Preek: Mattheüs 13:44-46
Ons Here Jesus Christus se voorloper, Johannes die Doper, het die mense al voorberei op sy koms, toe hy gesê het:
“Bekeer julle, want die koninkryk van die hemele het naby gekom.” (Matt 3:2)
Toe Christus gekom het, het Hy inderdaad die koninkryk van die hemele verkondig met verskillende gelykenisse, met verskillende beelde.
In Christus se optrede, met woord en daad, het duidelik geword dat die koninkryk aangebreek het.
Al het dit nog nie tot volle verwerkliking gekom nie, dit het wel aangebreek.
In Christus prediking, so wys Mattheüs uit, was die koninkryk die tema wat steeds teruggekom het.
Ons mag vanaand die rykdom delf wat daar in elke beeld, elke metafoor lê, wat Jesus in ons teks vir die koninkryk gebruik.
Die koninkryk is soos ‘n skat.
En die koninkryk is soos ‘n baie kosbare pêrel.
Tema: Christus bring die koninkryk van die hemele in woord en daad
1 Die gelykenis van die verborge skat
2 Die gelykenis van die koopman en die kosbare pêrel
1 Die gelykenis van die verborge skat
Ons teks vorm die afsluiting van ‘n lang dag.
‘n Lang dag vir Jesus, waarop hy steeds vanuit ‘n bootjie op die meer van Galilea die skare onderrig het.
Daarvoor het Hy gelykenisse gebruik.
Soos in vers 44: Die koninkryk is soos ‘n skat wat verborge is.
Hierdie beeld moes die skare beslis aangespreek het.
Die gootste deel van die skare was maar arm mense.
En net soos die arm mense in Suid-Afrika daaroor droom om een keer in hulle lewe die lotto te wen, waardeur al hulle finansiële sorge vergoed verby sal wees, ‘n luukse lewe wat lonk, so was dit die arm boere-arbeider in Palestina se droom om op ‘n dag, terwyl hy besig is om die land om te ploeg, skielik op ‘n skat af te kom.
Dit was in daardie tyd nie ongebruiklik dat mense soms hulle skatte in die grond begrawe het, of êrens in ‘n grot weggesteek het nie.
As daar byvoorbeeld oorlog gedreig het, het hulle dit gedoen, om te voorkom dat die soldate alles sou roof.
Na die oorlog het hulle dan weer hulle skat gaan opgrawe.
Maar dit kon ook gebeur dat die persoon self in die oorlog oorlede is, waardeur die skat in die grond gebly het en niemand verder daarvan afgeweet het nie.
So het die skat dan bly lê en wag tot die dag dat iemand dit toevallig sou terugvind.
In die tyd toe die Romeine Palestina binnegeval het in die jare sestig na Christus, het die woestyngemeenskap van die Esseners byvoorbeeld al hulle kosbare besittings, waaronder hulle boekrolle, in ‘n grot in die woestyn gaan wegsteek.
Die hele gemeenskap is egter deur die Romeine uitgemoor, en die skat het daar bly lê totdat dit in 1948, byna twee millenia later, ‘toevallig’ weer ontdek is.
Beseffende watter impak dit op sy lewe sal hê, was die man in ons teks bereid om alles wat hy het te gaan verkoop, net om daardie spesifieke saailand te koop.
Hy het die skat net daar gelos, dit weer met grond toegemaak.
As hy dit dadelik sou saamvat en die mense kom dit agter, sou hulle natuurlik wou weet waar hy dit gekry het.
En omdat die saailand nie aan hom behoort het nie, sou die skat dan regtens die eienaar s’n wees.
Die man was waarskynlik ‘n landbou arbeider wat ‘n stuk grond bewerk en beheer het, terwyl dit nie sy eie besit was nie.
Daardie saailand was waarskynlik nie baie duur nie, maar vir ‘n arm arbeider om te koop, moes hy wel al sy besittings verkoop.
Hy was egter daartoe bereid, want ‘n nuwe lewe sonder finansiële sorge het vir hom gelonk, omdat hy geweet het dat daar ‘n skat in die saailand begrawe was.
In die gelykenis word die koninkryk van die hemele nou met hierdie skat vergelyk.
Nou hoekom vertel Jesus hierdie gelykenis?
En wat wil Hy die mense daarmee leer?
In hierdie gelykenis, gemeente, val die klem daarop dat die skat verborge is.
Die rykdom van die skat skitter nie sodat almal dit kan sien nie.
Daar lê ‘n laag grond bo-oor die skat.
Maar die arm boere-arbeider het dit raakgesien, hy het dit gevind, en nou wil hy dit met alle mag hê.
Gemeente, met hierdie gelykenis openbaar Jesus aan ons iets oor hoe, oftewel in watter gedaante, in watter gestalte, die koninkryk van die hemele tot ons kom.
In hierdie gelykenis openbaar die Here Jesus ons iets oor Homself.
Want dit was, soos Johannes die Doper aankondig het, in Hom wat die koninkryk gearriveer het.
En inderdaad, Jesus het in ‘n onopvallende, in ‘n vernederde gestalte gekom, in ‘n staat van vernedering.
Die Messias het nie na Israel gekom as ‘n glorieryke oorwinnende Koning nie, maar as ‘n lydende Kneg, as ‘n Lam wat oppad was na die slagpale.
Maar, laat dit duidelik wees, wie Hom gevind het, het wel die skat van die koninkryk gevind!
Ons toegang tot die koninkryk is inderdaad deur hierdie Man.
Soos Paulus geskryf het: ek sal in niks anders roem as in die kruis van die Here Jesus Christus nie (Gal 6:14).
Sy kruis is my toegang tot die koninkryk!
Feit is, niemand sou daarin belanggestel het om daardie saailand te koop nie.
Maar vir die man wat die skat daarin ontdek het, was juis daardie saailand die poort na ‘n nuwe toekoms.
Christus se voorkoms op aarde was ook nie van so ‘n aard dat almal hom as vanself kom aanbid het nie.
Hy het nie met prag en praal soos ‘n koning of keiser gekom nie.
Maar hulle wat na so Woord kom luister het, mog daarin ‘n skat vind van onskatbare waarde.
Dit is, gemeente, die boodskap wat Jesus met hierdie gelykenis vir die skare gee.
En dit is vir ons ook die boodskap.
Die toegang tot die hemelse koninkryk wat Christus met sy wederkoms op aarde sal bring, daardie toegang kom nie deur ‘n lewe van prag en praal in die hier en nou nie.
Dit is deur sy kruis wat ons toegang daartoe kry.
Dit is ook deur ons kruis te dra agter Christus aan.
Is jy soos daardie man, wat bereid was om al sy besittings te verkoop, net om daardie onaantreklike stuk saailand te koop?
Ja, Christene gee hulle geld uit aan ander dinge as die wêreld om hulle heen.
As Christene gebruik ons nie ons geld vir die ‘glitter en glamour’ van die hier en nou nie, maar vir daardie dinge wat ewigheidswaarde het.
Dinge waarin die mense van die wêreld nie veel sien nie.
Maar ons sien wel die toekomstige skat, wat die kruis vir ons waarborg.
Die toekomstige skat, wat nou nog onder ‘n laag grond verborge lê.
Daarom sorg ons, dat ons by daardie saailand is.
Dat ons aandele in daardie saailand bekom, naamlik die kerk van Jesus Christus.
Want daar vind ons die skat van die hemelse koninkryk, die skat van die ewige lewe!
(Tema: Christus bring die koninkryk van die hemele in woord en daad
1 Die gelykenis van die verborge skat)
2 Die gelykenis van die koopman en die kosbare pêrel
Die koninkryk is soos ‘n baie kosbare pêrel.
Nou is dit verleidelik om gou paralelle te trek tussen die verskillende gelykenisse wat Jesus vertel het, vanuit die voorveronderstelling dat hulle presies dieselfde boodskap het.
Maar dit kan ons op die verkeerde spoor bring.
Daarom, ook by hierdie gelykenis, sal ons mooi moet kyk na wat daar staan, en vervolgens wat Jesus se bedoeling, sy boodskap was, met hierdie spesifieke gelykenis.
In hierdie gelykenis gaan dit oor ‘n koopman wat op soek is na mooi pêrels.
Toe hy een baie kosbare pêrel vind, was hy bereid om alles wat hy gehad het, te verkoop, net om daardie een unieke pêrel in die hande te kry.
Lees goed wat daar staan, gemeente: Hierdie koopman verkoop alles wat hy het.
Al sy besittings, al sy klere, sy huis, alles.
Nadat die transaksie beklink is, was hierdie koopman straatarm, behalwe dan vir die pêrel in sy hand.
Hy was bereid om die volle prys vir hierdie unieke pêrel te betaal, met alle gevolge van dien.
Ander mense, sy kollegas koopmanne, sou waarskynlik gedink het hy is mal.
Tog het hierdie koopman dit gedoen.
Skynbaar sal daardie unieke pêrel so baie in die toekoms vir hom beteken, dat hy bereid was om nou alles wat hy aan besittings in hede en verlede bymekaar gemaak het, daarvoor op te offer.
Gemeente, die boodskap wat uit hierdie spesifieke gelykenis tot ons kom, word in die eerste plek duidelik as ons besef dat Jesus Homself hier met die koopman vergelyk.
Jesus is bereid om tot die uiterste te gaan om hierdie pêrel in die hande te kry.
En onthou, hierdie unieke pêrel is die koninkryk van die hemele.
Om daardie koninkryk werklikheid te laat word, moes Jesus ‘n ongekende hoë prys betaal.
Net soos die koopman, wat besittings, huis en klere kwytgeraak het ter wille van hierdie pêrel.
In Jesus se geval was die prys vir die koninkryk selfs nog hoër.
Hy was selfs bereid om sy lewe daarvoor op te offer!
Hy het Homself weggesyfer, ontledig, sodat daardie koninkryk werklikheid kon word!
Dit was sy gesindheid.
In Filippense 2 word oor Jesus geskryf:
“Want hierdie gesindheid moet in julle wees wat ook in Christus Jesus was.
Hy wat in die gestalte van God was, het dit geen roof geag om aan God gelyk te wees nie, maar Hy het Homself ontledig deur die gestalte van ‘n dienskeng aan te neem en aan die mense gelyk geword; en in die gedaante gevind as ‘n mens, het Hy Homself verneder deur gehoorsaam te word tot die dood toe, ja, die dood van die kruis.” (Fil 2:5-8)
So profeteer Jesus in hierdie gelykenis oor wat Hy van plan was om te gaan doen.
Die skare besef dit nou nog nie ten volle nie – Hy praat nou nog in gelykenisse – maar feit is dat Hy self daardie koopman is.
Dit is Hy wat daardie skat, daardie unieke pêrel, in die hande gaan kry.
Nie net vir Homself nie, maar vir sy volk, vir al die skape wat die Vader aan Hom toevertrou het.
Maar die prys was ongekend hoog.
Hy moes sy eie lewe daarvoor aflê.
Heel sy lewe op aarde, vanaf sy geboortedag, sy jeug, sy amptelike werk, alles was ‘n voorbereiding op hierdie groot transaksie.
Deur sy dood het Hy die skuld betaal wat veroorsaak het dat die paradys op aarde vir die mense gesluit is, naamlik hulle sonde en opstand.
Hy het versoening gebring met God.
Sy kruisdood het die hekke na die paradys weer oopgemaak.
Met sy kruisdood en opstanding het dit eens en vir altyd duidelik geword, dat die koms van die hemelse koninkryk op aarde nie meer gekeer kan word nie.
In die Onse Vader, die gebed wat Jesus sy dissipels geleer het, word twee keer hierdie koninkryk genoem.
Eers in die tweede bede: Laat u koninkryk kom.
Daarmee bid ons vir die volle verwerkliking van die hemelse koninkryk op aarde, dit waarvoor Jesus so duur betaal het.
Maar dan aan die einde van die Onse Vader, as deel van die lofprysing, bid ons:
Want aan U behoort die koninkryk ...
Daarmee bely ons dat Christus die Koopman is, wat hierdie koninkryk wettiglik bekom het, wat ‘n duur prys daarvoor betaal het.
Na sy opstanding, aan die einde van sy ampstaak op aarde, het Christus vir sy apostels gesê:
“Aan My is gegee alle mag in die hemel en op aarde.” (Matt 28:18)
Daardie kosbare pêrel was nou in sy besit.
Aan die begin van Christus se ampswerk op aarde het Satan nog geprobeer om op ‘n slinkse manier hierdie kosbare pêrel in die hande te kry, of altans buite Christus se bereik te hou.
Maar Jesus het die versoeking weerstaan en nie vir Satan gekniel nie.
Hy het die lydensweg gestap, Hy het gehoorsaam die kruis gedra, gedurende sy hele lewe op aarde en veral aan die einde daarvan.
En sodoende het Hy op wettige wyse die kosbare pêrel gekoop, al was die prys hoe hoog.
En noudat dit in sy besit is, sal Satan dit nooit meer uit sy hand kan ruk nie.
Inteendeel, Satan is uit die hemel verban.
Geliefde gemeente, ons dankbaarheid vir Christus se gesindheid ken geen grense.
In hierdie Kersdae herdenk ons spesiaal sy koms na die aarde, en sy werk op aarde, hoe Hy daardie duur prys op aarde kom betaal het om die pêrel van die hemelse koninkryk vir die aarde terug te verwerf.
Nou in hierdie opsig het die verse wat ek nounet uit Filippense 2 gelees het, vir ons nog ‘n ekstra boodskap.
Soos ek genoem het, ons dankbaarheid vir Christus se gesindheid ken geen grense.
En om ons dankbaarheid te uit, te wys, word ons in Filippense 2 opgeroep om nou ook dieselfde gesindheid as Christus te hê.
Verstaan my goed, ons hoef nie, soos die koopman wat Christus is, die pêrel weer te koop nie.
Die koninkryk is gekoop, dit is ‘n realiteit.
Maar ons word wel opgeroep tot dieselfde gesindheid.
Ons het ‘n ander taak op aarde as wat Christus gehad het.
Maar ons kan ons taak op aarde wel met dieselfde gesindheid uitvoer.
Ons lees in Filippense 2: “Julle moet nie elkeen na sy eie belange omsien nie, maar elkeen ook na die ander s’n.”
Dit was naamlik die mees tipiese van Christus se gesindheid.
Hy kon, Hy was in staat om op aarde ‘n koninklike, ryk en luukse lewe te lei.
Niks sou Hom keer nie.
Tog het Hy dit nie gedoen nie.
Hy het gekies vir ‘n swaar lewe, met as doel om ons op te hef, om ons te red, om die koninkryk vir ons te verwerf.
In nederdigheid het Hy ons, die skape wat die Vader aan Hom toevertrou het, hoër geag as Homself, as sy eie belange.
Geliefdes, mag hierdie gesindheid ook onder ons heers, in ons gemeentes.
‘n Gesindheid van onderlinge diensbetoon.
Dit is ‘n gesindheid wat die diakens veral opgeroep word om daarin ‘n voorbeeld te wees vir die res van die gemeente.
Daar staan tereg in die bevestigingsformulier vir diakens:
“Ten opsigte van die diens van die barmhartigheid leer die Skrif dat dit voortvloei uit die liefde van Christus.
Hy het in die wêreld gekom om te dien en het Hom ontferm oor baie wat in nood verkeer het.
In navolging van sy Heer het die eerste Christelike gemeente toegesien dat niemand onder hulle behoeftig is nie ...
Die Here roep ons nou ook op tot gasvryheid, offervaardigheid en barmhartigheid ...
In die gemeente van Christus mag niemand ongetroos onder die druk van siekte, eensaamheid, ouderdom of armoede lewe nie.”
Broer, suster, is daardie gesindheid in jou lewe sigbaar?
Diakens, is julle aktiewe voorbeelde van hierdie gesindheid vir die gemeente?
Ja in Christus se gemeente skitter die kosbare unieke pêrel alreeds.
In Christus se gemeente begin die koninkryk van die hemele op aarde reeds werklikheid word.
In Christus se gemeente heers sy gesindheid.
Hier in ons midde sien elkeen nie net om na sy eie belange nie.
Hier in ons midde is daar onderlinge liefde, aandag, geduld, verdraagsaamheid met mekaar.
Hier in ons midde geniet ons van mekaar se gawes en talente.
Hier in ons midde vind jy mense wat belowe het om hulle gawes tot nut en saligheid van die ander lede gewillig en met vreugde aan te wend.
Mense wat dit nie net belowe het nie, maar wat dit ook in praktyk bring.
So skitter hierdie kosbare pêrel, so is die hemelse koninkryk reeds op aarde aanwesig.
En om vir ‘n oomblik weer terug te keer na die eerste gelykenis, wat ons vanaand behandel het.
Die kerk self is in sekere sin soos die laag grond wat bo-oor die skat lê.
In die kerk blink nie alles van goud nie.
Die kerk het nie dieselfde ‘glitter en glamour’ soos Sun City, of Emperor’s Palace of watter wêreldse plek om die mense te lok nie.
Die kerk is in hierdie opsig baie soos Christus toe Hy op aarde was.
Hy het nie met koninklike prag en praal Homself vertoon nie.
Maar hulle wat na sy Woord geluister het en dit in hulle harte gesluit het, het ‘n kosbare skat gevind.
Calvyn skryf by hierdie gelykenis: Ons heg oor die algemeen baie waarde aan dit wat sigbaar is, en daarom heg ons min waarde aan die nuwe en Geestelike lewe, wat in die Evangelie vir ons aangebied word ... Dit is inderdaad baie treffend om dit met ‘n verborge skat te vergelyk.
En so vind elkeen wat by Christus se kerk aansluit, daarin die kosbare skat van die koninkryk van die hemele, wat op aarde reeds begin werklikheid word.
Juis hier in die kerk, waar die gesindheid van Christus heers.
Al is ons konings en al sal ons eendag saam met Christus as konings oor alle skepsele heers, tog beklee ons onsself in die hede nog nie met alle prag en praal soos konings nie.
Ons gaan met Christus se gesindheid deur die lewe.
Sy Heilige Gees werk daardie gesindheid in ons midde.
So gaan Christus voort, deur die kragtige werking van sy Gees en Woord, om die hemelse koninkryk hier op aarde te vestig.
Amen.
Votum
Seën
Ps 122:1,2
Gebed
Skriflesing: Mattheüs 13:24-52
Ps 119:19
Skriflesing: Filippense 1:27-2:11
Ps 119:25
Teks: Mattheüs 13:44-46
Preek
Sb 16:1,3,5,7,8
Gebed
Geloofsbelydenis van Nicea
Ps 119:38
Kollekte
Sb 45:1,3,5,7,10
Seën