Johannes se Kers-evangelie van die Woord

Minister: 
Ds HH van Alten
Church: 
Pretoria en Maranata
Date: 
2019-12-25
Text: 
Johannes 1:14
Preek Inhoud: 

Geliefde broeders en susters,

Johannes verskil nogal van die ander drie evangelies wanneer dit kom by die verhaal van Jesus se geboorte. Markus, byvoorbeeld, vertel niks van Jesus se geboorte nie – hy begin eintlik dadelik daar waar Jesus by Johannes die Doper kom om deur hom gedoop te word. Mattheus en Lukas, daarenteen, is weer baie uitgebreid in hulle vertelling van die verhaal van Jesus se geboorte – dít is dan ook die twee evangelies wat vir die prediking op die Kersdag die meeste gebruik word; dit is ook húlle vertelling wat die meeste misbruik word vir romantiese beelde van herders en engele, van wyse manne uit die Ooste, of vir tonele van die babatjie in die krip in ‘n stal. Johannes, egter, volg ‘n ander weg. Op ‘n manier sou ons kon sê dat Mattheus en Lukas die verhaal vertel, terwyl Johannes as’t ware die toeligting gee. Mattheus en Lukas vertel die feitelike geskiedenis (die geskiedenis van die geboorte van Jesus in die krip in Betlehem, die wyse manne uit die Ooste, die herders en die engele), en Johannes verduidelik wat dit beteken. Johannes ontknoop die teologiese betekenis agter die gebeure. Dit is ‘n onderskeid wat ons uiteraard nie te swart-wit moet hanteer nie, maar dit help ons wel om die spesifieke en eiesoortige fokus van die Johannes-evangelie beter te verstaan. En vandag wil ons saam met Johannes in die diepte afsteek om te verstaan wat die babatjie in die krip vir ons beteken. Ons doen dit deur te let op:

Tema: Johannes se Kers-evangelie van die Woord!

  1. Hierdie Woord het vlees geword
  2. Hierdie Woord is vol van genade en waarheid

 

1. “En Maria het haar eersgebore Seun gebaar en Hom toegedraai in doeke en Hom in die krip neergelê...” – só vertel Lukas vir ons die bekende verhaal van die geboorte van Jesus. Johannes, soos ek reeds gesê het, vertel nie hierdie verhaal nie (in elk geval nie in soveel woorde nie), en tog is sy boodskap uiteindelik presies dieselfde: “En die Woord het vlees geword...” Maar by Johannes, nog baie meer as by Lukas of die ander evangelies, word ons vanaf die begin bepaal by die identiteit van daardie Woord. Wie is die babatjie daar in die krip eintlik? Om dít vir ons te verduidelik, neem Johannes ons terug na die begin van ons Bybels, na die eerste woorde van Genesis: “In die begin het God die hemel en die aarde geskape” (Gen. 1:1). Terwyl hierdie eerste woorde van die Bybel nog in ons ore weerklink, begin Johannes sy evangelie op presies dieselfde toonhoogte: “In die begin was die Woord.” Met hierdie openingswoorde vat Johannes ons terug na voor die skepping. Die Woord was daar selfs nog voordat God die hemel en die aarde geskape het; die Woord gaan aan die skepping vooraf; in die groot skeiding tussen tyd en ewigheid staan die Woord aan die kant van die ewigheid. En, sê Johannes vervolgens in vers 1, die Woord was by God – die Woord was dus in God se onmiddellike nabyheid; daar was ‘n persoonlike verhouding tussen die Woord en God. Maar meer nog: die Woord was God. Hier, in die eerste vers van Johannes se evangelie, het ons die ‘wanneer’, die ‘waar’, en die ‘wie’ van die Woord. Wanneer? In die begin was die Woord. Waar? En die Woord was by God. Wie? En die Woord was God!

Die babatjie in die krip? O, Hy was reeds lankal daar. Hy wat in die volheid van die tyd in die krip gelê het, het eeue daarvoor alreeds aan die wieg van die skepping gestaan. Alle dinge het deur Hom ontstaan, en sonder Hom het nie een ding ontstaan wat ontstaan het nie (vers 3). Soos wat Paulus sê in Kolossense 1:16: “in Hom is alle dinge geskape wat in die hemele en op die aarde is, wat sienlik en onsienlik is, trone sowel as heerskappye en owerhede en magte – alle dinge is deur Hom en tot Hom geskape.” In die begin was die Woord die begin van alle dinge. Toe God gesê het: “laat daar lig wees”, en “laat die waters onder die hemel hulle op een plek versamel”, en “laat die aarde lewende wesens voortbring”, en “laat ons mense maak” – toe het God dit alles geskape deur die Woord. Want (vers 4) in die Woord self was lewe, en die lewe was die lig van die mense. En selfs toe die duisternis ná die sondeval op die aarde toegesak het, het die lig in die duisternis bly skyn, en die duisternis het dit nie oorweldig nie (vers 5).

 

So sien ons dus, gemeente, dat wanneer Maria haar eersgebore Seun gebaar het, dan is daar baie méér aan die gang as eenvoudig die geboorte van ‘n babatjie. En ons moet dít raaksien! Dis dan ook die rede waarom die wêreld én baie christene nie verder kom as die stal-toneel nie – omdat hulle vashaak by ‘n romantiese Jesus en nie wil deurstoot na die Woord van die Skrifte nie. Want wanneer Maria haar eersgebore Seun gebaar het, dan het die Woord (die ewige God self in al sy skeppings- en ondershoudingsmag), dan het Hy vlees geword, dan het Hy mens geword (Geloofbelydenis van Nicea).

Dit is so ‘n radikale boodskap. Dit is ‘n boodskap wat lynreg teenoor die tydsgees staan. Want in ons tyd is dit andersom, in ons tyd het die woord gód geword – almal mag sê wat hulle wil, vryheid van spraak is ‘n amper goddelike reg, selfs en veral vir die klein kinders; aantygings kan in die openbaar gemaak word sonder dat dit getoets is; gerugte word as feite die wêreld ingestuur, ook deur die hoofstroom-media; iemand word skuldig bevind selfs voordat sy saak voor die regter gedien het. En die platforms wat vir dié doel aan ons gebied word, is legio – Instagram, Facebook, blogs, koerante, radio... Elkeen mag sy stem laat hoor, en jy kan dit doen sonder dat jy die ander een in die oë hoef te kyk – want die woord is god! Ook ons swig hiervoor! En tog was daar nog nooit soveel onsekerheid oor die waarheid van woorde as juis in ons tyd nie. Elkeen mag sy woorde die wêreld instuur, en tog weet niemand meer presies watter woorde om te glo nie – watter koerant, watter nuus-webwerf is nog werklik betroubaar? Watter weergawe van die beskuldigings teen Donald Trump moet ons glo – die Demokraties-beïnvloede CNN, of die Republikeins-gesinde Fox News? Wat het nou werklik met die staatskaping in ons land gebeur – was dit Zuma of die Guptas of Ace? Moet ek Maroela-media glo, of dalk eerder die Beeld, of The Citizen? Dit is nie verniet dat in 2017 ‘fake news’ die woord van die jaar was nie. Die woord is god, ja, maar hierdie god het soos Dagon vooroor op sy gesig geval.  

En dan kom sê Johannes op hierdie Kersdag vir ons: nee, die woord het nie gód geword nie. Die Woord was lankal God, nog voor die ontstaan van alle dinge. Maar weet jy wat is nou die wonderlike boodskap: die Woord het vléés geword. Ek hoef nie meer te skreeu om mysélf te laat hoor nie, ek hoef nie meer myself op Facebook te laat geld met my uitsprake en menings nie, ek hoef nie langer verwar te word deur alle fake-nuus nie. Ek kan stil word by die krip in die stal, want hier volg die nuus, die ware / egte nuus: die Woord het vlees geword.

 

En hoekom, broers en susters, is dit so belangrik dat dit juis die Woord was wat vlees geword het? Hoekom praat Johannes nie eenvoudig van God wat mens geword het nie? Of van die Seun van God wat mens geword het? Wel, want dit is, volgens die laaste vers van Johannes se proloog (vers 18), juis die Wóórd wat vir ons die Vader kom verklaar het. Niemand het ooit God gesien nie, sê Johannes in vers 18. Om God te sien, beteken hier dieselfde as om God te ken. Dit is om Hom persoonlik te ken vanuit daaglikse omgang met Hom. Geen mens het hierdie persoonlike ervaring met God nie. Net die eniggebore Seun wat in die boesem van die Vader is – Hy ken Hom. Nou, om in die boesem van die Vader te wees, verwys na die gewoonte by oosterse maaltye dat die deelnemers by die tafel aangelê het – jy het op jou sy gelê, gestut op jou elmboog, met jou bene agter die ander een se lyf ingeskuif, en die ander een het met sy lyf hier voor jou bors ingeskuif. Op so ‘n manier kan die een vriend naby die ander lê, ongeveer op borshoogte. Vandaar ons woord: boesemvriend. Só het die einste Johannes wat hierdie evangelie geskryf het, self by Jesus gelê by die laaste Paasmaaltyd (Joh. 13:23), en so het die bedelaar ook by vader Abraham gelê in die gelykenis van die ryk man en die arm Lasarus (Luk. 16:22-23).

Nou, met dieselfde beeld beskryf Johannes hier die intieme verhouding wat daar tussen God die Vader en sy eniggebore Seun bestaan. Die Seun van God – die Woord! – het ‘n vertrouensposisie by die Vader; Hy staan in voortdurende kontak met die Vader. Niemand weet meer van God nie as juis Hy wat rus aan die hart van sy Vader. En daarom is juis Hy uitermate geskik om die Vader aan ons te openbaar, bekend te maak; dis die Woord wat die Vader aan ons verklaar het. Die Griekse werkwoord vir ‘verklaar’ is dieselfde as die woord ‘eksegese’, wat ons vandag nog gebruik vir die uitleg van die Skrif; as ek die Skrif uitlê, dan doen ek eksegese. Die Woord, die Seun van God, is dus die eksegeet van die Vader. Die Woord verduidelik vir ons wie die Vader is en wat sy Vaderskap vir ons beteken. Die Woord wat vlees geword het, is die eksegeet in als sy woorde en in al sy dade – sy geboorte is eksegese van God wat bereid was om mens te word; die wonderdade wat Hy gedoen het (water in wyn verander, verlamdes laat loop, blindes laat sien, ens.) is eksegese van God se mag om mense te verlos; sy trane is eksegese van God se bewoënheid oor die mensdom; sy reiniging van die tempel is eksegese van die heiligheid van God; selfs sy dood aan die kruis is eksegese, verklaring van die regverdigheid en die liefde van die Vader. Deur die Woord maak die Onsigbare homself dus sigbaar aan mense.

Meer nog, deur die Woord kom wóón die Onsigbare by ons. Want die Woord het vlees geword en onder ons gewoon, so lees ons in ons teks. Nou, toe Johannes dit geskryf het, het hy verskillende Griekse woorde tot sy beskikking gehad om te beskryf dat die Woord onder ons ‘gewoon’ het. Maar hy kies ‘n baie spesifieke woord – ‘n woord wat ons herinner aan God se inwoning by sy volk in die tabernakel tydens die woestynreis. Letterlik sê Johannes dus dat die Woord onder ons getabernakel het, onder ons sy tent opgeslaan het. Die Woord wat vlees geword het, die babatjie daar in die krip, is die plek waar God persoonlik sy tent in die midde van Israel kom opslaan het en waar mense Hom kan ontmoet. ‘n Tent van vlees.

 

In dit alles sien ons, gemeente, hoe belangrik dit is om te weet en te besef dat ons God die Vader slegs in Jesus Christus kan ontmoet. Dit is Hy wat die Vader aan ons verklaar; dit is in die vleesgeworde Wóórd dat die Vader onder ons kom woon het. Wie daarom God die Vader wil ken, wie Hom wil sien, moet by Jesus Christus wees. Soos Hy self later in Johannes 14 vir sy dissipels sê: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie. As julle My geken het, sou julle my Vader ook geken het...” En in Mattheus 11 vind ons nogmaals so ‘n duidelike uitspraak: “niemand ken die Vader nie, behalwe die Seun en elkeen aan wie die Seun dit wil openbaar.” Wie die Vader wil leer ken, wie God Drie-enig wil leer ken, moet gaan na die plek waar God onder ons kom woon het – in sy eniggebore Seun, Jesus Christus.

Dus, nie in die eerste plek in die kerk nie – kyk maar na die kerkmense van Jesus se dae: hulle het getrou kerktoe gegaan / tempel toe gegaan, maar toe hulle hoor van die geboorte van ‘n koning, was hulle saam met Herodes baie ontsteld daaroor. Ook nie in die eerste plek in die Bybel nie – die Skrifgeleerdes van Jesus se dae het presies vanuit die Skrifte kon aandui waar Hy gebore sou word, maar toe die wyse manne vervolgens na Betlehem gegaan het om die Koning op te soek, het niemand saam met hulle gegaan nie. Nee, wie die Vader wil leer ken, moet by Jesus Christus wees! Ons moet vra vir en oefen aan ‘n persoonlike verhouding met die vleesgeworde Woord. En natuurlik moet ons daarvoor ook kerktoe gaan en die prediking hoor; natuurlik moet ons daarvoor ook ons Bybels lees. Dit is immers nie verniet dat Jesus Christus die Wóórd genoem word nie. Dit is nie verniet dat Hy self sê dat die Skrifte van Hom spreek nie. Dit is nie verniet dat Hy na sy opstanding vir sy dissipels wys alles wat oor Hom in die wet van Moses en die profete en die psalms (dus, die hele Ou Testament) geskrywe staan nie. Natuurlik moet ons ons Bybels lees, natuurlik moet ons die Skrifte bestudeer, natuurlik kom ons hier in die kerk bymekaar, maar dit word nooit ‘n doel in sigself nie. Die doel is altyd ‘n lewende en persoonlike verhouding met Christus, want in Hom ken en sien ons die Vader; Hy gee vir ons die nodige eksegese van die Vader. Ja, in Hom aanskou ons die heerlikheid van God!

 

2. Dit is die tweede deel van ons teks, en tegelyk ook die tweede punt van die preek: “ons het sy heerlikheid aanskou, ‘n heerlikheid soos van die Eniggeborene wat van die Vader kom – vol van genade en waarheid.” Nou, die aanskouing van die heerlikheid moet ons sien in die lig van die voorafgaande, naamlik dat die vleesgeworde Woord sy tent / sy tabernakel onder ons kom opslaan het. Dus, die heerlikheid moet ons verbind met die tabernakel. Want wat lees ons wanneer die tabernakel vir die eerste keer in die woestyn in gebruik geneem word? Sodra Moses die werk aan die tabernakel voltooi het, dan lees ons in Exodus 40:34: “Toe het die wolk die tent van samekoms oordek, en die heerlikheid van die HERE het die tabernakel vervul.” En wanneer Salomo eeue later die tempel voltooi het? Wel, toe kon “die priesters vanweë die wolk nie staan om diens te doen nie, want die heerlikheid van die HERE het die huis van God vervul” (2 Kron. 5:14). Deur die geskiedenis van die volk Israel kom woon God in sy heerlikheid onder die volk – eers in die tabernakel, vervolgens in die tempel. En wanneer die Woord uiteindelik vlees geword het daar in die krip in Betlehem, dan is dit in Hóm dat ons die heerlikheid van God weer sien. God se heerlikheid woon in Jesus Christus, die Woord wat vlees geword het.

 

Maar wat dan van Jesaja 53? Daar gaan dit oor die Kneg van die HERE, ‘n profesie oor Jesus Christus, en daar word gesê dat Hy geen gestalte of heerlikheid gehad het dat ons Hom sou aansien nie, en geen voorkoms dat ons Hom sou begeer nie (Jes. 53:2). Ja, watter heerlikheid het die kind daar in die krip regtig gehad? Watter heerlikheid het Hy gehad wat in ‘n stal gebore is omdat daar vir hulle geen plek in die herberg was nie? Watter heerlikheid was daar in Hom wie se ouers so arm was dat hulle twee tortelduiwe gaan offer het, en wat kort daarna na Egipte moes vlug? Wel, gemeente, lees mooi hoe beskryf Johannes vir ons die inhoud van die heerlikheid in die laaste woorde van ons teks: vol van genade en waarheid.

Nou moet ons goed verstaan dat, wanneer Johannes se lesers, veral sy Joodse lesers, hierdie woordpaar gehoor het (‘genade en waarheid’), dan het die Ou Testamentiese skrifte vir hulle oopgegaan. Want Johannes bedink hier nie ‘n nuwe beskrywing van die heerlikheid van die Woord wat vlees geword het nie. Nee, hy gebruik ‘n woordpaar wat ons klokslag in die Ou Testament teëkom as beskrywing van die HERE, van Jahwe. Toe die HERE Homself in Exodus 34 aan Moses gepresenteer het, het Hy dit met daardie einste woordpaar gedoen; ons lees daar: “En toe die HERE by hom verbygaan, het Hy geroep: HERE, HERE, barmhartige en genadige God, lankmoedig en groot van goedertierenheid en trou.” Daar het ons dit: goedertierenheid (dit is Johannes se ‘genade’) en trou (dit is Johannes se ‘waarheid’). En die psalms is vol daarvan: “Al die paaie van die HERE is goedertierenheid en trou vir die wat sy verbond en sy getuienisse bewaar” (Ps. 25:10); “o HERE, u goedertierenheid is tot in die hemele, u trou tot in die wolke” (Ps. 36:6); “goedertierenheid en trou gaan voor u aangesig” (Ps. 89:15 en 25, wat ons na die preek sal sing); en ten slotte: “Want die HERE is goed, sy goedertierenheid is tot in ewigheid, en sy trou van geslag tot geslag” (Ps. 100:5, wat ons as laaste lied vandag sal sing).

En dit is hierdie verbinding van ‘goedertierenheid en trou’ wat Johannes weergee met ‘genade en waarheid’. Want wanneer die Woord vlees word, dan word die geskiedenis van die Ou Verbond nie skielik verbreek nie; dan is dít wat voorafgegaan het nie skielike irrelevant nie. Nee, in die Woord wat vlees geword het, kom die geskiedenis van die Ou Verbond juis tot voltooiing. In Jesus Christus kom God se goedertierenheid en trou, sy genade en waarheid, juis tot hulle hoogste vervulling – die heerlikheid van die Woord wat vlees geword het, is vol van genade en waarheid, want Hy is vol van God self. En dit is uit daardie volheid, sê Johannes in vers 16, dat ons ontvang, ja, genade op genade.

 

“Toon my u heerlikheid” – só het Moses gevra in Exodus 34. En dan toon die HERE presies dít – Hy maak Homself bekend as die Een wat groot is van “goedertierenheid en trou”. As ons vandag die heerlikheid van God wil sien, dan moet ons by die krip in Betlehem wees – daar het God se heerlikheid ‘n Persoon geword, daar het die Woord vlees geword, vol van genade en waarheid.  

Hy is, in die eerste plek, die Woord wat vol is van genade in ‘n wêreld waar woorde hard is en seermaak. Daar is waarskynlik niemand onder ons wat nie al deurgeloop het onder die skerp tong van ‘n medemens nie, moontlik selfs ‘n mede-Christen, moontlik selfs iemand in die gemeente. En oral om ons heen sien ons dat harde woorde die bo-toon voer. Politici noem mekaar name, mense gebruik sosiale media om ander mense idiote en ander lelike name te noem, manne en vroue maak mekaar seer met hulle woorde, kinders is voordurend besig om mekaar die loef af te steek met venynige woorde. En te midde van hierdie woorde-stryd, kom spreek die Woord, Jesus Christus. En Hy doen dit vol van goedertierenheid, vol van genade. Hy spreek van verlossing deur sy bloed, van genade vir sondaars, van ‘n nuwe lewe vir elkeen wat in Hom glo. Hy is bewoë oor sy volk. En wanneer Hy wel harde woorde spreek – want dit doen Hy verseker ook – dan is dit altyd om mense op te roep na Hom en na die lewe by Hom, dan is dit altyd omdat Hy nie die dood van die sondaar begeer nie, maar dat hy hom bekeer en lewe.

Hy is, vervolgens, ook die Woord wat vol van waarheid is, in ‘n wêreld en ‘n tyd waarin woorde hol en leeg geword het. Politici praat baie, maar jy vra jouself telkemale af wat daarvan hulle werklik bedoel. Manne en vroue se ja-woord teenoor mekaar kom steeds meer onder druk. En ook in die kerk is betroubare woorde soms moeilik om te vind – mede-gelowiges belowe dinge, maar kom nie hulle beloftes na nie; kerkrade besluit dinge, en gaan dan teen hulle eie besluit in; predikante preek mooi woorde, maar lewe soms anders as wat hulle gepreek het. En te midde van hierdie wêreld van leë woorde, ontmoet ons die Woord wat vlees geword, en Hy is trou, sy woorde is waarheid. In Hom is al God se beloftes ja en amen. Wanneer Hy spreek, kan jy werklik op sy woorde vertrou.

En, broers en susters, daarin lê die heerlikheid van die Kindjie in die krip, die Woord wat vlees geword het – sy woorde is vol van genade en goedertierenheid; sy woorde is een en al waarheid en trou. En dit geld nie net sy woorde nie – dit is wie Hy is! Hy is die Woord! En in Hom vind ons eksegese van wie God is. God is goedertierenheid en trou van ewigheid af; Hy is genade en waarheid deur die hele heilsgeskiedenis, Ou en Nuwe Testament. En Hy is dit nog steeds vir ons in 2019, want Jesus Christus, die Woord, is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid.

Liturgie: 

Liturgie – Kersdiens 25/12/2019

 

“Ons kan dit waag om te beweer dat, indien daar enige dag in die jaar is waarvan ons redelik seker is dat dit nié die dag is waarop ons Heiland gebore is nie, dit 25 Desember is. Nietemin, laat ons God dank vir die geskenk van sy geliefde seun.” – Charles Spurgeon

 

  • Afkondigings
  • Votum: Sing Ps. 124:4
  • Seëngroet: Genade vir julle en vrede van God ons Vader en van die Here, Jesus Christus // Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die Eersgeborene uit die dood, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen
  • Sing Skr. 4:5
  • Geloofsbelydenis: NGB art. 18
  • Sing Skr. 5
  • Gebed
  • Lees: Johannes 1:1-18
  • Sing: Ps. 33:5 en 6
  • Teks: Johannes 1:14
  • Preek
  • Sing Ps. 89:1, 6, 14
  • Gebed
  • Kollekte
  • Sing Ps. 100 (wysie in die psalmboek)
  • Seën: Die genade van ons Here, Jesus Christus, en die liefde van God, die Vader, en die gemeenskap van die Heilige Gees is en bly met julle almal // Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee [gesonge Amen]