Die Engel van die HERE is die vurige muur rondom sy volk – skuil daarom by Hom!

Minister: 
Ds HH van Alten
Church: 
Pretoria
Date: 
2019-12-15
Text: 
Exodus 3:2
Preek Inhoud: 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Ons het verlede Sondag Psalm 2:12 as basis gebruik om, in aanloop tot Kersfees, te kyk hoe die Seun van God Homself in die Ou Testament as die Engel van die HERE geopenbaar het. Verlede week het ons spesifiek na die eerste deel van vers 12 gekyk: “Kus die Seun, dat Hy nie toornig word en julle op die weg vergaan nie; want gou kan sy toorn ontvlam.” Ons het gesien hoe die Engel vir Bileam op sy pad teëgekom het met sy ontblote swaard, en Bileam se vloek teëgegaan en die vloek in ‘n seën verander het. Vandag wil ons na die tweede deel van vers 12 kyk: “Welgeluksalig is almal wat by Hom skuil.” En ons wil dit weereens doen vanuit die Seun van God se selfopenbaring as die Engel van die Here.

Tema: Die Engel van die HERE is die vurige muur rondom sy volk – skuil daarom by Hom!

In ons teksgedeelte, Exodus 3, vind ons Moses in Midian, besig om die kleinvee van sy skoonpa op te pas. Hy is ongeveer veertig jaar oud - hy is getroud en het ‘n seun. Dit lyk asof hy homself vir goed daar in Midian gevestig het. Maar intussen ly sy volk in slawerny onder die verdrukkende hand van Farao in Egipte. Gelukkig het die Here sy volk nie vergeet nie; kyk maar na die laaste verse van hoofstuk 2: “En God het hulle gekerm gehoor, en God het gedink aan sy verbond met Abraham, met Isak en met Jakob. En God het die kinders van Israel aangesien, en God het hulle geken" (Ex. 2:24-25) – veral hierdie laaste wys dat God baie diep by sy volk betrokke was.

Wanneer Moses op 'n dag, terwyl hy die kleinvee oppas, by die berg van God (Horeb) kom, dan verskyn die Engel van die HERE daar aan hom. Soos ek reeds vorige week gewys het, is daar duidelike aanduidings in die teks dat ons hier met God self te make het. Immers, dit is die Engel van die HERE wat aan Moses verskyn, maar dit is vervolgens die HERE self wat met Moses spreek en sê: "Ek is die God van jou vader, die God van Abraham, die God van Isak, en die God van Jakob" (Ex. 3:6). Moses kom dus in die teenwoordigheid van God self, van Jahwe - die Engel van die HERE is nie maar soos die ander engele waarvan ons in artikel 12 van die NGB bely dat hulle deur God geskep is om sy boodskappers te wees nie. Nee, hier verskyn die Seun van God self!

Nou lees ons in ons teks dat die Engel in 'n vuurvlam binne-in 'n doringbos verskyn. En toe Moses, uit nuuskierigheid, weer 'n slag mooi kyk, sien hy dat die doringbos in die vuur brand, maar dat die doringbos nie verteer word nie; die doringbos brand dus nie uit nie. In vers 3 noem Moses dit self “’n groot verskynsel”. Nou, broers en susters, ons moet bietjie verder hieroor nadink. Want ons ken hierdie verhaal so goed, maar het ons al ooit nagedink waarom juis hierdie elemente - 'n vuurvlam en 'n doringbos? En het u al gewonder wat dit beteken dat die doringbos nie uitbrand nie? Dit is belangrik dat wanneer God Homself op hierdie soort visuele maniere in die Skrif openbaar, dat ons sal probeer verstaan hoekom juis só, en hoekom juis so op hiérdie oomblik... sonder dat ons daarmee ons eie betekenis in die verskillende elemente wil inlê.

 

Nou, ek dink dat die vuurvlam redelik duidelik is - immers, ons teks sê self dat die Engel van die HERE in 'n vuurvlam aan Moses verskyn. Die vuurvlam wys dus op die Here self, simbool/teken/bewys van sy teenwoordigheid. Wat dit presies vir die volk beteken, dit sal ons nog sien. Maar in elk geval is duidelik dat dit die HERE is wat in die vuurvlam verskyn - die vuur is die medium / middel wat die Engel kies om Homself aan Moses te openbaar. En wat dan van die doringbos? Wat maak ons met hierdie stukkie woestyn-flora? Wel, op verskeie ander plekke in die Skrif word die volk Israel met 'n plant vergelyk - 'n wingerdstok, 'n vyeboom, 'n olyfboom... Die duidelikste vind ons dit waarskynlik in Psalm 80, waar Israel met 'n wingerdstok vergelyk word, en waar die digter baie spesifiek sê: "'n Wingerdstok het U uitgetrek uit Egipte (daar is die verbinding met Egipte); U het die nasies uitgedrywe en hom geplant. U het voor hom plek gemaak, en hy het wortels geskiet en die land vervul" (die hele geskiedenis van Israel vanaf die uittog tot en met die inname in die Beloofde Land word hier vir ons duidelik gemaak met die beeld van die wingerstok wat uitgetrek en weer ingeplant word).  Dieselfde beeld vind ons ook in Jesaja 5, en die Here Jesus gebruik dit ook weer in Mattheus 21. Dus, in hierdie spesifieke konteks van Exodus 3, waarin ons lees oor die swaarkry van die volk in Egipte en die Here se bewoënheid oor sy volk, dink ek dat ons die doringbos moet sien as 'n aanduiding van die volk Israel. En die kruks vir 'n goeie verstaan lê in die feit dat, hoewel die vuur in die doringbos brand, die doringbos self nie verteer word nie. God se volk, hoewel hulle hewig onderdruk word en swaarkry en as slawe moet werk, gaan nie ten onder nie. Want die HERE, die vuur wat brand vir sy volk, is in en om hulle om hulle te beskerm! Die Here is die vuur wat sy volk beskerm, en maak dat hulle nie in die Egiptiese slawehuis verteer word nie.

 

Nou, wanneer ons verder in die boek Exodus blaai, dan sien ons hoe die Engel van die HERE, by die uittog uit Egipte asook tydens die hele woestynreis, voortgaan om hierdie spesifieke rol vir sy volk te vervul. Reeds tydens die uittog, wanneer die volk oppad is na die Skelfsee, dan trek die HERE voor hulle uit - bedags in die wolkkolom en snags in die vuurkolom: "Die wolkkolom het nie bedags en die vuurkolom het nie snags voor die volk gewyk nie" (Ex. 13:22). En wanneer die Farao van gedagte verander en die volk agternajaag, dan sien ons dat dit spesifiek die Engel van die HERE is wat in die wolk- en vuurkolom by sy volk teenwoordig is. Die Engel, wat voor die volk uitgetrek het in die wolk- en die vuurkolom, kom neem dan posisie in agter Israel, tussen die volk en die Egiptenaars; ons lees in Exodus 14:19 en 20: "En die Engel van God wat voor die leër van Israel uit getrek het, het daar weggegaan en agter hulle aan getrek. En die wolkkolom het ook voor hulle weggetrek en agter hulle gaan staan; so het dit dan tussen die leër van die Egiptenaars en die leër van Israel in gekom. En die wolk was daar met die duisternis, en dit het die nag verlig, sodat die een nie naby die ander gekom het die hele nag deur nie." Die vuur van die Engel is die muur wat keer dat die Egiptenaars die Israeliete kan inhaal! En dan lees ons vervolgens in vers 24: "En in die môrewaak het die HERE, in die vuur- en wolkkolom, op die leër van die Egiptenaars afgekyk en die leër van die Egiptenaars in verwarring gebring." Hy keer hulle nie net nie, Hy maak hulle ook nog deurmekaar.

En nog later, wanneer die volk by die Sinai kamp opgeslaan het, net nadat hulle die wet van die Here ontvang het, dan sê die Here vir sy volk in Exodus 23, vanaf vers 20: "Kyk, Ek stuur 'n Engel voor jou uit om jou op die pad te bewaar en om jou na die plek te bring wat Ek gereedgemaak het..." 'n Engel - ja, maar nie sommer enige engel nie, want die Here vervolg dan: "Neem jou in ag vir Hom en luister na sy stem; wees nie wederstrewig teen Hom nie; want Hy sal julle oortreding nie vergewe nie, want my Naam is in Hom. Maar as jy terdeë na sy stem luister en alles doen wat Ek sal sê, sal Ek die vyand van jou vyande en die teëstander van jou teëstanders wees. Want my Engel sal voor jou uit gaan en jou bring na die Amoriete en Hetiete en Feresiete en Kanaäniete, Hewiete en Jebusiete; en Ek sal hulle vernietig." Hier is dit die Engel van die HERE wat borgstaan vir die bewaring van Israel tydens die reis deur die woestyn.

En wanneer die volk baie jare later in die Beloofde Land aangekom het, dan kom bevestig die Engel dat dit Hy was wat die volk bewaar het; Hy sê in Rigters 2:1 vir die volk: "Ek het julle uit Egipte laat optrek en julle gebring in die land wat Ek julle vaders met 'n eed beloof het, en gesê: Ek sal my verbond met julle in ewigheid nie verbreek nie." En voortdurend in die Rigtertyd is hierdie Engel nooit ver van die aksie af nie - Hy is daar wanneer Gideon gestuur word om met 'n skamele driehonderd manne die volk uit die hande van die Midianiete te gaan verlos, want dit is nie Gideon met sy duisende nie, maar die Engel wat hulle verlos (lees maar Rig. 6); en Hy is daar om die geboorte van die nasireër, Simson, uit 'n onvrugbare vrou aan te kondig, want Hy sorg vir die verlossing van sy volk (Rig. 13).

 

Sien u, gemeente, hoe betekenisvol dit was dat die Engel van die HERE Homself juis in die vuur aan Moses openbaar het? En juis op daardie kritieke draaipunt, wanneer die Here sy volk uit die slawehuis gaan verlos? Want hierdie Engel is soos 'n vuur rondom sy volk om hulle te beskerm en te bewaar - te bewaar by die uittog, te beskerm tydens die woestynreis, te omring by die inneming van die Beloofde Land. Hy is die vyand van hulle vyande, Hy is die teëstander van hulle teëstanders, soos wat die HERE in Exodus 23 belowe het. Hy beskerm hulle! Soos wat Dawid eeue later in Psalm 34:8 sê (wat ons aan die einde van die diens sal sing): "Die Engel van die HERE trek 'n laer rondom die wat Hom vrees, en red hulle uit." En, interessant, wat volg dan direk daarna in vers 9? "Welgeluksalig is die man wat by Hom skuil." Daar het ons Psalm 2:12: "Welgeluksalig is almal wat by Hom skuil." En as ons nog verder in die Ou Testament aanbeweeg, dan vind ons dieselfde in Sagaria 2:5 as wat ons in Psalm 34 gesien het. Psalm 34 sê: “Die Engel van die HERE trek ‘n laer rondom die wat Hom vrees”; Sagaria 2:5 sê: "Ek sal vir hom wees, spreek die HERE, 'n vurige muur rondom en tot heerlikheid daar binne-in." Só was die Engel van die HERE regdeur die Ou Testament die vurige muur rondom sy volk.

Is dit nie verstommend nie, broers en susters - hierdie volk is die draer van die Messias; in die lyn van Abraham, Isak en Jakob, en daarna in die lyn van Juda, en vervolgens via al die konings wat uit Juda se geslag opgekom het (beginnende by Dawid), moet die Christus gebore word. Meer as 1500 jaar vanaf Abraham tot Christus! En wie beskerm dié klein volkie deur hierdie hele geskiedenis oppad na daardie gebeurtenis in die krip in Betlehem? Dieselfde Een wat uiteindelik daar in die krip gebore sou word: die Seun van God in sy Ou Testamentiese gestalte, die Engel van die HERE. Hy beskerm hulle, Hy bewaar hulle, Hy is die vurige muur rondom hulle. Hy is die waarborg dat uiteindelik die dae vervul sou word dat Maria moes baar; en sy het haar eersgebore Seun gebaar en Hom toegedraai in doeke en Hom in die krip neergelê (Luk. 2:7).

En daarna? Nadat Hy gekom het? En deur die geskiedenis van die kerk tot vandag toe? Wel, lees bietjie saam met my uit die profesie van Jesaja, hoofstuk 4 [lees]. Nou, gemeente, ek weet dit is ‘n gedeelte uit die Ou Testament, maar dit gaan hier oor die Nuwe Testamentiese bedeling. Dit gaan hier oor die Seun van God - Hy word genoem die Spruit van die HERE (4:2). En dit gaan ook oor Sion, oor Jerusalem, oor die kerk - die Here sal die onreinheid van Sion afwas en die bloedskuld van Jerusalem daaruit wegspoel deur die Gees van strafgerig en die Gees van uitdelging (vers 4). En dan? Vers 5: "Dan skep die HERE oor elke woonplek van die berg Sion en oor sy plekke van samekoms 'n wolk bedags en rook met die glans van vuurvlamme in die nag; want oor alles wat heerlik is, sal daar 'n beskutting wees." Daar het ons dit weer - die vuurvlamme van die Here tot beskutting, tot beskerming! Oor alles wat heerlik is, so staan daar: dus, oor almal wat afgewas is van alle onreinheid deur die Spruit van die HERE, ons Here Jesus Christus.

 

Ja, gemeente, vir die kerk deur die geskiedenis, ook vir ons vandag, is Jesus Christus ons beskerming. En dan bedoel ek daarmee baie meer as dat ons almal in Januarie veilig van ons vakansies gaan terugkom. Want dit is moontlik dat sommige nie gaan terugkom nie. Dit is moontlik dat iemand in 'n motor-ongeluk sterf, of dat iemand in die see verdrink; dit is moontlik dat daar iets by hierdie week se Kongres gebeur. Wie weet? Nêrens word vir ons belowe dat siekte en ongelukke en rampe nie oor ons sal kom nie. Hoewel die Here volledig by magte is om hierdie soort beskerming ook te gee, belowe Hy dit nêrens nie. Nee, die beskerming wat ons as kerk het - en waarin ek as lewende lidmaat van die kerk mag deel! – die beskerming wat die Engel van die HERE vir ons gee, is ten diepste gewortel in sy verlossende werk aan die kruis waardeur alle onreinheid van ons afgewas word. Ons beskerming lê ten diepste in die veiligheid van ons siele – dit is ook die crescendo van daardie bekende Psalm 121: “die Bewaarder van Israel sluimer of slaap nie; die HERE is jou Bewaarder, die HERE is jou skaduwee aan jou regterhand; die HERE sal jou bewaar vir elke onheil, jou siel sal Hy bewaar!” Jou siel – jou egte lewe met God! En dit is dan ook die basis vir die saligspreking van Psalm 2:12: Welgeluksalig is almal wat by Hom skuil! Gelukkig is jy wanneer jy die bloed van Jesus Christus het as beskerming. Hierin lê ons veiligheid as kerk – die bloed van Jesus Christus, die evangelie van sy dood... vir ons.

En is veiligheid nie waarna ons ten diepste soek nie, broers en susters? En dikwels soek ons dit dan in mensgemaakte dinge: in bepaalde gebruike of tradisies, of ons soek dit in sekere persone, of ons soek dit in ons kerk. Maar nee, slegs in die bloed en die kruis van Jesus Christus vind ons beskerming. Dit is die veiligheid vir ons gemeente: sy bloed. Sy kruis is die vurige muur rondom hierdie gemeente. En ons verkondig dit in die prediking, en ons vier dit in die nagmaal! Dan kan ons as gemeente met vertroue die toekoms tegemoet gaan. En so beskerm ons ook mekáár - wanneer ons mekaar met die Woord bedien. Dit klink na groot terme, maar dit is belangrik dat ons so sal praat. Hier vanaf die kansel word die Woord aan ons almal saam bedien, maar dit is belangrik dat ons elkeen mekaar ook sal bedien met die Woord - of dit nou is in vertroosting, of bemoediging, of vermaning. Dit is die veiligheid van die kerk en van elke lidmaat. Nie die hekke hier rondom ons terrein nie, maar die verkondiging van die bloed van Christus; Hy is die vurige muur hier rondom ons. Welgeluksalig is ons wanneer ons by Hom skuil!

 

Maar, gemeente, ons moet besef dat daar ook 'n ander kant van die verhaal is. Moses sien 'n doringbos wat nie verskroei of verbrand in die vlam nie. En dit is 'n wonderwerk! Sodanig dat sommige geleerdes selfs van mening is dat Moses gehallusineer het toe hy hierdie verskynsel gesien het, dat hy onder die invloed van dwelms was. Maar nee, dit was werklikheid - wonderlike werklikheid, genadige werklikheid. Die Here wat sy genade gee om sy volk te beskerm. Maar ons moet die wonder-karakter hiervan nooit vergeet nie. Dit kan naamlik ook so anders wees. Dieselfde vuur wat beskerm, kan ook die vuur word wat verteer. En ook dit sien ons in die geskiedenis...

Vir die Egiptenaars was dit 'n werklikheid toe die Here hael oor Egipteland laat kom het. Moses het sy staf na die hemel uitgesteek, en die HERE het donder en hael gegee, en vuur het na die aarde uitgeskiet... En daar was hael en onophoudelike vuur binne-in die hael, baie swaar, soos in die hele Egipteland nooit gewees het vandat dit aan 'n volk behoort het nie (Ex. 9:23-24). Dit was die sewende plaag oor die Egiptenaars – die Here se verterende vuur binne-in die hael. Maar ook Israel het iets hiervan beleef. Wanneer die Here op die Sinai neerdaal, dan lees ons dat Hy in 'n vuur daarop neergedaal het (Ex. 19:18). En in Exodus 24 lees ons dat die verskyning van die HERE se heerlikheid in die oë van die kinders van Israel soos 'n verterende vuur op die top van die berg was. En alhoewel niemand gesterf het nie, het Israel gesidder en gebeef vir hierdie verskyning van die HERE. En wat vir die volk soos 'n verterende vuur gelyk het, was 'n verterende vuur vir Nadab en Abihu in Levitikus 10 - nadat hulle verkeerde offers op die altaar gebrand het, het vuur van die aangesig van die HERE uitgegaan en hulle verteer, en hulle het gesterwe voor die aangesig van die HERE (Lev. 10:2). En nadat, in Numeri 16, die aarde oopgeskeur en Korag, Datan en Abiram verslind het omdat hulle teen Moses gerebeleer het, lees ons dat vuur van die HERE uitgegaan en tweehonderd-en-vyftig man verteer het (Num. 16:35). En in 2 Konings 1 lees ons dat vuur van die hemel gekom het en tweemaal 'n leërowerste met sy vyftig man verteer het. En wat ons lees in Klaagliedere 4:11 ("Die HERE het sy grimmigheid laat uitwoed, sy toorngloed uitgegiet en in Sion 'n vuur aangesteek wat die fondamente daarvan verteer het") - dit is 'n steeds terugkerende refrein in die profete. In die profete sien ons dikwels die vuur van die HERE as reaksie op die sondigheid van die volk. Soos Amos sê: die HERE wil 'n regstryd voer deur vuur! (Amos 7:4).

 

Elkeen wat nie by Jesus Christus skuil nie, loop daarom groot gevaar, broers en susters. Loop gevaar om met die anderkant van God se vuur te make te kry. Moses sien 'n bos wat nie uitbrand nie, maar elkeen wat nie in die veiligheid van daardie vuur sy redding vind nie, sal wel verteer word. Ja, dis reg wat ons in Hebreërs 12 gelees het: ons het nie, soos Moses en die Israeliete, gekom by 'n tasbare berg en 'n brandende vuur en donkerheid en duisternis en storm (hoewel hierdie werklikheid hulle al verskrik het en laat sidder het!). Nee, ons het gekom by die hemelse Jerusalem, by God, die Regter van almal, en by Jesus, die Middelaar van die nuwe testament. Pas op, sê die Hebreërskrywer, dat julle Hom wat spreek, nie afwys nie. Want onse God is 'n verterende vuur! (Heb. 12:29) Ja, gemeente, om in God se aangesig te mag kom, om sy stem te mag hoor, om Jesus Christus te mag hoor spreek – en Hom dan af te wys, om nie by Hom te skuil nie, beteken groot gevaar! Want God se oordeel is een van vuur - die boek Openbaring is vol daarvan. En uiteindelik sal die duiwel, die dood, en elkeen wat nie opgeskryf is in die boek van die lewe nie, in die poel van vuur gewerp word (Op. 20:10, 14, 15). Dit is die realiteit wanneer ons nie by Jesus Christus skuil nie - dan word die vurige muur van beskerming 'n vuur van vertering.

En hierdie twee kante is natuurlik eie aan die Persoon en werk van Jesus Christus. In die Persoon van Christus vind ons sowel sagmoedigheid as toorn. Hy is sowel die steen waarop ons bou, as die steen waaroor ons struikel wanneer ons nie op Hom wil bou nie; Hy is die vuur van beskerming, sowel as die vuur van vertering. Aan die een kant is daar die sagmoedige Jesus, wat deur so baie Christene vandag eensydig beklemtoon word – liewe Jesus. Aan die ander kant is daar ook die Jesus wat self sê dat Hy gekom het om vuur op die aarde te werp (Lk. 12:49). Die evangelie het twee kante, die evangelie is 'n tweesnydende swaard. En dit maak die oproep dan ook so dringend om werklik by die Seun te skuil. En hoe doen ek dit? Soek Hom op waar Hy te vinde is – in die Woord, in die eredienste. Skuil by Hom deur met Hom te praat in jou gebede. Met al jou sondes, al jou gebreke – soek Hom! En wat dan ook al gebeur in jou lewe, mag jy seker weet: ek is veilig, want sy vurige liefde is my verlossing.  

Amen

Liturgie: 

Liturgie (oggend)

 

Groet en afkondigings

Seën: Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.

Sing Ps. 147:1-3

- Sing voor wetslesing Skr. 26:1

Wetslesing

- Sing na wetslesing Skr. 26:10 en 11

Gebed voor die opening van die Woord

Lees:   Exodus 3:1-14

            Hebreërs 12:18-29

Sing Ps. 105:14, 15, 21 en 24

Teks: Exodus 3:2

Preek

Amenlied Ps. 29:4 en 5

Gebed

Kollekte

Slotsang Ps. 34:4

Seën: Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.