Die Christus (Messias) is God se geskenk en is nie deur die Joodse volk voortgebring nie

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Pretoria en Maranata
Date: 
2019-12-22
Text: 
Mattheüs 1:17
Preek Inhoud: 

Preek: Mattheüs 1:17

 

Hoeveel weet jy van jou voorgeslagte af?

Ek neem aan jy ken die name van jou oupas en oumas.

Maar ken jy ook die name van jou oupa- en oumagrootjies?

En ken jy ook die name van hulle ouers, jou oupa oupa- en ouma oumagrootjies?

Weet jy watter beroep jou oupas en oumas uitgeoefen het?

En jou oupa en oumagrootjies?

Het jy iets in jou huis wat aan jou oupa of oumagrootjie behoort het?

As mens eers begin nadink wat jy nou eintlik oor die voorgeslagte weet, is dit opvallend hoe weinig dit eintlik is.

Die tyd wis alle geheue uit, dit is maar al te waar.

En dan is ons nog gelukkig dat die meeste van ons voorgeslagte lid van die kerk was, en dat die kerk, veral vanaf die Reformasie, die gewoonte het om ‘n argief by te hou.

Wie meer te wete wil kom oor sy voorgeslagte, moet in kerkargiewe wees, waar meestal die geboorte- en sterfdatums, die doopname, die huweliksdatum, kinders gebore uit die huwelik en diens meer noukeurig aangeteken is.

 

Nou begin die Nuwe Testament ook met argiefmateriaal.

Geliefde gemeente, ek vra u aandag vir die geslagsregister waarmee Mattheüs sy Evangelie begin.

 

Tema: Die Christus (Messias) is God se geskenk en is nie deur die Joodse volk voortgebring nie.

  • Die Evangelie begin met ‘n geslagsregister
  • Kritiek op die geslagsregister
  • Betekenis van die geslagsregister

 

  • Die Evangelie begin met ‘n geslagsregister

Mattheüs begin sy Evangelie op ‘n opvallende manier.

In 1:1 lees ons: geslagsregister.

Die Griekse teks kan ook vertaal word as: boek van wording.

Die woord wat Mattheüs kies is redelik ongebruiklik in Grieks om ‘n geslagregister aan te dui.

Met sy woordkeuse sluit Mattheüs naamlik aan by die Ou Testament.

In Grieks staan daar: Biblos geneseoos ...

Hoor u daarin Genesis, die naam van die eerste Bybelboek in die Septuaginta?

Die boek Genesis is die boek van wording (‘toledoot’) in die Ou Testament.

Die boek van wording van hemel en aarde.

Die boek van wording van die mensheid.

Die boek van wording van God se verbondsvolk uit Abraham.

Dit is waaroor Genesis handel.

Nou sluit Mattheüs in sy inleiding bewus aan by hierdie Goddelike boek uit die verlede.

Hy dui daarmee aan dat die geskiedenis wat hy nou in sy boek gaan beskryf, op dieselfde vlak is.

As ooggetuie van Christus se lewe op aarde is Mattheüs bewus van die gewigtigheid van die verslag wat hy op skrif gestel het.

Sy boek is die boek van wording van Jesus Christus.

En in hoofstuk 1 beskryf hy hoe dit gekom het dat God se Seun as Saligmaker op aarde gekom het.

Dit is nie iets wat onverwags en toevallig gebeur het nie.

Dit is eeue lank deur God voorberei.

Vandaar dat Mattheüs sy Evangelie begin met ‘n geslagsregister.

Daarmee word duidelik dat hierdie Jesus die vervulling is van die hele voorgeskiedenis van die Ou Testament.

Hierdie Jesus, skryf Mattheüs, is die Seun van Dawid.

Hy vervul dus al die beloftes en profesieë oor die Dawidiese koningshuis.

Hierdie Jesus, skryf Mattheüs, is ook die Seun van Abraham.

Dus, ook God se beloftes aan Abraham kom in Hom tot vervulling!

God het destyds aan Abraham belowe dat in hom al die geslagte van die aarde geseën sou word (Gen 12:3).

Hierdie ou belofte aan Abraham gaan in Christus in vervulling kom.

Met sy eerste hoofstuk wil Mattheüs duidelik maak dat al die geslagte na hierdie oomblik toegeleef het.

En dit was inderdaad baie geslagte!

Ons teks sê: vanaf Abraham was daar veertien plus veertien plus veertien geslagte.

Dit was ‘n baie lang tyd, inderdaad!

 

  • Kritiek op die geslagsregister

Nou gemeente, oor hierdie geslagsregister van Mattheüs is daar al baie geskryf.

Daar is ook al dikwels mense gewees wat kritiek geuit het op hierdie geslagsregister.

Mense het dit byvoorbeeld vergelyk met die geslagsregister wat die evangelis Lukas gee (Lukas 3).

Dit het hulle opgeval dat daar verskille is.

Mattheüs en Lukas se geslagsregisters is nie identies nie.

Dit het sommiges daartoe gebring om krities te beweer dat hierdie geslagregisters nie histories betroubaar is nie, of altans, moontlik dat een van die twee nie betroubaar is nie.

Op Mattheüs se geslagsregister is byvoorbeeld die kritiek geuit dat Mattheüs, uit sisteemdwang, om by die ronde getalle veertien plus veertien plus veertien uit te kom, dat hy daarom bepaalde name weggelaat het.

Moet ons ook tot die konklusie kom dat Mattheüs in sy eerste hoofstuk miskien wel ‘n mooi passende boodskap het, maar eintlik nie histories korrek is nie?

 

Gemeente, laat ons, voordat ons na so ‘n konklusie spring, eers die teks goed bestudeer.

In die eerste plek kan die woord “geslagte” in ons teks die indruk wek dat dit oor name gaan.

Dat een geslag gelyk is aan een persoon.

Maar dit staan nie daar nie.

Ons teks praat oor generasies in die sin van generasie-periodes.

As mens na ander geskiedskrywers kyk uit Mattheüs se tyd, Flavius Josefus is ‘n voorbeeld, dan is dit so dat die woord generasie gedui het op ‘n tydperk van ongeveer 40 jaar.

Dit is ‘n gemiddelde getal wat deur die geskiedskrywers in daardie tyd gebruik is as hulle die verlede beskryf het.

As mens dan bereken wat 40 maal veertien is, en dit dan drie keer, dan kom mens inderaad uit op die tydsperiode wat daar verloop het vanaf Abraham tot die geboorte van Jesus.

Mattheüs beskryf hierdie generasieperiodes, maar Mattheüs gee dus nie alle name nie.

In sommige generasieperiodes van 40 jaar was daar meer as een naam wat teories genoem kon geword het.

 

Dit is die eerste ding waarvan ons goed moet kennis neem, gemeente.

Mattheüs die evangelis is nie onsorgvuldig besig nie.

Hy is ook nie onhistories besig deur bewus name weg te laat, sodat sy skema kan klop nie.

Mattheüs maak gebruik van ‘n redelik algemene metode onder geskiedsskrywers wat betref ‘n generasie se tydsduur.

Mattheüs laat naamlik soms baie voor die hand liggende name weg.

Maar vir Mattheüs se Joodse lesers moes sy bedoeling duidelik gewees het.

En die telkens herhalende uitdrukking, die vader van ... die vader van ... die vader van ..., wat in Grieks is: hy het verwek ... is nie elke keer letterlik bedoel nie, maar oordragtelik.

Salmon was byvoorbeeld nie letterlik die vader van Boas nie.

En Josia was nie Jegonia se pa nie, maar sy oupa.

Nou dat ons dit weet, sal dit ons dus versigtiger maak om tot ‘n konklusie te spring dat die evangeliste histories onbetroubaar is.

 

Nog ‘n redelik algemene verwyt wat mens hoor, is dat Mattheüs en Lukas se geslagsregisters nie ooreenstem nie.

Mense het die moeite gedoen om die name in Mattheüs 1 en die name in Lukas 3 langs mekaar te skryf, en dit dan een vir een met mekaar te vergelyk.

En dan val dit inderdaad op, dat daar verskille is.

Nou ook hier moet ons versigtig wees om te gou tot ‘n konklusie te spring.

Dit gebeur naamlik gereeld, as mens met die verlede besig is, dat dit lyk of dinge nie sin maak nie, dat dit lyk of daar teenstrydighede is.

Die verlede is naamlik verby.

Die verlede kan nie vir homself praat nie.

Die verlede kan nie self opheldering gee nie.

Dit is baie maklik om die verlede te laat buikspreek.

Die verlede kan so gou die slagoffer word van misbruik, om agenda’s in die hede te dryf.

Daarom sal mens meer moeite moet doen, en nie te gou tot konklusies spring nie.

 

As ons die geslagsregisters in Mattheüs 1 en Lukas 3 vergelyk, sal ons met bepaalde realiteite moet rekening hou.

Die belangrikste is waarskynlik dat die evangelis Mattheüs die koninklike lyn deur die tyd volg.

Sy geslagsregister toon aan dat Josef, en dus ook Jesus, in feite die troonopvolger van koning Dawid is.

Hierdie koninklik lyn is egter nie identies aan die biologiese lyn nie.

Daar was naamlik gevalle in die Ou Testament waar ‘n koning byvoorbeeld nie ‘n eie seun gehad het nie, en waar ‘n nefie van hom die koningskap oorgeneem het.

 

Daarenteen volg die evangelis Lukas wel die biologies genealogiese lyn.

Lukas begin in die hede, en werk dan terug deur die geslagte, tot by Adam.

Mattheüs begin egter in die verlede, en werk na die hede toe. 

Dit is dus logies dat Lukas en Mattheüs se lyste nie identies is nie.

Daar is ‘n goeie verklaring daarvoor!

 

  • Betekenis van die geslagsregister

Dit bring ons weer terug by die geslagsregister van Mattheüs.

Ons teks maak duidelik dat Mattheüs die tydperk van Abraham tot  Christus in drie dele opdeel.

Van Abraham tot Dawid.

Van Dawid tot die Babiloniese ballingskap.

En van die Babiloniese ballingskap tot Christus.

Die eerste periode het onaansienlik begin, toe Abraham as vreemdeling in die beloofde land rondgeswerf het.

Maar dit eindig op ‘n hoogtepunt, toe koning Dawid die HERE se volk onder sy leierskap verenig het.

Die tweede periode begin met Dawid, maar gaan daarna vinnig bergafwaarts wat die troue diens aan die HERE betref.

Dit eindig met die Babiloniese ballingskap.

Die derde periode begin met die ballingskap.

Ons dink soms aan die ballingskap as ‘n tussenperiode van sewentig jaar, waarna die geskiedenis van God se volk weer soos van ouds verder gegaan het.

Tog was dit nie so nie.

In feite het na die sewentig jaar net ‘n handjievol Jode teruggekeer na die beloofde land.

Vir die meeste Jode het die ballingskap, oftewel die diaspora, permanent geword.

Soseer dat in die tyd van Christus op aarde die meeste Jode buite Palestina gewoon het.

Hierdie periode laat Mattheüs egter eindig met die koms van die Messias.

Met die koms van die Messias was die Jode se posisie allermins rooskleurig.

Hulle was allermins in tel op wêreldskaal.

Hulle was versplinter en verstrooid in die diaspora, en onderworpe aan ander magte.

Hulle was intern godsdienstig verdeeld.

Dit bring ons by ‘n belangrike boodskap wat die evangelis Mattheüs met sy eerste hoofstuk wil oordra.

Dit was nie aan die Jode self te danke, dat die Messias gekom het nie.

Volgens God se ou belofte het hulle die Messis voortgebring, maar dit was nie hulle prestasie nie.

Dit was net genade.

Al die veertien plus veertien plus veertien generasietydperke laat nie ‘n opgaande lyn sien nie, maar ‘n neerwaartse spiraal!

Al daardie Joodse name het nie veel om hulleself op te beroem nie.

Selfs koning Dawid nie.

Die enigste detail wat Mattheüs oor Dawid se lewe noem, is dat hy die troonopvolger Salomo verwek het by iemand anders se vrou.

 

Ja daar is ook vier vrouename in die lys: Tamar, Ragab, Rut, Batseba.

Mattheüs noem hulle name met dieselfde doel: Dat die Jode net nie moet dink dat hulle krediet moet ontvang vir die voortbring van die Messias nie.

Die manier hoe stamvader Juda vir nageslag gesorg het by sy skoondogter Tamar, was ‘n skande.

Ook is Tamar, Ragab en Rut die name van vroue van heidense afkoms.

God het ook die Kanaänitiese Tamar en Ragab en die Moabitiese Rut gebruik om die Messias voort te bring.

Die verlossing het nie voortgekom uit ‘n suiwer ras nie.

Dit was nie deur die Jode, dit was ook nie deur enige mens, dat die Messias op aarde neergesit is nie.

Dit is die boodskap van Mattheüs se geslagsregister in hoofstuk 1.

 

Hierdie konklusie van die evangelis Mattheüs word nog ekstra versterk deur iets wat daar in die vers voorafgaande in ons teks juis nie staan nie.

Ons lees daar: “Josef, die man van Maria uit wie gebore is Jesus wat Christus genoem word.”

Dit het u ongetwyfeld opgeval hoeveel keer daar in hoofstuk 1 staan: “die vader van ... die vader van ... die vader van ...”

Die Grieks lees hier: en hy het verwek ... en hy het verwek ... en hy het verwek ...

Maar by Josef stop dit ineens!

By Josef staan nie: en hy het verwek ... nie.

Hierdie weglating van die refrein wat onophoudelik geklink het, is veelseggend.

Dit onderstreep net weer Mattheüs se boodskap:

Die Messias is nie die produk, die prestasie, van die Joodse volk nie.

Die Messias word geskenk van bo af aan die Joodse volk, en via hulle aan die ganse mensheid.

Die redding kom nie van mense af nie.

Na drie lang periodes is God se volk uitgetel.

Maar nou breek God se tyd aan!

Nou kom sy volheid van die tyd!

Hy is nie van die mens afhanklik nie, ook nie van sy eie volk nie.

 

Gemeente, ek wonder, as ons in die evangelis Mattheüs se skoene sou gestaan het, hoe ons die Evangelie sou begin het.

Was dit wel ‘n goeie keuse vir hom om die Evangelie met ‘n geslagsregister te begin?

Was dit nie ‘n baie ‘boring’ vervelige keuse nie?

Nou in die Kerstyd hoor mens dikwels dat die Kersevangelie voorgelees word, maar meestal word Mattheüs 1 gerieflikheidshalwe oorgeslaan.

Mense is naamlik nie lus om na so ‘n lang lys name te luister nie.

Oor die algemeen stel ons nie belang in die geskiedenis nie.

Ou name van vroeër, wat in stowwerige argiewe opgeslaan word, dit boei ons nie meer nie.

As daar een ding is waarvoor daar in ons gemeentes min belangstelling is, is dit die argief.

Ek weet nie van Pretoria gemeente s’n nie, maar Maranata gemeente se argief wag al jare om weer georden en op datum gebring te word.

‘n Paar maande gelede het ek voorgestel om as ‘n klomp mense ‘n aand bymekaar te kom, en dan saam die argief op orde te bring.

Vele hande maak mos ligte werk.

‘n Datum is vasgestel waarop dit sou gebeur.

Enkele dae voor hierdie datum het egter die een verskoning na die ander begin inkom.

Soseer so dat die datum maar gekanseleer moes word.

Dit is eintlik tiperend vir die tydsgees waarin ons leef: Ons stel nie werklik belang in die verlede nie.

Ons hou nie van geskiedenis nie.

Die tydsgees van die moderne wêreld is dat vroeër alles sleg en primitief was, en dat ons eintlik bevoorreg is dat ons vandag in die hede lewe en nie in die verlede nie.

Nog liewer sal ons in die toekoms wil lewe, sodat ons ook op vakansie Mars toe kan gaan ensovoorts.

‘n Ongebreidelde toekomsoptimisme, dit is tipies die moderne tydsgees.

Terwyl die verlede as agterlik, ouderwets en irrelevant beskou word.

 

Maar wat ons nie moet vergeet nie, is dat as ons hierdie moderne tydsgees oorneem in ons eie denke as gelowiges, dat ons onsself geweldig verarm.

Meer nog, dit is ‘n belediging vir die HERE, en dit wat Hy in die verlede gedoen het.

Want juis in die verlede kan ons God se hand raaksien!

Die toekoms is onbekend, mense kan net fantaseer oor die toekoms.

Toerisme na Mars, dit is fantasie.

Maar dit wat God in die verlede gedoen het, dit is realiteit.

 

En as mens die verlede bestudeer, dan moet mens dit ook deeglik doen.

Want dikwels gebeur dit deesdae dat mense die verlede misbruik om dit daaruit te haal wat hulle pas, terwyl hulle nie bereid is om na die hele prentjie te kyk nie, die hele komplekse verlede, wat net so kompleks was as die hede vandag is.

Dikwels word ideologieë in die hede geregverdig, deur die eensydige gebruikmaking van gegewens uit die verlede.

In Suid-Afrika is ons goed bekend daarmee.

Die hoërskoolkinders kom agter dat die vak geskiedenis een en al ideologie is, tans ten gunste van die politieke belange van die heersende party.

En in die verlede, toe ek op skool, was, was geskiedenis net soveel ideologie, toe in belang van die apartheidstelsel en die blankes se belange in Afrika.

Vir ‘n Christen is dit die uitdaging om die verlede nie te laat buikspreek nie, maar om bereid te wees om die kompleksiteit van die verlede te erken.

 

Vir kritiese mense, wat eensydig besig is, is dit maklik om skynbare foute in die verlede aan te wys.

Die hoogmoedige moderne mens meen hy kan allerlei teenstrydighede in die verlede aanwys.

Dit is eintlik hoe die Skrifkritiek van moderne teoloë tot stand gekom het.

Hulle het iets oor die verlede geweet, maar nie genoeg nie.

Wie net beperkte kennis het oor die verlede, moet nie te vinnig oordele uitspreek nie.

Ons ken die uitdrukking, ‘n ‘backyard mechanic’.

Dikwels is dit mense wat maak of hulle baie oor jou motor weet, maar oor die algemeen moet mens maar versigtig wees vir hulle.

Net so moet mens maar ligloop vir mense wat ‘n punt probeer maak, deur van die geskiedenis gebruik te maak, en veral mense wat vir jou wil bewys die Bybel is nie betroubaar, omdat hulle nou een of ander ding uit die verlede opgespoor het.

Ons het dit gesien met hoe maklik mens tot konklusies kan spring wat betref hierdie stamboom in Mattheüs 1, as mens dit vergelyk met die stamboom in Lukas 3.

En ja, op eerste gesig lyk dit inderdaad of daar teenstrydighede is.

Dit is net eerbied vir God se Woord wat sal voorkom dat mens dan nie dadelik tot daardie konklusie spring, dat die Bybel dus onbetroubaar is nie.

Of, wat teoloë deesdae beweer, dat hoewel die Bybel histories nie betroubaar is nie, dit nie saakmaak nie, want die Bybel is net ‘n godsdienstige boek met ‘n boodskap vir jou siel.

So ‘n opmerking mis totaal die punt, die bedoeling hoekom Mattheüs sy evangelie juis begin met ‘n geslagsregister.

Alles wat met die Messias gebeur het, is naamlik veranker in die werklikheid.

Ons het nie kunstig verdigte fabels nagevolg toe ons julle die krag en koms van onse Here Jesus Christus bekend gemaak het nie, skryf die apostel Petrus met groot klem in sy brief (2 Petr 1:16).

 

Respek vir God se Woord sal sorg dat jy, as moderne mens, nederig bly.

Met al ons tegniese hulpmiddels weet ons eintlik so min oor die verlede.

Respek vir God se Woord sal ons soms moet laat erken: Dit lyk of daar ‘n historiese teenstrydigheid is, maar om tot daardie konklusie te spring, dit doen ons nie.

Want ons kennis oor die verlede is beperk.

As ons meer kennis gehad het, sou ons ook meer die kompleksiteit van die verlede besef het.

Kyk net hoe moeilik dit soms vir advokate is om agter die kap van die byl te kom, as dit gaan oor iets wat nog maar in die onlangse verlede gebeur het.

Hoeveel versigtiger moet ons nie wees om stellige uitsprake te doen oor wat in die verre verlede gebeur het nie.

 

Ek vat die toepassing van hierdie preek weer saam.

Laat ons nie wêreldgelykvormig wees, dat die tydsgees ook onder ons heers dat ons nie in die verlede belangstel nie.

Gaan vind bietjie meer uit oor jou eie voorgeslagte, en dan veral hoe die hand van die HERE in hulle lewens sigbaar was.

Mense het soms die impressie asof vroeër in die verlede almal gelowig was en aan die kerk behoort.

Dis nie so nie.

Ook die verlede is baie meer kompleks.

In die jaar 1700 byvoorbeeld, 50 jaar nadat Jan van Riebeeck in die Kaap aangekom het, was minder as 20% van die Europese bevolking aan die Kaapkolonie lid van die kerk.

Elkeen van ons se voorgeslagte sal ‘n mengelmoes wees van gelowiges en ongelowiges.

By Christus se voorgeslagte was dit ook so.

Daar was hulle wat, al was hulle baie sondig, trou gebly het aan die HERE, dink aan koning Dawid.

Maar daar was ook hulle wat heeltemal van Hom afvallig geraak het.

Dit is net genade dat God deur die geslagte heen vir Homself ‘n kerk vergader het.

Dit is net genade dat God die Messias aan die wêreld geskenk het.

Die Messias het nie uit die Joodse volk opgekom nie, dit was ‘n geskenk aan hulle.

Eerste vir die Jood, en toe ook vir die Griek, vir alle heidene.

Dit is God se werk, dit is net aan Hom te danke.

Niemand van ons kan die geloof erf nie.

Op wonderbaarlike wyse het God deur die geslagte gewerk, geslagte wat so dikwels afvallig was.

Telkens het die HERE weer, om genadige redes wat Hy uit Homself geneem het, tye van wederkeer geskenk.

Juis deur te bestudeer hoe die HERE in die verlede gewerk het, word ons weerbaar gemaak in ons geloof.

‘n Ware geloof is ‘n vasstaande kennis, so bely ons.

Daardie kennis moet gebaseer wees op feite, historiese feite.

Laat ons nie te gou kla as die dominee in sy preek aandag skenk aan feite uit die verlede nie.

Laat ons nie kla as ons kerkgeskiedenis op JV moet behandel nie.

Die oppervlakkige tydsgees van die 21ste eeu stel nie meer belang in die verlede nie.

Het ons in hierdie opsig wêreldgelykvormig geword?

‘n Toepaslike boodskap vanaf die kansel, wat nie gewortel is in die fondamente van die heilsfeite uit die verlede nie, het geen waarde nie, en bou nie ‘n geloof wat bestand is teen die storms van dwaling en wêreldgelykvormigheid nie.

 

In hierdie Kerstyd mag ons weer teruggaan na die verlede.

Daarin delf, daarin naspeur hoe groot God se geskenk was, toe Hy in die volheid van die tyd Jesus Christus op die aardse toneel laat verskyn het.

 

Amen.

Liturgie: 

Votum
Seën
Sb 3:1,2
Gebed
Skriflesing: Mattheüs 1:1-17
Sb 2:1,2,5
Teks: Mattheüs 1:17
Preek
Ps 78:1,2
Gebed
Apostoliese Geloofsbelydenis (sing)
Kollekte
Sb 1:1-3
Seën