Die erfsonde

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Pretoria
Date: 
2019-06-16
Text: 
Heidelbergse Kategismus Sondag 3
Preek Inhoud: 

Preek: Heidelbergse Kategismus Sondag 3

 

Soms vra jong ouers hulleself af hoe dit moontlik is dat hulle kind so egoïsties kan wees?

Hulle kind vir wie hulle as ouers bontstaan.

Waar kry die kind dit vandaan?

Soos ‘n liberale teoloog ‘n tydjie gelede opgemerk het: Sedert my vrou en ek ‘n kind het, glo ons weer in die erfsonde.

Inderdaad, jong ouers kom agter dat die leer van die erfsonde nie net ‘n abstrakte teologiese begrip is nie, maar dat dit heel konkreet is, ja dat dit presies is soos mense is.

Niemand hoef sy kind te leer om te sondig nie.

Niemand hoef sy kind te leer om egoïsties te wees nie.

Dit sit gewoon in die kind.

Wie ‘n kind kry, kry nie ‘n onbeskrewe skoon vel papier nie.

Wie ‘n kind ontvang, ontvang nog ‘n nakomling van Adam en Eva - ons stamouers, wat in sonde geval het.

 

Ek verkondig u vandag God se Woord oor die erfsonde.

 

Tema: Die erfsonde

  1. Die stamboom van Adam
  2. Die stamboom van Jesus Christus

 

  1. Die stamboom van Adam

Die eerste deel van die Kategismus handel oor ons ellende.

Hoe groot die skade is.

Voor die wederopbou begin, word die skade bepaal.

Later in die Kategismus gaan ons lees oor die wederopbou, wie dit sal doen en hoe dit sal moet gebeur.

Mens kan dit vergelyk met ‘n huis wat afgebrand het.

Jy sien die afgebrande huis voor jou.

As jy daaromheen loop, die ruïne sien, die brandlug ruik, dan is dit net asof dit skreeu om herstel te word, dit skreeu om weer opgebou te word.

Maar, voordat jy kan begin met die wederopbou, moet eers nugter die skade bereken word.

Eers daarna kan gekyk word hoe die wederopbou moet plaasvind, en wie dit sal doen, en waar die geld vandaan sal kom.

En, gemeente, vir die ellendige toestand van die mens geld dit dus ook.

 

Ons het in die Kategismus gelees oor die sondeval in die paradys.

Adam en Eva het van die boom geëet.

Dit was die sondeval.

Eet van die boom van kennis van goed en kwaad was ‘n simboliese handeling.

As iemand byvoorbeeld weier om voor die koning te buig, wil dit sê: daardie persoon het geen respek vir die koning nie.

Buig is ‘n simboliese handeling om respek te toon.

Of dalk bietjie nader aan ons leefwêreld:

As ‘n kind soggens in die kombuis ingeloop kom en nie vir sy ma groet nie, dan sê ma dalk: Is ek dan só onbelangrik, dat jy my nie hoef te groet nie?

Groet is ook ‘n simboliese handeling wat dui op ‘n goeie verhouding.

Net so was die boom in die paradys ‘n simbool vir die goeie verhouding tussen God en mens.

Die boom het ‘n simboliese funksie gehad.

Toe die mens op ingewing van die duiwel ‘n vrug van die boom geëet het, het hy daarmee te kenne gegee dat hy God se instruksies nie meer noodsaaklik gevind het nie, dat hy voortaan sy eie wil sou volg.

Dat hy self baas wou wees oor sy lewe.

Dit was dus die sondeval.

Ongehoorsaamheid, opstand teen God se gesag oor die mens.

 

Nou het ons in Romeine gelees dat ons in Adam voor God skuldig staan.

Ons staan, as nakomelinge van Adam, voorgesorteer as God se vyande.

Vir hierdie feit gebruik ons die woord: erfsonde.

Nou is hierdie woord, erfsonde, nie die beste woord nie.

Dit klink asof ons ‘n porsie sonde erf van Adam.

En dat ons daardeur, saam met die sondes wat ons self doen, voor God skuldig staan.

Dit is egter nie soos dit werk nie.

Ons erf geen sonde van Adam nie.

God is te regverdig dat Hy ons sou straf vir die sondes van Adam of Eva.

Maar wat ons wel van Adam erf is ons geaardheid, ons natuur.

Dit hou ook in die aanleg, of beter gesê, die afwyking om te kan sondig, en dit wat daarmee saamkom, naamlik om dus sterflik te wees, en selfs onderworpe aan die ewige straf.

Pleks van erfsonde sou mens eerder kon praat oor: die wortel van die sonde.

As ons deel uitmaak van Adam se stamboom, word ons gevoed uit dieselfde wortel.

En dus staan dit vas dat elke mens wat gebore word, die wortel van die sonde in hom het.

Vandaar dat die Bybel sê: sedert die sondeval staan die hele menslike geslag, in Adam verteenwoordig, skuldig voor God.

Mens kan dit vir ‘n deel met die volgende voorbeeld vergelyk:

Sê nou maar daar is tydens die koue oorlog tussen Rusland en Amerika ‘n baba gebore in die Sowjet Unie.

Dan was so ‘n baba al vanaf sy geboorte ‘n vyand van Amerika.

Die rede is omdat Rusland as geheel in staat van oorlog met Amerika was.

Sou daar nie iets buitengewoons met daardie baba gebeur het nie, en sou daardie baba gewoon opgegroei het soos alle ander Russe in daardie tyd,

dan sou daardie baba outomaties ook ‘n vyand van Amerika geword het.

Dus, om terug te kom by Sondag 3, sou daar nie iets uitsonderliks met ons gebeur het nie, dan sou ons opgegroei het as vyande van God.

Maar gelukkig het daar iets uitsonderliks met ons gebeur, in die tweede punt sal ons nader daarop ingaan, dit is wat in v/a 8 genoem word ons wedergeboorte deur die Gees van God.

 

Maar vanaf ons geboorte het ons dus deel aan die erfsonde.

Vanaf ons geboorte sit die wortel van die sonde met sy giftige sappe in elkeen van ons.

Uit onrein ouers word onrein kinders gebore.

Alle nakomelinge van Adam en Eva lyk wat dit betref op hulle stamouers.

Sodra ‘n kind opgroei, blyk uit sy doen en late dat hy ook sondig is.

Dat hy, net soos Adam destyds, self baas oor sy lewe wil wees.

En elke kind sal, as daar niks verander nie, vroeër of later aan sy eie egoïsme ten onder gaan.

Daarom sê die Bybel dat alle sonde, wat hoogmoed as oorsprong het, uiteindelik die dood tot gevolg het.

En geen mens, geen Adamskind, ontkom daaraan nie.

Soos daar in Romeine 5 staan: soos deur een mens die sonde in die wêreld ingekom het en deur die sonde die dood, so het die dood tot alle mense deurgedring, omdat almal gesondig het.

Die wortel van die sonde sit dus in elke mens.

Dawid sê in Psalm 51:

Kyk, in ongeregtigheid is ek gebore, en in sonde het my moeder my ontvang (Ps 51:7).

En in die boek Job vind ons dieselfde boodskap.

Job 14: Ag, kon maar ‘n reine voortkom uit ‘n onreine – nie een nie! (vers 4)

En Job 15: Wat is die mens, dat hy rein sou wees? En hy wat uit ‘n vrou gebore is, dat hy regverdig sou wees? (vers 14)

 

Die erfsonde, die wortel van die sonde, sit in ons van geboorte af.

So het ons dit ook in die Nederlandse Geloofsbelydenis (art. 15) gelees:

Dit is hierdie wortel wat in die mens allerhande sondes laat uitspruit. Dit is daarom so afskuwelik en gruwelik voor God dat dit rede genoeg is om die menslike geslag te verdoem. Dit word selfs nie deur die doop geheel en al tot niet gemaak of volkome uitgeroei nie.

Die doop staan hier vir die afwassing van ons sondes.

Dit is die teken wat ons daarop wys dat God die sondes van sy kind sal afwas, elke keer as hy dit van God vra.

Maar die wortel van die sonde word deur die doop nie verwyder nie.

Mens sou kon sê: die giftige bron bly.

Die giftige wortel.

Elke keer kom daar weer nuwe giftige sappe boontoe.

Hoe dikwels ons dus ook gewas word, hoe dikwels ons vergewe word, ons bly sondig.

Mens kan dit vergelyk met die onkruid wat tussen jou gras op die grasperk groei.

Elke keer as jy met die grassnyer daaroor heen gaan, word die wortel van die onkruid nog nie uitgeroei nie.

Elke keer sal die onkruid dus weer opkom.

Die doop roei die wortel dus nie uit nie.

Daarvoor het ons iets anders nodig, naamlik wedergeboorte, bekering, vernuwing deur die Heilige Gees.

 

Die Kategismus stel die diagnose vas.

Die skade is aansienlik.

En die oorsaak van alle skade is die feit dat ons deel uitmaak van die stamboom van Adam.

Ons natuur is so verdorwe, dat ons almal in die wêreld inkom as sondige mense.

Die oorspronklike Duitse woord wat in die Kategismus gebruik word ‘verdorwe’ is die woord ‘vergifftet’.

Mens hoor daarin die woord vergiftig.

Ons is vergiftig deur die wortel van die sonde.

Mens sou nog baie ander beelde kon gebruik om dit te verklaar.

Soos: Adam het ‘n genetiese afwyking opgedoen, wat ‘n impak gehad het op sy hele nageslag.

Dit is alles beelde om die reikwydte van die sondeval te verduidelik.

En as ek en jy die balans opmaak, dan geld ook vir jou en my dit wat Sondag 3 skryf:

Ek word in ‘n staat van vyandskap met God gebore, as ‘n vyand van alles wat goed is.

Die feit dat dit so is, is nie God se skuld nie.

Hy het die mens goed geskape, maar die mens het vyandskap teen God verklaar.

Die mens het die groot verantwoordelikheid wat hy van God gekry het, misbruik.

Ook ek is dus as vyand van God gebore.

En dit bly so, tensy dat die Heilige Gees in my kom.

Die Gees van Christus, wat my, om dit heel letterlik te sê, van die stamboom van Adam afsaag, en my inent op die stamboom van Christus.

So kom ons by die tweede punt van die preek.

 

(Tema: Die erfsonde

  1. Die stamboom van Adam)

 

  1. Die stamboom van Jesus Christus

In baie kerke en onder baie Christene word die leer van die erfsonde bietjie as ‘n verleentheid ervaar.

Kan mens deesdae so ‘n leer nog hardop verdedig?

Dit is mos totaal ouderwets?

Dit rym mos nie met die basiese uitgangspunte van die psigologie, en van die sosiologie nie?

Inderdaad, hierdie leer van die erfsonde druis in teen die opvatting van die moderne mens, en van elke moderne wetenskap, wat God nie as vertrekpunt kies nie.

Dit druis ook in die teen die opvatting van die postmoderne mens wat vol spiritualiteit is.

Die Christelike geloof sit die mens naamlik op sy plek.

En dit ook effens hardhandig en konfronterend.

Die diagnose is hard en draai nie doekies om nie.

Die diagnose is onvermydelik.

Maar ‘n eerlike diagnose is wel deel van die genesing.

 

En nou ons tog praat oor die opvattings van die gemiddelde moderne of postmoderne mens, daar is nog ‘n saak waarmee baie mense moeite het.

In vraag 6 van die Kategismus staan: Die oorspronklike doel van die mens is om God te loof en te prys.

Ewig sing tot God se eer.

Word mens nie moeg daarvoor, om God ewig te loof en prys nie?

Baie mense wil liewerste dood wees as om ewig vir God te moet sing.

Gemeente, u verstaan hooplik dat hierdie ewig vir God sing ‘n versmalling is – miskien goed bedoel – maar tog ‘n versmalling van wat hier in die Kategismus staan.

Daar staan: God loof en prys.

Dit hou natuurlik veel meer in as sing.

Dit is allesomvattend.

Want byvoorbeeld: ook blomme loof en prys God.

Deur ‘n blom te wees.

Ook bome loof en prys God.

En berge, en oseane, en alle diere.

En so loof en prys die mens God deur gewoon mens te wees soos God hom bedoel het.

Sonder sonde, sonder om dood te gaan, sonder om moeg te word vir die lewe saam met Hom.

Dit hou dus heelwat meer in as dat ons op die nuwe aarde net die heeltyd gaan sing.

Op die nuwe aarde, as jy ‘n boer is, gaan jy miskien weer die land bewerk.

As jy musikant is, gaan jy musiek maak.

As jy kunstenaar is, dit spreek vir homself.

Uiteraard kan ons ons baie dinge nog nie voorstel, hoe dit op die nuwe aarde gaan wees nie.

Maar geen mens moet afgeskrik word deur ‘n versmalde opvatting van wat dit beteken om God te loof en te prys nie.

 

Tot sover, gemeente, dinge waaraan moderne of post-moderne mense kan twyfel.

Te midde van veranderende tye mag ons as Christene vashou aan die Bybel.

Daarin vind ons ook die leer oor die erfsonde, oor die wortel van die sonde.

Hierdie leer aanvaar ons ook as Godsopenbaring.

En as ons na die praktyk kyk, dan blyk ook inderdaad dat hierdie leer klop, dit slaan die spyker op die kop, alle eeue was mense al so, en vandag nog steeds.

Ons en ons kinders word in sonde ontvang en gebore.

Ons hoef sonde nie aan te leer nie, ons doen dit uit onsself.

 

Die leer van die erfsonde is nie deur teoloë uitgedink nie, ons vind dit in die Bybel.

Sowel in die Ou as Nuwe Testament.

In die Ou Testament moes byvoorbeeld ‘n reinigingsoffer gebring word by die geboorte van ‘n kind.

Die bedoeling daarvan was om aan te dui dat vanaf die eerste lewenslig die kind al aangewese is op versoening.

En in die Nuwe Testament sê Jesus byvoorbeeld vir Nikodemus in Johannes 3:

Wat uit die vlees gebore is, is vlees; en wat uit die Gees gebore is, is gees (vers 6).

Met vlees het Jesus bedoel: sondige mens.

Met hierdie uitspraak het Hy gewys op die noodsaak van wedergeboorte.

Want deur ons natuurlike geboorte sit ons vas op die stamboom van Adam.

Maar deur die wedergeboorte word ons ingeënt op die stamboom van Jesus Christus.

Die stamboom van Adam is gedoem tot ondergang.

Soos ons gelees het in Romeine 5: “Daarom dan, net soos dit deur een misdaad vir alle mense tot veroordeling gekom het, so ook is dit deur een daad van geregtigheid vir alle mense tot regverdigmaking van die lewe. Want soos deur die ongehoorsaamheid van die een mens baie tot sondaars gestel is, so sal ook deur die gehoorsaamheid van die Een baie tot regverdiges gestel word.” (vers 18-19)

 

Geliefde gemeente, wat doen Chrsitus dus volgens hierdie teks vir jou?

Hy wil jou terugbring by God se bedoeling vir jou lewe.

Die nuwe mens wat jy in Christus word, is in feite dat jy weer word soos Adam destyds was, voor die sondeval.

Die Kategismus sê:

Adam was geskape na God se beeld in ware geregtigheid en heiligheid (v/a 6).

En in Efesiërs 4 staan dieselfde oor die nuwe mens: julle word beklee met die nuwe mens, wat na God geskape is in ware geregtigheid en heiligheid (vers 24).

In Christus word ons nuwe mense.

Ons word herstel in die toestand van voor die sondeval.

Christus stort sy Heilige Gees in ons uit, waardeur ons nuut word.

Vir die stamboom van Adam geld: ons is verdorwe, vergiftig, heeltemal onbekwaam tot iets goeds en geneig tot elke kwaad.

Vir die stamboom van Christus geld: wedergebore deur die Heilige Gees.

Die Heilige Gees wat ons harte deur die Woord verander, om ‘n Godvresende lewe te begin lei.

 

Ja, hierdie stamboom van Adam en die stamboom van Christus staan volledig teenoor mekaar.

Paulus gee dit in Romeine treffend weer:

  • deur een mens die dood vs deur een mens die genade en geregtigheid;
  • een daad van oortreding (dink aan die sondeval) vs een daad van geregtigheid (dink aan Golgota);
  • ongehoorsaamheid van een vs gehoorsaamheid van Een;
  • in Adam het die sonde as koning geheers (en as bewys daarvoor: die dood, die sterflikheid van die mens) vs in Christus heers die genade as koning (en as bewys daarvoor: die nuwe en ewige lewe in Christus).

 

Broer en suster, die Heilige Gees is besig om die wortel van die sonde uit jou lewe uit te trek.

Die gevolg hiervan is dat jy nie meer ‘n slaaf van die sonde is nie.

Jy is afgekap van die sondige stamboom van Adam.

Jy groei nou verder op die stamboom van Christus.

Jy groei nie meer na jou dood toe nie, maar na die ewige lewe.

En die Here vra daarom van jou: maak dit nou ook waar in jou lewe!

Verleen jou medewerking aan die Heilige Gees.

Doen elke dag jou bes!

Uit sy krag kan jy jou bes doen!

En jy kan ontsettend dankbaar wees, en selfs ook trots.

Ons is geen slawe meer van die sonde nie.

God sy dank!

Ons is kinders van Hom.

Koningskinders.

Ons straal iets koninkliks uit.

Nie die sonde, maar die genade heers in ons lewens!

O Vader, ons dank U!

O Seun, op u stamboom wil ons deurgroei!

O Heilige Gees, ons kan u inspirasie nie meer mis nie!

 

Amen.

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 14:2,3,4

Gebed

Skriflesing: Romeine 5:12-21

Ps 4:1-2

Skriflesing: Efesiërs 4:17-24

Ps 4:3-4

Lees: Nederlandse Geloofsbelydenis art. 15

Teks: Heidelbergse Kategismus Sondag 3

Preek

Ps 14:5-7

Gebed

Geloofsbelydenis (Apostoliese)

Ps 144:2,4,5

Kollekte

Ps 118:7,10

Seën