Preek: Nederlandse Geloofsbelydenis Artikel 1 (God is ewig)
Ons staar ‘n nuwe kwartaal in die gesig.
Die skole het weer begin, die universiteit se tweede semester het weer afgeskop.
In die kerklike lewe het die katkisasies en Bybelstudies weer begin.
Almal wat met vakansie was is weer terug.
Dit is ‘n goeie oomblik om weer met die leerdienste voort te gaan.
In die vorige kwartaal, voor die vakansie, het ons die behandeling van die Heidelbergse Kategismus afgesluit.
Na oorleg met die kerkraad, wil ek graag hierdie kwartaal ‘n begin maak met die behandeling van die Nederlandse Geloofsbelydenis.
In ons kerkverband het die gemeentes saam die afspraak gemaak, dat daar in die leerdienste gepreek kan word uit die verskillende Belydenisskrifte, die Heidelbergse Kategismus, die Nederlandse Geloofsbelydenis, en die Dordtse Leerreëls.
Die ou geloofsbelydenisse, Apostolies, Nicea en Athanasius, kom eintlik outomaties aan die orde by die behandeling van die Kategismus, waarin die Apostoliese Geloofsbelydenis opgeneem is.
Nou moet ons nie die fout maak deur te dink dat daar uit die Belydenisgeskrifte gepreek word, en dat die belydenis dus die teks van die preek is nie.
‘n Mensgemaakte dokument kan nooit die teks vir ‘n preek wees nie.
Soms is dit die spraakgebruik, as ons sê die teks is Sondag soveel of soveel.
Maar in feite is die Sondag van die Kategismus, of die artikel uit die Nederlandse Geloofsbelydenis, nie die teks nie, laat dit duidelik wees.
Terselfdertyd is dit ook nie so dat die Skrifgedeelte wat gelees is, uitsluitend die teks is nie.
By ‘n leerdiens werk dit naamlik anders.
Nie ‘n spesifieke vers uit die Bybel vorm die teks nie, maar wel ‘n spesifieke leerstuk, oftewel, ‘n spesifieke onderwerp, vanuit die Skrif.
Dit vorm die teks van ‘n leerdiens.
Dit kan wees byvoorbeeld die leer van die Drieëenheid; of die gebed; of die skepping, die doop of watter leerstelling uit die Skrif ook al.
Die bedoeling van ‘n leerdiens is dan dat die gehele onderrig van die Skrif oor daardie onderwerp aan die orde kom.
Dit kan gedoen word deur verskeie Skrifgedeeltes te lees, en te verduidelik hoe die betrokke leerstuk daarin na vore kom.
Dit kan ook gedoen word deur slegs een Skrifgedeelte te kies, waarin die betrokke leerstuk duidelik en volledig na vore kom.
Aan die einde van die dag is die bedoeling van die leerdienste dat Christus sy kerk wil vertroos, versterk en weerbaar maak.
Soms kom leerstellings aan die orde wat vir ons gevoel nie so aktueel is nie.
Tog moet hulle ook behandel word.
Want as ons nie onderlê is in die gesonde leer van die Skrif nie, kan ‘n sywind van dwaling ons onverwags omver werp.
Geen leerstuk in die Skrif is oorbodig nie, hulle almal vorm saam die Skrif, die lewende Woord, wat ons Here Jesus Christus is.
As ons aan Christus verbonde wil bly, sal ons sy Woord moet vashou in al sy fasette.
Ons mag vanaand dus weer ‘n begin maak met die behandeling van die Nederlandse Geloofsbelydenis.
Die NGB is opgestel as ‘n hartekreet: Hierin glo ons, hierdie is vir ons die onwankelbare waarheid.
Soos daar boaan die NGB staan: die hoofinhoud van die leer in verband met God en die ewige saligheid van ons siele.
Die NGB is na alle waarskynlikheid geskryf deur Guido des Brès en in die jaar 1561 gedruk.
Ons weet dit nie met 100% sekerheid nie, aangesien hy nie sy naam daarop geskryf het nie.
Dit is as ‘n anonieme geskrif versprei.
Desondanks het die die Roomse inkwisisie op een of ander manier agterkom dat hy die hoofouteur was, hy is gevange geneem en ses jaar later, in 1567, is hy opgehang.
Ek noem dit, dat ons sal besef, as ons in die komende tyd die NGB gaan behandel, dat dit nie ‘n droë dogmatiese boekie is nie, maar dat dit ‘n hartekreet was, waarvoor die skrywer selfs bereid was om te sterf, vir die waarheid van God se heilige Woord, die enigste weg tot saligheid.
Dit is dan ook in dankbare verwondering dat ons die kerk van die verlede mag gedenk en dit wat hulle vir ons nagelaat het.
Guido de Brès het gesterf vir sy belydenis, min wetende dat Christus dit in latere eeue sou gebruik om sy kerk saam te bind in eenheid rondom die waarheid – sy kerk nie net in België waar hy gewoon het nie, maar op alle kontinente!
Voordat ons ‘n begin maak met die behandeling van artikel 1, net nog dit.
Vlak voordat Guido de Brès ter dood veroordeel is, het hy nog ‘n brief vir sy vrou geskryf.
Hy was toe 45 jaar oud.
Daardie brief het bewaar gebly.
Daarin vind ons ‘n ontroerende persoonlike geloofsbelydenis.
Baie dinge wat hy geskryf het in die NGB, kom daarin terug, maar dan net op homself en sy gesin toegepas.
Sy geloof in God wat ewig is, en die vertroue op sy voorsienigheid.
Al staar hy die dood in die gesig, tog weet hy dat die voorsienige God vir sy vrou en kinders sal bly sorg.
Ek lees vir u enkele sinne uit hierdie brief:
“Katerine Ramon, my liewe vrou en suster in ons Here Jesus Christus ... Onthou dat ek nie toevallig in die hande van my vyande geval het nie, maar deur die voorsienigheid van God wat alle dinge beheer en regeer, die kleinste dinge maar ook die grootste gebeurtenisse. Dit sien ons in die woorde van Christus, “moenie vrees nie. Al julle hare op julle hoof is getel. Word twee mossies nie vir ‘n stuiwer verkoop nie? En nie een van hulle sal op die aarde val sonder julle Vader nie. Wees dan nie bevrees nie. Julle is meer werd as baie mossies.
Katerine, jy het altyd baie van my gehou. Ek bid dat jy hierdie liefde sal bly gee aan ons klein kinders, hulle sal opvoed in die kennis van die ware God en sy Seun Jesus Christus. Wees vir hulle ‘n pa en ‘n ma, en en maak seker dat hulle eerlik die bietjie gebruik wat God aan jou toevertrou het. As God jou die guns doen en toelaat om as weduwee met ons kinders na my dood verder te gaan met die lewe, sal dit goed wees. As jy nie kan nie, as daar nie genoeg inkomste is nie, soek dan ‘n goeie man, trou en Godvresend. En as ek kan, sal ek nog vir ons vriende skryf om na jou om te sien. Ek dink dat hulle nie sal toelaat dat jy gebrek ly nie. Neem jou gewone daaglikse roetine weer op nadat die Here my gevat het.”
Tot sover enkele sinne wat Guido de Bres vir sy vrou Katerine geskryf het uit die tronk, gedateer 12 April 1567.
Bietjie meer as ‘n maand later, op 31 Mei, is hy opgehang.
Hy het gesterf met die vertroue dat die ewige God, wat trou is aan sy Woord, en deur Christus ons Vader geword het, sy beloftes sal waarmaak en vir sy vrou en kinders sal aanhou sorg.
Ons kom nou by die behandeling van die eerste artikel, en meer spesifiek, een aspek daaruit, naamlik die belydenis dat god ewig is.
Tema: Ons glo in een God, wat ewig is.
Ewig beteken veilig
Ewig beteken onveranderlik
Ewig beteken dat sy werk sal standhou
Ewig beteken getrou
Ewig beteken altyd groter
Na hierdie eienskap van God kyk ons vanaand.
In die volgende preek hoop ons dan verder te gaan met die ander skitterende eienskappe van God wat in art. 1 genoem word.
Die feit dat God ewig is, mag vir ons as die normaalste saak van die wêreld voel.
Feit is egter dat dit deur baie mense ontken word.
Veral in die hedendaagse sekulêre wetenskap is daar geen plek vir die bestaan van God nie.
Die wêreldbeskouing wat ons ewolusionisme noem, neem nie sy vertrekpunt in ‘n ewige God nie.
En die ateïstieste wêreldbeeld maak die stelling dat God dood is.
Daar is selfs ‘n sogenaamde God-is-dood-teologie.
In feite het God net in mense se gedagtes bestaan, maar sedert die sogenaamde tydperk van die Verligting het God in die mens se gedagtes al hoe kleiner geword, totdat Hy uiteindelik daaruit verdwyn het.
Die moderne mens het God nie meer nodig nie, so dink hy.
Ook in heidense godsdienste oorheers die gedagte dat God ooit ontstaan het, ooit gebore is saam met die wêreld, en dat Hy dus nie ewig is nie.
Ewig beteken veilig
Te midde van allerlei wind van leer gaan ons egter saam met die NGB terug na die Skrif, om te luister wat dit openbaar oor die ewige God.
Ons begin by die allereerste begin van die Bybel, Genesis 1:1:
“In die begin het God die hemel en die aarde geskape.”
Hierdie teks gaan daarvan uit dat God al bestaan het, voordat alle ander dinge in hemel en aarde, ja voordat hemel en aarde self, ontstaan het.
Kom ons blaai nou na die boek Deuternomium.
Daarin lees ons pragtige dinge oor God.
Ek dink spesifiek aan Deuteronomium 33:27: “Die ewige God is ‘n woning, en onder – ewige arms”.
Soos ons elders in art. 1 van die NGB lees, God is ‘n geestelike Wese.
Hy het nie ‘n liggaam soos ons het nie.
Tog gebruik die Bybel wel liggaamsdele as metafoor om God se karaktereienskappe te beskryf.
So is God dus soos ewige arms wat ons dra.
Dalk onthou jy nog hoe die sterk arms van jou pa jou vroeër opgetel en gedra het, toe jy nog klein was.
Daardie metafoor gebruik die Skrif hier.
Daar is ewige arms wat jou hele bestaan dra.
Hiermee word ‘n gevoel van absoute veiligheid en geborgenheid oorgedra.
Dit is die impak van God se ewigheid, die besef dat Hy ewig is.
Dit laat die mens klein en nietig voel, maar terselfdertyd ook veilig in sy arms.
Ja ewig beteken: veilig.
Ewig beteken onveranderlik
Kom ons gaan na ‘n volgende teks uit die Bybel.
In Psalm 102 word die mens se tydelikheid gekontrasteer met God se ewigheid:
“My dae is soos ‘n skaduwee wat lank geword het, en ek, soos die plante verdor ek. Maar U, o HERE, U bly tot in ewigheid, en u gedenknaam van geslag tot geslag.” (vers 12-13)
En dan ook verse 26-27: “In die voortyd het U die aarde gegrondves, en die hemele is die werk van u hande. Hulle sal vergaan, maar U sal bly; ja, hulle almal sal soos ‘n kleed verslyt; U verwissel hulle soos ‘n kledingstuk, en hulle verdwyn. Maar U bly dieselfde, en u jare het geen einde nie.”
‘n Skaduwee, ons almal weet hoe vinnig dit verbygaan.
En ‘n kledingstuk, ja ons weet ook hoe dit kan verslyt.
Hoe goed jy dit ook oppas, met verloop van jare sal die kleur begin verblyk, die tekstuur sal verander, en op plekke sal jou klere met verloop van tyd, soos jy dit gebruik, letterlik deurslyt.
So, sê Psalm 102, is die mens se lewe, en, vir ‘n feit, elke ding onder die son, selfs die son self.
Daarteenoor staan egter dat God ewig is.
Sy jare het geen einde nie.
Dit is iets wat ons verstand te bowe gaan.
God funksioneer in ‘n ander dimensie.
Ons kan ons nie meer indink hoe daardie dimensie, soos dit was voor die sondeval, toe die mens op aarde ook onsterflik was, gewerk het nie.
Ons kan wel vashou aan God se ewigheid.
Hy is en bly ewig en onveranderlik.
Dis ‘n voorreg om aan hom te mag vashou.
Psalm 102 is ‘n gebed van iemand wat baie swaar in die lewe kry, wat homself platgeslaan voel soos plante, verdor, soos ‘n pelikaan wat smag na water in die woestyn.
Maar te midde van alle ellende mag hy vashou aan God, vertroos word dat nie die ellende op aarde nie, maar God se gedenknaam ewig sal standhou.
Ook as ek al lankal in die graf lê, ook as my liggaam en selfs my grafsteen al vergaan het, ook dan sal Hy nog daar wees, ook dan sal Hy ‘n lewende en sorgsame God en Vader wees vir my kindskinders, ja van geslag tot geslag!
Nog ‘n psalm wat God se ewigheid besing, is die bekende Psalm 90.
“Voordat die berge gebore was en U die aarde en die wêreld voortgebring het, ja, van ewigheid tot ewigheid is U God ... duisend jaar is in u oë soos die dag van gister as dit verbyskiet, en soos ‘n nagwaak.” (vers 2,4)
God is ewig.
Ouer as die berge.
Berge, veral hoë berge, is seker die ding wat by ons die beste ‘n gevoel van ewigheid oproep.
Ook hierdie psalm kontrasteer die verganklikheid van die mens met God se ewigheid.
Die dae van ons jare hou ‘n keer op, ook as ons baie sterk is en tagtig jaar of ouer word.
Ons sal terugkeer tot stof.
Dit is net God, die ewige God, se werk in ons wat sal standhou, dis net deur sy genade dat Hy die werk van ons hande sal bevestig.
Ewig beteken dat sy werk sal standhou
Nog ‘n Bybelboek wat vir ons asemrowende dinge oor God vertel, is die boek Job.
Dink aan ‘n vers soos Job 36:26: “Kyk, God is groot en onbegryplik vir ons; die getal van sy jare is onnaspeurlik.”
Die implikasie van hierdie vers: dit is ontelbaar, inderdaad, God is ewig!
Nou weet u waarskynlik wel waaroor die boek Job handel.
Hoe die Satan probeer het om Job, wat ‘n Godvresende lewe gelei het, sover te kry om God vaarwel te sê.
Maar die hoofboodskap van hierdie boek is dat, hoe die satan ook geblaas en te kere gegaan het, hy kon die groot werk wat God in Job se lewe begin het, nie uitgeblus kry nie.
God se werk in Job se lewe het standgehou!
Job is ‘n geweldig troosvolle boek, veral vir mense wat deur moeilike tye gaan.
En ook dus hierdie feit dat God ewig is, dat sy jare ontelbaar is, is troosvol.
Want as so ‘n groot God, Hy wat ewig is, ‘n werk in jou lewe begin het, dan kan jy ook maar seker wees, dat sy werk in jou lewe sal standhou, ja hoe die satan ook blaas, hy sal die vlam van geloof nie uitgeblaas kry nie.
God se werk in sy kinders se lewe sal standhou tot in ewigheid!
Hy wat self ewig is, sy werk het ook ewigheidswaarde!
Wat ‘n voorreg om te midde van die storms van die lewe by die ewige God te skuil.
Hy wat danksy sy Seun Jesus Christus my ewige God en Vader geword het!
Geliefde gemeente, daar is nog baie meer tekste in die Ou Testament wat God se ewigheid aan ons openbaar.
“Die HERE sal regeer vir ewig en altoos.” - Exodus 15:18.
“voor My is geen God geformeer nie, en na My sal daar geeneen wees nie.” – Jesaja 43:10.
“U troon, o God, is vir ewig en altyd; die septer van u koninkryk is ‘n regverdige septer.” – Psalm 45:7.
Hierdie laaste vers toon dat daar ‘n verband is tussen God se ewigheid en sy regverdigheid.
En so kan ek nog aangaan met die noem van tekste.
Ewig beteken getrou
Maar ek wil ook nou na die Nuwe Testament gaan.
Want ook daar kom presies dieselfde boodskap na ons toe, en meer spesifiek, ook toegespits op ons Here Jesus Christus, wat ook God van ewigheid af is!
As die Here Jesus aan die apostel Johannes op die eiland Patmos verskyn, sê Hy die volgende:
“Ek is die Alfa en die Omega, die begin en die einde ... wat is en wat was en wat kom, die Almagtige.” (Openbaring 1:8)
Christus was daar, van ewigheid af, Christus is daar, in die hede, Christus kom terug, Hy regeer tot in ewigheid.
Dit is die ondubbelsinnige boodskap van die laaste Bybelboek.
Dit is waarmee almal moet rekening hou, Hy sal Regter wees, en alle volke, tale en nasies sal voor Hom moet buig.
As ons by Hom skuil, Hy bly getrou tot in ewigheid.
Sy genade is elke dag weer nuut oor ons en ons kindskinders, oor almal wat Hom vrees.
Ewig beteken altyd groter
Ook die apostel Petrus skryf eksplisiet oor God se ewigheid.
Hy doen dit in verband met die wederkoms van die Here.
Die teenswoordige wêreld, skryf Petrus, sal ingrypend verander.
Soos God die ou wêreld deur die sondvloed laat vergaan het, en so sy aarde gesuiwer het, so gaan die dag kom dat God die aarde weer gaan suiwer, hierdie keer deur vuur heen.
In daardie oordeel sal die goddelose nie standhou nie, maar ten onder gaan.
Maar moenie ‘n fout maak nie, skryf Petrus, al voel dit vir ons dat daardie dag oneindig lank vat om aan te breek, dit sal kom.
Want onthou dat by die Here een dag soos duisend jaar en duisend jaar soos een dag is.
God, wat ewig is, se tydsbegrip is dus totaal anders!
Moenie aards, moenie tydelik, van God dink nie.
So word ons in die Skrif opgeskerp: Dink nooit te gering oor God nie!
Aan Hom kom toe, so sluit Petrus sy brief af: “die heerlikheid ... nou sowel as in die dag van die ewigheid.” (2 Petrus 3:18)
Geliefde gemeente, ook wat die Nuwe Testament betref, kan ek aangaan om nog baie tekste te noem, waarin telkens God se ewigheid geopenbaar word.
U kan voortgaan hierdie week om die Skrif te bestudeer, die oneindige dieptes van God se ewigheid na te speur.
Wie buig vir die gesag van die Skrif, sal ‘n oneindige fontein van lewende water vind.
Vir die jongmense wil ek sê: Jy mag dalk die gevoel en houding hê dat jy ewig en onsterflik is, solank jou liggaam jonk en sterk is.
Maar moenie ‘n fout maak nie.
Daardie verrimpelde liggaam wat jou oupa of ouma nou het met al sy gebreke, so gaan jy ook eendag lyk, en daardie eendag kom gouer as wat jy dink.
Moenie jou vastigheid bou op jouself nie, dit is bedrieglik, dit is baie tydelik.
Maar bou jou lewe op die ewige rots van jou God en Skepper.
Belê jou lewe in Christus, slegs dan het jou lewe ewigheidswaarde.
En vir die ou mense wil ek sê: put troos uit God se ewigheid.
As u binnekort nie meer daar gaan wees nie, Christus is wel die Alfa en die Omega.
Hy sal daar wees, ook vir u kindskinders.
Vertrou hulle aan Hom toe.
Moenie self die ykpunt in hulle lewe probeer wees nie.
Moenie aan hulle die boodskap deurgee dat vroeër alles beter was nie.
Maar rig hulle aandag op die ewige God, op Christus, wat gister, vandag en môre dieselfde sal wees.
Toe Guido de Brès daardie brief aan sy vrou geskryf het, het hy geweet dat hy nie meer lank sou leef nie.
Dit het hom egter nie desperaat gemaak nie.
Hy het geweet dat die ewige arms van God onder sy vrou en kinders sou bly.
Met daardie gemoedsrus mog hy ontslaap.
Hierdie ewige God mag ons dien, vertrou en liefhê, vandag en tot in ewigheid.
Aan Hom kom toe die lof aanbiddig prys en dank, nou en tot in die dag van die ewigheid!
Amen.
Votum
Seën
Ps 9:5-7
Gebed
Skriflesing: Deuteronomium 31:26-29 & Psalm 102
Ps 102:5,6
Skriflesing: 2 Petrus 3
Ps 102:11,12
Teks: Nederlandse Geloofsbelydenis Art. 1
Preek
Ps 66:3,4,9
Gebed
Apostoliese Geloofsbelydenis
Ps 145:8
Kollekte
Ps 145:10-12
Seën