Die onberispelike lewe in die verbond met die HERE

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Maranata
Date: 
2019-08-11
Text: 
Psalm 15
Preek Inhoud: 

Preek: Psalm 15

 

Op eerste gesig is Psalm 15 ‘n perfekte teks vir ‘n Sondag soos vandag.

Soos u in die afkondigings gehoor het voor die erediens:

Dit is vandag voorbereiding vir die viering van die nagmaal.

En in die toepassing van die Psalm, sal ‘n prediker dan twee kante kan opgaan.

Of dit word ‘n preek wat van Psalm 15 ‘n goeie-werke-psalm maak, wat eie geregtigheid aanmoedig.

As jy in aanmerking wil kom om by God te mag woon, as jy in aanmerking kom om na die nagmaalstafel te mag kom, dan moet jy hierdie en hierdie dinge doen, hierdie vereistes en en en ...

Of, die tweede benadering, die prediker kan die ander kant opgaan.

Die gemeente word gewys op haar verwerplikheid voor God.

Noudat u al die eise in hierdie psalm gehoor het, wie kan dit nog nakom?

‘n Retoriese vraag waarop daar net een antwoord kan wees: Natuurlik, niemand nie!

Wie durf dit teen te spreek?

Daarna vervolg die prediker:

Maar, gemeente, daar is wel een wat die eise van Psalm 15 kan nakom, wat daaraan voldoen, volkome voldoen.

Dit is ons Saligmaker Jesus Christus.

As ons maar net in Hom glo, dan sal God ons onbekwaamheid-tot-enigiets-goeds vergewe en ons in genade aanneem.

In hierdie benadering word Psalm 15 ‘n sweep wat ons na Christus toe dryf.

Psalm 15 spreek nog nie uitdruklik van genade en geloof nie.

Dit is die mindere van die ou verbond, ten opsigte van die nuwe.

Hierdie psalm vertoon nog ‘n uitwendig-wettiese vorm.

Die toon van Psalm 15 is ernstig, dis soos ‘n sweep, maar in isolasie bekyk, mis dit nog die evangeliese besef.

So skreeu hierdie psalm vir die koms van Christus.

Ons word na die voet van die kruis toegedryf, na Hom wat die enigste een is wat die eise van die wet kan nakom.

 

Tema: Die onberispelike lewe in die verbond met die HERE

1 Die verbondsmatige konteks van hierdie psalm

2 Die vrugte in die lewe met die HERE

 

1 Die verbondsmatige konteks van hierdie psalm

Nou gemeente, hoewel daar in hierdie tweede benadering baie mooi uitsprake is, slaan dit tog die bal mis.

Om kortliks die tekort van hierdie benadering saam te vat: dit misken die verbondsmatige konteks waarin hierdie psalm tot stand gekom het.

Laat ek dit probeer verduidelik.

Psalm 15 is nie net ‘n algemene lied wat ‘n klomp vrae vra vir enigiemand op aarde nie.

Vrae op grond waarvan iemand dan beoordeel sal word: Mag hy by God woon of nie?

Beide bogenoemde metodes gaan hieraan mank, dat dit die verbond nie in ag neem nie.

Beide bogenoemde metodes gaan daarvan uit dat daar nog nie genade in die Ou Testament was nie.

Beide misken die heilshistoriese konteks waarbinne hierdie psalm tot stand gekom het.

 

Het u al opgelet wat die eerste woord is waarmee hierdie psalm begin?

Inderdaad, HERE.

In Hebreeus is dit Jahweh, God se verbondsnaam.

In daardie naam het al God se genadige wonderdade vir sy volk deurgeklink:

Bevryding uit Egipte, tien plae, Skelfsee, Jerigo, beloofde land, ensovoorts ensovoorts.

Hierdie psalm begin dus nie met ‘n aantal deprimerend makende vrae nie.

Nee, hierdie psalm begin op dieselfde manier as waarop die tien gebooie begin:

“Ek is die HERE, jou God, wat jou uit Egipteland, uit die slawehuis uiteglei het.”

In die verbond is die HERE altyd die Een wat eerste handel.

Wat eerste, voordat ons nog enigiets kon doen, selfs toe ons nog sy vyande was, sy genade betoon het.

Dit is presies wat die HERE ook met sy volk Israel gedoen het.

Dus, die oomblik toe Dawid hierdie psalm geskryf het, die oomblik toe hy al hierdie ondersoekende vrae stel, was die Israeliet alreeds verlos!

Hulle het alreeds die HERE se groot verlossingsdade gesmaak.

Hulle het alreeds geproe hoe sy verbondsbeloftes ‘n werklikheid geword het in hulle lewens.

Die HERE het alreeds in hulle midde kom woon!

Hulle het elke dag al die vrugte gepluk van sy genesende aanwesigheid, van die genesende werking van sy Torah op hulle persoonlike lewens en samelewing.

 

Dit is, gemeente, in kort, die verbondsmatige en heilshistoriese konteks van hierdie psalm.

Ons moet dit nie uit die oog verloor nie.

Want dan kom mens met ‘n oppervlakkige eksegese soos: Nou ja, niemand kan hierdie ondersoekende vrae wat Dawid vra, positief beantwoord nie.

Maar gelukkig het ons darem vir Christus, wat dit vir ons gedoen het ...

 

Om dit in die terme te stel wat die Heidelbergse Kategismus gebruik:

Psalm 15, al hierdie vrae wat Dawid stel, bevind hulle nie op die terrein van ons regverdigmaking nie.

Want ons regverdigmaking is reeds in orde.

Maar hierdie vrae van Psalm 15 word gestel in die konteks van ons heiligmaking.

En dan is daar wat dit betref geen enkele verskil tussen die Ou en die Nuwe Testament nie.

Inderdaad, Dawid het nog nie die Naam van die Messias geken nie.

Maar Dawid en die Israeliete het dieselfde genadeboodskap alreeds in die Torah ontvang van hulle en ons God, die Vader van die Here Jesus Christus.

God het ‘n genadeverbond met hulle opgerig.

Danksy daardie verbond wat die HERE met hulle gesluit het, het Hy hulle oorlaai met sy beloftes.

Daardie beloftes het alreeds werklikheid geword.

God se volk was, om die beeldspraak van Jesaja te gebruik, sy geliefkoosde wingerd.

Hy het alles vir sy wingerd gedoen.

Maar in sy verbond het God se beloftes nou ook verplig tot dankbare gehoorsaamheid.

God se beloftes het hulle in staat gestel om die eise dankbaar na te kom.

As God sy wingerd deursoek het, was Hy geregtig op vrugte.

Met so ‘n goeie behandeling sou vrugte die normaalste saak van die wêreld wees.

En dit is presies wat die HERE nou hier in Psalm 15 met sy verbondsvolk besig is om te doen.

Met die ondersoekende vrae is Hy besig om sy vrugte te soek.

My tent staan in julle midde.

Julle mag by My woon op my heilige berg – dit gebeur alreeds!

Maar sien Ek my vrugte onder julle?

Maar wandel julle wel opreg?

Julle wat nou my verbondsvolk is – is julle ook suinig op mekaar?

Of belaster julle mekaar?

Vra julle woekerwins van mekaar?

Julle wat in ‘n genadeverbond met My lewe, lewe julle ook in ‘n liefdevolle verbond met mekaar?

Nogmaals, ek herhaal, nie om daardeur te bepaal wie goed genoeg is uit homself om danksy sy eie goeie werke nou in aanmerking te kom om op God se heilige berg te mag kom woon nie.

Nee, die HERE se volk woon alreeds by Hom!

God se tent staan alreeds in hulle midde!

Reeds daaruit het God se oorvloedige genade vir sy volk gespreek.

Op grond van God se genadige instruksies in sy Tora draai die bediening van die versoening alreeds op volle toere!

Die Torah was Evangelie vir Israel met belofte van regverdiging, heiliging en heerlikmaking uit genade deur die geloof, en met die eis om nou as troue bondgenote van die HERE te lewe.

Alles was alreeds in plek in sy verbond.

En nou vra die HERE van sy volk ‘n onverdeelde hart.

 

2 Die vrugte in die lewe met die HERE

Dus nogmaals, ons moet die vrae en vereistes van Psalm 15 nie wetties lees nie.

Hierdie is vrae aan Israeliete wat al lank al die HERE se aanwesigheid ervaar het.

Hulle leer uit hierdie psalm, kort en bondig, hoe hulle troue bondgenote van Hom kan bly.

Soos daar in Levitikus 18 staan: “My verordeninge moet julle doen en my insettinge hou om daarin te wandel. Ek is die HERE julle God. Hou dan my insettinge en my verordeninge wat die mens moet doen, dat hy daardeur kan lewe. Ek is die HERE.” (Lev 18:4-5)

 

In vers 2 sê Dawid eintlik drie keer dieselfde, met klein variasies.

In die Hebreeuse digkuns noem ons dit die stylfiguur van parallelisme.

Dieselfde waarheid steeds vanuit verskillende oogpunte benader.

‘n Goeie voorbeeld van eindelose parallelismes vind ons ook byvoorbeeld in Psalm 119.

 

Die woord opreg in vers twee, kan ook met onberispelik vertaal word.

Ook hierdie woord moet ons in die konteks van die verbond verstaan.

So het God van Abraham, sy bondgenoot, verwag dat hy onberispelik sou wees.

Die HERE vra integriteit, ’n onverdeelde hart.

’n Regverdige is so iemand.

Ons is soms bang om oor onsself as regverdiges te praat.

Maar binne die verbond mag ons onsself regverdiges noem.

So doen die Skrif dit ook.

Noag was onder sy tydgenote ’n regverdige en onberispelike man. Noag het met God gewandel (Gen 6:9).

Job was vroom en opreg, Godvresend en het gewyk van die kwaad (Job 1:1).

Dawid noem homself onberispelik (Psalm 18:23v).
Oor Sagarias en Elisabet lees ons: “hulle was altwee regverdig voor God en het in al die gebooie en regte van die Here onberispelik gewandel.” (Luk 1:6)

Al hierdie mense word onberispelik, regverdig, genoem, ondanks sondige dinge wat die Skrif ook oor hulle noem.

Onberispelik, en regverdig, is dus kennelik nie ’n kwessie van sondeloosheid nie, maar ’n kwessie van jou hart, van die koers van jou lewe.

Die HERE se verbondseis is: Wandel voor my aangesig en wees onberispelik!

 

Natuurlik het hierdie mense met God geleef, in terme van Psalm 15 – op sy heilige berg – nie op grond van hulle onberispelike lewe nie.

Die enigste grond vir hulle redding was die feit dat God hulle in genade tot sy kinders aangeneem het.

Soos ons nou in die Nuwe Testament dieselfde saak as volg woorde bring: alleen op grond van Christus se offer aan die kruis is ons uit genade tot God se huisgenote aangeneem.

’n Ander grond vir ons saligheid is daar nie.

So ’n geloof moet natuurlik wel vrugte dra.

Anders sou dit dood wees (Jakobus 2).

En dit is hierdie vrugte waarna die HERE soek met sy ondersoekende vrae in Psalm 15.

 

As daar staan in vers 2: Hy wat geregtigheid doen, dan verstaan die Skrif onder die geregtigheid van die regverdige die volgende:

Dat hy lojaal vashou aan God se verbond in heel sy lewe.

Geregtigheid is prakties ’n ander woord vir hartlike gehoorsaamheid aan al God se gebooie.

Wie nie nou en dan nie, maar voortdurend – dit bepaal sy lewenskoers – geregtigheid doen, hy is en bly ’n bondgenoot van die HERE.

 

Ook, skryf Dawid, ’n huisgenoot van die HERE loop nie rond met laster op sy tong nie (vers 3).

Hy laai nie smaad op sy naaste nie.

Dawid het uit ervaring geweet hoe swaar las smaad van ander op sy siel kan wees.

Hy het geweet wat dit is om te ly onder bose tonge, selfs van vriende en familie – van Saul, van Absalom, en moenie vergeet nie die tong van Agitofel.

 

Verder, skryf Dawid in vers 4, vir God se bondgenoot geld dat in sy oë die verworpene veragtelik is.

Nou laat ek probeer verduidelik wat hier bedoel word.

Dawid benadruk: Wie by die HERE wil bly, moet posisie kies, moet standpunt inneem.

Eerstens: Hy moet homself distansieer van die goddelose.

Tweedens: Hy moet homself assosieer met die regverdiges, hulle wat die HERE vrees.

 

Dus, wie mag bly woon by die HERE op sy heilige berg?

Hulle wat bereid is om ook vyand te wees van hulle wie die HERE sy vyande – verworpenes – noem.

As lojale bondgenote van die HERE breek hulle ook met wie die HERE self sy band gebreek het.

 

Kom ek noem ’n voorbeeld uit die Bybel om dit duidelik te maak:

Koning Josafat van Juda wou nie bande breek met Agab, koning van Israel, nie.

Dit hoewel Agab se optrede verwerplik in God se oë was.

Agab was ’n afvallige verbondskind.

Daarom het die HERE vir Jehu na hom gestuur om hom te bestraf:

Mag 'n mens die goddelose help, en het u lief die wat die HERE haat? Daarom kom daar nou 'n toorn op u van die HERE (2 Kron 19:2).

Hierdie is ’n vraag waar elke verbondskind van die HERE homself moet besig hou.

As u nagmaal toe kom volgende week, kan u nie liefhê, kan u nie in vriendskaplike verhouding wees met hulle wat die HERE en sy gebooie verag nie.

As ons hulle liefhet wat die HERE haat, kom die toorn van die HERE ook op ons.

Hier hoor ons die bedreiging van die verbond.

So het die apostels ook opgeroep, verwysende na daardie deel van die verbondsvolk wat die Messias verwerp het:

“Laat julle red uit hierdie verkeerde geslag.” (Hand 2:40)

Wie by die HERE wil bly woon, sal sy beslissings moet eerbiedig.

Sou ek nie haat, wie U haat nie?

 

Die keersyde daarvan is, sê Psalm 15, dat hy ook eer die wat die HERE vrees.

Ook al is daardie mense arm en verag in die oë van die wêreld.

Soos Paulus skryf in 1 Korinthiërs 1:26: ook as hulle, die regverdiges, nie baie wyse na die vlees is nie, nie baie magtiges, nie baie edeles nie.

Wat dwaas is by die wêreld, het God naamlik uitverkies.

 

Moses het geweier om deur te gaan vir die seun van Farao.

In plaas daarvan het hy die kant gekies van die slawe-arbeiders.

Hy het die smaad van Christus groter rykdom geag as die skatte van Egipte (Hebr 11:24vv).

Ons Here Jesus Christus is natuurlik die mooiste voorbeeld hiervan, Hy die erfgenaam van alle dinge, het Homself nie geskaam om ons sy broers te noem nie (Hebr 1:2).

Christus het die verbondseis van Psalm 15 vervul, om hulle te eer wat die HERE vrees, en ons mag Hom hierin navolg.

Met wie is jy vriende?

Is jy vriende met hulle wat dieselfde taal as jy praat, dieselfde kultuur as jy deel, maak nie saak of hulle kerk toe gaan of nie?

Of is jy vriende met hulle wat die HERE opreg met ’n onverdeelde hart in hulle lewens dien, ook al praat hulle dalk nie dieselfde taal as jy nie?

 

Dan skryf Psalm 15 ook nog oor geld.

Geld was en is altyd al ’n baie noukeurige meetinstrument vir iemand se onberispelikheid, of iemand in sy hart onverdeeld was, of daar liefde vir God en sy naaste in sy hart is.

In die ou Midde-Ooste was dit nie ongebruiklik om rente te vra van tot ’n derde, 33%, van die geleende bedrag nie.

Die Hebreeuse woord vir ‘rente’ is afgelei van die woord ‘byt’.

Rente vra was letterlik amper soos om iemand te byt.

Die HERE het sy kinders verbied om onder mekaar rente te vra, en so iemand se nood te misbruik om self ryk te word.

Dis nie hoekom die HERE sy volk uit Egipte verlos het, sodat hulle nou mekaar kon begin byt en verdruk het nie.

Wie ’n bondgenoot van die HERE is, weet om geld te relativeer.

Hy is liewer sy geld kwyt, as om sy eed te verbreek.

En ’n omkoopgeskenk bring hom ook nie in beweging nie.

Blyk uit die manier hoe jy jou geld gebruik, ook dat jy ’n verbondskind is?

 

Om saam te vat.

In Psalm 15 praat die HERE met sy verbondskinders.

Hy, wat sy wingerd geplant het, wat dit liefdevol grootgemaak het, wat dit natgelei het, wat dit teen alle soorte van vyande beskerm het, Hy stap nou deur sy wingerd en Hy soek die vrugte waarop Hy geregtig is.

So wandel die HERE vandag, op hierdie Sondag voorafgaande aan die nagmaalsviering volgende week, deur sy gemeente, en Hy soek die vrugte waar Hy reg op het.

Is sy kinders onberispelik?

Dis nie dat Hy u nog moet keur, of u wel of nie mag gaan volgende week nie.

U lewe alreeds binne die verbond, u is alreeds bevoorreg om by Hom op sy heilige berg te woon.

U profiteer alreeds daagliks van die bediening van die versoening, soos Christus dit op Golgota finaal bewerkstellig het.

En u word opgeroep om volgende week te kom, om dit weer te herdenk.

Dis nie ’n kwessie van of u mag kom of nie.

U behoort te kom.

Die vraag is net: Hoe gaan u kom?

 

Om onberispelik te wandel, dit is ’n uitdrukking wat ons vinnig kan misverstaan as ‘n goeie-werke-godsdiens, eie-geregtigheid, prestasie buite Christus om.

Maar so bedoel Psalm 15 dit beslis nie.

En nie net Psalm 15 nie, op baie ander plekke in die Skrif word hierdie term gebruik, en word God se kinders ernstig opgeroep om onberispelik te wees.

En uit die Skrif is duidelik dat dit ’n werklikheid onder God se kinders moet wees, ja kan wees.

Ons mag nie wegkruip agter Christus se vergewing, en geen gewilligheid toon om te vorder op die pad van die heiligmaking nie.

Dan is ons ’n lou gemeente wat Christus uit sy mond sal uitspuug.

Die HERE loop deur sy wingerd, waarvan Christus die stam is, en Hy verwag om vrugte te vind, om sy vrugte te vind.

Sy vrugte sal kom, onweerstaanbaar, waar daar onverdeelde liefde is vir Hom.

Sy vrugte sal kwyn, waar ons liefde en lojaliteit verdeeld is.

 

Soos ek genoem het, Psalm 15 begin met die woord HERE.

Wie op Hom fokus, op sy Verbondsnaam, kry die krag om onberispelik te wees.

Hy sal in staat wees om al Psalm 15 se ondersoekende vrae met ja te beantwoord.

In Christus ontvang ons alles om so ’n onberispelike lewe te kan lei.

Soos Christus self in die Bergrede gesê het:
“Elkeen dan wat na hierdie woorde van My luister en dit doen, hom sal Ek vergelyk met ’n verstandige man wat sy huis op die rots gebou het.” (Matt 7:24)

Wat ’n voorreg, om ’n onberispelike lewe te mag lei in die verbond wat die HERE met ons gesluit het.

So mag ons ook uit die vrugte in ons lewe sekerheid ontvang ook wat betref die toekoms.

Hy wat hierdie dinge doen, so eindig Psalm 15, hy sal nie wankel in ewigheid nie.

 

Amen.

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 18:1

Wet

Ps 62:5-7

Gebed

Skriflesing: Jesaja 5:1-7 & Mattheüs 7:17-29

Ps 15:1-5

Teks: Psalm 15

Preek

Ps 18:10-12

Gebed

Kollekte

Ps 18:16,19,20

Seën