Om die evangelie met ander te deel

Minister: 
Ds. R Pos
Church: 
Pretoria
Date: 
2019-10-20
Text: 
Efésiërs 3:18-19
Preek Inhoud: 

Gemeente van onse Here Jesus Christus, broers en susters.

Gestel ek sou vir julle sê: “Maak julle oë toe en vertel in jou eie woorde wat in die teks staan”. Ek dink dat die meeste van ons nie ver daarmee sou kom nie. Natuurlik daar staan iets oor liefde en breedte en hoogte en ook iets oor Christus. In die teks gebruik Paulus komplekse sinne wat eie is aan sy manier van skrywe. Maar eintlik is die hele hoofstuk van hierdie brief baie ingewikkeld. Dit lyk as’t ware asof Paulus ‘n voorkeur het vir kompleksiteit. En waarom – so sou ons tong in die kies kon sê – sou Paulus eenvoudige taal gebruik as dit ook op ‘n ingewikkelde manier gesê kan word?

Op hierdie Sondag staan die sendingwerk wat vanuit die VGKSA gedoen word, sentraal. In dié verband moet ons onthou dat Paulus ons as gelowiges opdra om 'n leesbare brief te wees. Leesbaar vir ander. Nee, dit beteken nie dat ons persoonlike dinge oor onsself moet bekend maak nie. Dit kan ons op Facebook doen. Maar dit is belangrik dat die groot liefde van Christus in ons lewens gesien kan word . Ja, en ons mag selfs die liefde van Christus met ander deel, dis nie net vir jouself bedoel nie. Dis om dit saam met ander te geniet. Ons leef immers in 'n gemeenskap van mense wat ook 'n verbinding met die Here Christus het. Maar ons leef ook in die wêreld. Christus se liefde vir ons moet ook oorspoel na Sy liefde vir ander. Sy liefde is oorvloedig en baie breër as net vir ons hier in Pretoria. Ja, as jy dit besef dan gaan jy hoe langer hoe meer bewus word van die lengte en breedte, die hoogte en diepte van die liefde van Christus. Hierdie dimensies van Sy liefde is ongelooflik. En dit kan nie anders as om ons tot lofprysing aan te spoor nie. Want alles wys daarop dat die Here vrymoedig Sy liefde wyd wil uitdeel.

Tema: Om die evangelie met ander te deel.

Ons teks pas natuurlik in die breër konteks van die geheel. Daar is dinge wat voor en na die teks gesê word wat dit 'n baie spesifieke kleur gee. En ons ontdek dit pas as ons die konteks ook by hierdie teks betrek.

Die eerste hoofstukke van hierdie brief van Paulus aan die Efesiërs toon duidelik aan dat Paulus diep onder die indruk was van die planne van die Here. Dit kan ons geredelik aanvaar indien ons in gedagte hou dat Paulus 'n ware skrifgeleerde was. In die letterlike sin van die woord. Hy het waarskynlik die Ou Testament uit sy hoof geken. Dit was nie vir hom nodig om elke dag 39 groot boekrolle by hom te hê nie. Nee, hy kon die inhoud van die Ou Testament feitlik uit sy hoof aanhaal.

Aanvanklik het Paulus die Bybel gelees vanuit 'n tipiese Joodse denkraamwerk. Daardie denkraamwerk dat die Here God slegs 'n verbond met die Joodse volk gesluit het. Die ander nasies het daarbuite gestaan. Heidense nasies deel nie in die liefde van God nie.

In die tyd toe Paulus nog bekend was as Saulus was hy eendag op pad na Damaskus met die doel om die kerk van Christus aldaar te vervolg. Maar toe ontmoet hy die Here Christus in eie persoon. En toe is sy menslike oë toegedruk en hy het tydelik blind geword. Maar daarmee saam het sy geestelike gesigs-vermoë wyd oopgegaan. Hy het skielik besef dat die verlossingsplan van die Here baie breër was as wat hy ooit kon gedink het. God het in Sy liefde ook na die heiden-nasies omgesien. In dié verband spreek Paulus van 'n verborgenheid wat aan hom geopenbaar is. Iets wat geen mens ooit kon uitgedink het nie. En Paulus is sodanig daardeur beïndruk dat hy nie anders kon as om in dankbaarheid te skryf dat dit die Here Self was wat dié verborgenheid aan hom geopenbaar het. Watter verborgenheid? Dit is dat ons Verlosser na die aarde gekom het, nie net vir die Jode alleen nie, maar ook vir mense uit ander nasies. Dis ook wat Johannes skryf in sy evangelie, wat eintlik 'n samevatting is van die geheel van die Bybelse boodskap (Joh 3v16) : "Want so lief het God die wêreld gehad ..." Die hele wêreld. Nie slegs die Joodse volk nie. Dit was dus nie meer nodig dat jy lid van die uitverkore volk moes wees om gered te word nie. Nee, elkeen wat in Christus glo, sal gered word.

Maar dit alles is nie regtig vir ons nuut nie. Maar nou gaan ek dieselfde sê deur ander woorde te gebruik en jy sal agterkom dat daar iets eienaardigs gebeur.
As Paulus die onthulling van die verborgenheid van die liefde van Christus kernagtig wil saamvat, dan sê hy letterlik ‘n aantal verse vóór ons teks (Efe 3v6): "..dat die heidene mede-erfgename is .. en mede-deelgenote aan die belofte van die evangelie deur Christus. .” Heidene kry deel aan die erfenis en aan die belofte. Ons sien hier al iets van die tema deurskemer: Om te deel!

Nou moet elkeen van ons vir homself daaraan betekenis gee. Ek doen dit aan die hand van die volgende voorbeeld. Gestel jy het 'n baie ryk oom. Hy het sy testament laat opstel en onderteken. Daarvolgens het hy laat weet: Jy is ‘n erfgenaam. Dit is nogal iets. Jy mag nou reeds weet dat jy ‘n erfenis te wagte is. En jou oom is regtig baie ryk! Wie sou nie daarna uitsien nie? En jou verwagtings is intens daarop gerig. Want jy is ‘n erfgenaam!

'n Rukkie later sterf jou oom. Natuurlik is daar hartseer, maar ook is daar ‘n groot verwagting as jy aan die testament dink. En inderdaad: Jy ontvang 'n brief van die eksekuteur van die boedel. Jy word uitgenooi na die openbaar-making van die testament.

Die groot dag kom. Jy meld jou aan by die betrokke kantoor. Die ontvangsdame vra: Kom jy vir die erfenis van mnr. X?". Jy bevestig dit: “Ja dis my oom”. Jy word na binne genooi en jy neem jou plek in die wagkamer.

Tot jou verbasing ontdek jy, dat jy nie die enigste is wat genooi is nie. Daar is reeds heelwat mense in die wagkamer. En daar word steeds meer mense toegevoeg. Jy ken van hulle omdat hulle familielede is, maar daar is ook ander wat jy glad nie ken nie. Hoe is dit moontlik? So baie mense! Sou hulle almal vir dieselfde testament kom? Jy verwag dat daar êrens iets fout is. Dit lyk vir jou soos 'n slegte droom!

Maar daar is geen fout nie en dit is ook nie 'n droom nie. Jy ontdek dat jou interpretasie van die testament moontlik nie korrek is nie. Want die betekenis van die teks van die testament is anders as wat jy gedink het. Jou oom het destyds gesê dat jy ‘n erfgenaam is. Jou interpretasie was dat jy die enigste erfgenaam is. Maar nou blyk dit, dat dit nie die geval is nie. Jy is beslis nie die enigste erfgenaam nie.

Dit tref jou met skok: Jy moet onverwags die erfenis met ander deel. Nie slegs met een of twee familielede nie, nee maar met baie ander. Met vriende sowel as met vreemdelinge.

Mag ek, broeders en susters, vir julle probeer verwoord watter gevoelens jy op daardie oomblik ervaar? Jy is teleurgesteld. Jy is jaloers. Jy het onvrede. Ja, jy mag selfs baie kwaad wees vir jou oom. Omdat jy aanvanklik verstaan het dat jy alles sou erf maar nou moet jy dit met ander deel. En geoordeel na die groot aantal mense wat teenwoordig is, sal jou aandeel slegs gering wees. As jy maar enigsins die kans sou gehad het om die ander aanspraakmakers met 'n towerstaf weg te blits, sou jy dit beslis gedoen het.

Só was ook die situasie waarin die apostel Paulus hom vroeër bevind het. Skielik kom Paulus tot die verrassende ontdekking dat ook mense uit die heidene in God se testament vermeld word. En dit beteken dat die erfenis gedeel moet word.

Maar, vreemd genoeg is Paulus glad nie teleurgesteld nie. Tot ons verbasing gebeur presies die teenoorgestelde. En daarmee begin ons om die wonder daarvan op te merk. Paulus hoop nie dat so min as moontlik heidene hul sal bekeer, sodat die erfenis nie te veel verdeel word nie. Nee, Paulus begin bid. En die inhoud van sy gebed is as volg: Hy vra dat deur die krag van die Heilige Gees nog baie heidene tot geloof mag kom. Sodat Christus ook in hulle kan woon.

Toe ek nou net Paulus aangehaal het oor wat hy gesê het oor die erfenis, het ek bewustelik één stuk oorgeslaan. Paulus het nie net gesê dat heidene deel het aan die erfenis van Christus nie, maar ook dat hulle deel word van dieselfde liggaam. Hulle word lede van dieselfde liggaam waarvan Paulus ook lid is. En as jy dit besef dan verstaan jy waarom Paulus slegs verblyd is as baie nasies tot bekering kom. Want dit maak in feite die erfenis maar net groter. Omdat die geloofs-gesin groter word. Net soos jyself deur die Heilige Gees aan Christus verbind is, is al die ander erfgename ook aan Christus verbind. En dit beteken dat ons ook aan mekaar verbonde word. Dit is asof die huis al groter word. En jy hoef niks daarvoor prys te gee nie. Jy hoef niks ekstra daarvoor te betaal nie. Dit kos jou niks.

Ja, net voor ons teksgedeelte vra Paulus juis daarom dat God vir Christus in die harte van die nie-Jode moet laat woon; (Ef3v17): “.. sodat Christus deur die geloof in julle harte kan woon, julle wat in die liefde gewortel en gegrond is.” Dit is 'n ingewikkelde sin, egte Pauliniese taalgebruik. Maar dit beteken die volgende: As Christus in jou lewe kom, en selfs in jou hart kom woon, dan beland jy in die atmosfeer van Sy enorme liefde. En op so 'n manier dat jy daardie liefde as’t ware kan in- en uit-asem. Daardie liefde omring jou van voor en van agter, soos die Ou Testament dit sê. En omdat jy jou in die middel daarvan bevind, omring deur die liefde, ja, omdat jy in daardie liefde leef, verstaan jy skielik al hoe beter die omvang, die lengte en die breedte, die hoogte en diepte daarvan. Want daardie liefde vir Christus is nie soos 'n mooi uiterlike blom op jou netjiese pak of rok nie. Nee, daardie liefde deursuur jou hele lewe, ja dit verander jou lewe radikaal. En dit is die wonder wat plaasvind. In plaas daarvan om 'n ander weg te stoot sodat jy 'n ruimer deel van die liefde van Christus kan ontvang, sal jy nou saam met al die heiliges hierdie liefde ervaar en geniet. Want jy ontdek dat die liefde van Christus so groot, en so omvattend is dat daar oorgenoeg vir almal oorbly. En dit beïndruk jou saam met al die ander erfgename.

Ons moet weet dat daar 'n besondere reël in die Bybel vermeld word. Ek noem dit die goue reël van die Bybel. Want terwyl die wêreld vas glo dat as jy iets weggee, dit jou armer sal maak, glo gelowiges dat weggee jou juis ryker maak. Wie liefde gee, sal ontdek dat die liefde in jouself ook sal vermeerder. Dit word meer. Dit is presies hierdie beginsel wat Paulus verwoord: As Christus in jou kom woon en jy leer om die omvang van sy liefde met ander te deel en te ervaar, dan word jy vervul met God se volmaaktheid. Paulus verwoord dit effens moeiliker (Ef 3v19): "...sodat julle vervul kan word tot al die volheid van God." Let op die term: “Die volheid van God'. Dit is 'n beskrywing van ‘n Persoon, naamlik Christus. Die Bybel leer ons immers dat Christus die volheid van God is. Alleen in Christus sien jy die Vader volkome. Christus beeld God se volmaaktheid uit. En omdat Christus die perfekte beeld van Sy Vader is, is Christus ook die grootste geskenk van die Vader aan ons. Paulus verwoord dit op sy eie, tipiese manier as volg: Namate Christus in jou kom woon en soos jy dit ook steeds meer in die lewens van ander erfgename waarneem, word julle ook saam steeds voller met Hom. Hy gaan al hoe meer in julle inwoon. Hy gaan ons hele lewe vol maak. En Sy liefde veroorsaak al hoe meer blydskap en vreugde. En so ontstaan die vreemde verskynsel dat namate meer erfgename in daardie vreugde deel, sal die omvang van die erfenis steeds toeneem. Sodra jy saam met ander in 'n steeds meer intense verbintenis met Christus leef, word julle saam steeds ryker. Die liggaam waarvan jy deel uitmaak, groei in omvang. En namate jy meer liefde gee, sal jy ook meer en meer liefde ontvang.

Ons moet onthou, broers en susters, dat Paulus dit self so ervaar het en dat hy nou aan die Here vra en bid dat ook ons daarin sal deel. Hy smeek die Here dat Christus deur die geloof ook in ons gaan inwoon. En dan mag ons gerus daaraan toevoeg: steeds meer in ons woon. Want ons mag gelukkig weet dat die Here reeds nou in ons woon. Dit is hoe ons Hom ken. Maar dit mag nie 'n vasstaande “status quo” word nie. Iets wat eenmaal in die verre verlede gebeur het nie. Nee, maar dit moet ook toeneem, steeds meer in ons woon. Namate ons geloof groei en Christus in ons inwoon, namate Hy meer vastrapplek in ons lewens kry, word ons in dieselfde mate steeds voller van Hom en van Sy liefde. Die volheid van God vul ons al hoe meer.

As Paulus, broers en susters, aan die Here vra of die Here met ons wil doen wat Hy reeds  vantevore met Paulus self gedoen het, dan kan dit nie anders wees as dat dieselfde met ons sal gebeur as met Paulus nie. Die begeerte om die erfenis met ander te deel, groei ook by ons. As ek dit ‘n bietjie anders kan sê: die liefde van die Here smaak so goed dat ons 'n onweerstaanbare behoefte kry om daardie liefde ook deur ander te laat proe. Dit is soos om na pragtige musiek te luister. Jy kan intens op jou eie daarvan geniet. Maar dit is soveel mooier as jy dit ook met ander kan deel. En as jy die musiek met ander deel dan geniet jy dit self soveel te meer. Selfs al sit jy met 2000 ander mense in die grootste kerk van Pretoria en julle luister almal na dieselfde musiek, dan verminder jou eie genot nie in die minste nie. 'n Ander voorbeeld: Hoe sal jy daarvan hou om op jou eie vanaf ‘n groot pawiljoen na ‘n skitterende topklas sokkerwedstryd te kyk? Dit is nie eers lekker nie! Dit is baie lekkerder om saam met ‘n klomp mense na die wedstryd te kyk.

Paulus vra in sy gebed of die Here ons deur sy Gees wil versadig met wat hy noem: die volmaaktheid van God. Dit verwys na Christus. Die doel is dat ons volkome saam met Christus moet ineengroei. Ons smelt saam. Sodat jy hardop kan sing: “Jesus, lewe van my lewe, Jesus dood van my dood.” Ons het saamgegroei sodat ons deel kan kry aan die dood van die Here Jesus, maar ook Sy lewe na Sy opstanding. Met daardie lewe wat so volkome op ander gerig was. Met daardie lewe wat ons Verlosser nie vir Homself gehou het nie, maar ten volle met ander wou deel. Ook saam met ons. En omdat ons één word met Sy lewe dan beteken dit ook dat ons graag daardie lewe op dieselfde manier as Christus wil deel met ander. Dit is so wonderbaar om saam met Christus te kan leef dat ons graag wil hê dat dié lewe ook ervaar word deur ander. Dit word suiwer genot om te sien dat steeds meer mense dieselfde ervaar, naamlik dat Christus ook hul lewe gaan vul en verander. Paulus bid daarvoor. Sodat die Here ons daarmee vul sodat ons dit kan deel en daardeur ook ander kan vul. Dit veroorsaak 'n kettingreaksie. 'n Kettingreaksie wat die lengte en breedte en die hoogte en diepte van die liefde van Christus openbaar. As ons sien dat die liefde van Christus versprei word na vele en dat daardie liefde tegelyk ook steeds dieper in ons self gevestig word. Daarom word die behoefte om dié liefde te deel steeds groter in ons. Is dit nie wonderlik nie? Maar dit is hoe die Here werk.

Paulus bid daarvoor tot God vir ons. En ons moenie dink dat Paulus se gebed maar slegs 'n wilde probeerslag was nie. 'n Gebed tot God waarvan ons moet afwag of die versoek toegestaan sal word. Nee, dit is 'n gebed wat gerig is aan die God wat, soos ons weet, oneindig meer kan doen as wat ons vra of dink. Die gebed is 'n versoek aan God om Sy wonderbare plan in ons lewens uit te voer. Sodat ons die plan al hoe meer kan leer verstaan. Dit is 'n versoek aan die Here om sy beloftes na te kom. Die beloftes wat Hy reeds by ons doop aan ons gegee het. Die Here het toe belowe dat Hy ons inderdaad een met Hom sal maak. En Paulus plaas hierdie gebed as’t ware ook in ons mond. Maar nie as iets wat ons slegs vir onsself kan hou nie. Iets wat jy privaat kan geniet nie. Die Here God bied ons in ons doop ook nie 'n persoonlike vrypas vir toegang tot die hemel nie. Nee, Hy plaas ons met dié beloftes van ons doop juis midde in die wêreld.

En nou 'n ernstige vraag vir jou en my, broers en susters. Verlang jy daarna om dit wat Christus vir jou gegee het, ook met ander te deel?

Jy sê moontlik: Ja ek wil graag die belofte van die evangelie ontvang, maar ek is nie met besondere gawes begiftig om dit met ander te deel nie. Moontlik is jy selfs ‘n goeie spreker, maar om op 'n seepkis in die openbaar in Soshanguve te evangeliseer, nee, dit is regtig nie vir my nie. Maar beteken dit ook dat jy gedwing word om niks te doen nie?

My vraag was of jy daarna verlang om die evangelie met ander te deel? Om te deel dit wat Christus aan jou gegee het. Tot die welsyn van ander, maar ook tot jou eie geestelike voordeel. Om Sy liefde te deel. Of is jy bang dat jy dan self nie genoeg oorhou nie?

Let op, broers en susters, toe Paulus sy brief aan die Efesiërs geskryf het, was hy ver van hulle af weg. Paulus was in Rome en hy kon nie eers na Efese toe gaan nie, alhoewel hy dit wel sou verkies het. Want Paulus is gevange in die tronk.

As jy in die gevangenis sit, selfs heeltemal onskuldig, dan is daar, so sou ons kon sê, nie veel rede om die liefde van die Here uit te basuin nie. Beslis nie as jy juis in die gevangenis beland het ter wille van jou geloof nie. Maar Paulus doen dit juis wel. Paulus kyk as’t ware dwars deur die mure van sy gevangenis heen. En hy bid dwars deur die dik mure heen. Hy besef dat die Here ook mense van buite af roep. En hy bid dat die Here ook daardie mense met Sy liefde sal vul. Paulus gebruik dus die moontlikhede waaroor hy in sy situasie beskik. Hy laat hom lei deur die groot dade van die Here. Hy bid. En hy skryf. En dit is hoe hy op daardie tydstip sy roeping uitvoer. Hy gebruik  maniere waaroor hy wel beskik. En hy let op die groot dade van die Here. Hy bid dat die Here ons met sy liefde sal vul, sodat dié liefde binne die kerk vermenigvuldig sal word. En wat sal gebeur as hierdie liefde binne ons gemeente hier in Pretoria toeneem, broers en susters? Dan breek dit na buite toe. Dan vind dit maniere om ander te bereik. Ja, so kan ons elkeen bydra tot die groot sending aksie van die Here.

God gaan met elkeen van ons 'n eie weg. Soms gaan daardie pad oor hoë berge, maar soms deur diep en donker valleie. Maar die Here is altyd saam met jou. Ook as jy dit nie bemerk nie. Of as jy dink dat jy heeltemal alleen is. Die Here begelei jou met Sy liefde. Want Sy aanwesigheid is die gevolg van, en terselfdertyd ook die bewys van Sy liefde. En deur Sy liefde het die Here ons 'n plek gegee in die kerk, dit is Sy Liggaam. En ons mag saamgroei met daardie liggaam wanneer die Here sy liefde op ons gebede ver buite ons woonplekke uitbrei. Is dit dan geen rede om Hom te loof en te eer nie? So eindig ook ons teks hoofstuk: Hom kom die eer toe. Nie net in jou privaatlewe nie, maar ook in die kerk. Nie net vandag nie, maar ook môre. En ook in toekomstige geslagte. Daar is inderdaad alle rede om ons God en Here te prys. Vir die wonder wat Hy onder ons bewerk. Die wonder dat Christus in ons lewens gekom het. Christus wat woon in jou en my lewe. Om sy liefde in ons te laat toeneem. En dat ons lewe as gevolg daarvan ‘n werklik sinvolle lewe word. Aanvaar die geskenk, broers en susters, uit Sy hand en gee dit dan bewustelik deur. Aan jou kinders, maar ook aan almal wat die Here op jou pad plaas. Deel jou nuwe lewe vol van die liefde van Christus met mense van naby en van ver. Dan kan jy hartlik en vrymoedig saamsing met almal wat deel het aan God se genade en liefde (Sb 24v6):

Gods werk, eers eind’loos hoog verhewe,
Daal op ’n aard in sonde oud,
Sodat nou uit ons donker lewe
Sy lof kan opstyg duisendvoud.
In toebereide hart en ore,
Van volk tot volk, van oord tot oord,
Ruis nou – ’n mensheid word herbore! –
Die nuwe reddings-boodskap voort.

Amen.

Liturgie: 

Votum

Seëngroet

Ps 108:1

Wet

Ps 111:4,5

Gebed

Ps 67:1-3

Skriflesing: Efésiërs 3

Ps 65:2,4

Teks: Efésiërs 3:18,19

Preek

SB 24:4,6,7

Gebed

Kollekte

Ps 107:1,10,21

Seën