïnvloed, dat ons iets anders in die Bybel begin inlees, as wat daar werklik staan.

God se Woord staan bo elke kultuur.

 

Gemeente, in hierdie preek het ons eksegeties gesproke baie tegnies geraak.

Dit was alles dalk nie so maklik om te volg nie.

Maar dit was wel noodsaaklik.

Ons bevind ons naamlik tans in die midde van ‘n leerstryd.

Orals om ons heen neem ons waar dat vroue deesdae in die ampte aangestel word.

In ons susterkerke in Nederland gebeur dit.

Hier in Suid-Afrika gebeur dit.

In die NG Kerk is daar vroulike ampsdraers.

Ook in baie Gererormeerde Kerke is daar vroulike diakens.

Ons is daarom geroepe om hieroor deeglike Skrifstudie te doen.

Ons sal onsself moet verantwoord.

Om onsself op die vlakte te hou en geen standpunt in te neem nie, is nie ‘n opsie nie.

Nadat ons die Skrif deeglik bestudeer het, sal ons standpunt moet inneem.

Dit is waartoe vandag se preek help.

In die verlede was daar ook al groot leerdebatte in die kerk.

Dink aan die groot kontroversie in die vroeë kerk oor Christus se Godheid, en oor die Drieëenheid.

Dink aan die groot kontroversie in die Reformasietyd oor die nagmaal.

Vandag, onder invloed van die tydsgees, staan dit wat die Skrif ons leer oor man en vrou, en hulle onderskeie rolle, baie in die skynwerpers.

Maar om ter wille van die vrede neutraal te bly is nie ’n opsie nie.

Luther het ooit gesê: as die kerk van Christus trou is op alle fronte behalwe op daardie front waar sy aangeval word, is sy inderwaarheid besig om te dros.

 

Ons het die preek begin met die vraag of ook daar vroulike diakens mag wees.

Uit vandag se teks het daar inderdaad duidelikheid gekom.

Ons het so eerlik moontlik, eksegeties en hermeneuties, hierdie teks in sy oorspronklike konteks gelees en uitgelê.

Ons het aandag geskenk aan die gevaar dat mense dinge in die teks inlê, inlees, wat daar nie self in staan nie.

Ons het aandag geskenk aan hoe groot die maatskaplike druk deesdae is om dit te doen.

Maar as ons eerbied vir hierdie Bybelteks behou, mag ons dit nie laat buikspreek nie.

Hierdie teks is nie onduidelik nie.

Hierdie teks is duidelik daaroor dat geskikte broeders, en slegs broeders, tot die besondere diakenamp geroep word.

En hierdie uitleg stem ooreen met die res van die getuienis van die Skrif oor hierdie saak.

Ons kan dink aan die hoofstuk Handelinge 6 wat verlede week die teks was, waarin ons ook vandag weer kortliks aandag geskenk het.

Ja hierdie uitleg stem ooreen met die Here Jesus Christus se onderrig en voorbeeld.

 

Daar is egter nog ‘n belangrike aspek, wat in toekomstige preke aandag hoop te kry.

Want waar dit vandag duidelik geword het dat Christus slegs broeders roep in die besondere diakenamp, neem dit nie weg dat susters ook tot diakonale arbeid geroep word nie – diakonale diensbetoon.

Soos ek verlede week ook al genoem het, as hele gemeente, manne en vroue, volwassenes en kinders, as hele gemeente word ons saam geroep om diakonale gemeente te wees.

En hierdie roeping sal in komende preke verder uitgediep word.

Wat egter vandag duidelik geword het, is dat Christus spesifieke broeders roep om die leiding te neem in hierdie gemeentewye roeping.

Soos daar sewe manne in Handelinge 6 die hande opgelê is om leiding te gee aan die diakonale arbeid in die eerste gemeente in Jerusalem, so roep Christus tot vandag in elke plaaslike gemeente broeders, wat aan die vereistes voldoen soos ons dit in 1 Timotheüs 3 gelees het, om in hulle plaaslike gemeente hierdie die leiding te neem, en daarvoor te sorg dat ook hulle plaaslike gemeente ook werklik ‘n diakonale gemeente is in woord en daad.

Kom ons vorm ‘n muur van gebed rondom hierdie broeders, asook hulle vroue en gesinne, sodat niks hulle sal verhinder om hulle amp met vreugde en toewyding uit te voer nie.

Kom ons toon ‘n gewillige houding na hulle toe, en deur hulle na Christus, Hy wat ons deur hulle roep tot diakonale diensbetoon.

Kom ons toon een en al gewilligheid, sodat dit vir hierdie broeders nie moeilik sal wees om die gemeente te stuur in die rigting wat Christus met ons wil gaan nie, naamlik om ‘n diakonale gemeente te wees in woord en daad, ‘n gemeente waar dit aangenaam is om te vertoef!

 

Amen.

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 43:2,3

Wet

Ps 79:5,6

Gebed

Skriflesing: 1 Timotheüs 2-3

Ps 146:1-3

Teks: 1 Timotheüs 3:12a

Preek

Ps 146:4-6

Gebed

Kollekte

Ps 146:7,8

Seën